Die Heilige Gees tydens gebed

Die Heilige Gees tydens gebed – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Die volgende het met my gebeur: op die 28ste Desember 2013, het ek gaan bid, omtrent so 21h15 en die volgende ervaring gehad. Tydens my gebed, het ek gevra dat die vuur van die Heilige Gees my ten volle verhit, dit het onmiddellik gebeur, toe ek klaar gebid het, het my temperatuur terug gekeer na normaal. My ma het by my gekuier op daai stadium, toe ek terugkom in die sitkamer, het sy my gevra wat is fout, ek het haar gesê wat gebeur het, toe sê sy dit lyk of ek gloei. Nêrens in die Bybel kon ek min of meer iets kry wat dit beskryf of beteken nie.

 

Antwoord:

 Prof. Jan van der Watt antwoord:

Inderdaad vind mens nie ‘n vertelling in die Bybel wat hiermee ooreenkom nie. Die saak moet egter teen ‘n breër agtergrond gesien word.

 Die Heilige Gees word op verskillende maniere in die Nuwe Testament (en Ou Testament) beskryf, van God se krag wat in mens werk tot ‘n Persoon (soos in Johannes 14-16 as daar van die Heilige Gees as Voorspraak, Helper of Advokaat – Grieks = Parakletos gepraat word). Die werk wat die Gees doen, word net so op verskillende maniere in die Bybel beskryf. In Johannes is die Gees veral ‘n Leermeester wat gelowiges aan alles wat Jesus gedoen het, herinner (sien Joh 14-16). In 1 Kor 12-14 is die Heilige Gees die een wat verskillende genadegawes aan mense gee en so kan mens voortgaan. Wat ons hieruit kan leer is dat mens nie die Gees in ‘n hokkie kan vasvang of inperk nie. Die Gees is baie groter as ons en doen ook baie groter dinge as wat ons onsself ooit kan voorstel. Die Gees werk ook nie oral op presies dieselfde wyse nie en manifesteer Homself ook nie op dieselfde wyse aan alle mense nie. Dit sien ons in al die verskillende beskrywings wat ons van die Gees in die Nuwe Testament kry (lees ook die ander artikels oor die Gees in Bybelkennis.co.za).

 Dit beteken egter nie dat alles wat mens dink die Gees is, noodwendig die Gees hoef te wees nie. Lees 1 Joh 4:1-2 waar daar gewaarsku word teen valse geeste. Daar is sulke dinge ook. Daar moedig Johannes gelowiges aan om die geeste te toets, en dit doen mens deur dit te meet aan die evangelie van Jesus. Johannes verduidelik in 1 Johannes wat dit beteken: a) of dit in ooreenstemming met die boodskap van Jesus en tot sy eer is en b) of dit die liefde van Jesus uitstraal (dus opbouend en leweskeppend is en nie afbrekend nie). Die werk van die Gees is egter altyd stigtend en opbouend en nooit tot selfverheerliking van die individuele gelowige nie. Dit is toetse wat mens altyd moet toepas.

 Om dus die vraag so te beantwoord: Die Gees werk soos Hy wil en soos Hy goed dink. Dus kan Hy ook werk soos hierbo beskryf word. Mens mag die werk van die Gees nie beperk nie. Tog moet mens altyd die geeste toets, mens moet vra of dit werklik die Gees is en as dit is, wat die Gees daarmee tot opbouing, liefde, en eer vir Christus in die oog het.  

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




God se rigiede teenoor sy toelaatbare wil

God se rigiede teenoor sy toelaatbare wil – Francois Malan

Jan vra:

[Hierdie is ’n opvolgvraag]

Natuurlik is mens dankbaar teenoor die Here dat die kind se lewe gespaar is! Maar die punt wat ek wou maak is dat soveel mense beweer dat hulle eers ‘n uiters traumatiese gebeurtenis moes beleef voordat hulle tot besinning gekom en die Here voluit begin dien het. Soos prof Malan  tereg opmerk is dit dan meesal hulle eie optredes wat tot gevolg het dat die dief kom om te steel en te verwoes.

God is soewerein en Hy het Sy eie wil. En Hy het dit goed gedink om aan die mens sy eie vrye wil te gee. God se wil sluit in bv: Ek WIL, word gereinig; Ek WIL barmhartigheid hê; elkeen aan wie die Seun dit WIL openbaar; nogtans nie soos Ek WIL nie; so maak ook die Seun lewendig wie Hy WIL;  Hy verhard wie Hy WIL; Hy wil nie dat sommige moet vergaan nie, ens.

My verdere vraag is dus: Hoe verklaar mens  God se “rigiede” wil teenoor Sy “ toelaatbare” wil, asb?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

1 elkeen aan wie die Seun dit WIL openbaar – rigied?

            In Matteus 11:25-30 loof Jesus die Vader wat hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekendmaak. Hy verklaar o.a. dat niemand die Vader ken nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. En nooi dan uit: Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is (wat verklaar word as die swaar laste wat die Fariseërs op die Jode gelaai het met 613 gebooie wat hulle in die Ou Testament gekry het wat elkeen moet onderhou om God te behaag). Neem my juk op julle en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig. En dan gee Jesus vir sy volgelinge ‘n nuwe wet: om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet en aan die kruis in ons plek sterf (Johannes 13:34-35).

            Slim en geleerde mense is trots en selfgenoegsaam in hulle wysheid (rigied!) en reken hulle het Jesus nie nodig nie, terwyl kinderlikes nie selfbewus is nie, maar afhanklik en ontvanklik (vgl. Mt 18:1-4 as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie).   

 

2 so maak ook die Seun lewendig wie Hy WIL; 

            Johannes 5:19-30 volg op Jesus se genesing van die man wat 38-jaar lank siek was. Omdat Hy die man op die Sabbat genees het, wou die Jode Hom vervolg. Toe Hy sê dat sy Vader tot nou toe aan die werk is, en Hy is ook aan die werk, wou hulle Hom doodmaak omdat Hy Hom aan God gelykgestel het. En dan volg die 19-30 oor hoe Hy en die Vader een is, en vers 21: Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Ver 23: Wie nie die Seun eer nie (soos die Jode), eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Vers 24: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan.   (klink dit rigied?)

 

3  Hy verhard wie Hy WIL;

            Johannes 12:39-40 haal eintlik Jesaja 6:10 aan.

Johannes 12 is die afsluiting van Jesus se bediening aan die ongelowige Jode waarin Hy hulle in elke hoofstuk probeer oortuig dat Hy God is wat mens geword het (vgl. Jn 1:1-3,14) (in Hoofstukke 13-17 gee Hy onderrig net aan sy klein groepie dissipels, veral na Judas se vertrek uit die bokamer). 12:37-43 is eintlik die skrywer se kommentaar dat die Jode, ten spyte van Jesus se baie tekens wat Hy in hulle teenwoordigheid gedoen het, nie in Hom geglo nie. En dan het hy twee aanhalings uit Jesaja wat hy op Jesus toepas (Js 53:1 en Js 6:10).

            In Jesaja 6 roep die Here vir Jesaja om vir die volk te gaan sê dat hulle in ballingskap weggevoer gaan word, want vir 200 jaar luister hulle nie na die boodskappers van die Here nie.  Dwarsdeur die koningstyd ná Salomo (ná 931 v.C.), het die leiers en die volk al verder van die Here af beweeg agter Baäl en Astarte aan, die gode van die Kanaäniete, ten spyte van die oproepe tot bekering na die Here toe, deur profete soos Elia en Elisa, Amos, Hosea en Jesaja. In 722 v.C. gaan die tien stamme in balingskap na Assirië (Hosea 9:17: My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie; hulle sal swerwelinge word onder die nasies) ;  Nahum, Jeremia, Sefanja, Habbakuk en Esegiël roep die 2 stamme tot bekering, totdat Jerusalem ook verwoes word en die volk as ballinge na Babel weggevoer word in 587 v.C.       

            Omdat die volk nie na die profete wou luister nie, gee die Here hulle oor aan hulle eie begeerte om afgode te gaan dien in die lande van die afgode, totdat hulle leer om na die Here terug te keer (Hosea 3:5; 5:15-6:3; 12:7).

 

Johannes sien dat dieselfde besig is om te gebeur met die Jode van Jesus se tyd. Toe die Seun van God self na sy volk toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie en Hom dood gemaak. Daarom haal hy Jesaja 6:10 aan. Johannes sien dat met die Jode dieselfde gebeur  as toe die Here destyds Israel aan hulle doofheid vir sy Woord en blindheid vir sy genade oorgegee het.  

Jn 12:40: ‘Hy het hulle oë verblind –  (vgl. Jn 9:40-41 want hulle wou nie sien nie)

en hulle harte verhard’  – (vgl. Mt 23:37/Lk 13:34 want hulle wou nie na Hom toe kom nie).

 

Dieselfde Jesaja-teks word in Matteus 13:14-15 aangehaal as rede gegee waarom Jesus in gelykenisse met die volk praat: Want hierdie volk se hart is afgestomp…;

 

Paulus sê: God se toorn word geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregigheid van die mense…deurdat God hulle oorgee aan hulle eie skandelike begeertes… aan hulle verwerplike denkwyse  sodat hulle onbetaamlik optree (Romeine 1:18,26,28).

 

Dit is nie ‘n rigiede wil van die Here nie, maar juis ‘n toelatende wil van die Here, wat mense toelaat om hulle eie kop te volg, hulle aan hulle eie begeertes oorgee. In Numeri  14:1 sê die volk Israel, wat die Here uit die slawehuis van Egipte verlos het, en voor Kanaän se grens staan, onder die wolk van die Here se teenwoordigheid, met die daaglikse manna wat die Here vir hulle voorsien, ‘As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het.’ En dan laat die Here hulle almal wat so mor, behalwe Josua en Kaleb, in die loop van 40 jaar in die woestyn sterf, voordat hulle kinders in Kanaän ingaan (vgl. hulle straf in Num 14:28-30). (God se liefde blyk juis uit sy tugting van sy kinders, vgl. Hebreërs 12:4-11).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Romeine 14:5

Romeine 14:5 – Francois Malan

Hannelie vra
Romeine 14:5 na watter dae verwys Paulus hier?

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:

Die kort antwoord is dat dit gaan om die Joodse feesdae wat in die Ou Testament voorgeskryf is as verpligting vir die volk van God:

Veral die Sabbat wat deur die vierde gebod ingestel is (Eks 20:8-11 met verwysing na die skepping en God se rus op die sewende dag)

Die ou feeste van Israel:
(i) Paasfees wat die sewe dae van die fees met die ongesuurde brode (massot) inlei, wat Israel se verlossing uit Egipte in herinnering roep om die Here daarvoor te dank (Eksodus 12:1-20);
(ii) Die Fees van die Weke, sewe weke na die oestyd begin het = 50 dae (Pinkster, die Griekse woord vir 50, pentekonta) en die koringoes klaar ingesamel is, om die Here te dank vir die oes, ook genoem die fees van die insameling (Eks 23:16b);
‘ (iii) Huttefees (sikkot) wat hulle tog deur die woestyn herdenk het (Deutr.16:13,16).

Die latere feeste van die Jode:
(i) Die Versoendag (Yom Kippur) (Lev 16).
(ii) Die Fees van die Tempelwyding (Ganukka) nadat Simon Makkabeus Jerusalem herower het van die Griekse koning Antiogus Epifanes wat die tempel ontwy het met sy afgodsbeeld en altaar, het Simon die tempel laat reining (Daniël 9:27; 11:31).
(iii) Purimfees (Ester 9:20-32).

Die agtergrond van Romeine 14:5 se verwysing na die dae:

Die huisgemeentes in Rome het bestaan uit ‘n meerderheid gelowiges uit die heidendom en ‘n aantal Jode wat Jesus aangeneem het as hulle verlosser. Veral vir die Jode, wat in hulle kultuur en godsdiens grootgeword het, was hulle Joodse lewenswyse nog belangrik.

Die ‘swakkes’ in die huisgemeentes in Rome waarvan Rm 14:1 praat. is gelowiges wat nog nie tot volle rypheid in die geloof gekom het nie en daarom nie die volle konsekwensies van hulle geloof in Christus raaksien en aanvaar nie. Hulle meen dat dit vir hulle nodig is om bepaalde dinge te onderhou wat eintlik vir ‘n Christen nie meer nodig is om te onderhou nie. Met name gaan dit oor die nie-eet van vleis nie (Rm 14:2-3; vgl. Markus 7:14-19 dat Jesus alle kos rein verklaar het), onderhouding van die Joodse feesdae, veral van die Sabbat (Rm 14:5-6; vgl. Markus 2:27-28 dat die mens nie vir die sabbatdag gemaak is nie, maar die sabbatdag vir die mens, en dat Jesus die Here oor die sabbat is), geheelonthouding van wyn (Rm 14:21).
Paulus noem sulke Christene ‘swakkes’ omdat hulle wel nie meen dat dié dinge noodsaaklik is om jou verlossing by God te verdien nie, anders sou Paulus hulle beskou het as mense wat van die geloof afgedwaal het en nie meer op Christus vertrou vir hulle verlossing nie (vgl. Galasiërs 4:10-11; en Kolossense 2:16-17). Die swak Christene het nog ‘n verkeerde krampagtigheid, wat nie die christelike vryheid wil aanvaar nie. Hulle voel dinge as sonde aan, wat op sigself nie onrein is nie (Rom 14:14). Maar Paulus wil nie dat die gemeente die swakkes uitstoot nie, en gee opdrag dat gemeentelede nie oor mekaar se gevoelens moet oordeel nie. Die pad wat Jesus vir ons kom aanwys het, is juis ‘n lewe in liefde, om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet en sy lewe vir ons gegee het (Johannes 13:34-35). Dit beteken dat ons mekaar se swakhede sal verdra en mekaar in liefde moet dien. Sterkes in die geloof moet nie op die swakkes neersien nie, en die swakkes in die geloof moet nie die sterkes se vryheid veroordeel nie (Rm 14:10).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Wat beteken dit om te vas?

Wat beteken dit om te vas? – Francois Malan

Thayne vra:

Verduidelik asb. Vir my Matteus 9:16 – 17

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Mt 9:16-17 verduidelik Jesus met twee analogië hoe sy koms na die wêreld die Fariseërs en die Jode se opvatting van geregtigheid, dit is die regte manier van lewe voor God, verander het.

In die vorige twee paragrawe het eers die Fariseërs en toe die dissipels van Johannes die Doper, Jesus se optrede, wat strydig is met hulle siening van die regte optrede, bevraagteken.

 

Die Fariseërs, toegewydes aan die wet van God, glo as hulle met tollenaars en sondaars saam eet, word hulle onrein voor God. En in Mt 9:10 eet Jesus (die Seun van God) ‘n vreugdevolle feesmaal in die huis van die tollenaar Matteus, wat pas ‘n volgeling van Jesus geword het, en dit ook saam Matteus se tollenaar- en sondaar-vriende wat hy genooi het. Die Fariseërs glo hulle regte lewe voor God word besmet deur in die huis van ‘n heiden en ‘n sondaar in te gaan en saam met hulle te eet. Hulle vra vir Jesus se dissipels (sy leerlinge) waarom hulle leermeester saam met tollenaars en sondaars eet. Jesus, die Leermeester wat van God af kom, leer die Fariseërs oor God se wil: Hy kom soos ‘n dokter wat siekes genees van hulle siekte, en sondaars verlos van hulle sonde. God vra barmhartigheid en nie offers wat die Fariseërs en Jode  vir Hom bring nie. 750 jaar tevore het die profeet Hosea al dié woord van die Here vir Israel en Juda gesê: ‘Ek verwag liefde eerder as offers.’ Dit haal Jesus nou vir hulle aan (Mt 9:13; vgl. ook Miga 6:6-8: die Here vra nie offers nie, maar om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor jou God). Hulle verstaan die geregtigheid wat God van ‘n mens vra verkeerd. God vra dat ons mense met liefde sal behandel.

 

Johannes die Doper het ‘n asketiese lewe gevoer, en sy prediking was bedoel om die mense voor te berei vir die koms van die Messias deur berou oor en bekering van hulle sondes (Mt 3:1-4). Sy dissipels vra waarom Jesus en sy dissipels nie soos hulle en die Fariseërs vas nie (Mt 9:14). Jesus antwoord dat Hy gekom het as die bruidegom (soos Johannes die Doper van Jesus gepraat het as die bruidegom oor wie se stem hy baie bly is; Jn 3:29), en sy bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie – hulle sal wel vas wanneer Hy van hulle weggeneem word met sy kruisiging en dood, maar na sy opstanding verseker Hy hulle: ‘Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Mt 28:20). Jesus se bediening roep sy volgelinge op tot volle vreugde in liefdesdiens van God en medemens (Mt 22:27-29; 25:21,23).

 

Om die nuwe pad te beskryf van die geregtigheid voor God wat Jesus vir ons gebring het, beskryf Hy toe die twee ooreenstemmende voorbeelde in Mt 9:16-17. Jy kan nie die nuwe pad van geregtigheid volg deur vas te klou aan die ou vorme van godsdiens om God mee te behaag nie: die Fariseërs met beskerming van hulle reinheid voor God deur nie met tollenaars en sondaars te meng nie, en die Jode met vas as teken van berou oor die sonde voor God nie:

            ‘n Nuwe lap wat nog nie gekrimp het nie, kan nie oor ‘n ou lap se skeur vasgewerk word nie. Met die eerste was, krimp die nuwe stuk lap, en skeur die ou lap. Nuwe wyn (mos) wat nog gis, kan nie in ou leersakke gegooi word waarvan die leer al verhard het nie. Die gistingsproses sal die sakke laat bars, die wyn is daarmee heen sowel die ou leersakke. Nuwe wyn wat nog bruis van lewe word in nuwe leersakke gegooi wat kan rek in die gistingsproses. Die nuwe lewe vereis nuwe godsdienstige vorme. Uit onselfsugtige liefde het Jesus in ons plek ons sonde op Hom geneem en ons verhouding met God reg gemaak – dit is God se geregtigheid wat ons verkry deur in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam. Die gehoorsaamheid wat Jesus vra het Hy saamgevat in sy nuwe gebod dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34-35; 15:12-17).

 

God vra liefde, selfs teenoor ons vyande (Mt 5:43-48), en dat jy nie dink jy is beter as en neerkyk op die tollenaars en sondaars nie, maar om hulle met liefde na Christus toe te trek (vgl. ook 1 Tim 1:15). Om so te vas dat die mense dit kan sien, het geen waarde voor God nie (Mt 6:16-18). Die Christen se lewe word nie gekenmerk deur treurmares en vas nie, maar deur vreugde oor die genade en volheid van God waaruit hy/sy daagliks lewe. Daarom is vas om God se guns daarmee te wen en die vreugde van burgers van die koninkryk van God onverenigbaar. Jesus se soendood laat ons reeds in God se guns lewe. Ons vas bestaan uit selfbeheersing, wat ‘n vrug is van die werking van die Heilige Gees in ons (Galasiërs 5:22-23). Ons hele optrede moet getuig van die bruidegom, Jesus, en die goeie nuus wat Hy verkondig, die nuwe tyd van vreugde (nuwe wyn) saam met die bruidegom – selfs in tye van lyding en swaarkry (Rom 8:17 as ons saam met Hom ly, kan ons ook saam met Hom verheerlik word).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan