Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby?

Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby? – Kobus Kok

Kobus vra:

Kan iemand asb vir my Hebreërs 6 vers 6 verduidelik.

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hebreers 6:6 – As jy eers een keer afdwaal is dit verby?

Daar is sommige tekste in die Bybel wat baie gelowiges deurmekaar kan maak, en selfs kan laat twyfel. Soms word dit gebruik om ander mense mee te oordeel. Een so ‘n vers is Hebreërs 6:6 wat sê dat dit feitlik onmoontlik is vir mense wat afvallig geword het om weer terug te keer na God. Volgens Hebreërs gebeur daar twee dinge as iemand sou afdwaal:

  • Hulle kruisig Jesus weer ‘n keer, en maak ‘n bespotting van Jesus voor die ganse mensdom
  • Sulke mense is soos grond wat goeie reën/water ontvang het, maar dan dorings en dissels oplewer (Heb 6:8).

Om hierdie teksgedeelte te verstaan, moet ons ook die antieke skryfstyl en gebruik van sake soos hiperbole verduidelik. Ten einde hulle punt te maak, sou die Bybelse skrywers dikwels van oordrywing gebruik maak. So vertel een van die evangelies vir ons byvoorbeeld dat mens eerder jou oog moet uitsteek as dit jou laat sondig, of die hand wat verkeerde dinge doen, moet afkap. Uit die aard van die saak is dit hiperbolies gestel – met ander woorde, deur middel van oordrywing probeer die skrywer sy boodskap kommunikeer.

 

Dit is ook die geval in Heb 6:6. Ons maak dikwels foute, en draai dikwels weg van God. Maar dan weet ons ook dat God se genade ons dikwels weer terugroep tot gehoorsaamheid. Vat maar net vir Petrus wat vir Jesus koelbloedig verloën. Tog het hy tot insig en bekering gekom, en Jesus het hom die rots van die kerk gemaak.

 

Die punt van Hebreërs is dat ons alles in die stryd moet werp, om Paulus se woorde te gebruik, om goeie vrugte op te lewer. So sal ons bruikbare instrumente in God se hand wees (Heb 6:7). Die skrywer van Hebreërs roep ons op om te onthou dat ons geloof hoop inhou en dat ons moet volhard, selfs midde moeilike tye (6:11-12). 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Beeld van God in Jakobus

Beeld van God in Jakobus – Francois Malan

Andries vra:

Die frase, “mense wat as die beeld van God gemaak is” kom ook in Jakobus voor (Jak. 3:9). Ek sal graag wil hoor hoe U meen hierdie frase deur Jakobus verstaan word en wat die betekenis daarvan binne die konteks van Jakobus 3 is.

 

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Jakobus skryf waarskynlik aan Joodse-Christene wat verspreid oor die Griekssprekende wêreld woon (1:1) om aan hulle praktiese wysheid en leiding te gee om in die sondige wêreld en onder verdrukking te volhard in die lewenswandel van ‘n Christus-gelowige, as kinders van God, en nie die verkeerde praktyke van die heidense wêreld te volg nie.

 

Daar word op 14 gevaarpunte gewys, waarvan 3:1-12 handel oor die beheer van die tong omdat dit bepalend is vir jou eie lewe en vir die gemeenskap. Dit is ongerymd dat ‘helse’ impulse nog deurwerk in wat God se mense in gesprekke kwytraak. Die mag van die tong word vergelyk met ‘n skip se klein stuur wat die groot boot stuur – so is die woorde wat ‘n mens praat die rigting en koers wat jou lewe bepaal Die tong word ook vergelyk met ‘n klein vlammetjie wat ‘n bosbrand aansteek – so is die tong ‘n brandgevaar wat uit die hel aangesteek word. Daarom moet die tong onder beheer gekry en gehou word (vgl. die gebed in Ps 141:2 oor ‘n wag voor my mond; Efes 4:31).  

 

Vers 7 wys daarop dat die mens geskape is om beheer uit te oefen oor die diereryk (Gen.1:26), en daarom in staat behoort te wees om sy tong te beheer. Maar vers 8 wys daarop dat geen mens nog sy tong kon tem nie, omdat die mens gedryf word deur sy eie neiging en drang tot die bose. Die uitwerking van die bose tong is noodlottig. Dit is gevul met gif wat die dood meebring (Ps 140:4 in Rom 3:13-14 aangehaal). Ons woorde kan onheil, ongeluk, dood en verwoesting saai onder mense.

 

Vers 9 wys dat dié verskriklikheid in die kring van die gelowiges plaasvind: Met die mond loof ons die Here en Vader – in die gemeente se samekoms en in die alledaagse lewe loof ons tereg die Here Jesus en God die Vader. Maar direk daarna gebruik ons ons spraakvermoë om ‘n medemens te vloek – presies die teenoorgestelde van wat ons pas teenoor God gedoen het (vgl. Ps 62:5).

 

In die Griekse teks word gesê: ‘daarmee (met die tong) vloek ons die mense wat volgens die gelykenis van God gemaak is (NAV met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is). Daarmee sluit Jakobus aan by die Griekse vertaling van die Ou Testament wat deur die Griekssprekende Joodse-Christene as hulle Bybel gebruik is voordat daar nog enige boek van die Nuwe Testament geskryf is. Genesis 1:26 verwys na die beeld (Grieks: eikoon –volgens diebeeld/gelykenis; Hebreeus: tselem – volgens die beeld/afbeelding/skaduwee),en die gelykenis (Grieks: homoioosis volgens die ooreenkoms/gelykenis; Hebreeus: demut gelykernis/gestalte /ooreenkoms) van God. Dir beteken dat die mens in ‘n besondere verhouding tot God staan(vgl. Ps 8:6-9).  

 

Die rede waarom Jakobus die ‘gelykenis’ van God hier vir die medemens gebruik is om aan te dui dat God betrokke is, nie net wanneer die mens Hom bewustelik betrek en loof nie, maar ook wanneer iemand kwetsende woorde teen sy medemens gebruik, en  dink dat dit God nie raak nie. Wie ‘n mens se eer aantas, tas God self aan, want God het die mens aangestel as sy verteenwoordiger op aarde, wat moet heers oor die diereryk (Gen 1:28) en om die aarde te bewerk en op te pas (Gen 2:15). Elke mens is ‘n skepping van God (Ps 139:13-18; Joh 1:3) en Hy hou al wat lewe in stand (Job 12:9,10; Kol. 1:17).

 

Vers 10 vermaan die gelowiges om nie hulle tong vir goed en kwaad te gebruik nie. Die tong behoort gebruik te word om God en die medemens te loof, goed te praat oor God en sy mense en nie in woede of naywer jou medemens te begin vloek nie (vgl. Efes 4:29)..

 

Vers 11-12 gebruik die beelde van ‘n fontein wat slegs een soort water kan lewer, en vrugtebome wat aan hulle vrugte geken kan word (Mat 7:15-20). Wanneer jy jou medemens vloek is dit duidelik dat jou lof aan God net skyn is en nie uit jou hart kom nie (Mark. 7:20-21). In Matteus 12:33-37 waarsku Jesus juis dat ‘n mens op grond van sy woorde vrygespreek of veroordeel sal word op die oordeelsdag (vgl. Mat.5:21-22 hoe God waak oor die lewe van elke mens).

 

Skrywer: Prof francois Malan

 




Hoe vergewe God my sondes?

Hoe vergewe God my sondes? – Francois Malan

’n Leser vra:

Is dit verkeerd as diakens kollekteer by lidmate van ‘n gemeente? Tweedens hoe gou vergewe God ons sondes? My vrou glo vas dat jy ‘n sondaar gebore is en jy bly ‘n sondaar tot jy doodgaan: Daar was net een Christen op die aarde en dit was Jesus?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

1.   Is dit verkeerd as diakens kollekteer by lidmate van ‘n gemeente?

Dit is ‘n reëling van die gemeente. Die Bybel gee geen voorskrifte in die verband nie. Die diakens is volgens Handelinge 6:1 gekies omdat die Griekssprekende gelowiges gekla het dat hulle weduwees afgeskeep is met die daaglikse versorging. Toe Paulus vir die gemeente in Korinte ‘n reëling gegee het oor die insameling van die kollekte vir die armes in Jerusalem, het hy geskryf: Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie (1 Kor 16:2).

 

2.   Tweedens hoe gou vergewe God ons sondes?

Jesus het vir die sondes van die hele wêreld oor alle tye gesterf en die straf op die sonde gedra (vgl. Joh 1:29; Rom.5:18-19). Dit kon Hy doen omdat Hy God is. ‘n Gewone mens kan nie ons straf op die sonde namens ons dra nie, dit kan God alleen doen. Joh 3:16 sê: God  het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan  nie, maar die ewige lewe sal hê. Joh 3:36 verduidelik: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.            

 

Hoe gou? Jesus het in die bergrede geleer om tot Ons Vader te bid: vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree….As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle hemelse Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie (Mat. 6:12,14-15).  

 

3.    My vrou glo vas dat jy ‘n sondaar gebore is en jy bly ‘n sondaar tot jy doodgaan.

Volgens Rom. 5:12-21 is die ganse menslike geslag saam met Adam sondaars (vgl. v19), en almal aan God se oordeel en straf van die dood onderworpe. Maar almal wat aan Christus behoort, deur in Hom te glo (vgl. Rom 4:23-25), word vrygespreek, hulle verhouding tot God word reggestel, en hulle word deel van die ewige lewe (vgl. 5:21). As kinders van Adam is ons sondaars. As volgelinge van Christus is ons vrygespreekte sondaars.   

 

Maar dit vereis van ons om daagliks te reken dat ons aan Christus verbonde is, aan sy dood vir die sonde; daarom  moet ons ook vir die sonde dood wees, ‘nee’ sê vir versoekings en vir onsself. Jesus het opgestaan uit die dood en lewe vir God, so moet ons opstaan tot ‘n  nuwe lewe saam met Christus, om met sy liefde en sy krag, vir God en vir ander te lewe (vgl. Rom 6:1-14). Daarvoor het God self deur die Heilige Gees in ons kom woon, om ons daagliks te lei deur die woord van God, en vir ons te laat lewe uit die liefde van God vir ander (vgl. Rom 8:1-17).

 

1 Joh 1:8 sê ongeveer dieselfde: As ons beweer dat ons geen sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Vers 10 brei daarop uit: As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord  nie in ons nie. Verse 7 en 9 het die goeie nuus: As ons in die lig lewe soos Hy(God) in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde… Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

 

 

In Romeine 7 spook Paulus met dieselfde probleem: Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie; maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek (v19)…. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here (7:24-25). Ons grootste stryd is met onsself – ons lewe eintlik elkeen vir homself in plaas van vir God en vir ons medemens. In Filippense 2:3-11 sê Paulus: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus was. Hy het die heerlikheid van God gehad, maar het homself verneder deur mens te word, en vir ons ons aan ‘n kruis te kom sterf het. 2 Kor 3:18 sê dat dit juis die werk van die Heilige Gees in ons is, om ons al meer te verander om soos Christus te word. Jesus het gesê ons, as kinders van God, moet volmaak wees soos God, ons Vader, deur ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48).

 

 

Terwyl ons reeds kinders van God is wat deel het aan die ewige lewe, bly ons sondige mense wat daagliks van God afhanklik is om deur sy genade al meer soos Christus te word, deur God lief te hê met ons hele lewe, en ons medemens soos ons self (Matt 22:37-40; Joh.13:33-34; 1 Kor 13; 1 Joh4:7-21). Hebreërs 5:8 sê dat Jesus, hoewel Hy die Seun van God was en sonder sonde (vgl. Hebr 4:15), het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. So moet ons, sondaars, gehoorsaamheid leer, en gewillig wees om saam met Jesus te ly en deel te wees van sy heerlikheid (Rom.8:17). 

           

4.    Daar was net een Christen op die aarde en dit was Jesus

Christene is gelowige volgelinge van Christus (Hand 11:26), in wie die Gees van God kom woon het om ons te oortuig van ons sonde, ons te lei tot geloof in Christus om die verhouding tussen ons en God reg te maak, en van ons kinders van God te maak (Joh 16:8-9; Rom 8:15).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Ongesuurde brood in antieke Israel

Ongesuurde brood in antieke Israel – Coen Slabber

Vraag:

Susan Barnard vra:

Ek wil graag ‘n brood resep hê wat hulle in die Bybel se tyd gebruik het vir ongesuurde brood. Kan julle my dalk help asseblief.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

Die stapelvoedsel van die ou Israeliete was brood. Dit was so ‘n belangrike deel van elke maaltyd dat die Hebreeuse woord vir brood ook na voedsel in die algemeen kan verwys. Om die belang van brood verder te beklemtoon, het Bybelse Hebreeus ten minste twaalf verskillende woorde vir brood. Brood is by feitlik elke maaltyd geëet en het in tussen 50 en 70% van die gewone mense se kalorie inname  voorsien.

 

Die Israeliete het veral koring, gars en soms sorghum verbou. Dit is gewoonlik in die vorm van ‘n platbrood of roosterkoeke gemaak. Fyn gemaalde meel was ‘n luukse wat net die rykes kon bekostig. Gars was die gewildste graansoort in die antieke Midde-Ooste. Gars word vroeër as koring ryp en is ook meer bestand teen droogtetoestande. Ons lees dat Jesus die seuntjie se vyf garsbroodjies vermeerder het om 5 000 mans en hulle gesinne te voed (Johannes 6:9 – 13).

 

Die hele proses van brood maak, is begin deur die graan te dors. Die primitiefste manier was om die are met die hand uit te vryf – iets wat Jesus se dissipels gedoen het (Lukas 6:1). Later is die gerwe met stokke geslaan of osse is oor die gerwe gejaag om die korrels van die kaf te skei.

 

Daarna is die graangewas gemaal.’n Harde klip is gebruik om die koring op die meulsteen te maal. Later is ‘n stamper en vysel gebruik.  Hier is ‘n voorbeeld van so ‘n meulsteen.

 

 brood

 

Hierdie was ‘n moeilike en tydrowende proses. Elke huis het sy eie graan gestoor. Dit word bereken dat omtrent drie uur elke dag nodig was om genoeg meel vir ‘n gesin van vyf  te maal. Na die meel verkry is, is dit met water gemeng en geknie in ‘n groot bak. Gewoonlik is suurdeeg gebruik. Die suurdeeg is verkry deur  ‘n klein deeltjie van die deeg wat vir die vorige baksel gebruik is, te hou.

 

Hierdie deeg is op verskillende maniere gebak. Aanvanklik is die deeg direk op warm klippe geplaas. Later is ‘n bakpan of bakplaat gemaak van klei of yster gebruik (Levitikus 7:9).

 

Die eindresultaat van al hierdie metodes was dun brode. Daarom die gebruik om brood te breek en nie te sny nie. Hierdie brood is ook gebruik om in souse te doop. Soms is die brood in ‘n wynsous gedoop (Rut 2:14); soms is dit in olyfolie gedoop.  Brood is soms verryk deur  boontjies, lensies, sorghum en spelt by te voeg (Esegiël 4:9).

 

Wat dan nou van ongesuurde brood? Ons lees van die gebruik van ongesuurde brood by die instelling van die paasfees (Eksodus 12). Reeds op die eerste dag van die fees moes alle suurdeeg uit die huis verwyder word. Vir sewe dae lank kon net ongesuurde brood geëet word. Hierdie was ‘n opdrag van God en indien iemand dit nie gehoorsaam nie, moes hy van Israel afgesny word. Die eet van ongesuurde brood hang dikwels saam met Joodse godsdiensfeeste.

 

Hoekom ongesuurde brood? In die Bybel word suurdeeg gewoonlik met die bose verbind. Die gisting wat plaasvind simboliseer verrotting of ontbinding. Jesus waarsku sy dissipels: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Matteus 16:6). Paulus gebruik ook die beeld van suurdeeg in ‘n negatiewe betekenis: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg dat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees … Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (1 Korintiërs 5:6 – 8). Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie reël. Jesus vertel ‘n gelykenis en sê dat die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was (Matteus 13:33).

 

Ongelukkig kon ek geen resep kry nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber