Die Here wou vir Moses doodmaak!

Die Here wou vir Moses doodmaak! – Francois Malan

Yvonne vra:

Eksodus 4:24: Toe Moses-hulle een nag by ’n plek langs die pad geslaap het, het die Here daarnatoe gekom. Hy wou vir Moses doodmaak (Bybel vir almal). Waarom sou die Here vir Moses wou doodmaak?

 

 

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die kort verhaal (Eks.4:24-26) van Moses se terugkeer na Egipte, nadat hy vir 40 jaar in Midian by sy skoonvader gebly het, is een van die moeilike tekste in Eksodus, soos Abraham wat vir Isak moes gaan offer (Genesis 22:1-19) en Jakob se worsteling met God die nag by Pniël (Genesis 32:24-32). Daar is ook in die verlede verskillende verklarings vir dié Moses-verhaal gegee. Hier word enkele opmerkings oor die gedeelte gemaak:

Moses is op pad terug na Egipte, deur die Here gestuur om die volk, met wie die Here reeds in Abraham se tyd ‘n verbond gesluit het, uit te lei uit Egipteland, waar hulle al 400 jaar lank woon, en nou slawe-arbeid verrig.

 

Dit is nie seker of dit Moses was wat nog nie besny is nie (toe hy as baba tussen die riete in die Nyl weggesteek is nie), of dat hy nie sy eerste of tweede kind besny het nie, maar Sippora het dadelik geweet wat die probleem is toe dit blyk dat Moses aan die doodgaan is. Moontlik was die besnydenis as teken van die verbond iets waaroor sy en Moses al vroeër gepraat het. Dit word nie gesê wat aanleiding gegee het tot die uitspraak dat die Here vir Moses wou doodmaak nie – moontlik ‘n skielike ernstige siekte wat hom op die pad oorval het?

 

Die probleem is die besnydenis, wat die teken is van God se verbond met Israel, en nou moet Moses as leier van die verbondsvolk gaan optree. Voordat hy Egipte ingaan moet die saak eers reggemaak word. Daarom stop die Here hom in sy spore om ook die uiterlike teken van die verbond in sy gesin reg te maak.

 

Nadat Israel, wat almal voor die uittog uit Egipte besny is, vir 40 jaar in die woestyn rondgeswerf het, omdat hulle nie wou luister en Kanaän binnegaan toe die Here so gesê het nie, moes al hulle kinders ook almal eers met klipmesse besny word voordat hulle Kanaän ingetrek het (Josua 5:2,3), soos Sippora met haar seun gemaak het.

 

Dat sy die voete van Moses aangeraak het met die seun se afgesnyde voorhuid is dan die bewys aan die sterwende Moses dat dit wel gedoen is (voete word soms gebruik as eufemisme vir die geslagsdeel).

 

Sy noem hom haar bloedbruidegom. Hy word in die lewe gehou, maar slegs deur bloedstorting.

 

Toe God sy verbond met Israel by Sinai gemaak het, is die helfte van die bloed van die offerdier

gesprinkel op die altaar, wat die Here verteenwoordig, en die ander helfte is op die volk gesprinkel, as teken die verbond, van hulle verbintenis aan die Here en sy gebooie (Eks 24:3-8).

 

In die nuwe verbond word Jesus met ‘n ‘bruidegom’ vergelyk (Mat.9:15; Mark. 2:19; 5:34; Joh.3:29). Met sy bloed sluit God sy nuwe genade-verbond met ons (Hebr. 10:19; 13:12;  Efes. 1:7; Kol.1:20; 1 Petr.1:2,19; 1 Joh 1:7) By die nagmaal bely ons dat ons deel geword het van Jesus se kruisdood vir ons sonde, terwyl die brood ons herinner aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn ons herinner aan sy bloed waarmee God se nuwe verhouding met ons bevestig is, naamlik dat Hy ons aangeneem het as sy kinders, omdat ons aan sy Seun verbind is deur die geloof wat die Heilige Gees in ons harte bewerk het (Mat. 26:26-28; 1 Kor 11:25; Rom 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Beantwoord God my vrae?

Beantwoord God my vrae? – Francois Malan

Mags vra:

Hoe weet jy wanneer is dit God wat jou vrae beantwoord? Iemand het aan my gesê ek het baie vrae, maar dat die Here vir my in visioene gaan antwoord. Ek het nog nie een antwoord gekry nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Johannes 14:23,26 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ ‘en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’

 

Drie sake word hier beklemtoon:

 

  • Dat die mens wat vir Jesus liefhet, sal lewe volgens die woorde van Jesus. In Jn 13:34 het Hy reeds vir hulle gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê.’ En dit het Hy gesê nadat Hy die voete van sy dissipels gewas het as ‘n voorbeeld van nederige liefdediens aan mekaar.

            Die eerste vereiste is dat ons sal liefhê, en dat ons besluite in liefde geneem word. In Mat.5:43-48 het Hy gesê ons moet selfs ons vyande liefhê.

 

  • Die wonder van Christus se verlossingswerk is dat Hy al ons sonde op Hom geneem het, ons verhouding met God reggemaak het, en van ons kinders van God gemaak het (vgl. Romeine 8:9-17), maar daarby het die Vader die Heilige Gees gestuur om in ons te kom bly. So kom God en Jesus self in ons woon om ons deur die Heilige Gees te lei in ons besluite van elke dag. Daarvoor kan ons Hom elke dag bid om ons te lei in ons gedagtes sodat ons die regte besluite kan neem. Hy sal ons alles leer, ook die antwoord op ons vrae, deur die oortuiging in ons harte/denke.

 

  • Die leiding van die Gees is egter volgens die woord van God, en nooit daarteen nie. Hy sal ons herinner aan alles wat Jesus aan die dissipels gesê het, soos dit in die Bybel vir ons opgeteken is. Daarom soek ons die antwoorde op ons vrae in die Bybel onder die leiding van die Heilige Gees, en wag dat Hy ons oortuig van die regte weg. Ons wag op Hom deur sy leiding te vra in gebed, en deur self die woord van die Here te bestudeer, en dan verantwoordelike besluite te neem soos wat die Here ons deur sy woord leer, en in die omstandighede waarin ons verkeer. Maar die toets bly steeds of ons dit in liefde neem.

 

            Jesus se praktiese voorbeeld in Matteus 7:12 is: ‘Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is waarop dit neerkom in die wet en die profete.’ Dit sê Hy na sy uitnodiging: Vra, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Mat.7:7,8).

 

            Lukas 11:13b voeg nog daaraan toe: ‘die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir die wat vra.’ God woon self in mense wat in Jesus glo as hulle Verlosser, en die Heilige Gees lei ons in ons vrae en besluite (vgl. bv. Johannes 16:8-11 oor die oortuigingswerk van die Heilige Gees).

 

Jy sê: iemand het aan my gesê ek het baie vrae, maar dat die Here vir my in visioene gaan antwoord. Ek het nog nie een antwoord gekry nie. Nee die Here antwoord ons nie gewoonweg in visioene nie, maar maak ons verantwoordelik vir ons eie besluite. Vgl. sy woord aan Tomas in Johannes 20:29 ‘gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.’ Hy help ons om reg te besluit deur sy Gees wat in ons kom woon het om ons van die regte optrede te oortuig. Dit doen Hy deur ons terug te bring na die woord van God. Vgl. bv. Romeine 12:9-21 se riglyne vir die Christelike lewe.

 

Die Heilige Gees gebruik ook ander mense om ons van raad te bedien en vir ons te bid. Ook deur omstandighede lei Hy ons. Soms maak Hy vir ons ‘n deur toe (vgl. bv. Hand.16:6,7). Dan moet ons nuuskierig/geduldig wag om te sien watter deur die Here vir ons oopmaak (vgl. ook2 Kor.12:8,9).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Vervloeking (2)

Vervloeking (2) – Francois Malan

Sonja vra:

Vervloeking Ek het Francois Malan se antwoord van 15 April 2011 gelees, maar het nog steeds ‘n vraag. As iemand ‘n vloek op jou plaas – wat dit ook al mag wees – en jy weet nie daarvan nie, kan dit enigsins jou skade berokken? Dit terwyl jy glo en vertrou dat God jou ten alle tye sal beskerm van dit wat boos is. Jy is in sy liefdevolle arms/hande. Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie? Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. Waarom gee mense krag tot die soort van goed?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Eers iets oor die betekenis van ‘vloek’ en seën’:

 

            Vloek beteken ‘n verwensing of vervloeking onder die aanroep van Goddelike mag, sodat God Hom aan jou onttrek. In Romeine 1:18,24 word gesê dat die toorn van God daarin bestaan dat Hy jou aan jouself en jou eie begeertes oorgee, om te doen wat jy wil sonder sy leiding en sy seën.

 

            Seën beteken dat God by jou is, dat Hy teenwoordig is om jou te lei en te beskerm selfs in tye van swaarkry en lyding.

 1.  Die vloek wat iemand op jou sou plaas beteken dat hy of sy die Here vra om jou te los. Die persoon se woord kan nie die Here dwing om jou aan jouself oor te laat nie. Daaroor sal die Here besluit. Daarom hang dit van jou verhouding met die Here af. As jy in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir jou sonde gesterf het en jy Hom liefhet, verseker Hy jou dat jy God se kind is vir wie Hy nooit sal los nie

 

            Johannes 1:12: Almal wat Hom (Jesus Christus, die Woord van God wat mens geword het en self God is (Jn 1:1,14) aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.

 

            Galasiërs 3:10 sê: almal wat staat maak op die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet opgeskryf staan nie. Maar 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang (soos Hy aan die kruis in ons plek)..

 

2.  Waarom voel mense dat ‘n vloek op jou uitgespreek is as dinge nie goed met jou gaan nie. Siekte, verhoudings wat skipbreuk lei ens. –

 

Om kind van God te wees beteken nie dat dit altyd net goed sal gaan met ons nie, maar dat God by ons is in ons lyding en moeilikhede.

 

            Romeine 8:38,39 sê Paulus: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 

3.   Waarom gee mense krag tot die soort van goed –

 

Ons leef in die eindtyd of laaste dae tussen die eerste koms van Jesus en sy wederkoms.

1 Timoteus 4:1,2 sê: Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.

 

4.   Jy is in sy liefde volle arms/hande –

 

Ps 91 sê dat die Almagtige Here die mens wat Hom lief het sal red en beskerm aan alle kante; dat jy nie hoef bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag nie. Op Hom kan jy vertrou.

 

Jesus se laaste woorde aan sy volgelinge was: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat. 28:20).

 

Die Heilige Gees van God woon permanent in die persoon wat aan Jesus behoort (Rom 8:9,11).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede dood

Die tweede dood – Francois Malan

Deon vra:

Die tweede dood. Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde? Opb 2:11 Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie. Opb 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. Opb 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. Opb 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die vraag is nie heeltemal duidelik gestel nie. Na wie of wat verwys ‘die geeste’? Is dit na ‘bose geeste’?

 

Efesiërs 6:1,12 verwys na die duiwel en die bose geeste in die lug teen wie die gelowige moet stry.

Matteus 25:41 praat van die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is deur God en waarheen die ongelowiges ook gestuur word op die oordeelsdag.

Matteus 18:8,9 praat van die ewige vuur wat ook genoem word die vuur van die hel.

Judas 7 praat van engele wat hulle nie in hulle eie magsgebied gehou het nie wat gestraf word met die vuur wat ewig brand.

 

Die tweede dood is soos Openb 21:8 aangehaal dieselfde as die poel wat brand met vuur en swawel. In Openb 20:10 word gesê die duiwel en die dier en die valse profeet sal daar dag en nag gepyning word.

 

Met die aanhaling van Openb 20:14 wat sê dat die dood en die doderyk ook in die vuurpoel gegooi word, word bedoel dat die hel ewig is, en dat daar geen dood meer beskikbaar is vir hulle wat onder God se ewige oordeel val nie. Openb 20:15 voeg nog by: As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

 

Dit alles is waarskuwings vir ons wat lewe om ons heil en die verlossing van ons sonde by Jesus Christus te ontvang, deur in Hom te glo as ‘die Woord van God, wat self God is, die Seun van die lewende God wat mens geword het en vir ons sonde aan die kruis gesterf het (vgl. Joh.1:1,14); dat Hy aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, die reg gegee het om kinders van God te word (Joh 1:12); dat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).   

 

Jou vraag: Kan geeste vernietig word? Let veral op Opb 20:14 Gaan hulle saam met die aarde vernietig word of deel vorm van die nuwe aarde?

 

Uit die tekste hierbo lyk dit nie asof die bose geeste vernietig gaan word nie, maar dat hulle ewige straf van God ontvang, en nie deel is van die nuwe hemel en nuwe aarde wat vir die gelowiges saam met Christus geskep word nie. Romeine 8:17 sê: Aangesien ons deel het aan die lyding van Christus, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan