Die Drie-eenheid – Hermie van Zyl

Christo vra:

Ons dien nie ‘n Drie-enige God nie (Vader, Seun, Heilige Gees), maar ‘n Twee-enige God (Vader, die Skepper en sy Seun, Jesus). Die Heilige Gees is hulle Gees (Vader en Seun s’n) wat in dié woon wat God aanneem. So, daar is nie drie entiteite nie, maar slegs twee wat aanbid moet word, en dit is die Vader en die Seun. Die Heilige Gees word nie aanbid nie, en is nie ‘n entiteit op sy eie nie. Die Heilige Gees woon wel in ons wat Jesus as ons persoonlike Saligmaker aanneem en God die Vader aanbid deur sy Seun, Jesus Christus.

Die Drie-enige leerstelling kom van Babilon se tyd af (sonaanbidding; bietjie ander name), met die ondersteuning van die pous en daar klink dit darem net te reg om verkeerd te wees.

Ek hoop die openbaring is vir jou ook van groot waarde. Die doel is om die leuen te alle tye raak te sien en te verseker dat ons aanbidding na God toe gaan, en nie na die misleier toe nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die geïmpliseerde vraag in die bydraer se siening is of die Heilige Gees ook deel is van die Goddelike Drie-eenheid. Ek sal dus in my antwoord hoofsaaklik op die Heilige Gees konsentreer. Daar is genoeg ander artikels op Bybelkennis.co.za se webblad wat oor die Drie-eenheid in die algemeen handel. Lesers kan gerus “Drie-eenheid” insleutel en hierdie waardevolle artikels lees.

Die bydraer beweer dat die Heilige Gees wel in ons woon en ons met die Vader en Seun laat kommunikeer, en dat die Gees die heil wat God skenk in ons ‘n werklikheid maak, maar dat die Gees nie Self as God aanbid word nie en daarom nie deel van die Goddelike Drie-eenheid is nie. Uit sy verdere opmerking dat die Gees “nie ‘n entiteit op sy eie” is nie, lei ek af dat hy van mening is dat die Gees nie ‘n Persoon is nie, maar waarskynlik net ‘n krag, en daarom nie op gelyke voet met die Vader en die Seun deel van die Goddelike wese is nie.

Die standpunt van die bydraer is nie nuut nie en allermins ‘n “openbaring”. Trouens, dit was deel van die lang pad wat die kerk in die eerste vier eeue van sy bestaan geloop het om uiteindelik by ‘n formulering uit te kom wat reg laat geskied aan die gegewens in die Bybel omtrent die verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Die rede hoekom dit so lank geneem het om by ‘n belydenis omtrent die wese van God uit te kom, is omdat daar nêrens ‘n teks in die Bybel is wat hierdie interne “wesensekonomie” van God eksplisiet omskryf nie, in elk geval nie dat God Een is en uit drie Persone bestaan nie – die klassieke formulering van die Drie-eenheid. In die Latyn lui dit: una substantia tres personae (“een wese, drie persone”). Hierdie formulering kom die eerste keer voor by kerkvader Tertullianus (155-240 nC) en is mettertyd deur die kerk as die “kortbegrip” vir die Drie-eenheidsleerstuk oorgeneem. Uiteraard is dit nie ‘n volmaakte of volledige formulering nie, maar ten minste is dit nie verkeerd nie.

Hoewel hierdie formule nêrens so in die Bybel voorkom nie, is daar duidelike aanduidings dat die Vader, Seun en Heilige Gees saam die één God vorm wat ons aanbid. So hoor ons dit in die sendingbevel van Matt 28:20: “… maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees … .” Hieruit blyk duidelik dat daar net één Goddelike wese is (mense word in één Naam gedoop, nie in die Name van drie Gode nie), maar dat hierdie een Naam uit drie “enititeite” of persone bestaan – Vader, Seun en Heilige Gees. En so sluit Paulus ook van sy briewe af in die Naam van hierdie God wat ‘n Drie-eenheid vorm, byvoorbeeld 2 Kor 13:13: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God (die Vader) en die gemeenskap van die Heilige Gees.” Dieselfde gedagte kry ons ook in Ef 4:4-6 waar die Gees, God (Vader) en die Here (Jesus) in dieselfde asem genoem word. Eweneens praat Op 1:4-5 van die genade van Hom wat is en wat was en wat kom (God, die Vader), van die sewe Geeste voor sy troon (die Heilige Gees), en van Jesus Christus … . Weereens die Drie wat as die een God voorgestel word.

Benewens hierdie tekste wat Vader, Seun en Gees op een vlak stel, is daar ook gegewens wat die Gees spesifiek as ‘n Goddelike persoon, en nie bloot ‘n krag nie, uitbeeld. Eerstens is daar die interessante verskynsel dat in die Grieks die woord vir Gees (pneuma) taalkundig gesproke onsydig is (Griekse naamwoorde is manlik, vroulik of onsydig). Maar ten spyte hiervan word na die Gees as “hy” (letterlik: “daardie een”) verwys. So lees ons in Joh 16:13-14 van die Gees van waarheid en dat Hy die dissipels in alle waarheid sal lei, en dat Hy Christus sal verheerlik. Hier word dus baie duidelik van die Gees van God as ‘n handelende Persoon gepraat. Verder, in Joh 16:7 word die Heilige Gees die Parakleet of Helper genoem, ‘n manlike naamwoord. Tweedens, die werk wat die Heilige Gees doen, is ook dié van ‘n Persoon, nie net van ‘n krag nie. So is Hy die Een wat die wêreld van sonde oortuig (Joh 16:8), wat alle dinge deursoek (1 Kor 2:10), wat besluite neem (Hand 15:28), wat mense verhinder om iets te doen (Hand 16:7), wat praat (Hand 13:2), wat die dissipels onderrig en herinner aan alles wat Jesus gesê het (Joh 14:26), wat getuig (Joh 15:26), en wat selfs bedroef en belaster kan word (Ef 4:30; Matt 12:31-32). Derdens, die Heilige Gees deel in dieselfde eienskappe as God: ewigheid (Heb 9:14), alomteenwoordigheid (Ps 139:7), alwetendheid (1 Kor 2:10-11) en almag (1 Kor 12:4-6). Uit hierdie gegewens (nie naastenby alles is genoem nie) kan daar net een afleiding gemaak word: Die Heilige Gees is ‘n Persoon en is God, en daarom deel van die Goddelike Drie-eenheid.

Die rede waarom die kerk so lank geneem het om die verhouding van die Heilige Gees tot die ander twee Goddelike Persone helder te omskryf (let wel: daar was ook ‘n lang stryd in die kerk van die eerste drie eeue om Christus as ten volle God naas die Vader te erken), is waarskynlik omdat dit “makliker” is om die Vader en die Seun as “objektiewe entiteite” buite die mens te erken. Hulle werk word vir en buite die mens gedoen (skepping, verlossing). Maar in die geval van die Heilige Gees is dit ietwat anders. Die naam “Heilige Gees” druk die Goddelike persoonlikheid nie so sterk uit soos dié van Vader en Seun nie. Verder, in die Goddelike heilsekonomie vind die werk van die Gees binne die gelowige plaas. Daarom rig ons ons gebede minder tot die Gees as tot die Vader en die Seun. Die Gees is veel eerder die bewerker as die voorwerp van gebed (vgl Rom 8:15,26). Toe die vroeë kerk ter gelegener tyd wel tot groter insig gekom het oor hoe die verlossing in die gelowige werk – synde die werk van God Self, deur sy Gees – is die Heilige Gees in die kerklike belydenisse eweneens as God bely, en wel as die derde Persoon in die Godheid, van dieselfde wese as God, gelyk met die Vader en die Seun, maar ‘n afsonderlike Persoon. Daarom het reeds die belydenis van Nicea (325 nC) hierdie duidelike formulering omtrent die Heilige Gees, wat die Christelike kerk dwarsdeur die wêreld steeds nasê: “Ons glo … in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun* uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.”

Die leerstuk van die Drie-eenheid – spesifiek ook die belydenis oor die Heilige Gees as die derde Persoon in die Drie-eenheid – is dus nie iets wat die Bybel ingedra word van buite-af nie, maar is eerder andersom: dit is die Bybelse getuienis self wat die kerk mettertyd daartoe gedring het om die verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees nader te omskryf. En desnieteenstaande die onvolkome manier waarop die kerk dit geformuleer het, en dat ons steeds nie die misterie daarvan kan peil nie, bely ons dit gelowig op grond van die getuienis in die Skrif.

*Die woorde “en die Seun” (Latyn: filioque) is eers omtrent in die 6e eeu nC bygevoeg, m a w, dat die Heilige Gees van die Vader en die Seun uitgaan. Hierdie vorm van die belydenis van Nicea (mét die byvoeging) is die een wat vandag deur die kerke in die Weste aanvaar word en is steeds ‘n twispunt tussen die Ortodokse Kerke (oorspronklik die Oosterse kerk: Griekeland, Klein-Asië, Palestina) en die kerke in die Weste (oorspronklik Italië en Noord-Afrika). (In teologiese taal word dit die filioque-kwessie genoem.) Dit kom daarop neer dat die destydse Oosterse Kerk (hoofsaaklik Griekssprekend) nie hierdie latere byvoeging tot die Nicea-belydenis aanvaar het nie. (Die oorspronklike teks het dit nie bevat nie.) Dit was een van die bydraende faktore wat gelei het tot die kerkskeuring in 1054 tussen die Westerse en Oosterse Kerk. Dit bring nie wesenlik die Drie-eenheidsleerstuk in die gedrang nie, maar dui wel op ‘n interpretasieverskil tussen die twee Christelike groeperings.

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl




Die Buitenste duisternis – Francois Malan

Jan vra:

Mattheus 8 vanaf vers 5 vertel die verhaal van die Hoofman van Kapernaum met so groot geloof dat selfs Jesus verbaas was daaroor. Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle , selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie. Dan sê Jesus: Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
In Mattheus 22 word die ou wat nie ‘n bruilofskleed aangehad het nie vasgebind hande en voete en in die buitenste duisternis gewerp. Daar sal geween wees en gekners van die tande. En dan vers 14: Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Vraag 1: Waar is die buitenste duisternis?
Vraag 2: Wie is die kinders van die koninkryk (wat uitgedryf word)?
Vraag 3: Wat impliseer “geroep” maar min “uitverkies”?
Vraag 4: Wie verteenwoordig die ou sonder ‘n bruilofskleed?
Vraag 5: As die hel tans leeg is omdat niemand nog veroordeel is nie sal die anti-chris en die valse profeet die eerstes wees wat daarin beland met die duiwel derde? (Op 219: 20)
Vraag 6: Is daar dalk ‘n verbintenis tussen die buitenste duisternis en die hel?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vraag 1: Waar is die buitenste duisternis?

Die verhaal van die genesing van die heidense  hoofman se slaaf word ‘n geleentheid vir Jesus om sy Joodse volksgenote, wat Hom nie wil vertrou nie maar Hom verwerp, te waarsku. Twee beelde en drie uitdrukkings waarmee die mense van sy tyd bekend was, word gebruik: die koninkryk van God as ‘n feesmaal saam met Abraham, Isak en Jakob met wie die Here ‘n ewige verbond gesluit het, en die buitenste duisternis as beskrywing van die uitsluiting uit die feesmaal van die wat nie by die verbond hou nie of nie deel daarvan is nie, wat nie in Jesus as Verlosser glo nie. In die buitenste duisternis is daar ‘n geween en geknars van tande  (soos ook in Mt 13:42,50 se vuuroond; 22:13 se buitenste duisternis; 24:51 se deel van die skynheiliges, 25:30 se buitenste duisternis) as beeld van die verwyt en bitterheid van gees wat hulle sal beleef. In Luk 16:19-31 vertel Jesus die gelykenis van die ryk man wat nie na Moses en die profete geluister het nie en vreeslik ly in die vlam, die plek van pyniging, as beeld vir die ewige straf op die sonde, en van die arm Lasarus aan die bors van Abraham, die vader van almal wat die woord van God glo.

Waar? Die hemel is waar God is, om vir ewig in sy teenwoordigheid volgens sy wil en woord te lewe. Die hel is waar die lig van God se teenwoordigheid nie is nie, maar waar God mense vir ewig oorgee aan hulle eie selfsugtige begeertes om mekaar te probeer vernietig (vgl. Rom 1:24,26), maar in die hel is daar nie meer dood om uit die ellende te ontsnap nie (Openb 20:14).
Vraag 2: Wie is die kinders van die koninkryk (wat uitgedryf word)?

Dit is die Jode wat gebore is as kinders van God se verbond met Abraham, maar gefaal het in hulle roeping en hulle rug op die Here gedraai het (vgl.Mt 15:7-9 se aanhaling uit die Griekse vertaling van Jesaja 29:13). Johannes 1:11 sê: Hy (Jesus, wat die Woord van God is), het gekom na wat syne is, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. In Mt se verhaal van die hoofman gaan dit veral oor die ongeloof van dié Jode wat Jesus nie wou aanneem as die Seun van God wat na hulle gekom het met die woord van God nie. En aan die anderkant die heidense hoofman wat so in Jesus glo dat hy vra dat Jesus net ‘n woord sal spreek en sy slaaf sal gesond word.

Daarom sê Jesus dat baie uit die ooste en die weste sal kom soos hierdie heidense hoofman, en saam met Abraham, Isak en Jakob, die vaders van die gelowiges, sal aanlê aan die ewige feesmaal. En die rede waarom die heidense hoofman ingesluit word, is sy groot geloof in Jesus, wat Jesus by niemand in Israel gevind het nie. Die Jode het daarop geroem dat hulle kinders van die Here se verbond met Abraham is, met die teken van die besnydens, en die besit van die wet van die Here. Maar hulle hart was ver van die Here af (soos Jesaja al gesê het, Mt 15:8). Hulle kon ook nie aanvaar dat Jesus die deur na die koninkryk van God vir die heidene wyd oopgemaak het nie. In plaas daarvan dat die heidene in die duisternis gegooi word, soos die Jode geglo het, word die ongelowige Jode uitgedryf uit die feessaal van die ewige lewe.

 

Vraag 3: Wat impliseer “geroep” maar min “uitverkies”?
Die gedeelte (Mt 22:1-14) begin met die herhaalde roep van die genooide Jode om nou te kom na die koning se bruilofsfees, as beeld van wat gebeur met die koninkryk van die hemele. Die koning, God, het hulle uitgenooi na sy Seun se bruilofsfees en met baie verskonings kom hulle nie om deel te word van Jesus se volgelinge se vreugde nie. En dan word die uitnodiging op die paaie gedoen om die heidene in te nooi en baie van hulle kom. Die baie wat geroep word, word uitgenooi na die saligheid met die beeld van die Seun van God se huweliksfees, maar baie mense, ook Jode wat beter behoort te weet, neem dit nie aan nie. Ander neem sy woord aan, maar verstaan dit nie, of as moeilikheid kom, struikel hulle, of die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en hulle bly sonder vrug (Mt 13:18-22).
Vraag 4: Wie verteenwoordig die ou sonder ‘n bruilofskleed?

Die een sonder ‘n bruilofskleed verteenwoordig eintlik elkeen wat genooi is, maar wat nie die kleed van Christus se verlossing vir sy lewe aanneem nie, wat uiterlik saamgaan fees toe, maar in sy  hart en lewenswandel ver van Jesus af is. En op die oordeelsdag die uitspraak van die bruidegom aan die vyf dwase meisies sal hoor: Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie (Mt 25:12).

 

Vraag 5: As die hel tans leeg is omdat niemand nog veroordeel is nie sal die anti-chris en die valse profeet die eerstes wees wat daarin beland met die duiwel derde? (Op 219: 20).

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Lk 16:19-31) sê: die hel is nie leeg nie. Johannes 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op Hom.

Die hel is die ‘plek’ van die toorn van God. Mt 25:41 se gelykenis oor die oordeelsdag se skeiding van die skape en die bokke, sê die ewige vuur is vir die duiwel en sy engele berei – die passiewe vorm ‘is berei’ impliseer dat dit God is wat die ewige vuur berei. So praat Openb 20:9 ook van vuur wat uit die hemel neerdaal. Dit is alles beelde om die erns van God se oordeel oor die ongelowiges uit te druk en wat nou reeds geld. Maar soos die misdadiger aan die kruis wat hom na Jesus gedraai het, kon hoor: Jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees, bly die wat aan Jesus ongehooraam is onder die toorn van God.
Vraag 6: Is daar dalk ‘n verbintenis tussen die buitenste duisternis en die hel?

Die uitdrukking: geween en gekners op die tande, word in Mt gebruik vir die buitenste duisternis (8:12; 22:13; 25:30) en vir die vuur (13:42,50), en die ewige vuur verwys na die hel in Mt 25:41.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Paulus se evangelie – Francois Malan

Jan vra:

1Kor 15: 3 en 4 sê: Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is volgens die Skrifte;

Rom 2: 16 sê: in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

11 Tim 2: 8 Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dood opgewek is, volgens my evangelie.

In 11 Petrus 3: 15 en 16 : En ag die lankmoedighied van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.

As Paulus dan van “volgens my evangelie” praat hoe sal mens te wete kom wat die inhoud van sy besondere evangelie is as dit sou verskil van wat die ander apostels soos Petrus, soos Johannes soos Jakobus van skryf?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

  1. Petrus verskil nie van Paulus nie!

Hy sê self Paulus is ’n geliefde broeder’ – mede-apostel – ‘wat met die wysheid wat (deur die Here) aan hom gegee is, aan julle geskryf het’ (indien 2 Petrus, soos 1 Petrus, aan die gemeentes in Klein-Asië, huidige Turkye, geskryf is, sou dit kon verwys na Paulus se briewe aan die Efesiërs en Kolossense, wat in Klein-Asië geleë was). ‘Hy spreek daarin oor dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan’ (nie vir Petrus nie, maar vir die ongeleerde en onvaste mense is dit swaar om te verstaan),  ‘netsoos die ander geskrifte’ (waarskynlik van die Ou Testamentiese geskrifte wat die Bybel van die eerste gemeentes was, nog voor die verskillende boeke in die Nuwe Testament beskikbaar was, en kan ook na Paulus se ander briewe soos 1&2 Korintiërs  55 n.C. en Romeine 55-56 n.C. verwys – in die Ou Testamentiese geskrifte en in Paulus se ander briewe is daar dinge wat vir ongeleerde en onvaste mense swaar is om te verstaan).

Paulus se briewe was die eerste geskrifte van die Nuwe Testament, geskryf tussen die jare 50 n.C. aan die Galasiërs en 1&2 Tessalonisense, tot 63 n.C. vir 2 Timoteus. Daarna is die eerste Evangelie eers geskryf, nl. Markus, wat  iewers tussen 60-65 n.C. geskryf is. Matteus  ná 70 n.C. en Lukas rondom 70 n.C., maak gebruik van Markus as een van hulle bronne. Die Johannes-Evangelie, wat ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad het, is eers teen 80 n.C. klaar geskryf; die Johannese Briewe teen ongeveer 85 n.C. en Openbaring rondom 95 n.C.  2 Petrus se datum is onseker, maar is moontlik geskryf kort voor of kort ná  Petrus se dood in 64 n.C., moontlik vanuit Rome waar Paulus aan die begin van 64 n.C. doodgemaak is.

Met die opmerking: ‘wat met die wysheid wat aan hom gegee is’ erken Petrus dat die Here Paulus gebruik het om die betekenis van Jesus se kruisdood,  opstanding en hemelvaart vanuit sy kennis van die Ou Testament en sy ontmoeting met die verheerlikte Jesus op die Damaskuspad vir die kerk verduidelik het en die fondament vir ons geloof gelê het, naamlik Jesus Christus (1 Kor 3:10-11). Met die opmerking dat Paulus ‘ons geliefde broeder’ is, erken Petrus dat Paulus reg was om hom openlik teen te staan oor sy huigelary toe hy in 47 n.C. in Antiogië eers saam met die gelowiges uit die heidendom geëet het en toe die ander Jode kom, hom onttrek het (soos in Galasiërs 2:11-18 beskryf is).

Volgens 2 Petrus dryf die oningeligde en onvaste mense die spot met die gelowiges omdat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie (3:3-4), en Petrus verduidelik dat die Here nog wag met die dag van die oordeel omdat Hy geduldig is en nie wil hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer (3:8-9). Gelowiges moet die Here se geduld met ons beskou as ’n geleentheid om gered te word (3:14-15). Oor die wederkoms van Christus en die wederkoms se uitstel het Paulus aan hulle en in al sy briewe geskryf (vgl. bv 1 Kor 15; 1 Tes 4:13-5:11; 2 Tes 1:3-2:12). In 2 Tes 2:1-2 waarsku Paulus ook dat gelowiges nie so verward moet raak of van stryk gebring word deur mense wat sy woorde verdraai asof die wederkoms al klaar plaasgevind het nie.

2 Petrus 3:16 sê oningeligte/onkundige en onstandvastige mense (wat kort-kort van gedagte verander) ‘verdraai’ met ’n verkeerde uitleg om by hulle begeertes te pas, die dinge wat Paulus geskryf het (3:3). Hulle twyfel aan die wederkoms en hulle sedelike bandeloosheid, wat hulle met hulle verkeerde uitleg goedpraat, lei tot hulle ondergang/verderf. Daarteenoor sê Petrus die gelowiges hulle daarvoor moet beywer om vlekkeloos en onberispelik en in vrede te lewe (3:14) en nie toe te gee aan hulle eie begeertes en wetteloos begin lewe nie. (3:17).  Hierin verskil Petrus se evangelie niks van Paulus s’n met sy vermanings in die lig van die wederkoms nie (bv. 1 Kor 15:32-34,58; 1 Tes 5:6-10; 2 Tes 1:11 se vermanings wat verbind word aan die verwagting van die wederkoms).

 

  1. Paulus se evangelie

Die uitdrukking ‘my evangelie’ in Rom 2:16 word gebruik in verband met die oordeel, wat Jode gereken het dat hulle veilig is omdat hulle die wet het en die nie-Jode nie, maar Paulus se evangelie is vir almal bedoel, Jode en heidene, wat in Jesus glo as hulle verlosser, en daarvolgens lewe;  2 Tim 2:8 gaan oor Paulus se evangelie oor Jesus se menswording en opwekking uit die dood, wat deur sommige geloën word.  Rom 16:25 gaan oor God se mag om ons te laat vasstaan volgens die evangelie van Jesus Christus wat Paulus verkondig; 1 Tim 1:8,11 sê dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik. Dit stem ooreen met die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige  God, wat aan Paulus toevertrou is.

Rom 1:1-4 begin met Paulus wat afgesonder is vir die evangelie van God, wat reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof is aangaande sy Seun wat deur sy opstanding uit die dood aangewys is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het…’

Die kern van Paulus se evangelie is, dat die evangelie die krag van God is tot verlossing vir elkeen wat glo, vir die Jood eerste, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof (in Jesus Christus) berus, soos daar geskryf staan in Hab 2:4: Wie op grond van geloof geregverdig word, sal leef – geregverdig beteken dat die verhouding met God reggemaak is deurdat Jesus Christus, self God, die straf en smet van die sonde van die hele wêreld aan die kruis gedra het. Daarmee stem al die Nuwe Testamentiese skrywers saam, vgl. 2 Petr 1:1: Petrus skryf aan dié wat dieselfde kosbare  geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.

Jakobus beklemtoon dade as regstelling van ’n lewenshouding wat nalaat om Christenskap in ons daaglikse optrede konkreet te maak – vgl. Jak 2:1 boefen julle geloof in ons Jesus Christus, die Here van heerlikheid …’ So is daar in elke brief van Paulis aanwysings oor hoe ons met dade ons Christenskap moet uitleef, vgl. Rom 12-15; feitlik elke hoofstuk in 1 Korintiërs het ’n opdrag om jou geloof met dade uit te leef; Gal 5-6; Ef 4-6, ens.

Feitlik in elke hoofstuk in die Johannes-Evangelie word beklemtoon dat Jesus God is en mens, vgl. 1:1-3: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was van die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie,’  1:14: En die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Dit teenoor die Jode wat nie Jesus se godheid wil aanvaar nie, en die Grieke nie sy mensheid nie. Die stryd word al dringender in die drie Johannes briewe aangespreek. vgl 1 Jn 2:18-26; 2 Jn 7-11; 3 Jn 9-10. So het Paulus reeds in 1 Kor 8:6 verklaar: Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus deur wie alles is en ons deur Hom.

Elkeen van die boeke van die Nuwe Testament dra dieselfde boodskap van verlossing deur Jesus Christus, elkeen met sy eie benadering, en omstandighede.  Elkeen moet spesifieke probleme van hulle tyd aanspreek, veral valse leringe wat ontstaan waarmee die geloof in Christus aangeval en verdraai word.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Vertalings van die Bybel – Francois Malan

Karin vra:

My kinders beweer dat daar heelwat verskille is uit die oorspronklike Hebreeuse vertalings en die Bybel wat ons vandag as die Bybel gebruik, 53 of 83. Hul het ook ‘n probleem met die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is en dis ook nie uit oorsprong orals reg nie. Ek het nie soveel tyd om elke vers met die Hebreeus te gaan vergelyk nie, maar moet ek vandag bekommerd wees hieroor vir my eie gewete? Als moet uit oorsprong reg wees, dus geen Kersfees, Paasfees, eerder Sabat en ou Testamentiese feeste. dis maar n paar vrae wat ek het. Baie dankie, dis as ouers vir ons baie moeilik! Eloim is God se naam en Yeshua is reg nie Christus nie!

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

God se naam

Die Hebreeuse woord El en die meervoudsvorm Elohim is ’n soortnaam wat beteken god, enige god, maar word in die Ou Testament ook gebruik vir die Skepper en die God van Israel. Die eienaam wat die God van die voorvaders Abraham en Isak en Jakob self aan Moses gegee het, is Jahweh ‘Die Ek is’ (Eks 3:14,15 Jahweh is ewig my naam, dit is die naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag). Jahweh beteken dat Hy persoonlik aktief teenwoordig is. Die Jode was bang om die naam ydelik te gebruik (Eks 20:7) en as hulle Jahweh lees het hulle Adonai ‘Here’ gesê. So het die Griekse vertaling kurios ‘Here’ daarvoor gebruik, en ons ook ‘Here’ , wat ’n respekvolle aanspreekvorm is wat gebruik word teenoor jou meerdere, Engels Lord. Die 53-vertaling het Jahweh met hoofletters geskryf HERE, en adonai as Here.

  • Jesus, die Griekse vorm van Jeshua of Joshua (Jahweh is Verlosser), is die naam wat die engel vir Josef (Mt 1:21) en vir Maria (Lk 1:31) gegee het vir die seun wat gebore sou word.
  • Christos is die Griekse vorm vir die Hebreeuse Messias, wat albei beteken ‘Gesalfde’ soos ’n koning of ’n profeet of ’n priester gesalf is as aanwysing van die persoon en as ’n simbool van sy toerustig met die Gees van God vir sy amp.

Benewens die drie ampte in die geskiedenis van Israel, het hulle ook ’n besondere Gesalfde verwag wat sou kom.

Aan Moses het die Here gesê: Die Here jou God sal ’n profeet onder jou laat te vore kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek (die Here) wees. Vir hom moet jy gehoorsaam wees (Deutr. 18:15). Toe Jesus gekom het, het Filippus vir Natanael gesê: Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef (Joh 1:45).

Aan Dawid het die Here belowe: jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd bestaan (2 Sam 7:16). Die engel het vir Maria gesê: Die Here God sal aan Hom (Jesus) die troon van sy voorvader Dawid gee en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie (Lk 1:32-33).

Ps 110:4 se belofte van ’n priester vir ewig word in Hebr 7:21 op Jesus toegepas: Jesus is met ’n eed deur God bevestig, wat vir Hom gesê het: Die Here het dit met ’n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: Jy is priiester vir ewig. So het Jesus ook van ’n beter verbond borg geword deur nie eke dag ’n offer te bring soos die priesters van die ou verbond nie, maar het Homself geoffer eens en vir altyd vir ons sondes.

Daarom is Jesus die Christus, die Gesalfde koning, priester, profeet, aangewys en toegerus met die Heilige Gees

(Mt 3:16-17; Joh 1:33-34).

 

Vertalings van die Bybel:

Die Ou Testament is in Hebreeus geskryf lank voor die koms van Jesus toe Hebreeus nog deur Israel gepraat is. Die Nuwe Testament is in die algemene taal van destyds, Grieks, geskryf toe die kerk van Jesus begin uitbrei het oor die hele Romeinse ryk. Vertalings kan nie presies vertaal wat daar in die tale staan nie, want die Hebreeuse en Griekse woorde het konnotasies wat net met ’n omskrywing alles kan sê wat in die teks staan, en moet die vertaler ’n keuse maak van die beste woord in die taal waarin dit vertaal word. So het Afrikaans bv. nie ’n woord wat die Engelse ‘gentle’ ten volle kan weergee nie, en het Engels nie ‘n woord wat die Afrikaanse ‘vrymoedigheid’ kan weergee nie. Terwyl die 53 vertaling se Afrikaans nie altyd duidelik is nie, het die 83 vertaling die betekenis verstaanbaar weergegee. Die 2014 se Direkte vertaling probeer so na as moontik aan die brontaal bly en nog goeie verstaanbare Afrikaans gebruik. Die Bybel vir Almal is vir die Dowes vertaal wat slegs 20% van ons woordeskat het.

5 ‘dus geen Kersfees, Paasfees, eerder Sabat en ou testamentiese feeste.’

Die mense het vir Jesus gevra waarom sy dissipels nie vas nie. Hy het gesê: Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie….nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi (Mark 2:18-22). Sy nuwe verbond het nuwe vorme nodig en sy bruilofsgaste kan nie vas as die bruidegom by hulle is nie.

Toe die Fariseërs kla dat Jesus se dissipels op die sabbatdag are pluk en eet, het Hy gesê: die sabbatsdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook oor die sabbat (Mark 2:23-28). En toe die Fariseërs hom dophou of hy die gebreklike man op die sabbat gaan genees het Hy kwaad en bedroef gevra: Mag ’n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of iemand doodmaak? en toe maak die Fariseërs en die Herodiane op die sabbatdag ’n komplot om Hom dood te maak nadat hy die gebreklike genees het. (Mark 3:1-6).

Hebreërs 10:1 sê: Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Die jaarlikse offers by die feeste kon nooit volkome van die sonde vry maak nie. God het die eerste offers van diere en graan afgeskaf en Jesus het sy ligaam as offer gebring, eens en vir altyd (Hebr 10:2-10). Dit vier ons met Paasfees, dat Jesus, wat self God is (Joh 1:1), vir die sonde van die hele wêreld se mense ons straf en skuld aan die kruis gedra het, as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29).

Die aand voor sy kruisiging vir ons sonde, nadat Judas die vertrek verlaat het om Hom te gaan verraai, het Jesus vir sy dissipels gesê: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, so moet julle mekaa ook liehê (Joh 13:34).

En met Kersfees herdenk ons die geboorte van Jesus wat in die gestalte van God was en Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, gehoorsaam tot aan die dood (Flp 2:5-11). Johannes 1:16-18 sê: uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. Hy het die Vader aan ons kom bekendmaak, so lyk ons God (Joh 14:9-10).

Skrywer:  Prof Francois Malan