Die Verlore teks

Die Verlore teks – Francois Malan

Thys vra:

Daar is egter nog waarwordings wat my verwonderd laat. Ons is in ‘n omgeegroep wat weekliks op Dinsdagmiddae bymekaar kom om uitsluitlik in die gees te groei.Wat opmerkend is,is dat vers 37 van HANDL 8:37 nie in die 1983 vertaling verskyn nie, maar wel in die3353 vertaling.Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe Dit mag mos nie gebeur het nie, aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie? Shalom.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Dit is ‘n lang storie:

 

Ons het geen oorspronklike geskrif van enige Nuwe Testamentiese boek nie. Alles wat beskikbaar is, is kopieë van kopieë van die Grieks wat Paulus, Markus, Lukas en die ander geskryf het. Daarby is alle geskrifte met die hand oorgeskryf totdat Johannes Gutenberg in Mainz Duitsland die Latynse vertaling van die Bybel met masjiene begin druk het tussen 1450-1456.

 

Die eerste gedrukte Griekse teks van die Nuwe Testament is in 1514 in Alcalá Spanje gedruk as deel van ‘n boek met vier kolomme langs mekaar, die teks van die Bybel in Hebreeus, Aramees, Grieks en Latyn, gepubliseer in vyf volumes. Die oorsprong van die teks van die Griekse teks daarin bly onbekend.  Die drukker Johann Froben van Basel Switzerland het toe ‘n geleentheid gesien om ‘n handige uitgawe van die Griekse Nuwe Testament alleen te publiseer. Daarvoor het hy Desiderius Erasmus van Rotterdam Nederland in April 1515 na Basel toe laat kom om die teks vir hom voor te berei. Tot sy teleurstelling het Erasmus in Basel slegs twee Griekse manuskripte van die Nuwe Testament in Basel se klooster gekry wat hy kon gebruik, een op die Evangelies en een op Handelinge en die briewe, maar albei wat eers in die 12e eeu n.Chr. met die hand geskryf is. Die twee het hy saamgeflans en hier en daar verander om aan te pas by sy eie vertaling van die Latynse Nuwe Testament waaraan hy gewerk. Vir Openbaring het hy ‘n kopie van sy vriend Reuchlin geleen. Die laaste ses versies van Openbaring was egter nie in die manuskrip nie, en dié vertaal hy toe uit die Latyn na Grieks (met sommige woorde wat hy gemaak het en nie in Grieks bestaan nie). Die teks wat in Maart 1516 gedruk is, was so vol foute, dat hy dit in vyf uitgawes telkens effe verander het. Die tweede uitgawe was die teks wat Luther gebruik het vir sy vertaling van die Bybel in Duits. Die Griekse NT was so gewild dat dit later die benaming Textus Receptus ‘Die aanvaarde teks’ verkry het. Die teks is gebruik vir die vertaling in Engels, die King James Version van 1611, en vir die Nederlandse Statenvertaling in opdrag van die sinode van Dordt 1618-1619.  Die 1933-vertaling in Afrikaans het eers ‘n stryd gekos of dit ‘n vertaling van die Nederlandse Statenvertaling sou wees, en of dit nuut uit die Hebreeus van die Ou Testament en die Grieks van die Nuwe Testament moet wees. Daar is toe besluit om die Textus Receptus vir die Nuwe Testament te gebruik, maar daar was enkele stemme wat gevra het dat die Textus Recepetus effe aangepas moet word by die kennis wat in die vorige jare opgedoen is van Koine, die algemene Grieks wat in die Nuwe Testamentiese tyd in die Romeinse Ryk gebruik is as omgangstaal (vgl. bv.Paulus se prediking in Listra tussen die mense wat Likaonies gepraat het, Hand 14:11), wat baie woorde en uitdrukkings in die Nuwe Testamentiese geskrifte het wat afwyk van die klassieke Grieks, maar ooreenstem met woorde en uitdrukkings wat gebruik was in ou kontrakte en briewe uit die Bybelse tyd, wat in Egipte op papirus geskryf is. Selfs vandag word daar nog steeds van die ou geskrifte in Egipte opgegrawe. Die 1953 hersiening van die Afrikaanse Bybel was eintlik slegs ‘n verbetering van die Afrikaanse taalgebruik.

 

Intussen het navorsing en opgrawings baie Griekse tekse van die Nuwe Testament ontdek wat baie ouer is as die tekse wat Erasmus gebruik het. Van die oudste geskrifte is in Egipte gevind, wat kort dele van die Nuwe Testament bevat  wat tussen die derde en die sesde eeu op papirus geskryf is. Die oudste van hulle bevat 5 verse van die Evangelie van Johannes wat in die eerste helfte van de tweede eeu, ongeveer 130 n.Chr. afgeskryf is. Die eerste geskrifte is alles in Griekse hoofletters geskryf. ‘n Stroom kopieë van die Nuwe Testament op perkament, dierevelle wat gebrei en fyn skoongemaak is, is deur die jare ontdek (die papirus het slegs in die droë klimaat van Egipte oorleef). Die beste van die hoofletter manuskripte is in die helfte van die 19e eeu deur Konstantyn Tischendorf van Leipzig ontdek in die Katharina klooster in die Sinai-woestyn, enkele velle was reeds in die vullismandjie om verbrand te word. Na ‘n lang stryd is die manuskrip verkry met die hulp van die Tsaar van Rusland as hoof van die Grieks Ortodokse kerk, en in 1933 het die Britse Museum die manuskrip by die Russiese regering gekoop. Tans is die Kodeks Sinaitikus in die Britse Museum en bevat die volledige Nuwe Testament sowel as die Ou Testament, wat in die 4e eeu n.Chr. afgeskryf is (ongeveer 325 n.C.). Ook uit die 4e eeu n.Chr. (ongeveer 350 n.C.) dateer die Kodeks Vaticanus wat in die biblioteek van die Vatikaan in 1475 ontdek is. Die laaste deel van Nuwe Testament van Hebreërs 9:14 tot Openbaring makeer egter in hierdie manuskrip. Nog ‘n 44 gedeeltes van die Nuwe Testament in hoofletters geskryf, is gevind, wat tussen die 5e tot 10e eeu n.C. afgeskryf is. Daarna volg ‘n lang lys van oor die 1,000 manuskripte wat in kleinletters geskryf is wat baie vinniger geskryf kan word, baie van hulle is slegs dele van die Nuwe Testament. Uit die fotokopieë van meer as 250,000 volledige en gedeeltes van manuskripte van die Nuwe Testament, aanhalings van die Skrif in vroeë skrywers, leesroosters in ou kerke het die ‘Instituut vir die studie van die teks van die Nuwe Testament’ in Munster, Duitsland ‘n teks saamgestel wat die naaste aan die oorspronklike teks is, met aantekening van die manuskripte wat die teks ondersteun en wat ander manuskripte aanbied. Die United Bible Society het die beredenering van die Instituut by die keuse van die teks gepubliseer. Dit is teks van die 26e uitgawe van die Instuut is deur die Afrikaanse vertaling van 1983 gebruik.

 

Oor die uitlating van Handelinge 8:37 is die kommentaar van die Instituut:

Dit is ‘n Westerse invoeging, wat nie voorkom in papirusse 45,47 en die hoofletter manuskripte Sinaiticus, Vaticanus, Alexandrinus, Ephraemi, drie kleinskrif manuskripte, die Vulgaat, die Siriese vertaling, die Koptiese vertaling nie, maar wel, met baie variasies, in Laudianus (6e eeuse hoofletterteks), báie kleinletter manuskripte, en latere uitgawes van die Latynse Vulgaat, en van die Siriese, Koptiese en Aramese vertalings. Daar is geen rede waarom ‘n afskrywer die teks sou uitgelaat het as dit oorsponkiik in die teks was nie. Daarby is die Griekse ‘die Jesus Christus’ met die lidwoord sonder bv. ‘die naam van’ nie ‘n uitdrukking wat Lukas gebruik nie. Die uitdrukking ‘ek glo dat die Jesus Christus die seun van God is’ is in die vroeë kerk gebruik by doopgeleenthede, en kon waarskynlik in die kantlyn van Handelinge geskryf gewees het. Die woorde is skynbaar ingevoeg omdat gevoel  is dat Filippus nie die Etiopiër kon doop sonder om sy belydenis van geloof te kry nie. Ireneus het reeds in die laaste deel van die tweede eeu n.C. die Etiopiër se belydenis van geloof in Christus aangehaal. Daarom was die gedagte reeds vroeg bekend, al is dit eers in die sesde eeuse manuskrip opgeneem,

Die middeleeuse teks wat Erasmus gebruik het vir sy tweede uitgawe, het nie vers 37 gehad nie, maar dit het in die kantlyn gestaan van die teks wat hy vir die vierde uitgawe bygewerk het. Erasmus het dit toe in sy 4e uitgawe ingevoeg omdat hy geoordeel het dat dat dit uitgelaat was deur ‘n nalatige afskrywer.

 

‘aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie?’

 

Dit lyk eerder asof Hand 8:37 bygevoeg is by die oorspronklike teks wat Lukas geskryf het.

 

‘Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe.’

 

Ek het tog ‘n vraagteken by die volgorde wat jy hier mooi omskryf. Ons word nuut van Bo af uit God gebore deur die Heilige Gees, om van ons kinders van God te maak wat aan die Seun van God verbind word om  met sy dood en opstanding verbind te word. Die Heilige Gees doen dit deur ons daarvan te oortuig deur veral die prediking van die woord van God (vgl Rom 10:14-15), sodat ons besluit om in Jesus as ons Verlosser te glo. Selfs ons geloof is ‘n gawe van God (Ef 2:8). Ons geloof in Christus is die bewys dat ons sy kinders is en dat die Heilige Gees in ons woon. En as ons in Jesus Christus glo as die Here van ons lewe, is ons reeds geheilig. 1 Kor 1:10 sê letterlik: ‘Deur Hom (God) is julle in Christus Jesus wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en bevryding.’ Christus is ons heiliging, ons regeer nou reeds saam met Hom oor versoekings en sonde, en ons het nou reeds die ewige lewe, ‘n lewe in gemeenskap met God wat in ons kom woon het (Johannes 3:36; 10:27-29; 14:18,23). Met sy wederkoms sal ons ten volle ken, soos God ons ten volle ken (1 Kor 13:12) en sal ons volmaak wees deur ons ten volle aan God te onderwerp en Hy alles in almal sal wees (1 Kor 15:28). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die betekenis van die doop

Die betekenis van die doop – Francois Malan

Thys vra:

Wat is die betekenis, doel en verskil m.b.t. die Gelowige Doop, die Heilige doop, die klein(kinder/baba) doop, die groot(volwasse doop) en doping met die HeiligeGees. Doping met vuur. Water doop besprinkeling en /of onder dompeling.?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die betekenis van die doop:

Die doop is die uiterlike bevestiging deur God dat die dopeling verbind is aan Jesus Christus, die Seun van God, wat uit sy genade en groot liefde aan die kruis gesterf het vir die sonde van die wêreld, en deur sy opstanding die dood as straf op die sonde oorwin het. Die verbinding aan Jesus Christus word gedoen deur die Heilige Gees wat reeds in die dopeling kom woon het soos God belowe het. Deur die werking van die Heilige Gees is die dopeling weergebore tot kind van God. Die doop is ‘n uiterlike teken wat God gee, om daarmee sy seël van eienaarskap op ons te plaas – die dopeling behoort nou aan God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 

 

            Romeine 6:3-4: Of weet julle nie dat ons wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood ingedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

`           Johannes 3:3: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (die Griekse woord het ‘n dubbele betekenis en beteken altwee: ‘van bo gebore’ en ‘weer gebore’).

 

Johannes 3:8: die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan  nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

 

Johannes 14:16-17 Die Vader sal die Heilige Gees gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees…en in julle sal wees.

 

Romeine 8:11: As die Gees van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

Romeine 8:15 Julle het die Gees van kindskap ontvang deur wie ons roep ‘Abba, Vader!’(Abba is die Aramees vir Vader)  Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is.

 

Doop met die Heilige Gees, en doop met vuur:

Johannes die Doper het gesê: Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom…sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop…die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand (Matteus 3:11-12; vgl. Markus 1:8; Lukas 3:16) – hier is die vuurdoop die ewige vuur as ewige straf vir die ongelowiges (Matteus 18:8; 25:41 die vuur wat God vir die duiwel en sy volgelinge berei het). Jesus Christus kom as Regter om te oordeel tussen gelowiges en ongelowiges (Matteus 25:31-33).

 

Die doop met die Heilige Gees word verduidelik in Johannes 7:38-39:  Jesus het gesê: Hy wat in My glo, soos die Skrif sê (vgl. Jesaja 58:11): ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê, wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie – volgens die Evangelie van Johannes begin Jesus se verheerliking aan die kruis, as die hoogste liefdesoffer van God vir ons. Deur sy liefde trek Hy ons na Hom toe (vgl. Jn 12:32-33). Die vrug van die werking van die Gees in ons is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). So lyk ‘n mens wat met die Heilige Gees gedoop is.

 

Die Heilige Gees is God wat in ons kom woon om ons daagliks te lei en te leer en te ondersteun; Johannes  16:7-8: As Ek weggaan sal Ek die Heilige Gees na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid  en van oordeel – Hy wys ons op ons sonde; Hy oortuig ons dat die enigste manier om ons sondaars se verhouding met God reg te kry, is om aan Jesus Christus verbind te wees in die geloof en help ons om soos kinders van God te leef. Paulus sê in 2 Kor 3:18 dat die Heilige Gees ons verander om al meer soos Jesus te word. Hy sal ons ook oortuig van God se oordeel oor die duiwel en oor die bose in die wêreld (Jn 16:11).

 

Die doop met die Heilige Gees verwys na God se onsigbare werking in ons lewe. Dit gaan van God uit en Hy werk ons hele lewe lank aan ons.

 

Kinderdoop:

Die doop is God se uiterlike teken aan ons dat Hy ons sondes vergewe deur die bloed van die Here Jesus wat vir ons gestort is. Soos water ons liggaam reining, is die water van die doop die uiterlike teken dat ons sonde gereinig is deur die bloed van Christus. Sy ‘bloed’ is ‘n beeld van sy offer. Hy het in ons plek die straf op ons sonde gedra. Die Seun van God is deur God verlaat aan die kruis, deurdat Hy, uit sy genade en liefde vir ons, Homself oorgegee het in die dood. God het die dood as straf op die sonde gegee (Genesis 2:17). Deur self die straf van die dood op Hom te neem het Jesus ons bevry van die straf op die sonde, met die een offer wat vir God aanneemlik is, dat God ons straf op Homself neem. En die doop is God se seël wat nou bevestig dat ons vir ewig aan Hom behoort as sy kinders. Hy het ons losgekoop uit die straf op die sonde, en ons dood verander in die deurgang na die ewige lewe saam met God. 

 

Chrisus het sy bloed nie minder gegee vir die reiniging van die kinders van gelowiges as vir volwassenes nie (vgl. Markus 10:14: Laat die kinders na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle). Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het. Die Christelike doop is ‘n bevestiging van die doop van Jesus aan die kruis vir die vergewing van ons sonde – in Lukas 12:50 verwys Jesus na sy kruisdood as ‘n doop waarmee Hy gedoop moet word. Die doop op Golgotha raak die ganse wêreld – vgl. Johannes 1:29: Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die kinders van ‘n gelowige ouer is geheilig = aan God gewy, deur die gelowige ouer (1 Korintiërs 7:14).

 

Kolossense 2:11-12:  In Christus is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige aard weggeneem is, toe julle in die doop saam met Hom begrawe is. In Hom is julle ook opgewek deur die geloof in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

            So verbind Paulus die doop aan die besnydenis van Joodse seuntjies op die agtste dag, wat die teken was van die ou verbond van God se genade aan Abraham en sy nageslag (Genesis 17:9-14). Die doop is die teken en seël van die nuwe verbond van God met ons en ons kinders,dat seuntjies en dogtertjies van gelowige ouers ook kinders van God is.

            Op die Pinksterdag verklaar Petrus: die belofte van vergifnis van sonde deur Jesus Christus en die ontvang van die Heilige Gees geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-39). Nadat die Here die hart van Lidia oopgemaak het om ag te slaan op Paulus se getuienis, is sy en haar hele huishouding gedoop (Handelinge 16:14-15); soos almal in die huis van die tronkbewaarder van Filippi (Handelinge 16:32-33).

           

Volwasse doop – gelowige doop:

Die Heilige Gees kom om mense, wat nie gebore is uit gelowige ouers nie, uit ouers wat nie deel het aan God se verbond van genade nie, om ongelowige mense te oortuig dat Jesus die Seun van God is, wat vir hulle die pad na God toe kom oopmaak het. Die Gees gebruik vir sy oortuigingswerk die woord van die Here. wat verkondig word met mense se woorde en lewensvoorbeelde, deur gebeurtenisse, ens. So word mense wat nog nie in Jesus glo nie, deur die Gees gelei tot die besluit om in die Here Jesus te glo, hulle lewe aan Hom oor te gee as die Here van hulle lewe, en te lewe volgens Jesus se woord en sy voorbeeld van liefdediens. 

            So is die mense op die Pinksterdag diep in hulle hart getref deur die woorde van Petrus, en het hulle gevra wat hulle moet doen. Petrus het hulle antwoord dat hulle hulle moet bekeer (die Griekse woord metanoia verwys na ‘n verandering van hulle harte en denke oor Jesus) en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word. En julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang (Handelinge 2:37-38).

            Dit was ook Jesus se opdrag aan sy dissipels ná sy opstanding: Gaan dan en maak dissipels (leerlinge, volgelinge van Jesus) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees (met die teken en seël dat hulle aan God behoort), en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19-20).

 

            God se genade word aan mense verkondig, en as hulle besluit om dit te aanvaar, en met geloof daarop antwoord, word dit in die doop bevestig. Met die doop neem God die gelowige op in sy huisgesin, in sy gemeente. (Efesiërs 2:8: Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.

 

Besprinkeling en onderdompeling 

1 Petrus 1:2 noem die gelowiges in Klein-Asië: hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.           

Daarmee knoop Petrus aan by die beseëling van God se verbond met Israel by Sinai: Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het (Eksodus 24:8). So sien Petrus die samehang tussen die besprenkeling met die water van die doop van die nuwe verbond en die besprenkeling met die bloed van die ou verbond.

            Vir die doop van klein kinders is die besprenkeling met water dus aangewys as die teken en seël wat God aan hulle gee. Vir ‘n teken en ‘n seël maak die hoeveelheid water nie saak nie.

 

Die onderdompeling is ‘n baie realistiese teken van die sterwe aan jouself en jou ou lewe, deur jou heeltemal onder die water te druk, en die opstanding tot ‘n nuwe lewe waarin God die beheer oor jou lewe neem met die uithelp uit die waterbad deur die persoon wat jou doop. Romeine 6:4: Deur die doop is ons dus saam met Christus in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

Maar die hoeveelheid water is nie belangrik nie. Dit is ‘n teken wat heenwys na Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons hele lewe daaraan verbind word, om saam met Hom daagliks ons sonde af te lê, versoekings te weerstaan, en te lewe in gehoorsaamheid aan wat Hy sê (vgl. Efesiërs 4:22-24 om jou ou lewenswandel af te lê, die aard van jou denke te verander, en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is). In. Johannes 13:34 sê Jesus: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê – dit beteken selfs tot die dood toe mekaar liefhê.

 

Die doel van die doop

God beseël met die doop dat die dopeling aan sy Seun verbind is en dat God hom/haar daarom as kind aangeneem het en opgeneem het in die gemeente as deel van die ligaam van Christus. 1 Korintiërs 12:13: Ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Efesiërs 1:22-23: God het Christus as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Vergifnis en tyd saam spandeer

Vergifnis en tyd saam spandeer – Francois Malan

Christina vra:

Is dit reg in God se oë, om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou, maar omdat hulle nie in God glo nie, is dit reg dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou

Jesus het gesê elkeen moet sy broers (= medegelowiges) van harte vergewe (Mat 18:35). In Matteus 6:14-15 sê Hy: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander  mense nie vergewe nie, sal julle Vader ook nie julle oortredings vergewe nie.

Die rede waarom Christene moet vergewe, gee Paulus aan in Efesiërs 4:32: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe. En in Kolossense 4:3:13: Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

 

maar omdat hulle nie in God glo nie…’

Is dit so dat hulle nie in God glo nie – het hulle dit vir jou gesê, of dink jy maar net so?

 

Indien hulle openlik bely dat hulle nie in God glo nie, het jy as kind van God, wat glo dat Jwasua Christus die Seun van God is wat mens geword het en vir jou sonde gesterf het, nog altyd die roeping om vir hulle te bid, dat die Heilige Gees in hulle sal werk om tot geloof te kom in die Here Jesus as hulle Verlosser en die Here van hulle lewe; en as daar vir jou ‘n geleentheid kom, jy ook met hulle sal praat oor die groot liefde van God vir die wêreld, dat Hy uit liefde sy enigste Seun gegee het om ons sondeskuld op Hom te neem, sodat ons vergewe kan word en ons die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16).

            Jakobus 4:16,19-20 sê: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. As een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaling terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

            In Matteus 5:44-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook so nie? En as julle net julle broers (medegelowiges) groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader volmaak is (deur julle vyande lief te hê).

 

‘is dit okay dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?’

Die vraag het eintlik twee kante. Enersyds het die Here vir jou ‘n broer en ‘n suster gegee vir wie jy eintlik verantwoordelik is, al is daar ‘n vraagteken oor hulle lewe of hulle God al leer ken het as die God wat sy liefde ook vir hulle aanbied, deurdat Hy die straf op al ons sondes klaar in ons plek gedra het. Dit is God se roeping vir elkeen van sy kinders om getuies te wees van sy liefde deur ons woorde en ons optrede.

            Maar as hulle optrede en hulle soort lewe vir jou ‘n bedreiging is van jou lewe of jou geloof in die Here Jesus, om jou weg te lei van die Here af om saam met hulle verkeerd begin te lewe, dan is dit seker reg dat jy nie tyd met hulle spandeer nie. Maar dan bly dit nog jou verantwoordelikheid om vir hulle te bid.   

            In Galasiërs 6:1-2 sê Paulus: Broers (mede-gelowiges), as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se Moeder tydens sy kruisiging

Jesus se Moeder tydens sy kruisiging – Francois Malan

Nick vra

 

Waar was Jesus se moeder gedurende die kruisiging.

 

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Johannes 19:25-27 sê: By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: ‘Daar is u seun.’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Daar is jou moeder.’ Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan