Beskrywing van God – Hermie van Zyl

Francois vra:

In ons groepie het iemand onlangs beweer dat daar nie ‘n woord beskikbaar is wat/om God te kan beskryf nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is inderdaad so dat dit moeilik is om ‘n enkele naam of benaming te vind wat God volledig beskryf. Selfs die Bybel wemel van ‘n verskeidenheid van name en omskrywings vir God. In die Ou Testament leer ons God se Naam ken as: “Ek is wat Ek is” of net “Ek is” (Eksodus 3:14). Uit hierdie werkwoordelike frase is die eienaam vir God afgelei wat dikwels in die OT voorkom, naamlik (in Hebreeus): JHWH. Dit is die sogenaamde tetragrammaton, of vierletter-naam vir God. Omdat Hebreeus net uit medeklinkers of konsonante bestaan, moes geleerdes uit ander soortgelyke name aflei hoe die klinkers of vokale bygevoeg kan word om te probeer vasstel hoe die Naam oorspronklik uitgespreek is. En die vermoede is dat dit as JaHWêH (of Jahweh) uitgespreek is. Hierdie eienaam vir God word in die Afrikaanse Bybel met “Here” vertaal (op voetspoor van die ou Nederlandse Statevertaling), wat eintlik die meervoudsvorm van “heer” (“meneer” of “heerser”) is. (In die Engels is dit “Lord”.) In die Septuaginta, die Griekse vertaling van die OT (ongeveer 200 vC), word JHWH met kurios, “heer/heerser/meester”, vertaal. Die Afrikaanse vertalings volg dus, via die Nederlands, eintlik die voorbeeld van die Septuaginta. “Here” druk veral die gedagte uit dat God die Heerser oor almal is en as sodanig erken moet word.

Gaan ons egter op die oorspronklike Hebreeuse Naam vir God in – “Ek is wat Ek is” – mag dit met die eerste hoorslag baie wollerig en vaag klink, maar dit sê eintlik presies wie God is. Hiermee wou God sy wese aan Moses en Israel bekendmaak, wat ten diepste onpeilbaar is, soos Romeine 11:33-36 sê: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!” Die eienaam Jahweh bevat naamlik die gedagte dat God die altyd teenwoordige, vrymagtige en soewereine Heer is. Daar is nêrens waar Hy nie is nie; Hy is nooit afwesig nie; mens kan Hom ook nooit vaspen met jou voorstellings oor Hom nie, of aan Hom voorskryf hoe Hy behoort op te tree nie. Hy besluit self hoe en wanneer Hy Hom aan die mens wil openbaar. Dit teenoor die afgode van die destydse omringende heidenvolke wie se gode eintlik maar net verlengstukke van hulle eie begeertes en idees was. Die God van Israel is egter die lewende en vrymagtige. Hy laat Hom nie regeer of in ‘n hoek druk deur ons opvattings en voorstellings nie. Hy doen telkens nuwe dinge en lei sy volk op weë waarvan hulle nog nie bewus is nie. JHWH is ook by uitstek sy Verbondsnaam, die Naam waarmee Hy Homself bekend gestel het aan sy verbondsvolk, Israel. Afgesien van wat hierbo oor JHWH gesê is, druk hierdie Naam God veral as die Getroue, Liefdevolle en Barmhartige uit, die Een wat bemoeienis maak met sy volk, hulle telkens vergewe en ‘n pad van vergiffenis en liefde met hulle loop. Hy is die Een wat telkens op nuwe maniere uitdrukking gee daaraan dat Hy getrou bly aan sy liefde, versorging en genade. Hy kan nie anders wees as wie en wat Hy is nie. Hy is wat Hy is.

Benewens God se eienaam is daar baie ander benamings of omskrywings wat bepaalde eienskappe van God belig, byvoorbeeld dat Hy die Alvermoënde, die Allerhoogste, Almagtige, Heilige, almagtige God, Herder van Israel, Redder, magtige Koning, ensovoorts, is. Hierdie omskrywings druk uit dat Hy in verskillende fases en aspekte van Israel se godsdienstige lewe Hom bekend gemaak het as die Een wat beskerm, red, magtig is om Israel van hulle vyande te verlos, en heers oor die lotgevalle van die nasies en hulle toekoms bepaal. Uiteraard druk hierdie benaminge nie alles uit wie en wat God is nie, maar ten minste beskryf dit iets van hoe mense God beleef het.

In die Nuwe Testament word die benaming van God uit die OT, naamlik Kurios (Griekse vertaling van Jahweh) op Jesus oorgedra. Daarmee word bevestig dat Hy op dieselfde vlak as Jahweh van die OT verkeer. Daar word ook ander benamings soos Christus (gesalfde) en die Eerste en die Laaste; die Begin en die Einde; die Een wat is, wat was en sal wees, op Jesus van toepassing gemaak (Openbaring 1:17; 2:8; 22:13). Al hierdie benaminge wil die verband lê met die God van OT, dat die opgestane Here Jesus inderdaad één van wese met die God van die OT is, en as die Seun van God oor dieselfde kwaliteite as die Vader beskik.

Dan is daar natuurlik die benaming “God”. Dit is weer ‘n vertaling van die Hebreeus ‘el of ‘elohim, of die Grieks theos. In albei taalgroepe is dit ‘n ontlening uit die antieke voorstellingswêreld waar daar ‘n hoofgod (‘el, theos) is wat heers oor ‘n panteon van gode. In die Bybel kry dit egter die betekenis van die enigste God wat hoof en heerser oor alles en almal is.

Uit al die bogenoemde kan mens inderdaad aflei dat geen enkele naam die Goddelike wese na behore kan uitdruk nie. Maar wat ons wel kan sê, is dat al die name en omskrywings wat vir God in die Bybel gebruik word, ten diepste wil sê dat God nie net ‘n naam het nie, maar dat Hy sy Naam is. Die meeste mense se name sê eintlik nie veel van wie ons werklik as mense is nie. Maar by God is dit anders, sy Naam en titels is uitdrukking van sy wese en aard. Hoewel geen Naam sy wese, aard en karakter volledig kan omskryf nie, sê dit genoeg sodat ons seker kan wees van hoe God Hom in Jesus aan ons openbaar. Dit wat ons van Hom weet, is genoegsaam om ons te troos dat Hy in Jesus God-vir/met-ons is, Immanuel (Matt 1:23).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Is die aarde plat? – Herrie van Rooy

Jan vra:

Daar is verskeie webwerwe wat handel oor die vraag of die aarde rond of plat is. Die plattes haal al wat ‘n teks in die Bybel aan wat suggereer dat die aarde plat is en dan verskyn daar allerhande bewyse dat dit inderdaad die geval is. Tesame daarmee verskyn daar in een spesifieke geval 200 bewyse dat die aarde wel plat is. Verder word beweer dat die aarde doodstil staan en dat dit die maan en son is wat om die aarde wentel – beide van hulle sowel as die planete is plat skywe. Nog verder dat NASA en die wetenskaplikes die mense bedrieg. Die materiaal wat hulle vrystel is gedokter, fotos en dies meer. Op die wyse word die waarheid van die Bybel in twyfel getrek. As mens die tekste naslaan wat gekwoteer word soos bv gegrondves op die seë en vasgestel op die strome, gebou op pilare sodat dit nie kan wankel nie ens dan kan hulle redenasies dalk water hou. Die Bybelskrywers het sekerlik nie die vaagste idee gehad van die werklikheid nie en derhalwe skryf hulle aan die hand van wat hulle ervaar het. My vraag is dus hoe moet mens die “platheid” van die Skrifte opweeg teen die wetenskaplike waarheid wat die teendeel sê?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Hierdie een is nogal nie so eenvoudig nie. Een van my bronne sê die volgende oor Genesis 1:

The Bible emphasizes a geocentric perspective (i.e. creation seen as a spectator on this planet would have observed it).

‘n Mens sal seker lank hieroor kan gesels, maar ek gaan net enkele opmerkings maak.  Die Bybelskrywers het ‘n ander wêreldbeeld gehad. Ten dele was daar ‘n drieverdiepingbeeld: hemel bo, aarde hieronder en water daaronder. Die Bybel gee nie hieroor ‘n wetenskaplike uiteensetting nie, maar sluit aan by hoe die mense toe die wêreld ervaar het, Soms is die beskrywing plat. soms beweeg die son oor hierdie plat wêreld om dan weer onderdeur terug te beweeg, soos in Psalm 19.

‘n Mens moet dus nie die Bybel se voorwetenskaplike wêreldbeeld teenoor die wetenskap plaas nie. Verder gebruik die Bybel dikwels beelde, wat nie letterlik verstaan moet word nie. Mense wat ‘n plat wêreld voorstaan, moet vertel waar ‘n mens dan oor die rand kan val. Ek dink nie ‘n mens moet hierin enigsins die Bybel en die wetenskap teenoor mekaar stel nie.

Ek weet nie of dit regtig help nie, maar ek sien nie kans om in detail op plat aardeteorieë in te gaan nie.

Ek gaan wel by ‘n kollega navraag doen of hy hieroor goeie verwysings het.

 

Hierdie kollega skryf soos volg:

Selfs onder die jong-aarde kreasioniste is plataarde-mense baie skaars. Eintlik weet ek nie persoonlik van mense wat nog ‘n plat aarde voorstaan nie en weet ek ook nie van literatuur daaroor nie, buiten wat ek op die Internet vind.

Ek het op Wikipedia gaan kyk en dit lyk my die “Flat Earth Societies” het na die koms van satelliete self platgeval en dat daar tans uiters min steun vir hierdie verenigings is.

Daar is egter wel aktiewe webwerwe wat plat-aarde teorieë verkondig. Hierdie teorieë stel nie soseer die Bybel en wetenskap teenoor mekaar nie, maar vervang die gangbare natuurwetenskaplike verklaring oor die vorm van die aarde met ‘n kwasi-wetenskaplike alternatief.
Al antwoorde waaraan ek kan dink (en eintlik is net die eerste twee hieronder werklik relevant) is:

(1) Die Bybel staan nêrens spesifiek ‘n plat aarde voor nie, hoewel die sogenaamde drie-verpieping wêreldbeeld wel deurskemer in sommige beskrywings in die Bybel. Of miskien beter: Daar word nie aan ons in die Bybel spesifiek ‘n kosmologie (hoe die heelal in mekaar sit) geopenbaar nie, wel dat God hemel en aarde met alles daarin geskep het. Die bewering wat gemaak word dat die Bybel en veral die middeleeue van ‘n plat aarde-konsepsie uitgegaan het, is nie noodwendig waar nie (sien: http://msgboard.snopes.com/cgi-bin/ultimatebb.cgi?ubb=next_topic;f=102;t=000449;go=newer en http://creation.com/flat-earth-myth).

(2) Daar is allerlei bewyse dat die aarde nie plat is nie. ‘n Mens sou kon verwys na vlugte om die aarde, satelliete, die werking van GPS’e en fotos vanuit die hemelruim, maar mense sou dit met die een of ander samesweringsteorie kon afmaak (soos CK Johnson en Samuel Shenton, moderne plat-aarde voorstaanders blykbaar gedoen het).

‘n Bekende eksperiment van ‘n roterende ronde aarde, is Foucault se pendulum (1851). Op die internet is daar heelwat oor hierdie eksperiment.
‘n Eenvoudige “bewys” is wat ek op skool in aardrykskunde geleer het: Drie skeepsmaste in lyn op eweredige afstande van mekaar (bv. intervalle van 500 meter). As jy van van mas A na mas C deur ‘n verkyker kyk, steek mas B beduidend uit. Dit verraai ‘n bolkurwe. Dit is die rede waarom hangbrue se maste nie absoluut parallel is nie: die bokante is effens verder uitmekaar as die basisse, hoewel al die maste loodreg-regop staan ten opsigte van die see-oppervlak. Of eenvoudiger: Waarom kan ‘n mens net die bokant van ‘n skip sien wat ‘n ent in die see is, selfs met ‘n sterk verkyker? As die aarde plat was, moes ‘n mens die hele skip gesien het.

‘n Mens sou ook na skynbare baan van sterre teen die hemelruim kon verwys soos gesien van die aarde af. Hoe anders draai die sterre op sowel die suidpool en noordpool eenvoudig in die rondte, buiten as die aarde rond is? Op Wikipedia (en ook by http://www.theflatearthsociety.org/cms/) is die logo van die 2013 Flat Earth Society. Dit is opmerklik dat die kontinente daarop rondom die noordpool gerangskik is (baie soos die VN se logo), maar dat Antartktika en die Suidpool nie verreken word nie. Sien wel by http://www.livescience.com/24310-flat-earth-belief.html waar Antartktika as ‘n yswal rondom die aarde voorgestel word, maar geen aanduiding gegee word hoe dit moontlik was vir soveel mense om Antartktika van een punt na die volgende deur te trek nie. Die afstand van een punt van Antarktika na die ander is wel ver, maar darem nie sooo ver nie (soos ‘n reis om al die kontinente).

 

(3) Teoreties sou die aarde ook konkaaf in plaas van konveks kon wees. Daar is ‘n lang argument daarvoor, waarvolgens ‘n mens moet aanneem dat lig nie altyd in ‘n reguit lyn beweeg nie en digtheid van materie verskil namate ‘n mens “op” gaan van die aarde af. Kyk op die Internet na Concave Earth or Hollow Earth. Hierdie alternatiewe werklikheidsbeeld is ‘n interessante teoretiese oefening in die fisika – natuurlik bloot hipoteties en uiters onwaarskynlik. Met so ‘n bietjie verbeelding kan ‘n plat aarde ook begrond word. Kyk na die 10 minute lange video wat op die relatiwiteit van ons kennis ten opsigte van die vorm van die aarde wys: https://www.youtube.com/watch?v=VNqNnUJVcVs. ‘n Plat aarde bly egter hoogs onwaarskynlik. Soos die video aantoon, berus dit slegs op ad hoc-bewyse.

Hoop bogenoemde kan bietjie help.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Bloedskande – Francois Malan

Elize vra:

Die Bybel oor bloedskande: jou pa, ma , oom, tante, broer, suster. Jou pa se vrou of ma se man (stiefpa en ma). Hoe moet mens dit verstaan, mag niggies en nefies dan trou met mekaar? Hoeveelste geslag is dit nie meer naasbestaande nie m.a.w nie meer bloedskande nie? Adam en Eva almal stam tog van hulle af. Watter geslag daarna is dit nie meer bloedskande. Net soos met Noag en sy kinders.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel gee aanduidings oor huweliksverhoudings tussen familielede in Levitikus 18 en die strawwe vir die oortreders in Levitikus 20. Levitikus 18:6 lê die algemene reël neer: ‘Niemand van julle mag met ‘n naby bloedverwant geslagsgemeentskap hê nie. Ek is die Here.’ Daarop volg die grade van verwantskap in 18:7-18:

 

nie met jou ma of jou stiefma nie (vgl. ook 1 Korintiërs 5:1 daaroor)

nie met jou suster of halfsuster aan vaders- of aan moederskant nie

nie met jou kleindogter nie

nie met jou tantes aan vaders- en moederskant nie, ook nie jou oom se vrou nie.

nie met jou skoondogter, of jou skoonsuster nie

nie met ‘n vrou en haar dogter of kleindogter nie

nie met jou vrou se suster solank jou vrou nog lewe nie.

 

Die strawwe word aangegee in Lev 20:11-12,17,19-20 en vers 21 voeg by: nie jou broer se vrou afneem nie.

 

Die Suid-Afrikaanse huweliksreg is gebou op die Romeins-Hollandse reg, wat die lys hierbo, met uitsondering van die laaste een, almal opgeneem en almal ook op die vrou van toepassing gemaak het en die volgende bygevoeg het:

Nie met jou dogter/seun; grootouers, seun se vrou/dogter se man;

stiefkleinkind; broers- of susterskind nie.

Niggies en nefies word nie tans in een van die twee lyste genoem nie.

 

Die aantasting van die gesagsverhoudings in die familie is as ‘n belangrike rede vir sedelike veroordeling van bloedskande gesien. Deur die ondergrawing van die gesagselement deur die ontaarding van die seksuele verhoudings raak die hele samelewing deurmekaar. Die aanwysings in Levitikus bou eintlik voort op die vyfde gebod wat die Here vir Moses op die berg Sinai gegee het: ‘Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat de Here jou God vir jou gee’ (Eksodus 20:12).

In huwelike tussen naby familielede ontstaan daar soms genetiese versterkings of afwykings (die gene word geërf van jou ouers en voorouers en bepaal die fisiese, intellektuele en emosionele karaktertrekke van ‘n persoon. Die genetiese kode wat die karaktertrekke beheer word oorgedra deur die DNA op die chronosome in die kern van die sperm en eierselle, wat saamsmelt tydens bevrugting. ‘n Kind word dus geskep uit die genetiese materiaal van albei ouers).

Dit werk blykbaar so dat waar die goeie gene van albei saamgevoeg word, die goeie eienskappe versterk word in die kinders; maar die swak gene se samevoeging kan ook die swak fisiese, intelektuele en emosionele eienskappe versterk in hulle nageslag. Dit kom dikwels tussen boers en susters en soms ook tussen neefs en niggies voor, en in ‘n mindere mate tussen kleinneefs en kleinniggies.

Die wet van Sinai is 403 jaar na Abraham aan Moses gegee (vgl. Galasiërs 3:17) baie lank nadat Adam en Eva, en Noag gelewe het. Maar reeds in die wette van Hammoerabi, die koning van Babel, wat ‘n tydgenoot van Abraham was, was daar al aanwysings wat die huwelike tussen naby familie verbied het, omdat hulle die slegte gevolge daarvan op die nageslag gesien het.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Ou mates – Herrie van Rooy

Marita vra:

Watter mates is eva, hin en hoe lank is n el.
Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Hierdie tipe mate gaan in die nuwe vertaling, die direkte vertaling, gebruik word met telkens ‘n voetnoot wat die verduidelik:

 

efa: ‘n Inhoudsmaat vir droë materiaal. Een efa was omtrent 22 liter koring of gars of meel.

hin: ‘n Inhoudsmaat vir vloeistof. Een hin was ongeveer 3,8 liter

 

Dis hoe die voetnote in die Direkte Vertaling dit aandui.

 

‘n El was ongeveer 43 sentimeter. Mens kry ook die ou el, of die koninklike el, wat soms gebruik word. Dit was ongeveer 51 sentimeter.

Skrywer: Prof Herrie van Rooy