Is Paulus ’n vals apostel – Vraag

Is Paulus ‘n vals apostel? – Francois Malan

Cobus vra:

Ek het n dokument op truthseekers.co.za gekry wat vir Paulus heeltemal verwerp en sê dat hy n valse apostel was wat homself aangestel het. Die dokument se naam is The shocking truth en is by hulle download gedeelte. Sulke dinge verwar mens partykeer baie en ek sal graag julle opinie oor dit wil hoor.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

 Ek het by die truthseekers se 32 bladsye artikel ‘Paul: Apostle of the Stumbling Block’ uitgekom, waar hulle probeer bewys dat Paulus darem koring ook tussen sy kaf gesaai het en deur die geskiedenis die hoofstroom Christendom laat struikel het met sy leer, wat teen die wet van die Here is, en vir die vryheid van die gelowige, vry van die wet. In die artikel word gewys na die afgod wat Paulus sou volg en op ‘n aantal leuens wat Paulus sou verkondig, en Paulus se stryd met die twaalf apostels wat deur Jesus (Yahushua the Anointed Son) aangestel is.

 

Die hele artikel spreek van ‘n verdraaide kennis van die Bybel en van die geskiedenis, ‘n vooropgesette idee wat bewys wil word, en ‘n swak interpretasie van die Skrif. Die skrywer verwys na die probleme wat groepe ook met Paulus se anti-wet leer het, nl. die messiaanse Jodedom, die Sewendedagse Adventiste en die World Wide Church of God.

 

Hoofstuk een handel oor: wie was die Magtige (Mighty One) vir wie Paulus gedien het? In Paulus se optrede in Atene vind die skrywer die sleutel, nl. die Onbekende God waarby Paulus aangesluit het in Hand 17:22-23. Die Onbekende God word dan geïdentifiseer as die valse ‘mighty one’ Ares, die Grieke se god van oorlog (deur die Romeine Mars genoem). Maar die skrywer verwar dan die Griekse Ares (Mars in Latyn) met die Latynse woord aries vir ‘n ram (arnion in Grieks), en beweer dat vandag word Ares as die sterrebeeld Aries (die ram) vereer waarby die hele konstellasie (zodiac) bygesleep word vir sterrewiggelary (horoscope).

 

            Van die Griekse woorde ‘die onbekende god’ agnostos theos (foutief gespel as agnostes theos) maak die skrywer ‘agnostic worship’ die geloof dat niks van God geken kan word nie.

 

            Sy weergawe van Hand. 17 steek vas by die naam Areopagus, die rots (heuwel van Ares, en vandaar na Ares) in Atene waar Paulus sou gepreek het. Hand 17:22 sê Paulus het in die middel van die Areopagus gestaan, wat waarskynlik verwys na die Raad van Atene wat die naam Areopagus vir hulle Raad aangeneem het.

 

            Daarna identifiseer die skrywer Paulus met die mense (die skrywer sê: ‘one so-called apostle) wat hulle voorgee as apostels in Efese, wat leuenaars is en die leer van die Nikolaïete verkondig (Openb 2:2-6), soos ook in Pergamus en Tiatira (Openb 2:14-15, 20). Die skrywer sien dit as ‘n waarskuwing dat Paulus ‘n struikelblok is wat die mense laat val, soos Jesus ‘n struikelblok was vir dié wat Hom nie verstaan het nie! (1 Petr.2:8 Jes.8:14 onbegryplik in die skrywer se redenering). Die naam Nikolaus (nikao ‘oorwin’ en laos ‘volk’ sou dan verwys na die man wat die volk van die Gesalfde Seun oorwin deur te leer dat vleis wat aan afgode geoffer is maar geëet kan word, soos Paulus in 1 Kor 8-10 doen. 

 

Om dit te kan doen verwys hy na die manuskrip in die John Rylands Biblioteek in Manchester wat sou bewys dat Openbaring in 40n.C. geskryf is. Die oudste afskrif wat ons van enige Nuwe Testamentiese boek het is die papirus (nr.52) in die John Rylands biblioteek, wat ongeveer 125 n.C. geskryf is en waarvan slegs Joh.18:31-33, 37-38  van die Evangelie volgens Johannes behoue gebly het (nie Openbaring nie). Johannes het die openbarings van die boek Openbaring in sy ouderdom op die eiland Patmos gesien het, toe hy daarheen verban is (Openb 1:9). Dit waarskynlik in die jare 90-100 n.C.

    

Jakobus, die leier van die gemeente in  Jerusalem, en by die vergadering wat besluit het dat die besnydenis nie vir die bekeerlinge uit die heidendom nodig is nie (Hd 15) word met die apostel Jakobus geïdentifiseer, wat toe reeds deur Herodes doodgemaak was (Hand.12:2). Ook die brief van Jakobus word deur die skrywer aan die apostel Jakobus toegeskryf en nie aan die broer van Jesus (vgl. Gal 1:19), wat later Jesus se volgeling geword het en ‘n leier in Jerusalem geword het (vgl. Hand 12:17 nadat die apostel Jakobus reeds doodgemaak is volgens Hd 12:2).

 

Hoofstuk twee wil bewys dat Paulus geen apostel is nie. Oor Handelinge se drie berigte oor Paulus se bekering sê die skrywer dat volgens Hand. 26 het die Gesalfde Seun aan Paulus sy opdragte gegee, terwyl volgens Hand.9 en 22 aan Paulus gesê is hy moet na Jerusalem toe gaan en daar opdragte kry (van die ander apostels). Die verband van Hand.9:6 wys egter na Damaskus as die stad waar vir hom gesê sal word wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen), en in Hand 22:10 word dit duidelik uitgespel dat hy na Damaskus toe moet gaan en daar sal alles vir hom gesê word wat God bepaal het wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen). Die skrywer sien ‘n verskil tussen Lukas se berigte oor Paulus se bekering en Paulus se eie weergawe in Galasiërs 1:13-2:9 waar Paulus van ‘n drie jaar periode in Arabië praat voordat hy Jerusalem toe is. Die skrywer beskou dit as bewys dat Paulus seniel was toe hy Galasiërs as ‘n ou man geskryf het (terwyl Galasiërs een van Paulus se eerste briewe na sy briewe aan die Tessalonisense of selfs voor hulle geskryf is). Volgens Hand 9:23 het daar ‘n lang (hikanos) tyd verloop voordat die Jode begin saamspan het (met die goewerneur, vgl. 2 Kor 11:32,33) om Paulus in Damaskus dood te maak voordat hy in die nag oor die muur ontsnap het na Jerusalem.

 

            Die skrywer sien Gal 2 as bewys dat Paulus se rebellie teen die 12 apostels steeds toegeneem het, dit ten spyte van Hand 15 se vergadering waar hulle met Paulus en Barnabas saamgestem het om die heidene nie die las van die wet en die besnydenis op te lê nie, maar dat Petrus-hulle glo dat hulle deur die genade van die Here Jesus gered is, netsoos die heidene  (Hand 15:10, vgl. 15:1,2). Volgens Gal. 2:9 het die pilare van die gemeente, nl. Jakobus (Jesus se broer wat nie een van die 12 was nie), Petrus en Johannes aan Paulus en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, en het hulle ooreengekom dat Paulus en Barnabas na die heidene gaan en hulle na die Jode. En dan spring die skrywer na 2 Korintiërs 11 om te bewys dat Paulus teen die 12 apostels in opstand is. Die probleem is dat die skrywer aan geen ander gelowige as ‘n apostel kan dink as aan die 12 nie, terwyl die NT na vele ander as apostels verwys. In 2 Kor 11:5 en 12:11 verdedig Paulus juis sy apostelskap teen mense wat hulleself as buitengewone (huperlian) apostels aanbied om die gemeente van Korinte, wat deur Paulus gestig is (Hand.18) van hom en sy evangelie weg te lei. Hulle doen dit deur te roem oor hulle welsprekendheid en sosiale status, en hulle strewe na aansien onder die mense. Daarteenoor volg Paulus die kruisweg van Jesus se lyding om liefdevolle dienaar van ander te wees, soos Jesus (vgl. 2 Kor 6:1-13).

 

            Romeine 3:7 word buite sy verband misbruik om te bewys dat Paulus erken dat hy lieg. In vers 4 sê hy reeds: Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar. Ons verkeerde dade laat blyk dat God regverdig is (v5). Vers 8 verduidelik v7, waar Paulus homself gebruik as voorbeeld van alle mense. Vers 8 sê:  Beteken dit dat ons sê ‘laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom?’ ‘Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê (soos die skrywer van die artikel), maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.’       

 

Hoofstuk 3 plaas Paulus se wet/onderwysing (Torah), wat eintlik ’n anti-wet is, teenoor die ware wet/onderwysing (Torah). Daar word na die leuens van Paulus verwys:

 

Eerste leuen: slegs die vrou was verlei (1 Tim 2:14) – die teks sê nie dat slegs die vrou verlei is nie, maar, soos v13, verwys na Adam wat eerste gemaak is, Eva daarna, is dit ook nie Adam wat (eerste) verlei is nie, dit is die vrou wat haar (eerste) laat verlei het en die gebod oortree het. Die argument van 1 Tim 2:8-3:13 gaan oor leierskap in die gemeente, en die rol van man en vrou in die gemeente van Efese waar vroue in die gemeente rondgegaan het en oor allerlei verkeerde dinge gepraat het (5:13).

 

Tweede leuen: niemand is regverdig nie (Rom 3:9-18). Paulus sou Ps 14:1-4 verkeerd aanhaal. Die eerste drie verse sou net oor mense sonder die wet praat en nie van mense wat volgens die wet lewe nie, wat dan in verse 4-5 bespreek sou word.  Maar vers 2 sê dat God uit die hemel afkyk op ‘die kinders van Adam (die mens)’…om te sien of daar iemand is wat God soek. Vers drie: God sien dat daar nie een is wat goed doen nie, nee, nie een nie (v3). ‘kinders van Adam (die mens) sluit alle mense in. Daarin het Paulus die Psalm reg verstaan.

 

Derde leuen – Paulus se idee hoe ons regverdig is (Rom 3:21-22). Die skrywer verkwalik Paulus wat verklaar dat regverdigheid los van die wet staan. Die skrywer en sy mense glo dat daar geen geregtigheid bestaan los van die wet nie, omdat die Gesalfde vir ons oortredings van die wet gesterf het. Daarom is die wet vir hom deel van ons geregtigheid. Hy verwys na Jer 31:31-33 se nuwe ‘verbond’ wat ‘n valse vertaling van berit sou wees. Volgens hom moet dit met ‘eed’ vertaal word. Die Hebreeuse woord berit beteken ‘ooreenkoms’ of ‘verbond’ terwyl die Hebreeuse woord vir ’n ‘eed’ sjebu‘ah is soos Jeremia dit in Jer.11:5 gebruik. Vir Paulus is die nuwe verbond wat God met ons maak dat Christus die verhouding tussen ons en God reggemaak het, en dat God ons aangeneem het as sy kinders. Dit spel Paulus uit in Romeine 8, en kom daarmee ooreen met Johannes 1:12.

 

            Vir Paulus kan ons goeie werke volgens die wet nie ons verhouding met God regmaak nie, maar slegs die offer van sy Seun, wat self God is, se dood aan die kruis. En as ons in Hom glo, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat in ons kom woon, is ons kinders van God. Maar daarmee verwerp Paulus nie die wet nie. Hy sien dit as die reël vir ons lewe uit dankbaarheid vir ons verlossing, as die huisreëls vir God se kinders.

 

            As Jakobus 2:4 dan sê dat geloof sonder werke dood is, bedoel hy nie daarmee dat die werke ons regverdig voor God nie (soos die skrywer dit interpreteer nie), maar dat ons werke die bewys is van ons verbondenheid aan ons Vader, die regte verhouding wat reeds deur Christus vir ons verwerf is. Die skrywer sê Johannes definieer geregtigheid soos dit in die wet gedefinieer is. Maar Johannes beskryf die doel van sy hele Evangelie ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:31) – nie soos dit in die wet gedefinieer is nie.

 

            Die skrywer neem Paulus kwalik dat hy kan sê dat ons wel vleis kan eet wat aan afgode geoffer is, omdat ons weet dat daar geen afgod is wat iets beteken nie, en dat geen God is nie, behalwe Een (1 Kor 8:4). Maar as my eet van daardie vleis my swakke boer laat struikel, bly Paulus weg van sulke vleis af (1 Kor 8:7-13). Hoewel die hele Ou Testament dit verbied, kom Jesus en verklaar dat alle voedsel rein is (Markus 7:19). Paulus volg maar net Jesus se woord.

 

Vierde leuen – God het jou lief of haat jou nog voor jy gebore is (Rom 9:12-13). Sy eintlike beswaar is teen God se genadige verkiesing, wat in Romeine 9-11 bespreek word.

 

Vyfde leuen – Paulus se leer oor besnydenis – volgens Gen 17:9-14 sou dit vir altyd geld as teken van God se verbond met Abraham en sy nageslag. Omdat Paulus glo dat gelowiges kinders van Abraham is (Gal 3:16,29), moet hulle ook besny word. Maar die skrywer vergeet van die Jerusalem-vergadering van Hand 15 wat besluit het die besnydenis is onnodig.  

 

            Die skrywer beweer verkeerdelik dat die woord vir ‘eed’ berit  is, wat beteken dat ‘n mens ‘n ooreenkoms sny (‘n verbond is mos ‘n ooreenkoms!). Die woord vir sny is egter karat en om ‘n verbond te sny (karat berit), dit verwys na die gebruik om ‘n dier in twee te sny, die twee partye loop daartussen deur en sê: mag die Here so met my maak as ek nie hierdie verbond nakom nie (vgl. Gen 15:17; Jer 24:18-20).

 

            Die Hebreeuse woord om te besny,  mool, word ook gebruik vir die afsny van gras. Die opdrag aan Abraham was om die voorhuid van die manlike geslag af te sny. Die skrywer maak beswaar teen die engelse ‘circumcision’ wat rondom sny beteken. Circumcision volg egter die Griekse vertaling peritome (rondom sny) vir die Hebreeuse mool (afsny). Weens sy misverstand van mool reken die skrywer daar moet net ‘n snit in die voorhuid gemaak word..          

 

Sesde leuen – dat mans nie iets op die kop mag dra of lang hare hê nie (1 Kor 11). Daarvoor verwys die skrywer na die engele wat hulle gesigte bedek met hulle vlerke, Elia wat sy gesig bedek het in die teenwoordigheid van God, die nasireërs wat hulle hare laat groei het (Num.6:2-5), Absalom se lang hare, en Mat 6:6 se gebed in die binnekamer (Grieks: tameion). Hy meen die woord tameion verwys na ‘n gebedsmantel, ‘n betekenis wat die Griekse woord duidelik nie het nie.

 

            Hy beweer ook dat Jesus ‘n baard gehad het op grond van Jes.50:6, en dat die mense wat Hom gevang het sy baard uitgepluk is om Hom te verneder, volgens Esra 9:3 se voorbeeld. Maar ons word toegelaat om ons baarde netjies te knip op grond van Mefiboset se onnet baard (2 Sam 19:24), maar mag dit nie afskeer nie.

 

Die skrywer beweer Paulus het al sy briewe geskryf nadat hy eers in die tronk beland het. Maar slegs 5 van Paulus se 13 briewe dui aan dat hulle uit ‘n gevangenis geskryf  (Efesiërs, Kolossense, Filemon, Filippense, en 2 Timoteus). Daarby is Paulus se briewe geskryf voordat enige van die Evangelies, Handelinge of algemene briewe en Openbaring geskryf is, terwyl die skrywer reken Paulus was van die laaste Bybelskrywers.

 

Paulus wanhoop aan die Galasiërs wat weer wil terugkeer na die onderhouding van die wet om voor God geregverdig te word deur hulle eie goeie werke. Want daardeur verwerp hulle Christus, wat self God is wat mens geword het, self die straf op ons sonde gedra het, en ons van die mag van die sonde verlos deur God die Heilige Gees te stuur om ons in staat te stel om te lewe volgens Jesus se wet,  sodat ons selfs ons vyande sal liefhê, want 1 Johannes sê God is liefde, en as ons nie uit sy liefde lewe en mekaar liefhet nie, is ons nie sy kinders nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja 53 en Jesus

Jesaja 53 en Jesus – Francois Malan

Johan vra:

Jesaja 53 in die middel van die profeet se profesie dat God sy volk gaan red uit bannelingskap en dat die volk Hom moet vertrou, Hy sal sy belofte gestand doen, verwys hy na die Here se dienaar wat sal ly. Alles in die hoofstuk soos dit voorkom, verwys na Jesus – ook ander plekke soos Jes 42:1-4, Jes 7:14. Vraag is hoe moet mens dit verstaan? Jesaja die eerste een of die tweede een praat van die val van Babilon en alles wat daarmee gepaard gaan, maar hy profeteer ook toekomstige dinge, Jesus se swaar kry ens., wat ons nou weet het gebeur. Daar is nie ‘n kronologiese tydverloop nie, maar wat is die verband tussen die belofte van verlossing uit bannelingskap en die toekomstige belofte van verlossing. Sien hy dit soos ‘n klippie wat op die water gegooi word, hy tref hier en daar tref hy verder, weer en weer

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

God openbaar Homself aan die mensdom in die Skrif. Dit geskied deur verskillende soorte geskrifte in die Bybel, ook in die profetiese geskrifte soos Jesaja, deurdat God sy woord en sy optrede deur mense vir sy volk en ander volke aan die profete openbaar. Die profeet ontvang, verkondig en skryf die woord van God vir sy eie tyd se mense. Maar nadat dit op skrif gestel is, dien dit ook as die woord van die Here vir opvolgende geslagte. God bedoel dit vir alle tye, en in die volheid van die tyd word sy verlossingsplan ten volle geopenbaar in Jesus Christus; vgl. Galasiërs 4:4 ‘…toe die tyd wat God daarvoor bepaal het aangebreek het (letterlik: in die volheid van die tyd) het Hy sy Seun gestuur…’

 

Die eerste wegvoering van Juda na Babel was in 597 v.C. en die tweede in 587 v.C. In 539 word Babel deur die Pers Kores ingeneem wat ‘n ander filosofie gehad het. Hy het die Jode laat teruggaan na hulle eie land om hulle god daar te aanbid en vir hom as hulle koning voorbidding te doen by hulle god. Jesaja 44:8 noem hom die gesalfde van die Here. Die eerste Joodse ballinge keer in 538 v.C. terug na Palestina onder leiding van Serubbabel, met die opdrag om hulle tempel te herbou (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4; Jesaja 44:28). Daar is met die bouwerk begin (Esra 3), maar die goewerneur van die provinsie en die buurvolke het beswaar gemaak, en meer as een keer die bouwerk probeer stop (Esra 5:3-4). Navraag oor die koning se toestemming tot die bou van die tempel is gedoen by die Persiese hof, by Kores se opvolger in 530 v.C, Darius die Meder. Voordat die offisiële goedkeuring ontvang is, verdwyn die naam van Serubbabel. Jesaja 53 suggereer dat hy geslaan en doodgemaak is deur die owerhede wat nie kon droom dat die koning toestemming sou gee om die bouwerk te hervat nie. In 518 v.C. gee die nuwe koning Darius opdrag dat die tempelbou moet voortgaan (Esra 6:1-13) en kom self in Jerusalem aan op pad na Egipte en verhoor die klag oor die dood van Serubbabel. Die Here se leiding aan Darius oor Serubbabel se lyding word in 53:11 aangekondig en Darius se onskuldigverklaring oor Serubbabel in 53:12. Die tempel word herbou van 520-515 v.C.

 

Deur die eeue wat op 518 v.C. gevolg het, is die Joodse volk telkens as die lydende kneg van die Here van Jesaja 53 gesien. Maar toe Jesus gekom het, is God se bedoeling met die woord ten volle gerealiseer. Die vroeë kerk het dit ook so gesien en meeste van die geskrifte van die Nuwe Testament getuig daarvan: vgl. die aanhalings van Jes.53:1 in Joh. 12:38 en Rom 10:16; Jes 53:4 in Mat 8:17 en 1 Petr 2:24; Jes 53:5 in 1 Petr. 2:24; Jes 53:6 in 1 Petr 2:25; Jes 53:7-8 in Hand.8:32-33; Jes 53:9 in 1 Petr 2:22; Jes 53:12 in 1 Petr 2:24; daarby is daar talryke sinspelings in die Nuwe Testament op Jes.53. 

 

Die skrywer van Jesaja 53 het nie die toekomstige verlossing gesien soos ‘n klippie op die water nie, maar God het ‘n skrefie oopgemaak van sy verlossingsplan vir die wêreld. Wat vir die ballinge na 70 jaar se straf op hulle afgodsdiens onmoontlik gelyk het, het God deurgevoer deur ‘n koning met ‘n ander beleid as die Babiloniërs. God het Kores se siening gevorm om sy volk terug te stuur na die beloofde land soos deur sy profete voorspel is. En 500 jaar later is sy Seun in die beloofde land geslaan en doodgemaak as die offer van die sonde van al die gelowiges in die tyd van die Ou Testament en van almal wat in Jesus glo sedert sy menswording. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29) en van elkeen wat in Jesus glo, kinders van God maak (Joh 1:12). Daarmee word die woorde van Abraham aan Isak, wat die hout vir die offervuur gedra het, soos Jesus sy kruis, op ‘n besondere manier vervul: ‘My seun, God sal sy eie offerlam voorsien’ (Gen.21:6,8).

 

Dat die Seun van God vir die sonde van die wêreld gesterf het, is die toppunt van God se liefdesdiens aan die wêreld (Joh 3:16). Jesus se nuwe gebod aan sy getroue volgelinge is ook dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Joh 13:34), dat ons bereid sal wees om ons lewe vir mekaar af te lê (Joh 15:12-13), dat ons Hom ook sal volg in sy lyding (Mat 16:24-25). Paulus sê: ‘Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid’ (Rom 8:17). So word ons ook deel van die lyding van die  Kneg van die Here van Jesaja 53. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Ongehoorsaam in die ewigheid

Ongehoorsaam in die ewigheid – Francois Malan

Johan vra:

Is dit ‘n moontlikheid dat God se kinders na die wederkoms van ons Here Jesus Christus ongehoorsaam kan wees aan God, in opstand kom teen God se gesag. Miskien slaan my vraag ook daarop of ons steeds ‘n vrye wil sal hê en ‘n verkeerde keuse sal kan maak wat God se gesag betref.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

‘Steeds ‘n vrye wil’? – die mens het geen vrye wil nie! In Romeine 7:15 sê Paulus: Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. In Rom 7:19 sê hy: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.’

 

God het die mens geskep om Hom vrywillig (uit vrye wil) te dien uit dankbaarheid en in liefde met sy hele hart en lewe (Gen 1:26-27 as sy verteenwoordiger, as beeld van God, wat liefde is, (1 Joh 4:8). En toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed (Gen. 1:31).

 

Die mens het egter geluister na die vader van  die leuen, die mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:24) en begeer om soos God te wees om kennis te verkry (Gen 3:4-7). Toe het die mens sy eie god geword, ‘n wese wat net vir homself lewe en nie meer vir God nie, met ‘n wil wat nie meer vry is nie, maar ‘n slaaf van die sonde (Rom 7:14 ‘maar ek is aards en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop’; Rom 7:17,18 ‘Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard  nie’). Daar bestaan by my geen vrye wil meer nie!

 

Daarom roep Paulus in Rom 7:24,25 ‘Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.’ En in Romeine 8 beskryf Paulus hoe God ons verlos, deurdat die Heilige Gees ons kom oortuig om in Christus te glo as die enigste wat ons kan verlos, dat die Heilige Gees ons aan Jesus, die Seun van God verbind om saam met Hom kinders van God te wees wat ons  nie deur ons sondige natuur laat beheer nie, maar deur die Gees van God, vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. En Jesus sê in Johannes 8:31-32: ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ 

 

Die werk van die Heilige Gees is om ons te verander om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18). Hy wat in alles aan sy Vader gehoorsaam was, wat Homself verloën het en sy lewe gegee het as ‘n liefdesoffer vir ander. Daarom het Jesus gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor sal dit terugkry (Matteus 16:24-25).

 

Die mens behou ‘n vrye wil slegs deur God se wil te doen. Die mens kan slegs ‘n slaaf wees van of die sonde of van God (Romeine 6:16). Jesus het ons kom vry maak om weer vir God te kies en in gehoorsaamheid aan Hom te leef. Iemand wat deur die proses is, sal weet dat om teen God te kies die dood beteken. Om vir Hom te kies beteken die lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was. Vraag

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Francois Malan

Japie vra:

Volgens Johannes 13:23 en 19:26 word gepraat van die dissipel wie Jesus baie lief gehad het. Wie was dit? Baie dankie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle sy getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

 

Hy is moontlik ook ‘die ander dissipel’ vir wie die hoëpriester geken het, en wat vir Petrus toegang tot die binnehof verkry het (18:15-16). Dit is onwaarskynlik dat die ongeleerde Johannes uit Galilea (vgl. Hand 4:13) bekend was by die hoëpriester in Jerusalem.

 

Daar is ook ‘n moontlikheid dat dit die geliefde dissipel was wat saam met Andreas vir Jesus opgesoek het nadat Johannes die Doper vir Jesus as die Lam van God aangewys het (Jn 1:35-40), omdat die skrywer hom nie identifiseer nie.

 

Die naam van Johannes (die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus, volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waar die lieflingsdissipel in 21:7 ook genoem word.

   

In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie. Die slot van die Evangelie veronderstel dat volgelinge van die ‘geliefde dissipel’ sy herinneringe en die betekenis daarvan opgeteken het in die Evangelie. Of die ‘geliefde dissipel’ die dissipel Johannes was, word betwyfel, maar is ‘n moontlikheid, wat in die vroeë kerk aanvaar is..

 

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg.

 

Die vroegste getuienis oor die skrywers kom van Ireneus, biskop van Lyon in Frankryk wat in Smirna in die huidige Turkye groot geword het en sendingwerk in Gallië (Frankryk) gaan doen het. Hy het as kind by Polikarpus gehoor dat Johannes die Evangelie in Efese geskryf het. Polikarpus van Smirna sou gesê het dat hy vir Johannes en ander persone wat die Here gesien het, geken het. Polikarpus het op 86 jaar in 155 n.C. in Rome op die brandstapel gesterf vir sy geloof (dus gebore in 69 n.C.). Ireneus het gesê Johannes het in Efese gebly tot die tyd van keiser Hadrianus (98-117 n.C.). Clemens van Alexandrië (150-215) het beweer dat Johannes ná die dood van keiser Domitianus (96 n.C.), wat hom na Patmos verban het, terug is Efese toe. Die anti-Marsion proloog tot Lukas  (200 n.C.) beweer dat Johannes Openbaring op Patmos geskryf het en die Evangelie daarna. Papias van Hiërapolis sou in 135 n.C. geskryf het dat daar in Efese twee grafte van twee Johannesse is, en hy het die ouderling Johannes nog geken, maar die apostel Johannes was toe blykbaar al dood (volgens Eusebius Hist. 3.39.6 geskryf in 311 n.C.). .

 

Skrywer: Prof Francois Malan