Watter taal het Moses gepraat?

Watter taal het Moses gepraat? – Francois Malan

Willie vra:

As ek reg is, is ons nie seker watter taal die Egiptenare in Josef se tyd gepraat het nie , maar weet u dalk watter taal hulle in Moses se tyd gepraat het. MAW met watter taal het Moses grootgeword en waar het hy Hebreeus geleer – kan ‘n mens aflei dat hy wel deeglik kontak met die Israeliete gehad het, selfs met sy ouers en by hulle Hebreeus geleer het?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die Bybel gee nie ‘n direkte aanduiding van die taal wat Moses gepraat het nie. Maar uit die antieke geskiedenis en die Bybelnavorsing kan die volgende tentatief afgelei word.

 

Tussen die jare 1700 en 1600 v.Chr. het die Hyksos (‘regeerders uit vreemde lande’) die regering van die noordelike en middel deel van Egipte oorgeneem. Dit was waarskynlik gedurende hierdie jare wat Josef en sy familie na Egipte toe gekom het. Die Hyksos het uit Sirië en Palestina gekom. Hulle hoofgod was Baal. Hulle het heelwat tegnologiese ontwikkelings na Egipte gebring, o.a. die gebruik van perde en oorlogswaens, en in die tyd het brons al meer bekend geword. Hulle het toegelaat dat die Egiptiese taal as offisiële taal bly geld het, maar kon seker gemaklik met die Jakob-groep, wat ook uit Palestina gekom het, kommunikeer.

 

In die tydperk nadat die Egiptenare die Hyksos verdryf het, en nog later in die tyd van die briewe wat by Tel-el-Amarna opgegrawe is (geskryf tussen 1400-1350 v.Chr. tydens die regering van Amenhotep IV, genoem Ignathon/Agnathon, die skoonvader van die bekende Tutankamen) was die algemene omgangstaal oud-Egipties. Maar offisiële dokumente, met o.a. opdragte van die farao en sy hoofmanne aan hulle Egiptiese goewerneurs in Palestina, was geskryf in Akkadies, die ou taal van Mesopotamië. Die 382 Amarna kleitablette is geskryf in die spykerskrif wat in die Akkadies van Mesopotamië gebruik is.

 

Die verdrukking van die Israeliete in Egipte het waarskynlik begin kwaai word  in die tyd van farao Set I (ongeveer1305-1290 v.Chr.) wat ‘n klomp bouwerk begin het in die gebied waar die Israeliete gevestig was. Die uittog onder Moses was waarskynlik tydens die regering van Seti I se seun Rameses II (1290-1224 v.Chr.), wat vir Seti I opgevolg het, en die bouwerk in Gosen voortgesit het, waar die Israeliete die stede Pitom en Rameses vir die farao moes bou (Eks 1:11). Farao Rameses was o.a. getroud met ‘n Hettietiese prinses uit Klein-Asië. Gedurende die Israeliete se verblyf van 400 jaar in Egipte was hulle blootgestel aan oud-Egipties.

 

Die oud-Hebreeus waarin Eksodus 15 en Rigters 5 geskryf is, is in Kanaänitiese skrif geskryf en dateer uit die tyd van konings Dawid en Salomo (1000-931 v.Chr.). Die standaard Hebreeus waarin die meeste van die Hebreeuse Bybel geskryf is, dateer uit die laaste jare van die konings van Juda en die tyd van die ballingskap in Babel en word klassieke Hebreeus genoem (630-430 v.Chr.). Die laat-Bybelse-Hebreeus, waarin Esra en Nehemia geskryf is, begin na die ballingskap, en is in Aramese skrif geskryf, die skrif waarin die Hebreeuse Bybel vandag geskryf is. Daniël 1:1-2:4a en 8-12 is in Hebreeus geskryf, maar 2:4b-7:28 is reeds in Aramees.

 

Die teorie is dat die eerste vyf boeke van die Bybel en die geskiedenis daarna, eintlik geskryf is in die tyd wat strek vanaf Dawid (1000 v.Chr.) tot na die ballingskap in Babel. In dié tyd het klassieke Hebreeus sy bloeityd beleef. Die skrywers van die boeke in die Ou Testament het as bronne gebruik gemaak van mondelinge oorlewerings, ou geskrifte, en gedeeltes in Eksodus wat deur Moses self opgeteken is, bv. die tien gebooie.

 

Hebreeus het ontwikkel uit Aramees, wat in Mesopotamië gepraat is, bv. in Haran waar Abraham vandaan gekom het, en in Paddan-Aram (die gebied van Aram) waar Rebekka vandaan kom (Gen 25:20) en Jakob vir twintig jaar gebly het (vgl. Deutr. 26:5). In Kanaän het hulle die taal van die Kanaäniete opgeneem en so het die taal van die Hebreërs ontstaan. In Genesis 14:13 word Abraham ‘n Hebreër genoem (‘vreemdeling’ of soos die Jode beweer, as afstammeling van Heber uit die nageslag van Sem (Gen. 10:21). Na 400 jaar in Egipte het hulle van ou-Egipties opgeneem in hulle taal. Tydens die 70 jaar in ballingskap in Babel is nog Aramese woorde oorgeneem. Later word Aramees die omgangstaal in die hele Midde-Ooste, en moes die Hebreeuse Ou Testament vir die Jode van Jesus se tyd in Aramees getolk word.

 

Dit is te betwyfel dat Moses die klassieke Hebreeus van die laaste Judese konings en die ballingskap in Babel sou gepraat het, wat in die grootste deel van die eerste vyf boeke en die res van die Ou Testament geskryf is. Na 40 jaar in die farao se paleis kon hy waarskynlik oud-Egipties praat. Na nog 40 jaar in Midian en getroud met Sippora het hy seker die Aramees van die Midianiete gepraat (hulle was afstammelinge van Abraham en Ketura se seun Midian Gen.25:1-2). Na die volgende 40 jaar saam met die Israeliete in die woestyn het hulle seker ‘n vorm van Aramees onder ou-Egiptiese invloed gepraat.

 

Skrywer: Prof Francis Malan

 




Johannes in die Nuwe Testament

Johannes in die Nuwe Testament – Francois Malan

Alicia vra:

By ‘n gebedsgroep het ons n studie gedoen oor Johannes die dissipel en Johannes die Doper. My vraag is: was daar 2 Johannesse of een.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die Nuwe Testament praat van vyf Johannesse: Johannes die Doper (seun van Sagaria en Elisabet), die dissipel Johannes (seun van Sebedeus), Johannes die pa van Petrus (Joh 1:43; 21:15-17), Markus se ander naam is Johannes (Hand. 12:12,25), ‘n vyfde Johannes, familielid van die hoëpriester (Hand 4:6).

 

1. Johannes die Doper, die seun van die priester Sagaria en sy vrou Elisabet (vgl. Lukas 1:5-25, 57-66), was die voorloper van Jesus, wat die weg vir Jesus voorberei het deur sy prediking van bekering en doop (Joh 1:6-8,15,19-28). Hy het Jesus aangewys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem  (Joh 1:29,36). Matteus 14:3-12 (Markus 6:14-29)  vertel dat Johannes die Doper deur Herodes doodgemaak is. Mt 14:12 sê dat Johannes die Doper se dissipels vir Jesus kom vertel het van Johannes se dood.

 

2. Volgens Matteus 4:21-22 (vgl. Mk 1:16-20, Lk 5:1-11) het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, as sy dissipels geroep. Volgens Mk 9:2-8 was Johannes, Jakobus en Petrus saam met Jesus op die berg van verheerliking (Mt 17:1-8; Lk 9:28-36). Volgens Mk 14:33 was hulle drie saam met Jesus toe Hy die nag waarin Hy verraai is, gaan bid het in Getsemane (Mt 26:36-46; Lk 22:39-46).

 

Die Evangelie volgens Johannes noem nooit die naam van die dissipel Johannes nie. In Joh 21:2 word egter gesê dat die seuns van Sebedeus saam met Petrus gaan visvang het in die See van Tiberias ná Jesus se opstanding, en dat Jesus daar aan hulle verskyn het. Die Johannes Evangelie praat van die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Jn 19:26) aan wie Hy aan die kruis die opdrag gegee het om sy moeder te versorg; 20:2-8 wat saam met Petrus gehardloop het na die graf nadat Jesus opgestaan het; 21:7 van die visvangs ná Jesus se opstanding, 21:20 verwys na die dissipel wat op Jesus se bors geleun het om te vra wie Hom sal verraai, en 21:24 sê: Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is).    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die oop grafte van die Heiliges

Die oop grafte van die Heiliges – Francois Malan

AnnaMaria vra:

In Matteus 27 staan van die geopende grafte en heiliges wat opgestaan het. Was hulle toe in ‘n fisiese liggaam en wat het hulle gedoen daarna? Wat het van hulle geword?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Matteus was nie geïnteresseerd in hierdie vrae nie, maar in die betekenis van die oop grafte, die opwekking van baie heiliges wat in Jerusalem begrawe was, en hulle verskyning in die stad nadat Jesus gesterf het en uit die dood opgewek is. Daarom kan ons ook nie presies weet wat daar gebeur het nie. Was hulle soos Lasarus vir wie Jesus uit die dood opgewek het vir wie die mense in Jerusalem kon sien en later weer gesterf het, of soos Jesus met ‘n verheerlikte onsterflike liggaam, wat vir veertig dae aan sy dissipels kon verskyn voor sy hemelvaart? Matteus is die enigste Bybelskrywer wat hierdie gebeure tydens die dood en opstanding van Jesus vertel. Soos Matteus telkens in sy Evangelie na die Ou Testament verwys of daarby aansluit, sluit hierdie berig waarskynlik aan by Esegiël 37:12-14 met God se belofte dat Hy die grafte sal oopmaak.

 

Soos die duisternis voor Jesus se dood  (Matteus 27:45), gee God tekens ná die dood van Jesus (Matteus 27:51-53). God skud die aarde met ‘n aardbewing; die voorhangsel skeur in twee en die rotse skeur oop – in Grieks word dieselfde woord gebruik vir die oopskeur van die voorhangsel en van die rotse.

 

Die voorhangsel het die Allerheiligste gebied in die tempel afgesper sodat niemand daar kon ingaan of daarin kyk nie – as simbool van God wat nie gesien kan word nie (vgl. Eks 33:20). Daar het die Hoëpriester eenmaal per jaar op die groot versoendag vir die sondes van die volk gaan versoening doen voor God. Maar die lewe en dood van Jesus aan die kruis wys vir ons die liefde van God (vgl. Jesus se woorde in Johannes 14:9: wie My sien, sien die Vader), en dit skeur die voorhangsel oop, wat God vir die mens verberg het. Elke mens kan nou met vrymoedigheid na God toe gaan in gebed – nie meer deur ‘n hoëpriester nie, maar deur geloof in Jesus, ons groot Hoëpriester (Hebreërs. 4:14-16).

 

God het die rotse geskeur sodat die grafte in die berg oopgegaan het as teken dat Jesus die dood oorwin het. Deur sy sterwe en opstanding het Jesus die krag van die dood vernietig het (vgl. 1 Korintiërs 15:54: die dood is vernietig, die oorwinning is behaal). Nou kan ons seker wees dat ons sal lewe omdat Jesus lewe. Jesus het in Johannes 11:25-26 gesê: Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.

 

Soos wat Jesus na sy opstanding aan die dissipels verskyn het, so was die gelowiges uit die ou verbond, wat opgestaan het, getuies aan baie mense in Jerusalem van Jesus se opstanding uit die dood. Soos Jesus saam met sy dissipels geëet en met hulle gepraat het, kon die mense wat opgestaan het waarskynlik ook met hulle mense in Jerusalem saam eet en praat. Maar meer as dit, word bespiegeling. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Labirint

Die Labirint – Kobus Kok

Jaco vra:

Die gebruik van labirinte het die afgelope paar jaar gewild geword. Hoe behoort ‘n Christen daaroor te dink? Het dit iets met die okkulte te make?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

 

Die Labirint het sy oorsprong in Griekse (heidense) mitologie uit Knossos (λαβύρινθος labyrinthos), maar daar blyk selfs ouer voorbeelde te wees in plekke soos Indië. Daar is baie antieke tekste wat ons van die heidense gebruike vertel (bv Plato in dialogue Euthydemus). In die oorspronklike Griekse mitologie uit Knossos, was die funksie van die Labirint, gebou/ontwerp deur Daedalus, om die half-mens half-bul Minotaur gevange te hou – die ongedierte wat uiteindelik deur die Atheense held Theseus, met behulp van Areadne doodgemaak is. Theseus kon uit die moeilike Labirint ontsnap met behulp van Areadne, wat ‘n toutjie gespan het waarmee eersgenoemde weer sy weg kon uitvind.  Daar is vandag baie voorbeelde van Labirinte in verskillende dele van die wêreld, en op kulturele artefakte soos Griekse muntstukke wat uit die tydperk 430 nC dateer. In die latere Romeinse heidense gelowe is dit aan die aanbidding van Zeus gekoppel (vgl. Ζεύς Λαβρυάνδις in Caria in Anatolia in Klein Asie/Turkye).

 

Dikwels het die Christene die beelde van die heidene oorgevat en “gekersten”. In Griekeland byvoorbeeld, soos by Delphi, het Christelike kerke die ou heidense tempels “omskep” in kerke, en dikwels sommer die simbole net so gevat en met nuwe Christelike betekenis gaan vul. Een so voorbeeld wat mens baie in Griekeland sien is die pou/phoenix. Vroeë Christelike skrywers soos Klement het selfs die beelde gebruik om Christelike geloofswaarhede uit te druk, alhoewel die beelde eintlik heidens van oorsprong was. Een van die oudste kerke in die wêreld, by name die Hagia Sophia in Istanbul (ou Konstantinopel) het ‘n hele aantal pilare wat oorspronklik uit die tempel van die heidense vrugbaarheidsgodin Artemis kom.

 

So ver ek weet is daar baie voorbeelde van Labarinte in Christelike kerke in die Renaissance tydperk, in veral die Franse kerke. Enkele voorbeelde uit die middeleeue (12-14de eeu) is gotiese katedrale van Chartres, Reims en Amiens in die noordelike dele van Frankryk.

 

Gevolgtrekking: Is dit reg of verkeerd om vandag Labirinte te gebruik in Christelike kerke? Soos genoem, is dit al vir eeue in kerke gebruik. Indien die wesenlike unieke aard van die Christusboodskap nie verlore gaan of vermeng met vreemde sieninge nie, is die Labirint nie verkeerd nie. Indien dit egter die unieke boodskap van die evangelie verdraai of op vreemde maniere vermeng word met heidense gebruike/perspektiewe is dit heeltemal verkeerd.

Leer meer oor die geskiedenis van Labirinte op die volgende webtuiste: http://en.wikipedia.org/wiki/Labyrinth  

Meegaande skets deur Jean Baptiste Rigaud, beeld die Chartes Katedraal se Labirint uit soos dit in 1750 daarna uitgesien het.

Leberate

Skrywer: Prof Kobus Kok