Vergifnis – Francois Malan

Anna vra:

Hi, ek het iemand wie ek moet vergewe, alhoewel dit moeilik is. As ek sover kan kom om te vergewe, maar ek wil die persoon nie sien nie, is ek dan verkeerd. Ek worstel met vergifnis teenoor die persoon.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Ek weet te min van die redes agter die vraag om spesifiek daaroor ‘n mening te gee; maar bied hieronder Bybeltekse aan wat die Here se aanwysings oor vergifnis vir ons gee.

In Matteus 6:14-15 sê Jesus vir sy dissipels: As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe, Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.

In Matteus 18:21-35 vra Petus vir Jesus: Here hoeveel keer moet ek my broer (mede-gelowige) vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?

Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.

Daarby vertel Jesus toe ‘n gelykenis oor hoe die koninkryk van die hemel vergelyk kan word, met ‘n koning vir wie sy amptenaar miljoene rand geskuld het, en toe hy om uitstel vra het die koning hom van al sy skuld vrygestel. Maar toe die amptenaar ‘n mede-amptenaar wat hom ‘n paar rand skuld kry, het hy hom gewurg en in die tronk laat gooi. Toe die koning dit hoor het hy die eerste amptenaar laat haal en gesê Jou skurk, ek het jou jammer gekry, moes jy nie ook jou mede-amptenaar jammer gekry het nie? Toe het die konng hom oorgegee om gemartel te word totdat hy sy skuld betaal het.

So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.

In die Onse Vader wat Jesus ons leer bid het, bid ons ook (Matteus 6:12) ‘en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.’

So vergewe God al die sondeskuld van ons hele lewe as ons in berou na Hom toe kom in gebed, en verwag Hy dat ons mekaar ook van harte sal vergewe. Dit beteken dat ons nie kan sê: ek wil die persoon nie sien nie.

In Matteus 5:44-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (deur ook julle vyande lief te hê). Vergelyk ook Lukas 6:27-36

Romeine 12:26-27 sê: As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Was daar reuse in die ou tyd? – Fanie Snyman

Jan vra:

Op ‘n program “Hoe verklaar mens dit” van RSG voorlaaste Sondag beweer ‘n paleontoloog prof/dr? Jurie van den Heever dat die bestaan van reuse soos beskryf in die Ou Testment liefs met ‘n knippie sout bejeen moet word. Goliat het waarskynlik aan ‘n ongeneeslike siekte gely  wat hom so uitermate groot laat word het. Hy was waarskynlik as gevolg daarvan bysiende vandaar die feit dat iemand hom moes lei. Dit het hom ook dubbel laat sien  – “jy kom na my toe met stokke” alhoewel Dawid net ‘n enkele staf by hom kon gehad het.

Verder is beweer dat die fotos van uitgrawings van skelette gemanupileer is om groterige kopbene ens te wys.

Die storie van die Boek sê Goliat was ‘n dapper vegter. Op welke manier sou dit moontlik wees  om die Goliat verhaal asook die van die reuse van Genesis 6 te verifieer?

 

Antwoord

Prof Fanie Snyman antwoord

Hiermee my antwoord op die vraag oor die reuse in die Ou Testament.

Die verhaal van Dawid en Goliat bly een van die immergroen verhale van heldhaftige optrede in die Ou Testament. Immers, die onwaarskynlike gebeur hier. Dawid, ‘n jong en aantreklike man met weinig militêre ervaring, oorwin die reus Goliat selfs sonder ‘n swaard (I Sam 17:50) met net ‘n enkele klip uit sy slingervel. Die oorwinning wat ‘n enkeling (Dawid) behaal word dan ook ‘n simboliese oorwinning oor die Filistyne as kollektiewe vyand. Die insident word dan ‘n belangrike moment in die opgang wat Dawid maak as toekomstige koning van die verenigde ryk van Juda en Israel.

Goliat word in ekstreme kleure geteken. Geweldig lank (3 meter!), groot met ‘n wapenrusting van 75 kg wat hom haas onoorwinlik maak. Die klem val egter op Dawid, veel meer as op Goliat. Daarom moet ons versigtig wees om meer uit die teks te haal as wat die teks vir ons bied.

Genesis 6:1-4 staan nie in verband met Goliat se lengte en aanduiding as reus nie. Genesis 1-11 staan bekend as die sogenaamde voorgeskiedenis dus die gedeelte wil geen akkurate historiese feite aan die lesers meedeel nie. Die gedeelte moet eerder verstaan word in die konteks van die toenemende afvalligheid van mense wat die sondvloed genoodsaak het.

Daar bestaan geen argeologiese bewyse vir die bestaan van sulke “reuse” uit die voortyd nie.

Skrywer:  Prof Fanie Snyman




’n Bonatuurlike kerkdiens – Hermie van Zyl

Anna vra:

As ‘n kerk ‘n “supernatural” of bonatuurlike diens aanbied, wat beteken dit? Is dit volgens die Bybel?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Verskillende kerke het verskillende tradisies waarbinne hulle opereer. Daar is byvoorbeeld die kerke van die Gereformeerde tradisie waar dit heel stemmig en sober daaraan toegaan omdat die klem hoofsaaklik op die Woordverkondiging val. Sulke dienste kan deur sommige mense as baie “intellektueel” beleef word, omdat dit meer gaan oor die kerkleer en oor kopkennis as oor die belewing van die Christelike geloof.

Ander kerke is weer meer sakramenteel ingestel, soos die Rooms Katolieke Kerk, waar bepaalde rituele die erediens bepaal. Dis amper asof die Christelike geloof in ‘n drama opgevoer word en die gemeente, hoewel passief, tog deel het aan hierdie drama, veral deur middel van vaste formules, gebede, simboliese handelinge en die sakramente. Die gemeente word as ‘t ware deur die voorganger (priester) begelei en kry so deel aan die “Christelike drama”.

Ander kerke, soos die sogenaamde charismatiese kerke, is weer meer op belewing ingestel. Hoewel Woordverkondiging ‘n rol speel, is die klem op die vrye werking van die Gees in lidmate se lewens. Daarom word mense aangemoedig om vrye uiting te gee aan hoe die Gees hulle in die erediens lei. Uiteraard is daar binne charismatiese kerke ook verskille, en dis veral gemeentes waar baie klem gelê word op die Gees se bonatuurlike werking waar hierdie “bonatuurlike” dienste aangebied word. Wat tipies gebeur, is dat mense tydens die diens in tale sal spreek, met hande in die lug die Here sal prys, “neergevel” word deur die Gees, en waar wonderbaarlike genesing ook mag voorkom. Ek vermoed dat die vraagsteller veral na laasgenoemde gebeure verwys in haar vraag na “bonatuurlike” dienste, want alle klem word geplaas op die bonatuurlike gawes van die Heilige Gees wat binne die diens tot uiting kom.

Mens kan nie sê dat die een tradisie beter of meer reg is as die ander nie, want al hierdie tradisies het hulle wortels in die Bybel. Neem byvoorbeeld waar Paulus raad gee aan die Korintiërs in 1 Kor 12,14 oor die beoefening van die geestesgawes. Daar was duidelik ‘n mate van “onordelikheid” in hierdie gemeente se eredienste. Mense het blykbaar geprofeteer en in tale gespreek. Paulus sê nie hulle moet ophou daarmee nie, maar sê wel dat alles ook ordelik daaraan moet toegaan (1 Kor 14:39-40). Daar is plek vir beide die beoefening van die bonatuurlike geestesgawes én die verstaanbare prediking, solank alles tot opbou van die gemeente geskied (1 Kor 14:26).

Dit is ook so dat mense in hulle godsdiensbelewing verskil. Sommige hou meer van stemmige en “verstaanbare” dienste, ander hou weer meer van dramatiese gebeure waar hulle die werking van die Gees kan erváár. Dit is een van die redes waarom daar verskillende kerklike tradisies rondom die erediens ontwikkel het. Maar mens kan nie sê dat die een tradisie beter, of meer Bybels, of meer reg in die oë van God is as die ander nie. Mens moet daar gaan kerk bywoon waar jy tuis voel en waar jy ervaar dat jy in jou verhouding met die Here die beste gevoed word. Solank ons net nie sê dat dit in die kerke waar daar opsigtelik meer opsienbare dinge voorkom, meer geestelik daaraan toegaan as in kerke waar die erediens stemmiger verloop nie. En solank alle tradisies vashou aan die kernwaarhede van die evangelie van Jesus Christus, kan ons mekaar ruimte gee vir verskillende belewinge van ons verhouding met Christus.

Laastens moet mens ook opmerk dat daar ongelukkig baie bedrog in die Naam van Christus plaasvind. En wanneer mens vermoed dat sekere gebeure nie eg is nie, geforseerd voorkom of opgeblaas word vir blote sensasie en vir mense se bevrediging, dan begin die gevaarligte aangaan. Mens moet dus ook voortdurend die “geeste ondersoek” en onderskei of dit eg is.

Saamgevat: die verskillende maniere waarop kerke hulle eredienste inrig, lê ingebed in die tradisies waaruit daardie kerke kom. Elkeen kan aanspraak maak op egtheid en op Bybelse begronding. Maar elkeen moet ook voortdurend selfondersoek instel of dit wat by hulle gebeur werklik tot eer van die Here is, en of dit bloot menseverheerliking is. Dit is waarskynlik beter dat daar in elke erediens ‘n gesonde mengsel is van lering uit die Woord én belewing van die verhouding met God, deur gebed, sang, simboliese handelinge en selfs “bonatuurlike” gebeure, as dit binne daardie kerk se tradisie val. Solank mens net besef dat “bonatuurlik” nie net in bepaalde opspraakwekkende gebeure manifesteer nie, maar ook voorkom wanneer die Gees stilweg sy oortuigingswerk in ‘n mens se hart doen.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Hoe verander ’n mens wat in ’n verhouding met God staan? – Francois Malan

Willie vra:

2 Petrus 1-
1. VERS 3-God het my alles gegee wat ek nodig het om te lewe en om Hom te dien – of Sy Godelike krag het ons alles laat kry om naby aan Hom te lewe
2. VERS 5 – Julle moet alles in julle vermoë doen om te wys dat die beloftes vir julle waar geword het .( Beloftes waarna in vers 4 verwys word .)
3. Vers 5 b – Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is
4. Dan , 1) Goeie leefstyl ek 2) Leer God beter ken- 3) myself dissiplineer – 4) kan uithou en aanhou-5) lewe naby aan God
5. VERS 9 – mense wie se lewens nie wys dat God se beloftes in hulel waar geword het nie is blind, kortsigtig.
6. Vers 10- Werk nog harder daaraan om met my leefstyl te bewys dat God my geroep/gekies het

Vraag 1- ek wil gaag verstaan wat God my gegee het om naby aan Hom te lewe.
Die verlange om naby aan Hom te wees is daar . Die begeerte om gehoorsaam te wees is daar.Ek doen moeite met my stiltetyd . Ek sukkel kwaai met die volgende ;
Ø Ek is baie oplvlieënd
Ø Ek het n kort humeur
Ø Ek kom as ongeskik oor
Ø Ek sukkel verskriklik as iets verkeerd gaan – bv, as ek n fout by die werk maak – ek moet bysê die genade is maar min en foute veroorsaak ‘n groot lawaai. Soms as iets breek by die huis – ek is ook geneig om myself vir dae aaneen oor die kop te slaan en somtyds is dit of my hele wêreld in duie stort
Ø Die voorbeelde wat ek hierbo noem is deel van hoe ek is , nog al my lewe lank – maar alles , ook my verhouding met God is ‘n integrale deel van my totaliteit- ek kan dus nie die twee in twee afsonderlike kompartemente deel nie
Vraag 2 – Hoekom kry ek dit nie reg om bogenoemde punte , wat my lewe so vergal , onder beheer te kry nie?Hoekom verander ek as mens dan nie? Dit is aspekte wat van my ‘n ongelukkige mens maak . Dan voel dit vir my Fil 4:4 is ook nie heeltemal deel van my lewe nie en dan raak die vrede waarna Fil 4:7 verwys ook vir my n vreemde begrip. Om weer terug te gaan na Petrus se 2e brief , vers 3-10- volgens die kommentaar in die Bybellenium word n mens juis minder oplvlieend. Hoe word vers 5 en vers 10 waar in my lewe?
Sal U my asseblief help om die beter te verstaan want ek smag daarna om n beter , meer intieme verhouding met God te hê , waar ek baie meer gehoorsaam is aan Sy wil . Tans voel dit vir my ek stel Hom net teleur .( vir 60 jaar al )

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die kreet het eintlik ‘n pastorale berader nodig wat geraadpleeg moet word. By die webwerf antwoord ons oor Bybelkennis. Dit probeer ek hieronder oor wat die Bybel oor geduld sê, maar ek sou Willie aanraai om meer gespesialiseerde hulp te kry.

Die verhouding met God is ‘n geloofsverhouding, om Hom te vertrou, dat Hy steeds met my besig is om my te vorm vir sy diens, en op sy tyd. Dit gaan nie oor my gevoelens van intimiteit met Hom nie. Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien of gevoel word nie (Hebr 11:1).

Die Bybel is vol oproepe om te wag op die Here (die 1983-vertaling vertaal gewoonlik die ‘wag’ met ‘vertrou’) vgl. bv. die hele Ps 27, veral vers 14; Ps 37 en veral vers 34; Ps 130 veral verse 5-7).

Geduld is een aspek van die vrug van die werking van die Heilige Gees in ons lewe (vgl. die nege aspekte van die vrug van die Gees in Gal. 5:22-23). Die Griekse woord vir geduld, makrothumia, beskryf ‘n toestand van emosionele kalmte te midde van provokasie/uittarting of ongeluk, om onder omstandighede kalm te bly sonder om te kla of geïrriteerd te word.

Ons word gewoonlik kwaad as ons, of iemand na aan ons, te na gekom word volgens ons oordeel. In Romeine 12:19-20 sê Paulus: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van die Here. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.

Die oorgee aan die Here in sulke omstandighede, is so belangrik. Dat ek nie self my, en ander, se sake wil reël en regstel nie, maar dit aan die Here oorlaat en my daarin berus dat Hy sal sorg, en dat Hy daarmee ‘n plan het, ook vir my lewe. Dit geld vir elke oomblik van die dag. In Jesaja 30:15 sê die Heilige van Israel: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Die woord ‘heilig’ het ook die element van toewyding. Die Heilige van Israel beteken dat die Here aan Israel as sy volk toegewy is, ten spyte van hulle swakhede en sonde. So sê Romeine 8:31: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Romeine 8 sê verder dat ons deur Hom wat ons liefhet, meer as oorwinnaars is in lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard. Want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie (8:35-39).

As God ons dan só lief het, in ons kom woon het met sy Heilige Gees van die liefde (8:9-11) waarom sal ons dan kwaad word oor dinge en mense?

Kolossense 3:8 sê: Maar nou moet julle ook van al hierdie dinge ontslae raak: toorn, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom.

Kol 3:12-15 sê: omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigeen ‘n klagte teen enigiemand het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Bo en behalwe al hierdie dinge moet julle julle beklee met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer…’

Soos ‘n ou stuk klere wat jy uittrek en weggooi, so moet ons bewustelik ons elke dag daarop toe te lê om op te hou om kwaad te word, selfs op pad nie kwaad word vir die ander motoris wat ‘n verkeerde ding doen nie, of vir iemand by die werk of by die huis wat my te na kom nie.

Dit kan ons slegs regkry as ons elke oomblik van die dag ons daarop toelê om vriendelik en goed, nederig, sagmoedig en geduldig te wees teenoor almal.

Oor die nederigheid sê Filippense 2:3-4: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. En dan gaan Filippense voort om te sê dat ons dieselfde gesindheid onder mekaar moet openbaar as wat in Chirstus Jesus was, wat Homself en sy goddelike gestalte prysgegee het en aan ons mense gelyk geword het en Homself verneder het tot die dood aan die kruis toe – ter wille van ons!

Laat die vrede van Christus (wat Hy vir ons bewerk het deur ons verhouding met God reg te maak toe Hy al ons sonde en sondeskuld op Hom geneem het) in julle harte regeer – die hart as simbool vir die sentrum van ons beslissings. Die vrede met God beteken ook dat ons in vrede met mekaar lewe as kinders van God se groot gesin van gelowiges. En die vrede begin by my wat die ander persoon vergewe en verdra (Kol 3:13.15).

Kom tot stilstand, wees stil, laat die vrede van Christus deur jou vloei na ander, en vertrou op God.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan