Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering – Adrio König

Bekering

Dit is een van die kernwoorde van die Christelike geloof. Sowel Johannes die doper as Jesus begin hul openbare optrede met ‘n oproep tot bekering (Mat 3:2; 4:17), nadat dit oor en oor in die OT, veral by sommige profete voorgekom het.

 

Die veronderstelling van bekering is dat alles nie pluis is nie. Ons moet verander omdat ons verkeerd is, op die verkeerde pad, in ‘n verkeerde rigting op pad. Bekering beteken dat ons anders moet begin dink en doen, op Iemand anders gerig moet wees, ander waardes moet kry, ‘n ander sin en doel in ons lewe.

 

Bekering kom hoofsaaklik in twee betekenisse in die Bybel voor: as ‘n herhaalde gebeurtenis waartoe die gelowige telkens weer opgeroep word (hoofsaaklik in die OT), en as ‘n eenmalige gebeurtenis wat ‘n beslissende keerpunt in ‘n ongelowige se lewe is (hoofsaaklik in die NT).

Voortgaande bekering kom hoofsaaklik in die OT voor as ‘n oproep aan die volk van God. Hulle word nie soseer opgeroep om hulle tot die ware God te bekeer nie, maar eerder om hulle van sekere sondes te bekeer omdat hulle in die ware God glo. Hierdie soort bekering beteken om die implikasies van hulle geloof te trek. Die God wat hulle dien, verwag van hulle ‘n bepaalde manier van lewe. Hulle is sy beeld en daarom moet hulle iets van sy soort lewe vertoon. `Wees heilig want Ek is heilig’ (Lev 19:2) is ‘n tipiese bekeringsoproep: besef wat die implikasies van julle verhouding met die Here is en leef dit uit. Die profete roep die volk voortdurend terug na hulle God, en nie soos die oproep aan heidene om hulle te bekeer tot ‘n God wat hulle nie tevore gedien het nie. In hierdie betekenis lê bekering baie na aan heiligmaking. Dit is ‘n voortdurende oproep wat telkens op nuwe sondes in ons lewe toegespits sal wees. Dit het sterk sosiale en politieke implikasies want dit gaan om meer as om die wil van God in my persoonlike lewe. Dit gaan om sy wil vir sy volk, vir die samelewing. Dit kom sterk na vore by die profete.

Die NT ken ook hierdie soort bekering, maar onder ander woorde. Die meeste van die briewe in die NT kan taamlik duidelik in twee dele verdeel word: die eerste deel is gewoonlik meer ‘n uiteensetting van die Christelike geloof in terme van die probleme in die betrokke gemeente, en die tweede deel ‘n oproep of vermaning oor hoe die Christene behoort te leef. (Vgl Rom 1-11 met 12-16; Ef 1-4:16 met 4:17-6:24; Kol 1-2:19 met 2:20-4:18) Hierdie tweede deel wat altyd die vermaninge bevat, is die oproepe tot voortgaande bekering: omdat julle die Here se kinders is, moet julle so en so leef. Eintlik het hulle hulle klaar bekeer in die sin dat díe onder hulle wat heidene was, klaar die ware God in Jesus leer ken en aangeneem het, maar juis daarom moet hulle nou aanhou om hulle te bekeer in die sin van die konklusies trek uit die nuwe geloof wat hulle aanvaar het.

Eenmalige bekering En juis dit bring ons by die tweede vorm van bekering wat ons in die Bybel kry: ‘n bekering waarin ‘n ongelowige wegdraai van ‘n valse God na die ware God. Hier gaan dit allereers om mense wat ‘n ander God gedien het en nou opgeroep word om hulle tot die ware God te bekeer. Eers daarna sal die ander soort lewe ter sprake kom, dié soort wat by die nuwe God pas. En dit sal dan ‘n voortdurende oproep tot ‘n voortgaande bekering wees.

Natuurlik verwag ‘n mens om die mooiste voorbeelde van hierdie eenmalige bekering in die NT te kry. Dit is by uitstek die sendingboek in die Bybel, en hierdie eenmalige bekering is die bekering van heidene na die ware God. ‘n Pragtige verwysing is dié van Paulus in 1Tes 1:9-10: ` … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.’ (Kyk ook Hand 17:30-31; 26:18,20.)

Daar heers vandag heelwat verwarring in die kerk oor bekering. Om dit ook maar enigsins te probeer aanspreek, sal ‘n mens duidelik tussen ‘n prinsipiële standpunt, en die toepassing daarvan in die praktyk moet onderskei.

Prinsipiëel hoort die oproep tot ‘n eenmalige bekering in die sendingveld tuis, waar mense opgeroep word om van hulle gode weg te draai en Jesus as Verlosser en Here te aanvaar. In ‘n gemeente hoort net die oproep tot voortgaande bekering tuis. Gemeentelede ken klaar die Here, dit is waarom hulle aan die gemeente behoort. Dit sou eenvoudig onvanpas wees vir Paulus om die Tessalonisense weer op te roep om hulle valse Gode te los en die Vader van Jesus te aanvaar as hulle God. Hulle het dit klaar gedoen, hulle is gedoop, en nou moet hulle die nuwe lewe begin lei. Oproepe tot voortgaande bekering pas in die gemeentesituasie: Hou met hierdie sondes op, begin hierdie goeie werke doen omdat julle nou vir Jesus as Here aanvaar het.

As ons met ‘n Nuwe Testamentiese gemeente gewerk het, moes hierdie beginsel onveranderd gegeld het. Onder ‘n Nuwe Testamentiese gemeente verstaan ons ‘n gemeente wat bestaan uit mense wat ‘n beslissende keuse moes maak wat hulle duur gekos het. Hulle moes waarskynlik hul werk of sosiale posisie prysgee of ten minste in gevaar stel, hulle kon selfs vervolg gewees het, daar is ten minste op hulle neergesien. Dit het hulle iets (baie!) gekos om aan die gemeente te behoort.

Maar wat van die konkrete situasie in die kerk vandag? Vandag is dit in die meeste Westerse en Afrikalande ‘n sterk aanbeveling met heelwat voordele om aan die kerk te behoort. Dit verander die situasie radikaal. Dit beteken dat mense om allerlei ander motiewe hulleself Christene noem, en nie noodwendig nadat hulle ‘n duur en moeilike beslissing vir Jesus geneem het nie. Mense kan vandag in die kerk gebore word, groot word en selfs oud word, sonder dat hulle ooit in hul lewe ‘n positiewe beslissing vir Jesus geneem het. En ongelukkig is dit nie net die rare uitsondering nie. In die prediking, en trouens in die hele bedieningspatroon in die kerk, moet dit ernstig in ag geneem word.

Daar is taamlik duidelik twee groepe mense in die kerk: betrokkenes en onbetrokkenes. Hulle sal nie presies dieselfde behandel kan word nie. In die prediking sal mense pertinent voor die vraag gestel moet word of hulle hulle met die Here Jesus identifiseer. Bekering in die sin van ‘n keuse, van identifikasie met Jesus is onontbeerlik. En waar mense – selfs amptelik binne die kerk – buite die atmosfeer van die verbond groot word, moet hulle een of ander tyd só ‘n beslissing neem.

Die vraag hoe verbondskinders in die heil deel, kom net hierna ter sprake.

Een van die groot gevare is dat hierdie soort bekeringsprediking wetties en moralisties kan word. Mense dink hoe erger die eise van die Here beklemtoon word, hoe hoër `die standaard’ gestel word, hoe beter sal dit werk. Maar daar kom ‘n punt waar ‘n mens weer herinner moet word aan die feit dat God die inisiatief neem, dat Hy ons red, dat dit nie afhang van `ons trane, gebede, bekering, berou, maar sy bloed werk versoening vir jou.’ Ons nuwe lewe is nie ons inspanning om anders te leef nie, maar sy gawe aan ons (vereniging met Christus), of die vrug wat die Gees in ons lewe dra. Dit gee ‘n mens moed om jou te bekeer, om jou hele lewe onvoorwaardelik te gee. Jy kan, want Hy kan. Die NT is vol van hierdie evangeliese oproepe. Onderstreep woordjies soos: dus, dan, daarom, aangesien (Rom 6:11,12; Kol 2:16,20; 3:1,5,12). Die vermanings is gebou op die fondament wat God onder ons inskuif in die vorm van die nuwe lewe van Christus en die krag van sy Gees.

Bekering is in die NT minder op die totale samelewing gerig as by die profete. Die rede is o.a. dat Israel as volk aan die Here behoort het, terwyl die vroeë Christene meestal klein groepies in groot stede was met geen inspraak in die breë strukture van die samelewing nie. Waar ons as Christene ‘n beduidende deel van die bevolking uitmaak, is dit deel van ons bekering om te werk vir geregtigheid in die samelewing en sy strukture.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die vervulling met die Heilige Gees

Geloofsvrae: Die vervulling met die Heilige Gees – Adrio König

Die vervulling met die Heilige Gees

Naas die tweede genadewerk en die Geesdoop het sommige in die Heiligheidsbeweging en die Pinkster- en Charismatiese beweging ook nog ruimte vir die vervulling met die Heilige Gees as ‘n ervaring ná die tweede genadewerk of die Geesdoop wat herhaaldelik kan plaasvind. Sommige sien dit as spesiale toerusting vir ‘n besondere taak.

Daar is egter ook groepe wat die spesifieke tweede ervaring die vervulling met die Heilige Gees noem, en dan graag van algehele oorgawe praat. Hulle heg ongeveer dieselfde betekenis daaraan as die tweede genadewerk van die Heiligheidsbeweging.

 

Dit is nie nodig om hier in besonderhede op dié beskouings in te gaan nie. Die leer van die heiliging of heiligmaking word elders bespreek. Dit is egter eerbiedwaardige motiewe om erns te maak met die oorwinning oor die sonde en die krag tot getuienis. Die besonderhede waarin dit uitgewerk word, is redelik vreemd binne die raamwerk waarin hier gedink word. Maar teologie is ook nie die een en al in die lewe van die kinders van God nie, en daar is ongetwyfeld baie Christene wat sin gevind het deur ervaringe wat hulle só interpreteer.

Andersyds sou ‘n mens tog moes sê dat die beklemtoning van ‘n tweede ervaring die gevaar inhou dat ‘n mens vashaak by twee, en vergeet dat die Christelike lewe ‘n lewe van veelvuldige diep ervaringe met die Here en met sy kinders moet wees. Twee ervaringe is nie teveel nie, dis te min. En daar loer ook elke af en toe die neiging om die hoek om die kinders van God in twee duidelik afgebakende groepe te verdeel. Natuurlik is daar ook in die NT sprake van verskille tussen die geestelike vlak van die lewe van die kinders van God, maar nie so netjies afgebaken nie soos: geheilig of net bekeerd, Geesgedoop of net bekeerd, Geesvervuld of net bekeerd, volkome oorgegee of net bekeerd.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die doop met die Heilige Gees

Geloofsvrae: Die doop met die Heilige Gees – Adrio König

Die doop met die Heilige Gees

Die doop met die Heilige Gees word deur in die Pinkster- en Charismatiese kerke gebruik vir ‘n spesiale tweede ervaring in die Christen se lewe. Die fokus is op krag om te getuig. Mense wat net bekeerd is, het nie krag tot getuienis nie, of hul getuienis het nie die krag om mense te oortuig nie.

‘n Voorbeeld wat graag gebruik word, is dié van ‘n prediker wat voor die Geesdoop geen of baie min vrug het, maar na die Geesdoop ryke vrug in die vorm van baie mense wat tot bekering kom en gawes wat sterk deur hom of haar werk. Die Here Jesus doop die bekeerde met die Heilige Gees en die gevolg is oorvloedige krag tot getuienis.

 

In die Pinksterwêreld word taamlik algemeen geleer dat die spreek in vreemde tale die onmisbare teken is dat ‘n persoon met die Gees gedoop is. In die Charismatiese wêreld is daar verskil van opinie en baie aanvaar dat dit nie nodig is nie.

Dit is jammer dat die term `doop met die Heilige Gees’ in hierdie betekenis deur die Pinkster- en Charismatiese wêreld gebruik word, d.w.s. vir ‘n gebeurtenis in elke gelowige se lewe. Daar word ses keer in die NT verwys na die doop met die Heilige Gees (Mat 3:11; Mark 1:8; Luk 3:17; Joh 1:33; Hand 1:5; 11:16). In die eerste vier gevalle is dit Johannes wat na die werk van Jesus verwys, in die vyfde geval is dit Jesus wat aan sy dissipels beloof dat hulle binne ‘n paar dae met die Gees gedoop sal word – wat dan ook by die uitstorting van die Gees gebeur – en die sesde keer is dit Petrus wat aan die gemeente vertel hoe die Gees op Kornelius en sy mense gekom het. Die eerste vyf verwys dus almal na die uitstorting van die Gees, en die sesde een is ‘n spesiale geval waardeur die Here aan die vroeë kerk wil bevestig dat die Gees nie net vir die Jode gekom het nie, maar ook vir die heidene. In dié sin is dit ‘n `bevestiging’ van die uitstorting van die Gees.

In hierdie lig is dit dus beter om die uitdrukking `doop met die Gees’ net vir die eenmalige koms van die Gees op die Pinksterdag te gebruik en nie vir ervaringe in elke gelowige se lewe nie. Dit beteken nie dat sulke ervaringe ontken moet word nie. Inteendeel. Maar die doop met die Gees is nie ‘n geskikte term daarvoor nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Pof Adrio König




Geloofsvrae: Die Tweede Genadewerk

Geloofsvrae: Die Tweede Genadewerk – Adrio König

Die tweede genadewerk (second blessing)

Dit is ‘n baie ou beskouing wat in verskillende vorme deel van die Heiligheidsbeweging is. Daar is verskillende beklemtonings, en dit is nie moontlik om hier aan die fynere nuanses reg te laat geskied nie. Die tweede genadewerk word beskou as ‘n daad van die Gees waardeur Hy die bekeerde mens instaat stel om die sonde te oorwin en heilig te leef.

Dit word aanvaar dat daar twee vorme van sonde is, verkeerde dade en die mag van die sonde, wat beteken dat daar twee dinge in die sondaar se lewe moet gebeur: die sondaar moet vergewe word om ‘n kind van God te word, én daarna moet die kind van God van die mag van die sonde verlos of vrygemaak word.

 

In elke mens is daar ‘n ou natuur wat geneig is tot die sonde. Hierdie `ou mens’ moet deur ‘n spesifieke daad van die Gees uit die mens se lewe verwyder word. Dit word gewoonlik aanvaar dat dit in beginsel gelyktydig met vergifnis (weergegoorte, bekering of redding) kan gebeur, maar dat dit in die reël eers daarna gebeur omdat, net soos in die geval van vergifnis, ‘n mens dit spesifiek van die Here moet vra, en die meeste mense by hul bekering nog nie daarvan bewus is nie. Hierdie ou mens of ou natuur of sondige natuur of vlees of sondige neiging is in ons ingebore. Dit word soms met die erfsonde in verband gebring.

Wanneer die ou natuur nog nie uit die bekeerde se lewe verwyder is nie, lei hy of sy ‘n `val-en-opstaan-lewe’ waarin herhaalde terugval in die sonde die bekeerde se geestelike lewe strem, en tot algehele terugval in die sonde (backsliding) kan lei. Die groot probleem met die kind van God wat net bekeerd is maar nog nie `geheilig’ nie, is dat die sonde nog ‘n aansluitingspunt binne-in hom of haar het, sodat die versoekings nog `van binne’ kom en daarom so dikwels te sterk is. Wanneer die ou natuur egter verwyder is, kan die versoekings net `van buite’ kom en kan die geheiligde die versoekings makliker weerstaan. Dit beteken egter nie dat hy of sy nooit weer sal sonde doen nie. ‘n Mens kan nog altyd ook aan die versoekings van buite toegee, en daarom bly ook die lewe van die geheiligde ‘n stryd, maar dit is ‘n stryd wat vanuit ‘n oorwinningsposisie gevoer word. Dit word die oorwinningslewe genoem.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König