Bybellees en bid

Bybellees en bid – Francois Malan

’n Leser vra:

 

Ek is n kind van die Here en baie lief vir Hom. In besige tye en selfs nie besige tye sal ek nalaat om my Bybel te lees en te bid. Ek voel later so skuldig en vra keer op keer om vergifnis omdat ek nie by Hom uitkom nie. Soms weet ek nie waar om te begin lees nie. Sal Hy nog vir my lief wees?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Om na te laat om jou Bybel te lees en te bid is jou skade, nie die Here se verhouding met jou s’n nie.

 

Hy is liefde (1 Johannes 4:816). Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat God die wêreld lief het, het Hy sy Seun gegee om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen (vgl. Johannes 3:16), en het Hy sy Gees gestuur om in ons te kom woon, om ons tot geloof in Jesus te lei, en ons al meer soos Jesus te laat lewe (Joh. 14:15-17; 16:7-11; Romeine 8:8-11; 2 Korintiërs 3:18). Ons word deel van sy liefde, deur die Heilige Gees, sodat ons ook sal liefhê: vir Hom en vir mekaar (1 Johannes 4:16-21). Dit beteken ‘n persoonlike verhouding met God, wat Hy met ons het en wat ons steeds met Hom behoort te onderhou. 

 

Wanneer ons die Bybel lees, luister ons na wat die Here vir ons sê. Die Heilige Gees wat in ons kom woon het, gebruik die woord van God om ons te oortuig van verkeerde dinge in ons lewe en hoe ons moet lewe as kinders van God. Wanneer ons bid, dank ons die Here vir wat Hy elke dag vir ons doen, vra ons sy vergifnis vir ons oortredings van sy goeie wil vir ons, doen ons voorbidding vir ander, en bring ons ons eie versoeke na die Here en vra dat Hy sal gee wat die beste vir ons sal wees volgens sy oordeel.

      Bybel lees en gebed is die gesprek wat ons met ons Vader voer: Hy praat met ons deur sy woord se riglyne, beloftes en waarskuwings, en maak ons lewe vir Hom oop. En so groei ons in ons geloof in Hom en in ons vertroue op Hom.

        As ons nalaat om na Hom te luister en met Hom te praat, word ons lewe al meer ingewikkeld en besig, en al meer vrugteloos; omdat ons dan al meer op ons self vertrou met wat ons doen, en nie vertrou dat Hy die beste pad vir ons sal wys nie.

         In die gelykenis van die saaier verduidelik Jesus dat baie van die saad, nl. die woord van God, wat gesaai word, nie vrug lewer nie: (i) deurdat die Bose dit wegvat uit die hart van dié wat die woord gehoor het, maar nie verstaan het nie; (ii) deurdat die woord nie by die persoon wortel skiet nie, en dit nie lank hou nie; (iii) deurdat die bekommernisse en sorge van die lewe, en die verleidelikheid van die rykdom die woord verstik, sodat dit sonder vrug bly. Maar waar die woord gehoor en aanvaar word, volg baie vrug (Mat. 13:18-23; Mk 4:21).

Vir bedrywige Marta, wat kla dat haar suster wat by Jesus se voete sit en na sy woorde luister, sê Jesus: Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lk 10:41-42).   

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Moses en sy geloof

Moses en sy geloof – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Na aanleiding van Hebreërs 11:24-26, veral vers 26. Wat het Moses geglo?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Moses was ʼn aangenome seun van die Farao. Dit het hom ‘n erfgenaam gemaak. Hy het die keuse gehad om die rykdom en posisie wat daarmee saamgaan te hou. Tog kies hy om sy eie posisie van mag en voorreg op te gee en homself oor te gee aan die plan wat God vir sy lewe en sy eie mense gehad het. God se plan vir sy lewe sou behels dat hy homself moes leegmaak, en nie vas moes hou aan sy magtige posisie nie. Daardie pad het ‘n pad van lyding ingehou ter wille van dit wat God in en deur Moses wou doen – by name die verlossing van sy mense uit die greep van die oorheersing deur die Egiptenare. Moses moes die rykdom van ‘n paleis opgee vir die grenservaring van ‘n onsekere woestyn-tydperk. Moses kon net een ding doen – en dit is om te glo. Hy moes glo dat God ‘n pan en ‘n toekoms het. Geloof veronderstel vertroue in iets wat mens nie kan sien nie. Dit behels letterlik ‘n geloofsprong. Die vraag is of ons bereid sal wees om te doen wat Moses en Abraham gedoen het? Sal ons God vertrou vir sy beloftes?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Heiligmaking – Vraag

Heiligmaking – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor die wedergeboorte en heiligmaking. 1Petrus 1;3 sê God Hy het Sy liefde aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons wedergeboorte uitgeloop het .Ek verstaan God alleen kan die wedergeboorte bewerkstellig. Ek is nou ‘n nuwe mens . Is die heiligmaking die proses waar ek streef om soos Jesus te word – soos Hy was toe Hy as mens op die aarde was, want ek kan tog nooit aan Sy Goddelike natuur gelyk word nie . Speel die selfdissipline waarna Petrus in 2 Petrus 1 verwys ‘n rol ? Het dit te make met ‘n keuse wat ek maak? Het ek n rol/verandwoordelikheid in HeiligMaking?

ANTWOORD

Prof. Francois Malan antwoord:

1 Petrus 1:3 prys God, wat ons deur sy groot barmhartigheid weer laat gebore word het tot ‘n lewende hoop, deur die opwekking van Jesus Christus uit die dood. Daardeur het ons Hom lief as ons Vader en glo ons glo ons in Hom as ons God vir wie ons lewe (3:8).

 

1:1-2 het Petrus reeds gesê dat God ons uitgekies het om deur die Heilige Gees geheilig te word om aan Hom toegewyd te lewe, deur aan Jesus Christus gehoorsaam te wees en deur sy bloed gereinig te wees. 

 

Geloof in God en sy Seun word deur die Heilige Gees bewerk, deurdat Hy ons met die verkondiging van die woord van God oortuig van God se liefde en genade wat ons deur Jesus se liefdesoffer red. Die Heilige Gees het reeds in ons kom woon om ons tot geloof in Jesus te lei, ons aan Jesus te verbind om, saam met die Seun van God, kinders van God te wees (Joh 16:9-11; Rom 8:11, 14-17), sodat ons al meer soos Jesus word (2 Kor 3:18).

 

1 Petrus 1:13-16 is ‘n oproep om heilig te lewe: ons verstand moet ingespan word om God se woord te begin verstaan en hoe ons, as begenadigdes van God, aan Hom toegewyd moet lewe volgens sy woord.

            As God se gehoorsame kinders moet ons ons lewe nie meer inrig volgens ons eie begeertes en selfsug nie (vgl. ook Rom 8:12-13). Soos God heilig is, moet ons ook in ons hele lewenswandel heilig wees, dit beteken om toegewyd aan God en sy woord lewe.

            Dit beteken dat ons soos ons Vader moet word. In Matteus 5:43-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Wees julle dan volmaak in die liefde soos julle Vader volmaak is. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n wilsbesluit om selfs jou vyand lief te hê omdat God jou lief het en ook vir hom/haar.

 

My rol in heiligmaking is om die sonde te los, versoekings te weerstaan, en te lewe volgens die riglyne van God se woord. Dit kan ek nie op my eie en in eie krag doen nie, maar daarvoor het God in my kom woon deur sy Gees; om ons te lei en die krag te gee om reg te besluit en dit uit te voer. Hy staan ons ook by om reg te bid en so in afhanklikheid van God te lewe (Rom 8:26-30).

 

Maar sonder liefde is daar geen heiligmaking nie. Jesus se nuwe gebod aan sy dissipels voor sy dood was: julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet moet julle mekaar liefhê (Joh 13:34; 15:12). En 1 Johannes 4:7-8 sê: God is liefde, elkeen wat liefhet is ‘n kind van God, en wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie.

            Die Heilige Gees maak ons deel van die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees. Galasiërs 5:22-23 sê die vrug van die Gees in ons lewe is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. So lyk heiligmaking, sodat ek sal begin lewe deur myself te verloën en Jesus te volg in gehoorsaamheid aan sy woord en sy voorbeeld.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Spreek jy Vrees of Vrede?

Spreek jy Vrees of Vrede? – Kobus Kok

Wat is jou vrese?

Ons almal vrees iets, ons almal vlug van iets en bou vestingsmure om ons brose harte om ons te beskerm teen die seer wat die lewe ons kan aandoen. Wat is dit wat jy vrees? Sommige mense vrees dat hulle uitgevang gaan word, dat hulle hulle werk gaan verloor, of dat iemand waarvoor hulle baie lief is hulle gaan los. Sommige mense vrees dat hulle verlede en hulle keuses hulle gaan inhaal. Sommige mense het vrees oor hulle toekoms en hulle ou dag. Baie mense vrees die moontlikheid van mislukking of verlies. Hoeveel dinge is daar wat jy vrees? Op watter manier het jy woorde en gedagtes en mites om jou geskep wat soos ‘n donker kombers jou lewe omvou en jou beweging inhibeer?

Die dissipels en hulle vrese

In Sy voetspore het hulle gestap, tree vir tree oor die dorre landskap van Israel – ‘n plek wat in die tyd van Jesus min hoop gehad het. Die magtige Romeinse Ryk het die Jode onderdruk en die meeste mense het sonder noemenswaardige lewensmoontlikhede daarna uitgesien. Die meeste mense in Jesus se tyd het onder die broodlyn geleef. Toe Jesus op die dorre landskap verskyn, het ʼn stroom van nuwe lewende water in die harte van mense begin vloei. Jakobus en Johannes was opgewonde oor die moontlikheid wat hierdie Charismatiese leier vir hulle toekoms ingehou het. Tog het hulle verkeerd verstaan. Jesus was nie ʼn politieke Messias wat met ʼn perd en ʼn swaard sou heers nie. Sy koninkryk het gekom in die vorm van ʼn genesende hand en ʼn ope hart.

Die weerstand teen Jesus en sy beweging het met tyd al groter begin groei – dit sou skaars drie jaar hou. Bykans van alle kante het die teenkanting gekom. Uiteindelik word Jesus gekruisig en die dissipels se grootste vrees en skok word waar. Dit waarvoor hulle letterlik hulle lewe gegee het vir soveel jaar het skielik gestol in impotensie.

In Johannes 20 lees ons hoe die dissipels in vrees vir die Jode agter geslote deure wegkruip. Die Griekse woord “fobos” word deur Johannes gebruik en illustreer iets van die gevriesde status waarin die dissipels in “limbo staat” verkeer het. Hierdie gevriesde status inhibeer moontlikhede. Dit inhibeer kreatiwiteit en lewe in oorvloed. Hierdie tipe vrees verstar.

Jesus se vrede

Maar dan verskyn Jesus skielik op die toneel van die gevriesde, gestolde situasie wat dan op ʼn besondere wyse oopgebreek word in lewe-skeppende moontlikhede. Jesus breek deur die grense van ons eie bestaan as hy deur die geslote deure loop en woorde spreek wat die dissipels se harte van vrees in vrede omskep. Jesus se belangrike woorde spring uit die teks – Vrede vir julle! Vrees inhibeer, vrede aktiveer en energeer. Juis om hierdie rede stuur Jesus sy dissipels dan uit met die woorde: “Soos die Vader my gestuur het, net so stuur ek julle ook!”

Jesus se sending was ʼn liefdes-sending. Dit lees ons in Johannes 3:16. Jesus stuur sy mense om die wêreld nie met gestolde vrees te ontmoet nie, maar met bewegende vrede en liefde te infiltreer met woorde wat lewensmoontlikhede oopmaak en kreatiwiteit ontsluit.

Spreek vrede wat ontvries

Mag my en jou woorde van vrees in woorde van vrede oor-vloei. Spreek vrede in plaas van vrees oor jou lewe. God gee lewe, nie dood nie. God gee geleenthede, nie verleenthede nie. God vries en stol nie, God ontvries en stuur. As ons instrumente in God se hand is deur wie Hy werk, word ons ook geroep om mense te wees wat ander mense se vrese help ontvries deur die Vrede-gewende Lewe wat deur ons vloei.

Video: klik op http://youtu.be/GIKVdryNGBA

Wenk: Kyk gerus na die volgende youtube video waar ek die boodskap in ʼn visuele formaat vir u aanbied. Hou die control knoppie in en Dubbel-klik op die skakel – dit behoort u direk na die video te neem. Alternatiewelik kan die skakel “copy” (ctrl+c) en in internet explorer paste (ctrl+v)

Skrywer: Prof Kobus Kok