Wees lief vir medegelowiges

Wees lief vir medegelowiges – Francois Malan

Hester vra:

Ek wil graag net kenners se interpretasie hê van 1 Pet 2:17 – “wees lief vir medegelowiges” of soos dit in die King James verskyn, love the brotherhood? Ek wil dit verklaar met wees lief vir die wat glo soos ek glo – maar is nie seker of dit reg is nie? Eintlik strek die opdrag veel verder as wat ons ooit kan dink, nie waar nie. Maar dan dink ek aan die toepassing van die wet – jy moet die Here jou God liefhê met … en jou naaste soos jouself. Hier is die woord net jou naaste? Wat van die mense wat nie Jesus Christus in hulle harte het nie. Die vraag word net al hoe wyer en wyer! Baie dankie Hester

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Vers 17 is eintlik ‘n kort opsomming van wat voorafgaan om dit te verduidelik en te beklemtoon. Daar word vier verhoudings genoem:

 

1 Eer almal – alle mense, bv. deur hulle rol in die samelewing te eer en te respekteer, as mense wat deur God geskape is. In 2:1 is gesê gelowiges moet met elke vorm van die kwaad ophou, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery, alles sake wat die lewe in verhouding met mense raak. In 2:13 word aan gelowiges gesê dat hulle hulle altyd goed moet gedra (selfs) onder die heidene…sodat hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. 

 

2 Julle moet die broederskap liefhê – in 1:14,17 is al gesê ons is kinders van God se huisgesin, ons Vader wat elke mens onpartydig volgens sy dade beoordeel; in 1:22 dat ons gereinig is tot ongeveinsde broederliefde, en dat ons mekaar uit ons harte ernstig moet liefhê.

 

3 Vrees God –  dit gaan om die oorweldigende ontsag vir die heilige Vader, die neerbuig in aanbidding voor die Almagtige voor wie die mens sy volstrekte nietigheid besef. Aanbidding en onderwerping aan sy woord is die houding van die gelowige kind van God voor die heilige, genadige en liefdevolle God. Aan Hom kom al die lof toe (1:3), Hy wat ons in sy groot ontferming deur Jesus gered het en ons veilig bewaar (1:3,5). Hy het ons vir Hom afgesonder (2:9). Hy het ons vrygemaak om Hom te dien as sy dienaars wat aan Hom behoort (2:16).

 

4 Eer die koning – en elke menslike owerheid (2:13).Ook hulle is deur God aangestel om die kwaad in die samelewing te keer, en goeie samelewing te bevorder.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kan ek my uitverkiesing verloor?

Kan ek my uitverkiesing verloor? – Kobus Kok

‘n Leser vra

Ons worstel met die Uitverkiesing. Ons kinders is as Christene grootgemaak. Een van ons seuns het uitgestyg en leef nou in weelde. As jongeling het hy ‘n innige verhouding met die Here gehad en wou selfs predikant word. Hy gaan nou nie meer kerk toe nie en is heeltemal ontoeganklik tov die Here. Ons karring nie aan hom nie, bid net. Is al ons gebede, vir sy redding, dalk tevergeefs…is hy dalk net nie uitverkies nie? Dit maak ons so verskriklik hartseer. Hy is verder steeds dierbaar en ‘n goeie mens.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Kan ek my uitverkiesing verloor?

Wat bedoel die Bybel as hy sê dat God ons uitverkies het (Efes 1:4), en kan mens jou uitverkiesing verloor? Calvyn het eenmaal gesê dat God voor die grondlegging van die aarde alreeds geweet het wie sou Hy kies en wie sou Hy nie kies nie. Dit plaas God in die sentrum en mense dooie skaakpionne op die dramatiese verhoog van lewe en dood. Een van ons Griekse dosente het my eenmaal vertel van die dominee wat gepreek het oor die uitverkiesing toe hy nog ʼn kind was. Die dominee het die verhaal vertel van Shaka of Dingaan wat sy impies op ʼn afgrond laat staan het en hulle so een vir een om die beurt laat aftuimel het tot hulle dood, net omdat hy wou. Die dominee sê toe God se uitverkiesing werk ook so – eintlik kan mens niks daaraan doen nie. As God jou afstamp kan jy niks doen om weer terug te kom nie. Mens moet egter onder geen omstandighede so oor die uitverkiesing dink nie. Mense wat so dink kry maklik ʼn skeefgetrekte teologie. Sommige mense dink hulle is nou eens en vir altyd uitverkies deur God en dan gaan hulle heerlik aan met hulle sondige en afvallige lewe. Ander mense dink weer dat hulle in elk geval nie deur God uitverkies is nie en probeer nie eers om in God se goeie boekies te kom nie. Ander mense wonder sommer net en bly lou in die geloof.

In Johannes 5:24 lees ons dat iemand wat glo van ʼn bestaanstoestand van dood na ʼn bestaanstoestand van lewe oorgegaan het. In die Grieks staan dit in die perfektumvorm van die werkwoord. Dit beteken dat God mens oor laat beweeg het in die verlede, met jou bekering, en dat mens nog steeds in daardie staat verkeer. Sulke mense ontvang die reg om kinders van God genoem te kan word (Joh 1:12). Tog maak die Bybel dit duidelik dat mens jouself uit spel kan plaas. Indien mense wat kinders van God was teen God kies, dan plaas hulle hulself eintlik in die dampkring van die duiwel wat hulle nuwe vader word (Joh 8:44). Ja, dit is dus moontlik dat iemand sy uitverkiesing kan “verloor”. Lees maar net die eerste brief van Johannes. Die brief maak dit duidelik dat sommige mense so kan optree of dink dat hulle eintlik nie meer God se kinders is nie.

Aan die ander kant is ons nie God nie, en kan ons nie sit en spekuleer oor die vraag of iemand nou in- of uitgesluit is uit God se groot verlossingsplan nie. Selfs in die laaste minute van sy lewe het die sondaar langs Jesus aan die kruis God se geskenk van lewe ontvang. God kan mense nog steeds oorhaal na die lig! (1Pet 2:9). 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die wegraping en fratsongelukke

Die wegraping en fratsongelukke – Francois Malan

Rhodes vra:

 Is fratsongelukke,aardbewings,modderstortings en wat gebeur het met die “worldtrade centre”nie wegraping nie. Dit gebeur sonder waarskuwing en op tye wat ons dit nie verwag nie.”Markus 13:32-37”

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Markus 13 handel oor twee vrae: wanneer die tempel afgebreek gaan word, en wat sal die teken wees van wanneer alles voleindig gaan word (13:4).

 

Oor die eerste vraag sê Jesus dit sal nog in die leeftyd van  hierdie geslag gebeur (13:30) en in die jaar 70 n.C. (40 jaar na Jesus se dood) het die Romeine die tempel afgebreek. Die gelowiges word gewaarsku dat, voor die inname van Jerusalem, moet hulle wat in Judea is, die berge in vlug (13:14). Die Christene het in 70 n.C. reeds na Pella oorkant die Jordaan gevlug.

 

Oor die tyd van die voleinding sê Hy: niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (13:32). Oor die tekens sê Hy: wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.  Want die een nasie sal teen die ander nasie te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. Christene sal gehaat en vervolg word omdat hulle aan Jesus behoort, en die goeie nuus oor verlossing deur Jesus moet eers aan al die nasies verkondig word (13:9-13).

 

Daarom is fratsongelukke,aardbewings, modderstortings en wat gebeur het met “worldtrade centre”nie die wegraping  met die tweede koms van Christus in heerlikheid nie,  ‘dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie…dit is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd’ (13:7,8).

 

Die Griekse woord harpagesometha  in 1 Tessalonisense 4:17 word in die 1983-vertaling weergegee as ‘ons sal weggevoer word’ (nie weggeraap nie), RSV: we shall be caught up. Dit handel oor die gelowiges in Tessalonika se vraag wat van mense sal word wat reeds gesterf het voor die koms van die Here. Paulus se antwoord is dat, met die koms van die Here self uit die hemel , sal hulle wat as gelowiges gesterf het, eers opstaan, en daarna sal ons wat nog in die lewe is saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in om die Here te ontmoet, soos in ‘n erestoet wat ‘n koning gaan ontmoet, wat terugkom as oorwinnaar in ‘n stryd. En so sal ons altyd by die Here wees.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja en die Nuwe Testament

Jesaja en die Nuwe Testament – Francois Malan

Magda vra:

Oral in Jesaja word verwys na ‘n nuwe bedeling vir Israel en dat hul swaarkry verby is. Daar is ook dele wat in die Evangelies aangehaal word. Baie dele klink asof dit direk na Christus verwys. Die Bybel in Praktyk meen egter hierdie dele verwys slegs na ‘n beter lewe vir die bannelinge se terugkeer. Tog het die Israeliete aanhou swaarkry, selfs in die dele wat nie in die Bybel voorkom nie. Hoe moet mens Jesaja dan verstaan…ek was onder die indruk dit is heenwyses na Christus en Sy redding vir alle mense?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Jesaja1-39 handel oor die tyd van Jesaja (740-690 v.C.) toe die tien noordelike stamme van Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Dit is die Boodskap van die Here aan die Israeliete wat die Here verlaat het, ander gode begin dien het, en op hulle eie militêre krag gesteun het en nie op die Here nie. Van 701 v.C. tot die val van Samaria, die hoofstad van die tien stamme ryk, in 722 v.C. is die  tien stamme deur die Assiriërs in ballingskap verstrooi in hulle ryk.

 

Na hulle wegvoering het die twee stamme van Juda en Benjamin in die suide van die beloofde land voortgegaan om van die Here afvallig te word en die gode van die Kanaäniete begin dien en is die woorde van Jesaja 1-39 ook op hulle van toepassing gemaak om hulle te waarsku dat hulle ook in ballingskap weggevoer sal word, wat van 597 v.C. tot in 587 v.C. met die val van Jerusalem gebeur het, toe Nebukadnesar van Babel hulle na Babilonië toe weggevoer het. Babel het ook Assirië by hulle ingelyf.

 

Jesaja het die volk gewaarsku om net op die Here te vertrou. Hy sal sy volk maak soos ‘n stomp wat afgekap is, waaruit ‘n nuwe lootjie sal uitspruit, ‘n oorblyfsel wat deur die Here behoue sal word met ‘n koning uit die stam van Dawid (7:14-16; 9:1-6; 11:1-10), en die ander nasies sal deel hê aan die diens van die Here in sy vrederyk (2:1-4; 11:1-10).

 

Jesaja 40-66 handel oor die tyd toe Juda in ballingskap in Babelonië was, 150 jaar na Jesaja, vanaf ongeveer 540 v.C. Die val van Babel, Israel se bevryding, terugkeer en herstel word verkondig. In 40-48 word verkondig dat Israel die dienaar van die Here is, en dat die Here die Persiese koning, Kores, gaan gebruik om die Here se verbondsvolk te bevry. Wat vir die Jode in Babilonië na 70 jaar se ballingskap onmoontlik gelyk het, het die Here gedoen deur Kores met ‘n ander politieke visie. Hy het nie soos sy voorgangers verslane volke weggevoer nie, maar hulle na hulle lande teruggestuur om hulle gode te aanbid en vir hom en sy regering voorbidding te doen. In 49-55 word die herstel van die volk en die stad Jerusalem behandel, met nadruk op die roeping en optrede van die Here se dienaar, enersyds Israel  en andersyds tog iemand anders. In 56-66 word tot bekering van sondes, afvalligheid en valse godsdiens opgeroep, gepaard met God se oordeel en sy verlossende genade vir alle nasies, sodat almal ‘n lewe van geregtigheid en barmhartigheid kan lei. Die Here se ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, tot stand bring.

 

Baie van die verlossing en oordele van die Here het deur die vyf honderd jaar na die terugkeer van Israel uit ballingskap gebeur, tot die koms van Jesus wat die profesieë kom vervul het, maar wat eers met sy wederkoms ten volle uitgewerk sal wees. Daarom bly Jesaja se oproep tot bekering tot God en ‘n lewe in ooreenstemming met sy wil sedert 740 v.C. tot vandag aktueel. Daar is nog steeds afvalligheid ten spyte van Jesus se liefdesoffer aan die kruis vir die sonde van die wêreld.

 

Johannes 1:1 sê Hy is die Woord van God, wat ook in die boek Jesaja tot mense gekom het, en  vandag nog deur die boek Jesaja tot ons spreek. Reeds toe God vir Abraham geroep het, het God bedoel dat in hom al die volke van die aarde geseën sal wees (Genesis 12:3), soos die woorde van Jesaja ook sê, en soos God van sy kerk vandag ook eis dat Christus se redding vir alle mense bedoel is en deur die kerk as dienaar van die Here verkondig en uitgeleef moet word. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan