Wie is die Here? – Francois Malan

Pieter vra:

Ek het vanoggend ‘n vreemde vraag. Wie is Die Here? (Net in kort, ek is ‘n wedergebore Christen)

Ons leer en glo in God drie-enig. God:- Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons leer dat Jesus is die Seun van God die Vader. Ons leer van Here Jesus.

Maar wie is Die Here? Is dit God die Vader? Is dit God die Seun?.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die Ou Testament is die verhewe titel Here (Hebreeus: Adonai) deur slawe gebruik om hulle eienaar aan te spreek, ook ’n vrou teenoor haar man, kinders teenoor hulle vader, teenoor belangrike mense (vgl. ons: Dames en Here), saam meer as 300 maal vir mense), en ook vir God, 450 maal). Maar die eienaam vir die verbondsgod van Israel, wat Hy aan Moses bekendgemaak het, is Jahweh,’Die Ek is’ waarvan Hy gesê het: dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag (Eks 3:14-15).

Die Jode het egter later op grond van die derde gebod, jy mag die Naam van die Here (Jahweh) nie misbuik nie (Eks 20:7), bang geword om die Naam te gebruik, en wanneer hulle Jahweh gelees het, dit Adonai  hardop uitgespreek. Die Griekse vertaling het hulle daarin gevolg en Jahweh met kurios vertaal wat ook vir enige eerbiedwaardige gebruik is, base, vaders, onderwysers, konings en vir gode.

In die Nuwe Testament het die Griekse skrywers voortgegaan om kurios, Here, te skryf. Here word hier gebruik vir die Vader en vir die Seun, en vir die Heilige Gees, en vir eerbiedwaardige persone of gode.

Die vertalings van die Ou Testament het Jahweh, wat 6823 maal in die Ou Testament voorkom, met ‘Here’ of ‘Lord vertaal,’ ook in Eks 3:15. Terwyl Here ’n titel vir ’n verhewe persoon gebruik word, word die indruk gewek dat God vér bo is. Terwyl Jahweh aandui dat ‘Die Ek is’ hier persoonlik aktief teenwoordig is. In Eksodus 3 byvoorbeeld om vir Moses te verseker dat ‘Die Ek is’ saam met Hom na Egipte toe gaan om Israel wat slawe is in Egipte te gaan verlos.

Om die intieme nabyheid van God aan te dui wat met die gebruik van die eretitel Here vir ‘Die Ek is teenwoordige’ verslyt het, het Jesus ons geleer om God as Vader aan te spreek (bv. in die Onse Vader). Maar Jesus het beklemtoon dat Hy en die Vader Een is (Joh 17:11) dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom (Joh 14:10-11), en praat Hy van ‘my Vader’ (Joh 5:43). In Joh 20:17 sê Jesus vir Maria Magdalena: ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader en na my God en julle God.’ As ons in geloof aan die Seun van God verbind is, is ons kinders van sy Vader deur ons geloofs- en liefdesband met sy Seun.

In Joh 13:13 sê Jesus vir die dissipels: Julle noem My Meester (didaskalos) en Here (kurios) en julle sê dit tereg, want Ek is dit. In Joh 14:16-17 sê Jesus: Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Helper/Trooster/Voorspraak stuur, die Gees van die waarheid, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. As iemand My liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê, en My Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Vader, Seun en Gees kom in ons woon. Al drie kan as Here aangespreek word.

In 2 Kor 3:17 sê Paulus die Here is die Gees en waar die Gees van die Here is, is vryheid. En in vers 18 noem hy die Gees ook ‘die Here.’

Die respekvolle aanspreek vorm ‘Here’ kan vir die Vader en die Seun en die Heilige Gees gebruik word. Die drie Persone is Een, die eenheidsband tussen hulle is die liefdesband tussen die Vader en die Seun en die Gees, soos 1 Johannes 4:8,16 getuig: God is liefde. Vers 13 sê: Hieraan weet ons dat ons in Hom (God) bly en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry; vers 15: ‘Wie ookal bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God.’ Die Vader en die Seun en die Gees woon in ons en is nie ’n God wat vér is nie. Paulus sê in Handelinge 17:27-28 ‘…want Hy is nie vér van elkeen van ons nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons…’ Dit is wat die Naam Jahweh (Die Ek is) sê, en telkemale sê Jesus: Ek is- die weg en die waarheid en die lewe; die brood van die lewe, die ware wynstok, die goeie herder, die lig vir die wêreld, die opstanding en die lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Genesis 20 – Herrie van Rooy

Jan vra:

Genesis 20 sluit af met die vers: Want die Here het die moederskoot van die huis van Abimeleg geheel en al toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
Abimeleg laat haal vir Sara om sy vrou te wees omdat sy dan die “suster” van Abraham sou wees. God laat dit egter nie toe nie en Abimeleg stuur haar terug met ‘n klomp vee en sy kry self 1000 sikkels silwer.
Op sigwaarde lyk die voorval met Sara kortstondig maar met in ag neming van die “geslote moederskote” ter wille van Sara moes die proses reeds ‘n geruime tyd geduur het.
Was beide Abraham en Sara nie al op afgeleefde ouderdomme tydens die gebeurtenis nie?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Dit is ‘n interessante vraag, juis oor die probleem van die kronologie in Genesis. Dit mag bv wees dat die verhale in Genesis nie kronologies georden is nie, sodat hierdie episode nie noodwendig afspeel na dit wat daarvoor afgespeel het nie en ook nie noodwendig net voor die volgende hoofstuk met die geboorte van Isak nie. Dit gebeur ook dat gebeure so beskryf word dat dit lyk of dit vinnig gegaan het, terwyl dit inderdaad oor ‘n periode kon afgespeel het.

Daar is drie verhale in Genesis wat baie dieselfde besonderhede het. In Genesis 12 gaan Abraham na Egipte n speel ‘n soortgelyke toneel af, wel oor ‘n korter periode. Hier is dit Abraham in Gerar en in Genesis 26 Isak in Gerar, met dieselfde verhaal.

Dit lyk dus of daar drie sulke episodes was, twee met Abraham en een met Isak. Die een in Genesis 21 duur duidelik ‘n langer periode as die ander twee. Tensy dit iets is wat vroeër in Abraham se lewe gebeur het en om een of ander onbekende rede hier geplaas is in Genesis, is dit inderdaad volgens die beskrywing duidelik dat Abraham en Sara toe al oud was en dat die gebeure tog ‘n tydjie moes gebeur het, seker so drie tot ses maande, voordat die mense besef het dat geen vrou swanger  word nie. Dit hoef dus nie jare te wees nie, maar tog ‘n redelike tyd. Dat Sara op ‘n hoë ouderdom nog aantreklik was, is een van die dinge in Genesis wat nie so maklik verstaan kan word nie, behalwe as ‘n mens aanvaar dat die kronologie soms deurmekaar geraak het.

Dit sou ook kon wees dat die drie episodes se besonderhede vermeng geraak het, wat dit kronologies nog moeiliker maak.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Abba – Francois Malan

Anna vra:

Is dit reg om Bybel figure ook as Abba ……… aan te spreek? Bv Abba Moses.

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord ab beteken ‘vader/pa;’ en abi  ‘my Vader;’ die Aramese vorm wat Jesus in Getsemane gebruik het vir ‘my Vader’ is abba (vgl. Markus 14:36).

In Galasiërs 4:6 sê Paulus dat God die Gees van sy Seun uitgestuur het tot in ons harte, die Gees wat roep: Abba, Vader!

In Romeine 8:15 sê Paulus: julle het die Gees van aanneming tot kindskap ontvang deur wie ons roep “Abba, Vader!’

Maar in Afrikaans hoef ons nie die Aramese aanspreekvorm van God te gebruik nie, maar soos Jesus ons geleer het om God aan te spreek in ons gebed as ‘Ons Vader’ (Matteus 6:9) wat Lukas weergegee het met ‘Vader’ (Luk 11:2). Met die ‘ons’ in Mat 6:9 beklemtoon Jesus dat die mense wat in Jesus as die Seun van God glo, die voorreg het om deel van God se groot gesin te wees (soos Romeine 8:14-17 uitgespel het) en kan ons ook soos sy Seun, en soos die Gees in ons, God aanspreek as ‘Ons Vader.’

Maar om Bybelfigure as abba aan te spreek dien geen doel nie omdat hulle ons nie te hulp kom nie, en nie God se plek kan inneem nie.

Jesus het in Matt 23:9 gewaarsku: Moet niemand op die aarde as ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Skape en bokke – Francois Malan

Jan vra:

In Mattheus 25 kom die Seun van die mens in sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; dan sal al die nasies versamel word en Hy sal hulle van mekaar skei — die skape aan Sy regterkant en die bokke aan Sy linkerkant.

Beide skaap en bokke het geleentheid gehad om goed te doen (Ek was honger, dors, herberg, naak, siek, in gevangenis) waaraan die skape voldoen het maar die bokke nie.

Op die vraag “wanneer” antwoord Jesus: Skape vers 40: …. vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit vir My gedoen. Bokke vers 45: …. vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit ook nie aan My gedoen nie.

Jesus se verwysing is na “nasies” en dan trek Hy dit wat “goed gedoen is of wat glad nie gedoen is nie” af na ‘n persoonlike verband nl “een van die geringstes van hierdie broeders” ten opsigte van die skape en “een van die geringstes” ten opsigte van die bokke.

Ek het dit te verstane dat die nasies wat vir Israel is die skaapnasies sou wees en die boknasies wat dit teen Israel het, maar hoe moet mens die verpersoonliking van “geringstes van hierdie broeders” verstaan asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus gebruik die woorde ‘al die nasies’ vier maal: Mt 24:9,14;  25:32; 28:19 en telkens word Israel ingesluit onder ‘al die nasies.’ Die uitdrukking verwys na alle mense op die ganse aarde – wat die volgelinge van Jesus sal haat (24:9, soos die Jode ook vir Jesus gehaat het);  na wie Jesus sy dissipels/volgelinge stuur om van die mense sy dissipels/volgelinge te maak en hulle te doop en te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het (28:19, dit sluit die Jode in). So word die uitdrukking ‘al die nasies’ ook hier in Mt 25:32 gebruik met insluiting van die Jode/Israel as een van die nasies.

Die gelykenis wat hier gebruik word van sagte skape en harde bokke wat geskei word, word toegepas op die mense uit al die nasies van die wêreld. Hulle=die mense  word van mekaar geskei as die geseëndes van Jesus se Vader en die vervloektes. In Grieks, waarin die Evangelie van Matteus oorspronklik geskryf is, is ‘al die nasies’ in 25:32 in die onsydige geslag (panta ta ethné), en die ‘hulle’ wat van mekaar geskei word, in die manlike geslag (autous) wat nie volke nie, maar mense aandui. Die oordeel gaan nie oor nasies nie, maar oor die mense uit al die nasies.

Dit gaan in Matteus 25:31-46 oor die oordeelsdag wanneer Jesus, die Seun van die Mens (vgl. Daniël 7:13-14) kom as Koning wat oor die ganse heelal regeer en oor elke mens as persoon oordeel (vgl. Mt 16:27: Die Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld; 24:40 met die koms van die Seun van die mens sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word…). Dié wat deur sy Vader geseën is, word genooi om na Hom toe te kom en die koninkryk erf, wat vir hulle voorberei is van die skepping van die wêreld af. Die regverdiges (wat die wil van God gedoen het) is die mense wie se verhouding met God reggemaak is deurdat hulle glo in Jesus wat hulle sonde aan die kruis gedra het en Hom gedien het met die barmhartigheid wat hulle uit dankbaarheid aan Hom bewys het deur hulle ontferming oor mense in nood en behoefte – die geringste van Jesus se broers. Die vervloektes sal die Koning as regter van Hom af wegstuur na die ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het. Dit is hulle wat nie hulle hart vir Jesus as hulle Verlosser oopgemaak en Hom as die Here van hulle lewe aangeneem het nie, nie in Hom geglo het nie, en daarom nie barmhartig teenoor mense in nood en behoefte opgetree het nie.

Matteus 10:40-42 praat ook van die geringstes as die dissipels/volgelinge van Jesus, vir wie ’n beker koue water gegee is. Maar hier word  van enigiemand in nood en behoefte gepraat teenoor wie daar barmhartig opgetree is. Dit gaan nie oor die liefdeswerk as sodang nie, maar oor die mens wat as mens raakgesien is en versorg is, hongeres, dors, sonder klere, vreemdelinge, selfs die in die tronk. Jesus noem hulle sy broers, wat soos Hy nie eens ’n rusplek vir sy kop gehad het nie (Matt 8:20). Wie vir hulle raaksien en sorg, doen dit aan Jesus.

Skrywer:  Prof Francois Malan