God se wil/my wil – Hermie van Zyl

Francois vra:

Ek sukkel om my vraag te omskryf, maar dit gaan basies oor God se wil en my wil. Het wat ek wil enigsins `n kans. Neem God enigsins “wat ek wil” ook soms in ag ?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek antwoord graag met ‘n uittreksel uit ‘n artikel wat ek ‘n tyd gelede geskryf het wat presies hierdie saak van God se wil en my wil aanraak. Dit word geskryf vanuit die hoek van gebed en die wil van God.

Die oorkoepelende doel van gebed is om ons in pas te bring met God en sy wil. Juis daarom is dit verrassend hoe min kere in die Bybel gebed in soveel woorde met die wil van God in verband gebring word. Tog moet die saak van God se wil altyd as agtergrond vir gebed veronderstel word. Reeds in die Ou Testament is dit duidelik dat God nie as vanselfsprekend geneem kan word nie. Hy is nie die Groot Staatmaker wat maar altyd net gewillig is om mense ter wille te wees nie. Inteendeel, Hy is die soewereine Heer, en daarom is sy antwoord op gebed altyd van sy Raad en besluite/wil afhanklik. Hierdie toedrag van sake word in die Nuwe Testament voortgesit. Wanneer Jesus in die Bergrede oor ons daaglikse stryd om den brode handel, verseker Hy ons van God se versorging, maar herinner Hy ons terselfdertyd daaraan dat ons ons allereers moet beywer vir God se koninkryk en sy (God se) geregtigheid (Matt 6:33). God se oorkoepelende saak/wil vorm so die konteks waarbinne die gelowige werk en bid. En in die normatiewe Ons Vader-gebed word ons by name geleer om te bid dat God se wil sal geskied (Matt 6:10), met die implikasie dat die gelowige hom daaraan sal onderwerp.

In die algemeen skep die wete dat ons moet bid volgens die wil van God nie probleme vir die gebedslewe nie. Maar dis wanneer allerlei “logiese” afleidings omtrent die verband tussen gebed en die wil van God gemaak word dat probleme ontstaan. Dit kom naamlik daarop neer dat gebed as oorbodig, futiel, beleef kan word in die lig daarvan dat God se wil in elk geval geskied. Waarom bid mens nog vir ‘n bepaalde saak as dit “reeds duidelik” is dat God se wil in ‘n ander rigting lê, of, as God in elk geval alles, lank gelede, “voor die grondlegging van die wêreld”, in ‘n onveranderlike en gedetailleerde bloudruk vir die wêreld vasgelê het? Hoe kan gebed enigiets verander aan God se wil?

Hierdie soort denke is die rede waarom mens soms stemme hoor dat die gelowige in sy/haar gebed eintlik net moet konsentreer op lof en dank. Die voorbidding-element moet liefs gelaat word omdat God Hom nie laat verbid nie. Sy wil en Raad staan vas. Hy is die Groot Beplanner wat ongeag menslike optrede of versoeke sy wil onverbiddelik deurvoer. Al wat die gelowige kan doen, is om God vir sy wil te loof en te dank – in weerwil van die lyding en smart wat sy wil mag meebring – en dit gelowig-inskiklik uit God se hand te ontvang.

Hierdie siening van gebed is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n bepalende invloed ‘n mens se teologie, veral jou Godsbeeld, op gebed kan hê. Die standpunt dat mens God se wil nie moet probeer verander nie, maar net daarvoor moet buig, mag baie vroom voorkom, maar dit stuit op die duidelike voorbeelde in die Bybel waar gelowiges nie sonder meer die wil van God gelate aanvaar nie, maar met God “stry” oor wat met hulle aan die gebeur is. En in sommige gevalle verander God inderdaad sy plan, maar in ander gevalle nie. Voorbeelde van eersgenoemde is Hiskia wat, ná hy berig ontvang dat hy nie van sy siekte sou herstel nie maar dat God hom sou laat sterwe, ernstig tot God bid, en God sy plan verander en nog 15 jaar by Hiskia se lewe voeg (2 Kon 20:1-6). ‘n Ander geval is die gebeure wat in die boek Jona beskryf word. God beplan om Nineve te verwoes vanweë dié se sonde, maar die Nineviete kom tot bekering en roep tot God om af te sien van sy plan. Toe God hulle berouvolle optrede sien, verander Hy inderdaad van besluit (Jona 3:3-10). Voorbeelde waar God nie sy plan verander nie, is by Jesus se Getsemane-gebed (Mark 14:36,39 par) en by Paulus se gebed om die verwydering van die doring in die vlees (2 Kor 12:1-10). Jesus is bewus van die lydensbeker wat Hy moet drink – wat die wil van sy Vader is (vgl die drievoudige lydensaankondigings in Mark 8, 9 en 10) – maar smeek God desnieteenstaande om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan. Is daar nie dalk ‘n ander weg tot sy koms in heerlikheid nie? Nogtans onderwerp Jesus Hom aan wat God ook al mag besluit. En God hou by sy plan en laat Jesus die kruispad loop. Dieselfde by Paulus: Die doring in die vlees blý; God se genade is genoeg om dit draaglik te maak.

