Gelykenis van die tien maagde – Hermie van Zyl

Vraag

Jesus het met die mense gepraat dmv gelykenisse. Wat my opval in Matteus 25:6 is dat die bruidegom om middernag gekom het, en die verhaal gaan dan voort dat die tien opgestaan het om hulle lampe gereed te maak. Die vyf dwase maagde vra vir olie van die vyf wyses, maar dié gee goeie raad om olie te gaan koop by die verkopers.

Beteken dit dat daar mense was wat selfs om middernag olie sou verkoop, of is dit mense wat reisigers was wat buite die stadsmure oornag het om weer die volgende dag handel te dryf met die mense binne die stad?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis nie so maklik om die vraag afdoende te beantwoord nie, want daar is ten minste drie areas van onsekerheid in die gelykenis van die tien meisies van Matteus 25:1-13: Eerstens weet ons baie min van destydse huweliksgebruike; tweedens, wat ons wel weet pas nie mooi in by wat in die gelykenis aan die bod kom omtrent die huweliksfees nie; en derdens is daar onsekerheid oor waar presies die gelykenis begin: by 25:1 of eers by vers 2? Al dié kwessies hou verband met mekaar en het implikasies vir die olie se koop om middernag. Kom ons probeer helderheid kry.

 

  1. Wat weet ons van huweliksgebruike destyds? Normaalweg het die bruidegom met sy boesemvriende (“strooijonkers”) sy huis verlaat om na die bruid se huis te gaan, waar daar sekere seremonies plaasgevind het. Van die bruid se huis af was daar dan ’n prosessie deur die strate van die dorpie, gewoonlik in die aand, na die bruidegom se huis toe, waar die res van die feesvieringe plaasgevind het. Laasgenoemde kon ’n paar dae duur. In die prosessie was elkeen veronderstel om sy of haar eie lamp of fakkel te dra.

 

  1. As ons hierdie karige gegewens vergelyk met die gelykenis sou die tien meisies die bruidsmeisies kon wees wat die bruid bygestaan het. Die vraag is net wáár hulle was toe die bruidegom gekom het, want nêrens word daar iets van die bruid vermeld of waar sy haar toe bevind het nie. Ons weet dus nie of die geroep dat die bruidegom kom (v6), plaasgevind het toe die bruidegom en sy vriende op pad was na die bruid se huis toe of toe hulle van die bruid se huis op weg was na die bruidegom s’n nie. Ons weet ook nie wat die oponthoud veroorsaak het nie. Moontlik onderhandelinge rondom geskenke wat aan die gang was tussen die ouerpare van die bruid en bruidegom. Sulke onderhandelinge kon soms uitgerek word om veral die belangrikheid van die bruid te beklemtoon. Wat ook al die oponthoud, dit het lank genoeg geduur sodat die bruidsmeisies aan die slaap geraak het. Wáár weet ons egter nie; dit kon óf in die bruid óf in die bruidegom se huis gewees het, selfs dalk op straat waar hulle gewag het. Maar gegewe die status en funksie van die bruidsmeisies, is die straat-opsie onwaarskynlik, want waar sou hulle nou op straat geslaap het? Tensy hier nie van bruidsmeisies sprake is nie, maar sommer van die dorpie se jonge dogters in die algemeen. Maar dis onwaarskynlik.

Belangrik om ook te vra waar die gelykenis begin. Geleerdes is oor die algemeen van mening dat 25:1 eintlik net ’n soort opskrif tot die gelykenis is, as aanduiding van waaroor die gelykenis , en dat die eintlike vertelling eers in v2 begin. Dit beteken dat die neem van die lampe om die bruidegom tegemoet te gaan nie in v1 al gebeur het nie, maar eers in v6. Hierdie insig maak dit “makliker” om die verloop van gebeure te rekonstrueer, naamlik dat die bruidsmeisies óf in die bruid óf in die bruidegom se huis aan die slaap geraak het, en toe die geroep opklink dat die bruidegom kom, hulle lampe in gereedheid gebring het vir die prosessie.

 

Dis op hierdie punt dat die dwase meisies toe agterkom dat hulle nie genoeg olie vir hulle lampe het nie. Waarskynlik het ons hier nie met ’n lamp te doen wat binnenshuis gebruik is nie, maar met ’n soort fakkel wat eers aan die brand gesteek is wanneer dit nodig was. Dit het bestaan uit ’n stuk lap, gedraai om die punt van ’n stok, wat in olyfolie gedoop is om dit langer te laat brand, dalk so vir vyftien minute, lank genoeg vir die prosessie en die danse wat daarmee gepaard gegaan het. Die voorstel van die vyf verstandige meisies aan die onverstandiges om by die handelaars te gaan olie koop, klink vreemd, want waar gaan hulle in die middel van die nag olieverkopers kry wat oop is. Maar in ’n klein dorpie waar almal by die troue betrokke is, was dit dalk nie so ’n vreemde voorstel nie. Almal was in elk geval wakker, ook die verkopers.

 

Maar ons weet dit nie vir seker nie. Daarom meen sommige verklaarders dat ons hier eerder met ’n ironiese, ontmaskerende voorstel te doen het; ’n interpretasie waarby ek myself aansluit. Die verteller – Jesus/Matteus – het goed geweet dat daar nie in die middel van die nag verkopers beskikbaar is nie, nogtans word die voorstel gemaak. So word alle klem geplaas op die onvoorbereidheid van die vyf dwase meisies. Almal weet dis te laat om nou olie te bekom; hulle moes vroeër daaraan gedink het. Genadetyd het vir hulle uitgeloop. Daarom dat die oordeelswoorde van die bruidegom – ek ken julle nie (v12) – pas by die vreemdheid van die voorstel om middernag te probeer olie koop. Ons kan sê dat die hele gebeure van die ontnugterende ontdekking dat hulle nie olie het nie; die middernagtelike, desperate gesoek na olie; die deur wat gesluit word; die meisies wat te laat daar aankom; hulle vergeefse geroep dat die deur vir hulle oopgemaak word; die kille, afwysende woorde van die bruidegom; alles maar net dien om die lot van die dwase meisies te verseël as mense wat nog nooit tot die koninkryk van die Bruidegom behoort het nie. Hulle onvoorbereidheid is eintlik maar net ’n simptoom van die feit dat hulle nooit deel van die Bruidegom se gevolg was nie, dat hulle net meelopers was wat nooit erg aan die Bruidegom gehad het nie. Die punt is: Hulle was te laat vir die prosessie. Om die ou geestelike liedjie ietwat anders hier te laat meespreek: Hulle kom tot die ontdekking dat hulle nie deel was van “that number when the saints went marching in” nie.

 

Hoe mens ook al die gelykenis se “onderdele” probeer rekonstrueer, die boodskap is duidelik: Wees waaksaam, omdat julle die dag en uur nie ken (waarop die bruidegom kom) nie (v13). Die waaksaamheid bestaan uit gereed wees, dit wil sê, om genoeg olie te hê vir jou lamp of sodat jy jou fakkel aan die brand kan steek wanneer die bruidegom kom. Want dan is daar nie tyd vir olie koop nie. Daar is dus twee maniere om te wag op die bruidegom: traak-my-nieagtig, deur die bruidegom nie as belangrik genoeg te ag om vooraf te sorg dat jy genoeg olie het om saam met hom in te gaan na die bruilofsfees nie; of om gereed te wees, met genoeg olie byderhand sodat jy die bruidegom tegemoet kan gaan wanneer hy kom om die bruilof saam met hom te geniet. So gesien is die bruidegom Christus, die bruidsmeisies die kerk, die talm van die bruidegom die uitbly van die wederkoms, en die koms van die bruidegom die wederkoms van Christus. Die kerk moet dus te alle tye verstandig handel, met genoeg olie byderhand om die fakkels aan te steek – die olie van geloof en die liefdesdade wat uit die geloof voortspruit (vgl Matt 23:23; 25:34-40). Dan is jy gereed, selfs al word jy aan die slaap gevang; dan kan die Bruidegom maar enige tyd kom.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Verheerlike Liggaam – Jan van der Watt

Louis vra

Ek lees die vraag en die andwoord op dit, vir my beteken dit eenvoudig dat ons liggaam nie meet stoflik is nie en dat die liggan nie meer / weer kan sterwe nie. Op die berg het Jesus saam met 2 disiepels n ontmoeting gehaat met Moses & Elia en Jesus se aangesig het verander, het Hy dalk hier n verheerlikte liggam ontvang buite die stand soos Hy ook buite die stad sou sterf.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dankie vir jou vraag en opmerkings oor die verheerlikte liggaam. Paulus het in 1 Kor 15 bevestig dat die verheerlikte liggaam aan die kwaliteite van die goddelike wereld voldoen. Dit is anders as wat ons aan gewoond is hier op aarde. As ons egter na Jesus kyk na sy opstanding, het hy dinge gedoen wat ons nie met ons gewone liggame kan doen nie. Hy het deur toe deure gestap, het verskyn en dan skielik verdwyn, soos met die Emmausgangers. Tog nooi hy Thomas in Joh 20 uit om aan hom te vat, wat beteken dat hy wel materieel ook was. Aan die een kant het Hy nie meer kos nodig gehad nie, maar aan die ander kant het Hy wel geeet. Ons weet dus dat die verheerlikte liggaam wel materieel kan wees, maar dat dit nie aan die beperkinge van ons aardse liggame onderworpe is nie. Dit is anders en wonderliker. Inderdaad gaan ons dan ook vir ewig saam met God lewe. Dit is die gawe van God. 

Skrywer : Prof Jan van der Watt




God kry spyt dat Hy die mens gemaak het – Francois Malan

Hester vra:

Waar in Genesis het God spyt gekry omdat hy die mens gemaak het?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Genesis 6 vers 5-8: Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op aarde groot is, en dat alles wat Hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, was die HERE jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Toe sê die HERE: Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls in die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het. Maar Noag het guns gevind in die oë van die HERE. Na die groot vloed en Noag se offer aan die HERE het die HERE in sy hart gesê: ‘Ek sal nooit weer die grond vervloek vanweë die mens nie, alhoewel die mens se hart van sy jeug af neig na wat boos is. Ek sal nooit weer alles wat lewe tref nie, soos Ek gedoen het nie’ (Gen 8:20-21; vgl. ook Eksodus 32:14 waar die HERE ook spyt gekry het oor die onheil wat Hy gesê het Hy sy volk – Israel wat die goue kalf aanbid het – sou aandoen).

Skrywer : Prof Francois Malan




Loon in die hemel – Jan van der Watt

Lourens vra:

Na aanleiding van Luk 19:17 i) is daar vlakke van beloning in die hemel of pyninging in die hel op grond van ’n mens se gedrag hier op aarde. ii) Is daar groot en klein sondes wat beteken dat mens op ’n slegter vlak in die hemel gaan land as jy groot sondes doen, terwyl ’n klein sondetjie jou ’n beter plek gaan besorg?

ANTWOORD

 Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. a) Wat die groot en klein sondes betref. Die lewens van die mense van die Ou Testament is vanwee die verbond grootliks bepaal deur wat hulle gedoen het, naamlik, of hulle die Wet nagekom het. Dit was soos ’n ooreenkoms dat hulle bepaalde dinge wat in die Wet voorgeskryf is moes doen en dan sou God tevrede wees. Die Profete waarsku die Jode egter aanhoudend dat hulle gedrag en offerhandes nie genoeg is nie, maar dat God hulle harte soek – Hy wil in ’n verhouding met hulle staan.

Iets belangriks gebeur in die Nuwe Testament – die fokus skuif na geloof toe. Die belangrikste daad wat mens nou kan doen is om in Jesus te glo (bv. Joh 6:23-24). Geloof gaan oor ’n verhouding, soos ’n kind met sy pa of ma. Dit gaan dus nie soseer oor wat die kind gedoen het as hy of sy stout was nie, maar oor die verhouding wat versteur is. Die belangrike is dus dat die kind die verhouding herstel deur om verskoning te vra en te besef dat hy dit nie weer moet doen nie. Dit is wat die Bybel sondebelydenis noem – lees maar 1 Johannes 1:7-10. Daar word nie gepraat van hoe groot of klein die sonde is nie, maar van hoe die gelowige sy verhouding met God hetstel. God help die gelowige in die proses deur die bloed van Jesus (1 Johannes 1:7-8). Vir die bloed van Jesus maak dit nie saak hoe groot of klein die sonde is nie – dit word gereinig. Paulus beskryf homself as die geringste van die apostels wat Jesus se kerk vervolg het (hy het selfs mense laat doodmaak), maar die genade van God het hom ’n kind en apostel van God gemaak. God se genade en vergifnis is onkeerbaar.

In Jakobus 2:10-13 word daar gese dat dit maak nie saak watter sonde ’n mens doen nie, as jy wet oortree het, het jy almal oortree. Die rede is juis omdat ‘stout wees’ (sonde doen) die geloofsverhouding met God skaad (kyk maar wat in Jakobus 2:14 en verder bespreek word).

Die Nuwe Testament dink dus nie in terme van groot en klein sondes (dade) nie, maar in terme van jou verhouding met die Here en hoe jy daardie verhouding koester. Daar word nie onderskeid gemaak tussen klein en groot sondes nie.

  1. b) Is daar vlakke van beloning in die hemel? Lukas 19:11-27 is ’n moeilike gedeelte wat inpas in Jesus se lering oor die belang van mense se gedrag en wat mense moet doen in die tyd tussen sy hemelvaart en wederkoms (ons noem dit ook die tussentyd). Daar is twee groepe. i) Die een groep wat niks van Hom gehou het nie (’n simboliese verwysing na die mense wat Hom totaal verwerp het en Hom nie as Messias wou of wil erken nie) se lot is duidelik as Hy weer kom. Hulle sal nie die ewige lewe kry nie, maar die ewige dood. ii) Die tweede groep is Jesus se mense wat vir sy terugkeer wag – hoe moet hulle in die tyd leef? Dan kom die moeilike segging dat almal een geldstuk kry en hoe meer ‘wins’ jy gemaak het, hoe groter is jou beloning, en as jy geen ‘wins’ gemaak het nie, verloor jy ook wat jy gehad het. Beteken dit dat party meer in die hemel kry as ander? ’n Gedeelte wat gewoonlik ook hier genoem word kom uit 1 Korintiers 3:9-15 waar daar gese word dat gelowiges die gebou van God is en dat elkeen op Jesus as fondament bou, maar nie met dieselfde materiaal nie – party bou met goud en silwer, terwyl ander met gars of strooi bou. ’n Vuur van oordeel sal dan die kwaliteit toets. As jou bouwerk bly staan sal jy beloon word, maar as dit nie bly staan nie, sal jy nie beloon word nie, al sal jy gered word.

            Hoe moet die verwysings na die loon in die gelykenis in Lukas 19 verstaan word? Dit lyk of die gedeelte praat van ’n groter beloning vir die een as vir die ander. Dit gaan egter nie om ’n beloning nie, maar om die gee van groter verantwoordelikheid en aanmoediging om die heer (Here) nog beter te dien. Daarom staan daar dat die persoon oor ’n klein bietjie aangestel is, maar hom of haarself as so betroubaar bewys het dat nog groter verantwoordelikhede en take op sy of haar skouers gelaai word. Die persoon wat gewys het dat hy nie verantwoordelikheid wou aanvaar nie, het gewys dat hy nie in die diens van die heer (Here) doen wat van hom verwag word nie – hy het nie eers sy basiese verantwoordelikheid nagekom om bank toe te gaan en rente te probeer verdien nie, wat eintlik baie min van hom sou vra. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt