Ouderdom van die aarde – Vraag

Ouderdom van die aarde – Francois Malan

Jan vra:

My vraag: Volgens Die Bybel se datums en inligting, is Adam deur God geskape 4004 jaar voor Christus, maar Die Bybel in Praktyk (CUM) noem in hul kronologiese geskiedenisbeeld dat Jerigo reeds 6000 vC bewoon was? Albei kan tog nie waar wees nie?

 

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:
Die Bybel gee nie datums oor die hele geskiedenis van Israel en die voorgeskiedenis voor Abraham aan nie, maar jaartalle van persone se lewe om daarmee ‘n boodskap oor God se bemoeienis met elkeen van hulle oor te dra. Nêrens word gesê dat Adam 4004 v.C. geskape is nie. Die Bybelskrywers uit die tyd van Salomo, en later tydens die ballingskap in Babilon en daarna het gebruik gemaak van mondelinge oorlewerings, ou geskrifte, geslagslyste, ens. om God se handelinge met Israel te boek te stel.

Die Bybel is nie bedoel as ‘n handboek vir die wetenskap nie, ook nie vir die geskiedeniswetenskap nie; maar om ons van God te leer, hoe Hy met sy skepping en sy mense deur die eeue gewerk het, hoe hulle daarop gereageer het, en hoe Hy hulle na Hom toe teruggebring het, en nog steeds terugbring, om Hom te ken, om saam met Hom en vir Hom te lewe in die wêreld wat Hy vir ons geskep het, soos Hy ons bedoel het.

 

                Wie egter uit die Bybel bv. ‘n volledige geskiedenis van Israel, of ‘n biografie van Jesus wil aflei, en daaruit ‘n datum van Adam tot Christus wil bereken, word telkens teleurgestel. Daar is leemtes wat nie met gissings aangevul kan word nie, daar is teenstrydighede wat nie opgelos kan word nie. Die Ou Testament is nie ‘n bron waaruit die geskiedenis van Israel as volk en van hulle godsdiens beskryf kan word volgens die vereistes van geskiedskrywing nie, maar is die bron vir die geskiedenis van God se openbaring van sy pad met sy volk Israel. Die Evangelies is ook nie ‘n bron vir ‘n lewensbeskrywing van Jesus nie, maar ‘n getuienis oor sy persoon en werk, wat in die res van die Nuwe Testament toegepas word op die lewe van sy nuwe volk, naamlik sy kerk. Baronius het lank gelede al gesê: die Skrif sê nie hoe dit in die hemel gaan nie, maar hoe ons na die hemel toe gaan. Die Bybel is nie ‘n handboek vir die wetenskap nie, maar vir die wetenskaplikes van hoe om God te dien in die beoefening van hulle wetenskap. Dit gaan in die Skrif wel oor historiese gebeure in die geskiedenis van mense en nasies, maar die fokus is op hulle gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God. 

 

Die wetenskap is egter deel van God se opdrag aan ons, dat ons sy skepping sal navors (ook die mens as deel van die skepping, en die geskiedenis van die mensheid en sy kultuur) en daaruit die grootsheid van God en sy werke beter leer ken, hoe die wêreld wat God geskep het lyk en werk, en hoe Hy die wêreld onderhou en daaroor regeer; en om die kennis aan te wend om God en mekaar te dien (vgl. Romeine 1:20 ‘van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.’). Daarom is die opdrag in Genesis 1:28 ‘bewoon en bewerk die aarde’, Genesis 2:15 sê: ‘Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas’, Genesis 2:19-20 vertel dat die mens name gee aan die skepsels as middel om die veelheid van verskynsels te leer ken en te beheers (1:28). Jesus sê die grootste gebod in die wet is: ‘Jy moet die Here jou God liefhê…ook met jou hele verstand’ wat jy moet inspan om God daarmee te dien, en om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ (Matteus 22:37b; 39b).

               

In 1952-58 het ‘n span van die Britse Skool van Argeologie onder leiding van Kathleen Kenyon die 65 voet hoë heuwel, Tell es-Sultan, buite die huidige Jerigo opgegrawe tot op die rotsbodem. Aan die voet van die heuwel is ‘n fontein, die huidige oase Eriha, wat afloop na die Jordaanrivier toe. Die fontein het die eerste bewoners van Jerigo rondom die jare 8,000 v.C hierheen gelok. Verbrande hout van ‘n soort tempeltjie wat op die rotsbedding gebou is het ‘n koolstof-14 datum van ongeveer 7,800 v.C getoets.  Halfmaanvormige vuurklip gereedskap en been harpoene verbind hulle aan die gereedskap wat ook uit die ongeveer 8,000 v.C. in 1924-1934 opgegrawe is in die grotte langs die rivierloop Wadi el-Natuf naby berg Karmel.

 

Teen 7,000 v.C. is hier ‘n groot stad van 7.8 akker gebou met ‘n muur wat in een seksie tans nog tot 17 voet hoog staan rondom die stad met ronde huise. Aan die westekant was ‘n toring, wat 25 voet in deursnee is en tans nog 23 voet hoog staan, met trappe wat van die stad af na die toring toe lei. Houtskool planke van ‘n huis in hierdie stad het ‘n koolstof-14 datum van ongeveer 6,850 v.C. getoets.

 

Die koolstof-14 toets werk so: alle lewende organismes neem deurentyd koolstof uit die atmosfeer op, gelyke dele gewone koolstof met 12 atoom protons en radio-aktiewe koolstof met 14 protons. Wanneer die organisme sterf word geen verdere koolstof opgeneem nie en die radio-aktiewe koolstof-14 in die organisme neem geleidelik af. Na 5,600 jaar is die helfte daarvan oor, na nog 5,600 jaar die helfte van die helfte, ens. So kan bv. die ouderdom van hout of bene bepaal word deur die verhouding tussen die C-12 en C14 in monster van die hout of houtskool of bene wat opgegrawe word te bepaal.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Werk vir nie-Christene: Is dit verkeerd?

Werk vir nie-Christene: Is dit verkeerd? – Kobus Kok

Elsa vra:

Is dit verkeerd vir ‘n Christen om te werk (en salaris te kry) vir iemand van ‘n ander geloof, byv. Moslem,Hindoe,ens, of selfs ‘n ateïs?

 

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Dit is nie verkeerd om te werk vir iemand wat nie ‘n Christen is nie. Inteendeel, die eerste Christene was omring met ‘n wêreld wat vol was van mense wat ander gelowige perspektiewe gehandhaaf het. Dit is die primêre sendingveld van die Christen.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




God haat die sonde

God haat die sonde – Francois Malan

Loraine vra:

Kan julle asb vir my die skrifgedeelte stuur waar daar staan dat God die sonde haat, maar het die sondaar lief.

 

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Nee, daar is nie so ‘n Skrifgedeelte nie. Maar die hele Bybel is vol van God wat die sonde haat, vgl. bv. Hebr. 1:9 ‘U het die reg lief en U haat die onreg’, wat ‘n aanhaling is uit Psalm 45:8.

 

En dat God die sondaars liefhet, spreek uit baie Skrifgedeeltes, maar nie sonder ‘n voorwaarde daarby nie, nl. om te glo in Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:29)

:

            Romeine 5:8: ‘Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

 

Johannes 3:16: ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.’

 

Maar vir dié wat nie glo nie sê Johannes 3:36: ‘Wie in die Seun glo, het die ewige lewe;    wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.’ 

 

Matteus 5:43-48: ‘Julle moet julle vyande liefhê…sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié  wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen…Wees julle dan volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is.’

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Tien Gebooie as hoofwet

Die Tien Gebooie as hoofwet – Francois Malan

Jan Smith vra:

Die tien gebooie blyk vir my die “Hoofwet” te wees terwyl die ander by-wette en/of regulasies is wat die dag tot dag gedrag en lewenswandel van Israel gereël het. Ek verwys hier na die seremoniële wette, die morele wette en juridiese wette soos mens dit kry in Eksodus en Levitikus  —-  of vorm hulle almal saam die Wet van Here?

 

Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet tot niet te maak nie maar om dit te vervul. Het Hy nou hier na die Tien Gebooie verwys of was dit die totaal wat ook die by-wette en  saamgestelde wette insluit. Nou was daar glo 692 (?) bykomende oorlewerings “wette” wat deur die leiers van Israel bygevoeg was.

 

In sommige kerke word die Tien Gebooie nog elke Sondag gelees maar daar is niks melding van die by-klousules en regulasies nie. Baie gelowiges voel erg oor die wet en daar is aanbieders van programme wat CD na CD dorp na dorp stad na stad vrystel/besoek om die reg van die Sabbat heringestel te kry.

 

Galasiërs handel oor die wet en hy sê: Die wet is onmagtig om te red maar dit lei ons na Christus.

Niemand word deur die wet by God geregverdig nie. Die wet was ‘n Tugmeester na God toe totdat die geloof gekom het om ons los te koop van die vloek van die kruis. Besnydenis of onbesnydenis het geen waarde by God nie. Slegs die geloof soos Abraham wat in God geglo het en die is hom tot geregtigheid gereken. Die wat besny moet die wet ten volle hou. Breek jy een breek jy almal.

 

Vrae: Is die Tien Gebooie dus die Hoofwet by die koms van Christus toe Hy dit kom vervul het?

Hoekom wil sekere Skrifuitlêers  aandui dat die wet steeds geldig is en letter vir letter van toepassing is?

Is dit korrek dat Christus die wet gewysig het om te lees: “Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself.

Indien die voorgaande waar is beteken dit, myns insiens, dat daar ‘n vloek oor die onderhawige gemeente uitgespreek word met die lees van die wet – omdat geen mens dit wel kan onderhou nie?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Daar is drie gebruike van die wet: (i) daaruit leer ek deur my hele lewe my sonde en ellende beter ken (Romeine 7:7), en dit dryf my tot Christus en sy genade (Galasiërs 3:24); (ii) dit het betekenis as riglyn vir die burgerlike orde van die samelewing; (iii) dit is die aanwysing vir die gelowige se lewe van dankbaarheid teenoor God vir sy verlossing en hoe ons ons moet gedra in die groot huisgesin van God, wat ons uit genade  deur Christus se lewe en sterwe en opstanding aangeneem het as sy kinders, en ons deur God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, wil leer om as kinders van God, Jesus se voorbeeld en woorde te volg (2 Kor 3:18; Rom 8:9-17).

 

Jesus het nie die wet gewysig nie, maar saamgevat in die liefde tot God en tot my naaste (Matt 22:37-40). Die eerste vier van die tien gebooie handel bv. oor ons verhouding tot God, en die laaste ses oor ons verhouding tot ons medemens (Eks.20:1-17). Maar Jesus het ook op die wet en die profete uitgebrei in die bergrede (Matteus 5-7) om hulle hulle volle betekenis te laat kry (Matteus 5:17) en ‘n kort praktiese toets  daarvoor gegee in die goue reël van 7:12 Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet  julle aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete (vgl. ook Paulus se uiteensetting van die wet in Romeine 12:9-21 en 13:8-14). 

 

Christus het ons vrymaak van die vloek van die wet wat vereis dat ek my eie verlossing moet bewerk met my goeie werke om God te behaag. Dit was ook nie die bedoeling met die tien gebooie volgens Eks. 20 nie. Die tien gebooie begin met die verlossing van Israel uit die slawerny van Egipte (20:2) om sy volk te wees wat Hom liefhet (Eks 20:3-11; vgl. Deutr.6:5 Omdat die Here ons God is, moet jy Hom liefhê met hart en siel, met al jou krag), en mekaar liefhê (Eks. 20:12-17; Levitikus 19:18 ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here wat so sê’; Jesus sê in Matt 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel wat sy son laat opkom oor slegtes en goeies, en laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen).

 

Die by-klousules en regulasies oor die offers vir die sonde is vervul deur God self toe sy Seun gesterf het vir die sonde van die hele wêreld (Johannes 1:29), vir die mense van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Die offers was maar ‘n skaduwee van wat sou kom, en wat nou deur God afgeskaf is (Hebreërs 10:1-10 ons is vir God afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd). Paulus sê ons moet onsself aan God gee as ‘n lewende offer, toegewy om in alles te lewe as God se kinders en toe te laat dat Hy ons denke vernuwe om te onderskei wat vir God goed en aanneemlik is (Rom 12:1,2).

   

Jesus het selfs die sabbat se betekenis verander en gesê: My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook (Joh. 5:17; vgl. Mark 2:27 en 3:4; Kolossense 2:16,17; Romeine 14:5,6).

 

Dit is tog nodig dat die wet van die Here vir die gemeente voorgehou word as maatstaf vir ons lewe, nie slegs die negatiewe ‘jy mag nie’ van Eks 20 wat die grense vir ons optrede aandui nie, maar ook die positiewe vervulling van die wet met die liefde van God, waarin ons lewe gewortel en gegrond moet wees deurdat Christus deur geloof in ons kom woon (Efesiërs 3:17) 

 

Skrywer: Prof Francois Malan