Regverdigheid en redding – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ons dien ‘n regverdige God, dit glo ek met my hele hart. Ek probeer egter verstaan hoe dit werk met verskillende groepe mense wat nie dieselfde voorregte as ons het om God te leer ken nie. In die ou Testament is daar bv. die Amalekiete of Hetiete of wie ook al wat buite Israel staan. As ek as een van die volke buite Israel gebore is en grootword met afgode sonder om in aanraking te kom met God, en my hele stad (mans, vrouens, kinders en diere) word uitgewis, waar sou ek die kennis kry om by ‘n punt te kom waar ek ‘n keuse vir of teen God kan maak? Dieselfde geld vir ‘n Romein of Samaritaan voor die evangelie versprei is na heidene of selfs vandag in lande waar die evangelie bloot nie geduld word nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Jy vra een van daardie vrae wat eintlik onbeantwoordbaar is, gewoon omdat ons nie die volle prentjie het soos God dit het nie. As Christene glo ons dat Christus die enigste weg na die lewende God is. Alle ander weë (godsdienste) is dus vals en afgodery. Hierdie oortuiging vorm terselfdertyd die grootste motivering vir sendingwerk, want as mense hulle nie tot Christus bekeer nie, is hulle vir ewig verlore. Dit is die konsepte waarmee ons grootgeword het.

So ‘n (simplistiese) siening roep egter by baie mense vandag weerstand op. Moet ons regtig aanvaar dat miljoene nie-Christene wat deur die eeue geleef het en nog gaan lewe vir altyd verlore is net omdat hulle aan die “verkeerde kant van die draad” gebore is? Is dit hoe ‘n liefdevolle God werk wat regverdig oor alle mense oordeel? En wat van die miljoene wat vóór Christus geleef het, of wat ná die koms van Christus nooit die kans gekry het om die evangelie te hoor nie – is hulle ook verlore? Is daar niks goeds van ander godsdienste te sê nie? Werk God se genade nie onder alle mense nie, ongeag of hulle Christene is of nie?

Hierdie vrae stel Christene voor moeilike kwessies, waarvan ons by voorbaat moet sê dat ons hier voor ‘n diepe misterie staan wat nie regtig te deurgrond is nie. Ons sal nie op aarde by glashelder, finale antwoorde uitkom nie.

In die grond van die saak gaan dit oor twee waarhede wat met mekaar in verband gebring moet word. Enersyds bely Christene die universele Heerskap van Christus. Die Bybel leer ons inderdaad dat daar maar een ware God is, dat Hy Hom in Christus geopenbaar het, dat daar slegs een Naam is waaronder mense gered sal word – Jesus Christus – en dat ons die roeping het om van alle nasies sy dissipels te maak.

Andersyds was daar nog altyd in die hoofstroom Christelike denke die oortuiging dat God Hom nie onbetuig laat onder mense nie. Kragtens die feit dat almal na die beeld van God geskape is, is daar inderdaad by alle mense ‘n Godsbesef en die potensiaal tot ware Godskennis en aanbidding aanwesig, maak nie saak wie jy is of binne watter godsdienstige sisteem jy grootword nie.

Die spanning tussen die belydenis van God se finale en unieke openbaring in Jesus Christus en die erkenning van God se algemene maar egte werksaamheid buite Christus om is nie deursigtig of oplosbaar nie. Hierdie spanning sal bly en daarmee moet ons vrede maak.

Dié spanning hoef egter nie ons sendingywer te verlam nie. Dat sendingwerk nie in ‘n vakuum plaasvind nie, maar telkens ontdek hoe God reeds werksaam was waar die evangelie verkondig word, spoor ons juis aan.

Verder, ons werk met die oortuiging dat die Christendom ‘n bewese rekord het. Waar die hart van die evangelie eg aan die werk is, word omvattende redding en genesing gebring. Christene kan daarom hulle belydenis oor God se openbaring in Jesus Christus met oortuiging en onverdun uitleef, maar ook met beskeidenheid, wetende dat die vraag oor wie almal uiteindelik gered word, sy geheim is. Daarvoor moet ons wag tot by die voltooiing van die totale geskiedenis.

God se heilswerk in Christus is universeel, daarom moet dit aan almal uitgedra word. Maar presies hoe Hy die heil in Christus selfs buite Christus om meedeel, is ‘n misterie. Eers aan die einde sal die ware kinders van God aan die lig tree.

Oor God se misterievolle werking onder alle mense en godsdienste, wil ek graag die volgende voorbeeld gee, wat juis in hierdie tye van terreuraanvalle deur Islamgesinde mense ons weer tot besinning dwing oor al ons vooroordele. (Terloops, ware Islam-aanbidders is net so onsteld soos Christene oor hierdie aanvalle wat sogenaamd in die naam van die Islam gepleeg word. Moslemleiers is dit deur die bank eens dat dit nie die hart van Islam verteenwoordig nie.)

Maar die voorbeeld: ‘n Paar jaar gelede het ek die voorreg gehad om na ‘n praatjie van ‘n sekere dr Abuelaish (‘n mediese dokter) te luister. Hy is ‘n Palestyn en oortuigde Moslem wat in die Gasa-strook in Palestina gepraktiseer het. In 2009 het drie van sy dogters in ‘n Israeli tenkaanval op sy huis gesterf, net enkele maande nadat sy vrou aan kanker dood is.

Gegewe die slegte verhouding tussen die Palestyne en Israeli’s sou mens Abuelaish nie verkwalik het as hy wraak gesweer het nie. Dit is immers hoe dit in daardie geweste werk – bloed roep om bloed. Maar presies die teenoorgestelde het gebeur. Die tragiese gebeure het hom na sy Islam-wortels gedryf, en na volhardende gebed en besinning het hy tot die oortuiging gekom dat God hom tot iets beter roep. Hy hoef nie sy lewe met wraak te vergiftig nie, maar hy kan iets anders in die plek daarvan stel: liefdesdiens aan ander. Die beste manier waarop hy die nagedagtenis van sy dogters kan lewend hou, is nie deur te haat nie, maar deur geleenthede aan ander te bied. Hy roep daarom ‘n stigting in die lewe, Daughters for Life, wat beurse toeken aan meisies – waaronder Israeli’s – om hulle lewensdrome te verwesenlik. Hy wy sy lewe aan vergiffenis en naastediens.

Wat dring hom daartoe? Abuelaish glo dat ons grootste vyand nie die ander is nie, maar onkunde. Dis eers wanneer jy die ander ontdek in sy/haar gewone menswees dat begrip daag en nuwe verhoudings moontlik word. Verder, ons ken nie ons eie godsdienstige tradisies nie. Mense maak karikature van hulle eie godsdiens. So pas dit Moslem geweldenaars om net sekere dele van die Koran aan te haal om aanvalle op die “Groot Satan” – die Weste – te regverdig. Dis ‘n soort fundamentalistiese omgaan met jou eie tradisie wat jy eintlik net misbruik om jou eie idees en haat te vergoeilik. Terreur en ongebreidelde haat is egter nie waaroor die Islam gaan nie. Aldus Abuelaish.

Ook binne die Christendom kan groot onkunde heers. Ons klou dikwels verbete vas aan troetelopvattings – hoe skeef dit ook al is – en hou dit voor as Goddelike waarheid, sonder om te vra of dit is wat ons tradisie werklik sê. Daar is soveel onkunde oor wie en wat die Christus van die Christendom is en sê.

As elkeen opreg voor God die beste in sy eie tradisie soek en uitleef, en bereid is om met ander in gesprek te tree, sal ons verras staan hoe ons mekaar as gewone medemense ontdek. Dit beteken glad nie dat ek my identiteit as Christen moet prysgee of dat die uniekheid van die openbaring in Christus in gevaar gestel word nie. Inteendeel. Dit bring juis die besonderse daarvan na vore. Maar terselfdertyd word ook erkenning gegee aan die misterievolle werking van God se Gees wat baie wyer strek as die spesifiek Christelike.

En so verloor die eindelose geredekawel oor wie nou eintlik reg is, sy skerp kante. Die oordeel hieroor kan ons gerus aan God oorlaat. Ten minste weet ons wat ons as Christene aan God het – genoeg om getroos te lewe en te sterwe, en ‘n leeftyd van sinvolle diens aan God en naaste te lewer.

Ek vertrou dat bogenoemde gedagtes darem in ‘n mate help om die misterievolle werking van God se Gees van liefde op aarde te probeer peil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Onsterflikheid – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ek lei af dat alles wat God skape (minstens engele en mense) onsterflike wesens is, anders kon God bloot die gevalle engele doodgemaak het en net so sou Hy ook mense wat Hom nie kies nie, kon verdelg sonder die nodigheid vir ‘n hel. Is dit waar? Die gedagte dat mense en engele vir ewig en altyd moet bly betaal vir sondes en verkeerde keuses is moeilik om te verwerk in die lig van God wat liefde is. Boonop is daar dan ‘n hel wat vir ewig bewaak moet word. Waarom nie totaal en al net wegdoen met alles wat kwaad is nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Laat ons begin by die gedagte van onsterflikheid. Die Bybel praat nêrens van die mens (of engele) wat onsterflik is nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Van die mens word presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat hy stof en sterflik is (Gen 3:19; Pred 3:20). (Let wel: al die teksverwysings is volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling.) Die gedagte wat soms die ronde doen dat die mens uit drie dele bestaan – liggaam, siel en gees – waar die liggaam dan sterflik is en tot niet gaan maar die siel darem onsterflik is en vir ewig voortbestaan, is nie ‘n Bybelse gedagte nie.

Daar is baie begrippe wat vir die mens in die Bybel gebruik word, soos siel, liggaam, vlees, gees, hart, ensovoorts, maar dit beteken nie dat hulle die verskillende “onderdele” is waaruit die mens bestaan nie. Dis eerder so dat elkeen van hierdie terme die totale mens beskryf, maar dan ‘n bepaalde aspek van menslike lewe op die oog het. So kan “liggaam” en “vlees” in bepaalde kontekste die konkrete bestaan, broosheid, weerloosheid, sondigheid of sterflikheid van die mens uitdruk (vgl Matt 26:41; Rom 6:12; 7:18; 8:8). “Siel,” “hart” en “gees” kan weer die innerlike lewe of diepste oortuigings van die mens, of die mens in sy verhouding tot God weergee (vgl Ps 42:2-3; Luk 1:46-47).

Wat in die Bybel voorkom in terme van mensbeeld, is dus die gedagte dat die mens ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Hierdie gedagtegang stem ooreen met wat vandag in die mediese wetenskap algemeen aanvaar word dat die mens ‘n psigo-somatiese eenheid is (= eenheid van siel/gees en liggaam). Dit het natuurlik ook die implikasie dat as die mens sterf, daar nie iets “oorbly” wat darem “onsterflik” is nie. Die mens leef as eenheid van siel, gees en liggaam, en sterf as eenheid van siel, gees en liggaam.

Die punt is: die mens, of “iets” van die mens, beskik nie oor inherente onsterflikheid nie. Net God beskik oor hierdie eienskap. Maar wat wel waar is, is dat die Bybel duidelik sê dat die mens ná sy dood die ewige lewe beërwe of ewig in die hel deurbring. Hierdie lewe ná die dood is nie iets vanselfsprekend of noodwendig weens die inherente kwaliteit van die mens as onsterflike wese nie, maar is so omdat dit deur God aan die mens geskenk of toegedeel word. Ons het egter geen idee hoe hierdie lewe van die mens na die dood lyk nie. Al wat ons weet, is dat die mens (let wel, nie “iets” van die mens nie) ná sy dood óf in gemeenskap met God voortleef óf vir ewig in die hel bestaan. So sê Paulus: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Wie/wat is die “ek” van wie Paulus praat? Ons weet nie. Al wat ons weet, is dat daar een of ander kontinuïteit is tussen die totale mens vóór die dood en die totale mens ná die dood. Maar hoe dit presies daar uitsien, weet ons nie aan die duskant van die graf nie.

Hoe dit ook al sy, dit is veral die gedagte aan die mens wat vir ewig in die hel deurbring wat ons as mense wat glo in ‘n liefdevolle en regverdige God teen die bors stuit. Hoe bring ons ‘n ewige hel en straf, wat gepaardgaan met onbeskryflike pyn en ellende (vgl Mark 9:43-44; Luk 16:24-28; Open 20:10), in verband met die God van die Bybel wat sê dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg 33:11), of dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het en hulle hulle misdade nie toereken nie (2 Kor 5:19)? Kortom, dit is moeilik om die evangelie van liefde, genade en vergiffenis in verband te bring met ‘n God wat bereid is om mense vir ewig in ‘n plek van pyniging gevange te hou. Getuig dit nie van opperste wreedheid om mense vir ewig in die lewe te hou met die uitsluitlike doel om hulle te pynig en te straf nie?

Dit is nie maklik om ‘n goeie antwoord op hierdie vrae te gee nie. Want enersyds kan ons nie ontken dat die Bybel baie duidelik is oor die hel en die ewige straf nie. Maar andersyds moet ons erken dat ons hier met oënskynlik innerlike teenstrydighede in die wese en karakter van God te doen het waarmee ons vanuit ons huidige begrip van die evangelie worstel en waarmee ons nie heeltemal vrede het nie. Daarom is dit geen wonder nie dat baie teoloë vandag heeltemal afsien van die gedagte van die hel. Hulle maak die hel af as elemente in die Bybel wat eerder iets weergee van die antieke lewensgevoel en siening van die lewe as dat dit iets sê van hoe God werklik is.

Ons moet onthou dat die Bybel ook ‘n menslike kant het. Daarmee word bedoel dat die openbaring in die Bybel oor wie God en die mens is, ook deur die kanaal van menslike oorlewering geskied het. Die konteks waarin die Bybel ontstaan het, het sy afdruk gelaat op die kennis oor God en sy wil wat ons in die Bybel het. Daarom is daar ook progressie in die Bybel oor bepaalde sake. Neem byvoorbeeld die gedagte van die opstanding. Mens soek tevergeefs in die Ou Testament na iets soos ‘n algemene opstanding uit die dood. Dis ‘n konsep wat eers werklik in die tussen-testamentêre tydvak ontwikkel het, en dan veral in die Nuwe Testament nuwe betekenis kry na die opstanding van Jesus uit die dood. Laasgenoemde gee dan ook nuwe betekenis aan die idee van “lewe na die dood”. So is daar baie ander sake (soos God as Drie-enige God, of die heilige oorlog-gedagte in die Ou Testament wat God die aanhitser tot wreedhede maak, om nie meer te noem nie) wat mens sou kon noem om te sê dat die Godsopenbaring in die Bybel oor tyd heen bepaalde ontwikkelinge en selfs veranderinge ondergaan het.

Dieselfde kan ons ook sê oor ons verstaan van die Bybel die afgelope 1700-2000 jaar sedert die afsluiting van die kanon. Ons denke oor God vanuit ons studie van die Bybel bly nie staties nie. Daar is uiteraard kontinuïteit met die sentrale boodskap van die Bybel, maar daar is ook insigte en gedagtekomplekse oor God wat vandag anders lyk as dié van ons voorgeslagte. Een hiervan is juis die gedagte van hoe liefde en regverdigheid mekaar balanseer in die wese van God. Die antieke mens het makliker vrede daarmee gehad dat uiterste liefde (soos geopenbaar in die handelinge van God in Jesus Christus) en uiterste “wreedheid” wanneer oor die straf van die goddeloses gedink word, mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Maar ons moderne lewensgevoel het nie heeltemal vrede hiermee nie. Ons het tot by ‘n punt in ons denke oor God gegroei wat dit moeilik maak om met hierdie – vir ons –teenstrydighede in ons Godsbeeld saam te leef.

Tog bly ons met die probleem van die kwaad en die bose in ons midde worstel. Want dat daar dinge gebeur wat ten hemele skrei en roep om vergelding, kan niemand oor stry nie. Gaan God dit maar net oorsien, of gaan Hy dit op een of ander manier “wreek”? Want dat God geen vrede het met sonde en boosheid nie, staan soos ‘n paal bo water. Dit het nie ‘n plek in sy koninkryk nie. Die Bybel leer immers – en dit kan ons as evangelie aanvaar – dat God met sy skepping op pad is na ‘n eindbestemming waar net liefde en geregtigheid sal heers (2 Pet 3:13).

Die vraag is net wat van al die mense wat oor die millennia van die mens se bestaan die wil van God verkrag en onnoembare leed aan ander veroorsaak het. Wat word van hulle? Ons is hieroor verleë, gewoon omdat ons nie werklik weet wat ná die dood gebeur nie. Ons kan eintlik maar net (verantwoordelik) hieroor spekuleer. Dalk wórd die bose eenvoudig vernietig. Dalk word daar ‘n nuwe proses van straf, groei, smeek om en gee van vergiffenis aan die gang gesit waarvan ons nou nog geen begrip het nie. Al wat ons eintlik maar net weet – en dis wat die gedagte van “ewige hel” in die Bybel wil oordra – is dat volhardende en verhardende sonde en boosheid ernstige implikasies vir die doener daarvan inhou. God het nie vrede daarmee nie. Maar hoe Hy presies daarmee “vir ewig” gaan handel, sodat dit ook op een lyn gebring kan word met die hart van God as een van liefde en regverdigheid, kan ons nie nou deurgrond nie. Al wat ons kan doen, is om hier en nou aan mense – en onsself – die liefde en vergiffenis van God in Jesus Christus maar ook sy regverdige oordeel oor mense – ook oor ons – te verkondig en die erns van ons keuses hier op aarde te onderstreep.

Hieraan kan ons vashou: God sal uiteindelik regverdig oordeel en handel, op ‘n manier wat in ooreenstemming is met sy wese as liefde

Skrywer:  Prof Hermi van Zyl

 




God ken ons toekoms – Francois Malan

Lynette vra:

Iets wat ek net nie kan verstaan nie, is die feit dat God ons toekoms in Sy hande het en Hy alles van ons weet. Maar hoe gebeur dit dat ons vir Hom vra om bv. iemand te genees, of wat ook al, ons antwoord op gebed beantwoord word. As mens naby aan die dood is, met ‘n ernstige siekte en daar word gebid en die persoon herstel of spring die dood vry, gee God dan vir die persoon nog ‘n kans, of het Hy ook dit beplan dat die persoon wel langer sou bly leef?

Het ons die reg in ons hande om vir Hom te oorreed om iemand se lewe te verleng? en was dit wel Sy plan gewees?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Prediker 3:11 sê: God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens die die besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

 

Ons kan nie God se plan en optrede ten volle begryp nie. Daarvoor is ons menslike denke te klein. Maar God is vry om sy plan op sy tyd en wyse te laat geskied. Oor die spotters wat spottende vra wat van Jesus se belofte van sy wederkoms geword het, sê 2 Pertus 3:8-9: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

 

So sê die Here vir Hiskia in 2 Konings 20:1: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie. En dan bid en huil Hoskia en vra dat die Here tog in ag neem dat hy in trou en volle oorgawe aan die Here gelewe het. En voor Jesaja die paleisterrein verlaat het, het die Here hom teruggestuur: Gaan terug en sê vir Hiskia….ek het jou gebed verhoor…Ek sal jou gesond maak…Ek sal jou lewe met 15 jaar verleng (20:4-6). En toe tree Hiskia dwaas op en word die ballingskap van sy volk na Babel voorspel (20:16-18).

 

Vir Jesus, wat met angs en sweet soos groot druppels bloed by sy Vader gepleit het dat die lydensbeker met al die sonde van die wêreld op Hom, van Hom af weggeneem word, maar ‘laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied,’ het die Vader dit nie weggeneem nie (Lukas 22:42-45).

 

Paulus, wat volgens Handelinge 14:9-10; 16:18; 19:12) siekes in die Naam van Jesus genees het, het die Here drie maal gesmeek dat die doring in sy vlees, ‘n engel van die Satan om hom met die vuis te slaan, van hom moes wyk. Maar die Here het vir hom gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring (2 Kor 12:7-9).

 

Jakobus 5:15 sê: Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word en die Here sal hom weer laat opstaan. Jesus het sy 12 dissipels uitgestuur met die opdrag: Gaan verkondig die koninkryk van die hemel het naby gekom. Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit (Matteus 10:7-8).

 

Ons word aangemoedig om te bid vir siekes. Maar God sal in sy wysheid besluit wanneer die dood moet intree – vir die gelowige wat aan Jesus verbind is deur die geloof, is die dood ‘n heerlike uitsig om vir ewig by God te wees (Filippense 1:23); vir die ongelowige is dit ‘n verskrikking van God se straf (Openbaring 20:15). Gelowiges het die voorreg om as kinders van God wat aan sy Seun verbind is, mede-erfgename met Christus te wees, sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik kan word (Romeine 8:17). Paulus sê in Kolossense 1:24: Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja met my liggaam vul ek die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan, tot voordeel van sý liggaam, die kerk.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Hoe versoek ’n mens die Heilige Gees – Francois Malan

Sue vra

Hoe versoek ‘n mens die Heilige Gees? Is dit dan net die teenoorgestelde van versoening.

Is dit dan wanneer mens nie gehoor gee aan God en dit wat die Gees in jou binneste vir jou sê om te doen nie? Of is dit totaal en al ‘n ander antwoord?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Hoe versoek ‘n mens die Heilige Gees?

 

In Matteus 12:31-32 sê Jesus dat die lastering teen die Heilige Gees nie vergewe sal word nie, en wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nòg in hierdie bedeling, nòg in die een wat kom (vgl. Lukas 12:10).

Volgens Markus 3:29-30 sê Jesus: wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan ‘n ewige sonde, want hulle (die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het; in Mt 12:23 is dit die Fariseërs) het gesê: Hy het ‘n onrein gees. In Mk 3:22 sê hulle dat Jesus Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf (so ook in Mt en Lk 11:15).

Sonde teen Jesus as die Seun van die Mens in sy nederige menslike gestalte kan verstaan en vergewe word. Maar om die Gees van God, wat in en deur Jesus so duidelik werk in die genesing van die man wat deur ‘n demoon besete was, en blind en stom was, dat hy kon sien en praat, dan te laster as sou die Gees van God die gees van owerste van die duiwels wees, is miskenning teen alle duidelike bewyse in, en daarin te volhard. Sulke hardkoppigheid is die gevolg van iemand se eie wil en wilsbesluit, en dit sny hom af van enige vergifnis deur God. Iemand wat nog bekommerd is of hy die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het, is nog nie so verhard nie.

 

Jesaja 63:10: Maar hulle (Israel) het in opstand gekom en het die Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ‘n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg.

Die gedeelte word geskryf toe die Jode in ballingskap in Babel was. Die rede vir hulle ballingskap is dat hulle vir jare lank hulle rug op die Here gedraai het en afgde gedien het. En dit nadat Hy hulle uit Egipte se slawehuis verlos het en sy Heilige Gees onder hulle gegee het (63:11). Maar hulle het die Gees van die Here onder hulle bedroef deur voordurend sy liefde te krenk met hulle afgodery en verkeerde sosiale lewe. Toe het die Here teen hulle geveg deur Nebukadneser te troepe teen hulle te stuur, en hulle in ballingskap wegvoer. En nou bid die profeet en die volk dat die Here hulle weer genadig sal wees. Vgl Jes 65:9 vir die Here se besluit. Toe die Perse die Babiloniërs verslaan, het koning Kores hulle laat teruggaan na hulle land (vgl. Jes 45).

 

Handelinge 5:3-5: Petrus het toe gesê: Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul sodat jy vir die Heilige Gees gelieg het en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het?……dit was joune om te maak wat jy wou…Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. By die aanhoor van hierdie woorde het Annanias inmekaargesak en gesterf…

Om ‘n goeie voorkoms en die lof van die gemeente te wen het Annanias en sy vrou saam besluit om ‘n deel van hulle plaas se verkoopsprys vir hulleself te hou en die ander deel vir die apostels te bring en te sê dat dit die hele koopsom is, soos Barnabas alles vir die gemeente gebring het (vgl. 4:36-37). Maar om die roem van die gemeente te kry het hulle nie rekenng gehou met die Heilige Gees wat in hulle woon nie, dat Hy alles weet, ook van hulle skynheiligheid. Daarom dat Petrus sê hulle het vir die Heilige Gees gelieg. En God het self ingegryp en gestraf.

 

In Hand 7:51 spreek Stefanus die Joodse Raad toe voordat hulle hom stenig: Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees, soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook…

Deur die werk van die apostels te weerstaan en hulle daarteen verset en die apostels te vervolg en te verbied om in die Naam van Jesus te preek (Hand. 4:18), is hulle besig om die werk van die Heilige Gees aan bande te lê. So het hulle vaders ook gedoen met die profete wat deur die Heilige Gees gebruik is om met die volk te praat.

 

Efesiërs 4:30: En bedroef nie die Heilige Gees van God deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie.

Ef 1:13-14 vertel van die beseëling met die Heilige Gees, wat hulle gelei het tot geloof in Jesus wat hulle verlos het van hulle sondige lewe. Die seël is ‘n bewys dat hulle God se eiendom is, deur die bloed van Jesus gekoop. Die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige is die seël. Hy oortuig hulle dat hulle kinders van God is, soos God reeds in die Ou Testament beloof het (vgl. Jes 32:14-18; 44:1-5; Joël 2:27-32).

 

1 Tessalonisense 5:19: Moenie die Gees blus nie (1983-vertaling: teenstaan nie).

Die Griekse woord vir ‘n vuur blus word figuurlik gebruik om die stopsit van enige aksie aan te dui. Dit beteken jy moet nie die Heilige Gees in sy werk hinder nie, nie in jou lewe nie, en ook nie in die lewe van andere in die gemeente nie. Moet bv. nie die opdrag in 4:3,8 oor die heiligheid van die huwelik verwerp nie. Hy is besig om ons al meer soos Jesus te laat word (2 Korintiërs 3:18) om soos Jesus lief te hê, deur sy lewe vir ons te gee (vgl. Johannes 13:34 en 15:12-17).

 

Hebreërs 10:28-29: Wanneer iemand die wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het en die Gees van genade beledig het?

Die Griekse woord praat van onbeskaamd arrogant teen iemand praat. In 10:26-31 word gepraat van willens en wetens teen God se werk vir jou verlossing op te tree en Hom te beledig deur opsetlik te bly sondig nadat jy kennis van die waarheid ontvang het, Christus se sondaarsliefde vertrap en jou teen God en sy woord verhef

 

1 Johannes 5:16: As iemand sy broer sien sonde doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie die lewe gee. Daar is sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat hy daarvoor moet bid nie.

Moedswillige verwerping van die soort lewe wat God van ons vra, lei tot afval van God en sy kerk, en is bewys van die gees van die antichrist.

Skrywer:  Prof Francois Malan