Waar kom Halloween vandaan? – Kobus Kok

Halloween of “All Hallow’s Evening/All Saints” word regoor die wêreld rondom 31 Oktober gevier. Die Engelse term “Halloween” is maar net ‘n paar honderd jaar oud (circa 1745). Die oorspronklike (All) Hallow(s) Eve(n) het met tyd ontwikkel in die term “Halloween”. Dit hang oorspronklik saam met die Westerse Christendom se liturgiese jaar waarin die gestorwenes, heiliges en martelare wat ons voorafgegaan het, onthou word. “All Saints Day” word al vanaf die 7de eeu (609) in die Christendom gevier op 13 Mei. In 835 het dit onder die leiding van Pous Gregory die Vierde na 1 November geskuif en sommiges meen dit het saamgehang het met die Keltiese (heidense) fees “Samhein” (meer daaroor hieronder). Rondom die Middeleeue was dit al ‘n bekende Christelike fees in Brittanje en die laaglande waarin mense in die strate geloop het en klokke gelui het om vir mede-Christene te herinner om te dink aan die dooies wat in “purgatory” is. Tydens die fees het mense ook broodjies gebak (soal cakes) wat deur arm mense gekollekteer is by huise in ruil vir ‘n gebed vir die afgestorwenes. Laasgenoemde hang onder andere saam met die oorsprong van die hedendaagse “trick-or-treat”.

Die fees het volgens sommiges moontlik ‘n heidense oorsprong/verband, en spesifiek met die Keltiese oesfees “Samhain” waarin die einde van die somer gevier is. Hierdie fees het verband gehou met offers, die eet van neute en appels en reuse “bonfires”, kommunikasie met “geeste” en partyjies. Dit is dus ook maar soos Kersfees wat moontlik ook heidense oorsprong het maar wat ver-Christelik is en met tyd ‘n metamorfose ondergaan het. In die Westerse wêreld het die Halloween fees, soos Kersfees, ‘n eie gekommersialiseerde karakter begin aanneem en kenmerkend van die fees is “trick-or-treat”, en allerlei kostuums, pampoene met ligte in, en die besoek van “haunted houses” en die kyk van riller films. Hierdie spesifieke karakter van die fees is egter ‘n redelike nuwe tipe ontwikkeling in die geskiedenis en het so bietjie verwyderd geraak van die oorspronklike betekenis daarvan. Dit het teen die einde van die 1800’s regtig eers populêr geword en eers so onlangs as in die 1930’s is daar vir die eerste keer massa geproduseerde Halloween kostuums vervaardig.

Christene (Katolieke) wat die fees hou met in agneming van die oorspronklike konteks en bedoeling daarvan, sal kerse aansteek en op die grafte van gestorwe persone plaas en hulle so probeer onthou. Sommige kerklike denominasies sal tydens hierdie tyd kerk toe gaan om te bid en sal ook in hierdie tyd vas en nie vleis eet nie. Dit laat Christene dink aan die lewe en bydrae van die gestorwe persone, en help mens ook om te reflekteer oor die lewe en die dood.

Omdat die Protestante nie glo dat die geeste van mense op aarde kan rondbeweeg na hulle dood nie, en omdat dooies nie vereer word nie, is die fees nie onder die Protestante gevier nie. Dit is ook die rede waarom dit in Suid Afrika nie groot effek het nie. Ons is sterk deur die Protestantse Calvinisme beïnvloed.

Tot vandag toe nog sal Jode nie aan die fees deelneem nie omdat Levitikus 18:3 die deelname aan heidense feeste verbied. (Protestantse) Christene in Suid Afrika moet dus mooi dink op watter wyse hulle die dag wil spandeer.

Geraadpleegde bron:

http://en.wikipedia.org/wiki/Halloween, besoek op 05 November 2014

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Jesus kom gou – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

Onderwerp: Matt 16: 28

Boodskap Teks: Die Skrif sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.

Die inhoud van die teks is nie vir my duidelik nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie sogenaamde nabye verwagtingstekste of termynuitsprake van Jesus is seker van die moeilikste om vanuit ons konteks, amper 2000 jaar later, te verstaan. Want ‘n mens se eerste reaksie is: Maar dan was Jesus mos verkeerd in sy “voorspelling” dat Hy nog in die leeftyd van die eerste Christene sou terugkeer aarde toe, m a w, dat die wederkoms van Christus binne enkele jare na sy eerste koms sou plaasvind.

Om hierdie verse te verstaan, moet ons egter die hele saak vanuit die eerste eeuse konteks benader, en nie in die eerste plek vanuit óns konteks nie. Laat ek verduidelik.

Hierdie uitsprake dat Jesus “nog in hierdie geslag” met krag sal kom in sy koninkryk, kom in Matt 16:28; Mark 9:1; Luk 9:27; Matt 24:34; Mark 13:30 en Luk 21:32 voor. Eersgenoemde drie het met Jesus se profesie oor sy naderende dood te doen, en laasgenoemde drie kom in die sogenaamde profetiese rede van Jesus oor die “eindtye” voor. Bloot die feit dat hierdie nabye verwagtingstekste in twee verskillende kontekste voorkom – in uitsprake oor Christus se naderende lyding in Jerusalem, en in dié oor die eindtye – wys dat mens versigtig moet wees om te sê dat hulle uitsluitlik op die wederkoms van toepassing is. Die bewoording van hierdie tekste dui ook daarop dat hulle nie pertinent van Jesus se “terugkeer” of “wederkoms” praat nie, maar van “hierdie geslag” of “sommige wat hier staan” wat nie “die dood sal smaak” voordat “die koninkryk (in krag) gekom het”/ “hulle die koninkryk gesien het” nie. Baie geleerdes interpreteer dit dan ook so dat hierdie tekste primêr op die kruisiging en opstanding van Jesus betrekking het. Ander noem dat hulle ook op die uitstorting van die Heilige Gees op die pinksterdag of op die val van Jerusalem in 70nC kan slaan. Veral laasgenoemde was vir baie Jode en Jode-Christene so ongeveer die einde van die wêreld. So gesien handel al hierdie gebeure oor die koms van die koninkryk (in krag) en het dit in die meeste van die aanvanklike hoorders se leeftyd plaasgevind. In daardie sin het Jesus se profesie dus reeds in vervulling gegaan teen die laaste helfte van die eerste eeu nC.

Soos wat die tyd aanbeweeg het (tweede eeu nC en verder), het hierdie tekste egter ‘n eksklusiewe toepassing op die wederkoms van Christus begin kry. So gesien is die koms van Jesus in krag nog ‘n uitstaande werklikheid, maar het die nabyheid en dringendheid daarvan weens die tydsverloop uit die meeste Christene se eindverwagtinge verdwyn. So was dit egter nie in die eerste eeu nie. Die vroeë kerk het ‘n dringende wederkomsverwagting gehad, vgl 1 Kor 7:26-31 waar Paulus sê dat die tyd min is en dat mense liefs moet bly soos hulle is; hulle moet bv nie gedruk voel om ten alle koste getroud te kom nie.

Saamgevat: Matt 16:28 en parallelle tekste kan slaan op Jesus se koms (met krag) tydens sy kruisiging, opstanding, uitstorting van die Heilige Gees, val van Jerusalem én wederkoms van Jesus. Dit is nie vreemd dat profetiese uitsprake meervoudige toepassings het nie; trouens, dit is kenmerkend van sulke uitsprake dat hulle eerder ‘n aanspraak maak op die verbeelding as dat hulle eksakte voorspellings is en daarom net een spesifieke gebeure in die oog het. Hulle kan dus meermale in vervulling gaan. Hulle behou egter hulle karakter as tekste wat die dringendheid en nabyheid van die eindgebeure onderstreep. Hulle kan enige tyd in vervulling gaan, want God se tyd is nie ons tyd nie. Ons moet dus altyd wakker en nugter lewe, met ons oë gerig op die wolke, by wyse van spreke, al is hierdie woorde reeds ongeveer 2000 jaar gelede uitgespreek en al het hulle reeds (voorlopig) in vervulling gegaan in die eerste eeu nC. Feit is dat die finale vervulling daarvan – die wederkoms van Christus in heerlikheid – nog uitstaande is.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Ek sukkel om met God te gesels – Francois Malan

Anna vra:

Ek is n baie stil persoon. Ek luister eerder voor ek sal praat. Daarom sukkel ek om met God te “gesels”, want ek weet nie wat om te sê nie, alhoewel ek dit baie graag wil doen. Hoe leer ek myself om meer vaardig met woorde te wees. Help my asb met dit.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

  1. om met God te “gesels”

Volgens Johannes 14:15-17 sê Jesus: As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom, omdat Hy by julle bly (al sien julle Hom nie, vgl. Joh 3:8) en in julle sal wees (die lewende God woon in elkeen wat glo dat Jesus die Seun van God is wat as God al ons sonde aan die kruis kon dra. Ons verlossing en geloof in Jesus is ook ‘n gawe van God, Efesiërs 2:8).

Johannes 14: 26: Die Helper, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig (ook vir jou leer om te bid) en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het (en wat die dissipels toe opgeteken het en laat opteken in die boeke wat ons Bybel geword het, sodat ons ook die woorde van Jesus het wat met ons praat deur die Bybel te lees en te oordink).

Die woord Parakletos wat met ‘Helper’ vertaal is, beteken ‘die Een wat geroep is om by jou te wees, om jou te ondersteun.’ In die 1953-vertaling is dit met ‘Trooster’ vertaal; in die 1983-vertaling as ‘Voorspraak,’ wat altwee aspekte is van sy werk, maar ‘Helper’ omvat meer.

Romeine 8:26-27 sê: So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp (deur saam met ons te werk as ons Helper), want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie (as ons Voorspraak by die Vader – met die begeerte en versugtinge wat jy bv. nie onder woorde kan bring nie).

 

2 ‘ek weet nie wat om te se nie’

Ons ‘gesels’ met God beteken dat ons sy woord sal lees om te luister wat Hy sê, en dat ons sal bid om van ons kant af met Hom te praat.

Ons gebed gaan om vir Hom dankie te sê vir alles wat Hy elke dag vir ons doen, van ons verlossing deur Jesus en leiding deur sy Gees, vir ons lewe en beskerming, talente en geleenthede, gesondheid en daaglikse behoeftes, vir werk en ons familie en vriende wat Hy alles vir ons gee en aan ons voorsien. Maar ons bely ook ons sonde en tekortkominge van die dag aan Hom. Daarby gaan dit om God te loof en te prys vir sy goedheid, en Hom as jou God te aanbid, aan wie jy jou hele lewe by die huis en by die werk en by jou ontspanning toewy.

Kyk maar na Paulus se briewe wat meestal met ‘n dank aan God begin (Romeine 1:8;

1 Kor 1:4; 2 Kor 1:3 loof hy God; so ook Efesiërs 1:3 en dank in 1:16; Filipense 1:3; Kolossense 1:3; 1 Tes. 1:2-3; 2 Tes 1:3; ens.)

En dan doen ons voorbidding vir ander, ons kinders en ouers, en familie, mense wat ons ken wat ly en swaarkry, siek is of iets oorgekom het, of nog nie die Here ken nie, ens. Kyk bv. na Paulus se voorbidding vir die gemeente in Filippense 3:14-19.

Jesus het sy dissipels in die Onse Vader (Mt 6:9-13) geleer om eers te bid vir die heiliging van God se Naam veral deur ons mense en ons self, vir die koms van sy koninkryk in die wêreld dat Hy sal regeer oor die lewe en oor my lewe, en dat sy wil sal geskied met ons en ons mense, maar ook in ons samelewing en in die hemel;

om dan te bid vir ons behoeftes aan lewensmiddele, vir die vergifnis van ons oortredings, en vir ons verlossing van bose sondige gedagtes, woorde en dade.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geseënd is jy – Francois Malan

Yolandi vra:

Ek hoop julle kan my help. Ek het onlangs ‘n booskap deur my tannie van die Here af gekry vir my.”Geseënd is jy onder die nasies”

Ek het probeer om dit op te soek om te sien wat dit beteken, maar ek kom nie reg nie. My tannie het ook vir my gese dit was deur ‘n Engel aan ‘n baie spesiale vrou gesê. Kan julle my asb help?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek reken die aanhaling is nie heeltemal korrek nie. Die naaste wat aan die nasies kom, word in Jesaja 19:25 genoem, dat drie volke geseënd sal wees as hulle tot bekering kom – Egipte, Assirië en Israel. Daarna is Israel in ballingskap na Assirië omdat hulle hulle nie bekeer het nie, en later is Assirië verwoes omdat hulle so wreed was in hulle oorloë. Egipte is ook deur ander volke oorwin.

Moontlik verwys jy na Johannes die Doper se ma, Elizabet se uitroep toe Maria haar besoek en gegroet het in Lukas 1:42:

‘Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!’

Die Griekse voltooide deelwoord wat gebruik word vir ‘geseënd’ is ‘n gebed tot God om sy genade wat Hy reeds aan Maria en haar ongebore baba bewys het, te laat voortduur.

‘n Vrou uit die skare het dit ook eendag vir Jesus gesê (Lukas 11:27-28):

‘Geseënd is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het’

Jesus se antwoord op haar sentimentele kompliment was:

‘Geseëndes is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’

Maria is geseënd omdat God haar gekies het vir ‘n baie spesiale diens aan Hom, en dat sy die wonderlike belofte ontvang het dat die Heilige Gees oor haar sal kom en die krag van Allerhoogste haar sal oorskadu. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Lukas 1:35). Maria is geseënd omdat sy geglo het dat die woorde van die Here vervul sal word en hierdie besondere roeping aanvaar het. Haar antwoord op God se vrye en genadige guns om haar vir die uitsonderlike diens te kies as moeder van Jesus, die Verlosser van die wêreld, wys dat sy God se roeping aanvaar in nederigheid, in geloof en gehoorsaamheid aan God. Volgens Lukas 1:38 het sy gesê: ‘Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Laat met my gebeur soos u gesê het.’

Skrywer:  Prof Francois Malan