Dit word nou duidelik dat die verhouding tussen ons gebede en God se wil nie vir menslike – selfs gelowige – denke deursigtig is nie. Die voorbeelde hierbo wys juis uit dat gebed wat soek na die wil van God met veel worsteling gepaardgaan. Maar wat wel uit die voorbeelde duidelik behoort te wees, is dat die konsep dat God onveranderlik en onbeweeglik in sy wil is, mank gaan aan grondige denke. Daar is geen teenstrydigheid tussen God se soewereine Heerskap en sy openheid tot verandering nie. Ja, God ís die Groot Beplanner, die Meesterbrein wat die wêreld – en individue – stuur en rig volgens sy welbehae, maar op die een of ander manier betrek en inkorporeer Hy ons gebede by sy meesterplan. Dis die minste wat ons kan sê, maar waarskynlik ook die meeste. Die belangrike is egter dat hierdie insig die gelowige nie by voorbaat laat boedel oorgee nie, en die gebed nie laat verstom wanneer ons gekonfronteer word met wat vir ons na die onveranderlike en onbeweeglike wil van God lyk nie. Nee, die wete – die kinderlike geloof! – dat God nie buite ons om nie, maar sáám met ons sy wil volvoer, nooi ons juis uit om Hom in die gebed te raadpleeg, voorbidding te doen – tot in die fynste besonderhede toe – en met Hom te worstel totdat ons die saak “deurgebid” het (soos Jesus en Paulus) en ons gemoed tot rus gekom het in sy wil.

Mens moet egter nie dink dat gebed en Goddelike antwoord ‘n simplistiese “ek vra God gee”-verhouding is nie. Wanneer God van plan verander, is dit steeds in ooreenstemming met sy Goddelike natuur en Raad. God handel nie vóór ons gebede strydig met sy Goddelike aard, en ná ons gebede meer op een lyn daarmee nie. Nee, wanneer God verander, doen Hy dit as God, in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad.

Maar ook wanneer God nie van plan verander nie, of waar dit na baie worsteling nog nie duidelik is wat God se wil is nie, of dit nie duidelik is óf Hy hoegenaamd, en indien wel, hóé Hy my gebede verhoor nie, kan ons steeds rus in die wete dat Hy wel ons gebede verhoor. Die toestaan van ons versoeke deur God, en gebedsverhoring, val nie noodwendig saam nie. God mag dalk nie aan ons versoeke gehoor gee nie, maar dit beteken nie dat ons gebed nie verhoor word nie. Indien ons gebedsverhoring en die toestaan van ons versoeke met mekaar sou identifiseer, sou dit beteken dat Jesus se Getsemane-gebed en Paulus se se doring-in-die-vlees-gebed nie verhoor is nie. En so ‘n afleiding lyk nie geregverdig in die lig van die teksgegewens nie. As ons Jesus se Getsemane-gebed en die verdere verloop van gebeure in oënskou neem, is dit duidelik dat Hy deur sy gebedsworsteling in die tuin versterk is en sy kruisdood met ‘n nuwe aanvaarding tegemoet getree het. Trouens, in die Matteusweergawe van Jesus se tuin-gebed is dit duidelik dat daar groei in Jesus se onderwerping aan die wil van sy Vader plaasvind. Anders as Markus, rapporteer Matteus die tweede gebedsmeking van Jesus in groter besonderhede. Die eerste keer pleit Jesus nog met ‘n positiewe verwagting: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan” (Matt 26:39). Maar die tweede keer is daar al klaar ‘n groter aanvaarding van sy Vader se wil as Hy in die negatief bid: “… as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie …” (26:42). Jesus se gebed moes dus op ‘n ander, hoër, vlak verhoor gewees het as bloot dié van die toestaan van sy versoek. Dieselfde met Paulus wat rus in die genade van God wat genoeg is. Hy kry nie wat hy vra nie, ten spyte daarvan dat hy God dringend en volhardend vra, maar hy rus uiteindelik daarin dat sy versoek betrek word by ‘n groter waarheid omtrent sy lewe as waarop hy aanvanklik gereken het – die wil van God. Paulus het die grense van wat hy kon vra – die wil van God, spesifiek omtrent lyding – nie by voorbaat geken nie; hy moes dit al biddende leer. Die Christelike gebede wat ons in die Nuwe Testament aantref, word algaande gevorm deur ‘n teologie van die kruis, waar gebedsverhoring nie soseer in die toestaan van versoeke bestaan nie, maar in die openbaring van God se genade en krag in swaarkry.

Hierdie insigte bring ‘n dimensie in ons gebedslewe na vore wat kortsigtigheid en tonnelvisie verminder en vryheid en vrymoedigheid bring. As dit die oorkoepelende doel van gebed is om in pas te kom met die wil van God, dan open dit ons oë vir die welbehae van God, dat Hy goed is vir ons, maar dat sy goed-wees soms onbegryplik anders kan wees as wat ons versoek. Ons moet God steeds God laat bly in ons versoeke, soos Jesus gemaak het: Hy vra – voluit – dat die lydensbeker by Hom sal verbygaan, maar lê Hom terselfdertyd neer by die wil van sy Vader, as dié anders mag blyk te wees.

Dat ons gebede in die “dun lug” van God se wil moet beweeg, is nie bedoel om ons kortasem te maak nie. Dit wil nie ons gebede intimideer, inhibeer, inkort of selfs die swye oplê nie. Dit rig eerder die uitdaging aan ons om die gesprek met ons hemelse Vader op ‘n “gevorderde” vlak – op God se vlak – voort te sit. Dis hier waar ‘n mens se geloofspiere tot die uiterste ingespan word. Want eintlik is ons besig om uit te reik na God se gedagtes wat hoër en anders is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, het die versekering dat dit uiteindelik rus sál bring, al gaan dit met baie wroeging en worsteling gepaard. God wil hê dat ons klein versoeke sal saamsmelt met sy liefdevolle groter wil vir ons.

Samevatting:

  • God se wil is nie iets wat alles so deterministies bepaal dat gebed – veral gebed as voorbidding/versoeke – daarmee die swye opgelê word nie. Die kontekste waarin gebed in verband met die wil van God voorkom, toon juis aan dat God Hom laat verbid; Hy is nie onver-bid-delik nie. God kan “van plan verander”. Hierdie planverandering is egter nie willekeurig nie. God tree steeds in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad op wanneer Hy van plan verander. Hy is nie ná sy planverandering meer God as daarvóór nie.
  • God se wil is nie deursigtig nie. Daarom staan Hy ons gebedsversoeke dikwels nie toe nie. Sulke gebede moet egter nie as onverhoord aangemerk word nie. God verhoor altyd gebede. Maar gebed open juis ons oë vir ‘n groter waarheid omtrent ons lewe as waarvoor ons aanvanklik gevra het.
  • Of God “van plan verander” en ons gebedsversoeke toestaan, of nie – sy wil is altyd goed; dit wil die beste vir ons, hoewel hierdie “goed” en “beste” dikwels onbegryplik is. Daarom is gebed volgens die wil van God altyd ‘n uitdaging. So ‘n gebed reik uit na God se gedagtes wat hoër is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, sal uiteindelik rus vind in God.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Vertalingsverskille – Hermie van Zyl

Petro vra

Ek het iets op die hart wat ek baie graag vir u wil vra. Ek gaan saam met my man na die NG kerk, maar gaan ook baie keer na die ander kerke soos AGS ens. (Ek het NG groot geword) In die charismatiese kerke gebruik hulle meestal net die 1933 vertaling en dit pla my altyd, want hoekom moet daar verskillende bybels gebruik word in verskillende kerke totdat ek eendag Matt 20 vers 23 gelees het en gesien het dat die twee bybels baie verskil in daardie vers. Hoekom het die 1983 vertaling die gedeelte “en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word” uitgelaat in die 1983 vertaling? (ook in vers 22) Ek het gegaan na die ou bybel wat nog in Hollands gedruk is en daarin staan ook dieselfde as in die 1933 vertaling. Dit het my laat wonder wat is nog verander in die 1983 vertaling?? Dit is moeilik om die twee bybels vers-vir-vers te gaan vergelyk? Ek voel die mense word op ‘n dwaalspoor gelei oor die doop. Dit het my altyd gepla dat ek net klein gedoop is totdat ek eendag in my hart begin voel het om my groot te laat doop en dit het ek 16jr gelede laat doen en dadelik het ek vrede in my hart gehad, maar dit is nou nie die rede hoekom ek u kontak nie. Ongelukkig is ek nou baie skepties oor daar weer ‘n nuwe vertaling kom. Ek is bang ons beweeg weg van die oorspronklike Woord. Hoop u kan my meer duidelikheid gee hieroor.

 

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek wil graag in my antwoord ingaan op die kwessie van wat die “oorspronklike Woord” is. Want dit lê aan die kern van jou vraag. (Die kwessie van grootdoop en kleindoop laat ek daar, omdat dit nie die wesenlike saak is nie.)

Om die begrip “oorspronklike Woord” te begryp, moet ek iets sê oor ‘n bepaalde aspek van die totstandkoming van die Bybel. Uiteraard gaan ek baie vlugtig daaroor, en ek konsentreer slegs op die Nuwe Testament (NT).

Die feit van die saak is dat ons nie meer die “oorspronklike Woord” het nie. Daarmee bedoel ek: ons het nie meer die oorspronklike manuskripte (mss) van die NT nie. Dit wil sê: daardie manuskrip (ms) wat Matteus met sy eie hand geskryf het, het ons nie meer nie; dit is vir altyd verlore. Ons het net afskrifte van afskrifte van afskrifte, ensovoorts, daarvan. En omdat alles in daardie vroeë eeue met die hand oorgeskryf is (onthou, die boekdrukkuns is eers in die 15e eeu nC ontwikkel), het daar dikwels foute in die oorskryfproses ingesluip. Kopieerders het meermale onbewustelik skryffoute begaan, soms selfs doelbewus, laasgenoemde veral as die manuskrip wat as basis van die kopiëring gedien het na hulle oordeel nie die korrekte inhoud bevat het nie.

Omdat kopiëring met die hand die enigste manier was waarop die NT in die eerste veertien eeue vermeerder en versprei kon word, beskik ons vandag oor ongeveer 5 500 Griekse mss wat die NT bevat (Grieks synde die taal waarin die NT oorspronklik geskryf is). Sommige van hierdie mss bevat die hele NT, ander weer net dele van die NT. Verder, die oudste mss wat die hele NT bevat, stam uit die 3e/4e eeu nC. Jy kan dus verstaan dat selfs ons oudste mss steeds ongeveer drie eeue verwyderd is van die oorspronklike Woord of oorspronklike mss wat die NT bevat het. Hierdie 5 500 mss is ook nie identies nie, hulle verskil in bewoording van mekaar. Nou is die vraag: As ons vandag die NT in Afrikaans wil vertaal, watter van hierdie mss moet ons gebruik of aan voorkeur gee om net eers ‘n Griekse teks saam te stel wat ons as basis vir ons vertaling kan gebruik?

Die wetenskap wat vir ons ‘n Griekse teks saamstel, word Tekskritiek genoem. Dit is ‘n wetenskap wat reeds lank bestaan, maar veral in die afgelope 200 jaar met rasse skrede vooruitgegaan het, hoofsaaklik weens die ontdekking van meer en ouer mss, en ook weens die ontwikkeling van beter kriteria en tegnieke om te bepaal watter mss vir ons die oorspronklike NT die beste bewaar. Want die algemene reël is: hoe ouer ‘n ms is, d w s, hoe nader ‘n ms aan die tyd van die NT is, hoe beter is die kanse dat dit vir ons die oorspronklike teks van die NT die beste weergee.

Uit hierdie 5 500 mss is daar in die verlede verskillende Griekse tekste saamgestel wat na die mening van tekskritici (geleerdes wat die oorspronklike mss van die NT bestudeer) die oorspronklike teks van die NT die beste weergee. Mettertyd is hierdie prosesse verfyn sodat Bybelvertalers reg oor die wêreld vandag een van twee Griekse tekste gebruik – óf die een van die United Bible Societies in die VSA, óf die sogenaamde Nestle-Aland teks van die Institute for New Testament Text Research in Münster, Duitsland. Weens die samewerking tussen die twee instansies is die merkwaardige dat die twee Griekse tekste wat bewoording betref identies is. Dit maak dus nie saak hoe vertalings van mekaar verskil in bewoording nie, van een ding kan mens vandag seker wees en dit is dat hulle dieselfde Griekse teks vir die vertaling gebruik.

Hoekom verskil die 1933-Afrikaanse Vertaling (33AV) van die 1983-Afrikaanse Vertaling (83AV)? En nou praat ek nie van vertaalverskille nie, maar van gedeeltes waar dit lyk of die 83AV sekere bewoordings weggelaat het wat wel in die 33AV voorkom. Die rede hiervoor is dat die 33AV van ‘n Griekse teks gebruik gemaak het wat nog nie die nuutste inligting oor die beste mss bevat het nie. (So ook die ou Hollandse Vertaling, die sg Statevertaling.) Maar toe die 83AV tot stand gekom het, is besluit om ook die nuutste en beste Griekse teks te gebruik wat deur al die ander vertalers oor die wêreld heen gebruik word. Daarom lyk dit asof in bepaalde gevalle die 83AV dele van die “oorspronklike Woord” weggelaat het. In werklikheid is dit presies die teenoorgestelde: dis na regte so dat die 33AV, wat op ‘n swakker Griekse teks gebaseer was, bewoording bevat wat eintlik nooit deel was van die oorspronklike NT nie. Die 83AV het Afrikaanssprekendes dus eintlik ‘n groot guns bewys om die Afrikaanse Bybel op een lyn te bring met ander vertalings reg oor die wêreld wat op die beste Griekse teks gebaseer word.

Kom ek gee nou aandag aan Matt 20:23 (jou vraag) om alles wat bo teoreties bespreek is, meer prakties te maak. Die 33AV bevat in Matt 20:23 ook die woorde: “… en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.” Hierdie woorde kom nie in die 83AV voor nie. Die Griekse teks wat in die 83AV gebruik is (wat op die beste Griekse mss gebaseer is), bevat nie hierdie woorde nie. Daarom kom dit ook nie in die vertaling voor nie. Wat waarskynlik in die vroeë eeue van manuskripkopiëring gebeur het, is dat kopieerders die woorde van Mark 10:39 (die parallel van Matt 20:23) waar hierdie woorde inderdaad in die beste mss voorkom, ingevoeg het by Matteus, dalk omdat hulle gedink het dat hulle die teks van Matteus op hierdie manier “verryk” of “aanvul”. Dit is wat ons in die Tekskritiek “harmoniëring vanuit parallelle gegewens” noem, d w s, weens die parallelle materiaal tussen die Evangelies kry ons soms dat kopieerders aanvullings vanuit die ander Evangelies gedoen het in die oorskryfproses. Dit is ook meteen ‘n voorbeeld van doelbewuste foute wat in die oorskryfproses plaasgevind het. Later, toe ouer en beter mss ontdek is, is besef dat daar by Matt 20:23 eintlik deur die kopieerders ‘n byvoeging gemaak is wat nie in die oorspronklike ms van Matteus gestaan het nie. Daarom is dit nie ingesluit in die vertaling nie. Ons wil tog so na as moontlik kom aan die ms soos Matteus dit self geskryf het, en nie soos latere kopieerders gedink het Matteus behoort te klink nie.

Hiermee hoop ek het ek iets probeer weergee van die ingewikkelde proses van tekssamestelling en vertaling. Na alles moet ons net besef dat al is daar verskille tussen die 33AV en die 83AV, die verskille nie van ‘n wesenlike aard is wat die kern van die Christelike leer aantas nie. Dit gaan meermale oor mindere kwessies wat nie die wese van ons geloof aantas nie. As jy voel dat die 33AV vir jou nader aan die hart lê – lees dit! Dit sal niks aan jou saligheid verander nie. Maar moenie dink dat daar fout is met die 83AV nie, as sou dit jou wil wegvoer van die oorspronklike Woord nie. Dis gewoon nie waar nie; die teendeel is waar.

Wees ook gerus dat in die nuwe Afrikaanse Vertaling waaraan daar tans gewerk word, waarvan die NT en Psalms reeds verskyn het, daar geen poging is om die Woord van God te vervals of om gelowiges weg te lei van die oorspronklike Woord nie. Nee, hierdie vertaling is net nog ‘n manier om gelowiges so na as moontlik aan die oorspronklike Woord van God te bring. En enigeen wat jou probeer wysmaak dat daar bose motiewe agter die nuwe Vertaling is, is besig met misleiding – óf uit onkunde óf uit moedswilligheid.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Die Heiligheid van God – Hermie van Zyl

Francois vra:

In die Ou Testament word die heiligheid van God oor-en -oor beklemtoon en mense wat die heiligheid nie gerespekteer het nie, is erg gestraf, selfs met die dood. In die Nuwe Testament word daar baie minder, en minder eksplisiet, verwys na die heiligheid van God (met moontlik die uitsondering van in Openbaring en die Ananias en Safira gebeurtenis). Jesus se koms het tog nie God se heiligheid verminder nie. 1. Hoe moet God se heiligheid volgens die Nuwe Testament verstaan word? 2. Hoe moet die heiligheid van God vandag deur sy kinders uitgeleef word?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die term “heilig” in die Bybel het meer as een betekenis. Toegepas op God druk dit die essensie van sy wese uit as die Een wat nie soos mense is nie maar vlekkeloos, sondeloos en absoluut volmaak. So besing die hemelse wesens dan ook sy heiligheid (vgl die sg trishagion, of te wel, “drie maal heilig”-uitroep in Jes 6:3 en Op 4:8). As die Heilige verdra Hy ook nie onreg en sonde nie; uiteindelik moet die sonde gestraf word (Jes 65:1-5; Am 2:7).

As die Heilige in absolute sin is God nie net anders as mense nie, maar ook anders as die sogenaamde gode, wat eintlik maar net projeksies van mense was en dieselfde eienskappe as mense vertoon het, behalwe net dat hulle baie magtiger as mense was. Mense moes daarom voortdurend die gode paai en kalmeer sodat hulle nie in toorn ontbrand teen mense nie. Die lewende God se heiligheid kom egter veral in sy liefde, barmhartigheid en genade na vore. Dit maak Hom nie net totaal anders as die gode nie, maar ook as mense. Waar die gode in blinde woede kan reageer, is God lankmoedig en genadig. Waar mense ontrou is, is God betroubaar en onwankelbaar in sy liefde en genade (vgl Hos 11:9).

“Heilig” word verder ook op die kinders van God toegepas, bv Lev 19:2 en 1 Pet 1:15-16, waar gesê word dat hulle heilig moet wees omdat God heilig is. So gesien kan dit nie “sondeloos” of “volmaak” beteken nie, maar eerder dat God se kinders volkome toegewyd aan God moet lewe. God se heiligheid skuur as’t ware af op sy kinders. Hy wil hê dat sy kinders hulle moet wegkeer van wat sondig is en toegewyd aan Hom moet lewe. Hier is “heilig” dan nie soseer ‘n wesenskwaliteit van mense nie, maar eerder ‘n etiese kwaliteit, d w s, hoe mense moet lewe om daardeur te wys dat hulle aan God behoort. Toewyding het ook die betekeniskomponent van “afsondering”, wat veral in die OT ten opsigte van die priesters gegeld het. Hulle moes hulle van sekere praktyke wegkeer of afsonder om daardeur hulle toewyding aan God te demonstreer (vgl 1 Kron 23:13). Afsondering het egter niks te make met wêreldvreemdheid of wêreldmyding nie, maar dat God se kinders in hierdie wêreld maar nie van die wêreld nie sal wees.

In die Ou Testament (OT) was dit veral nodig om die heiligheid van God te beklemtoon sodat die volk Israel sou weet dat hulle God nie maar soos ‘n gewone mens is, net baie magtiger nie. Nee, Hy is die “gans andere”, die een wat die Skepper is van hemel en aarde, wat ontoeganklike lig bewoon (Ps 104:2; Dan 2:22; vgl 1 Tim 6:16), en tog Homself as die barmhartige en genadige betoon wat besorg is oor die weduwee, die weeskind en die arme.

Dit is veral lg aspek wat in die Nuwe Testament (NT) baie meer prominent is as in die OT. Want die NT leer dat die Heilige, die Ewige, méns geword het in Jesus Christus, dat Hy naby ons gekom het, dat Hy die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het (Fil 2:7), om te dien, selfs tot in die dood toe. Dus, die heilige God is in Jesus Christus volkome mens, maar sonder sonde (Heb 4:15). Juis so het God kom toon wie Hy en wat ware menswees eintlik is.

Dis om hierdie rede dat die NT minder klem lê op die afstand tussen God en mens en meer die nabyheid van God aan die mens benadruk. Maar Hy is steeds Gód, en ons ménse. Geen wonder nie dat Paulus die absolute andersheid en ondeurgrondelikheid van God in Rom 11:33-36 besing. Sy nabyheid hef dus nie sy Godheid of heiligheid op nie. Dit gee net daaraan ‘n bepaalde dimensie wat voorheen in die OT nog nie so prominent was nie.

Die slotsom van bogenoemde is dat ons vandag nie beangs en bevrees vir God hoef te lewe nie. Sy heiligheid maak ons nie bevrees om in sy teenwoordigheid te verskyn nie, maar nooi ons eerder uit om in gemeenskap met Hom te lewe. Maar dit beteken ook dat ons, synde God se kinders, hoe langer hoe meer God die Heilige se eienskappe in ons lewe sal reflekteer.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Name in die Boek van die Lewe – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

Efesiërs 1:4: soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, Dan Romeine 8: 28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. (29) Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;(30) en die wat hy vantevore verordineer het, die het Hy geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook verheerlik. Op 20: 12: En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is volgens hulle werke. (15) En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Die Vader het in Sy alwetendheid voor die grondlegging van die wêreld reeds geweet wie die uitverkorenes sou wees en hulle toe reeds in die liggaam van Christus opgeneem. Ek veronderstel as die “Bruid” volgens Efes 1: 4. In Openbaring word die boeke geopen en die dode geoordeel volgens hulle werke wat daarin opgeteken is.

My vraag is nou: As die name in die boek van die lewe reeds voltallig is, hoe kan dit wees dat daar nog iemand sal wees wie se naam nie in hierdie boek opgeskryf is nie? Waarom sou die ander persone dan op grond van hulle werke, goed of sleg, beoordeel word? In watter konteks moet mens die sinsnede “die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” verstaan, asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In bogenoemde navraag word uitgegaan van bepaalde aannames oor die uitverkiesing wat nie heeltemal geldig is nie. Ek antwoord dus eers oor die uitverkiesing in die algemeen en dan oor die spesifieke navraag omtrent Op 20:12-15.

In die leer oor die uitverkiesing moet mens baie versigtig wees om nie in determinisme te verval nie. Dit beteken dat God “voor die grondlegging van die wêreld” sou bepaal (“gedetermineer”) het dat sekere mense uitverkies word tot die ewige lewe (hulle name is opgeskryf in die boek van die lewe) en dat ander verwerp word tot die ewige verdoemenis. Hierdie getalle en name is dan voor die tyd reeds vas en afgesluit. Dit maak dus nie saak wat elke kategorie mense in hulle lewe op aarde doen nie, maar hemel toe sál jy gaan as jy uitverkies is, en die hel ís jou voorland as jy verwerp is; om dit in sulke krasse terme te stel. Hierdie voorstelling van sake bring mee dat ‘n mens se lewe dan eintlik volgens ‘n vooraf opgestelde program verloop waarin jy nie veel keuses het nie. Jou lewensloop is vir jou bepaal (gedetermineer), en so sal jou lewe verloop.

Hierdie siening klop egter nie met die gegewens in die Bybel waar mense in ‘n dinamiese verhouding tot God en ander mense staan nie. Mense maak foute, verhard daarin, of kom tot bekering. En selfs God kan van plan verander oor besluite wat Hy geneem het om uit te voer. Dink hier aan sy plan om Nineve te vernietig, maar dan verander hy van plan as hulle tot bekering kom. Die een wat by die oorspronklike plan wou bly – Jona – en wat God verkwalik dat Hy nie by hierdie plan hou nie, is die een wat bedroë daarvan afkom, terwyl die Een wat “van plan verander” juis die genadige God is. God is dus in voortdurende interaksie met mense se gedrag en besluite. Die enigste besluit wat onveranderlik vasstaan in God se raad, is dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe. God stel alles in werking om mense na Hom te trek om hulle van hulle doodsbestaan te red. Die verhouding tussen God en mense is dus baie meer dinamies as wat in ‘n deterministiese uitverkiesingsleer uitgebeeld word.

Die bedoeling van tekste soos Ef 1 wat praat oor God wat mense uitverkies voor die grondlegging van die wêreld, is nie dat ons daaruit allerlei afleidings sal maak oor die arbitrêre manier waarop God red nie (Hy kies en verwerp na willekeur), maar dat die gelowiges aan wie die Efesiërbrief gerig word die troos sal hê dat hulle verlossing vasstaan in God se raad. Let ook daarop dat die verkiesing “in Christus” plaasvind (Ef 1:4). Wat vasstaan van “voor die skepping” is dus nie die individuele name van mense nie, maar God se verlossingsplan “in Christus” wat in die kerk sigbaar word. Dit gaan oor die verlossing wat in Christus voorberei is en oor mense wat tot geloof moet kom voor hulle die voordele van “uitverkies” te wees, kan geniet. Om dit pront te stel: As jy in Christus glo, wéét jy jy is uitverkies. Maar as jy nie glo nie, is daar niks te sê oor jou uitverkiesing nie. God se ewige besluite en mense se daadwerklike bekering en geloof in Christus staan dus nie teenoor mekaar nie, maar is die Goddelike en menslike kant wat sáám die totale prentjie van uitverkiesing en ewige lewe uitmaak. Soos ‘n bekende teoloog uit die verlede dit treffend gestel het: “God neem sy ewige besluite altyd op die allerlaaste oomblik.” Presies hoe hierdie misterie van God se alwerksaamheid (ewige verlossing in Christus) en menslike werksaamheid (bekering en geloof in Christus) presies werk, is uiteraard ‘n misterie. Maar dit kan beslis nie in terme van ‘n deterministiese uitverkiesingsleer verstaan word nie.

Om nader aan Op 20 te beweeg, moet eers iets gesê word oor die verhouding tussen geloof en werke. Dit is wáár dat ons nie op grond van ons werke gered word nie, maar deur die geloof in Christus. Hieroor skryf Paulus in geen onduidelike taal nie. Maar nou is die Bybel ook duidelik daaroor dat gelowiges die bewyse van hulle geloof moet lewer. So sê Jak 2:14-26 onomwonde dat geloof wat nie op dade uitloop nie, dood is. En Matt 7:15-23 noem dat nie elkeen wat bloot “Here, Here” (d w s glo) sal ingaan in die koninkryk van hemele nie, maar net diegene wat die wil van die Vader doen. Dit beteken nie dat mens tog uiteindelik deur jou goeie werke gered word nie, maar dat geloof en werke mekaar oor en weer definieer. Iemand wat werklik ‘n gelowige is, sal die dinge doen wat by die geloof pas, en iemand se werke sal wys wat ten diepste in sy hart leef. Waar daar dus in die Bybel sprake is van ‘n oordeel op grond van ons werke, is dit eintlik maar net ‘n ander manier van sê dat God sal kyk of ons werklik in Jesus geglo het. Die intieme band tussen geloof en werke is reeds sigbaar in die Ou Testament, byvoorbeeld Jer 17:10, waar staan dat God die hart en verstand deurgrond (geloof en denke), en die mens laat toekom vir wat hy doen.

Dit bring ons by Op 20:11-15. Ons moet onthou dat Openbaring nie op ‘n direkte manier praat nie, maar in beelde en simbole. Mens moet dus altyd bedag wees daarop dat die uitleg by die bedoeling van hierdie beeldspraak moet pas.

Hier is sprake van twee boekrolle – die boek van die werke (geïmpliseer) en die boek van die lewe. Die agtergrond hiervan moet in die Ou Testament (vgl Dan 12:1) en in sekere Joodse apokaliptiese werke (vgl 1 Henog) gesoek word. Hiervolgens word mens geoordeel volgens wat jy doen tydens jou lewe (boek van die werke), en of jy opgeteken is in God se “bevolkingsregister” (in Openbaring die “boek van die lewe” genoem, vgl 3:5; 17:8; 21:27). In die eindoordeel word mense geoordeel volgens wat in beide boeke geskryf staan. Hoe mens ook al oor hierdie “boeke” dink, feit is dat die gedagte van geloof en werke ook hierin vervat is. Wat jy in jou lewe gedoen het (boek van die werke) is niks anders nie as ‘n weerspieëling van jou verhouding met God, of jy werklik deur geloof aan Hom verbind was (boek van die lewe). Daarom word iemand wat nie in die boek van die lewe is nie, in die poel van vuur, die sg tweede/ewige dood gegooi. Laasgenoemde is beeldspraak vir die ewige straf, die plek wat God voorberei vir die duiwel en sy engele en almal wat aan die bose behoort.

Ook in Openbaring is daar dus nie sprake van die uitverkiesing wat staan teenoor diegene wat net op grond van hulle werke geoordeel word nie. Almal word uiteindelik op grond van hulle werke beoordeel, wat op sy beurt tekenend is van hulle geloofsverhouding met God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl