Is Paulus ’n vals apostel?

Is Paulus ‘n vals apostel – Francois Malan

Cobus vra:

Ek het n dokument op truthseekers.co.za gekry wat vir Paulus heeltemal verwerp en sê dat hy n valse apostel was wat homself aangestel het. Die dokument se naam is The shocking truth en is by hulle download gedeelte. Sulke dinge verwar mens partykeer baie en ek sal graag julle opinie oor dit wil hoor.

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

 Ek het by die truthseekers se 32 bladsye artikel ‘Paul: Apostle of the Stumbling Block’ uitgekom, waar hulle probeer bewys dat Paulus darem koring ook tussen sy kaf gesaai het en deur die geskiedenis die hoofstroom Christendom laat struikel het met sy leer, wat teen die wet van die Here is, en vir die vryheid van die gelowige, vry van die wet. In die artikel word gewys na die afgod wat Paulus sou volg en op ‘n aantal leuens wat Paulus sou verkondig, en Paulus se stryd met die twaalf apostels wat deur Jesus (Yahushua the Anointed Son) aangestel is.

 

Die hele artikel spreek van ‘n verdraaide kennis van die Bybel en van die geskiedenis, ‘n vooropgesette idee wat bewys wil word, en ‘n swak interpretasie van die Skrif. Die skrywer verwys na die probleme wat groepe ook met Paulus se anti-wet leer het, nl. die messiaanse Jodedom, die Sewendedagse Adventiste en die World Wide Church of God.

 

Hoofstuk een handel oor: wie was die Magtige (Mighty One) vir wie Paulus gedien het? In Paulus se optrede in Atene vind die skrywer die sleutel, nl. die Onbekende God waarby Paulus aangesluit het in Hand 17:22-23. Die Onbekende God word dan geïdentifiseer as die valse ‘mighty one’ Ares, die Grieke se god van oorlog (deur die Romeine Mars genoem). Maar die skrywer verwar dan die Griekse Ares (Mars in Latyn) met die Latynse woord aries vir ‘n ram (arnion in Grieks), en beweer dat vandag word Ares as die sterrebeeld Aries (die ram) vereer waarby die hele konstellasie (zodiac) bygesleep word vir sterrewiggelary (horoscope).

 

            Van die Griekse woorde ‘die onbekende god’ agnostos theos (foutief gespel as agnostes theos) maak die skrywer ‘agnostic worship’ die geloof dat niks van God geken kan word nie.

 

            Sy weergawe van Hand. 17 steek vas by die naam Areopagus, die rots (heuwel van Ares, en vandaar na Ares) in Atene waar Paulus sou gepreek het. Hand 17:22 sê Paulus het in die middel van die Areopagus gestaan, wat waarskynlik verwys na die Raad van Atene wat die naam Areopagus vir hulle Raad aangeneem het.

 

            Daarna identifiseer die skrywer Paulus met die mense (die skrywer sê: ‘one so-called apostle) wat hulle voorgee as apostels in Efese, wat leuenaars is en die leer van die Nikolaïete verkondig (Openb 2:2-6), soos ook in Pergamus en Tiatira (Openb 2:14-15, 20). Die skrywer sien dit as ‘n waarskuwing dat Paulus ‘n struikelblok is wat die mense laat val, soos Jesus ‘n struikelblok was vir dié wat Hom nie verstaan het nie! (1 Petr.2:8 Jes.8:14 onbegryplik in die skrywer se redenering). Die naam Nikolaus (nikao ‘oorwin’ en laos ‘volk’ sou dan verwys na die man wat die volk van die Gesalfde Seun oorwin deur te leer dat vleis wat aan afgode geoffer is maar geëet kan word, soos Paulus in 1 Kor 8-10 doen. 

 

Om dit te kan doen verwys hy na die manuskrip in die John Rylands Biblioteek in Manchester wat sou bewys dat Openbaring in 40n.C. geskryf is. Die oudste afskrif wat ons van enige Nuwe Testamentiese boek het is die papirus (nr.52) in die John Rylands biblioteek, wat ongeveer 125 n.C. geskryf is en waarvan slegs Joh.18:31-33, 37-38  van die Evangelie volgens Johannes behoue gebly het (nie Openbaring nie). Johannes het die openbarings van die boek Openbaring in sy ouderdom op die eiland Patmos gesien het, toe hy daarheen verban is (Openb 1:9). Dit waarskynlik in die jare 90-100 n.C.

    

Jakobus, die leier van die gemeente in  Jerusalem, en by die vergadering wat besluit het dat die besnydenis nie vir die bekeerlinge uit die heidendom nodig is nie (Hd 15) word met die apostel Jakobus geïdentifiseer, wat toe reeds deur Herodes doodgemaak was (Hand.12:2). Ook die brief van Jakobus word deur die skrywer aan die apostel Jakobus toegeskryf en nie aan die broer van Jesus (vgl. Gal 1:19), wat later Jesus se volgeling geword het en ‘n leier in Jerusalem geword het (vgl. Hand 12:17 nadat die apostel Jakobus reeds doodgemaak is volgens Hd 12:2).

 

Hoofstuk twee wil bewys dat Paulus geen apostel is nie. Oor Handelinge se drie berigte oor Paulus se bekering sê die skrywer dat volgens Hand. 26 het die Gesalfde Seun aan Paulus sy opdragte gegee, terwyl volgens Hand.9 en 22 aan Paulus gesê is hy moet na Jerusalem toe gaan en daar opdragte kry (van die ander apostels). Die verband van Hand.9:6 wys egter na Damaskus as die stad waar vir hom gesê sal word wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen), en in Hand 22:10 word dit duidelik uitgespel dat hy na Damaskus toe moet gaan en daar sal alles vir hom gesê word wat God bepaal het wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen). Die skrywer sien ‘n verskil tussen Lukas se berigte oor Paulus se bekering en Paulus se eie weergawe in Galasiërs 1:13-2:9 waar Paulus van ‘n drie jaar periode in Arabië praat voordat hy Jerusalem toe is. Die skrywer beskou dit as bewys dat Paulus seniel was toe hy Galasiërs as ‘n ou man geskryf het (terwyl Galasiërs een van Paulus se eerste briewe na sy briewe aan die Tessalonisense of selfs voor hulle geskryf is). Volgens Hand 9:23 het daar ‘n lang (hikanos) tyd verloop voordat die Jode begin saamspan het (met die goewerneur, vgl. 2 Kor 11:32,33) om Paulus in Damaskus dood te maak voordat hy in die nag oor die muur ontsnap het na Jerusalem.

 

            Die skrywer sien Gal 2 as bewys dat Paulus se rebellie teen die 12 apostels steeds toegeneem het, dit ten spyte van Hand 15 se vergadering waar hulle met Paulus en Barnabas saamgestem het om die heidene nie die las van die wet en die besnydenis op te lê nie, maar dat Petrus-hulle glo dat hulle deur die genade van die Here Jesus gered is, netsoos die heidene  (Hand 15:10, vgl. 15:1,2). Volgens Gal. 2:9 het die pilare van die gemeente, nl. Jakobus (Jesus se broer wat nie een van die 12 was nie), Petrus en Johannes aan Paulus en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, en het hulle ooreengekom dat Paulus en Barnabas na die heidene gaan en hulle na die Jode. En dan spring die skrywer na 2 Korintiërs 11 om te bewys dat Paulus teen die 12 apostels in opstand is. Die probleem is dat die skrywer aan geen ander gelowige as ‘n apostel kan dink as aan die 12 nie, terwyl die NT na vele ander as apostels verwys. In 2 Kor 11:5 en 12:11 verdedig Paulus juis sy apostelskap teen mense wat hulleself as buitengewone (huperlian) apostels aanbied om die gemeente van Korinte, wat deur Paulus gestig is (Hand.18) van hom en sy evangelie weg te lei. Hulle doen dit deur te roem oor hulle welsprekendheid en sosiale status, en hulle strewe na aansien onder die mense. Daarteenoor volg Paulus die kruisweg van Jesus se lyding om liefdevolle dienaar van ander te wees, soos Jesus (vgl. 2 Kor 6:1-13).

 

            Romeine 3:7 word buite sy verband misbruik om te bewys dat Paulus erken dat hy lieg. In vers 4 sê hy reeds: Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar. Ons verkeerde dade laat blyk dat God regverdig is (v5). Vers 8 verduidelik v7, waar Paulus homself gebruik as voorbeeld van alle mense. Vers 8 sê:  Beteken dit dat ons sê ‘laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom?’ ‘Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê (soos die skrywer van die artikel), maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.’       

 

Hoofstuk 3 plaas Paulus se wet/onderwysing (Torah), wat eintlik ’n anti-wet is, teenoor die ware wet/onderwysing (Torah). Daar word na die leuens van Paulus verwys:

 

Eerste leuen: slegs die vrou was verlei (1 Tim 2:14) – die teks sê nie dat slegs die vrou verlei is nie, maar, soos v13, verwys na Adam wat eerste gemaak is, Eva daarna, is dit ook nie Adam wat (eerste) verlei is nie, dit is die vrou wat haar (eerste) laat verlei het en die gebod oortree het. Die argument van 1 Tim 2:8-3:13 gaan oor leierskap in die gemeente, en die rol van man en vrou in die gemeente van Efese waar vroue in die gemeente rondgegaan het en oor allerlei verkeerde dinge gepraat het (5:13).

 

Tweede leuen: niemand is regverdig nie (Rom 3:9-18). Paulus sou Ps 14:1-4 verkeerd aanhaal. Die eerste drie verse sou net oor mense sonder die wet praat en nie van mense wat volgens die wet lewe nie, wat dan in verse 4-5 bespreek sou word.  Maar vers 2 sê dat God uit die hemel afkyk op ‘die kinders van Adam (die mens)’…om te sien of daar iemand is wat God soek. Vers drie: God sien dat daar nie een is wat goed doen nie, nee, nie een nie (v3). ‘kinders van Adam (die mens) sluit alle mense in. Daarin het Paulus die Psalm reg verstaan.

 

Derde leuen – Paulus se idee hoe ons regverdig is (Rom 3:21-22). Die skrywer verkwalik Paulus wat verklaar dat regverdigheid los van die wet staan. Die skrywer en sy mense glo dat daar geen geregtigheid bestaan los van die wet nie, omdat die Gesalfde vir ons oortredings van die wet gesterf het. Daarom is die wet vir hom deel van ons geregtigheid. Hy verwys na Jer 31:31-33 se nuwe ‘verbond’ wat ‘n valse vertaling van berit sou wees. Volgens hom moet dit met ‘eed’ vertaal word. Die Hebreeuse woord berit beteken ‘ooreenkoms’ of ‘verbond’ terwyl die Hebreeuse woord vir ’n ‘eed’ sjebu‘ah is soos Jeremia dit in Jer.11:5 gebruik. Vir Paulus is die nuwe verbond wat God met ons maak dat Christus die verhouding tussen ons en God reggemaak het, en dat God ons aangeneem het as sy kinders. Dit spel Paulus uit in Romeine 8, en kom daarmee ooreen met Johannes 1:12.

 

            Vir Paulus kan ons goeie werke volgens die wet nie ons verhouding met God regmaak nie, maar slegs die offer van sy Seun, wat self God is, se dood aan die kruis. En as ons in Hom glo, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat in ons kom woon, is ons kinders van God. Maar daarmee verwerp Paulus nie die wet nie. Hy sien dit as die reël vir ons lewe uit dankbaarheid vir ons verlossing, as die huisreëls vir God se kinders.

 

            As Jakobus 2:4 dan sê dat geloof sonder werke dood is, bedoel hy nie daarmee dat die werke ons regverdig voor God nie (soos die skrywer dit interpreteer nie), maar dat ons werke die bewys is van ons verbondenheid aan ons Vader, die regte verhouding wat reeds deur Christus vir ons verwerf is. Die skrywer sê Johannes definieer geregtigheid soos dit in die wet gedefinieer is. Maar Johannes beskryf die doel van sy hele Evangelie ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:31) – nie soos dit in die wet gedefinieer is nie.

 

            Die skrywer neem Paulus kwalik dat hy kan sê dat ons wel vleis kan eet wat aan afgode geoffer is, omdat ons weet dat daar geen afgod is wat iets beteken nie, en dat geen God is nie, behalwe Een (1 Kor 8:4). Maar as my eet van daardie vleis my swakke boer laat struikel, bly Paulus weg van sulke vleis af (1 Kor 8:7-13). Hoewel die hele Ou Testament dit verbied, kom Jesus en verklaar dat alle voedsel rein is (Markus 7:19). Paulus volg maar net Jesus se woord.

 

Vierde leuen – God het jou lief of haat jou nog voor jy gebore is (Rom 9:12-13). Sy eintlike beswaar is teen God se genadige verkiesing, wat in Romeine 9-11 bespreek word.

 

Vyfde leuen – Paulus se leer oor besnydenis – volgens Gen 17:9-14 sou dit vir altyd geld as teken van God se verbond met Abraham en sy nageslag. Omdat Paulus glo dat gelowiges kinders van Abraham is (Gal 3:16,29), moet hulle ook besny word. Maar die skrywer vergeet van die Jerusalem-vergadering van Hand 15 wat besluit het die besnydenis is onnodig.  

 

            Die skrywer beweer verkeerdelik dat die woord vir ‘eed’ berit  is, wat beteken dat ‘n mens ‘n ooreenkoms sny (‘n verbond is mos ‘n ooreenkoms!). Die woord vir sny is egter karat en om ‘n verbond te sny (karat berit), dit verwys na die gebruik om ‘n dier in twee te sny, die twee partye loop daartussen deur en sê: mag die Here so met my maak as ek nie hierdie verbond nakom nie (vgl. Gen 15:17; Jer 24:18-20).

 

            Die Hebreeuse woord om te besny,  mool, word ook gebruik vir die afsny van gras. Die opdrag aan Abraham was om die voorhuid van die manlike geslag af te sny. Die skrywer maak beswaar teen die engelse ‘circumcision’ wat rondom sny beteken. Circumcision volg egter die Griekse vertaling peritome (rondom sny) vir die Hebreeuse mool (afsny). Weens sy misverstand van mool reken die skrywer daar moet net ‘n snit in die voorhuid gemaak word..          

 

Sesde leuen – dat mans nie iets op die kop mag dra of lang hare hê nie (1 Kor 11). Daarvoor verwys die skrywer na die engele wat hulle gesigte bedek met hulle vlerke, Elia wat sy gesig bedek het in die teenwoordigheid van God, die nasireërs wat hulle hare laat groei het (Num.6:2-5), Absalom se lang hare, en Mat 6:6 se gebed in die binnekamer (Grieks: tameion). Hy meen die woord tameion verwys na ‘n gebedsmantel, ‘n betekenis wat die Griekse woord duidelik nie het nie.

 

            Hy beweer ook dat Jesus ‘n baard gehad het op grond van Jes.50:6, en dat die mense wat Hom gevang het sy baard uitgepluk is om Hom te verneder, volgens Esra 9:3 se voorbeeld. Maar ons word toegelaat om ons baarde netjies te knip op grond van Mefiboset se onnet baard (2 Sam 19:24), maar mag dit nie afskeer nie.

 

Die skrywer beweer Paulus het al sy briewe geskryf nadat hy eers in die tronk beland het. Maar slegs 5 van Paulus se 13 briewe dui aan dat hulle uit ‘n gevangenis geskryf  (Efesiërs, Kolossense, Filemon, Filippense, en 2 Timoteus). Daarby is Paulus se briewe geskryf voordat enige van die Evangelies, Handelinge of algemene briewe en Openbaring geskryf is, terwyl die skrywer reken Paulus was van die laaste Bybelskrywers.

 

Paulus wanhoop aan die Galasiërs wat weer wil terugkeer na die onderhouding van die wet om voor God geregverdig te word deur hulle eie goeie werke. Want daardeur verwerp hulle Christus, wat self God is wat mens geword het, self die straf op ons sonde gedra het, en ons van die mag van die sonde verlos deur God die Heilige Gees te stuur om ons in staat te stel om te lewe volgens Jesus se wet,  sodat ons selfs ons vyande sal liefhê, want 1 Johannes sê God is liefde, en as ons nie uit sy liefde lewe en mekaar liefhet nie, is ons nie sy kinders nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus? – Francois Malan

Vraag:

In Jesaja 53: 12  word gesê : Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes en met magtiges sal Hy die buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie  gedra en vir die oortreders gebid het. (OAV)

Die feit dat baie gebruik word en nie almal nie gee aanleiding tot die volgende vraag:

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

 

God het ‘n verbond met Abraham gemaak te dien effekte dat hy die vader van baie nasies sou word. Hy het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken en hy was ‘’n vriend” van God. Uit Abraham ontstaan die Jode as die uitverkore volk. Na verloop van 430 jaar kom Moses op die toneel en hy ontvang die Tien Gebooie wat spesifiek bedoel was om die Jode te rig. Toe Christus kom maak die Jode  Hom dood. Van die Jode wat hierna tot bekering gekom het, sê Paulus in Gal 2: 15 dat hulle, wat van nature Jode was en nie sondaars uit die heidene nie, in Christus Jesus moes glo sodat hulle geregverdig kon word uit die geloof in Jesus Christus. Dus nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig kan word nie.

 

Vanaf Abraham tot en met die steniging van Stefanus was die heidene nooit in die prentjie nie. Van die verbond met Abraham weet hulle niks, ook nie van die wet nie en ook nie van komende Messias nie. Die verkondiging van die evangelie aan die heidene was ‘n verborgenheid Ef 3: 1 tot 6, en Paulus was bestem om dit aan hulle te bring. Inderdaad was die heidene se stand soos aangedui in Ef  2: 12, naamlik sonder Christus,vervreemd van die burgerskap van Israel, vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

 

Die Jode daarenteen het hulle eie pad geloop totdat hulle Jesus laat kruisig het tot op die steniging van Stefanus op welke tydstip die verbond met God verbreek is en is die evangelie aan die heidene verkondig. Die eerste heiden wat tot bekering kom is die hofdienaar van Ethiopië (Hand 8) en andere daarna.  Die vereiste vir hulle was  slegs dat hulle in Jesus Christus moes glo soos Abraham gedoen het om deel van die geestelike Israel te wees.            

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:                                                                                                      

 

Johannes 3:16 sê: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes 1:1-18 sê dat Jesus Christus self God is, die naaste aan die Vader, dat Hy mens geword het. (Dit alles sodat God self vir die sonde van die wêreld sterf aan die kruis). Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

 

Vir die heidene wat Christus aangeneem het skryf Paulus in Galasiërs 3:28: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

 

Jou vraag: Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Alle mense, Jode met die wet van God en heidene sonder die wet van God, almal van die Ou Testamentiese tyd en almal daarna, almal is onder die mag van die sonde en die hele wêreld is strafwaardig voor God (Romeine 3:9-20). Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus…God spreek elkeen vry wat in Jesus glo (Rom. 3:21-26). Vryspraak is eintlik om die verhouding met God reg te stel. Deur in Christus te glo, word ons saam met die Seun van God aangeneem as kinders van God deurdat die Gees van God, die Gees van Christus wat in ons kom woon om ons aan Christus te verbind (Rom.8:9-17).  

 

Vanaf Abraham af was die heidene altyd in die prentjie! Met die roeping van Abraham het die Here reeds gesê: ‘…in jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (Genesis 12:1-3). In sy optrede in Egipte en Gerar was Abraham geen seën vir die heidene nie (Gen. 12:10-20; 20:1-18 maar na hy vir Abimeleg gebid het, het die Here vir Abimeleg gesond gemaak). Dit was God se doel met sy verbond met Abraham dat hy en sy nageslag vir die wêreld ‘n lig sou wees. Vgl. Abraham se optrede teenoor Melgisedek, die koning van Jerusalem (Gen.14:18-20).

 

Vgl. bv. Tamar Gen 38, Ragab Jos 2:1,3; 6:17,23,25, Rut wat aldrie in die geslagslys van Jesus opgeneem is in Mat 1:3-5.   

 

Die hofdienaar van Etiopië is ook nie die eerste heiden wat tot bekering gekom het nie. Kyk maar gedurende Jesus se bediening na die Samaritane Jn 4, die offisier in Kapernaum Mat 8:10-12, die Griekse vrou van Mark 7:24-30, die offisier wat vir Jesus gekruisig het Mark 15:39. Vgl. ook die stad van die Samaritane wat Filippus se getuienis aangeneem het voordat hy die hofdienaar ontmoet het Hand.8:4-8.

 

Dat God se verbond met Israel eers met die steniging van Stefanus beëindig is, het ook geen grond nie. Reeds in Jeremia 11:10 kla die Here dat Israel en Juda die verbond wat Hy met hulle vaders gemaak het, verbreek het. En toe Jesus na sy eie mense toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het (Jood of Griek, ens.), dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Jn 1:11-12; vgl. Rom 10:12-13).

 

Jesaja 53:12 sê ‘baie’. In Hebreeus is dit die meervoud van ‘baie’ (rabim) wat ‘n menigte aandui. Daarom gaan dit nie om uitsluiting van party nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die dra van ‘n Hoofbedekking

Die dra van ‘n Hoofbedekking – Kobus Kok

Mynie vra:

Wat is die rede vir die Hooftooisel wat mans en vroue oor hul hoofde gegooi het. word dit vandag nog gebruik?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die dra van ‘n hoofbedekking – hoekom mans hulle hoedens afhaal as hulle bid

Prof. Kobus Kok

 

In die antieke Mediterreense wêreld in die tyd van die Nuwe Testament is daar geglo dat jy jou hoof moet bedek in die publiek. Dit het egter van tyd tot tyd en tussen verskillende ekonomiese klasse verskil, en die ruimte waarin die persoon verkeer het ook op verskillende tye in die geskiedenis ʼn rol gespeel in die sosiale reëls rondom hoofbedekkings (vgl. die uitspattige haarstyle in die Flavian 80-90 nC periode). Dit sien ons in die beelde uit verskillende tye en uit graffiti teen mure soos Pompeii wat sosiale interaksie uitbeeld, asook in Romeinse geskrifte wat behoue gebly het (kyk gerus http://en.wikipedia.org/wiki/Women_in_Ancient_Rome ).

 

Romeinse beelde uit die eerste eeu illustreer die tipiese kleredrag van die eervolle vrou. Net prostitute en vrouens met slegte karakter het sonder ‘n hoofbedekking rondgeloop en dit was as oneervol beskou. Die groot rede wat dikwels aangegee word, was dat vrouens mans met hulle hare kon verlei. Dit sien ons in antieke tekste waar mans oor vrouens se los hare kommentaar lewer (vg. Catullus; Ovid; Cicero). Die gebruik was dat vrouens enige deel van hulle liggame wat mans kon verlei, moes toemaak. Juis om hierdie rede lees ons in 1 Korintiërs 11:4-5 dat vrouens wanneer hulle bid of profeteer, ‘n hoofbedekking moet dra (1 Kor 11:5). Die eerste Christene het in huiskerke bymekaargekom. In die huis kon vrouens sonder hoofbedekkings rondloop,  maar met tyd het die huiskerke “publieke ruimtes” geword, en daarom het die Christene sensitief geword vir die verkeerde boodskap wat dit na buite kon uitstuur, veral in ʼn plek soos Korinte met die groot berg waar prostitute voorgekom het en ʼn baie onsedelike stad was. Volgens Korintiërs mag mans nie ʼn hoofbedekking dra as hulle bid of profeteer nie (1 Kor 11:4). Hierdie tipe gebruike kom nog steeds in Mediterreense kulture voor, veral by die Moslems. Vandag is baie mense van mening dat dit goed is om ‘n Joodse mantel met tossels te koop en afgesonder te “bid in jou eie tent” of “geestelike kamer”. Dit was regtig nie die manier hoe die antieke mense dit gesien het nie en maak daarvan iets wat dit nie in die Bybelse tyd was nie. Tot vandag toe nog sal die Amish vrouens ook hoofbedekkings dra omdat daardie gewoonte vir eeue lank in gebruik is (vir kerke wat dit vandag nog vereis, sien http://en.wikipedia.org/wiki/Christian_headcovering ). Hierdie mense glo dat ʼn vrou altyd ʼn hoofbedekking moet dra omdat sy enige tyd kan bid.

 

Ek onthou hoe die dra van hoede in die NG Kerk in die laat sewentiger jare en tagtiger jare nog ‘n gebruik was. Die tannie voor my se groot blou hoed het altyd gemaak dat ek nie die dominee kon sien nie. Die snaakse is dat dit ‘n misinterpretasie van die Bybelse tekste is en dat kerk en gewone lewe geskei was. In die publiek, die oomblik as die vroue in die karre geklim het, het hulle die breë hoede afgehaal.

 

In die antieke tyd was die dra van hoofbedekkings ‘n vereiste vir enige waardige vrou wat in die publiek verskyn. Die van ons wat al massa-Christelike byeenkomste of openings by skole gesien het, sal weet dat alle mans onmiddellik hulle hoedens sal afhaal as hulle bid. Dit kom van die teksgedeelte in 1 Kor 11:5, en het met tyd deel van die Europese kulturele erfenis geword.

Vir meer inligting lees: Bruce Winter, Roman Wives, Roman Widows

Hier onder is ‘n voorbeeld van so ‘n beeld met ʼn vrou en die hoofbedekking, met die tipiese kleredrag van die tyd. 

 Hoofbedekking

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Hoe word die doderyk oop- en toegesluit?

Hoe word die doderyk oop- en toegesluit? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

 

Die antwoord waarna ek soek is die waarheid uit die Bybel (met teksverse) wat vir my verduidelik hoe die oop en toesluit van die doderyk plaasvind en wie het die mag om dit te doen.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Jesus het die sleutels van die dood en hades oorgevat

In die Openbaring wat Johannes van God en Jesus Christus ontvang (Openb 1:1), lees ons in Openbaring 1:18 dat Jesus die Lewende is wat vir ewig sal leef. Inteendeel, op die sterkste moontlike manier word dit vir Johannes bevestig deur die beeld dat hierdie Jesus die sleutels van die dood en die doderyk persoonlik in sy hand hou. In die antieke tyd was die grootste vyand die dood omdat niemand dit ooit kon oorwin nie. Dood was ’n toestand en hades was ’n plek onder die aarde met ’n vreesaanjaende god Hades aan die beheer daarvan. In die oorspronklike Grieks van Openbaring 1:18 staan daar dat Jesus die sleutels van Hades in sy hande hou. Die antieke Grieke en selfs die Jode in die Ou Testament het verwys na die “hekke van die dood/hades” (Job 17:16; 38:17; Ps. 9:13; 107:18). In die Griekse mitologie en godewêreld was Hades die god van die onderwêreld, die bose ou wat jou kom haal en toesluit die dag as jy sterf. Niemand kon ooit uit die greep van Hades en sy magtige doods-ryk ontsnap nie. Hades was die magtige een met die sleutels van die doderyk in sy hand. Min het Hades geweet dat God ’n plan van lewe het wat met skitterende lig sy donker skaduwêreld sou transformeer en ontmagtig en daarmee Sy kinders sou bevry tot ’n lewe van hoop.

 

Jesus oorwin die dood en triomfeer

Jesus het die dood oorwin toe hy sy lewe neerlê en dit weer opneem (vgl. Johannes 10:17-19). Reeds in Johannes 1:4 lees ons dat Jesus die bron van die lewe is en dat hy die lig is wat lewe gee. Die duisternis kon hom nie oorwin nie, inteendeel, Jesus het die duisternis totaal oorwin in die groot triomftog van sy opstanding (vgl. Kol 2:15). Dit is hoekom die opstanding in die Christelike teologie so ‘n belangrike dimensie is.  

 

Jesus het die mag

In die antieke tyd was die ou met die sleutels in sy hand, die ou met die mag, hy was die een wat kon besluit wie in en uitgaan. Deur die opstanding het Jesus die sleutels van die dood en van Hades oorgeneem vir altyd (Openbaring 1:18). Jesus is lewe en hy skenk lewe aan sy kinders. Vir al sy kinders is die dood as plek van duisternis toegesluit en die lewe oopgesluit.  Nou is dood en hades nie meer ’n plek om te vrees nie. God se lewe het oorwin, en herskep jou dood en donkerte in splinternuwe lewe (Joh 5:28; vgl. Ook 16:19).

 

Ongelukkig is Hades tog die plek waar ongelowiges heen sal gaan. Hulle sal die greep van die ou vyand nie kan ontsnap nie. Gelowiges kan egter seker wees dat hulle die ewige dood en pynlike wêreld van Hades sal ontsnap (Filippense 1:23; 2 Kor. 5:8).

 

Skrywer: Prof Kobus Kok