Volmaaktheid – Francois Malan

Jan vra:

Hebreërs 11 praat oor die geloofshelde wat, alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, (40) omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Hierdie mense het besondere geloofsverhoudings met God gehad – so sterk dat hulle bereid was om hulle lewens of te offer. Nogtans het hulle die belofte nie verkry nie want “ons” moet nog bykom om hulle volmaak te kry.

Wat is die bedoeling van die skrywer van Hebreërs as hy so sê, asb?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Hoofstuk 11:32-40 word omsluit met ‘deur die geloof’ in v33 en ‘deur die geloof in v39. Hierdie slotparagraaf van hoofstuk 11 beïndig die opsomming van die voorbeelde van die wolk van geloofsvolharding (12:1). Hulle het die woord van God aanvaar en geglo, maar daarvoor ook die prys betaal met verlies van hulle status, posisie, sosiale sekerheid en selfs hulle lewe prys gegee onder bitter lyding en vervolging – die uiterste gevalle wat in verse 35-36 beskryf word, is deur Antiogus Epifanes beveel vir Jode wat aan hulle geloof vasgehou het en geweier het om die Griekse gode en Zeus te aanbid. Die skrywer van Hebreërs wou daarmee by sy lesers aandring om die getroue vaders na te volg, wat aan hulle belydenis van hoop vasgehou het teen alle aanslae, eerder as om afvallig te word van die Here.

Vers 40 sluit die hoofstuk af, en is te gelyk ‘n oorgang of inleiding tot hoofsuk 12. Die laatse woord in die teks is ‘volmaak gemaak word’ – ‘sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie.’ Dit berei die leser voor om die oog te rig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof in 12:2.

‘Aangesien God iets beters vir ons voorsien het’ – God het aan ons die beter dinge van die nuwe bedeling voorsien, ons is bevooreg om tot kennis en geloof in die Seun van God te kom, wat die sonde van die wêreld, ook van die Ou Tesament se tyd, op Hom geneem het, en oor dood en sonde die oorwinning behaal het met sy opstandig. Daarmee het Hy vir ons ‘n visie op die ewigheid en ‘n lewe na die dood geopen wat in die Ou Bedeling hoofsaaklik onbekend was. Met sy menswording, lewe en onderrig, sterwe en opstanding het Hy ook die verlossing voleindig van die mense wat die woord van die Here aanvaar en geglo het in die Ou Testament se tyd. Hulle is gered omdat Jesus ook vir hulle sondes gesterf het. Hulle offers van die bloed van skape en beeste kon nie hulle sonde uitwis nie, maar dit was ‘n afbeelding en ‘n skadu van die hemelse wat heengewys het na God wat self kom sterf het vir die sonde van die wêreld (vgl. Hebr 8:5).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Toetsing van ons geloof – Hermie van Zyl

Ester vra:

Ek weet in die Bybel word daar baie gepraat oor toetsing van jou geloof. Waarom is dit nodig dat God ons geloof gedurig moet toets. Jesus sê tog dat as jy Hom aangeneem het en jy gered is, ís jy ‘n kind van God en niemand kan jou uit sy hand ruk nie. Ek verstaan dat alles nie altyd so goed verloop vir jou nie, maar as God jou aanneem net soos jy is, hoekom het Hy nodig om jou te toets?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord op ons vraagsteller se vraag – as God jou aanvaar net soos jy is, waarom jou voortdurend toets? – is: Ja, God aanvaar jou net soos jy is, maar los jou nie net soos jy is nie. Daarom word ons geloof voortdurend getoets. Hierdie kort antwoord vra egter om ‘n uitvoeriger verduideliking.

Soos die vraagsteller tereg opmerk, is die toetsing van ons geloof ‘n deurlopende tema in die Bybel. Daar is haas nie ‘n boek in die Bybel waar hierdie saak nie direk of indirek aan die orde is nie. Vanuit ‘n sekere hoek gesien, kan ons sê dat dit die eintlike saak is waaroor die Bybel handel. Want waaroor gaan die Bybel anders as oor God se pad met mense – hoe Hy mense roep, kies, verlos, bevry om sy volk/kinders te wees en dan ‘n pad met hulle loop om hulle na sy wil te vorm. Neem maar vir Abraham: God roep hom uit sy tuisstad, Ur, en gee aan hom die belofte: Ek sal vir jou ‘n God wees; Ek sluit ‘n verbond met jou (Gen 12:1-3; 17:7). Anders gestel, God sê vir hom: Ek sal jou verlos. Hierdie belofte het egter ‘n keersy: Jy moet my verbond onderhou; jy moet vir my ‘n kind/volk wees (Gen 17:9; Jer 31:33). Hierdie struktuur van God se handelinge met die mens vorm die grondslag van alles wat ons in die Bybel aantref – hoe God ons red, sy eiendom maak, en hoe Hy met ons “sukkel” dat ons waardig ons redding leef, dat ons darem lyk soos mense wat deur God gered is.

Die toetsing van ons geloof is dus niks anders nie as God se manier om ons in hierdie wêreld te laat leef en optree soos mense wat in ooreenstemming met God se wil leef. Want die wêreld is vol verleiding en aanvegtinge wat ons van God se pad wil aftrek. Die hele geskiedenis van Israel is tekenend hiervan – hoe God telkens sy profete na Israel toe stuur om hulle op sy pad terug te kry, en hoe hulle die meeste van die tyd hulle nie aan die profete steur nie maar hulle eie pad loop. Maar God gee nie op nie; hoewel sy volk ontrou is, bly Hy getrou.

Die Nuwe Testament vertoon dieselfde prentjie. Nou gaan dit net om die voortsetting van die ou volk van God in die kerk van Jesus Christus. Maar nog steeds is die oproep daar: Ek wil julle God wees en julle moet my volk wees (Heb 8:8-13). En dis by hierdie “volk wees vir God” waar die saak van die toetsing van ons geloof inkom. Met verskeie beelde word die toetsing beskryf. In Heb 12:1-3 word dit met ‘n wedloop vergelyk: Ons moet soos atlete vir Christus die wenpaal in die oog hou en volhardend die wedloop hardloop, van alles ontslae raak wat ons hinder in die wedloop, veral die sonde. In die daaropvolgende verse (Heb 12:4-13) word die geloofstoetsing weer beskryf met die beeld van ‘n aardse vader wat sy kinders tugtig sodat hulle aan die standaarde van die vader kan voldoen. God is ons hemelse Vader en wanneer Hy ons tugtig (toets) is dit nie omdat Hy vir ons kwaad is of ons ondergang wil bewerkstellig nie, maar omdat Hy ons liefhet. Jak 1:2-8 beskryf dieselfde geloofstryd en -toetsing weer in terme van standvastigheid en vrug dra: God wil nie hê nie dat ons soos die golwe van die see heen en weer geslinger word soos mense wat nie weet wie en wat hulle is nie. Hy wil hê dat ons moet volhard sodat ons tot geestelike rypheid kom en ons geloof kan vrug dra. En wanneer ons in die geloofstoetsing swaarkry moet ons nie dink dis omdat God ons probeer verlei nie. Nee, Hy kan deur niemand verlei word nie, en Self verlei Hy ook niemand nie (Jak 1:12-18). God gee net goeie dinge. Ons word deur ons eie begeertes verlei. Nogtans kan ons die versoekings weerstaan, want ons word nie bo ons kragte versoek nie (1 Kor 10:13). Hy gee immers aan ons die wapenrusting waarmee ons die vyand (die Bose) se aanslae kan afweer (Ef 6:10-20). Dit alles gebeur sodat ons geloof getoets en sterk kan word. Dit is soos ‘n boompie wat in sterk winde grootword. Dit leer later hoe om weerstand te bied en kan dan as groot boom selfs skuiling bied aan mens en dier.

Die lewe is een voortdurende toetsing van ons geloof, nie om ons te breek nie, maar sodat die egtheid van ons kindskap kan ontwikkel en ons al meer kan lyk soos God se kinders. Enersyds word ons bemoedig deur die belofte dat ons vir altyd aan Jesus behoort en dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie (Joh 10:28). Andersyds word ons gewaarsku teen afvalligheid (vgl Heb 6:4-6). Dit klink amper teenstrydig: Ons redding lê vir ewig vas in God, en tog word ons gewaarsku om te volhard en nie afvallig te word nie. Belofte en waarskuwing staan egter nie teenoor mekaar nie. Ons moet dit so verstaan dat wie ernstig is oor sy/haar geloof en elke dag die goeie stryd stry, verseker kan wees dat sy/haar geloof nie net staande sal bly nie, maar ook sal groei. Want God sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, nie laat vaar nie (Fil 1:6). Aan die ander kant kan iemand wat geen erg aan God het nie, wat geen begeerte het om Hom werklik te dien nie, nie aanspraak maak op allerlei beloftes wat eenmaal gemaak is nie. Dit is slegs in die geloofstryd, in die toetsing van ons geloof, in ons volharding dat ons God se beloftes van ewige redding kan aangryp en weet dat ons die geloof sal behou.

Die toetsing van ons geloof is natuurlik nie vir almal presies dieselfde nie. Uiteraard is daar gemeenskaplikhede: Ons moet almal veg teen die aanslae van die Bose; ons moet almal stry teen sonde, kleinlikheid en liefdeloosheid. Maar die spesifieke manier hoe dit in elkeen se lewe manifesteer, is nie dieselfde nie. Uiteindelik loop God met elkeen ‘n unieke pad. Geen twee van sy kinders word presies aan dieselfde toetsings, op dieselfde manier, onderwerp nie. Party se toetsing lyk swaarder as ander. Ons weet nie hoekom dit so is nie, en dit help ook nie om daaroor te wonder en daarteen te rebelleer nie. Net soos wat elkeen se omstandighede nie presies ooreenstem nie, net so verskil ons persoonlikhede en verhouding met God. Die waarom’s van die lewe help ons dus nie veel nie, maar eerder wat ons uit die toetsings waaraan ons onderwerp word, kan leer omtrent ons verhouding met God en ons kindwees van Hom.

Om saam te vat: Die toetsing van ons geloof is nie iets onnatuurlik nie, maar dis deel van die lewe saam met God. Sónder toetsing is ons nie egte kinders van God nie. Mét toetsing word ons al meer omvorm na die beeld van God se Seun hier op aarde (Rom 8:29). As God ons net so los soos Hy ons aanvaar het, kan daar geen groei en volwassewording in ons geloof plaasvind nie. Net soos kinders moet leer om in hierdie lewe bepaalde reëls en verantwoordelikhede na te kom, en so bevestig dat hulle egte kinders van hulle ouers is, net so moet ons leer hoe om kinders van God te wees na sy welbehae. En dit vat tyd en oefening. Lewenslank.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Efese en die leiding van die Heilige Gees – Francois Malan

Willie vra:

Kan n mens sê dat die Heilge Gees die Kerk vandag minder leiding gee as byvoorbeeld die gemeente van Efese? Indien dit wel so is lê die fout by die Kerk? Wat het ons gedoen om dit te versoorsaak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Here lei die kerk vandag nog duideliker deur sy woord as in die tyd toe die brief aan die Efesiërs geskryf is, toe gelowiges baie minder van die woord van die Here gehad as ons vandag met ‘n volle Bybel beskikbaar vir elke lidmaat, en daarom ‘n groter verantwoordelikheid. Maar die probleem is dat gelowiges en die kerk nie die leiding van die Gees deur die woord wil aanvaar nie en daarvolgens lewe nie.

Die brief aan die Efesiërs staan in verwondering oor die liefde van God, dat Christus deur die geloof in ons harte woon sodat ons die  breedte, lengte, hoogte en diepte van sy liefde kan verstaan, en dat God wat deur sy krag in ons werk, in staat is om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, en dat die Gees ons met krag na die innerlike mens versterk (Ef 3:14-21).

Maar daarop volg dan drie hoofstukke met vermanings van wat hulle moet los en hoe hulle moet lewe: dat ons tot eenheid geroep is om in nederigheid en saggeaardheid en geduld mekaar in liefde te verdra (4:2-5), dat ons die ou mens met sy drang na dwaling moet aflê (4:22), nuut gaan dink om die beeld van God, wat vir ons uit genade en liefde aan ‘n kruis gesterf het, uit te leef as nuwe mense (4:23-24), wat leuens vermy en die waarheid praat, nie steel nie maar eerder uitdeel, nie vuil woorde gebruik nie, maar woorde wat opbou, nie die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, bedroef nie, en alle bitterheid, woede, gramskap, geskreeu, gelaster en elke vorm van kwaad laat vaar; maar goed wees vir mekaar, welwillend,  mekaar vergewe soos God in Christus ons ook vergewe het (Ef 4:25-32).

Vir die gemeente in Efese was dit nodig om die vermanings te kry. Vir ons des te meer, veral in in ons gemeenskappe met so baie kerke wat nie altyd in liefde leef nie, in ons land met sy verskillende kleure en kulture waarmee ons sukkel om mekaar so lief te hê soos Christus ons liefgehad het en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God as ‘n aangename geur (Ef 5:1-2).

In 5:15-6:9 word aan hulle aanwysings gegee oor die die lewe in liefde in die huwelik, ouers en kinders, diensknegte en eienaars; en in 6:10-20 wat ons nodig het in ons stryd teen die owerhede, magte, wêreldheersers, en die bose geeste in die lug. Ons en hulle leef onder ‘n bose geslag, maar met die Gees van God wat in ons woon wat ons in staat te stel om soos ons Vader selfs ons vyande lief te hê (Matt 5:41-48; vgl. ook Jn 14:16-17,23 oor inwoning). Vgl. Openb 2:4 wat die Here teen die gemeente in Efese het, en vers 6 wat sal gebeur as hulle dit nie regstel nie – en vandag is daar net ruïnes oor van Efese en geen christene nie.

Skrywer:   Prof Francois Malan




Behoort aan ‘n kultus – Francois Malan

‘n Leser vra:

‘n Lidmaat worstel met familie wat aan ‘n “kultus” behoort. Hoe weet mens?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord kultus word gebruik vir die verskillende maniere en gebruike om God mee te dien. So het Israel van die Ou Testament spesifieke maniere gehad om God te dien, bv. met offerandes, gebede, leringe, sang, ens. So het die verskillende kerke en gemeentes elkeen sy eie manier van aanbidding. Sommige kultusse is selfs teen God en teen alle godsdiens, of hulle het hulle eie god. Ander kultusse gaan aan asof daar geen God is nie.

Maar die woord ‘kultus’ word veral gebruik om kerke of groepe of organisasies aan te dui wat aanspraak daarop maak dat hulle leringe en praktyke bybels is en dat hulle die bybelse christendom verteenwoordig, maar wat in werklikheid onbybels is en hulle lewenswyse nie christelik van aard is nie.

Kultusse het gewoonlik ‘n godsdienstige verering en toewyding aan ‘n spesifieke leierspersoon of aan ‘n spesifieke soort godsdienstige aanbidding, wat afwyk van die evangeliese godsdienstige tradisie in die gemeenskap. Daarby doen sulke groepe alles in hulle vermoë om mense wat by hulle aankom by hulle te hou met groepsdruk en dreiging van ongeluk as hulle weggaan van hulle af.

Hoe weet mens? Dit gaan gewoonlik oor die groep se siening oor God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees en die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees.. En ten tweede wyk hulle dikwels af van sekere Bybelse aanwysings van hoe ‘n christen moet leef.

Dikwels word mense wat eensaam is, getrek deur die groep se hegte verbondenheid; sommige mense in depressie vind heling in die opwek van emosies in die groep; siekes word oortuig dat die kultus se leier genesende krag het; dit is veral mense wat ‘n geestelike behoefte het na godsdienstige belewings wat na groepe soek waar hulle behoefte bevredig kan word. Party verlaat die kerk omdat hulle met die predikant of pastoor bots of nie gelukkig is met hulle leiers of prediking soos hulle dit wil hê nie.

Dié mense het dikwels ‘n behoefte aan ‘n toenadering tot die onsigbare, die heilige. Maar daarmee gaan dit eintlik om hulleself, oor hulle belewenisse van die Onsigbare, die beveiliging van hulle lewe, hulle welvaart, hulle voorspoed en hulle sekerheid, terwyl hulle nie bewus is van die diepe kloof tussen God en mens deur die sonde nie, veral die sonde om self soos God te wil wees soos Eva wat so kennis wou kry om soos God te wees (Genesis 3:5-6), of hulle probeer om die kloof te oorbrug met godsdienstige handelinge (vgl. Jesaja 1:12-17). Dit word ‘n poging om God te manipuleer vir hulle voordeel. Daarmee word die skepping en die skepsel/mens vergoddelik en God verwêreldlik.

Dit is so anders as om in alle omstandighede met vreugde uit die Here se genade te leef, uit sy vergifnis van ons sonde, wat Jesus aan die kruis vir ons bewerk het, deur as God die sonde van die wêreld op Hom te neem (Johannes 1:29); Hy verlos ons van ons self deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons te lei en in staat te stel om God se liefde uit te leef en selfs ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48; Galasiërs 5:22-23).

Skrywer:  Prof Francois Malan