3 Johannes – Christelike gasvryheid (vervolg) – Francois Malan

10 Die oudste belowe dat hy die gemeente persoonlik kom besoek oor die optrede van Diotrefes. Hy wys op vier verkeerde optredes van Diotrefes wat hy tot verantwoording gaan bring; dit behels (i) ‘bose woorde’ – hy het ‘n kwaadwillige tong; daarmee  versprei hy slegte stories oor ons, oor die oudste en sy medewerkers, van dinge wat hy niks van weet of verstaan nie (die werkwoord vir ‘versprei,’ fluareoo, beteken eintlik dit wat hy sê maak geen sin nie, waarskynlik uit onkunde – hier oor die betekenis van Christus as Seun van God wat mens geword het); (ii) nie slegs sy woorde nie, maar ook sy optrede is verkeerd: hy weier konstant om die medegelowiges by hom aan huis te ontvang; (iii) en dié wat dit wil doen, belet hy telkens om dit te doen; (iv) en hy jaag  die lidmate wat nie na hom wil luister nie, uit die gemeente.

Selfliefde bederf en vernietig alle verhoudings. Gelowiges word geroep om soos Jesus lief te hê, wat sy lewe vir sy vriende gegee het. Jesus het geê: Elkeen onder julle wat die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie (Mk 10:44-45). Daarvan het Diotrefes geen benul nie.

 

11 ‘Geliefde (Gajus), moenie die kwaad navolg nie, maar die goeie’ – navolg  (leterlik na-aap, ‘mimiek’); dit is ‘n algemene stelling, maar ‘die kwaad’ het duidelik die voorbeeld van Diotrefes se optrede in gedagte, en ‘die goeie’ die karakter  en optrede van Demetrius (v12). Die voorbeeld van Christus is die maatstaf vir die goeie (vgl. 1 Jn 2:6; 4:17). Die oudste waarsku vir Gajus om nie die voorbeeld van Diotrefes te volg nie. Diotrefes word in sy wese en optrede duidelik nie deur God gelei nie. Uit ‘n mens se optrede blyk sy wese – of hy uit God is of nie.

‘Wie goed doen is uit God…’ is ‘n weerklank van 1 Jn 3:9: Elkeen wat uit God gebore is, leef nie meer  in sonde nie omdat God se saad in hom bly – nl. die Heilige Gees – en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is – sy wedergeboorte uit God bepaal nou sy lewe.

‘Wie kwaad doen, het God nie gesien nie.’ Die perfektum-werkwoord sê dat hy nog nooit vir God gesien het nie, en die gevolge daarvan kan in sy lewe gesien word. Dit is ‘n weerklank van 1 Jn 3:6b: Elkeen wat aanhou sondig het Hom nie gesien en Hom leer ken nie. Die ‘sien’ van God verwys hier na die huidige intieme verhouding met God, vgl. 1 Jn 4:12: Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. In Jn 14:9 sê Jesus vir Filippus: Wie My gesien het, het die Vader gesien. Om in Jesus te glo is om God te ‘sien’ deur Jesus. Dit gaan om die innerlike oog van die geloof.

 

12 Demetrius (‘wat aan Demeter behoort,’ die Griekse godin van die oes) was eers ‘n heiden, maar nou  getuig almal,  die hele gemeente, positief oor Demetrius, ook die waarheid self – soos dit uit sy getuienis oor Jesus en sy optrede duidelik blyk. Ook Johannes en sy groep werkers getuig so oor hom. Gaius weet dat die getuienis van Johannes en sy groep oor Demetrius die waarheid is – want Gaius het Demetrius ook so leer ken.  Demetrius is inderdaad ‘n man wat in die waarheid wandel. Gajus kan hom volg in dié gemeente wat tans deur Diotrefes oorheers word.

 

13-14 Die slot van die brief lyk baie soos die einde van 2 Jn. Die oudste wil dringend met Gajus alleen praat as hy daar kom, en wil dit nie met ink en pen doen nie. Die krisis in die gemeente moet reggestel word en hulle moet saam praat oor wat gedoen moet word.

 

15 ‘n Drieledige groet sluit die brief af: (i) Vrede vir Gajus as persoon – dit is die vrede van God wat deur Jesus bewerk is: Jn14:27 My vrede gee Ek julle; (ii) Die oudste se groep vriende (van die waarheid) groet vir Gajus (iii). Gaius moet die groete oordra aan die vriende (van die waarheid) by hom, ‘by die naam’ – aan elkeen persoonlik.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




3 Johannes – Christelike gasvryheid (vervolg) – Francois Malan

6 In vers 3 het die medegelowiges getuig dat Gajus in die waarheid van God voortlewe. Hier van sy liefde wat hy deur gasvryheid bewys het. Sy liefde het ooreengestem met die geloof wat hy bely. Die getuienis het hulle gelewer voor die hele gemeente waar die oudste bly, en moontlik ook by ander gemeentes. (die woord vir gemeente of kerk ekklesia word hier en in verse 9-10 gebruik; nie in die Evangelie van Johannes of die ander twee Johannese briewe nie; ook nie in Markus of Lukas nie – dikwels in Handelinge, die Pauliniese geskrifte en Openbaring; enkele male in Matteus, Hebreërs en Jakobus).

‘Jy sal goed (iets prysenswaardig) as jy hulle voorthelp op ‘n manier wat God waardig is.’ Die uitdrukking ‘jy sal goed doen’ is dikwels gebruik om ‘asseblief’ uit te druk;  ‘voorthelp’ sluit in om hulle te voorsien van die nodige vir die reis (vgl. Hand 15:3; 1 Kor 16:6,11). ‘Op ‘n manier wat God waardig is.’  (vgl. 1 Ts 2:12Rom 16:1-2).

 

7 ‘want ter wille van die Naam het hulle uitgegaan…’ hieruit blyk dit dat hulle sendelinge is wat verskillende dorpe en gemeentes besoek (die woord uitgegaan ekselthon is ook in 2 Jn 7gebruik vir die misleiers wat uit die gemeente uitgegaan het die wêreld in, om hulle valse leer te gaan verkondig. Hier gaan lidmate uit in die diens van die waarheid).  Hier word na die Naam van Jesus Christus verwys, soos in Hand 5:41; Jn 15:21 (vers7 is die enigste teks in 3 Johannes wat na die Seun van God verwys). Die voorsetsel huper kan ‘ter wille van’ aandui, dat hulle in Christus se diens uitgegaan het; of ‘in verband met,’  dat hulle Christus gaan bekendmaak. Waarskynlik word aan albei die betekenisse gedink.

‘…sonder om iets van die heidene te ontvang.’ Jesus se opdrag aan sy dissipels was om verniet te gee en te dien (Mt 10:8; Paulus het dag en nag gewerk om nie ‘n las op die mense vir wie hy preek, te lê nie (1 Ts 2:9). Die sendelinge van die Romeinse afgode was bekend as ‘bedel monikke.’ Dié sendelinge vir die waarhied wou nie met hulle geassosieer word nie, dat hulle terwille van  hulle lewensonderhoud sou preek nie. Hulle wou die evangelie gratis en vry verkondig, en was afhanklik van die gasvryheid van mense van die waarheid om vir hulle te sorg, volgens Jesus se opdrag aan sy dissipels (Mt 10:11-14, 40).

 

8 Die sendelinge moet versorg word want hulle is medegelowiges wat geëer moet word vir hulle christelike sending (v7) en omdat hulle geen ander voorsiening het nie. Die christelike gemeenskap moet vir hulle doen wat hulle nie vra van die nie-christene/wêreldlinge nie. Die verpligting om vir hulle te sorg kom van die Here van die kerk af, soos in 1 Kor 9:14 uitgespel. Die woord vir help (hupolambanoo) beteken om te help in die voorsiening van wat nodig is, en om op te neem in die gemeente (let op die woordspel: terwyl die sendelinge niks van die heidene aanneem nie – lambanoo – moet die gemeente hulle opneem – hupolambanoo).

‘sodat ons medewerkers van die waarheid kan word.’ Ons gasvryheid sal bewys dat ons saamwerk aan die waarheid, deur ons versorging van die verkondigers in wie Christus na ons toe kom. Dit bewys dat ons self lewe in die waarheid oor Jesus Christus. Hy het ons beveel om mekaar so onselfsugtig lief te hê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34).

 

9 ‘Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, verwelkom/ontvang ons nie.’ Waarskynlik het  die oudste ‘n briefie geskryf aan die gemeente waaraan Gaius ook behoort. Maar Diotrefes het die brief, moontlik met ‘n versoek om van die reisende sendelinge te ontvang (v10), voorgekeer. Die naam Diotrefes beteken ‘deur God opgevoed,’ maar sy arrogante begeerte om altyd eerste te wees

om oor ander te heers, is eintlik ‘n verloëning van sy naam, soos ook weerspieël in sy optrede teenoor die oudste (dit is moontlik dat sy naam eintlik veronderstel dat Zeus hom opgevoed het, as sy ouers nog nie gelowiges was toe hy sy naam gekry het nie).

Hy wil niks te doen te hê met die oudste en die reisende sendelinge wat van die oudste se gemeentes af uitgaan nie. Die werkwoord beteken ook dat hy nie die oudste of sy verteenwoordigers gasvry wou verwelkom en ontvang nie. Dit is duidelik dat hy nie die gesag van die oudste aanvaar nie, maar eiemagtig oor die gemeente regeer. Daarmee bewys hy sy gebrek aan Christus se tipe liefde, en het hy waarskynlik ook besware begin ontwikkel teen die leer oor Christus wat die oudste verkondig. Kolossense 1:18 sê dat Christus die hoof van sy liggaam die kerk is, Hy is die begin (van alles), die eerste wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste (prooteuoon) in alles is.’ Dit het dié man, wat lief is om die eerste (prooteuoon) te wees, nie verstaan of uitgeleef nie.

Skrywer: Prof Francois Malan

 

 




3 Johannes – Christelike gasvryheid (1-15) – Francois Malan

3 Johannes se vorm kom baie meer ooreen met die tradisionele Griekse briefvorm  as 2 Johannes, met skrywer, geadresserde en seën aan die begin, maar sonder ‘n groet, en ‘n tipiese slot. Terwyl 2 Johannes aan ‘n gemeente gerig word, word 3 Johannes aan ‘n leierspersoon in ‘n ander gemeente gerig, met verwysing na twee ander persone in die gemeente.

Albei briewe handel o.a. oor gasvryheid: 2 Johannes adviseer dat gasvryheid nie aan die misleiers gegee word nie. 3 Johannes prys Gaius vir sy ontvangs van besoekende gelowiges, terwyl Diotrefes selfs geweier het om ‘n vorige brief van Johannes aan die gemeente voor te hou.

1 ‘Die oudste’ (ho presbuteros) is dieselfde persoon wat 2 Johannes geskryf het en waarskynlik ook 1 Johannes, waar hy telkens sy lesers as ‘my liewe kindertjies’ of as ‘geliefdes’ aanspreek (2:1,7,12,18,28; 3:18; 4:1,7,11; 5:21).

Hy skryf aan sy ‘geliefde’ Gajus. Die uitdrukking getuig van ‘n hegte band tussen hulle twee, en hy voeg by ‘vir wie ek in waarheid liefhet.’ Die waarheid is die basis waarop hulle liefde gebou is, nl. dat Jesus, die Seun van God, uit liefde vir ons, mens geword het, om ons aan Hom en sy liefde en sy lewe te verbind. Die waarheid van die God wat liefde is, wat Jesus aan ons kom openbaar het,  is die sfeer waarin hulle altwee lewe.

Gajus (‘vreugdebetoon’) was ‘n algemene Griekse naam, en kom nog drie keer in die NT voor: (i) Gajus van Korinte, een van die min mense wat deur Paulus gedoop is; ‘n gemeente vergader in sy huis en Paulus gaan by hom tuis (Rom 16:23; 1 Kor 1:14); (ii) Gajus van Masedonië, reisgenoot van Paulus, wat in Efese deur die oproermakers na die amfiteater gesleep is (Hand 19:29); (iii) Gajus van Derbe, Paulus se reisgenoot met die kollekte na Jerusalem (Hand 20:4).

2 ‘Geliefde, ek bid dat jy gesond mag wees en dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan, soos dit met jou siel goed gaan…’  (in alle opsigte goed gaan –  staan voorop met klem; die Griekse werkwoord vir ‘goedgaan,’ euodousthai,  beteken letterlik:om op ‘n goeie pad gelei te word’). Sonder die gebruiklike groete word die goeie wense as ‘n gebed aangebied. In Paulus se briewe is daar dikwels dankgebede in die inleiding van die brief.

‘…dat jy (ligaamlik) gesond mag wees…soos dit met jou siel goed gaan.’ Miskien was Gaius se gesondheid nie so goed nie, vandaar die gebed vir sy gesondheid, maar dit kan meer waarskynlik ‘n algemene gebed vir voortgaande gesondheid beteken. Sy siel (psuche) verwys na sy geestelike lewe in sy verhouding tot God, deur sy gemeenskap met Christus.

3 Die oudste verskaf die rede vir sy vertroue in die geestelike gesondheid van Gajus. Die oudste het van tyd tot tyd besoek ontvang (soos die teenwoordige tyd van die werkwoorde aandui) van broers wat kom getuig het oor Gajus se waarheid, hoe hy die pad van die waarheid loop. Dit het die oudste grootliks verbly (die naam Gajus beteken ook‘vreugdebetoon’). Die besoekers het bevestig wat die oudste van Gajus geweet het, dat hy in die waarheid van God lewe.

4 Die oudste verduidelik die rede vir sy groot blydskap in v3: niks gee hom groter blydskap as berigte wat hy hoor dat sy kinders in die waarheid voortlewe nie. Sy ‘kinders’ is dié mense wat die boodskap oor Jesus Christus aangeneem het, aan wie hy noú verbind is, en vir wie hy verantwoordelik voel.  Die uitdrukking ‘om die pad van die waarheid  loop’ kom in die NT slegs in 2 Jn 4 en 3 Jn 3,4 voor. Die klem op die lewe in die waarheid in hierdie twee briewe is moontlik ‘n aanduiding van die intensteit van die krisis oor die waarheid van God in die Johannese gemeentes.

 5 Gajus word weer aangespreek met ‘n warm en intieme woord as die oudste se ‘geliefde’ vriend. Die oudste prys hom  met ‘jy tree getrou op in wat jy ook al vir die broers doen…’ – sy lojaliteit teenoor die waarheid is konstant te sien in sy liefdesdiens. Daarom word hy beskou as iemand wat lewe in gemeenskap met almal wat die waarheid ken en daarin lewe, ‘n getroue dienskneg van die Here (vgl. Mt 25:21).

‘…en dit terwyl hulle vir jou vreemdelinge is.’ Hy het sy liefdesdiens telkemale gedoen aan medegelowiges wat by hom aangekom het, al het hy hulle nie persoonlik geken nie. Waarskynlik gaan dit om rondreisende predikers wat op eie koste en uit geloofsoortuiging rondgaan om die evangelie te verkondig. Sy gasvryheid teenoor medegelowiges wat in die waarheid wandel, word goedgekeur en aanbeveel, terwyl 2 Jn 10-11 alle gasvryheid teenoor die misleiers wat die waarheid verdraai, afkeur en verbied. Soos gemeenskap met die misleiers jou deel van hulle boosheid maak, maak gasvryheid teenoor gelowiges wat in die waarheid wandel, jou deel van die waarheid. Hebr 13:2 sê dat sommige deur gasvryheid engele as gaste ontvang. Jesus sê: wie julle ontvang, ontvang My (Mt 10:40; Jn 13:20) ; dit wat ons aan die geringste van die broers doen, bv. huisves van vreemdelinge, doen ons aan Hom (Mt 25:35,40).

Herberge was gevaarlike plekke vir gelowiges, feitlik altyd drinkplekke en waar mense van hulle goed beroof is, as hulle nie goeie wagte saam met hulle gehad het of in groter groepe gereis het nie. Daarom was gelowiges op reis aangewys op die gasvryheid van medegelowiges op hulle pad; vgl. bv. Jesus se uitsending van sy dissipels en waar hulle moes oornag (Mt 10:11-15). Later is dit misbruik en het die 2e eeuse geskif Didache (Die leer van die twaalf apostels’  in hfs. 11-12) reëls neergelê vir die lengte van sulke besoeke, ens.

Skrywer: Prof Francois Malan