Hoe onderskei ons?

Hoe onderskei ons? – Francois Malan

Mandie vra:

Noem die drie maniere wat God in sy Woord ons leer om te onderskei.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Ek is nie seker wat die vraag bedoel oor waaroor onderskei moet word nie, want dit sal tot ‘n mate die manier van onderskeiding bepaal.

 

Levitikus 10:10 sê bv. Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, tussen wat rein en wat onrein is. As maatstaf om die onderskeiding te maak sê Lev 10:11: Julle moet al die voorskrifte van die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer. Lev. 11:47 vra onderskeiding tusssen rein en onrein voedsel wat in die voorafgaande deel van die hoofstuk uitgespel is (vgl. ook Lev 20:25).

            In Esegiël 22:26 beskuldig die Here die priesters in die land dat hulle sy wet geweld aandoen en ontwy wat aan die Here gewy is, deurdat hulle nie onskeid maak tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en nie onderskeid ken tussen rein en onrein nie. Hulle moet eintlik die volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en ontrein is (Eseg 44:23).

 

In 1 Konings 3:9 vra Salomo van die Here ‘n ‘hart wat luister’ (1983-vertaling: gehoorsaamheid aan U) om u volk te rig/regeer, om te onderskei tussen goed en kwaad (1983-vertaling: in alles insig sal hê), want wie is tog in staat om u groot volk te regeer?

 

Maleagi 4:1-2 voorsien ‘n tyd waarin die volke na die huis van die Here sal stroom ‘sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.

 

Met Jesus se koms het daar ‘n groot verandering gekom. Hy gee ons ‘n nuwe wet: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het (Johannes 13:34) – met selfverloëning (Matteus 16:24-28) tot die dood toe vir mekaar liefhê, as vriende van Jesus wat doen wat Hy ons beveel (Johannes 15:12-17), selfs ons vyande liefhê as kinders van God (Matteus 5:43-48).

            Waar die onderhouding van die wette van die Ou Testament die manier was om te onderskei tussen goed en kwaad, word Jesus se nuwe wet van selfopofferende liefde soos Jesus, die maatstaf vir ons onderskeiding van God se wil (vgl. bv. Matteus 25:35-40 se toepassing daarvan).

            Jesus in sy persoon vervang die tempel as ons manier om by God uit te kom (Johannes 2:19-21); Hy verander die Sabbat as Here van die Sabbat  (Markus 2:27-28) wat soos sy Vader aan die werk is, ook op die Sabbat (Johannes 5:7). Hy het ook alle kos rein verklaar (Markus 7:15-19). Jesus se woorde en lewe word ons maatstaf vir onderskeiding.

            In Matteus 16:3-4 verwyt Jesus die Fariseërs en Sadusseërs wat van Hom ‘n wonderteken uit die hemel eis dat hulle die natuurtekens kan lees wanneer dit mooiweer of onweer sal wees, maar die nie tekens van die tye kan onderskei nie – nie kan insien dat Hy van God af kom nie, dat hulle geen teken sal kry behalwe die teken van Jona wat eers na drie dae weer lewend uit die vis gekom het – soos Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het soos Matteus 12:40 sê.

           

Verder het Jesus na sy hemelvaart die Vader gevra om die Heilige Gees in ons harte te stuur om in ons te bly (Johannes 14:16-17). Die Heilige Gees stel ons in staat om alle dinge te beoordeel/onderskei (1 Korintiërs 2:10-15).

 

Die Heilige Gees gebruik die woord van die Here om ons te lei in ons onderskeiding van die goeie en die kwade (Johannes 14:26 Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het). Ons moet luister na wat die Gees ons deur die woord van Jesus leer. Die woord van Jesus kom na ons toe deur mense wat van Hom getuig en deur wie se voorbeeld van ‘n lewe in liefde ons oortuig word. So werk die Gees deur mense om ons te lei in ons onderskeiding en beoordeling.

 

Die drie maniere wat God ons in sy woord leer om te onderskei is dus:

            Jesus! Sy woorde en sy voorbeeld van selfverloënende liefde soos dit in die Bybel opgeteken is

            Die Heilige Gees, wat in ons woon om ons te lei met die woord van God en die voorbeeld van Jesus

            Gelowiges, wat deur Jesus en die Gees gebruik word om, as kinders van God omdat hulle deur geloof aan sy Seun verbind is, met hulle woorde en lewe getuig van God se liefde vir die wêreld.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan

Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan – Francois Malan

Rina vra:

Is daar n verband oor wat in Kolossense 2 staan oor die sabbat, nuwe maan, eet en drink ens en Jesaja 66 wat praat van wanneer die Here in vuur en vlamme kom om te oordeel oor die wat varkvleis eet en die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Varkvleis

Jesaja 66 is gerig teen Israeliete wat ná die terugkeer uit Babilon wel sê dat hulle die Here dien, maar wat nog voortgaan met die afgodsgebruike wat hulle in Babilon aangeleer het. In Jes 65:4; 66:3,17 word verwys na die offers van varkvleis. Die verbod op die eet van varkvleis kom voor in Lev 11:7 en Deutr 14:8 as onrein diere omdat varke nie herkou nie. Varkvleis en hulle spek is ook deur sommige van Israel se bure gebruik as offers aan hulle afgode. Daarby het varke se manier om in modder te rol en afval kos eet ‘n teensin gewek (vgl. Spr.8:11 die skoonheid van ‘n dom vrou is soos ‘n goue ring aan ‘n vark se snoet; Mt 7:6 moenie julle pêrels voor die varke gooi nie).

 

Jes 65:4 verwyt die ballinge wat teruggekeer het dat hulle nog voortgaan met die offerandes aan ander gode; dat hulle die wette oor rein en onrein voedsel ignoreer en daarom onrein is in hulle aanbidding van die Here. Al praat hulle oor hulle godsdienstigheid, sny hulle hulleself van die Here af. Volgens Jes 66:4 offer hulle bulle, skape en graan, maar ook menseoffers, honde en varkbloed, hulle afgodsoffers word met hulle offers aan die Here vermeng. Die dubbelhartigheid word deur die Here verwerp, en vir hulle optredes kondig Jes 66:17 aan dat hulle uitgeroei gaan word.

 

Die Here het in Jesaja 1:11-14 al, voor die ballingskap, aan Juda en Jerusalem gesê Hy is sat van hulle offers, dat Hy ‘n afsku het aan hulle nuwemaansfeeste en sabbatsvierings wat Hy haat en Hom moeg maak.  

 

In Hosea 6:6, wat nog voor Jesaja geprofeteer het, sê die Here: Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers (vgl. Ps 40:7 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie, U wil gehoorsaamheid hê; vgl. 1 Samuel 15:22-23).

 

Volgens Matteus 9:13 en 12:7 haal Jesus Hosea 6:6 aan: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.

 

Vir die Kolossense skryf Paulus dan: julle moet nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie….dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom, die werklikheid is Christus (Kol 2:16); in Kolossense 1:20: deur Christus het God alles met Homself versoen; deur die bloed van God se Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Christus het God alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hebreërs 10:14: Deur die één offer het Jesus Christus dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volome van sonde vry gemaak. Daarmee is die offer van diere uitgedien en vervang deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis: 1 Kor 5:7: Want ook ons paaslam, Christus, is geslag (Jes 53:7: ‘soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei is…’).

 

            En wat die eet van varkvleis aan betref verwoord Paulus in Kolossense wat in Markus 7:18-19 staan: ‘Begryp julle dan nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit die liggaam uitgaan? Daarmee het Jesus alle kos rein verklaar.’

 

Vraag: Kolossense 2 oor sabatte en nuwemaan – Jes 66 ‘die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid?’ 

 

‘n Letterlike vertaling van Jesaja 66:23 is: En dit sal gebeur dat van nuwe maan tot nuwe maan (of ook: van maand tot maand), en van sabbat tot sy sabbat (of ook van rusdag tot rusdag) sal alle vlees (mense) kom om hulle voor my te buig, sê die Here.

 

            Dit verwys nie na die sabbatdag wat elke sewende dag gehou word nie, of na die nuwemaanfees wat elke maand gehou word nie, maar dat alle mense elke dag van die week en van die maand hulle voor die Here sal verootmoedig.   

 

            So sê Kolossense 2:16-17 dat niemand vir die gelowiges ‘moet voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse fees of die nuwemaanfees of die sabbatdag moet vier nie (letterlik vertaal: moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie). Hierdie dinge is net ‘n skaduwee van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.’ 2:20: Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die godsdienstige wettiese reëls van hierdie wêreld. 3:1 ‘aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is…’

 

            Dit beteken, soos Jes 66:23, dat ons elke dag sal lewe voor die aangesig van God om te doen wat Hy wil. In Johannes 13:34 en 15:12 het Jesus duidelik uitgespel hoe ons moet lewe: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Netsoos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. God vra liefde vir Hom en vir mekaar en nie die onderhouding van reinheidswette en spesiale dae nie om daarmee iets te verdien nie. Kolossense 1:22-23: ‘Maar nou het God se geliefde Seun julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar, en nie losgeruk word van die hoop wat die evangelie bring nie.’ En daarom die vermaning in 2:16: ‘Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie…’

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die merk van die dier

Die merk van die dier – Francois Malan

Netty vra:

Ek wil graag weet hoeveel keer word daar gepraat van die merk van die dier (666) en die verse asb as iemand my kan help.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In die oorspronklike Griekse teks word twee woorde gebruik vir ‘n merk. Die woord chargama (spreek uit Garagma) word vir die merk van die dier gebruik, wat die verhouding van die betrokke persoon met die dier aandui, ‘n merk wat die persoon se lojaliteit teenoor die dier aandui, dat iemand aan die dier se groep behoort. Die woord word sewe maal in Openbaring gebruik slegs as ‘n verwysing na die volgelinge van die dier. Die merk op die voorkop is simbool vir die denke en innerlike toewyding van die persoon aan die dier en die lewenswyse waartoe die dier hom/haar verlei; en aan die regterhand die praktiese uitlewe van hulle innerlike toewyding aan die dier. Die merk is ‘n karikatuur van die seël op die gelowiges.

 

            In Openbaring 13:16 -17 word gesê dat die dier uit die aarde almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier (uit die see) of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie – as jy nie deel is van die wêreld se selfsugtige maniere, gebruike en maatstawwe nie.

 

            In Openbaring 14:9-11  roep ‘n engel met ‘n harde stem: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se woede wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie – so waarsku Openbaring die mense wat hulle rug gedraai het op God en ‘n lewe wat deur God gelei word. 

 

            In Openbaring 16:2:…daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid – die innerlike verrotheid van die ongelowiges breek deur na hulle uiterlike gedrag.

 

            In Openbaring 19:20: die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi – en in 20:15 word dié wat nie die seël van God het nie, saam met die dier in die vuurpoel gewerp vir ewig.

 

            In Openbaring 20:4: …Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie – hulle word deel van Christus se opstanding uit die dood..

 

Die ander woord sfragis seël of sfragizoo verseël word in Openbaring gebruik vir die gelowiges. ‘n Seëlring is gebruik om eienaarskap aan te dui. In Openbaring onderskei die seël of verseëling die gelowiges van die ongelowiges:

            7:2,3 die engel hou die seël van die lewende God vas en sê: Moenie die land of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie (vgl. 7:4,5,8 waar ‘seël’ ook voorkom).  

 

            9:4: En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie

 

Vergelyk ook 14:1: dié wat by die Lam staan met sy Naam, en ook sy Vader se Naam , op hulle voorkoppe geskryf; en 22:4: Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe.  

 

            Waar die mense die merk van die dier verkry deur hulle keuse en selfsugtige besluite om die wêreldse lewenswyse waartoe die dier mense verlei, gee God sy seël van eienaarskap aan hulle wat op God vertrou en glo in die Seun van God, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, en Hom as die Here van hulle lewe volg.    

 

 

666

Openbaring 13:18 sê dit is die getal van ‘n mens, of  letterlik: ‘n menslike getal.

Verklaarders wat dit sien as die getal van ‘n spesifieke mens verbind dit met  keiser Nero volgens die gebruik om aan letters getalwaarde toe te ken. In Grieks, waarin Openbaring geskryf was, tel qsr nrwn  vir die bose ‘keiser Nero’ 666 (q=100, s=60; r=200; n=50; r=200; w=6; n=50; totaal 666). Nero was toe al lankal dood, maar verteenwoordig die regeerders en regerings van die dag.  

            Verklaarders wat dit as ‘n  menslike getal beskou, sien dit as ‘n simbool vir die hele mensheid, wat te kort skiet. Waar sewe die getal van volledigheid of volkomendheid aanwys, skiet ses telkens een te kort. Dat daar drie sesse is, verwys na die draak en die twee diere in sy diens wat telkens probeer om die God wat is en wat was en wat sal wees (1:4,8) na te aap, en self sy plek in te neem, sodat die mensdom hulle sal volg op hulle bose weg. As dit gebeur skiet die mensdom te kort aan God se doel met hulle lewe, en lewe hulle vir hulleself en nie vir hulle Skepper nie.  

             

Daarteenoor staan die getal van God se verseëldes, 144,000 (7:4), simbolies vir al die gelowiges van voor en na Christus, na aanleiding van die 12 stamvaders en die 12 apostels as hulle verteenwoordigers: 12×12=144,  x1,000, die volledige getal 10 tot die mag drie (10x10x10), dieselfde as 7:9-17 se ‘baie groot skare wat niemand kon tel nie, afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal voor die troon van God, wat vir God aanbid.’  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Vroue in leierskapsposisies?

Vroue in leierskapsposisies? – Kobus Kok

Louis Vra

“Was enige van die disipels se vroue betrokke by hulle werke? Waar staan dit in die Bybel, dat n mens as ‘n egpaar ‘n sel leier, jeug leier of kinder kerk leier MOET wees, anders is die verste wat jy kan vorder, is om op ‘n Sondag na die diens te kom luister, en by ‘n sel aan te sluit as gemeente lid? Ek is baie hartseer vandag. Ek WIL betrokke raak, en n verskil maak, maar volgens die kerke op ons dorp, kan ek nie.”

 

Kommentaar van Prof Kobus Kok

Prof Kobus Kok

Regoor die wêreld sien mens nog hoe mense van mening is dat vroue nie leierskapsposisies in die kerk mag beklee nie. Ek was onlangs saam met mense na ʼn kerk in Brussels in België. Mens sou dink dat die Europeërs en die (postmoderne) Weste al lankal verby die punt is om te dink dat vroue nie in kerklike leierskapposisies mag staan nie. Groot was my verbasing toe iemand die Sondag sê dat hulle baie ongelukkig is met bepaalde kerkleiers in België wat skaamteloos vroue predikante oplei en aanmoedig. Volgens hulle kan dit gewoon nie so wees nie. Die rede is eenvoudig: Die Bybelse boodskap leer ons dat vroue nie in leierskapsposisies mag staan nie en dat hulle in die erediens moet swyg (hesugia in Grieks – 1 Tim 2:12). Die tekste wat veral gebruik word is 1 Timoteus 2:12 waar Paulus vroue eksplisiet verbied om outoriteit (authentein in Grieks) oor ʼn man te hê. Dit is dus wel waar dat die Bybel dit verbied. Tog moet mens aan die ander kant baie mooi verstaan dat die Bybel in ʼn bepaalde historiese (geskiedenis agtergrond) konteks geskryf is. Die antieke wêreld was ʼn paternalistiese wêreld. Die woord paternalisties beteken dit was ʼn wêreld waarin mans alles oorheers het en vroue ʼn minderwaardige posisie beklee het in die samelewing. Dit was dus algemeen in die antieke wêreld bekend dat vrouens nie oor mans gesag mag uitoefen nie. Aan die ander kant sien ons hoe die Bybel op plekke soos Gal 3:28, 1 Kor 12:13 en Kol 3:11 dit duidelik maak dat man en vrou, slaaf en vry, barbaar, Griek en Jood almal een is in Christus. Dit kon dus in die antieke wêreld gebeur dat vrouens hierdie tipe boodskappe gehoor het en dat hulle dan op grond daarvan ongesonde (vir die konteks) mag oor mans wou uitoefen. Paulus was sensitief vir die konteks en vir die boodskap wat na buite gestuur word. Daarom het Paulus en die vroeë Christene altyd met ʼn sensitiwiteit omgegaan met die kultuur waarin hulle geleef het om nie die verkeerde indruk te skep na buite nie. Hulle wou nie die geloofwaardigheid van die Christendom skade aandoen nie. Tog sien ons op ander plekke in die Bybel dat vroue wel belangrike plekke ingeneem het, alhoewel hulle nie oor die algemeen as leiers voorgestaan het en gemeentes gelei het nie.

Vandag is die vraag egter tot watter mate mens die antieke kultuur wat paternalisties was in ag moet neem indien mens oor die leierskap van vroue wil besin. Persoonlik is ek van mening dat die Bybel in sy konteks verstaan moet word en dat Timoteus nie sommer net as algemene reël toegepas moet word in enige konteks nie. In die Nuwe Testamentiese Studies praat ons van die hermeneutiese dimensie of die dimensie waarin daar tot kruiskulturele “verstaan” gekom word. Daar is baie Bybelse opdragte wat ons vandag “vertaal”. Dink maar aan die Sabbat wat eintlik op ʼn Saterdag was, of die reëls in die Ou Testament waarvolgens mens nie kledingstukke van verskillende materiale mag dra nie of mense moet stenig wat teen hulle ouers in opstand kom of egbreuk pleeg. Net so sê Paulus in Korinte dat vrouens hoofbedekkings moet dra in die kerk, maar tog doen niemand van ons dit meer nie. Hoekom nie? Omdat ons besef het dat dit in die antieke tyd wel ʼn belangrike beginsel was dat vrouens in openbare ontmoetings hoofbedekkings moes dra. Ons konteks is egter anders en daarom neem ons Paulus se woorde nie letterlik op die maar ons verstaan die beginsel. Die beginsel is egter iets wat in ʼn bepaalde konteks sin maak. Ons is dus reeds almal implisiet (onderliggend) besig om die Bybelse boodskap in ons moderne konteks te “vertaal” of te (her)interpreteer. In sommige kontekste, soos in die NG Kerk vandag doen vroue baie goeie werk as leiers in en van gemeentes. Beteken dit die NG Kerk gaan direk in teen God se Woord? Nee! Die NG Kerk lees die Bybel binne die antieke konteks en neem die uniekheid van die antieke konteks in ag in die produksie van die Bybelse geskrifte. Die NG Kerk neem ook ons hedendaagse konteks in ag waar dit in sommige kontekste nie meer ʼn probleem is om die gesag van vrouens oor mans te aanvaar nie.

Dit mag wees dat sommige mense in bepaalde kerklike kontekste vandag ook nie die rol van die vrou in leierskapsposisies wil ondersteun nie. Daardie kerke het natuurlik die volle reg om dit te doen. Sommige kerke skryf dit selfs in hulle kerkordes vas. Mens moet ook sensitief wees vir die konteks waarin jy leef en die gemeenskap waarin jy leef respekteer. Vir my sal dit persoonlik baie moeilik wees om in so ʼn konteks te kan funksioneer omdat ek sterk voel dat vroue wel in leierskapsposisies in die kerk mag staan. Die rede is dat ek glo dat die Bybel binne konteks verstaan moet word en dat God nie opgehou het om waarheid aan ons te openbaar nie, en dat gemeenskappe se insigte ook groei en ontwikkel. Ons leef nie meer in ʼn antieke wêreld nie.

Omdat die Bybel binne-in ʼn paternalistiese sisteem ontstaan het, gaan mens dus nie tekste kry waarin vroue aangemoedig word om as leiers te funksioneer nie.

My raad sal wees om baie ernstig daaroor te bid en die Here te vra hoe jy tog betrokke kan wees as vrou. Dalk wys die Here vir jou op ʼn nuwe manier hoe jy ʼn funksie in die kerklike gemeenskap kan vervul wat jou gawes en jou talente tot vrug laat kom. Onthou dat jy binne ʼn konteks funksioneer. Wees sensitief vir jou konteks. Soms roep die Here mense om op te staan teen onderdrukkende sisteme. Weet egter dat dit jou by implikasie in ʼn sensitiewe situasie kan beland. Enkele dae gelede het ek gelees van ʼn vrou wat opgestaan het vir die leierskapsposisie van die vrou in die kerk en wat uiteindelik uit haar betrokke kerk geban is (sien http://www.nbcnews.com/news/us-news/mormon-womens-group-founder-kate-kelly-excommunicated-n138746 ). Bid daarom baie mooi dat die Here jou sal wys hoe jy Hom, die kerk en jou gemeenskap op hierdie tyd in die geskiedenis die beste kan dien. Waarvoor roep Hy jou vir hierdie tyd. Vind dit uit, en leef dan voluit.

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok