Hoe is Judas dood?

Hoe is Judas dood? – Francois Malan

Japie vra:

My vraag gaan oor Judas waar daar twee verskillende dinge oor sy dood in die Bybel staan. ‘n Vriend van my het my daaroor gevra en ek sal hom wil antwoord met julle verduideliking, want ek het geen antwoord oor hoekom dit so verskil nie. Baie dankie Groete Japie

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Volgens Mt 27:3-10 neem Judas die 30 silwerstukke terug na die leierpriesters en familiehoofde en sê: Ek het gesondig, want ek het onskuldige bloed verraai. Toe hulle nie gehoor wou gee aan sy onskuldverklaring van Jesus nie, gooi hy die geld in die tempel neer en gaan weg en het homself opgehang. Die leiers oordeel dat dit ontoelaatbaar is om die geld in die skatkis te gooi omdat dit bloedgeld is. Hulle koop toe daarmee die grond van die pottebakker as begraafplaas vir vreemdelinge. Matteus sien daarin ‘n vervulling van Jeremia (Jer 18:2-3 praat van afgaan na die pottebakker se huis, Jer 19:4 praat van onskuldige bloed vergiet; 19:10-13 van die potskerwe wat gegooi word op die ashoop Tofet waar kinderoffers gebring is aan die god Molog, as beeld van wat met Jerusalem sal gebeur). Matteus se aanhaling kom eintlik uit Sagaria 11:12-13 waar o.a. staan: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.’

 

(Matteus het voor Jesus se vonnisoplegging twee getuies van sy onskuld, vgl. Deuteronomium 17:6; 19:15 se vereiste vir die doodstraf: Judas getuig van sy onskuld voor die Joodse Raad,  en die vrou van Pilatus van sy regverdigheid voor haar man die Romeinse vonnis van kruisiging uitspreek; Mt 27:19).

 

Markus en Lukas Evangelies vertel niks van Judas se optrede na sy verandering van gedagte nie (die Griekse woord vir berou en bekering word nie in Mt 27:3 gebruik nie, maar ‘spyt kry’), maar in Lukas se tweede verhaal, Handelinge 1:16-20, verwys Petrus na Ps 41:10  in sy toespraak voor die gelowiges oor Judas se optrede teen Jesus: ‘Selfs my vriend, wat ek vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’

 

            Petrus se weergawe van die gebeure is dan dat Judas ‘mos ‘n stuk grond aangeskaf het uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die boek van die Psalms geskryf: Laat sy woonplek verlate word en laat geen inwoner daarin bly nie (Ps 69:2). En: Laat ‘n ander sy amp as opsiener oorneem (Ps 109:8).’ Daarom het hulle toe vir Mattias in Judas se plek gekies en by die elftal gevoeg.

 

Matteus en Handelinge se weergawe van Judas se dood het twee punte van ooreenkoms: Hy het geweldadig gesterf, en hy is verbind aan ‘bloedgrond’. Maar daar is opmerklike verskille: volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg, die priesters het die grond gekoop, die grond was bekend as die pottebakker se grond. Volgens Handelinge het Judas self die grond gekoop, dit is bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is (moontlik per ongeluk) – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Hier is duidelik twee onafhanklike weergawes van die basiese verhaal oor Judas se dood wat hom aan die stuk grond, nl bloedgrond verbind. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God – in Deuteronomium 27:25 staan: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak.

Matteus skryf waarskynlik vir Christene wat in Palestina woon, en Lukas verduidelik in Handelinge  vir sy lesers, wat buite Palestina bly, wat gebeur het. Hy verduidelik bv. vir hulle wat nie Aramees ken nie, die Aramese naam Akeldama  as ‘bloedgrond’.

 

Matteus se hele Evangelie wil telkens vir sy lesers wys dat wat met Jesus gebeur het ‘n vervulling is van die Skrif (vgl. bv. Mt 26:54,56) en die skandelike optrede van die owerpriesters. Hierdie verhaal oor Judas se dood, wat net in sy Evangelie voorkom, is ‘n vervulling van Jesus se waarskuwing in Mt 26:24: ‘Die Seun van die Mens gaan wel heen soos daar oor Hom geskryf staan (Jesaja 53:9), maar ellende wag op daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.’ Die owerpriesters het erken hulle geld is bloedgeld, maar het tog vir Judas daarmee omgekoop, en dit gebruik om die pottebakker se grond te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge.

 

Matteus se weergawe is waarskynlik beïnvloed deur die Sagaria-teks: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi (Sag. 11:13).

 

In die verlede is pogings aangewend om die twee verhale se verskille te verklaar. Vir die koop van die grond deur Judas self of deur die priesters is voorgestel dat die priesters die geld as die wettige besit van Judas beskou het en die grond daarmee in sy naam gekoop het. So sou hulle naam of die tempel nie daaraan verbind wees nie. Dat Judas homself opgehang het volgens Matteus en hy voorgeval het en oopgebars het volgens Handelinge is deur Augustinus al gekombineer: dat Judas se liggaam afgeval het nadat hy homself opgehang het, en toe oopgebars het; dat Matteus meer klem lê op Judas se wroeging wat tot selfmoord gelei het, terwyl Petrus in Handelinge wys na wat ná Judas se dood plaasgevind het, en die inwoners van Jerusalem die plek ‘Bloedgrond’ genoem het.

 

Die Johannes Evangelie het net ‘n sydelingse opmerking oor Judas se dood in Jesus se priesterlike gebed in Jn 17:12: ‘…Ek het hulle (wat die Vader aan Hom gegee het om in Hom te glo) beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.’

 

             Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wettelossheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom hy die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




God en Allah: Is hulle dieselfde?

God en Allah: Is hulle dieselfde? – Francois Malan

Francois vra:

Is die God (vader van Jesus Christus) en die God wat die Moslem aanbid, dieselfde God. Volgens my dominee is dit nie. Die God van die Bybel word blykbaar anders beskryf/voorgestel as die van die Moslems. Allah is mos maar net `n ander naam as God.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

God is ‘n soortnaam, nie ‘n eienaam nie. Daar is baie gode met verskillende eiename soos die Grieke se Zeus, Apollo, Aphrodite, ens. en die Romeine se Jupiter, Diana, ens.

 

Die God van die Bybel het Hom op Moses se navraag bekendgestel as ‘Ek is,’ wat in Hebreeus bekend geword het as Jahweh (Eks 3:14-15). Die Griekse vertaling het die naam Jahweh, wat 6,823 maal in die Ou Testament voorkom, vertaal met ‘kurios’, Here, soos dit ook in die Afrikaanse Bybel vertaal word.  Jahweh, ‘Ek is,’ is eintlik’n werkwoord, wat God beskryf as die ewige aktiewe teenwoordige;  vgl. Jesaja 52:6 ‘Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here (Jahweh) is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!’

 

Johannes se Evangelie, laaste van die Evangelies geskryf, met besinning oor wie Jesus is in die lig van sy opstanding en die Ou Testament, begin deur Jesus te noem ‘die Woord van God’ wat self God is deur wie God alles geskep het met sy Woord (Jn 1:1-3). Jesus sê dan ook ‘Ek en die Vader is Een, die Vader is in My en Ek in die Vader, wie My gesien het het die Vader gesien’ (Jn 14:10-11). In Johannes sê Jesus  8 maal ‘Ek is’ en brei daarop uit in ander tekse met ‘Ek is die brood van die lewe’ (Jn 6:35), ‘Ek is die Lig vir die wêreld’ (Jn 8:12), ‘Ek is die deur vir die skape’ (Jn 10:7), ‘Ek is die goeie herder’ (Jn 10:11), ‘Ek is die opstanding en die lewe’ (Jn 11:25), ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe’ (Jn 14:6), ‘Ek is die ware wingerdstok’ (Jn 15:1), en in Jn 8:58 Voorwaar voorwaar Ek sê vir julle: ‘Ek is’ al voordat Abraham gebore is. Daarmee sê Johannes dat Jesus al by die skepping die woord was wat gesê het: Laat daar lig wees (Gen 1:3). Hy is die openbaarder van God, waar God in die Ou Testament gepraat het, was dit deur sy Seun wat na sy menswording (Jn 1:14) Jesus Christus genoem is (Jn 1:17 Jesus beteken die Here verlos, en Christus is die Grieks vir Gesalfde (as profeet wat God bekendmaak, priester wat vir ons sondes gesterf het, vgl. Jn 1:29; en koning aan wie God alle mag gegee het in die hemel en op die aarde, vgl. Matteus 28:18).  

 

Daarby stuur die Vader en die Seun vir God die Heilige Gees om in ons te kom woon (Jn 14:16-17), ons tot geloof in Jesus te lei, en ons daagliks te lei en te versterk om in liefde met mekaar saam te lewe soos Jesus, as kinders van God (vgl. Romeine 8:9-17). In Jn 14 sê Jesus Hy gaan om vir ons plek te berei in die huis van sy Vader met baie woonplek (14:2), en later Hy sal die Vader vra om die HG te stuur om in ons te woon en te bly (14:17), en: ‘as iemand My liefhet sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon (14:23).       

 

1 Johannes 4:8,16 sê God is liefde. Liefde is ‘n verhoudingswoord. Dit dui die eenheidsband van liefde tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, waarin ons opgeneem word deur die Heilige Gees wat ons in ons kom woon en laat deel word van God se onbaatsugtige liefde (vgl. Romeine 8:38-39).

 

Terwyl Allah met 99 wonderlike name beskryf word oor alles wat Hy doen en is, o.a. as die Skepper, die Oorsprong, Enigste ware God,  het die Vader van Jesus Christus in ons kom woon deur die Heilige Gees. Islam verwerp die Drie-eenheid. Hoewel hulle Jesus as ‘n profeet erken, maar nie so belangrik soos Mohammed nie, aanvaar hulle gladnie dat Hy God is wat mens geword het om die sonde van die wêreld op Hom te neem en ons verhouding met God reg te maak sodat ons kinders van God is in wie Hy kom woon nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Here se wil

Die Here se wil – Francois Malan

Jan vra:

‘n Persoon lewer ‘n getuienis en sê dat hulle kind van 15 maande raak weg uit die geselskap en toe hulle begin soek staan die hekkie na die swembad oop en die kind dryf gesig na onder in die water. Toe hulle hom uithaal is hy reeds potblou en alles wat hulle doen help niks. Dokter toe, hulle pogings rig ook niks uit nie behalwe dat hulle vir die kind bid. Intussen bel die ouers al hulle kennisse om vir gebede vir die kind te vra. Duidelik kom boodskappe deur dat die kind sal lewe. Na ‘n tyd begin die die hartjie te klop maar die kind is in ‘n koma. Wakker word tyd sal 9 uur wees maar die dominee sê kom ons vra die Here vir 6 uur. So is dit toe en die kind word wakker.

Die pa kry die versekering van die Here dat die kind niks sal oorhou nie en dit blyk toe ook die waarheid te wees. Hierdie gebeurtenis bring die ouers en al die ander nader aan die Here en kry die Here al die eer. Wat moet mens van so scenario dink. Die ouers is agtelosig en die kind kon dood gewees het. Kan mens vra hoekom die Here ‘n kind sal laat swaar kry om die ouers tot ander insigte te bring. Ek wonder?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Hoekom wonder jy waarom die Here die kind laat swaarkry? Is dit dan nie, soos jy sê, die ouers se nalatigheid wat die kind laat swaarkry nie? En die Here se genade dat die kind aan hulle teruggegee word nie? Hoekom blameer ons die Here as ons verkeerd optree? Hoekom loof en prys ons nie die Here oor sy wonderlike goedheid dat Hy hier ‘n besondere uitsondering gemaak het en die kind laat lewe het nie?

 

Elia het gebid en die Here het die weduwee van Sarfat se seuntjie wat van siekte gesterf het se lewe laat terugkom (1 Konings 17:17-24). Van hierdie weduwee aan wie die Here daagliks kos voorsien het in die tyd van hongersnood, sê Jesus in Lukas 4:25-26 dat daar in daardie tyd van die drie jare hongersnood baie weduwees in Israel was, maar dat die Here vir Elia na dié weduwee in die heidense gebied van Sidon gestuur het om haar en haar seun saam met Elia aan die lewe te hou (1 Kon 17:15-16). Dit het die mense van Jesus se grootwordstad Nasaret woedend gemaak en hulle het probeer om Hom dood te maak oor hierdie besondere uitsondering wat God gemaak het, en dit vir ‘n heiden.  

 

Die vier Evangelies meld slegs van drie persone wat Jesus uit die dood opgewek het: die 12-jarige dogtertjie van Jaïrus (Mk 5:22,42 en Lk 8:41,55), die jongman, die enigste seun van die weduwee van Naïn (Lk 7:11-15), en Jesus se vriend Lasarus (Joh 11). Terwyl die Evangelies van baie genesings vertel, is daar slegs die drie besondere uitsonderings.

 

Die Here is vrymagtig om te doen wat Hy wil. Hy weet wat vir ons die beste is, voorspoed of teenspoed (Prediker 7:14); dat ons sal leer om te bid dat sy wil geskied (vgl. Jakobus 4:15), en ons daarby te berus en ons daarin te verheug. ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is..’ (Rom 8:28), ‘…oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ – selfs nie die dood nie (Rom 8:38-39).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Hoe definieer ons die wêreld

Hoe definieer ons die wêreld – Francois Malan

Thelma vra:

Ek wil graag weet in 1 Johannes 2:15-17 praat dit van ons moenie in die wêreld wees of dinge van die wêreld doen nie. Hoe definieer ‘n mens die wêreld?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Verse 15-17 verwys in drie parallele frases  na die ou orde wat nog voortbestaan tot die wederkoms van Jesus, en die verhouding van die gelowige teenoor die voortgaande ou bedeling:

            15 Liefde vir die wêreld  –           Liefde vir God

            16 kom van die wêreld   –           kom van God

            17 die wêreld gaan verby-          wie God gehoorsaam, bly vir ewig.

 

2:15 ‘Julle moet nie die wêreld liefhê of die dinge van die wêreld nie…’ Die woord ‘wêreld’ (kosmos) word in Johannes in twee betekenisse gebruik: as God se hele skepping, mense ingesluit (Jn 3:16),  of die menslike samelewing wat in die mag van die bose lewe, teen God en sy wil vir sy skepsels, die ‘sondige wêreld,’ wat gelei word deur bose selfsugtige begeertes (Jn 16:11). Gelowiges het van die ‘wêreld’ van duisternis oorgegaan in die lig van God. Hulle word geroep om ‘die dinge van die wêreld’ te weerstaan. Dit beteken nie dat hulle nie aan God se wêreld moet deelneem nie, maar om in die wêreld te wees en nie van die wêreld nie  (1 Jn 4:17;  Jn 17:14-16).

               ‘As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van (en vir) die Vader nie in hom nie.’ God se gawe van sy liefde en lewe moet reg gebruik word, deur Hom lief te hê, in sy liefde te leef in die wêreld, liefde vir die sondige wêreld  te verwerp, en selfsugtige begeertes te weerstaan. Liefde is nie ‘n onbeheerbare emosie nie, maar konstante toewyding van jou wil. Die een wat die dinge van die wêreld liefkry, gee homself daaraan oor en leef volgens die norme van die wêreld wat nie met God rekening hou nie.

 

2:16 Hier verduidelik Johannes wat ‘al die dinge wat in die wêreld’ is, wat teen God staan:

(i)  ‘die begeerte van die vlees’ – eintlik is dit ‘n opsomming van  alles wat deur die volgende twee dinge verder verduidelik word. Die woord ‘vlees’ (sarks) word gebruik vir die natuurlike swak liggaam, en vir die sondige gees. So is daar ook goeie begeertes en slegte begeertes. Hier gaan dit om die sondige begeertes van die sondige mens wat uitinge van sy selfsug en hoogmoed is (vgl. die lys van Gal 9-21). Begeerte (epithumia) verwys na ‘n sterk begeerte (neutraal), en ook om te kry wat aan iemand anders behoort, ‘n lus daarna (negatiewe betekenis). Laasgenoemde  gaan om ‘n eiewillige selfbeskikking en selfgerigtheid los van die wil van God.   

(ii) die begeerte van die oë – ‘n drang om dit wat die oë sien te verkry – sondige begeerlikheid na dinge wat teen die wil en wense van God is. Die oë is nie vanself  verkeerd nie, maar word die instrumente waarmee verkeerde begeertes toegelaat word om wortel te skiet en te groei in die menslike wil.

(iii) ‘praalsug’ of  ‘grootpratery /arrogansie van die lewe’ – (lewe, bios, verwys na jou daaglikse optrede of gedrag, of na jou besittings) die dinge in die wêreld maak dat ‘n mens op hulle gaan roem en hom op hulle verlaat. Die woord  (arrogansie, of pretensie) verwys na iets  wat spruit uit ‘n valse  waardering van wêreldse besittings, houdings en aktiwiteite. Daarmee wil ‘n mens wys dat hy beter is as ander, en versteur só juis sy verhouding met ander (vgl. Flp 2:3-5 vir egte nederigheid).

Bose begeertes (i) en valse waardes (ii) gaan oor onheilige begeertes na dinge en posisies wat ons nie het nie, en egoïsme (iii) gaan oor onheilige trots oor prestasies of dinge wat ons het.

Johannes het verduidelik wat al die dinge van die wêreld is wat die gelowige moet vermy en nie moet  liefhê nie: selfsugtige begeertes, wat gestimuleer word deur wat die oë sien en tot uiting kom in ‘n uiterlike vertoon.

            Sondige begeertes is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.’ Hervorming moet van binne af begin. Die wêreld, die menslike bestaan, aardse besittings, is nie in sigself sondig nie; dit is die mens se ingesteldheid daaroor en die mens se drang om daarmee verbind te wees sonder God, in die plek van God en selfs teen God. Dit is ‘n vervreemding van God (vgl. die derde groep sade wat tussen die onkruid geval het as beeld van bekommernis van die lewe, en die verleidelikheid van rykdom wat die woord verstik dat dit sonder vrug bly, Mat 13:22) .

 

2:17 Die wêreld met sy dinge wat begeer word, is aan die verbygaan. Dit is die tweede rede waarom ‘n Christen nie die wêreld moet liefhê nie (die eerste rede in 2:15-16: liefde vir die wêreld en liefde vir God sluit mekaar uit). Die dinge van die wêreld het egter nie permanente waarde nie, so ook nie die begeerte na die dinge van die wêreld nie

(1 Kor 7:31 sê: ‘hierdie wêreld soos ons hom ken (letterlik: die huidige vorm of voorkoms van hierdie wêreld), is aan die verbygaan.’  Daarom het dit nie blywende waarde nie. Daarom moet die Christen sy liefde vir dinge van die wêreld en sy verlange na die eer van mense aflê. Dit is deel van sy selfverloëning.

            ‘maar  hy wat God se wil doen, bly vir ewig’ – God se wil is boweal om lief te hê. Liefde teenoor God, deur sy gebooie te gehoorsaam, deur  steeds in liefde op te tree teenooor  alle mense met wie ek in aanraking kom (vgl. Rom 13:16 die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet). Liefde vir die wêreld kom uit die wêreld (2:16) wat aan verbygaan is. Liefde vir God kom uit God, en God is ewig, so ook die lewe wat Hy vir die gelowige gee. Omdat dit uit God is, is dit permanent, ewig. Dit behoort aan ‘n heeltemal ander dimensie as die wêreldlike lewe wat die Christen omring met verloklikhede om hom weg van God se wil af te lei, en jou eiewilligheid wat jou soos ‘n tipiese wêreldling laat optree. Maar om afstand  te hou teenoor die wêreld se aansprake  is daar slegs een manier, naamlik om die wil van God te doen deur lief te hê – dit bly vir ewig en gee sin en rigting in die lewe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan