Die vyfde vereiste vir kinders van God – om die geloof te behou (vervolg) – Francois Malan

Ewige lewe met God (5:9-13)

5:9 ‘As ons die getuiernis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter…’ hoër in status en gesag, omdat God volkome vertroubaar is. Daarom is elke mens verplig om dit aan te neem, en wie dit verwerp, verwerp vir God. God se getuienis gaan oor die allerbelangrikste persoon, Jesus, die goddelike Seun, wat God aan die mens openbaar, die Woord van God, self ook God (Joh 1:1-3).

‘…omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het’ – vgl. bv. sy stem by die doop van Jesus, en al die wonderwerke wat Jesus in sy Naam verrig het. God staan agter die getuienis van die Gees wat die oortuigingswerk doen oor die betekenis van Jesus se doop en dood vir die sondige wêreld, nl. dat Hy die Seun van God is wat ons sonde op Hom geneem het deur mens te word en Hom met ons sondaars vereenselwig het. ‘Getuienis gelewer het’ staan in die perfektum, dit is in die verlede deur God betuig en gaan voort in die verkondiging vsn Jesus se doop en sy dood deur die gelowiges en die oortuigingswerk van die Gees in ons hart en denke.

5:10 ‘Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself;’ – ons geloof dat Jesus God is, bewys dat die Heilige Gees in ons woon, want dit is Hy wat ons daartoe oortuig het deur die verkondiging van die woord van God oor die mens Jesus, as Seun van God, wat vir ons sondes gesterf het. So ‘het ek die getuienis in myself,’ is ek daarvan oortuig en word ek ‘n getuie vir die Seun van God.

‘wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie.’ Geloof in God die Vader kan nie losgemaak word van geloof in sy Seun nie. Wie sê dat hy in God glo maar Jesus verwerp, ken nie die ware God nie (1 Joh 2:22-23). Meer nog, hy tref God as’t ware in die hart. Die gebruik van die perfektum ‘het nie God se getuienis geglo nie’ wys op die godlose en goddelose wyse waarin die verwerper van Jesus verkeer. In 1:10 is reeds gesê dat die een wat sê dat hy nie sonde het nie, God tot leuenaar maak. Vers 10a is positief met 10b die negatief daarteen geformuleer om die radikale skeiding tussen geloof en ongeloof in Jesus te beklemtoon, en tot ‘n radikale keuse op te roep (vgl. Joh 3:18).

5:11 Ewige lewe het slegs in God bestaan. Nou het God die ewige lewe aan ons gegee. Die soort lewe is volkome aan ons geopenbaar deur sy Seun toe Hy mens geword het (1 Joh 1:2). God stel self die gelowige in staat om deel daarvan te word deur die gelowige se verbondenheid en gemeenskap met Jesus. Ewige lewe het ‘n tydsaspek en ‘n kwaliteitsaspek – ‘n lewe sonder einde, maar ook ‘n geestelike en morele soort lewe, soos God se lewe, in waarheid en egtheid. Jesus het die ewige lewe bekendgestel as ‘n lewe van liefdesdiens aan ander.

‘en dié lewe is in sy Seun’ – dit gaan om die deelname aan die ewige lewe deur blywend in gemeenskap met Jesus te lewe, dat Hy in ons kom lewe, en dat Hy sy goeie boodskap aan die wêreld wil verkonding deur ons lewe en woorde. Die ewige lewe wat Jesus vir ons verkry het, kan slegs in gemeenskap met Hom uitgelewe word.

5:12 ‘Wie die Seun het, het die lewe’ – om die Seun te hê, verwys na ‘n intieme geloofsverhouding. Ons het die lewe in Jesus (v11), en as ons dit verkry het, lewe God deur Jesus in ons (3:24). Deur Jesus hier bloot ‘die Seun’ te noem (nie: Seun van God, of sy Seun, nie) spreek van die hoë waardering van Jesus. Omdat Hy God se Seun is, is Hy uniek dié Seun. Om Hom te ‘besit’ beteken dat ons nou reeds konstant deel het aan ‘die lewe’ in sy volheid, en ook in ewigheid (soos uitgedruk deur die teenwoordige tyd van ‘wie die Seun het..het die lewe’).

Vir die persoon wat nie die Seun van God het nie is die ryke omvang van geestelike lewe, as lewe in gemeenskap met God, onbegryplik en onbereikbaar, en daarom geestelike dood. Dit is bedoel as ‘n waarskuwing en as ‘n uitnodiging om wel deel te word van die wonder-lewe saam met God.

5:13 Een van die doeleindes van Johannes met die skrywe van hierdie brief is om die gelowiges te verseker dat hulle die ewige lewe het – Joh 20:31 is ook so’n opsommende voorlopige slot, wat die doel van die Evangelie beklemtoon. Die verwysings in die brief na die ongelowiges en hulle lot, dien as waarskuwing vir hulle, maar die brief is eintlik gerig aan die gelowiges om hulle te bemoedig en hulle geloof te versterk sodat hulle sal lewe in die nuwe lewe wat hulle van God ontvang het deur hulle gemeenskap met Jesus. Ewige lewe is lewe saam met God.

Die geloof in die Naam van die Seun van God onderstreep die algehele toewyding aan Jesus as persoon wat die unieke ewige Seun van God is, en alles wat dit behels – vgl. 2:12 sondevergifnis in sy Naam; 3:23 God se gebod dat ons moet glo in die Naam (as persoon) van sy Seun (as God), Jesus (Verlosser), Christus (Gesalfde koning-priester-profeet); 5:5 oorwinning oor die wêreld. Geloof in Jesus gee sekerheid dat jy deel het aan die ewige lewe saam met God (5:13).

[die 1953 vertaling het die volgende woorde aan die einde bygevoeg: ‘en kan glo in die Naam van die Seun van God’ – dit kom egter nie in die oudste manuskripte voor nie, en kom eers voor in manuskripte uit die 8ste en 9de eeu n.Chr.].

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vyfde vereiste vir kinders van God – om die geloof te behou (5:5-13) – Francois Malan

Geloof in Jesus (5:5-8)

 

5:5 ‘Wie anders oorwin die wêreld…’ die oorwinning oor die wêreld, word met ‘wie’ persoonlik gestel. Dit is nie soseer geloof wat opsigself die oorwinning is nie (5:4), maar eerder die indiwiduele gelowige wat oorwin, en dat hy lewe uit sy geloof in Jesus – die teenwoordige vorm ‘is aan die oorwin’ wys daarop op dat die gelowige steeds besig is om te oorwin oor die versoekings van die wêreld, en oor ongehoorsaamheid aan God.

‘…as hy glo dat Jesus die Seun van God is?’ Dit verwys na húlle wat geloof in Jesus aktief uitleef en dit behou. 5:1 verwys na elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, hier dat Jesus die Seun van God is (in 2:22-23 word ook van ‘Christus’ na ‘Seun van God’ oorgegaan, wat albei vir Jesus intiem met die Vader verbind. Hier word ‘Seun van God’ gebruik om te verwys na die krag van God wat in sy Seun Jesus geopenbaar is, en baie groter is as die mag van die wêreld (5:4) en van die duiwel (4:4). Daarom put die kind van God sy krag by God, deur sy Seun, wat deel is van die goddelike mag om wêreldsgesindheid en die wêreldse versoekings te oorwin. Die regte geloof van vertroue op God lei tot die regte optrede soos Jesus opgetree het.

 

5:6 Nadat Johannes in 5:5 die inhoud van die Christelike geloof beskryf het as geloof in Jesus as die Seun van God, verwys hy in 5:6-9 na die aard van die drie getuies oor die waarheid van dié belydenis (water, bloed, Heilige Gees).

‘Hý, Jesus Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het…’(‘gekom het’ is in die verlede tyd). ’ Hoewel Luther en Calvyn hierin die kerk se doop en nagmaal gesien het, en Augustinus verwys het na die water en bloed uit Jesus se sy aan die kruis, verwys water en bloed hier na Jesus se koms as mens in die verlede; na die beginpunt van sy bediening met sy doop, en die einde van sy aardse bediening met sy kruisiging. Met sy doop is Hy verklaar as die Seun van God (vgl. Johannes die Doper se getuienis in Joh.1:34 ‘Hy is die Seun van God’; en die stem uit die hemel in Mk 1:11 ‘dit is my geliefde Seun’) – die belydenis van Johannes onderstreep Jesus se gesag om as God se gesant op te tree, en sy mag, naamlik dat Hy in die krag van die Heilige Gees optree. Sy gesag en mag word beslissend bevestig deur sy bloed aan die kruis, waardeur die Vader aan Hom die gesag oor alle mense gegee het, en om die ewige lewe aan almal te gee wat die Vader aan Hom gegee het. Daarna is Hy in die teenwoordigheid van die Vader in heerlikheid opgeneem (Joh.17:2,5).

Jesus het vir Johannes die Doper gesê dat hy Hom moet doop om alle geregtigheid te vervul. Johannes het die pad vir Jesus reggemaak deur mense tot bekering tot God te roep. Hy het hulle gedoop as teken van hulle reiniging en bevestiging van hulle bekering. Jesus, die sondelose, wat juis deur God gestuur word, neem reeds die sonde van die wêreld op Hom deur Hom saam met hulle te onderwerp aan die doop van sondaars. Geregtigheid word juis vervul deur versoening van die sondaar met God, deur die verhouding met God reg te maak. Jesus het gekom om ons verhouding met God reg te stel met sy offerbloed vir ons sonde aan die kruis. Waar die doop die simbool van reiniging is, is sy bloed die werklike middel om reiniging te bewerk in die geskiedenis van die mensdom, die bloed van Jesus reinig ons van elke sonde (1 Joh 1:7; vgl. 4:10 ‘werklike liefde is nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes’).

‘…nie in die water alleen nie, maar in die water en in die bloed…’ waar die eerste sin in die vers sonder lidwoorde was om die mensheid van Jesus uit te druk, word die lidwoorde hier bygevoeg as verwysing na dié water van sy doop en dié bloed van sy kruisdood.

‘Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid.’ Die Gees het die profete vooruit laat wys na die koms van die Messias (Joh 5:39; 1 Petr 1:10-12; 2 Petr 1:19-21) en het by Jesus se doop op Hom neergedaal as teken van sy Seunskap van God (Joh 1:32-34). Dit is dieselfde Gees wat nou getuienis aflê, oor Jesus as die Seun van God wat mens geword het, in en deur die gemeente, deur die prediking van God se woord en die lewe van die gemeente in liefde. Die Gees werk in die gelowiges om ons al meer te omvorm om soos Jesus te word (1 Joh 3:24; 4:13) . Hy is die Gees van die waarheid (1 Joh 4:6; 5:6) en daarom is sy getuienis die waarheid. Daarom kan ons, wat die salwing met die Heilige Gees van God ontvang het (1 Joh 2:20,27), onvoorwaardelik glo dat Jesus God is, en weet dat sy doop die heilsbetekenis van sy dood bevestig (Joh 15:26; 16:13-15).

Ons het ‘n objektiewe getuienis oor Jesus in die water (sy doop) en bloed (sy offerdood) en ‘n subjektiewe getuienis van die Heilige Gees in ons hart (innerlike oortuiging).

 

5:7,8 ‘Want daar is drie wat getuig, die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is een’ – hulle werk saam aan dieselfde doel, nl. om die waarheid te bevestig dat Jesus die Christus is, en die Seun van God. Die water/doop en bloed/dood van Jesus getuig nou nog in die Bybel, maar word in die kerk met die sakrament van die doop en die nagmaal bevestig. Maar dit is Jesus, wat Hom met ons sondaars vereenselwig het, wat nou nog by ons teenwoordig is met sy woord en sy Gees. Die OuTestamentiese-wet vereis twee of drie getuies (Deutr.19:15; Joh 8:17).

[die gedeeltes tussen die volgende aanhalingstekens kom die eerste keer voor in die geskrifte van Priscillianus (oorlede 385 n.Chr.), in sy verweer teen die kerk in Spanje se leer van die drie-eenheid: daar is drie wat getuig ‘in die hemel: die Vader die Woord en die Heilige Gees,’ en die drie is een; ‘en daar is drie wat getuig op die aarde:’ die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Dit kom nie voor in enige ou Griekse manuskrifte of van die ou Griekse kerkvaders nie, ook nie in ander tale of die Latynse Vulgaat van 405 n.Chr. nie, maar is in die 6e eeuse afskifte van die Vulgaat opgeneem, en in ‘n 16e Griekse vertaling van die Vulgaat. Erasmus se eerste Griekse teks het dit nie gehad nie, hy is daaroor aangeval, en het gesê hy sal dit opneem as hy enige Griekse teks sien wat dit het. Die vermoede is dat dié 16e eeuse teks spesiaal daarvoor gemaak is, en hy het dit toe in sy derde uitgawe opgeneem, en so het dit in Lutherse, Engelse, Hollandse en Afrikaanse vertalings ingekom. In die 1983-vertaling is teruggekeer na die ou en betroubare Griekse manuskripte wat nie die gedeeltes het nie.]

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) – Francois Malan

Liefde geloof gehoorsaamheid (5:1-4)

5:1-4 Die onlosmaaklike verband tussen die liefde van God en liefde tot ander mense word in die volgende vier verse verbind aan geloof en gehoorsaamheid, soos in 4:13-16. Verse 1 en 4 gaan oor geloof, 2 en 3 oor gehoorsaamheid.

5:1        liefde en geloof

5:2        liefde en gehoorsaamheid

5:3        liefde en gehoorsammheid

5:4        oorwinning en geloof.

5:1 In 2:29 is gesê: ‘elkeen wat regverdig lewe (letterlik: geregtigheid doen) is uit God gebore.’ In 4:7b is gesê: ‘elkeen wat liefhet is uit God gebore.’ Hier ‘elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore’ – die werkwoord ‘glo’ in die teenwoordge tyd beteken dat ons in geloof lewe; die perfektum tyd van ‘is uit God gebore’ beteken dat die gelowige reeds deur God weergebore is, en die gevolge daarvan duur voort deur sy lewe – sosiaal: vir sy omgang met sy medemens, en eties: vir sy optrede as kind van God. Egte geloof in Jesus en ‘n lewenswyse wat daarby pas, is onontbeerlik vir ware Christelike lewe.

‘en elkeen wat die Een liefhet uit wie hy gebore is (nl. die Vader), het/behoort dié wat uit Hom gebore is lief/lief te hê’ (nl. elke kind van God) – die Griekse vorm van ‘liefhê’ is dieselfde vir ‘n stelling (hy het lief, ‘n algemene stelling) en vir ‘n vemaning (hy behoort lief te hê – soos in 3:23). As jy weet dat jy uit God gebore is, dus sy kind is, dan weet jy ook dat ander gelowiges ook uit God gebore is, en daarom deel is van God se gesin, vir wie Hy liefhet, en waar onderlinge liefde die lewe kenmerk.

 

5:2 ‘Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet, (naamlik) wanneer ook al (onbepaald, deurgaans) ons God liefhet en sy gebooie nakom’ – die onderlinge liefde van gelowiges is die bewys van hulle liefde vir God, en die omgekeerde is ook waar. Die liefde vir God en die liefde vir medegelowiges bewys die egtheid van die een en van die ander, en versterk die wedersydse liefde (volgens 4:19 is die liefde egter nie tot mede-gelowiges beperk nie – ‘ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het’). Liefde vir God behels die doen van sy gebooie, o.a. om lief te hê (Johannes het telkens gesê ons moet God se gebooie hou. Met doen/nakom beklemtoon hy dat ons God se gebooie prakties moet uitvoer en uitlewe). Liefde vir God en jou medemens is nie geleë in ‘n vroom gevoel of belewenis nie, maar in die praktiese uitlewing van onselfsugtige liefde teenoor ander, waaraan Jesus gestalte gegee het deur sy selfofferende liefde vir die sondige mensdom.

 

5:3 ‘Want dit is die liefde vir God, dat ons sy opdragte gehoorsaam’ – hier word by vers 2b aangesluit en daarop uitgebrei. Dit is reeds in die Johannes Evangelie uitgespel: 14:15, 21a, 23-24. Die gehoorsame liefde van die Christen vir Christus weerspieël Jesus se liefde vir sy Vader (14:31; 15:10) en word in Jesus se gebed in Jn 17 uitgespel. (vgl. 17:23-24,26). Uit liefde vir sy Vader het Jesus sy opdragte uitgevoer en sy volgelinge opgedra om die opdragte van God uit liefde vir God uit te voer (17:4,6-8).

‘en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie;’ God se gebooie is nie bedoel om onderdrukkend te wees nie; om die vryheid en spontaneïteit van jou liefde te onderdruk nie, soos die Fariseërs en skrifgeleerdes gedoen het met hulle swaar laste wat hulle die volk opgelê het met hulle menigte wette nie (Mat 23:4; Luk 11:46). Daarteenoor is Jesus se juk sag en sy las lig (Mat 11:30). Elkeen wat vir God liefhet se hart is vervul met vreugde om God se wil te doen.

 

5:4 ‘…want elkeen wat uit God gebore is oorwin die wêreld;’ – hier volg die rede waarom God se gebooie nie ‘n swaar las is nie. ‘oorwin’ of ‘kan oorwin’ (die Griekse vorm is dieselfde vir die stelling/indikatief, en die moontlikheid/konjunktief), maar wys in elk geval die voortduur van die oorwinning aan met die teenwoordige tyd van die werkwoord. Die ‘wêreld’ verwys hier na die mensdom wat téén God en sy kerk staan (2:15). Die kind van God kan die aanslae en verleidings van die bose wêreld oorwin deur die opgestane Jesus, wat die wêreld klaar oorwin het (1 Joh 2:13-14; Joh 16:33). Die gebooie van God wys die weg aan wat Hy vir sy kinders het. As ons daaraan vashou sal die liefdeskrag van die Heilige Gees wat in ons woon bewys dat Hy sterker is as die wêreld.

‘…en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, ons geloof.’ – die geloof verwys na ons geloof wat ons bely, deurdat ons erken dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het en vir ons sonde gesterf het, en opgestaan het as oorwinnaar oor die dood en die mag van die sonde. Deur geloof in Hom het die gelowige deel aan hierdie oorwinning. Ons geloof in Jesus beligaam die oorwinning wat Hy klaar oor die wêreld behaal het, want Hy woon en werk in ons. Ons stryd is nie om die wêreld te oorwin nie, maar om onsself aan Jesus die Oorwinnaar oor te gee in volle geloofsvertroue op Hom.

 

Geloof, liefde en gehoorsaamheid is die drie waarmerke van die geboorte uit God: die kind van God glo in die Seun van God wat mens geword het, hy het God en die kinders van God lief, en lewe volgens die voorskrifte van God in sy gebooie. Elkeen van die drie is aan die ander twee verbind. Saam is dit die kenmerk van die gelowige in hierdie wêreld.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (e) Onselfsugtig liefhê (4:19-21) – Francois Malan

4:19 ‘Ons, ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.’ Ons (Johannes en die getroue gelowiges in sy gemeentes en die breë Christelike kerk) staan voorop met klem (teenoor die wat afgedwaal het en ander wat buite staan). ‘ons het lief…’ die feit dat óns wel liefhet – die voorwerpe van ons liefde is onbeperk, nie net tot God en die mede-gelowiges nie, maar ‘n lewe van liefde vir almal wat ons teëkom, en selfs vir hulle wat ons teenstaan; dit kom van God af.

‘omdat Hy (met klem vooraan in die sinsnede) ons eerste liefgehad het.’ Dit het Hy reeds getoon deur sy Seun te stuur as offer van ons sonde en as openbaarder van wie en hoe God is. God se liefde vir die wêreld is met die daad deur Jesus bewys. Onverdiende liefde (dit is die betekenis van genade) begin by God. Dit word aan die mens uit genade gegee deur die inwoning van die God van liefde in elkeen wat tot geloof in Jesus gekom het, deur die woord van God en die oortuigingswerk van die Heilige Gees.

God se onselfsugtige liefde tot die mens maak dat die gelowige kan begin om onselfsugtig te lewe, ook teenoor hulle wat dit nie waardeer nie. Ons liefde tot ander is ‘n respons op God se liefde tot ons, en ‘n deurvloei daarvan na ander.

 

4:20 Dat ons onselfsugtig kan liefhê, kom van God af, van Hom wat ons eerste liefgehad het (4:19). Maar die beslissende praktiese toets van ons liefde vir God is ons liefde vir ander. Eintlik is liefde tot die medemens die maklike en liefde tot God die moeilike taak. As jy in die maklike toets tekortskiet, hoe ver skiet jy dan nie in jou liefde tot God tekort nie. Daarby kan jou liefde tot die onsienlike God nie getoets word nie, maar jou liefde tot jou medemens blyk uit jou gesindhede en optrede.

Die ‘broer’ is in die eerste plek die mede-gelowige, maar sluit ook die mede-mens in, wat deur God gemaak is, vir wie Hy juis roep deur ons liefdevolle optrede. Johannes noem die gebrek aan liefde by sy naam: ‘haat’ (vgl. 1 Petr.1:22). Enigeen wat sê dat hy God liefhet, maar haatlik teenoor sy broer optree is ‘n leuenaar – hy praat nie die waarheid nie en behoort nie aan die kring van die God van die waarheid nie (vgl. Jn. 8:24 vir die vader van die leuens en mensemoordenaar; ook Jesus se verklaring van die sesde gebod in Mt 5:21-22). Ons moet God wat ook in ander mense werk, liefhê, en ander mense liefhê omdat ons in Hom is en Hy in ons.

 

Johannes het in 1:6 en 2:4 op die dwaallendes se moreel-verkeerde lewe gewys: hulle roem dat hulle God ken maar is ongehoorsaam aan Hom – hy sê hulle lewe in die duisternis en is leuenaars; in 2:22-23 wys hy op hulle verkeerde geloof en leer: dat hulle God sou erken, maar nie dat Jesus werklik die Christus is nie en Hom verwerp – Johannes noem hulle anti-christe; in 4:20 vlek Johannes die sosiale valsheid oop – dat hulle sê hulle het God lief maar ander haat – hy noem hulle leuenaars. Daarteenoor stel Johannes weer die liefdesgebod in 4:21.

 

4:21 Alles wat hy in hierdie afdeling gesê het oor liefde as die voorwaarde en lewenswyse van God se kinders, word saamgevat deur Jesus se liefdesgebod te herhaal (reeds in 3:23, vgl. 4:7,11): ‘Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê’ – die liefde vir God en die broer vorm saam een gebod (vgl. Mt 22:37-39). Christelike liefde vloei nie slegs voort uit wat God vir ons in Christus gedoen het en doen nie, maar Hy gee ook die opdrag aan ons, ‘Dit is dié gebod’. Die meervoud ‘gebooie’ word gebruik in 2:3-4; 3:22,24; 5:2-3 vir die dade wat konkrete uitdrukking gee aan die een groot gebod van die liefde (2:7-8; 3:23). Ons het dié gebod van ‘Hom,’ dit is van God af gekry deur Jesus wat die nuwe gebod aan sy dissipels oorgedra het, om soos Hy onselfsugtig en selfverloënend lief te hê (Joh 13:34; 15:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan