Die verskillende hemele – Francois Malan

Anna vra:
Verduidelik aan my die verskillende hemele, asb. Baie dankie.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
In die Ou Testament is sprake van 3 hemele:

Die Israeliete se wêreldbeeld was van ’n reeks koepels oor die aarde, koepels wat op fondamente rus (2 Samuel 22:8); Job 26:11 praat van die pilare waarop die hemel gebou is – as simbool van vastigheid.

(Hulle wêreldbeeld verskil heeltemal van die wêreldbeeld van planete wat in bane om die son wentel, ’n maan wat om die aarde wentel, sterre wat elkeen ’n eie sonnestelsel met planete is, en ’n onmeetlike heelal met ’n menigte melkweë elk met duisende sterre).

Die eerste hemel verwys meestal na die lugruim waar die voëls rondvlieg, vgl. Gen 1:26 se voëls in die lug – letterlik: voëls in die hemel.

Die tweede hemel verwys dikwels na die uitspansel of sterrehemel, waar die sterre sou sit, vgl. Gen 15:5: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan;’ en Genesis 22:17 se ‘sterre aan die hemel. vgl. Deutr 4:19 se hemelruim met die son en die maan en die sterre.
Die antieke tyd het die tweede hemel ook gesien as die wolkehemel vanwaar die reën kom, soos in Ps 147:8: ‘Hy oordek die hemel met wolke. Hy voorsien reën vir die aarde.’
Matteus 24:29: ‘die son sal verduister word, die maan sal nie skyn nie, die sterre sal uit die ruimte (letterlik: uit die hemel) val, en die kragte van die hemelruim (letterlik: hemele) sal ontwrig word…’ Vgl. Genesis 1:17: ‘God het die twee groot ligte in die hemelgewelf geplaas.’
Handelinge 1:10: ‘Terwyl Hy weggaan en hulle stip na die hemel kyk…’

In baie tekste word egter met die hemel verwys na die plek waar God sou woon, en wat dan as die derde hemel beskryf word, waarvan Paulus in 2 Korintiërs 12:2-4 praat, en dit die paradys noem.

Vgl. 1 Konings 8:30,49 U hemelse woonplek, Ps 33:13-14; Matteus 5:16 julle Vader wat in die hemel is; Mat 6:9 Ons Vader wat in die hemel is; Ps 11:4 Die Here is op sy troon in die hemel; Jesaja 66:1 Die Here sê: Die hemel is my troon; Openbaring 4:2 ‘Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel…’ Dit is alles beelde wat verwys na God se alomteenwoordigheid. Die naam Here (Jahweh in Hebreeus) beteken ‘die Ek is’ persoonlik aktief teenwoordig.

Maar 1 Koning 8:27 sê: die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie…’

Openbaring 21 en 22 verwag dat die hemel en die aarde sal verbygaan en ons verwag ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Jes 65:17 die Here gaan ’n nuwe hemel en aarde skep sodat ons aan dié wat daar nou is nie meer sal dink nie; Jesaja 66:22 die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die Here sal maak sal in sy diens staan; 2 Petrus 3:13 sê daar sal God se wil heers; Openbaring 21:1 die eerste hemel en aarde het verdwyn. Openbaring 21 gebruik beelde om oor die nuwe hemel te praat, waar daar nie meer ’n tempel is nie, want die Here God, die Almagtige en die Lam is die tempel van die nuwe Jerusalem, wat nie meer son en maan nodig het nie want die Here verlig alles.

Eintlik moet ons sê: waar God is, is die hemel, en Jesus het gesê: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon (Johannes 14:23); dit doen Hy deurdat Hy die Heilige Gees stuur om by ons te bly en in ons te wees (Joh 14:17 Romeine 8:9). Daarom kan Joh 3:36 sê: Wie in Jesus glo het reeds die ewige lewe. Jesus het vir ons gebid: En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is (Joh 17:3). Nou leef ons in die geloof, maar eendag sal ons vir altyd by Hom wees en sy heerlikheid sien (Joh 17:24).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Goue kalf – Herrie van Rooy

Jan vra:
Eksodus 32. Moses is op die berg en keer nie terug nie. Die Israeliete raak ongeduldig en hulle dwing Aäron om vir hulle ‘n god te maak. Hy maak ‘n goue kalf en ek wonder om watter rede dit ‘n kalf moes wees, asb?

Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die kalf (veral ‘n bulkalf) en ook ‘n bul was ‘n bekende afgod by die volke rondom Israel. Dit was ‘n simbool van vrugbaarheid, veral by die Kanaäniete. Die bulkalf was nie bedoel om God te vervang nie, maar is gesien as ‘n beeld van God. So was ook die kalfbeelde wat Jerobeam opgerig het by Dan en Betel (1 Konings 12). So is ook Amon-Re, een van die gode van Egipte, as ‘n kalf uitgebeeld. Dit was dus eintlik ‘n oortreding van die tweede gebod, oor afbeeldings van God.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Gaan ‘n mens onmiddellik hel toe of hemel toe? – Francois Malan

Michele vra:

Hier is n man wat n praatjie gaan hou oor wat hy deurgemaak het in die hel. Ek is bietjie skepties daarvoor maar aan die ander kant sal ek graag wil hoor. Is dit moontlik dat mens onmiddellik hel toe gaan of Hemel toe as jy doodgaan. Hoekom ek vra, is êrens staan daar dat daar nie tyd in die Hemel is nie en 1 dag is soos 1000 jaar en 1000 jaar soos 1 dag.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:

Volgens Lukas 16:19-31 het Jesus vertel van ’n bedelaar met die naam Lasarus wat gesmag het om van die oorskiet van ’n ryk man se tafel iets te ete te kry. Toe hy sterf is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Toe ryk man sterf en begrawe is, het hy sy oë opgehef vanuit die doderyk waar hy gefolter is, en het vir Abraham van ver af gesien met Lasarus teen sy bors. Hy het geroep: Vader Abraham, wees my genadig en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly vreeslik in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord, Kind onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.

Die naam Lasarus beteken ‘God help,’ en sê waarskynlik iets van sy ingesteldheid teenoor God. Die ereplek langs Abraham veronderstel ’n feesmaal. Die doderyk was volgens die Fariseërs ’n plek van afwagting voor die voleinding. Die Fariseërs het daarop geroem dat Abraham hulle voorvader is, en so word hy nou ook aangeroep. Hy vra om ontferming in sy nood. Sy behoefte staan weer op die voorgrond en Lasarus moet hom bedien. Hoewel Abraham hom ‘my kind’ noem beteken sy natuurlike verwantskap niks vir sy geluk nie. Die groot kloof tussen hemel en hel beteken dat daar in die lewe hierna geen oorgang van die een staat na die ander moontlik is nie. Geen bekering na jou dood nie. Die gelykenis het Jesus vertel na aanleding van die Fariseers se liefde vir geld, en omdat hulle Jesus uitgelag het oor sy prediking (Luk 16:14-15).

2. Hier is n man wat n praatjie gaan hou oor wat hy deurgemaak het in die hel.

Die verdere verloop in Luk 16:27-31 vertel van die ryk man wat vra dat Lasarus uit die dood moet opstaan en sy vyf broers moet gaan waarsku sodat hulle nie ook in die plek van pyniging gaan beland nie. Maar ook dit word geweier as onnodig, want hulle het die wet en die profete in hulle bybel om hulle te waarsku en wat van die Messias-verlosser getuig. Dit is ’n verwysing na die Fariseërs wat toegewy is aan die studie van die wet en die profete. Op die ryk man se pleit dat iemand, wat uit die dood opstaan, miskien sterker staan as Moses en die profete, antwoord Abraham, hulle sal na hom ook nie luister nie. Dit is ook bewys deurdat die leierpriesters nie geglo het toe Jesus uit die dood opgestaan het nie (Matteus 28:12-15).
3. volgens hoe ek die Bybel verstaan, gaan almal saam geoordeel word en waar dit in die Bybel staan “vandag”, beteken dit vandag soos ons dit ken?

In 1 Korintiërs 15 verduidelik Paulus oor die opstanding uit die dood van dié mense wat aan Christus behoort, met die wederkoms van Christus (vers 22-28), en Christus al sy vyande onder sy voete gestel het (vers 25). In verse 35 tot 57 vertel hy hoe die opstandingsliggaam sal wees, hoe almal sal verander by die laaste basuin wanneer ons verganklike liggame met onsterflikheid beklee sal word.

2 Tessalonisense 2 vertel vam die gebeure voor Christus se wederkoms, en 1 Tessalonisense 5:1-11 oor die koms van die Here om deur ons Here Jesus Christus verlossing te verkry (v9).

In Openbaring 20:11-14 word oor die laaste oordeel geskryf en in in Matteus 25:31-46 oor die skeiding van die skape en die bokke met Christus se wederkoms.

In 2 Korintiërs 5 word egter gesê dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het wat van God kom, ’n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie.

In Filippense 1:23 sê Paulus hy verlang om heen te gaan en met Christus te wees. Dit is verreweg die beste te beste.
Terwyl ons sterflike liggame begrawe of veras word, en die gelowiges op die opstandingsdag met heerlikheid beklee sal word, is ons self met ons dood reeds by Christus.

4. êrens staan daar dat daar nie tyd in die Hemel is nie en 1 dag is soos 1000 jaar en 1000 jaar soos 1 dag.

In 2 Petrus 3 word oor die wederkoms geskryf. Vers 8-9 lui: By die Here is een dag soos duisend jaar en duisendjaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

God is ewig en by Hom is 1000 jaar gelede vandag, en duisend jaar vorentoe ook vandag. Terwyl ons in ruimrte en tyd dink, is die ewigheid soveel anders.
Skrywer:  Prof Francois Malan




Grade van geloof – Hermie van Zyl

Giepie vra:

Watse grade van geloof kry mens?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag impliseer ‘n algemene wanpersepsie oor geloof: dat geloof ‘n goeie werk of prestasie van die mens is. En soos wat mense verskil – almal het nie dieselfde vermoëns nie en presteer gevolglik verskillend – so is daar dan ook verskillende grade van geloof. Die een se geloof sal dan sterker wees as die ander s’n, en daarom is party mense beter gelowiges as ander, of word as voorbeelde van sterk geloof voorgehou wat ons moet nastreef.

Hierdie opvatting van geloof vind nogal “steun” in die Bybel, ten minste as sekere tekste op ‘n bepaalde (verkeerde) manier verstaan word. Kyk na die volgende voorbeelde:

  • Die dissipels vra Jesus om vir hulle meer geloof te gee (Luk 17:5). So asof hulle graad van geloof onvoldoende is om Hom te volg. Hulle het daarom meer geloof nodig. Waarop Jesus antwoord (v6) dat mens nie “meer” geloof nodig het nie, maar bloot die geloof van ‘n mosterdsaadjie benodig. (Mosterdsaad was die kleinste soort saad wat daar was, maar het uiteindelik tot ‘n groot boom gegroei, Matt 13:31-32.) Die bedoeling is: dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie – dit kan maar klein wees, soos ‘n mosterdsaadjie – maar oor in Wie jy glo.
  • In Matt 15:28 sê Jesus aan die Kanaänitiese vrou: “jou geloof is groot …”, waaruit mens die afleiding sou kon maak dat daar verskillende soort geloof is: klein en groot. Jesus beloon dus haar groot geloof deur haar te help. En dit sou dan die rede wees waarom Hy ander wie se geloof nie groot genoeg was nie, nie gehelp het nie. Die punt is egter eerder: Jesus was beïndruk met die feit dat sy, ten spyte daarvan dat Hy haar eintlik bietjie afgesit het (kyk v24,26), nogtans volhard het om te glo dat Hy haar sal help. Jesus “beloon” haar vertroue in Hom, nie haar sterk geloof nie.
  • ‘n Soortgelyke geval tref ons aan in Matt 8:10. ‘n Heiden – ‘n Romeinse offisier – vra Jesus om sy slaaf te kom genees. En die man aanvaar dat Jesus oor soveel gesag beskik dat Hy dit sommer oor ‘n afstand kan doen; Hy hoef maar net ‘n woord te spreek. Jesus prys daarom die offisier deur op te merk dat Hy, Jesus, selfs onder die Jode nie so ‘n groot geloof aangetref het nie. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” wat die genesing veroorsaak nie, maar Jesus Self, wat reageer op die onwrikbare vertroue wat iemand in Hom
  • In 1 Kor 10:15 spreek Paulus die wens uit dat die Korintiërs se geloof sal toeneem, so asof ‘n mens se geloof eers klein begin en dan mettertyd groei en groter word (in graad toeneem). Maar wat Paulus bedoel, is dat hulle verhouding met en navolging van Jesus hegter sal word soos wat die tyd voortgaan. Dis dieselfde geloof as aan die begin, maar die vertroue in Jesus is deur verskillende omstandighede heen getoets, geslyp en verdiep.
  • Jesus noem die dissipels soms “kleingelowiges” (Matt 6:30; 8:26; 14:31), spesifiek in situasies waar hulle Hom nie vertrou het nie, terwyl hulle moes. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” by die dissipels wat in iets anders of beter moet ontwikkel nie, maar bloot ‘n gebrek aan insig en vertroue in Jesus wat hier deurslaan. Die belangrike is, ten spyte van hulle kleingeloof is hulle steeds gelowiges en navolgers van Jesus en word hulle volledig deur Hom aanvaar.

Benewens hierdie Bybelse “voorbeelde” van “grade van geloof”, is daar ook nog ons populêre manier van praat, waar ons allerlei byvoeglike naamwoorde of bywoorde by geloof voeg, wat maak dat ons dink dat daar verskillende grade van geloof is. Ons praat byvoorbeeld van mense wat waarlik glo (teenoor mense wat maar net “gewoonweg” glo), of van iemand wat ‘n sterk geloof het, of iemand anders wat ‘n swak geloof het. Dis ‘n populêre manier van praat waardeur die wanopvatting versterk word dat daar verskillende soorte of grade van geloof is.

Die punt wat ek probeer maak, is dat ons die gedagte van “grade van geloof” heeltemal moet laat vaar. Dis ‘n verkeerde kyk na geloof; dit lei ons net op ‘n dwaalspoor. Dit plaas die klem en fokus op ‘n verkeerde plek. Hoekom? Omdat die aard van geloof sodanig is dat dit ‘n “leë” handeling is. Ja, dis wel die mens wat glo, maar geloof is nie ‘n menslike kapasiteit of prestasie wat ons vir God kan aanbied op grond waarvan Hy ons genadig moet wees nie. Geloof verwag eerder alles van God; dis gerig op God/Jesus. Paulus se stryd met die Jode van sy tyd was juis dat hulle gedink het dat godsdiens ‘n prestasie is, ‘n blink poets van jouself. En dan, as jy aanvaarbaar genoeg is, as jy die wet getrou genoeg nakom, dan sien God jou pogings raak en dan red Hy jou. Nee, dis menslike arrogansie. Dis ‘n manier van “handjie bysit” om God te probeer beïndruk. Dis juis nie menslike godsdienstige prestasie, of ‘n gebrek daaraan, wat bepaal of ‘n mens deur God aanvaar word of nie. Geloof is bloot ‘n instrument om die krag van God vry te laat of in werking te stel in jou lewe. Geloof is om afstand te doen van jou eie vermoëns, dis om weg te kyk van jouself en jou volkome te verlaat op dit wat Jesus kan doen. Hoe meer jy na jou eie vermoëns kyk, hoe swakker word jou geloof; hoe meer jy die oog op Jesus gevestig hou, hoe “sterker” word jou geloof, hoe meer vul Hy jou denke, wese, lewe. Dink aan Petrus toe hy op die see loop. Aanvanklik gaan dit goed, maar toe hy die wind en golwe sien, toe word hy bang en begin twyfel aan homself, en toe begin hy sink. Wat hy moes gedoen het, was net om die oog gevestig te hou op Jesus. Want dis Jesus wat op die water kan loop, nie Petrus nie. Geloof laat jou by wyse van spreke op water loop – nie omdat jy kan nie, maar omdat Jesus kan. Geloof vermag die onmoontlike, omdat dit God se krag vrylaat. Geen wonder nie dat Heb 12:2 sê dat ons in die geloofstryd alle laste moet afwerp en die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Hierdie Bybelse siening van geloof kan ook op ‘n ander manier verwoord word. Ja, ons kan wel sê dat ons deur geloof gered word, maar dit is ook nog vatbaar vir misverstand. Dis nie ons sterk geloof wat ons red nie. Nee, dis God/Jesus wat red. Maar Hy gebruik geloof om ons te laat afsien van onsself en volledig op Hom te laat vertrou. So gesien kan ons sê dat geloof nie die grond van ons redding is nie, maar wel die middel of instrument. Die grond of rede vir ons redding is God in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees. Geloof is maar net ‘n manier om daardie redding te omhels. Daarom dat ons sê dat geloof ‘n leë handeling is. Dis nie ‘n goeie werk van die mens waarvoor ons beloon word nie. As ons dus sê dat ons deur geloof gered word, is dit eintlik so dat ons deur-geloof-in-Jesus-Christus gered word. Dis die volledige bewoording. Dis Jesus wat red, nie ons geloof nie. Selfs waar die Bybel net die woordjie geloof gebruik, is die veronderstelling altyd dat dit oor geloof in Jesus gaan. Dís die volledige prentjie.

So gesien word die aard van geloof eintlik die beste uitgedruk deur die man wat vir Jesus vra om sy seun gesond te maak, as dit moontlik is (Mark 9:20-24). Toe sê Jesus: “Alles is moontlik vir die een wat glo.” Waarop die man uitroep: “Ek glo; kom my ongeloof te hulp”. Hiermee het die man eintlik alles van geloof gesê. Dis nie ons “sterk” geloof wat dinge laat gebeur nie. Ons hoef eintlik nie eens vreeslik te glo nie. Ons kan maar net na Jesus kom met ons “swak” geloof en selfs “ongeloof”. Solank ons net glo dat Jesus kan. Want Hy is die Een wat red, wat die verskil maak, nie ons sterk of swak geloof nie.

Laastens, waarom is dit so dat sommige gelowiges oënskynlik “beter vaar” as ander? Dis beslis nie omdat daar grade van geloof is nie. As dit waar is dat sommige gelowiges beter vaar as ander, is dit omdat hulle Jesus beter vertrou, omdat hulle toelaat dat Hy meer beheer oorneem van hulle lewe. Die gevolge van so ‘n beheer oorgee aan Jesus is altyd dat daar groter visie, geduld, volharding, liefde, erbarming, gehoorsaamheid – ja, die volle vrug van die Gees – in ‘n mens se lewe na vore kom. Dis nie omdat die een se geloof (as ‘n soort geestelike of persoonlike kwaliteit en inspanning) sterker is as ander nie, maar omdat daar meer op Jesus gekonsentreer word en minder op die self.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl