Aborsie: Die siening van sommige godsdienste

Aborsie: Die siening van sommige godsdienste – Coen Slabber

Sekere godsdienste het duidelike standpunte oor aborsie, terwyl ander die besluit tot ʼn groot mate aan lidmate oorlaat.

Islam

Oor die algemeen glo Moslems dat aborsie verkeerd en haram (ontoelaatbaar) is. Baie Moslems aanvaar egter dat dit wel onder sekere omstandighede toelaatbaar is. Die Koran verwys nie spesifiek na aborsie nie, maar gee wel leiding in verwante sake wat dan op aborsie toegepas word.

  • Die heiligheid van lewe. Die Koran gee ʼn baie hoë prioriteit aan die heiligheid van die lewe. So lees ons: Wie ook al die lewe van ʼn siel spaar, dit is asof hy die lewe van alle mense gespaar het. Wie ook al ʼn siel doodgemaak het, dit is asof hy die hele mensdom vermoor het. Die fetus is ʼn menslike lewe en word deur Islam as sulks beskerm
  • Beskerming van die moeder se lewe. Islam laat aborsie toe as dit gedoen word om die moeder se lewe te red. Dit is die mindere van twee euwels. Aborsie is die mindere euwel, want die moeder se lewe is gevestig, sy het pligte en verantwoordelikhede, sy is deel van ʼn gesin, sy gee “oorsprong” aan die kind en gewoonlik sterf die baba ook as die moeder sou sterf.
  • Voorsiening vir die kind. Die Koran verbied aborsie in gevalle waar die familie vrees dat hulle nie vir die kind sal kan voorsien nie. Hulle moet in sulke gevalle op Allah vertrou: Moenie jou nageslag doodmaak as gevolg van jou vrees vir armoede nie; dit is Ons wat vir hulle en vir jou voorsien. Om hulle dood te maak, is ʼn groot sonde.
  • Fetale afwykings. In gevalle waar die fetus ʼn afwyking het wat nie behandel kan word nie, is ʼn aborsie voor 120 dae aangewese. Na 120 dae is aborsie slegs aangewese as die afwyking van die fetus die moeder se lewe in gevaar stel.
  • Sommige sê dat aborsie in gevalle van verkragting, bloedskande en owerspel geregverdig is. Daar is egter verskillende sienings hieroor.
  • Aborsie word verbied as die fetus reeds ʼn siel (ruh) het. Daar is egter nie eenstemmigheid oor wanneer dit gebeur nie – 40 dae of 120 dae na bevrugting of wanneer die fetus beweeg.

 

Judaïsme

Judaïsme verbied nie aborsie nie, maar verwerp aborsie op versoek. Elke saak moet op sy eie meriete beoordeel word. Die besluit mag eers geneem word na konsultasie met ʼn rabbi bevoeg om raad te gee in hierdie sake. Ortodokse Judaïsme laat aborsie net toe as die voortgesette swangerskap die moeder se lewe bedreig.

Daar is egter ʼn verskeidenheid van sienings – sommige meer liberaal as ander. Die Joodse wet is meer toegeeflik tydens die eerste 40 dae van die swangerskap, want die wet beskou die fetus as van minder waarde so vroeg in swangerskap.

Die heiligheid van lewe is vir die Jode baie belangrik. Volgens die Misnah (= die mondelinge tradisie van die Joodse wet wat deel van die Talmoed vorm) mag lewe nie vernietig word nie. Ander redes waarom Judaïsme aborsie verbied, is:

  • Dit verbreek God se opdrag om die wêreld te bevolk.
  • As ek ʼn fetus doodmaak, maak ek iets geskep na die beeld van God dood.
  • Dit is die vernietiging van ʼn deel van God se skepping.
  • Dit vernietig iets wat ʼn mens kon geword het.

 

Die Rooms-Katolieke Kerk

Die Katolieke Kerk sê dat ʼn aborsie onder alle omstandighede verkeerd is. Die rede is dat hulle glo dat lewe by bevrugting begin. Hier begin ʼn unieke lewe. Hulle sien dit nie as ʼn potensiële lewende wese nie, maar as ʼn lewende wese met potensiaal. In 1995 skryf Pous Johannes Paulus II ʼn pouslike sendbrief – Evangelium Vitae (Die Evangelie van Lewe). Ten opsigte van aborsie sê hy: I declare that direct abortion, that is, abortion willed as an end or as a means, always constitutes a grave moral disorder, since it is the deliberate killing of an innocent human being.

Die probleem is dat baie lidmate in die kerk net eenvoudig hierdie siening verontagsaam. Studies in die VSA toon dat Katolieke vroue persentasiegewys net soveel aborsies ondergaan as die res van die bevolking.

 

Die Protestantse Kerk

Dit is onmoontlik om ʼn siening wat alle Protestante verteenwoordig daar te stel. Almal sê dat lidmate aborsie versigtig moet benader en goed nadink voor ʼn finale besluit geneem word. Meeste Protestantse Kerke aanvaar dat aborsie verkeerd is, maar dat daar wel omstandighede is waarin ʼn aborsie toelaatbaar is.

My siening as gelowige geneesheer.

Ek glo:

(a)    Dat lewe by bevrugting begin.

(b)   Dat aborsie, slegs omdat die moeder dit versoek, nie toelaatbaar is nie

(c)    Dat aborsie in sekere gevalle wel toelaatbaar is, maar dan onder streng voorwaardes:

  • As die moeder se lewe bedreig word.
  • As die fetus ʼn ernstige abnormaliteit het.
  • As die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande was.
  • As die vrou nie in staat was om toestemming vir geslagsgemeenskap te gee nie (ernstige verstandelike vertraging).

 

Ons is nou klaar met ons eerste bio-etiese dilemma: aborsie. Die volgende dilemma wat ons gaan hanteer is genadedood.

Outeur: Dr Coen Slabber




Aborsie: Etiese argumente vir en teen aborsie

 

Aborsie is moreel verkeerd

Aborsie is moreel geregverdig

  • Om onskuldige mense (soos ʼn fetus) dood te maak, is verkeerd/sonde/moord.
  • Die fetus is ʼn unieke persoon met ʼn unieke genetiese kode en mag dus nie doodgemaak word nie.
  • Potensiële lewe mag nie doodgemaak word nie – die fetus is vanaf bevrugting ʼn potensiële lewe.
  • Ek mag nie mense (soos ʼn fetus) met ʼn toekoms soortgelyk aan myne, doodmaak nie
  • Jy mag nie onnodig pyn veroorsaak nie. Die fetus kan reeds op ten minste 18 weke pyn voel.
  • Die toenemende verdraagsaamheid teenoor die doodmaak van mense, verminder mense se respek vir lewe.
  • Om onskuldige mense dood te maak, is nie altyd verkeerd nie. Voorbeeld: In gevalle van ʼn Siamese tweeling offer geneeshere dikwels die een baba op sodat die ander kan oorleef.
  • Die fetus is nie ʼn persoon met die reg om te lewe nie. Hierdie reg word eers by geboorte verkry
  • Potensiële lewe/mense het nog geen regte nie.
  • Die regte van die baba word oorbeklemtoon terwyl die regte van die swanger vrou totaal geïgnoreer word:

o   Die reg om oor haar eie toekoms te besluit.

o   Die reg om besluite te neem sonder enige morele of wetlike ingryping van ander.

Die kernverskil tussen die twee groepe is:

(a)    Die status van die fetus. Is die fetus ʼn volwaardige persoon met sekere regte of is die fetus slegs ʼn potensiële persoon sonder enige regte?

(b)   Die regte van die vrou teenoor die regte van die fetus. Weeg die regte van die vrou swaarder as die regte van die fetus? Kanselleer haar regte enige moontlike regte wat die fetus mag hê, uit?

;Die probleem is dat hierdie ʼn emosionele debat is en dat die twee kante nie na mekaar luister nie. Daarom is dit belangrik om te hoor wat die verskillende godsdienste oor aborsie te sê het. Dit gaan ons in die volgende artikel bespreek.

 

Outeur: Dr Coen Slabber




Aborsies in Suid Afrika

Aborsies in Suid Afrika – Coen Slabber

Die International Conference on Population Development van die Verenigde Nasies (Kaïro, 1994) het onveilige aborsies as ʼn belangrike gesondheidsrisiko erken. [ʼn Onveilige aborsie is ʼn aborsie gedoen deur ʼn persoon wat nie opgelei is nie of ʼn aborsie gedoen onder onhigiëniese toestande – gewoonlik buite ʼn hospitaal. Daarom staan dit ook as “agterstraat aborsies” bekend.] Die Wêreld Gesondheidsorganisasie bereken dat ongeveer 75 000 vrouens jaarliks sterf as gevolg van onveilige aborsies. In Afrika alleen word daar 4,2 miljoen onveilige aborsies elke jaar gedoen. Ongeveer 30 000 vroue in Afrika sterf elke jaar as gevolg van onveilige aborsies. Hulle gaan verder deur te sê dat onveilige aborsies gedoen word, want veilige mediese aborsies word deur wetgewing verbied. Baie lande, insluitend Suid-Afrika het sedertdien hulle wetgewing verander om aborsies te wettig.

In Februarie 1997 tree ʼn nuwe wet (Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap) oor die terminasie van swangerskap in werking. Wet 92 van 1996 het Suid-Afrikaners se benadering tot aborsie radikaal verander. In die Voorwoord word onder andere gesê dat die grondwet die reg van persone om self besluite oor voortplanting te neem, beskerm. In die wet word die voorwaardes waaronder ʼn swangerskap beëindig mag word, genoem:

(1)          Op versoek van die vrou binne die eerste twaalf weke van swangerskap.

(2)          Van die dertiende tot die twintigste week as ʼn geneesheer na konsultasie met die vrou dit aanbeveel. Aspekte wat hier hanteer word, is gevalle waar die moeder se lewe (fisies en geestelik) in gevaar is, as daar ʼn betekenisvolle risiko is dat die fetus abnormaal sal wees, as die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande is of as die swangerskap die sosiale of ekonomiese omstandighede van die vrou betekenisvol sal beïnvloed.

(3)          Na twintig weke mag die swangerskap beëindig word as die vrou se lewe in gevaar is of as die fetus erg misvorm sal wees of as die voortgesette swangerskap ʼn bedreiging vir die fetus inhou.

 

Behalwe in vroeë swangerskappe mag slegs ʼn geneesheer ʼn aborsie uitvoer. In vroeë swangerskappe (voor twaalf weke) mag ʼn verpleegkundige wat die nodige opleiding gehad het, dit ook doen. Die wet maak ook voorsiening vir berading. In alle gevalle moet die vrou ingeligte toestemming gee. In gevalle van minderjariges word aanbeveel dat hulle hulle ouers, voog, gesinslede en/of vriende vooraf raadpleeg. As sy dit nie wil doen nie, kan die aborsie steeds voortgaan.

Wat is die situasie vandag? Sedert die wet aanvaar is, is 529 410 aborsies in Suid-Afrika gedoen. In 2005 alleen is 85 621 aborsies gedoen. Ongeveer 9,2% van alle swangerskappe in Suid-Afrika eindig in ʼn aborsie. Dit sluit spontane aborsies uit. ʼn Kommerwekkende statistiek is dat 24% van alle aborsies na 12 weke gedoen word. Die risiko vir die doen van ʼn aborsie verhoog na 12 weke. Na die inwerkingstelling van die wet het die aantal aborsie-verwante sterftes met 90% afgeneem.

Wat kan ons uit hierdie statistiek aflei?

  • Die geboortebeperkingsprogram slaag nie in sy doel nie. Daar is te veel ongewensde swangerskappe wat deur ʼn aborsie beëindig word. Aborsie mag nooit as ʼn vorm van geboortebeperking gebruik word nie.
  • Ek dink nie dit sal moontlik wees om die wetgewing te skrap nie. Die Amerikaanse kerke probeer al veertig jaar om hulle wetgewing te skrap – sonder enige sukses.

Wat moet die kerk in Suid-Afrika doen as hy nie die wet kan omkeer nie? Die kerk sal sterk leiding moet gee oor verantwoordelike seksuele gedrag veral vir ons jongmense. Mense moet besef dat regte altyd met verantwoordelikhede gepaard gaan.

Volgende keer kyk ons na die etiese argumente wat in die aborsie-debat gebruik word.

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Aborsie: Die Bybel en Aborsie

Aborsie: Die Bybel en Aborsie – Coen Slabber

In die inleidingsartikel oor aborsie het ons reeds na twee groot groepe verwys: diegene wat glo dat die vrou die reg het om te kies of sy met haar swangerskap wil voortgaan of nie (pro-keuse) en diegene wat glo dat die staat aborsie moet verbied (pro-lewe). Die interessante is dat beide hierdie groepe die Bybel gebruik om hulle standpunte te verdedig. Maar wat sê die Bybel oor aborsies?

Die Bybel is oënskynlik stil oor aborsies. Dit is moeilik om te verstaan, want aborsies was algemeen uitgevoer tydens die Nuwe Testamentiese tyd. Die Assiriërs het reeds in die twaalfde eeu vC ʼn wet gehad oor self-geïnduseerde aborsies. Omdat die Bybel min/niks oor aborsie sê nie, soek mense na teksverse om die waarde van die fetus te bepaal – is die fetus mens of pre-mens? Indien die fetus ʼn pre-mens is, sou aborsie geoorloof wees. Een ding is baie duidelik: mense lees in teksverse dinge wat glad nie daarin staan nie.

Die Pentateug

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het (Genesis 2:7). Kan ons hieruit aflei dat Adam eers mens geword het toe hy sy eerste asemteug gegee het? Beteken dit dat lewe begin as ʼn baba begin asemhaal – voor dit is hy slegs potensieel mens?  ʼn Aborsie gedoen voor ʼn baba asemhaal beëindig nie die lewe van ʼn mens nie?

Kom ons kyk na enkele ander gedeeltes in die Pentateug:

  • Genesis 25:21 – 23: Sy vrou Rebekka het swanger geword. Die kinders in haar het teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.” Hier word na Rebekka se tweeling verwys as twee nasies. Hulle is duidelik nie nasies op daardie stadium van hulle ontwikkeling nie. Ons moet dit dus simbolies vertolk. Hulle sal eers later gebore word en hulle afstammelinge sal later twee nasies word. Let op dat hier na kinders verwys word. Die antieke Hebreeus het geen word vir embrio of fetus gehad nie. Was hierdie kinders/fetusse volwaardige mense? Hierdie gedeelte hanteer nie hierdie vraag nie.
  • Genesis 38:24: Drie maande later is aan Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het haar soos ʼn prostituut gedra en is swanger. Tamar was ʼn weduwee sonder ʼn man en daarom word dit aanvaar dat sy ʼn prostituut is. Haar skoonvader, Juda, beveel dat sy lewend verbrand moet word. As Juda geglo het dat haar tweeling enige waarde gehad het, sou hy nie haar vonnis uitgestel het tot na hulle geboorte nie? Juda word nie veroordeel oor sy besluit nie. [Juda het haar lewe gespaar toe hy besef dat hy die vader van haar kinders was.]
  • Eksodus 13:1: Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne. Dwarsdeur groot dele van die antieke Midde-Ooste was die eersgebore seun ritueel geoffer aan die gode. As die geboorte van die seun voorafgegaan is deur die geboorte van ʼn meisie of ʼn aborsie is die seun nie geoffer nie, want hy was nie die eersteling wat gebore is nie. Later is dit vervang met die offer van ʼn plaasvervangende dier of ʼn kontant donasie aan die tempel of hulle het die seun aan die diens van die betrokke god gewy. Hierdie praktyk het niks met aborsie te doen nie, maar verwys eerder na kindermoord. Hierdie babas is na hulle geboorte doodgemaak. Dit wys egter vir ons dat pasgebore babas destyds nie hoog aangeslaan is nie. Daar is ander gedeeltes in die OT wat verwys na menslike offers:
    • Rigters 11:29 – 40: Jefta lê ʼn gelofte teenoor die Here af waarin hy onderneem om, as hy behoue bly teen die Ammoniete, die eerste persoon wat uit sy huis uit hom tegemoet kom as brandoffer te offer. Hy het sy enigste dogter geoffer.
    • 1 Konings 16:34: Hierdie vers mag verwys na Giël wat sy twee kinders geoffer het terwyl hy Jerigo herbou het. Argeologiese uitgrawings het die oorblyfsels van mense ontdek wat geoffer was om “die guns van die gode te verwerf.”
    • 2 Konings 16:3: Agas, koning van Juda, offer sy eie seun.
    • 2 Konings 17:17: Die volk het hulle seuns en dogters verbrand …
    • 2 Konings 21:6: Manasse het sy eie seun as offer verbrand.
    • Jesaja 57:5: Jesaja praat namens die Here en verwys na die gebruik van die mense van Israel om hulle kinders in die laagtes en onder die oorhangende rotse te offer.
    • Jeremia 7:31: Die Judeërs het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer.
    • Ens.
  • Eksodus 20:13: Jy mag nie moord pleeg nie. Dit is die doodmaak van ʼn mens. Omdat die skrywers van die OT en die tradisie van die Jode bepaal het dat ʼn mens eers mens word as hy sy eerste asemteug gegee het, het dit destyds nie vir aborsies gegeld nie.
  • Eksodus 21:22: Wanneer mans met mekaar baklei en hulle ʼn swanger vrou omstamp, sodat sy ʼn miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê. Vers 23 sê dat as sy blywend beseer is, is die straf ʼn lewe vir ʼn lewe. Sou die vrou sterf, moet die man wat haar gestamp het, doodgemaak word, want die vrou was ʼn mens. Vers 22 is verwarrend. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling lees ons van ʼn miskraam. Die New Kings James Version praat egter van gives birth prematurely. Die Ou Afrikaanse Vertaling praat van haar vrug afgaan. Die NIV praat van gives birth prematurely, maar as voetnota sê hulle has a miscarriage. Dit is onduidelik waarna hier verwys word. Aborsie is ʼn sterk moontlikheid.
  • Eksodus 22:29: Moenie talm met jou offers uit jou graan- en wynoes nie. “Die eersteling van jou seuns moet jy vir My gee.” Party teoloë glo dat hier verwys word na die tyd toe die antieke Hebreërs en Kanaäniete hulle eerste seun geoffer het. Kanaäniete het dit gereeld gedoen.
  • Levitikus 17:11: Omdat die lewe van ʼn dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Party glo dat hierdie vers beteken dat lewe begin sodra daar bloed in die embrio/fetus teenwoordig is. Ons weet dat die hart van die embrio op ʼn baie vroeë stadium reeds klop (ons kan dit reeds op agt weke op die sonar sien). Dit is dan die begin van lewe.
  • Levitikus 27:6: Van ʼn maand oud tot op vyf jaar is ʼn seun se loskoopwaarde sewe en vyftig gram en ʼn dogter s’n vier en dertig. ʼn Kind kry eers ʼn waarde na een maand. Voor dit het hulle blykbaar geen geldelike waarde nie.
  • Numeri 3:15: Tel die Leviete volgens hulle afkoms en families, almal van ʼn maand en ouer wat manlik is. Vir die volkstelling is net seuns ouer as een maand gereken. Beteken dit dat ʼn baba jonger as een maand nie werd was om as mens getel te word nie? ʼn Moontlike verklaring is dat die sterftesyfer van babas onder een maand so hoog was dat ʼn mens nie met redelike sekerheid kon bepaal of die baba sou bly lewe het nie. As die baba ʼn maand oorleef het, kon ʼn mens met redelike sekerheid aanvaar dat hy sou oorleef.
  • Numeri 5:12 – 31 beskryf ʼn ritueel indien ʼn man agterdogtig is dat sy vrou ontrou aan hom was. Die man neem die vrou na die priester toe met een en ʼn half kilogram garsmeel as offer. Die priester neem ʼn erdebak met gewyde water en gooi van die tabernakelvloer se stof daarin. Die vrou moes die offer (die garsmeel) vashou terwyl die priester self die erdebak met water, wat bittere smart en ʼn vloek oor haar kan bring, vasgehou het. Die priester plaas die vrou onder eed. Daarna moes sy die water drink terwyl die priester ʼn vloek oor haar uitgespreek het. As sy ontrou was, mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Was sy onskuldig, het die vloek geen uitwerking op haar gehad nie. In die NIV word haar vrugbaarheid sal vergaan vertaal met her womb will miscarry. Niemand is blykbaar bekommerd oor die fetus nie.
  • Numeri 31:17 – 18: Maak al die seuntjies dood en elke vrou wat al met ʼn man gemeenskap gehad het. Maar elke dogter wat nog nie met ʼn man gemeenskap gehad het nie, mag julle laat lewe en vir julle vat. (Dit gebeur aan die einde van ʼn veldslag teen die Midianiete.) Moses, waarskynlik in opdrag van God, word beveel om al die seuntjies en vroue wat reeds gemeenskap gehad het, dood te maak. Van die laaste groep sou sommige sekerlik swanger gewees het. Die fetus is dus saam met die moeder doodgemaak. Beteken dit dat hierdie fetusse geen waarde gehad het nie? Die dogters wat nog nie gemeenskap gehad het nie, word gespaar, want hulle het waarde.
  • Deuteronomium 2:34: In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie. Die Israeliete het probeer om deur Gesbon in vrede te trek. Hulle slaag nie. Waarskynlik op bevel van God vernietig hulle die stede en vermoor die mense. Weereens sou dit insluit die dood van die fetusse van die swanger vroue. Die fetusse word nie eers genoem nie.
  • Deuteronomium 30:19: Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe sodat jy en jou nageslag kan lewe. Party mense sê dat hierdie ʼn afkeuring van aborsie is. Dit is baie gevaarlik om verse buite hulle konteks te lees. Verse 15 – 18 is baie duidelik: waarna vers 19 se keuse verwys, is of om afgode te dien of om Jahweh te dien. Vers 19 het geen verband met aborsie hoegenaamd nie. Dit gaan hier oor geloofskeuses.
  • Deuteronomium 32:23 – 25: Ek sal ramp op ramp oor julle bring …Op straat roei die swaard die kinders uit, in die slaapkamers is daar angs: jong man en jong meisie, suigling en grysaard, almal kom om. God is hier besig om te beskryf hoe Hy ʼn nasie gaan uitwis. Dit sluit in mense van alle ouderdomme en beide geslagte. Fetusse word nie eers genoem nie.

Die Ou Testament

  • 2 Konings 2:22 – 24: Elisa, ʼn man met ʼn bles, is hier besig met ʼn klomp seuntjies. Hulle spot hom: Hoër op, kaalkop! Hoër op kaalkop! Hy vervloek hulle in die Naam van die Here. Twee bere kom uit die bos en verskeur 42 van die kinders. Hierdie verse het niks met aborsie te doen nie, maar wys vir ons dat kinders destyds nie hoog geag is nie.
  • 2 Konings 15:16: Hy (Menahem die koning van Israel) het al die swanger vrouens laat oopsny. Hy was kwaad omdat die mense van Tifsag nie die poorte vir hom wou oopmaak nie. As ons dink aan die geneeskunde van destyds moet ons aanvaar dat al die fetusse en moeders gesterf het tydens hierdie “operasie.” Daar is geen veroordeling van sy optrede nie.
  • Job 3:2 – 4; Job 3:11 – 19; Job 10:18 – 19): Job ly. God laat Satan toe om al Job se kinders dood te maak, maar Job se lewe word gespaar. Job sê: Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie, die nag toe gesê is ʼn seuntjie het in die wêreld gekom. Beteken dit nou dat dit beter is om ʼn swangerskap te beëindig as om ʼn baba in die wêreld te bring wat sal ly?
  • Psalm 51:7: Ek was skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. Die tweede deel van die vers word deur baie Christene gesien as ʼn verwysing na die erfsonde.
  • Psalm 139:13: U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Dit beskryf God wat die ontwikkeling van die fetus beheer tydens swangerskap. Hier word geen verwysing na ʼn aborsie gemaak nie. Dit sê ook nie vir ons of die fetus ʼn persoon is nie. Dit beskryf net hoe die fetus ontwikkel.
  • Psalm 139:16: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Dit beskryf God wat die ontwikkeling van die fetus dophou en sê dat die lewenspan reeds voor die geboorte vasgestel is. Party mense beweer dat hierdie vers impliseer dat ʼn persoon se dae by sy geboorte begin – voor dit is hy slegs ʼn potensiële persoon. Dit is ʼn bietjie vergesog.
  • Prediker 4:1 – 3: Maar die gelukkigste van almal is dié wat nog glad nie gebore is nie en nog nie al die onreg gesien het wat op hierdie wêreld gedoen word nie. Die skrywer praat hier van verdrukking en lyding van onskuldige mense. Die skrywer verwys moontlik daarna dat ʼn swangerskap wat onderbreek word, beter is as ʼn lewende geboorte. Die persoon wat gebore is sal ongeregtighede en pyn verduur.
  • Prediker 6:3 – 6: ʼn Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe … as hy nie die goeie dinge kan geniet nie en nie eers in ʼn graf begrawe word nie, is ʼn doodgebore baba beter daaraan toe. Volgens sommiges beteken dit dat ʼn swangerskap wat beëindig word (nie ʼn lewende baba produseer nie) beter is as ʼn lewe wat leeg en ongelukkig is.
  • Jesaja 49:1: Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem. Party mense sê dat dit beteken dat God die fetus as mens erken, want Hy noem hom op sy naam. Ander sê dit is ʼn indikasie van God se vermoë om te weet van toekomstige gebeure – gebeure wat nog nie plaasgevind het nie.
  • Jeremia 1:5: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. God sê hier dat Hy vir Jeremia selfs voor hy in sy moeder se skoot gevorm is, geken het. Hierdie vers sê niks oor aborsie nie, al word dit dikwels in die aborsie-debat gebruik. Om te beweer dat hierdie vers sê dat ʼn fetus reeds ʼn persoon is, is nie waar nie – ons lees iets wat nie hier staan nie.
  • Esegiël 37:8 – 10: Hierdie is ʼn beskrywing van Esegiël se visioen in die laagte. Al wat hy sien is droë bene. Die Here beveel hom om as profeet vir hierdie bene op te tree. Terwyl hy as profeet optree, beweeg die bene na mekaar toe en daar kom senings en vleis met ʼn vel bo-oor getrek. Hulle het egter nie geleef nie, want hulle het nie asem gehad nie. Eers toe die gees/asem in hulle kom, het hulle gelewe. Die implikasie is dat ʼn gevormde mens nie lewe voordat hy asemhaal nie. Begin lewe met die eerste asemteug?
  • Hosea 14:1: Samaria sal boet … die mans sal met die swaard doodgesteek word, die klein kindertjies sal verpletter word en die swanger vrouens sal oopgesny word. God is ontsteld oor Efraim vir Baäl aanbid. Dit wil voorkom asof Hy geen waarde heg aan die fetusse van daardie swanger vroue nie. Hulle (die fetusse) was tog onskuldig aan enige misdaad.
  • Amos 1:13: Maar nou het hulle ʼn vierde sonde daarby gevoeg: hulle het swanger vrouens in Gilead oopgesny en hulle eie gebied uitgebrei. Hierdie verwys na die wandade van die Ammonitiese soldate. Die oopsny van swanger vrouens sou sekerlik lei tot die dood van die moeder en die fetus. Dit lyk of wat hier veroordeel word die dood van vrouens is wat hulleself nie kan verdedig nie. Die fetusse word nie genoem nie.

Die Talmoed

[Talmoed = heilige boek van die Jode met godsdienstige oorleweringe, sedekundige beskouings, leefreëls, ens.]

Die Talmoed glo dat ʼn mens eers volledig mens is by geboorte. As die baba normaal gebore word, gebeur dit met die verlossing van die baba se koppie. As die baba egter voetjies eerste gebore word, gebeur dit  wanneer die helfte van die baba se liggaampie verlos is.

Die Nuwe Testament

  • Matteus 26:24: Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie. Voorstanders van aborsie lei hieruit af dat beëindiging van swangerskap beter sou wees as ʼn voltooide swangerskap as die kind se lewe moeilik sou wees.
  • Lukas 1:15: … reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hier het ons weer ʼn probleem met die vertaling. Die Ou Vertaling lui: alreeds van die skoot van sy moeder af – is dit voor sy geboorte? Die NIV sê: even before he was born. King James: even from his mother’s womb. Waarvan ons egter hier lees, is Johannes se spesiale geboorte. Dit geld nie noodwendig vir alle babas nie.
  • Lukas 1:35: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daar om sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Van die ouer vertalings verwys na that holy thing which shall be born. Die engele verwys na Maria se fetus as ʼn heilige thing. Hierdie stem ooreen met die tradisionele Joodse geloof dat ʼn fetus eers werklik mens word nadat hy halfpad gebore is.
  • Lukas 1:41: Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg. Ons weet dat Elisabet reeds in die sesde maand van haar swangerskap was. Op hierdie stadium is die baba met vandag se tegnologie reeds lewensvatbaar. Let wel hierdie gedeelte sê niks oor vroeë swangerskappe nie. Ons het ook hier te doen met twee wonderswangerskappe en kan daarom nie alles sommer van toepassing maak op ʼn gewone swangerskap nie.
  • Lukas 1:42: Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot. Diegene wat glo dat lewe voor geboorte begin, sê dat Elisabet na hierdie vroeë swangerskap van Maria as ʼn baba verwys. Dit mag egter beteken dat hierdie fetus spesiaal is, want dit sal groei, ʼn mens word en uiteindelik gebore word as Jesus.
  • Galasiërs 1:15 – 16: Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder en Hy het my in sy genade geroep … Dit dra dieselfde gedagte oor as Jeremia 1:5: Reeds voor sy geboorte het God Paulus se rol geken.

Die Didage

Dit is waarskynlik tussen 100 en 150 nC geskryf. Ons weet nie wie die skrywer(s) was nie. Dit was ʼn belangrike dokument in die vroeë kerk.

  • Afdeling 2.2: Moenie ʼn kind deur aborsie doodmaak nie. Waarna word hier verwys? Dit mag wees dat hier na ʼn bekende verskynsel in die Romeinse Ryk, kindermoord, verwys word. Die vrou het die pasgebore baba buite die huis neergelê. As die vader verantwoordelikheid vir die kind aanvaar, het hy hom in die huis gebring. Anders word die kind daar neergelê om te sterf. Die vroeë Christene het hierdie kinders opgetel en in families geplaas.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis

Ek glo in … Jesus Christus … en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; vanwaar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

In baie ou Engelse vertalings word gepraat van die quick and dead. Hierdie frase kom van Handelinge 10:42 en 1 Petrus 4:5 waar dit verwys na Jesus Christus wat gereed staan om die lewendes en die dooies te oordeel. Quickening is ʼn woord wat nie meer gebruik word nie, maar verwys na die stadium waartydens die moeder die baba voel skop. Die algemene gevoel is egter dat dit eerder verwys na die ou Engelse woord cwicu, wat lewend beteken.

Gevolgtrekkings

Nog die Ou nog die Nuwe Testament hanteer aborsie direk. Geskrifte van die vroeë Christelike beweging verdoem aborsie.

  • Ou Testament: Die sleutelvers is Eksodus 21:22. Volgens party vertalings (NIV) mag ons aflei dat die fetus ʼn persoon is. Uit ander vertalings kan ons nie hierdie gevolgtrekking maak nie. Meeste verse heg nie ʼn hoë waarde aan die fetus nie.
  • Lukas 1:41 mag geïnterpreteer word as sou aborsies na die fetus lewensvatbaar is, verdoem word.

Die probleem is dat beide die Ou en Nuwe Testament dieselfde woord gebruik om te verwys na ʼn ongebore fetus, ʼn pasgebore baba en ʼn ouer kind. Weereens gee dit aanleiding tot direk teenoorgestelde afleidings:

(a)    Die fetus is volledig mens soos ʼn pasgebore baba; of

(b)   Soos ons vandag na ʼn fetus as ʼn mens verwys in die algemene spreektaal, het hulle dit ook gedoen.

In ons volgende artikel gaan ons kyk na aborsie in Suid-Afrika.

 

Outeur: Dr Coen Slabber