Jesaja 66 Vraag

Jesaja 66 – Francois Malan

Rina vra:

Maar praat Jesaja 66 nie oor die tyd wat Jesus weer gaan kom nie

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

[Varkvleis, Sabbat en nuwemaan.]

 

Hoofstukke 1-39 is geskryf van 740-701 v.C. volgens die konings in wie se tyd Jesaja opgetree het as profeet om te verkondig wat die Here vir die konings en die volk van Juda gesê het (vgl. Jes 1:1).

 

Hoofstukke 40-55 weerspieël die Here se goeie nuus aan Israel dat Hy hulle na hulle ballingskap in Babilon weer gaan terugbring na hulle land, deur Kores, die Persiese koning, wat die Babiloniërs sal verslaan, en Israel na hulle eie land toe laat teruggaan. Die ballingskap het begin in 587 v.C. (103 jaar na Jesaja se dood in 690 v.C.) en die eerste ballinge het begin terugkom in 539 v.C.

 

Hoofstukke 56-66 weerspieël verskillende situasies van die Jode wat terug is in hulle land, waarskynlik tussen die terugkeer van die Jode in 538 v.C. en die bou van die tempel in 515 v.C. Die volk het ‘n krisis beleef toe die beloftes van Jesaja 40-55 nie ten volle uitgewerk het nie. Hoofstukke 56-66 gee antwoorde daarop: daar is niemand soos die Heilige Here God nie. Hy is die Verlosser en Vader wat kan help, maar Hy is ook die regter wat toorn oor die sonde van sy volk. Verlossing kom. Dit is egter nie afhanklik van die mense se goeie dade nie. Dit sal vervul word in ‘n nuwe skepping van God, wat vrede bring.

 

Die beloftes van die Here in 56-66 sal ten volle vervul word met die wederkoms van Christus. So wys die beloftes van hoofstukke 40-55 ook verder as net die terugkeer van Israel uit die ballingskap – vandaar die Jode se teleurstelling en krisis nadat hulle terug was in hulle land. Heelwat van die woorde van 40-55 is reeds vervul met die eerste koms van Christus waarvan ons in die Nuwe Testament lees.

 

Aan die klein gemeentetjies wat verspreid is in die noorde van Klein-Asië (huidige Turkeye) en deur hulle medeburgers verdruk en vervolg word omdat hulle nie meer met hulle saamdoen nie, skryf  1 Petrus 1:10-12: Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself te bedien nie, maar júlle. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het deur die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is.Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. 

 

So word Jesaja 66, wat oorspronklik geskryf is aan die teleurgestelde Jode wat teruggekom het uit die ballingskap in Babilon, deur die eeue ‘n boodskap van oordeel oor die sondaars wat nie lewe volgens die woord van God nie, en vrede en hoop vir die gelowiges gedurende die 500 jaar sedert Israel se terugkeer uit Babilon tot by Jesus se eerste koms, en die 2,000 jaar na sy eerste koms tot in ons dag, en tot Christus weer kom.

 

Dit was reeds die Gees van Christus wat in die profete soos Jesaja en sy opvolgers was, wat vir hulle tyd ‘n boodkap moes oordra, soos 1 Petrus sê. Johannes 1:1-3 sê dat Jesus die Woord van God is, wat reeds aan die begin daar was, as die woord waardeur God geskep het. En waar ons God se woord in die Ou Testament hoor, is dit Christus wat die Woord van God is, wat toe mens geword het (Joh.1:14) en by ons kom lewe en sterf het vir ons sonde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




1 Petrus 3:19 – 21

1 Petrus 3:19 – 21 – Francois Malan

Willie vra:

 

My vrae handel oor 1 Petrus 3:19-21 “So het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en Sy oorwinning daar aangekondig ( alternatief – en vir hulle gepreek ).Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was”. 1) Wanneer sou Jesus Christus na die Geeste in die gevangenis gegaan het ? 2) Hoekom sou Hy Sy oorwinning aan hulle wou gaan verkondig want is die nie die geeste van mense vir wie die genadetyd reeds verby was nie ? 3) Is die vertaling van “Die doop red julle deur die opstanding van Christus” wel korrek vertaal uit die Grieks?

 

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

 

1 wanneer, 2 hoekom

 

Die skrifverklaarders stem almal saam, dit is van die moeilikste tekse in die Bybel, en die verklaring van elkeen van die oorspronklike Griekse woorde het ook probleme om te weet watter betekenis weergegee moet word.

 

 Daar was al baie uiteenlopende verklarings deur die eeue, wat veral in drie groepe verdeel kan word:

(1) dit verwys na Christus se verkondiging in die tyd van Noag, toe die mense nie na die boodskap van Noag se ark geluister het nie – so bv. Augustinus;

(2) dat dit geskied het tussen Jesus se sterwe en sy opstanding:

(2a) die Griekse Ortodokse kerk en die Roomse kerk sê dat Jesus na sy kruisiging na die doderyk gegaan het om die vromes van die Ou Testament se tyd uit die limbus patrem, die plek in die doderyk vir die vaders, na die hemel oor te bring;

(2b) die Lutherse kerk sê dat Jesus sy mag en oorwinning aan die Satan gaan bekend maak het; (2c) party verklaarders meen die geeste is gevalle engele aan wie Christus die oordeel aankondig; (3) dat dit  Christus se sterwe en opstanding is wat die verkondiging is, sy oorwinning oor die bose en die dood wat aangekondig is.

   

 

Die artikel in ons geloofsbelydenis ‘wat ter helle neergedaal het’ het o.a. uit hierdie tekse ontstaan teen die einde van die 4e eeu n.C., en is toe eers in die belydenis opgeneem. Calvyn se verklaring vir die artikel is dat Jesus die helse straf gedra het toe Hy aan die kruis uitgeroep het: My God , my God, waarop het U My verlaat. Die hel is volgens Matteus 25:41; Openb 19:20; 20:15 die plek wat God gereedgemaak het vir die straf van die duiwel en sy engele, en die ‘vervloektes,’ mense wat aan Jesus ongehoorsaam was (ook die mense in die Ou Testament se tye, want Jesus is en was nog altyd die Woord van God wat mense geglo het of verwerp het; vgl. Johannes 1:1-3. Die straf op die sonde van die hele wêreld het Jesus, uit selfopfferende liefde,  aan die kruis op Hom geneem (vgl. Johannes 1:29). So het God self die regverdige straf op mense se bose dade deur die eeue in ons plek gedra, die straf wat bly op die mense wat nie aan Jesus gehoorsaam is nie (Johannes 3:36).   

 

1 Petrus 3:18 kan verwys na die Heilige Gees wat vir Jesus lewend gemaak het; sommige vertaal vers 18 egter as: Christus is doodgemaak na die vlees en lewend gemaak na die gees.

 

vers19 begin met die Griekse woorde en hooi (in/deur wie – persoonlik, of: in/deur  wat – onsydig), wat dan vertaal kan word dat Christus deur die Gees wat Hom lewendig gemaak het, vir die geeste gaan preek het;

Die woorde kan egter ook onsydig vertaal word as ‘deur wat’ – dan kan beteken

(i)             dat Jesus na die gees (‘n onsydige woord; en nie met sy liggaam nie) vir hulle gaan preek het. 

(ii)            dat Jesus  se opstanding uit die dood, wat in v18 genoem word, vir die geeste die aankondiging van Jesus se oorwinning is. Dit sou pas by Calvyn se verklaring. 

 

Die Griekse werkwoord poreuomai beteken ‘gaan’ van een plek na ‘n ander; of ‘reis,’ maar verwys nie na opgaan of afdaal nie,; in 3:22 word daarby gevoeg dat Hy in die hemel ingegaan het. Daarom meen party verklaarders dat Jesus met sy hemelvaart vir die geeste in die lug (waarvan Ef 6:12 praat) gepreek/aangekondig het. Die antieke beeld van die heelal het gepraat van die wolke-hemel, die lugruim of sterre-hemel, en die derde hemel waar God woon (vgl 2 Kor 12:2). Maar in ons ruimte-eeu weet ons dat die hemel ‘n ander dimensie is, dat God alomteenwoordig is en dat die hemel daar is waar God is.  

 

Die woord pneumata geeste, kan verwys na bo-natuurlike wesens, engele of bose geeste (gevalle engele). Vers 20 verwys egter na hulle in die tyd van Noag, sy tydgenote, waarskynlik word gedink aan die geeste van die mense wat oorlede is in die vloed, as verteenwoordigers van almal wat reeds gesterf het van die begin van die mensheid af.

 

Die woord fulake kan verwys na ‘n gevangenis, of ‘n (nag)waak, of ‘n plek waar bose geeste bly. Volgens Ef 6:12 bly die bose geeste in die lug/hemelruim; volgens Openbaring 11:7 kom die dier uit die bodemlose diepte (abussos) waar die leier van die bose engele ook bly (Openb 9:11). In Bybelse tyd was die gedagte dat mense wat sterf na hades die ‘doderyk’ gaan.

Die woord gehenna word vir die hel gebruik, die Griekse vertaling vir die Hinnomdal by Jerusalem, na aanleiding van die ashope van Jerusalem in die Hinnomdal, wat altyd gebrand het, en waar kinders in die gloeiende arms van die beeld van die afgod Molek geoffer is (Lev 20:2)..

 

 Die Griekse werkwoord kerusso word gebruik vir ‘aankondig, vertel en preek’. Is dit ‘n boodskap van veroordeling vir die ongehoorsames, of ‘n boodskap van oorwinning vir die gehoorsames, of moontlik albei? Vir die verkondiging van die evangelie word gewoonlik die woord  euangelizoo gebruik. Dit laat dink dat Hy sy oorwinning oor die bose en die dood aangekondig het.

            1 Petr 3:22 sê van Jesus: Hy wat aan die regterhand van God is nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp het.

            1 Kor 15:24-26 sê dat die einde kom wanneer Christus alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Hy regeer as koning totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.  

 

As die en hooi onsydig vertaal word, kan dit beteken dat Christus se kruisiging en opstanding sy oorwinning oor die sonde en die dood is wat aan die geeste in die gevangenis van die sonde en die dood aankondig, dat Hy die sonde en die dood met sy liefdesoffer oorwin het, en nou hulle Regter is aan die regterhand van God – aan almal wat nie in Hom wou glo nie, soos die mense van Noag se tyd.  

 

3. Doop – vertaling

 

1 Petr 3:20 verwys na die paar mense in Noag se ark wat deur die vloedwaters heen gered is. Daarby skakel vers 21 aan, letterlik met: ‘en waarvan die teenbeeld (antitupon iets wat in vorm en struktuur met iets anders ooreenkom, as ‘n vervulling van ‘n realiteit wat vooruit gewys het) julle nou red, die doop, wat nie die aflegging van die vuilheid van die liggaam (is nie), maar ‘n versoek (of: ‘n plegtige belofte) aan God  vir ‘n goeie gewete, deur die opstanding van Jesus Christus…’

            Die woord eperootema word vir ‘n bede gebruik, maar ook vir ‘n bepaling in ‘n kontrak tussen twee persone, ‘n verpligting, ‘n bindende onderneming, ‘n belofte om ‘n bepaling getrou na te kom – Engels ‘pledge’ – wat die dopeling met God aangaan by die doop dat hy/sy hulle gewete sal skoon hou. Hierdie vernuwing/reiniging van die mens word nie bewerk deur die water of die doophandeling as sodanig nie, maar deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is die teenbeeld of uiterlike teken van wat die opgestane Jesus met ons doen as ons aan Hom verbind is, aan sy dood en opstanding verbind om te sterwe aan die sonde en te lewe vir God (Romeine 6:1-14). Ons is verbind aan Hom wat volgens 1 Petr 3:23 aan die regterhand van God is, as die regeerder oor die hele skepping.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Veroordeel en nie veroordeel nie

Veroordeel en nie veroordeel nie – Francois Malan

Francois vra:

Veroordeel of Nie Veroordeel nie wanneer jy sterf. Johannes 3:18 in besonder verwys. Vir my lyk dit of Johannes 3:36, 5:24, 6:40, 6:47 en Heb 10:26 in ooreenstemming met Joh 3:18 is. Vraag a. Verstaan ek dit reg: volgens hierdie vers is mense wat nie glo nie reeds veroordeel wanneer hulle sterf, en word hulle nie eers veroordeel op die oordeelsdag nie? Vraag b: Volgens Johannes 12:48 en Romeine 2:5 is daar wel ‘n oordeel op die laaste dag (neem aan dit is die oordeelsdag). In vergelyking met vraag a, hoe moet dit verstaan word?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Vraag a. Verstaan ek dit reg: volgens hierdie vers is mense wat nie glo nie reeds veroordeel wanneer hule sterf, en word hulle nie eers veroordeel op die oordeelsdag nie?

 

Joh 3:18 ‘…wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.’

            Dit gaan nie slegs om ‘n verklaring dat jy nie in die Seun glo nie, of weiering om te glo in die Seun nie, maar of jy gehoorsaam glo dat Hy die Here van jou lewe is, en jy sy gebooie begin volg (vgl. sy nuwe gebod aan sy dissipels in 13:34 en 15:12 Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê).

‘…sal die lewe nie sien nie…’ verwys na die ewige lewe by God, maar die ewige lewe begin nou reeds vir die wat in Jesus glo deurdat God die Heilige Gees in ons kom woon (14:16) en in 14:23 sê Jesus: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Hy woon reeds in die lewe van die gelowige, al het Hy in 14:2-3 gesê: In die huis van my Vader is daar baie woonplek…en as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. Hy/Hulle is nou reeds by ons, maar na hierdie lewe van aangesig tot aangesig.

Die ongelowige ongehoorsames sal die soort lewe saam met God, nou reeds en in die hiernamaals, nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hulle, nou reeds, al besef en verstaan hulle dit nie, of hulle wil dit nie weet nie. In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus hoe die toorn van God werk: vers18 sê die troon van God word nou reeds geopenbaar; 19-23 gee die redes aan vir God se toorn dat mense Hom nie as God dien nie, maar hulle dien mense en dinge wat Hy geskep het; 24 en 26 sê waarin die toorn van bestaan: Hy gee mense oor aan hulle self, aan hulle eie begeertes, aan hulle skandelike drange; 25,27-32 skilder die prentjie van mense wat aan hulle eie oorgelaat word, sonder die remminge van God. En daarvan sal hulle rekenskap moet gee op die dag van oordeel. Vergelyk Mt 25:31-46: Jesus se gelykenis van die skeiding tussen die skape en die bokke op die oordeelsdag met sy wederkoms: v34,46 sy uitspraak oor die geseëndes deur sy Vader; 35-40 die beskrywing van hulle lewe in sy liefde; 41,46 sy uitspraak oor die vervloektes om saam met die duiwel en sy engele deur God vir ewig gestraf te word; 42-45 die beskrywing van hulle lewe sonder liefde vir Jesus.

 

Vraag b: Volgens Johannes 12:48 en Romeine 2:5 is daar wel ‘n oordeel op die laaste dag (neem aan dit is die oordeelsdag). In vergelyking met vraag a, hoe moet dit verstaan word?

 

Ook die gelowiges word op die laaste dag geoordeel soos die ongelowiges, soos Romeine 2:6-11 dit uitspel; vgl. ook Mt 25 se gelykenis sê. Dit is ‘n openlike verklaring van wat lankal aan die gang is, van ‘n hele lewe saam met of sonder Jesus. Openbaring 20:12 se beeld daaroor is dat die boekrolle oopgemaak sal word – die boeke waarin ons self ons lewensgeskiedenis skryf deur elke gedagte, besluit, woord en daad wat ons doen. Maar indien iemand in die ander boekrol is, die boek van die lewe, wat deur God geskryf word oor húlle wat aan sy Seun verbind is deur geloof, waartoe die Heilige Gees hom/haar oortuig het, word hy/sy deel van die nuwe hemel en die nuwe aarde van hoofstuk 21; – 21:7 sê dit is hulle wat oorwin het. As gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gewerp, dit is die tweede dood(20:15). Johannes 12:47-48 praat van veroordeel; wie Jesus verwerp en sy woorde nie aanneem nie, sal deur die woord wat Jesus gespreek het veroordeel word – omdat hy/sy nie daarvolgens gelewe het nie.

 

Ons lewe nou nog in die tyd van genade, ook vir die goddeloses om tot bekering te kom as hulle besef waarmee hulle besig is sonder God,vgl. 2 Petrus 3:9 ‘…die Here is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.’   

 

Waar dit nie altyd vir die gelowiges duidelik is dat hulle reeds die ewige lewe het nie, veral as hulle deur baie swaar beproewings gaan, saam met Jesus ly soos Hy gely het, sal ons daardie dag saam met Hom verheerlik word  (Romeine 8:17). Waar die lewe van die goddeloses dikwels lyk of dit baie goed met hulle gaan, en hulle tevrede is met ‘n lewe sonder God en sy Verlosser, sal dit daardie dag duidelik word dat hulle selfsugtige en selftevrede lewe tydelik is, en dat hulle hulle rug gedraai het op God se liefde en genade.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geeste van Afgestorwenes

Geeste van Afgestorwenes – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor Hebreers 12 vers 23, “Julle het gekom by God, die Regter oor almal ,en by die geeste van die verslostes in die hemel wat nou volkemdheid bereik het”.Vers 24 – ” ja julle het aangekom by Jesus die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en sy mense …” My oudste seun was n spastiese kwadrupleeg en is op 26 oorlede . My vrae is 1) Is Kobus( ek neem aan net sy gees) in Jesus Christus se teenwoordigheid op so ‘n manier dat hy met Christus kan praat? 2) Wat beteken die volkomendheid waarna hier verwys word?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Hebreërs 12:18-24 word ‘n vergelyking getref tussen die ou en die nuwe verbond as ‘n waarskuwing teen agteruitgang in die geloof en ‘n aansporing  om te volhard, met die oog gerig op Jesus, die Voleinder van die geloof. Aan die een kant word verwys na die openbaring van God wat sy verbond met Israel gesluit het by die berg Sinai nadat Hy hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Eksodus 19:16-19; 20:18-21). Daarteenoor staan die heerlikheid van God se openbaring in die nuwe hemelse Jerusalem en van die nuwe verbond wat God gemaak het deur die bloed van Jesus Christus wat by Sion gekruisig is. 

 

Volkomendheid?

By die Sinai-openbaring is die skrikwekkende gebeure en die volk se vrees op die voorgrond. Maar hoog bokant die berg Sion skitter die hemelse Jerusalem se vreugdefees rondom God die regverdige Regter en Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond. Hulle word geprys deur miljoene engele, al die Christus-gelowiges op aarde wie se name in die hemel opgeteken is, en die regverdiges wat reeds gesterf het en wie se verhouding met God, die Regter, volmaak reggestel is deurdat Christus, die Middelaar, hulle uit genade volkome van sonde vry gemaak het deur sy liefdesoffer aan die kruis.   

 

Met Jesus kan praat?

Al Christus se volgelinge, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het, kan daagliks enige tyd met Hom praat. In Johannes 14:23 sê Jesus: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. In Johannes 14:16 het Hy reeds gesê Hy sal die Vader vra en die Vader sal die Heilige Gees vir ons gee sodat die Heilige Gees vir ewig by ons kan wees. Romeine 8:10-11 sê Christus is in ons, en die Gees van God wat ook die Gees van Christus genoem word, woon in ons. Die Here ken ook elke gedagte wat ons dink (Ps 139:2). 1 Korintiërs 13:12 sê: eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is.

 

Net sy gees?

In Filippense 1:23 sê Paulus oor sy dood: hy verlang om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Paulus as persoon sal saam met Christus wees. Hoe ons dan sal wees, kan ons mense op aarde nie mooi verstaan nie. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan