Toetsing van Verhoudings – Hermie van Zyl

Peter vra:

Vraag: God het die liefdesverhouding tussen ’n mens se meisie / verloofde / vrou bewerk, maar daar sal toetse wees om hierdie verhouding sterker te maak. Ek het dit verlede week êrens gelees in die 1933/1953-Afrikaanse Bybel, maar kan dit nie weer opspoor nie. Help asseblief.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As dit gaan oor die toetsing van ons geloof in die algemeen is daar baie Bybelgedeeltes wat hieroor handel, waarvan ek net die volgende noem: 1 Korintiërs 10:13; Hebreërs 12:4-12 (haal Spreuke 3:11-12 aan); Jakobus 1:2-4,12; 1 Petrus 4:12-19.

As dit egter gaan oor paartjies – hetsy verloofdes of getroudes – is daar na my beste wete nie tekste wat eksplisiet sê dat egpare getoets word om hulle verhouding sterker te maak nie. Uiteraard is dit natuurlik waar dat daar baie toetse vir getrouheid op egpare se pad kom, wat die verhouding óf kan kelder óf kan versterk, afhangende van hoe die egliede op die versoekings reageer. ’n Mens kan sê dat die liefdesverhouding tussen man en vrou eintlik net ’n onderdeel vorm van ons algemene geloofslewe – soos laasgenoemde getoets word, so ook ons liefdesverhoudings. En oor die verhouding tussen man en vrou, en dat hulle aan mekaar getrou moet bly en die huwelik moet bewaar, is daar wel baie Bybeltekste. Ek noem net die volgende: Spreuke 5:3-20; Maleagi 2:13-16; Matteus 5:27-32; 19:3-9; 1 Korintiërs 6:12-20; 1 Korintiërs 7:1-7,10-11; Efesiërs 5:21-33; Hebreërs 13:4.

So, hoewel dit nie eksplisiet gestel word nie, veronderstel al hierdie tekste dat liefdesverhoudings ook getoets word deur versoekings en dat laasgenoemde weerstaan moet word sodat die verhouding kan groei en sterker word. Maar ons moet hierdie toetse reg verstaan: Dis nie asof God doelbewus versoekings op egpare se pad stuur om te toets of hulle staande sal bly nie. Jakobus 1:12-15 sê baie duidelik dat God niemand versoek nie; dis nie wie Hy is nie. Versoekings is eenvoudig deel van die aardse bestel, mede as gevolg van die werk van die Bose en die aard van ons korrupte menslike natuur wat ’n “ingebore” geneigdheid tot sonde het. Dus, as ’n mens swig voor versoekings is dit jou eie sonde, jy het self toegelaat dat jy deur begeerte verlei word, jy kan nie God die skuld gee daarvoor nie. Maar nou is die wonderlike genade van God se bewaring ook daarin te sien dat Hy nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Hy gee saam met die versoeking ook die uitkoms sodat ons dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13).

Ek vertrou dat bogenoemde die vraag van die vraagsteller beantwoord.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Bediening – Jan van der Watt

Irma vra:

Ek bid dat ek woord kan kry oor my bediening. Hoe weet ek dat op papier is wat Vader van my verwag. Hoe begin jy sonder finansies om jou as persoon op te skerp om die Bybel beter te verstaan.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Baie dankie vir jou vraag. Dit is moeilike vrae vir iemand anders om te beantwoord. 

Eerstens, Hoe weet mens wat die Here wil. Natuurlik wil mens ‘n konkrete (verkieslik ‘n buitengewone) teken of aanduiding he dat die Here wil he mens moet iets doen of in ‘n bediening ingaan. Die Here werk soms met sulke tekens, (hulle is maar min in die Bybel, soos die velletjie van Gideon, die son wat stilgestaan het, die olie in die kruik van die weduwee wat nie minder geword het nie, ens.). As ons die Bybel ernstig neem dan lei die Here mens op verskeie maniere, veral deur jou verstand (jy kyk na al die moontlikhede en weeg dit teen mekaar op in gebed), jou situatsie (wat gebeur en hoekom, wat laat my situasie my toe, ens.) jou medemense (wat dink hulle en hoe gee hulle raad) en veral deur op die Heilige Gees te vertrou. Die Here stap ‘n pad met ‘n mens en hy speel nie raai, raai nie. Hy wys vir mens die pad op verskillende maniere as jy sensitief bly vir sy wil deur gebed en die Gees. SOms mag Hy nee se, en dan moet ons dit as gehoorsame kinders aanvaar. Net so mag hy ‘n ander pad vir ons kies. As ons egter bly vertrou dat Hy vir ons deure sal oopmaak en ons stap deur SY oop deure en nie waar ons altyd wil loop nie, dan werk ons lewe reg uit. Ons moet nie altyd dink dat wat ons wil iets anders is as wat God wil nie – meer dikwels is ons wil in ooreenstemming met syne en dan moet ons met vertroue voortgaan. Maar soms mag ons probeer om ons wil op die Here af te dwing asof dit sy wil is en Hy so moet maak. Daarteen moet ons waak. 

Tweedens, hoe begin jy jouself in die Bybel op te skerp. Die eerste stap is om die Bybel te lees, veral die Nuwe Testament eerste. Daarby is dit goed om een goeie boek te koop, soos die Bybel met verklarende aantekeninge, of die Eenvolume kommentaar. So ‘n boek dek die hele Bybel en help mens om dit te verstaan. Dan is daar webblaaie soos Bybelkennis.co.za waarvan die doel is om aan mense inligting te gee waaroor hulle kan dink en hulle so met hulle Bybelvrae te help. Dit is gratis. Pas egter op vir webblaaie wat baie geld vra of wat jou probeer oortuig van een of ander standpunt wat vir jou ongemaklik laat voel. Daar is baie groepe op die web wat hulleself of eie standpunt wil bevorder. As daar allerhande vreemde dinge op die webblad is, toets dit eers, want baie keer is die inligting nie akkuraat nie. Dit geld van alle webblaaie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Loon in die Hemel – Jan van der Watt

Chris vra:

Na aanleiding van Luk 19:17 i) is daar vlakke van beloning in die hemel of pyninging in die hel op grond van ’n mens se gedrag hier op aarde. ii) Is daar groot en klein sondes wat beteken dat mens op ’n slegter vlak in die hemel gaan land as jy groot sondes doen, terwyl ’n klein sondetjie jou ’n beter plek gaan besorg?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Wat die groot en klein sondes betref. Die lewens van die mense van die Ou Testament is vanwee die verbond grootliks bepaal deur wat hulle gedoen het, naamlik, of hulle die Wet nagekom het. Dit was soos ’n ooreenkoms dat hulle bepaalde dinge wat in die Wet voorgeskryf is moes doen en dan sou God tevrede wees. Die Profete waarsku die Jode egter aanhoudend dat hulle gedrag en offerhandes nie genoeg is nie, maar dat God hulle harte soek – Hy wil in ’n verhouding met hulle staan.

Iets belangriks gebeur in die Nuwe Testament – die fokus skuif na geloof toe. Die belangrikste daad wat mens nou kan doen is om in Jesus te glo (bv. Joh 6:23-24). Geloof gaan oor ’n verhouding, soos ’n kind met sy pa of ma. Dit gaan dus nie soseer oor wat die kind gedoen het as hy of sy stout was nie, maar oor die verhouding wat versteur is. Die belangrike is dus dat die kind die verhouding herstel deur om verskoning te vra en te besef dat hy dit nie weer moet doen nie. Dit is wat die Bybel sondebelydenis noem – lees maar 1 Johannes 1:7-10. Daar word nie gepraat van hoe groot of klein die sonde is nie, maar van hoe die gelowige sy verhouding met God hetstel. God help die gelowige in die proses deur die bloed van Jesus (1 Johannes 1:7-8). Vir die bloed van Jesus maak dit nie saak hoe groot of klein die sonde is nie – dit word gereinig. Paulus beskryf homself as die geringste van die apostels wat Jesus se kerk vervolg het (hy het selfs mense laat doodmaak), maar die genade van God het hom ’n kind en apostel van God gemaak. God se genade en vergifnis is onkeerbaar.

In Jakobus 2:10-13 word daar gese dat dit maak nie saak watter sonde ’n mens doen nie, as jy wet oortree het, het jy almal oortree. Die rede is juis omdat ‘stout wees’ (sonde doen) die geloofsverhouding met God skaad (kyk maar wat in Jakobus 2:14 en verder bespreek word).

Die Nuwe Testament dink dus nie in terme van groot en klein sondes (dade) nie, maar in terme van jou verhouding met die Here en hoe jy daardie verhouding koester. Daar word nie onderskeid gemaak tussen klein en groot sondes nie.

b) Is daar vlakke van beloning in die hemel? Lukas 19:11-27 is ’n moeilike gedeelte wat inpas in Jesus se lering oor die belang van mense se gedrag en wat mense moet doen in die tyd tussen sy hemelvaart en wederkoms (ons noem dit ook die tussentyd). Daar is twee groepe. i) Die een groep wat niks van Hom gehou het nie (’n simboliese verwysing na die mense wat Hom totaal verwerp het en Hom nie as Messias wou of wil erken nie) se lot is duidelik as Hy weer kom. Hulle sal nie die ewige lewe kry nie, maar die ewige dood. ii) Die tweede groep is Jesus se mense wat vir sy terugkeer wag – hoe moet hulle in die tyd leef? Dan kom die moeilike segging dat almal een geldstuk kry en hoe meer ‘wins’ jy gemaak het, hoe groter is jou beloning, en as jy geen ‘wins’ gemaak het nie, verloor jy ook wat jy gehad het. Beteken dit dat party meer in die hemel kry as ander? ’n Gedeelte wat gewoonlik ook hier genoem word kom uit 1 Korintiers 3:9-15 waar daar gese word dat gelowiges die gebou van God is en dat elkeen op Jesus as fondament bou, maar nie met dieselfde materiaal nie – party bou met goud en silwer, terwyl ander met gars of strooi bou. ’n Vuur van oordeel sal dan die kwaliteit toets. As jou bouwerk bly staan sal jy beloon word, maar as dit nie bly staan nie, sal jy nie beloon word nie, al sal jy gered word.

            Hoe moet die verwysings na die loon in die gelykenis in Lukas 19 verstaan word? Dit lyk of die gedeelte praat van ’n groter beloning vir die een as vir die ander. Dit gaan egter nie om ’n beloning nie, maar om die gee van groter verantwoordelikheid en aanmoediging om die heer (Here) nog beter te dien. Daarom staan daar dat die persoon oor ’n klein bietjie aangestel is, maar hom of haarself as so betroubaar bewys het dat nog groter verantwoordelikhede en take op sy of haar skouers gelaai word. Die persoon wat gewys het dat hy nie verantwoordelikheid wou aanvaar nie, het gewys dat hy nie in die diens van die heer (Here) doen wat van hom verwag word nie – hy het nie eers sy basiese verantwoordelikheid nagekom om bank toe te gaan en rente te probeer verdien nie, wat eintlik baie min van hom sou vra. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Geloofsekerheid – Jan van der Watt

Sannie vra:

a) In watter boek in die Bybel kom die woord GELOOFSEKERHEID die meeste voor.

b) Die DIE BOEK VAN DIE LEWE, hoeveel keer kom dit voor in die Bybel.

c) Hoeveel keer sal jou naam uitgewis word uit die Boek van die Lewe.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Die term ‘geloofsekerheid’ is nie eintlik ’n woord wat in die Bybel gebruik word nie, maar is ’n konsep, met ander woorde, dit is ’n tema wat op verskeie maniere in die Bybel uitgedruk word. Johannes sal byvoorbeeld sê, jy het die ewige lewe wat beteken dat jy vir ewig in God se familie sal leef. Daarvan kan jy seker wees, want niemand kan jou uit die hand van die Vader of Seun ruk nie (Joh 10:28-30). Dit geld vir elkeen wat opreg in Jesus glo (Joh 6:27-29). Paulus sal byvoorbeeld in Kol 2:9-15 met ’n beeld sê dat jou ou mens dood en begrawe is en jy saam met Jesus opgewek is in ’n nuwe lewe. Jy het nou die volheid van God. Dit is God se belofte aan jou. Weereens is die vereiste dat jy vas moet staan in die geloof (Kol 1:21-3). Geloofsekerheid as tema is dus gebaseer op die belofte van God in die Bybel dat as jy in Hom glo (met Hom in verhouding tree), jy seker kan wees Hy sal sy belofte nakom en jy sal vir ewig sy kind bly.

b) Verwysings na die boek van die lewe kom op die volgende plekke voor: Ps 69:29; Fil 4:3; Open 3:5; 13:8, 17:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27; 22:19. Dit sinspeel op die gebruik in die ou tyd (soos vandag ook) om rekords te hou. Stede het byvoorbeeld rekords gehou van die mense wat in die stad bly sodat daar nie sommer vreemdes daar kan intrek of ander kan aanspraak maak op die regte van die stad  nie. Die boek van die lewe bevat almal se name wat die ewige lewe het.

c) In net twee plekke in die Bybel word daar gepraat van name wat uit die boek van die lewe uitgewis kan/ gaan word, naamlik, Ps 69:29 en Open 22:19. In Ps 69:29 wens die skrywer van die Psalm (Dawid) dit vir sy vyande toe wat hom sleg behandel. Soos hierbo genoem, was daar boeke in die ou tyd waarin die name van mense geskryf was ter wille van die administrasie. Name kon daaruit verwyder en toegevoeg word – Dawid bid hier dat sy vyande ‘gestraf’ word deurdat God hulle name uit die boek verwyder. In Open 22:19 het ons ‘n ‘vloek’ wat uitgespreek word teenoor enigiemand wat probeer om iets aan Openbaring te verander. Destyds was daar nie drukperse nie en die boeke is met die hand oorgeskryf. Dit was dus maklik om dit te verander en dan het al die mense wat die boek gekry het, dit afgeskryf, sodat die veranderinge dan verder versprei word. Dit was dus algemeen in die ou tyd dat skrywers sulke ‘vloeke’ aan die einde van hulle boeke gesit het, sodat mense ontmoedig is om enigiets te verander. Die waarskuwing is dus in Open 22:19 dat niemand dit moet waag om iets te verander nie, wat die Here sal dan met hom afreken.

                Kom ons by die res van die verwysings na die mense wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is daar geen verwysing na die moontlikheid dat daardie mense se name uit die boek van die lewe weggeneem sal word nie. In al die gevalle gaan dit om mense wat regverdig is en gelowiges is. Op 3:5 sê immers dat hulle name nooit uitgewis sal word nie.

                Dus, die boodskap van Openbaring sê dat die name van gelowiges nie een maal uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Die gevalle wat daarvan praat dat die name uitgewis kan word gaan oor ’n wens vir die vyand (Ps 69) en ’n waarskuwingsvloek (Open 22:19). Dat die uitwissing van ’n naam ’n moontlikheid is, is so, maar dit is nie waar van die regverdiges, die gelowiges nie. Die Bybel sê nêrens dat hulle name uitgewis kan of gaan word nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt