Die verlamde man in Markus 2

Die verlamde man in Markus 2 – Francois Malan

Jan vra:

In Markus 2 laat die verlamde man se vriende hom met bed en al deur die dak om hom by Jesus te kry. Jesus prys hulle geloof en sê vir die man jou sondes is vergewe. Dan vra die skrifgeleerdes waar Hy die mag kry om sondes te vergewe. Hy antwoord: Wat is makliker om te sê: Die sondes is vergewe of om te sê: Staan op neem jou bed op en loop. Ek verstaan nie mooi die verband in Jesus se argument nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Vir die skrifgeleerdes is die opdrag om op te staan en te loop die swaarste, want dit sou ‘n wonder wees wat deur almal gesien kan word as bewys daarvan. Om te sê ‘jou sonde is vergewe’ is die maklikste, want niemand kan sien of dit wel die geval is nie, en hulle is oortuig dat net God sonde kan vergewe, daarom meen hulle dat Jesus, wat vir hulle bloot ‘n mens is, godslasterlik praat deur die gesag van God vir hom toe te eien (Mk 2:7).

 

Vir Jesus is sondevergifnis die moeilikste, want daarvoor moes Hy sy goddelike heerlikheid verlaat en mens word (vgl. Seun van die mens), en moet Hy aan ‘n kruis gaan sterf en deur God verlaat word. Terwyl die genesing van ‘n verlamde vir die Seun van God die maklikste is met die volmag wat Hy het om te genees as bewys van sy volmag om sonde te vergewe (Mk 2:10).

 

God vergewe in Christus. Jesus se woord hang onlosmaaklik saam met sy lewe en sterwe en opstanding. Jesus kan vergewe omdat Hy as die Messias/Christus/Gesalfde ook die lydende en sterwende Kneg van die Here is. Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense (Mk 10:45). Sy vergewing geskied nie sonder sy sterwe nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se klere

Jesus se klere – Francois Malan

Jan vra:
Na aanleiding van die artikel oor die verdeling van Jesus se klere wonder ek net in hoe mate dit van die bloed besmeer was dat mense dit nog sou wou gehad het of was daar dalk ‘n ander reëling in werking? Ek wonder net.

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Daar was sekerlik bloed aan sy klere, nadat Jesus op sy kaal bolyf met die kats gegésel is (Mt 27:26; Mk 15:15), en toe ‘n pers soldatemantel daaroor aangetrek het om Hom te bespot, en eers daarna sy eie klere aangetrek het vir die tog na Getsemane (Mt 27:28-31; Mk 15:16-20).

Die soldate was so gretig om dit te kry dat hulle lootjies getrek het om dit aan een toe te ken en nie in vier stukke geskeur word vir elke soldaat ‘n stukkie nie.

Daarmee het hulle onwetend die Skrif vervul; Ps 22:18 handel oor ‘n sieke wat ly, en ‘n bende misdadigers behandel hom asof hy reeds dood is, deur sy klere uit te trek. Maar aan die einde sterf hy nie. Sy nood en vervolging en eensaamheid, wat in Ps 22 uitgespel word, word in die Nuwe Testament op ‘n paar plekke toegepas op Jesus, wat sy heerlikheid vrywillig neergelê het, en Homself oorgegee het aan lyding, die uittrek van al sy klere, en in die dood, ter wille van ons sonde. Maar Hy bly onder die beskerming van God, wat duisternis oor die aarde stuur om Hom te bedek, en Hom op die derde dag opwek uit die dood.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Oorsprong van sonde

Die Oorsprong van sonde – Francois Malan

Piet vra:

Is siekte ‘n skepping van God? Indien wel , hoekom sou God iets wat tot nadeel van ons is , skep. Indien nie , waar kom siekte dan vandaan , want God het tog alles geskep.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Genesis 1:10,17,21,25,31 sê dat alles wat God gemaak het, goed is, dat dit baie goed is.

 

Van ‘n vrou wat heeltemal verswak en krom getrek was het Jesus gesê dat sy deur die Satan gebind is, en Hy het haar van haar gebrek verlos met ‘n woord (Lukas 13:12,16). Petrus vertel vir Kornelius en die gemeente in sy huis dat Jesus in die Joodse land rondgegaan het en almal gesond gemaak het wat in die mag van die duiwel was (Hand. 10:38). Jesus sê die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar (Joh 8:44).

 

Siekte is nie ‘n skepping van God nie, maar het as gevolg van die die mens se ongehoorsaamheid en sonde oor die mens gekom, soos ook die dood.  Dit beteken egter nie dat ‘n bepaalde persoon se siekte die gevolg is van sy sonde, soos die dissipels gedink het nie (Johannes 9:1), maar omdat ons in ‘n gebroke en gevalle sondige wêreld lewe. Soms is siekte wel die gevolg van ‘n spesifieke lewensstyl (bv. van onmatigheid, ontug, roekeloosheid – vgl. 1 Kor 11: 27-30 vir die rykes wat die armes verneder het deur nie saam het hulle te wil nagmaal gebruik nie 1 Kor 11:20-22). Maar soms is dit waarlik vrome persone wat siek is en soms lank ly. So het Paulus ‘n doring in die vlees gehad, ‘n boodskapper van Satan wat hom met vuiste slaan. Maar die Here het vir hom gesê: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’ en Paulus sê: die doring is in sy vlees sodat hy nie hoogmoedig sou wees nie (2 Kor 12:7-9).

Jesus het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8). Hy het ons lyding op Hom geneem en ons siektes het Hy gedra (Jes. 53:4). Daarom kom ons met ons siektes na Hom toe in gebed, om te vra om genesing, maar ook na die doel met die siekte, en ook vir berusting as dit God se wil is dat ek nog siek bly – soos Jesus wat in Getsemane gevra het dat die beker van lyding by Hom verbygaan, maar in die Vader se wil berus het (Mat 26:39-42).  

Baie mense worstel met die vraag of hulle siekte ‘n gevolg is van hulle sonde. Baie mense sal dan tekste uit die Ou Testament haal waar dit wil voorkom of siekte die een of ander straf is op sonde wat mens gepleeg het.

Die mense van die Bybelse tyd, met spesifieke verwysing na die Ou Testament, het inderdaad gedink dat siekte gekoppel was aan sonde. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat God die God van lewe is en dat God heilig is. Siekte is beskou as ‘n teken dat daar nie lewe is nie, soos iemand wat blind is, het nou eintlik nie lewe in sy oog nie. Implisiet beteken dit dat as God onttrek het van jou, of jou straf, dan raak jy siek, want Hy onttrek die lewe van jou af. Daarom is siekte in die Ou Testamentiese denke dikwels aan sonde verbind.

In Johannes 9 lees ons die verhaal van die man wat blind gebore is. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat omdat siekte ‘n gevolg is van sonde, dit dus beteken dat iemand wat blind gebore is se ouers gesondig het, of selfs dat die ongebore kind in sy/haar moeder se baarmoeder gesondig het. Interessant genoeg lees ons dat Jesus se dissipels, toe Jesus die blinde man raakloop, onmiddellik vir hom vra (9:1-2): “”Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Hierdie vraag is dus presies die regte vraag wat ‘n goeie Jood sou vra. Die verband tussen siekte en sonde was noodwendig.

 

Maar dan spreek Jesus verrassende woorde wat die status quo van die dag deurbreek en net daar gaan die hemel bo die blinde man en die geestelik blinde dissipels oop as Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Hier deurbreek Jesus die logiese verband tussen siekte en sonde. Kort daarna smeer Jesus klei aan sy oog, wat volgens die Kerkvader Irenaeus herinner aan die skepping van Adam, en net daar word die man se oë herskep tot lewe.

Hierna sou niks weer dieselfde wees nie. Daarna kon niemand weer sommer net aanneem dat siekte die gevolg is van sonde nie. Dikwels is dit juis ons siekte, ons gebrokenheid en broosheid (wat bloot ‘n gevolg is van ‘n gebroke werklikheid op aarde) wat ons by die voete van die Vader uitgebring het, en die ruimte waarbinne ons die aanraking en nabyheid van God kan beleef. Dit is gewis so dat God nie altyd almal se siekte en gebrokenheid genees nie, en dit is ook nie gekoppel aan my of jou ongeloof nie. Siekte en gebrokenheid is deel van hierdie gebroke en verganklike werklikheid op aarde. Maar dank God vir die ewige lewe. In die hemel, sê die Bybel, gaan daar geen siekte of gebrokenheid wees nie. Jesus se primêre werk op aarde het juis gegaan oor die feit dat hy vir ons ‘n lewe van volmaaktheid hierna geskep het. Daarna sien ons uit en daarop het ons ‘n vaste hoop. Hier op aarde vind genesing tog plaas. In en deur die mediese wetenskappe vind wonderbaarlike genesing elke dag plaas as harte oorgeplant word of antibiotika lewens red. Medici is God se geskenk aan ons. Soms vind onverklaarbare genesings plaas wat selfs dokters verstom laat. Soms word mense nie genees nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




1 Petrus 1:20

1 Petrus 1:20 – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor 1 Petrus 1:20. As n mens die gedeelte vanaf vers 17 lees dan gaan dit hier oor ons lewe van dankbaarheid teenoor God omdat Hy losgekoop het deur Christus se bloed. Christus het dus vir ons verlossing verdien met Sy bloed aan die Kruis. Wat ek graag beter wil verstaan is hoekom God Hom reeds voor die skepping hiervoor bestem het. Het God dan reeds voor die skepping geweet die mens gaan in sonde verval of verwys die vers na iets anders?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Petrus 1:19-21 is eintlik ‘n belydenis deur die gelowige gemeente van God se grootheid en sy wysheid en sy liefde wat uitgeloop het op sy skepping van die wêreld en die mensdom om Hom te dien en te eer. Van 1:17 af word gelowiges opgeroep om te lewe in eerbied vir God. So sê Paulus ook in Efesiërs 1:4 dat God, voor die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees. En so sê Petrus ook dat ons moet lewe in eerbied vir die God wat reeds voor die skepping van die wêreld alles vooruit geweet en bepaal het – die Griekse woord wat in 1 Petr. 1:20 gebruik word, proginooskoo,word gebruik vir ‘om vooruit te weet’ en ‘om vooraf te besluit.’ Vir God is sy wete en sy besluit dieselfde.

 

Petrus en Paulus sê duidelik, soos Johannes 1:1-3, dat Jesus God is, die ewige Seun van God, wat mens geword het om God se plan met sy skepping en met die mens uit te voer. Dit was egter nie ‘n plan wat uit nood gebore is toe die mens in sonde geval het nie. God se alwyse beplanning was reeds van ewigheid af gereed, ook vir die sondeval van die mens, die mens wat Hy geskep het om vir Hom te lewe. Maar toe die mens besluit om vir homself te lewe – om self soos God te wees (Genesis 3:5-6), het die mens sy rug op God gedraai en op homself vertrou. Daarom het Jesus gekom sodat ons deur Hom weer kan lewe soos God ons gemaak het om vir Hom te lewe (vgl. 1 Kor 8:6). Jesus is God se plan vir die hele skepping, ook vir die mens. Van ewigheid af is Hy die openbaarder van God, die Woord van God (Joh 1:1), sodat ons deur Hom in God kan glo en vir Hom kan lewe.

 

Jesus het die wese van God aan ons kom openbaar, nl. dat God liefde is. Die Vader en Seun en Heilige Gees is één deur hulle absolute liefde vir mekaar. God het die mens geskep om deel te word van die liefdesgemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Gees (vgl. Johannes 17:20-23). Reeds van voor die val van die mens is die wêreld aan alle kante omring deur die ewige Seun van God en deur die liefde van God in en deur Hom. God het ons met ‘n ewige liefde lief. Hierin is daar ‘n grens aan die sondeval gestel. Daarom kan die Seun ons red uit die net van die sonde. Aan die kruis het Hy ons gewys hoe God se liefde lyk, deur sy selfverloënde offer van Homself om ons te verlos van ons sondeskuld en van die sondemag in ons; sodat ons soos Hy in nederigheid en selfverloëning kan lewe in eerbied en vertroue op God alleen.

 

Sy Gees, wat in ons kom woon, lei ons tot geloof in God as die Vader van Jesus, en tot geloof in Jesus as ons Verlosser, om ons deur geloof aan Jesus se Seunskap te verbind, sodat ons kinders van God word deur ons verbondenheid aan Jesus (vgl. Romeine 8:9-17).

 

Daarom kan ons met vertroue bely dat God ons voor die skepping van die wêreld reeds bestem het om, in gemeenskap met sy Seun, in liefdesoorgawe vir God en vir sy mensdom te lewe. Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge is om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) deur sy lewe vir ons af te lê (Johannes 15:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan