Bybelverse wat verkeerd gebruik word: ‘n Oog vir ‘n oog

A timid question will always receive a confident answer. -Henry Lytton Bulwer

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  ‘n Oog vir ‘n oog

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

As sy blywend beseer is, is die straf: ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand, ‘n voet vir ‘n voet, ‘n brandwond vir ‘n brandwond, ‘n wond vir ‘n wond en ‘n kneusplek vir ‘n kneusplek (Eksodus 21:23 – 25).

Daar is altyd mense wat ingestel is op wraak vir ongeregtighede wat hulle glo teen hulle gepleeg is. Dit ten spyte daarvan dat die Here sê: Ek straf en Ek vergeld (Deuteronomium 32:35 – ook Romeine 12:19 en Hebreërs 10:30). In ons persoonlike vendettas vergeet ons hiervan. Ons kan nie wag nie en hanteer self die wraak – dikwels met ernstige gevolge. Die versoeking om weerwraak te neem, is sterker as die versoeking om te versoen en die ander wang te draai.

Om sake verder te vererger kry ons hierdie selfde siening van ‘n oog vir ‘n oog ook in Deuteronomium 19:21 en in Levitikus 24:20. Mense glo ‘n oortreding vereis ‘n straf wat by die oortreding pas – en gebruik hierdie vers om hulle optrede te regverdig.

Kom ons gaan terug na Eksodus 21. Hier gee die Here aan Moses bepalings om die goeie orde in die samelewing te behou noudat hulle nie meer deur die farao beheer word nie. In die gedeelte definieer die Here verskillende oortredings en beveel die strawwe aan. Omdat die Here die sondige geaardheid van die mense ken, wou Hy individue teen buitensporige strawwe beskerm – die straf moet by die oortreding pas. Die straf mag nooit die skade wat gedoen is, oorskry nie. Daarom ‘n oog vir ‘n oog.

In Eksodus 21:22 – 25 gaan die voorskrifte oor geweld. Die gedeelte begin soos volg: Wanneer mans met mekaar baklei en hulle ‘n swanger vrou omstamp, sodat sy ‘n miskraam het, maar nie blywend beseer is nie,  moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, ‘n boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê. Dit gaan hier oor vergelding.

In sy bergrede hanteer Jesus ook hierdie vers. Hy was ook bekommerd oor die moontlike misbruik van hierdie vers. Daarom kom Hy na vore met ‘n nuwe manier van dink wat vir almal wat persoonlike vergelding oorweeg, geld. Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie (Matteus 5:38 – 42). Jesus sê hier dat ons afstand van die “reg” om terug te baklei, moet doen en die reg aan die howe oorlaat. In die konteks van ‘n persoonlike verhouding moet ons gewillig wees om te vergeef en die ander wang te draai. Selfs as mense iets verkeerd aan jou doen, moet jy met vrygewigheid optree – gee hom ook jou boklere.

As iemand jou beledig, moet jy hom nie terug beledig nie – reageer vriendelik. Dit is die kenmerke van liefde wat in volgelinge van Jesus Christus moet wees. Dit is om ons Verlosser na te boots – Hy het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Paulus som hierdie onderrig van Christus op as hy vir die gemeente in Rome skryf: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld,” sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (12:19 – 21).

Dit is die les wat die Bybel ons oor vergelding leer. As mense ons kwaad aandoen, moet ons toelaat dat die howe hulle werk doen. Ten opsigte van die persoonlike aspekte van die rusie … probeer reageer soos Christus sou gedoen het.