Vertrou God vir die regte tyd – Kobus Kok

God se tyd is die regte tyd. Ons moet die proses vertrou al is dit somtyds swaar en onseker.

Toe ek en my broer Barry kinders was het ons sywurms gehad. Dit was nog in die goeie ou dae waar die kinders nog moerbeie en moerbeiblare by die bure kon “leen”. Dit was ook die tyd wat ons nog plekhouers vir die Bybel gemaak het deur jou sywurm op ʼn coke-bottel se prop te laat spin rondom ʼn hartjie of ʼn vierkant of een of ander vormpie wat jy dan vir jou ouma as ʼn geskenk gegee het. Ons twee boeties het behoorlik kompetisie gehou en die een het sy wurms beet gevoer om rooi en pienk vormpies te weef en die ander selfs groen of geel blare gevoer. Dit was gróót besigheid. So gebeur dit toe die een dag dat ek en Barry ongeduldig word vir die motte wat nie uit die kokonne wil kom nie. Ons het toe geoordeel dat ons hulle moes “help”. Ons besluit om my ma se kombuisskêr nader te trek en sny toe netjies die kokonne oop om die wurmpies te help uitkom. In ons naïewe verbasing het ons op ʼn stadium die sterwende en kwynende wurmpies na ons ma toe gevat om te hoor wat aan die gang is. “Kyk mamma, ons het die wurmpie uitgehaal om hom te help, maar iets is fout met almal wat ons oopgemaak het.” Haar woorde daardie dag het die wysheid van haar jare getransendeer: “Seuns, die Here het ʼn tyd vir alles, en wat julle nou gedoen het was om die tyd vir die wurmpies ryp te druk. Nou is die wurmpies nie sterk genoeg vir die nuwe fase nie. Eintlik het julle nie die wurmpies “gehelp” nie, maar juis die wurmpies skade aangedoen. Hulle sal nooit kan eiertjies lê of ooit kan spin nie. Die wurmpie moes self deur die kokon veg en sy vlertjies en lyfie sterk maak sodat hy sterk kon word vir die nuwe fase”. My moeder se woorde bly my vandag nog by. Ek en my broer het so sleg gevoel, maar tog so diep verstaan. Sommige dinge in die lewe kan mens gewoon nie ryp drúk nie. Het jy al ooit probeer om ʼn avokadopeer ryp te druk? Sommige dinge vra tyd. Sommige dinge kan alleen “reg” wees vir die nuwe of volgende fase, indien dit deur die stryd van die vorige gegaan het. Soms het ons “woestyn” nodig voordat ons die beloofde land kan beleef. Soms gaan ons deur moeilike tye waarin ons die diepte moet ontwikkel wat nodig is vir die spesiale plek waarheen die Here ons wil neem. Soms moet ons die proses vertrou en wag vir God se tyd en God se seisoen. Die vraag is dus, in watter seisoen is ons nou en watter karakter-ontwikkeling wil God ons nou laat beleef? Ons is almal in ʼn seisoen. Word stil en luister wat God in hierdie seisoen vir jou wil leer. Laat jou hart rustig word in Hom. Augustinus het eenmaal gesê: “Die mens se hart is onrustig, totdat dit rus vind in God”. Dawid, in ʼn tyd wat Saul hom gejaag het en hy met die dood gedreig was, het hy midde-in die konteks, midde die vervolging en swaarkry, ʼn beeld van God ontvang: God het vir hom in Psalm 57 gewys dat hy hom beskerm deur sy vlerke oor hom te span. Nadat hy daardie beeld sy eie gemaak het, bid hy tot die Here in Psalm 57:8 “My hart is standvastig, O God, my hart is standvastig” [letterlike vertaling]. In die oorspronklike Hebreeus sê hy: “Nagon [standvastig/rustig] Libi [my hart], Elohim [O, God], Nagon Libi”. Mag God jou in hierdie tyd, in voorbereiding vir Paasfees waar ons in die seisoen van Lent geestelik vas in voorbereiding vir Paasfees, net weer herinner aan Sy beloftes en Sy trou. Hy is op weg met jou en jou lewe. Vertrou Hom, ook in jou swaarkry of in jou kokon-tyd. Jy word nou voorberei vir die nuwe seisoen, en jy moet sterk word sodat jou vlerke waarlik kan sprei as die kairos tyd van die nuwe seisoen aanbreek. Wag getrou op die Here – Hy is getrou.

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




DIKWELS IS DIE KERK KOUER AS DIE AGORA…. – Kobus Kok

Kommentaar op Gal 6:10

Na bykans 24 uur in transito tussen Afrika en Europa en drie kilometer se sleep van my koffer deur die winter reën, kom ek uiteindelik by die sentrum van n bekende universiteitstad in die Laaglande aan. Soos die meeste Europese stede spog die stadsaal en die Kerk in die sentrum. Die eerste stilhouplek vir n Teologiese pelgrim, is meestal die Kerk. Ek gaan die imposante katedraal binne, en merk dadelik die gewyde atmosfeer van die nagmaal op. Die Priester gaan sakraal met die sakramentbediening om. Dit is n spesiale moment. Ek dank God vir die reis en die geleentheid en bid saam met die handjievol oumense wat die diens bywoon.

Die man wat die afkondiginge doen, praat met n imposante stem terwyl hy die komende maand se groot gebeure afkondig. Na die diens strompel en soek ek rond met my reuse tas, rooi oë en dag-oue-baard na die WC (Badkamer). Die man wat die afkondiginge gedoen het begin so stadig maar seker die tekens gee dat hy wil sluit. Ek vra of ek asb net vinnig die WC mag ingaan. Hy kyk my so op en af. Ongeduldig sê hy :”No, we do not cater for such needs”. Hy verwys my terug na die stasie. Die probleem is nou net dat die stasie vrek ver terug in die reën is – n paar kilometer! Verder het ek nie n sent Europese geld aan my nie en dit kos omtrent R7 net om by die WC (Badkamer) by die stasie in te gaan. Vir een of ander rede wou die bankteller nie my kaart lees nie. Ek het dus n reuse probleem! Ek is n vreemdeling in n vreemde land en ek is letterlik pennieloos! Die kerkman se koudheid en ongasvryheid laat my weerloos in die ys-weer. Ek het so gehoop die “Kerk” sou minstens die hand uitreik.

Buite gekom reën die ysdruppels my nat. Ek hef my oë op na die hemel en wonder waar my hulp vandaan gaan kom. Aan my regterkant gewaar ek n Engel met ‘n camel-light of iets dergeliks in sy mond. Die kelner van die bar teen die Kerk vat ‘n smoke-break. Die bar/restaurant aangrensend aan die Kerk heet “Agora”. In Jesus en Paulus se tyd was die Agora die mark- die “onheilige” ruimte in kontras met die “heilige” tempel. Ek vra die man of hy weet waar die naaste WC is. Die man is gasvry en vriendelik:

“You are welcome to use our WC”, sê hy en nooi my in voordat hy nog sy sigaret heeltemal klaar gerook het. In Leo die Kroegman se oë en menswees by die Agora het ek meer warmte en gasvryheid beleef as in die oë van die Kerkman. Vandag was die Agora my safe space, en nie die Kerk nie. Vanaand besef ek hoe belangrik dit is dat ons as Christene gasvry en warm moet wees. Dikwels is die Kerk kouer as die Agora!

Ag Here, vergewe my waar ek koud was en waar ék die “Kerk” kouer as die “Agora” gemaak het.

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Christus se wederkoms – Hermie van Zyl

Jan vra:

Gal 4: 4 en 5 sê: Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons aanneming as kinders kan ontvang.

Jesus het as kind die aarde betree. Op 8 jarige ouderdom vind hulle Hom reeds tussen die leraars om te luister en vrae te vra. Op 30 jarige ouderdom begin Hy sy bediening. Hy word gedoop in die Jordaan en die Heilige Gees daal op Hom neer in die gestalte van ‘n duif en ‘n stem sê uit die hemel: U is My geliefde Seun; in U het ek ‘n welbehae.

Vir 3 ½ jaar het Hy stelselmatig voortgegaan om dit wat die Vader van Hom verwag het uit te voer. By Sy hemelvaart was Sy volgelinge gereed om Sy werk voort te sit nadat hulle met die Heilige Gees gedoop is. En is hulle versekerd van Sy terugkeer.

Skrifuitlêers het nou allerhande voorspellings oor die wat, hoe en wanneer van Sy wederkoms maar soos ek dit verstaan sal Christus op ‘n tydstip op die aarde kom heers waartydens Hy die nasies met ‘n ysterhand sal regeer.

As Hy op hierdie oomblik moet arriveer sal Hy die ganse aarde in sy huidige stand van verwarring, vyandigheid, korrupsie en elke ander ding aantref en ek wonder net wat Sy modus operandi sal wees om beheer daaroor te neem. (Dit is as ou antichrist ook nog klaar is met die plek).

 

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As ek dit reg verstaan, is daar ‘n aanname en ‘n vraag vervat in die skrywe. Kom ons begin by die aanname. Die skrywer sê: “… maar soos ek dit verstaan sal Christus op ‘n tydstip op die aarde kom heers waartydens Hy die nasies met ‘n ysterhand sal regeer.” Die skrywer sê dit nie pertinent nie, maar dit klink asof hy aansluiting vind by die sogenaamde chiliastiese of millennialistiese standpunt. Hiervolgens sal Christus eers vir ‘n tyd lank (1000 jaar) op aarde regeer, voor die groot verdrukking kom en daarna die finale koms van die koninkryk van God. Daar is dus eintlik ‘n dubbele wederkoms van Christus in hierdie siening vervat: die eerste waar Hy sy duisendjarige vrederyk op aarde stig, en daarna die tweede of finale wederkoms waar die bose vernietig en die koninkryk van God finaal gevestig word. My aanvoeling is dat die skrywer hom breedweg by hierdie standpunt skaar, hoewel dit nie baie duidelik is uit die skrywe nie.

Vervolgens die vraag: Die skrywer vra dan verder presies hoe Christus by sy koms na die aarde (volgens bg interpretasie by die “eerste wederkoms”) beheer sal oorneem van die vyandelike magte om die onreg en kwaad te beveg en uit te roei.

Ek wil die vraagsteller nie sieninge ten laste lê waarmee hy hom nie noodwendig vereenselwig nie, maar bg is hoe ek die skrywe interpreteer en waarop ek in my antwoord kortliks wil reageer. My apologie as die skrywer nie nietjies inpas by my interpretasie van sy skrywe nie. Maar ten minste kan ek dan na aanleiding van my interpretasie ‘n paar opmerkings maak wat in elk geval sinvol mag wees.

Oor die aanname: Laat ek dadelik sê dat ek persoonlik nie die chiliastiese standpunt deel nie. Na my mening spruit dit voort uit ‘n soort fundamentalistiese Skrifbenadering waar te letterlik met die Skrifgegewens omgegaan word. Want gewoonlik word gegewens vanuit verskillende Skrifdele met mekaar geharmonieer wat nie gegrond is op goeie eksegetiese beginsels nie. Bv, gegewens uit Op 20, waar gehandel word oor die duisendjarige vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1 Tess 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind. Hulle ontmoet Christus in die lug, word geoordeel, en vier saam met Hom die bruilof van die Lam (Op 19). Die Satan word vervolgens gebind, en dan breek die duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op 20). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat, waarop die vernietiging van die Satan en die bose magte, die opstanding en oordeel van die ongelowiges volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek. Dit is in baie breë trekke die chiliastiese siening. Dit is nie my bedoeling om lg in diepte te bespreek nie. Daar is op hierdie webblad reeds deeglik hieraan aandag gegee en die leser kan bloot deur die sleutelwoord “chiliasme” in te tik volledig hieroor ingelig word.

Al punt wat ek probeer maak, is dat daar nie so met die Bybelgegewens omgegaan behoort te word nie. Gesonde eksegese behels dat eerder die unieke boodskap van elke Bybelboek vasgestel word, dat rekening gehou word met die ontstaanstyd en -omstandighede van elke geskrif, en dat die literatuursoort (genre) van elke Bybelboek ook in ag geneem word voordat enigsins probeer word om oorhoofse temas tussen Bybelboeke vas te stel. Indien hierdie eksegetiese riglyne gevolg word, sal ten minste twee resultate na vore tree. Die eerste is dat die Openbaringboek nie soseer met opeenvolgende tydperke opereer nie, maar dat dieselfde tydperk, naamlik die hele tyd tussen Christus se eerste en tweede koms (wederkoms), telkens met al groter wordende intensiteit beskrywe word soos wat die drama in die Openbaringboek van begin tot einde ontvou. Vervolgens moet ook in ag geneem word dat ons in Openbaring met die apokaliptiese genre te make het wat veral van simboliek gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Hiervolgens word van allerlei beelde, figure, getalle, kleure, ensovoorts (die meeste hiervan afkomstig uit die Ou Testament) gebruik gemaak om sy boodskap te kommunikeer. Dit is nie die bedoeling van die Openbaringskrywer dat hierdie simboliek letterlik opgeneem moet word nie. Dit verteenwoordig eerder ‘n soort kodetaal wat juis nie vir alle lesers sonder meer toeganklik was nie (waarskynlik om die eerste lesers teen vervolging te beskerm), en wat deur die eerste lesers “gedekodeer” moes word om die boodskap te ontdek (vgl bv Op 13:18). Eers wanneer die boodskap van Openbaring so ontsyfer is, kan dit versigtig met gegewens van ander Bybelboeke in verband gebring word.

Wat laasgenoemde betref, moet mens onthou dat verskillende Bybelboeke op verskillende maniere oor die wederkoms praat. Almal praat nie “dieselfde taal” nie. Want die Bybel is nie ‘n teologiese teksboek deur een outeur nie. Verskillende outeurs het op verskillende tye en vanuit verskillende agtergronde en met verskillende begrippe-apparate aan verskillende gehore geskryf. Maar dit beteken nie dat net omdat verskillende begrippe of beelde gebruik word, daar na verskillende wederkomste verwys word nie. Goeie eksegese moet juis uit die soms verwarrende aantal begrippe probeer agterkom wat die gemeenskaplikhede is en hoe hulle met mekaar in verband staan.

Wat my by die tweede resultaat uitbring, en dit is dat wanneer oor die wederkoms van Christus gehandel word, die gegewens van die Nuwe Testament die beste verstaanbaar is as slegs een wederkoms of tweede koms aanvaar word. Dit beteken dat Christus die eerste keer gekom het toe Hy as Kind gebore is, dat Hy ‘n aardse bediening gehad het, en dat (soos ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely) Hy gely en gesterf het en begrawe is, op die derde dag opgestaan het uit die dood, en gaan sit het aan die regterhand van God, vanwaar Hy weer sal kom (die wederkoms) om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Dus: ‘n eerste (aardse) koms, waartydens Hy sy heilswerk volgens die wil van die Vader voltooi het, en ‘n tweede koms (wederkoms) in heerlikheid wanneer sy koninkryk finaal gevestig word.

Binne hierdie siening moet ons Christus se oorwinning oor die bose waarvan die Bybel praat sowel as die voortgaande vernietigingswerk van die bose probeer verstaan. En die beste manier om dit te doen, is om te praat van die “alreeds” en die “nog nie” van God se koninkryk. Dit beteken dat met Christus se eerste koms na die wêreld die koninkryk van God inderdaad alreeds gekom het. Ons sien elke dag hoe hierdie koninkryk van genade, geregtigheid, liefde, vergifnis en erbarming in individue en gemeenskappe wortel skiet en vrug dra. Orals word tekens opgerig dat die mag van die bose gebreek is, en dat die koninkryk van God onstuitbaar deel geword het van die sigbare wêreld. Maar dit is ewe waar dat die bose nog deel is van hierdie wêreld en voortgaan met sy vernietigingswerk (dink hier aan die gelykenis van die onkruid tussen die koring, Matt 13:24-30,36-43). In daardie sin van die woord is die koninkryk van God nog nie hier nie. Die finale konsummasie van die koninkryk en vernietiging van die bose sal eers manifesteer by die wederkoms van Christus. Dan daal die hemel op aarde neer en word die aarde en hemel nuut gemaak, tot in alle ewigheid. Maar in die tyd waarin ons nou lewe, moet ons met ‘n situasie rekening hou waar die koninkryk tegelyk alreeds gekom het én ook nog nie gekom het nie. Beide is gelyktydig waar. Dit is dit realiteit waarin die kinders van God lewe.

Om dus die vraag van ons skrywer te antwoord, naamlik presies hoe Christus beheer sal oorneem van die wêreld en sy mag laat geld, sou ek dit nie graag in terme van die chiliastiese siening wou beantwoord nie. Want wat my betref is dit ‘n verkeerde aanname en sal dit net tot allerlei spekulasies en voorstellings lei wat nie Bybels verantwoord kan word nie, tensy mens natuurlik op ‘n biblisistiese en fundamentalistiese wyse met die Bybel probeer omgaan, ‘n weg wat ek bo reeds afgewys het. Maar as die vraag in terme van die “alreeds” en “nog nie”-skema beantwoord word, kan ons sê dat Christus al die afgelope 2000 jaar besig is om beheer te neem van die wêreld deurdat sy koninkryk van liefde en geregtigheid oor die hele wêreld versprei. In hierdie verband is die boek Handelinge ‘n prototipe van hoe dit gebeur. Ten spyte van al die destydse teenstand – vervolgsugtige Jode; natuurlike gevare (bv Paulus se skipbreuk); die ongeërgdheid, teenstand en onkunde van mense; Romeinse gesagsfigure wat enersyds geen erg het aan die evangelie nie en andersyds tog by geleentheid onwetend beskerming verleen aan die verspreiding van die evangelie – breek die Woord onstuitbaar vir hom ‘n pad oop in ‘n vyandige wêreld, beginnende in Jerusalem en voortgaande in al wyer wordende kringe tot onder die neus van die keiser in Rome. Sodat die boek afsluit met die woorde dat Paulus met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering die koninkryk van God verkondig het (Hand 28:31).

En dít het die patroon geword deur die afgelope 20 eeue. En dit is steeds die pad wat die Woord loop. Daar is nie ‘n ander pad nie. Stadig maar seker word God se koninkryk op aarde gebou, totdat die tyd aanbreek wat God bepaal het vir sy Seun se wederkoms. Maar oor lg het ons geen kennis van of beheer nie. Alleen God bepaal hierdie datum in sy alleenwysheid. Al wat ons – die kerk op aarde – kan doen, is om getrou te wees aan die taak wat Hy ons opgelê het: om Christus se getuies te wees – in eie kring en tot in die uithoeke van die aarde (vgl Hand 1:8). Daar is nie ‘n ander manier waarop Jesus beheer neem van die wêreld nie.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Borg te teken – Vraag vanaf FaceBook ontvang – Hermie van Zyl

Susan vra:

Kan iemand my asb sê waar dit in die Bybel staan dat dit verkeerd is om vir iemand borg te teken.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die tekste wat gewoonlik hier ter sprake is, is Spreuke 6:1-5; 11:15; 17:18; 20:16; 22:26-27. Hulle almal waarsku die leser om nie vir ‘n ander borg te staan nie.

Toeligting: Ons moet onthou dat die Spreukeboek oor praktiese wysheid handel, d w s, oor wat die lewe ‘n mens leer om met insig en wysheid op te tree. Dit is niks anders as goeie raad wat ‘n ouer sy kind gee sodat dié nie vasgevang word in strikke waaruit hy/sy moeilik sal kom nie. Dieperliggend is ook die gedagte dat wie met hierdie praktiese wysheid optree – volgens hierdie goeie raad handel – binne die wil van God vir menslike lewe optree, omdat dit ten diepste God is wat die wysheid skenk vir ‘n goeie lewe. Praktiese wysheid, vanuit die perspektief van die Spreukeboek, is dus niks anders nie as ‘n verlenging van God se gebooie.

So het die Spreukedigter dit dan meermale gesien dat wie vir ‘n ander borg staan, bedroë daarvan kan afkom. Want jy boet uiteindelik jou vryheid en persoonlike finansiële integriteit in waarmee jy veronderstel is om vir jouself en jou gesin te sorg. Op die ou end is jy ‘n gevangene van ‘n ander se skuld en slegte oordeel. Daarom dat bv Spr 6:1-5 sê dat jy alles in jou vermoë moet doen om uit so ‘n situasie te kom – sodat jy weer vry kan wees om die lewe te lei wat God aan jou gegee het. Maar die heel beste is om in die eerste instansie glad nie by ‘n borg stanery betrokke te raak nie.

Die vraag ontstaan of hierdie raad nie strydig is met ons Christelike roeping om ‘n oop hand en hart vir ander te hê nie. Nee, laasgenoemde bly onverdund ons roeping, daarvan is beide Ou en Nuwe Testament vol. Al waarteen Spreuke waarsku, is dat die manier waarop ons moet help, nie dié van borg staan moet wees nie. Want só het jy geen beheer oor jou hulpverlening nie. Beide die skuldeiser van die een vir jy borg staan, asook laasgenoemde self, kan omdraai en allerlei eise aan jou stel wat jy nie aanvanklik voorsien het nie en waarvan jy die einde nie sal sien nie. En dan is jy in die moeilikheid. Help eerder op ander maniere waardeur jy nie die gevaar loop om finansieel geruïneer te word nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl