Vervulling met die Heilige Gees

Vervulling met die Heilige Gees – Francois Malan

Willie vra:

 

My vraag handel oor die ontvang van die Heilige Gees en die vervulling met die Heilige Gees. Ek glo onvoorwaardelik in die Drie-enige God van die Bybel. Ek glo onvoorwaardelik dat Jesus Christus vir my sondes gesterf het , dat Hy opgestaan het uit die dood en dat Hy aan die Vader se regterhand sit. Ek glo dit omdat die Heilige Gees in my is anders sou ek dit nie geglo het nie . In Efesiërs 5 se Paulus Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons lewens te vul. Beteken dit ek het die Heilige Gees ontvang , maar dat ek dalk nie deur Hom vervul is wat my daaglikse lewe betref nie – dat daar dinge in my lewe is wat Hom verhinder om my te vul met Sy Heilige teenwoordigheid in my manier van dink en doen.

 

As dit so is hoe maak ek dat Hy my wel sal vervul , sal volmaak ? Bid ek net en vra daarvoor ? Hoe gaan ek weet dat daar dalk iets is wat Hom verhinder om my vol te maak . Kan ek dus gered wees , die Heilige Gees ontvang het maar nooit met Hom vervul wees nie ?As dit wel so is het dit n geweldige negatiewe invloed op my lewe as kind van God.

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Ef 5:18 lui in die Ou Vertaling ‘…word met die Gees vervul,’ in die 1983-vertaling ‘laat die Gees julle vervul.’ Letterlik staan daar in die oorspronklike Grieks ‘julle moet vervul word in die Gees.’ So staan daar ook letterlik in Ef 2:21-22 Christus Jesus ‘in wie die hele gebou saamgevoeg word en groei tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie ook julle saam opgebou word tot ‘n woonplek vir God in die Gees.’ Ons moet vol word onder die werking of die invloed van die Gees in ons. Soos wat Paulus ‘in Christus’ gebruik (Ef 1:1,3,12; 2:6,7, 10, 13; 3:6, 11,21; 4:32) om ons noue band met Christus te beskryf, word ‘in die Gees’ skynbaar ook gebruik om aan te toon dat dit deur die Gees gedoen word (Ef 2:22; 3:5; 5:18; 6:18). 

 

In die gedeelte 5:15-21 gaan dit om gelowiges se lewenswandel wat wys en verstandig moet wees (15-17). Daarom moet ons vervul word met insig oor hoe die Here wil hê dat ons moet lewe en dan so gaan lewe. Vier eienskappe van ‘n vol lewe onder invloed van die Gees word eers beskryf (19-21) en dan hoe gelowiges dit moet toepas in die huwelik (22-32), en gesin (6:1-9). Die eerste en vierde eienskap het te doen met ons optrede teenoor mekaar, en die tweede en derde oor ons optrede teenoor God (19-21).

            Die eerste kenmerk klink snaaks: ons moet met mekaar praat deur ons liedere. In die bewoording van ons liedere kan ons insig kry hoe die Here wil hê ons moet lewe, ‘n lewe wat oorborrel in psalms, lofgesange en geestelike liedere – dit staan teenoor die drinkliedere wat opklink in die drinkplekke van die tyd, en vereis dat die bewoording van ons liedere met die boodskap van die Bybel ooreenstem.

            Die vierde kenmerk eis dat gelowiges aan mekaar onderdanig sal lewe – nie oor mekaar te wil baasspeel of jouself ten koste van die ander te wil handhaaf nie (ook nie in die huwelik, of gesinslewe nie). Filippense 2:3 stel dit nog duideliker: moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Ef 5:21 voeg nog by dat die onderdanigheid aan mekaar moet geskied in vrees/uit eerbied vir Christus. ‘n Vol lewe onder die invloed van die Gees bring eerbied vir Christus, en respek vir mekaar vloei daaruit voort.

            Die tweede kenmerk: om met ons hele hart (OAV: sing in julle hart)  tot eer van die Here te sing, en die derde: dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus – hier gaan dit blykbaar nie om wat in die gemeente gebeur nie, maar in die verhouding van die indiwiduele gelowige met die Vader: dit beklemtoon dat die vol lewe wat ons onder die werking van die Heilige Gees kry, gekenmerk word deur lewensblyheid, ‘n innerlike juiglied omdat ons bly is oor sy genade wat Hy aan ons skenk deur sy Seun se lewe, sterwe en opstanding vir ons, en waaraan die Gees ons verbind deur geloof. Daarby kom dit dat ons God wat ons Vader geword het deur Jesus en die werking van die Gees in ons, te alle tye en oor alle dinge dank (vgl. Ef. 1:3-14,17; 2:4-7,18; 3:14-21). Om dit te doen in die Naam van Christus beteken dat dit deur Homself gebeur, deur ons verbondenheid aan Hom wat die Gees bewerk, dat ons deel word van die groot liefde van God wat in 3:17-19 besing word.

 

Die Heilige Gees wil dat ons lewe vervul word met liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). Hy is besig om ons te omvorm om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18). Hy doen dit deur die woord van God wat ons hoor en lees, en deur die voorbeelde van sy werk in mede-gelowiges se liefde, ens. waarvoor Hy ons oë oopmaak, alles om ons te oortuig van dinge wat ons moet los, en ander wat ons moet begin doen, en daarmee sal Hy besig bly tot ons dood. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Aan die duiwel oorgegee

Aan die duiwel oorgegee – Francois Malan

Jan vra:

‘n Vriend bel my eendag en vra wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee? In 1 Kor 5: 1 tot 5 praat Paulus oor die sedeloosheid van die Korinthiërs. Daar is hoerery en in die opsig is daar selfs iemand wat sy vader se vrou het. Paulus sê dan in vers 5: om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Wat is hier aan die gang, asseblief?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Sedeloosheid het die Grieks-Romeinse kultuur gekenmerk, en die stryd van die evangelie was om gelowiges te verlos van die oorheersende siening oor seksuele losbandigheid. Vrye seksuele omgang is vanuit die evangelie beskou as ‘n kenmerk van die wêreld wat onder die heerskappy van die Satan staan (Galasiërs 5:19, Johannes 12:31). Daarteenoor is selfbeheersing vrug van die werking van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23), en is seksuele omgang eksklusief bedoel vir man en vrou in die huwelik (1 Korintiërs 7:3-5; Genesis 2:24; Matteus 19:4-6).

            Maar hier was ‘n geval van bloedskande, wat selfs deur die heersende Grieks-Romeinse kultuur ten strengste afgekeur is. En die reaksie van die gemeente in Korinte was nie berou daaroor nie, maar arrogante spog daarmee. So asof die vryheid van die Gees tot sulke uiterstes kan gaan (vgl. hulle roemwoord: alles is my geoorloof, 1 Korintiërs 6:12; 10:23).

 

Paulus se reaksie op die berig wat hom bereik het, is een van verontwaardiging, dat die gemeente oor so iets kan spog. As gesant van Jesus Christus, wat as die Here oor sy kerk regeer, spreek Paulus ‘n woord in die Naam van die Here. Die woord moet deel word van die gemeente se besluitneming, deurdat die Heilige Gees die gemeente lei om aan die woord wat van die Here deur Paulus kom, uitvoering te gee. Die gemeente moet oortuig word dat dit die pad is wat die Here vir hulle aanwys.

 

Om die lidmaat tot inkeer te bring, moet die hele gemeente eers tot inkeer kom en hulle siening van die seksuele lewe verander. Dit word in hoofstuk ses en sewe van 1 Korintiërs weer aangespreek. Dat hulle hulle liggame sal begin sien as ‘n tempel van God waarin die Heilige Gees woon , en dat die mens se liggaam nie vir seksuele losbandigheid bedoel is nie, maar vir diens aan die Here. Vir die verlossing van die seksuele lewe uit die kloue van die duiwel het Jesus sy lewe aan die kruis afgelê (1 Korintiërs 6:13,19-20).

 

Met so ‘n veranderde siening van die seksuele, behoort die gemeente bedroef te word oor die broer in Christus wat met sy pa se vrou saamleef; hom uit die sfeer van die gemeente wat deur die Here beheer word oorgee aan die wêreld, waar die duiwel regeer, om sodoende te leer dat sy huidige lewe in bloedskande nie vir die Here aanvaarbaar is nie, vgl. Levitikus 18:7-8 (die feit dat die vrou nie aangespreek word nie, wys moontlik daarop dat sy nie ‘n gelowige is nie). Deur so op te tree verwyder die gemeente die ‘ou suurdeeg’ van onsedelikheid sodat hulle as nuwe ongesuurde suurdeeg met reinheid en waarheid kan feesvier oor Christus, ons paaslam, wat vir ons geslag is (1 Korintiërs 5:7-8).

 

In vers 5 stel Paulus die man se ‘vlees’ (NAV sondige aard) wat vernietig moet word, teenoor sy ‘gees’ wat gered moet word. Met vlees en gees beskryf Paulus gewoonlik die hele mens van twee kante af bekyk: ‘geestelik’ beteken dit dat die hele persoon deur God se Gees beheer word; ‘vleeslik’ beteken dat die persoon deur sy sondige begeertes beheer word (vgl. Romeine 6:19). Dit is hierdie sondige aard wat vernietig moet word, sodat die hele mens na God toe draai en deur die Gees van God beheer moet word. Hoe dit moet gebeur, spel Paulus nie uit nie, maar deurdat hy oorgegee is in wêreld, die gebied van die duiwel, moet die man tot inkeer gebring word om sy lewe in bloedskande te los, sodat hy weer opgeneem kan word in die gemeente se gemeenskap met die Here en met mekaar.   

 

In Matteus 18:15-20 word ‘n prosedure voorgestel in ‘n ander verband, wat ‘n aanduiding kan gee hoe opgetree moet word.

 

In Job 2:8 gee die Here Job oor in die mag van die Satan, met ‘n enkele beperking. Maar dit is ook weer ‘n ander situasie, want Job het nie in sonde verval nie.

 

Die pad wat Galasiërs 5:24-5 en Romeine 7:5-6 vir die gelowige aanwys, is om jou sondige natuur te kruisig deur ons aan die beheer van die Gees oor te gee. Dit sou die aangewese weg wees vir die man wat in bloedskande leef, om weer in die gemeente opgeneem te word. Maar as hy sou volhard op die pad van die sondige natuur, is hy op die pad na die ewige dood (vgl. 1 Korintiërs 6:9-11).

 

‘Wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee?’ – ek sal versigtig wees om dit te doen. Gewoonlik gee mense hulle self aan die duiwel oor deur Jesus te verlaat. Paulus sê dat die toorn van God kom oor mense wat Hom nie eer en dank nie, en sy toorn is dat Hy hulle oorgee aan hulle eie begeertes om hulle eie lewe daardeur te verwoes (vgl. Romeine 1:18,24-32 se lys sondes). 1 Johannes 5:16-17 onderskei tussen sonde wat nie tot die dood lei nie en dat ons vir so iemand moet bid, en sonde wat tot die dood lei, waarvoor hy nie sê dat ons vir so ‘n persoon moet bid nie – al verbied hy nie sulke voorbidding nie – die sonde tot die dood gaan oor mense wat die geloof in Jesus as Seun van God wat mens geword het, verwerp, en God se gebod van onderlinge liefde versaak (2 Johannes 7-9).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal

Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal – Kobus Kok

Karen vra:

Ek verstaan van die vers oor die nagmaal dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan drink die volgende. Mens drink ‘n oordeel oor jouself wanneer jy nagmaal gebruik en nie besef waarom en hoekom jy dit gebruik nie. Dat jy nie besef wat Jesus kom doen het nie.

Ek het egter al ‘n hele paar kere in kerke predikante hoor sê dat jy moet regmaak met mense voordat jy nagmaal kan gebruik anders drink jy ‘n oordeel oor jouself. Ek verstaan dat Jesus het juis gekom en gesterf omdat ons nie volmaak is nie. Omdat ons nie onsself kan red nie en daarom gebruik ons ook die nagmaal om ons te herinner dat Hy die prys betaal het. Ek glo wel dat ons nie met onvergifnis in ons harte moet rond loop nie. Mense voel klaar veroordeeld wanneer die vers so oorgedra word, want hulle wonder of hulle nie dalk iets teen iemand het waaraan hulle nie nou kan dink nie. Verstaan ek dit reg?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Karen verstaan die nagmaal reg. Die doel van die nagmaal is dat dit ‘n teken is wat ons herinner aan die lewe van Jesus en ‘n sakrament wat ons verbind aan die Christus-gebeure en God se beloftes. In die nagmaal dink ons aan, en herdenk die lewe van Jesus, en probeer ons opnuut om onsself te verbind aan ‘n lewe wat wesenlik daarvan getuig dat ons kinders van God is. Kinders van God vat God se Woord ernstig. In God se woord word ons aangemoedig, soos ons in die Bergrede (Matt 5-7) lees, om ander te vergewe en nog vele meer. Die oproep tydens die nagmaal moet eerder gekommunikeer word as ‘n belyning as ‘n oordeel. Die nagmaal belyn ons opnuut in ‘n feesmaal om ons identiteit te omhels. Dit is waar ons God se gasvryheid beleef en waar ons dan graag gasvryheid en vergifnis na buite wil straal. God se eerste tree is om ons tydens die nagmaal by die hand te vat, en nie om ons te straf nie. Daarom is die eerste ding wat met jou moet gebeur by die nagmaalstafel nie om skuldig te voel nie, maar dankbaar en ingenooi te voel. Tydens die hele proses beleef ons nuutskepping. Vrees vir oordeel wat tot “korrekte” optrede lei, klop nie die ritme van God se hart  nie. Dankbaarheid wat tot geestelike vrug lei, klop ritmies die evangelie se hart – ‘n goeie-nuus boodskap wat mense belyn om op nuut in lyn met God se wil te leef. Juis om hierdie rede moet ons versigtig wees om te maklik te dink ons drink onsself in oordeel in. As ons die nagmaal reg gebruik nooi dit ons eerder in die dampkring van God se genade, as die oordeel-kring in. Tog kan/mag niemand onaangeraak by die nagmaal verbystap nie, net soos ons ook nie onaangeraak by die voete van die Here in gebed mag wegstap nie. Ons geloofspad behels konstante groei, verdieping en vernuwing.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




God en die hel

God en die hel – Francois Malan

Michell vra:

As God Alomteenwoordig is, is Hy in die hel?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Matteus 25:41 sê Jesus: Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant (die bokke v12-13) sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is…’

            Dit is God wat die ewige vuur vir die duiwel en sy engele en vir die ongelowiges voorberei. Die hel is die plek wat God voorberei het vir die duiwel en sy engele, om hulle te straf.

 

Vergelyk die beelde van Johannes se gesig oor die oordeelsdag in Openbaring 20:9 waar die Satan en die nasies wat hy oor die hele aarde verlei het, die gelowiges aanval. ‘Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gegooi, daar waar die dier en die valse profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word  tot in alle ewigheid.’ –           Die vuur uit die hemel kom van God af, en die poel van swawel en vuur is ‘n beeld van die straf van God wat Hy berei het vir die duiwel en sy volgelinge. 

Vergelyk ook die beeld van die boeke wat oopgemaak word in Openbaring 20:15: ‘As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.’

 

Maar dié wat in Jesus glo, dat Hy die Seun van God is wat mens geword het en uit liefde vir ons gesterf het, ons sonde op Hom geneem het en van ons kinders van God gemaak het saam met Hom, dan is ons name geskryf in die boek van die lewe, en kom ons nie in die oordeel nie (vgl. Matteus 25:34; Johannes 3:36). Omdat ek ‘n kind van God is, is Jesus nou die Here van my lewe, en lewe ek as kind van God, wat deur sy Gees gelei en versterk word vir ons stryd teen die sonde en selfsug in ons, en ons lei om ander te dien (vgl. Matteus 25:35-40).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan