Lukas 14:26 – 33

Lukas 14:26 – 33 – Francois Malan

Subeth vra:

Lukas 14: 26 – 33. Ek het ‘n jong seun van 20, my niggie se seun) wat nou skielik sê hy is ‘n ateïs. My Bybelkennis is nou nie van so ‘n aard dat ek vir hom Bybels korrek Lukas 14: 26 – 33 kan verduidelik nie. Hy peper my behoorlik met vrae, so ek is nou so dankbaar vir hierdie webtuiste. Kan u my asb van ‘n antwoord voorsien. Ek het gesê ek sal terugkom na hom toe oor die naweek, maar sal graag so gou moontlik wil terugvoer gee. Dit gaan maar beroerd in daardie huishouding. Sy pa het selfmoord gepleeg, hy knou sy sussie vreeslik af. Daarom lê hy baie swaar op my hart. Groete in Jesus.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

Die Griekse werkwoord miseoo wat in Lukas 14:26 gebruik word, beteken ‘om te haat’. Die Semitiese  en Joodse denke word uitgedruk in uiterstes. Kyk bv. na Genesis 29:30-31 wat letterlik sê: Jakob het vir Ragel meer lief gehad as vir Lea (v.30), en in v31 word gesê God sien dat Lea gehaat word. ‘Haat’ word gebruik vir ‘minder liefhê’. In Deuteronomium 21:15-17 staan ook letterlik: as ‘n man twee vrouens het en die een liefhet en die ander een haat (NAV vertaal: een wat hy liefhet en een van wie hy nie hou nie), wat eintlik beteken dat hy die een meer liefhet as die ander een vir wie hy minder lief is.

 

Dit beteken dat die volgelinge van Jesus wat hulle familie moet haat, beteken dat die familie tweede plek moet inneem (NAV vertaal ‘haat’ in Lk 14:26 met: ‘afstand doen’). Familiebande moet nie kan inmeng met die absolute toewyding aan Jesus die Seun van God nie. Matteus 10:37 het die woord van Jesus weergegee met ‘liewer het’

 

In Lukas 14:27 gebruik Jesus kruisiging (die Romeine se metode om politieke opstandelinge dood te maak) as ‘n simbool van die uiterste foltering en vernedering waarvoor volgelinge van Jesus gereed moet wees om die prys te betaal vir die feit dat hulle vir Jesus kies, selfs as dit jou lewe sou kos.

 

Die twee gelykenisse in Lukas 14:28-32 van die bouer en die koning was bedoel om mense wat vir Jesus wil volg te waarsku, dat om ‘n volgeling van Jesus te word, is die belangrikste besluit van jou lewe, en moet goed oordink word soos ‘n goeie besigheidsman of politikus. Niemand kan deur ‘n vlaag van emosie in die koninkryk van God ingedryf word nie; jy moet eers goed rekenskap gee van die prys van dissipelskap. Jesus wil hê dat iemand wat op die pad van navolging begin, daarmee end-uit sal volhou. Dit beteken ook dat jy bereid sal wees om jou te onderwerp aan jou teenstander, deur jou selfhandhawing prys te gee, en jou aan Jesus oor te gee om onvoorwaardelik vrede te maak. 

 

Lk 14:33 sê: jy moet selfs bereid wees om van jou rykdom en besittings afstand te doen. Geen ander band mag jou bind nie as net die band met Jesus nie. Daarmee word nie gesê jy mag nie besittings hê nie, maar dat jy vry moet bly om Jesus te gehoorsaam, ook met die verantwoordelike spandering van jou besittings.

 

Die keuse vir Jesus is die heel belangrikste, want Hy is God (vgl. Johannes 1:1-3) wat sy lewe vir ons kom aflê het aan die kruis, om vir al ons sonde te betaal, en ons verhouding met God reg te maak vir nou en tot in die ewigheid, sodat ons as kinders van God mag lewe, wat doen wat ons hemelse Vader sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan.

 




Met die helm gebore

Met die helm gebore – Francois Malan

Frikkie vra:

Wat beteken dit om met die helm gebore te word? Bestaan dit werklik? Is dit n gawe van God of nie? Hoekom kan hulle “geeste sien”?. Hoe hanteer jy die mense en wat sê jy vir hulle?

Hulle praat van slegte geeste en goeie geeste. Slegte geeste is net uit om moeilikheid te maak terwyl die goeie geeste daar is om wat hulle noem rus te vind? Hulle “die wat met die helm gebore is” reken hulle praat met die mense, verduidelik aan hulle wat ook al die omstandighede is en dan volgens hulle vind die geeste dan rus. Kan dit so wees? Verbied God nie dan sulke goed nie en hoekom sal hulle dan die geeste help/gawe?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

HAT se definisie:

Helm is ‘n stuk van die eiervlies wat die kind se kop by geboorte soms bedek.Met die helm gebore te wees:

  • (a) die vermoë te hê om dinge soos voorbodes, naderende ontheil, ens. te sien;
  • (b) deur die geluk begunstig te wees;
  • (c) nie heeltemal normaal te wees nie.

 

Die drie groepe hoef nie noodwendig met ‘n stuk van die eiervlies oor die kop gebore te gewees het nie. Dit is eintlik ‘n spreekwoord wat in die spreektaal op verskillende mense toegepas word om ‘n naam te gee vir die ongewone eienskappe van die die drie groepe persone – om dit mee aan te dui.

 

(a)   Die mense wat die vermoë het om dinge soos voorbodes en naderende onheil te sien, loop nie daarmee te koop nie, en hulle dra ‘n las om vooraf te weet dat ‘n ongeluk of iets dergeliks iemand gaan oorkom, sonder om self iets daaraan te kan doen om dit te verhoed. Maar party mense sien voorbodes in dinge wat vir hulle onverklaarbaar lyk.

(b)   Die mense wat deur die Here begunstig is met onverwagte geluk, het ‘n groot verantwoordelikheid om dankbaar teenoor die Here te wees en so daarmee om te gaan.

(c)   Mense wat nie heeltemal normaal is nie, het ons simpatie en hulp nodig.

 

Maar die mense waarvan die vraesteller praat, is in ‘n ander kategorie, wat nie as ‘met die helm gebore’ geklassifiseer kan word nie. 

 

Die Bybel praat baie oor engele en duiwels, van goeie en bose geeste. Van engele wat in diens staan van God om sy wil bekend te maak en uit te voer: vgl. bv. Ps 91:11 om jou te beskerm; Ps 103:20 magtige engele wat die opdragte van die Here uitvoer en sy bevele gehoorsaam; Mat.13:49 by die voleinding van die wêreld sal die engele uitgaan en die slegtes van die goeies skei; 

 

Van ‘n bose gees wat oor Saul gekom het, word bv gepraat in 1 Sam.19:9; van Jesus wat bose geeste uitgewerp het uit die mense wat in die mag van duiwels was (Mat.8:16); van die man met ‘n bose gees wat na Jesus toe gekom het en genees is (Mark. 5:2); van bose geeste wat uit mense van Samaria uitgegaan het wat na Filippus se prediking oor Christus geluister het (Hand. 8:7,8); van Paulus wat in die Naam van Jesus Christus vir die waarsêersgees in ‘n slavin beveel het om uit haar uit te gaan (Hand 16:18); Paulus verwys na die gelowiges in Efese wat hulle voor hulle bekering laat lei het deur die vors van die onsigbare bose magte, wat nou werk in die mense wat aan God ongehoorsaam is (Efes. 2:2) en hy waarsku die gemeente dat ons stryd is teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel; van die duiwel en sy engele word gesê dat God vir hulle ‘n ewige vuur berei (Mat. 25:41; Openb.20:10).

 

Die Bybel waarsku teen ‘n gespeel met bose geeste en waarsêery (Lev. 19:31; Deutr.18:10-14; Jes.8:19).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kan Christene Sielkundiges toe gaan of is die Bybel die antwoord?

Kan Christene Sielkundiges toe gaan of is die Bybel die antwoord? – Kobus Kok

Marius vra:

Ek wil graag weet of ‘n Christen na n sielkundige moet gaan vir hulp met sy siel: het Jesus nie Homself ,Sy kerk ,woord en dienaars asook ander gelowiges gegee om te help met die stryd teen sonde nie?Jesus sê ons moet na Hom kom en Hy sal ons ondersoek en die weg wys,of het sielkundiges iets meer om ons te bied met terapie en medikasie.

Wat my deurmekaar maak is dat dominees gemeentelede na sielkundiges stuur asof hulle die eksperte kennis van die siel het,sielkundiges het oor die 500 tipes psigoterapeutiese behandeling ,watter een is reg ? Wat is dan die Heilige Gees se werk? Is sielkunde dan nie eintlik n ander geloof nie. Het Jesus sielkundiges aangestel om Freud, Maslow, Skinner, Rodgers ens se lewensfilosofieë te vermeng met Sy woord. Van hierdie mense het nie by God raad gesoek nie en was nie Christene nie? Ek wil so graag weet wat julle sê maar kry nooit ‘n antwoord oor hierdie kwessie nie.

 

Antwoord:

Prof Kobus Kok antwoord:

Navorsing toon aan dat ons stresvolle lewenswyse vandag negatiewe hormone soos Adrenalien en kortisol vrylik in ons are laat vloei. Indien so ʼn stresvolle lewensstyl oor ʼn lang tyd voorkom, kan dit dikwels tot depressie en ander sielkundige asook fisiese probleme lei. Miljoene mense in ons land gebruik antidepressante en baie sien sielkundiges. Depressie is die siekte van ons tyd.

 

Die vraag is of Christene ook depressie medikasie mag gebruik en sielkundiges kan sien, of is die Bybel genoeg? Is sielkunde nie maar soos ʼn ander geloof nie, vra een van die lesers.

 

Die antwoord is dat Christene uit die aard van die saak nie hulle koppe net vol moet maak van Freud en ander sielkundiges se perspektiewe (wat nie noodwendig gelowiges was nie) nie, maar dat hulle deurweek sal wees met God se Woord. Maar, die sielkundige dissipline is gebaseer op wetenskaplike ondersoek. Dit is nie sommer net een of ander geloof nie. As Christen kombineer mens die inligting en perspektiewe van die Christendom met die insigte van die sielkunde. Daar is ook baie Christen sielkundiges wat bewus is van die spanning tussen die perspektiewe van sielkunde en die van die Christendom, en wat doelbewus poog om die tegnieke en insigte van die sielkunde binne die raamwerk van Christelike waardes te interpreteer. Een so ʼn voorbeeld is dat sielkunde dikwels die primêre fokus op die individu plaas, maar dat die Christendom die fokus primêr op God plaas.

 

In kort: God gebruik die insigte van die mediese dissipline in die genesing van sy kinders. Daarom mag Christene  (sielkundige) medikasie gebruik en ook sielkundiges raadpleeg. Dit is raadsaam om moeite te doen om ʼn Christen sielkundige te gaan sien. Dit is mense wat jare lank probeer om die sielkundige perspektiewe op verantwoordelike en gelowige wyse met die kern Christelike waardes te integreer. Een so ʼn voorbeeld is ʼn vriendin van my vrou wat ʼn getroue Christen is, en nadat sy medies studeer het, verder in psigiatrie gespesialiseer het. Sy is ʼn voorbeeld van ʼn psigiater wat haar werk as sielkundige spesialis vanuit ʼn Christelike perspektief doen. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Breek die spiraal van vernietiging

Breek die spiraal van vernietiging – Kobus Kok

Vraag:

My naam is …, ek is nie ‘n lid van die Ou Apostel Kerk nie, maar my Ma is. My Ma se suster se man is ‘n “Priester” in die kerk. Hy sit elke Sondag met sy vroom gesig in die kerk, dan is hy die Goddelikheid self, maar as hy daar uitstap, verander hy in ‘n duiwel. Hy sê en skree vir ander wat hy wil en almal moet stilbly, want hy is mos “God”. Almal bly maar stil en so kom hy weg met alles, niemand sê iets terug nie want hulle is almal bang vir hom. Hy is ook nie bang vir iemand nie, nie eens die “Oudste” of die “Apostel” of wie ook al nie.

Hy lieg soos ‘n tandetrekker en glo homself ook. Hy vertel vir almal my Ma en haar suster is “lesbene” en my ma se man, nou oorlede, is ‘n “haas”. Ons het Saterdag vir ‘n rukkie gaan kuier, en ons was nie mooi in die huis nie, toe maak hy groot moeilikheid, so erg dat ek my Ma gesê het ons ry, want ek kuier nie waar ek nie welkom is nie, toe maak hy my die sondebok. Ek het hom in sy gesig gesê “jy is flippen ongeskik, en jy praat nie so met my ma of met my nie”, in die kar geklim en gery, onder ‘n boom gaan sit om van die ergste skok en ongeloof oor sy gedrag te kom, my selfoon gevat en in ‘n sms hom vertel dat die liewe Vader ‘n wit vel op hom gemors het, my tuinjong is beter opgevoed as hy, hy is nie God nie, ek is nie bang vir hom nie en hy moet ophou lieg, hy glo homself al. Omdat my Oupa en Ouma my altyd kom haal het by my ma-hulle toe ek klein was en bietjie bederf het, hulle mag nie sy kinders opgetel het of met hulle gespeel het nie, het hy nog nooit tyd gehad vir my nie. Hy het geweet ons gaan daarheen en het vir my gewag, sy dinge mooi agtermekaar gekry en presies geweet wat hy gaan doen en sê. Dit eers daar gelaat, die storie is nog baie lank. Priesters, Oudstes en Apostels wat hom ken, weet hy is so, maar almal los hom dat hy maar so aangaan, hy kom weg met moord en niemand doen iets daaromtrent nie. My tannie sê reguit sy wil nie meer lewe nie, want waarvoor lewe sy? Nadat my ma se man in Aug 2011 oorlede is, sien die twee sussies mekaar nie baie nie, ek probeer my ma elke maand na haar suster toe vat. As ons daar kom en sy gee vir ons tee en iets saam met die tee, is daar altyd stories van sy gee vir ons maar as sy familie kom kuier maak sy niks ens. Sy mense is alles, en ons die “gemors”, dit gaan al die jare so, hy is beter as ons en ons is benede sy stand. Hy ly aan vervolgingswaansin, haal altyd ou koeie uit die sloot en as hy sien hy gaan verloor, ontgeld my Oupa, Ouma en Pa dit. Hulle is lankal al dood, hulle kan hulleself nie meer verdedig nie. En as hy nie sy sin kry nie, klink dit soos ‘n hond wat huil as hy praat. My tannie het hulle Oudste of wie hy ook al is, gebel en dié het later daarheen gegaan, maar toe kom die ouman weer met ander liegstories vorendag. Die man het gesê hy sal by ons ook hoor wat gebeur het, het een keer geskakel en die foon doodgedruk voordat ons kon antwoord, nog nie weer gebel nie en vir my tannie gesê hy het verskeie kere al probeer bel maar ons is nie beskikbaar nie. Kry ek vanoggend weer sms’e van my niggie af oor wat haar pa vir my wil se. Die ding kan nie net so gelos word nie, hy kan nie elke keer met sulke dinge wegkom en almal laat God’s water oor God’s akker loop nie, ek het nou genoeg gehad. As ek die sondebok was, sou ek dit daar laat, maar hy het vir my Ma en my geskree, en jy skree nie vir my Ma waar ek by is nie, ook nie vir my nie. Hierdie ding gaan nou al vir te veel jare aan om dit net daar te laat. Daar moet nou iets aan gedoen word, want my Tannie ly daaronder, hy kry lekker en ander kry seer. Ek is nou ‘n uitgegroeide, ou getroude vrou, en lekker keelvol vir sy nonsens. Nou hoor ek uit ander bronne dat ek “nooit” weer met hom mag praat of naby hom mag kom of hom bel of sms nie. Ek het hom nog net een keer in my lewe ge-sms en dis toe ek hom vertel het my tuinjong is beter opgevoed as hy. Hoe moet ek nou weer my ma en haar suster mekaar laat sien? Hy het nou gekry wat hy al die jare wou hê, om hulle uitmekaar te dryf. My tannie mag ook nie eens vir haar broer wat naby hulle bly gaan kuier nie, so sy sien hom ook nooit. Ons en sy is nie kwaad vir mekaar nie. Hy maak nou haar lewe hel. En sy dogter is nou ook posbode, alles wat hy vir my wil sê kom nou deur haar in sms’e. Hy is te geel om dit vir myself te sê want hy sien hy het nou groot moeilikheid gemaak. Dit spyt my om die saak op so ‘n manier te probeer hanteer, maar ons weet regtig nie meer wat om te doen nie. Hopelik is daar iemand wat ons met raad kan bedien en kan help.

 

[Daar is sekere stellings in hierdie brief wat baie skerp is. Miskien moes ons dit uitgehaal het, maar ons het gevoel dit sou die erns van die situasie afgewater het. Die antwoord wat ons gee, verwys na die algemene hanteringswyse vit vernietigende verhoudings. Dit verwys nie spesifiek na die Ou Apostel Kerk nie, maar na alle omstandighede waar verhoudings troebel is – Coen Slabber]

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Dit is baie belangrik dat mens in jou verhoudings die spiraal van vernietiging en afbrekende verhoudings verbreek. Indien mens dit nie doen nie, versuur dit jou lewe, en bring dit bitterheid. Sommige wonde word so diep dat dit baie moeilik genees. Wat dit dikwels nog moeiliker maak is as een van die partye nie bereid is om die spiraal te verbreek nie. In die brief lyk dit vir my of daar van albei kante af hout op die vuur gegooi word en dat die spiraal van seer nie vinnig gaan ophou indien iemand nie drasties besluit om dit te doen nie. Dit gaan van iemand baie moed en deursettingsvermoë vra. Die vraag is wie in hierdie proses die meeste verlies gaan ervaar as gevolg van die konflik. Ter wille van daardie persoon moet die twee partye wat konflik het, besluit om ter wille van die persoon in die middel, ‘n weg te vind. Dit is miskien die grootste les wat Jesus ons kom leer het. Hy het kom wys dat mense wel die spiraal van seer kan breek.

 

Hier is ‘n paar wenke wat julle kan help om dit te doen:

 

  1. Identifiseer die noodsaaklikheid van rekonsiliasie: Professors in veranderingsbestuur aan groot Universiteite soos Harvard toon aan dat indien daar nie ‘n behoefte of noodsaak is vir verandering in die bose spiraal nie, gaan daar geen drastiese bewegingsenergie in daardie rigting plaasvind nie. Die belangrikste is dus om op ʼn punt te kom dat albei partye besef dat die konflik meer negatiewe gevolge het as positiewe gevolge.
  2. Saam groepeer:
  3. Strategiese plan: If you fail to plan, you plan to fail. Dit gaan daaroor dat mens beplan hoe mens die krisis gaan bestuur en mekaar verantwoordelik hou vir optrede.
  4. Deursigtige evaluering: Verandering kan net gebeur indien planne of doelwitte bereik word en mens dit deursigtig kan evalueer en doelwitte kan bereik.
  5. Aanpassing: Sommige planne werk nie altyd nie. Die gloeilamp is nie woeps-waps ontdek nie. Die eindproduk was ʼn proses van probeer, foute maak, korrigeer en weer probeer.

 

As Christene, en mense wat lief is vir iemand/mense wat tussen konflikterende partye staan, is dit baie belangrik dat julle die saak aanspreek en iets drasties aan die situasie doen om die spiraal van negatiwiteit te breek, of ten minste op ʼn punt te kom dat ʼn werkbare of funksionele verhouding tussen julle ontstaan. Verder moet ons in ag neem dat die Bybel ook nie rekonsiliasie ter wille van rekonsiliasie voorstaan nie. Dikwels sê die Nuwe Testament dat die Christen homself kan onttrek van mense wat koelbloedig aanhou sondig. Die Nuwe Testament leer ons ook die waarde van grense. Wysheid is nodig om te bepaal wanneer die grense van Matteus 18:22 intree. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok