Wat sê die Bybel oor vertroue – Francois Malan

Francois vra:

In ons groepie is `n stelling gemaak dat volgens die Bybel niemand vertrou kan/moet word nie. God vertrou nie eers die engele nie en Jesus het nie sy dissipels vertrou nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Sonder onderlinge vertroue kan ons nie lewe nie – ek vertrou die kos wat ek eet is nie vergiftig nie, anders sal ek nooit eet nie (maar dit kan gebeur); ek vertrou die kar wat aankom gaan by die rooilig stop, anders kan ek nie ry nie (maar soms gebeur dit wel). As mense my nie vertrou nie, sal ek nooit ’n werk kan kry nie, en geen vriende kan hê nie. Maar die aanleiding tot die vraag gaan eintlik oor wat die Bybel sê oor vertroue in mense, engele, ens.

Die Bybel praat baie oor God wat ons absoluut kan vertrou, nie om óns wil uit te voer nie, maar om sy wil met ons deur te voer (wat soms met my wil kan ooreenstem, maar dikwels nie, en dan het die Here iets beters vir my in gedagte).

Eers wat die Bybel sê dat jy nie ’n mens kan vertrou nie:

Ps 62:13 sê: Ek het by God hoor sê: dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Spreuke 28:26 Wie op homself vertrou, is ’n dwaas. Wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.

Miga 7:5 Moenie ’n maat vertrou nie, moenie op ’n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.

 

Dat die Here nie op engele kan vertrou nie:

Job 4:18 Elifas sê vir Job: In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie. Voor Hom is selfs sy engele vol gebreke

Job 15:15 Elifas sê vir Job: As God nie eers die hemelwesens vertrou nie  en selfs die hemel nie rein is voor sy oë nie, hoeveel minder ’n onein verdorwe mens wat boosheid indrink soos water?

 

Maar deur die Here kan ons vertrou hê in mense:

2 Tess 3:3-4 Die Here is getrou. Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou.

Eks 19:9 Toe het die Here vir Moses gesê: Ek sal na jou toe kom in ’n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanner Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.

Ons vertroue is eintlik op die Here wat in ons kom woon het met sy Heilige Gees om ons te lei en te bewaar. Ons lewe is in sy hand, ook wanneer ons eet of op pad is of tussen mense lewe en werk. Hy lei ons ook in die vertroue wat ons in mense kan stel. 2 Kronieke 16:9 Die Here het sy oë oral op die aarde, sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.

En dan die baie tekse in die Bybel oor vertroue in die Here:

Ps 84:13 bely: Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou.

Ps 112:7: die regverdige…is gerus, hy vertrou op die Here.

Ps 115:11 Julle wat die Here dien, vertrou op die Here, Hy help en beskerm julle.

Spreuke 3:5 Vertrou volkome op die Here, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Spreuke 16:20  wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed; een wat op die Here vertrou is voorspoedig

Jesaja 28:16 Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.

 

Volgens die Bybel moet ons, en kan ons, op God vertrou. Hier is ’n paar tekse daaroor:

 

Ps 4:6; 9:11; 25:2,3,21; 26:1; 27:14; 28:7; 31:15; 32:10;  33:20; 37:3,7,34; 38:16; 46:6,12;  43:5; 55:24; 56:4; 62:2; 71:5; 78:22; 91:2;

Spr 20:22; Jes 12:2; 25:9; Jer 14:22; Dan 3:28; 6:24;

Mat 27:43; Hand 27:45; 2 Kor 1:9; 3:4; Hebr 2:13.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Here se oorlog – Francois Malan

Annelize vra:

Waar staan die volgende in die Bybel asb?

Hierdie is nie julle oorlog nie maar Myne

 

Antwoord

Prof Francois Malan atwoord

In 2 Kronieke 20: 15 staan: ‘So sê die Here vir julle (mense van Juda en inwoners van Jerusalem): Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie (Moabiete, Ammoniete, Meüniete van Edom af), want hierdie oorlog is nie ’n saak vir julle nie, maar vir God.’

Toe Josafat die berig kry van die groot menigte het hy in die hele Juda ’n vasdag uitgeroep om die hulp van die Here te vra, vgl. die gebed van Josafat in die tempel (2 Kron 20:5-12). Toe kom die Gees van die Here daar in die midde van die gemeente op die Levitiese sanger Jagasiël en hy kondig die woorde van die teks hierbo aan.

Daarna het Josafat en al die mense van Juda en Jerusalem voor die Here neergeval en Hom eer betoon en die Leviete-kore het die Here met hulle sang geprys.  Die res van hoofstuk 20 vertel dan hoe die Here hulle verlos het en hoe hulle die Here daarna weer geloof het.

Vergelyk ook 2 Kron 32:20-21 se kort opsomming van 2 Konings 18-19  se verhaal van Hiskia en die bedreiging van die Assiriërs en die Here se ingryping na Hiskia se gebed (2 Kon 19:35); en die Here se uitredding van Moses en Israel uit die hand van die Egiptenaars in Eks 14 (14:13-14).

In die Nuwe Testament word die groter ingryping van God besing dat Jesus, die Seun van God, self God, uit sy groot genade vir al die sonde van die wêreld kom sterf het om ons van die mag van die sonde en die dood, en die magte van die bose te kom verlos, wat ons bloot ontvang deur in Jesus te glo en Hom te volg.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Het die Israeliete strydwaens gehad? – Herrie van Rooy

Francois vra:

Het die Israeliete enige perde en strydwaens gehad ; of dan hoekom nie?
Toe hulle uit Egipte getrek het, het hulle baie goed geneem, waarom nie ook perde en strydwaens nie.

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Dis nogal ‘n goeie vraag en die antwoord is nie so seker nie.

Strydwaens was al van vroeg af bekend in die ou Nabye Ooste, lank voor die tyd van Abraham al. Die Egiptenare het dus ook vroeg strydwaens gehad. In die tyd van Moses was die Egiptiese strydwaens relatief klein, getrek deur twee perde en met ‘n bemanning ook net van twee. Perde was ook al in daardie tyd bekend, maar hulle is hoofsaaklik gebruik om strydwaens te trek, nie as rydiere op die tyd van die uittog uit Egipte nie. Strydwaens is in oorlog gebruik, maar ook op jagtogte en parades.

Die Bybel self gee geen aanduiding hoekom hulle nie strydwaens en perde uit Egipte geneem het nie. Prakties sou strydwaens nie vir hulle veel beteken het op die tog deur die woestyn nie. Die strydwaens moes gelyk en harde terrein hê om te kan funksioneer, sodat hulle nie eintlik tydens die woestynreis effektief sou gewees het nie.

Na die intog in die Beloofde Land het die Israeliete ook nie gou strydwaens gehad nie. Die bergagtige gebied waar hulle hoofsaaklik gewoon het, was nie geskik vir strydwaens nie. Die eerste strydwaens wat na die intog genoem word, was van hulle vyande (Josua 11, 17, 24; Rigters 1, 4, 5). Salomo het begin om ‘n strydwamag op te bou, sodat die Israeliete daarna wel strydwaens gehad het. Die Assiriërs was veral bekend vir hulle strydwaens.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Herstel ná ‘n buite-egtelike verhouding – Hermie van Zyl

Ian vra:

Ek is eerlik en reguit: ek het ‘n buite-egtelike verhouding gehad vir 3 maande, maar het nooit intiem verkeer met die vrou nie. My eggenoot het daarvan te hore gekom en wou skei.

Ek het die buite-egtelike verhouding dadelik gestop en vir berading gegaan en my vrou ook gevra om saam te kom, maar sy het net nooit opgedaag vir die afsprake nie. Sy het wel uit die huis getrek, teen my wil, al het ek haar gesmeek om te bly. Maar sy het nogtans. Ons is toe wel geskei, teen my sin, want ek is werklik lief vir my vrou en het alles probeer en was bereid om alles te probeer.

Dis nou bykans 7 jaar terug. Ek het nog nooit weer enige verhouding of iets gehad nie. My vrou het wel voor ons egskeiding afgehandel is by ‘n man ingetrek en bly sedertdien saam die man wat alreeds twee keer geskei is.

My vraag egter is: ek bid en smeek die Here daagliks om dinge tussen my en my vrou te laat uitwerk en ons weer bymekaar uit te bring, want my liefde vir haar is bitter, bitter sterk, en ek kan haar net nie uit my kop en hart kry nie. Eerlik waar, ek huil daagliks soos ‘n kind oor haar; ek huil myself elke aand aan die slaap.

Nou wil ek weet hoe kan ek God smeek om haar weer terug te kry. Intussen sê almal vir my: gaan soek iemand anders. Maar dis mos nie reg om God te smeek om haar terug te stuur, en dan gaan ek met ander vrouens uit en maak asof dit alles voor die wind gaan nie.  Diep binne my weet ek: as my vrou vandag vir my sê sy wil terugkom, sal ek alles net so los en haar terugneem.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis inderdaad ‘n baie treurige verhaal hierdie wat mens aan die hart gryp. Dit getuig van die verwoestende uitwerking wat verkeerde besluite op verhoudings het en hoe moeilik dit is om gebroke verhoudings te herstel.

By gebrek aan meer spesifieke inligting en kennis wat net uit persoonlike gesprekke met beide partye kan voortspruit, kan ek hier net algemene observasies en opmerkings maak, in die hoop dat dit die vraagsteller sal baat. Ek wil eers net ‘n greep op die situasie probeer kry en dan oorgaan tot “raad”.

Kom ons neem ‘n paar aspekte van die situasie, soos aan ons meegedeel, onder oë.

Eerstens, daar is geen twyfel nie dat ons vraagsteller oortree het toe hy ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n ander vrou aangeknoop het. Dit was ‘n verbreking van sy huweliksbeloftes, selfs al het daar geen seksuele intimiteit tussen hom en die ander vrou plaasgevind nie. Feit is dat die vertrouensverhouding tussen hom en sy vrou geskend is, in so ‘n mate dat dit op ‘n verbrokkeling van die huwelik uitgeloop het. Dit is duidelik dat die man se vrou so seergekry het dat sy nie kans gesien het om die huwelik voort te sit nie. Dit hóéf nie so te gewees het nie; baie vroue/mans vergewe hulle mans/vroue en neem hulle weer terug, en oënskynlik is die huwelik weer gelukkig. Maar in hierdie geval kon of wou die vrou nie vergewe nie. Dit is natuurlik ook moontlik dat daar vóór die tyd reeds ernstige probleme was en dat sy die indiskresie van haar man gebruik het om “geregverdig” uit die huwelik te tree. Niemand kon haar immers kwalik neem dat sy die huwelik beëindig het nie; sy was die benadeelde party en was ten volle geregtig daarop. Ek weet nie of dit die geval is nie; ek spekuleer gewoon.

Tweedens, dit is net so duidelik dat die vraagsteller opreg berou het oor sy aandeel in die verbrokkeling van die huwelik. Opregte berou is altyd ‘n goeie beginpunt maar is geen waarborg dat ‘n verhouding weer sal herstel nie, soos so duidelik uit hierdie geval blyk. ‘n Verhouding het twee kante, en net so opreg soos die berou is, moet die ander party ook bereid wees om van harte te vergewe, anders kan daar geen sprake van herstel wees nie.

Derdens, klaarblyklik het ons vraagsteller se gewese vrou besluit dat sy wil “aanbeweeg”. Dit blyk uit die feit dat sy nooit opgedaag het vir berading nie en dat sy nog voor die egskeiding reeds by ‘n ander man ingetrek het. Sy kon dit natuurlik uit leedvermaak ook gedoen het, maar feit is dat intussen al sewe jaar verloop het sedert die egskeiding, en dat sy nog steeds by die ander man bly, blykbaar sonder dat hulle getroud is. Laasgenoemde gee haar gewese man natuurlik die hoop dat dinge weer kan herstel, maar dit lyk nie of die man se pogings tot herstel enige vrugte afwerp nie. Dit bevestig die vermoede dat die vrou die egskeiding en die nuwe verhouding as finaal beskou. Sy het geen begeerte tot herstel met haar eertydse man nie.

Vierdens, ons vraagsteller is steeds lief vir sy gewese vrou. Hy begeer vuriglik dat die huwelik weer sal hervat. Dit blyk uit die feit dat hy haar nie “uit sy kop en hart” kan kry nie, en dat hy geen verhouding met ‘n ander vrou in die afgelope sewe jaar aangeknoop het nie. In sý gemoed is hy eintlik nog getroud met sy gewese vrou; hy praat ook nog van haar as “my vrou”, ten spyte daarvan dat hulle formeel geskei is. Trouens, dit sou vir hom neerkom op “troubreuk” as hy met ander vroue uitgaan. Want hoe sal hy sy vrou kan oortuig van sy opregte berou en liefde as hy met ander vroue uitgaan? Hy hou dus van sy kant af sy pad skoon sodat sy gewese vrou enige oomblik kan terugkeer.

Vyfdens, die mense wat hom ken en waarskynlik meer objektief na sy situasie kan kyk as hyself, moedig hom aan om sy vrou te “vergeet” en voort te gaan met sy lewe, wat, objektief gesien, nie slegte raad is nie. Die enigste probleem is egter dat ons vraagsteller dit nie kan aanvaar dat alles verby is nie. Hy het sy vrou steeds lief en verknies hom so oor wat verkeerd geloop het en oor ‘n verhouding wat klaarblyklik verby is, dat hy hom elke aand aan die slaap huil. Dis ‘n situasie wat mens tog bietjie bekommerd maak. Een of ander tyd moet mens realiteite vierkant in die oë kyk. Het ons vraagsteller nie dalk ‘n ongesonde obsessie ontwikkel oor sy vorige vrou nie? Hy kan eenvoudig nie aanvaar dat as gevolg van sy verkeerde optrede alles nou verby is en dat sy vorige vrou nie meer in hom belangstel nie. In sy gemoed móét alles regkom, selfs al dui alles op die teendeel.

Sesdens, hy glo dat God steeds die situasie kan omkeer. Hy wil daarom weet hoe hy God kan smeek om sy vrou weer na hom terug te stuur. Hy wag op ‘n soort Goddelike ingrype wat alles weer sal laat terugkeer na hoe dit eens was. Dit mag wees dat in ons vraagsteller se agterkop die onuitgesproke opvatting skuil: ek het my kant gebring, nou moet God ook sy kant bring; ek het mos oorgenoeg bewys gelewer dat ek opreg jammer is. Nou móét God die bewys lewer dat Hy my vergewe het en my vrou aan my teruggee.

Bogenoemde is min of meer soos ek uit die feite tot my beskikking die situasie opsom. Die vraag is net: hoe gee mens aan ons vriend goeie raad – raad wat in pas is met ons geloof in God en ook weer ‘n nuwe lewe aan ons vriend gee? Die volgende kan dalk help:

  • Aanvaar God se vergiffenis onvoorwaardelik en vergewe jouself. Natuurlik het ons vraagsteller dom en onverantwoordelike dinge gedoen. Maar ons is almal gebroke, onvolmaakte mense wat een of ander tyd dom dinge aanvang. Daarom moet ons God se genade en vergifnis onvoorwaardelik aanvaar, en ook onsself kan vergewe. Dít was dalk die verskil tussen Judas Iskariot en Petrus. Judas kon nie glo dat hy so dom was om te dink dat hy iets sou bereik deur Jesus te verraai nie. Agterna was hy bitterlik spyt daaroor. Hy het homself verag en was so teleurgesteld in homself dat hy net nie so ver kon kom om God se vergiffenis te aanvaar nie. En so gaan hang hy homself op. Petrus sondig ook, en het ook bitter berou daaroor, maar aanvaar God se vergiffenis en vergewe homself, en word een van die leiers in die vroeg-Christelike gemeente. Daar is ‘n droefheid tot die dood en ‘n droefheid tot die lewe (2 Kor 7:10). Dit is goed om bedroef te wees oor die verkeerde dinge wat jy gedoen het. Maar dis nie waar dit moet eindig nie, anders kan dinge tragies eindig. ‘n Mens moet ook God se vergiffenis kan aanvaar, van jou troontjie afklim en jouself vergewe, en voortgaan met die res van jou lewe.
  • Mens moet ook kan klaarmaak met die verlede. Natuurlik kan mens nooit werklik alles vergeet nie, maar die wonde kan so genees dat daar weer vreugde in jou lewe kom en nie net trane gestort word oor dit wat was en nooit weer kan wees nie. Ook Paulus moes in ‘n stadium vir homself sê: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is (Fil 3:13). Hy het ook baie gewroeg oor die feit dat hy eens op ‘n tyd die gemeente van Christus vervolg en probeer uitroei het. Maar hy kon nie net daaroor bly jammer wees nie. Daar moet nuwe herinneringe gekweek en lewensbakens opgerig word. Anders gaan die lewe by jou verby, veral die voller lewe wat God vir jou vorentoe wil oopmaak. God hang ons immers nie aan ons verlede op nie, maar sê: Ek veroordeel jou ook nie; gaan heen en sondig nie meer nie (Joh 8:11) – dit wil sê: moet jou nie verder verknies oor die verlede nie; Ek het jou vergewe; leer uit jou foute en gaan lewe ‘n vol lewe vorentoe. Jou lewe is nog nie verby nie; daar is weer mooi dinge wat kan volg.
  • Verhoudings kom van twee kante af. As dit na ‘n paar jaar duidelik is dat jou vorige vrou nie daarin belangstel om die verhouding te hervat nie, dan moet mens waarskynlik die onvermydelike aanvaar en “aanbeweeg”, al is dit hoe pynlik. ‘n Verhouding kan nie net deur een van die twee partye lewend gehou word as die ander klaarblyklik geen belangstelling toon nie. Ja, aanvanklik kan mens nog bly hoop en allerlei pogings tot herstel aanwend, maar mens moet ook sensitief wees vir wanneer genoeg genoeg is. Anders word dit obsessiewe gedrag, wat destruktief en nie opbouend is vir jouself of enigeen naby jou nie.
  • Ons vraagsteller wil graag die verhouding met sy vorige vrou herstel soos dit was. Maar is hy nie dalk besig om sy eertydse vrou en hulle verhouding buite alle proporsies te idealiseer nie? Onthou, sy het intussen los van hom ‘n ander lewe gelei. Baie dinge het intussen verander. (Hy sê nie of hy die afgelope sewe jaar met haar kontak behou het nie.) Wie sê sy is nog dieselfde vrou as wat hy geken het? Wie sê hy gaan hou van die vrou wat sy nou geword het? Hiermee beweer ek nie sy het nou allerlei slegte eienskappe ontwikkel wat sy voorheen nie gehad het nie. Al wat ek probeer sê, is dat mense oor tyd heen – veral na sewe jaar – verander en dat mens hiermee moet rekening hou. ‘n Verhouding groei immers as verhouding tussen twee mense, nie net in die een se kop terwyl die ander een afwesig is nie. ‘n Huwelik is juis ‘n huwelik as beide partye voortdurend by mekaar betrokke is. Sonder hierdie betrokkenheid groei mense uitmekaar en is hulle later vreemdelinge vir mekaar.
  • Ons vraagsteller wil weet hoe hy God kan smeek om sy vrou te verander sodat sy weer na hom sal terugkeer. God gryp egter nie altyd op ‘n bonatuurlike manier in ons lewe in nie. Daar is nie een of ander toweragtige formule wat ons kan bid of aanwend waarvolgens Hy dan mense se gesindheid of gevoel teenoor ons verander nie. Hy behandel ons nie soos stokke en blokke nie; Hy dwing ons nie teen ons wil en sin in ‘n rigting nie. Dis nie hoe die verhouding met God werk nie. Natuurlik kan mens God smeek om jou situasie te verander (selfs Jesus het dit met sy Vader gedoen, Matt 26:39), maar na ‘n rukkie, as dinge nie verander nie, moet mens jouself afvra of dit nie jysélf is wat moet verander nie, of jy nie anders na jou eie situasie moet begin kyk nie. Slegs die vraagsteller kan hierdie vraag beantwoord. Maar ek dink na sewe jaar is dit dalk ‘n vraag wat hy homself dringend moet afvra: Wat moet ek as die onvermydelike aanvaar, en waarheen lei God my as dit duidelik is dat my vrou geen belangstelling toon om na my terug te keer nie.

Ek vertrou dat bostaande gedagtes en saamdink met ons vraagsteller hom enigsins mag help om tot helderheid oor die pad vorentoe te kom.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl