Die Messiaanse tydperk

Die Messiaanse tydperk – Francois Malan

Annamarie vra:

Wat is die Messiaanse tydperk?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens die Joodse tradisie sal die Messiaanse tydperk een van wêreldwye vrede en harmonie wees, ‘n tyd waarin daar nie bakleiery en lyding sal wees nie, maar ‘n tyd om die Skepper beter te leer ken (Jesaja 2:4; 11:6-9).  

 

Volgens die Christelike tradisie is die Messiaanse tyd ‘n tyd van universele vrede en broederskap op die aarde, sonder misdaad, oorlog en armoede, ‘n tyd wat reeds aangebreek het. Met die dood van Christus het die Messiaanse tydperk begin en sal eers met die wederkoms van Christus vervul word met die koninkryk van God in die ewigheid (vgl. Openb 21:1-8). 

 

‘Messias’ is die Hebreeuse woord vir ‘Gesalfde’. In Grieks is dit ‘Christus’. Die Messiaanse tydperk, of die Christelike tydperk, is die tyd waarin Jesus die Christus (die Messias, die Gesalfde Koning, Priester en Profeet) begin regeer in die harte en lewens van sy volgelinge wat in Hom glo as die Seun van God wat mens geword het om die sonde van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29). Dit het Hy gedoen deur vir ons sondeskuld te sterwe aan die kruis, sodat ons verhouding met God reggemaak is, en ons nou kinders van God is. God kom self in ons woon as die Heilige Gees wat ons aan Jesus se offer vir ons sonde verbind en te begin sterwe aan ons selfsug. Die Gees verbind ons ook aan Christus se opstanding om die sonde en ons selfsug te oorwin en uit liefde vir God en ons medemens te begin lewe. Die Gees oortuig ons Jesus is God (vgl. Johannes 1:1-3), wat vir ons gesterf het, sodat ons besluit om in Jesus te begin glo en op Hom te vertrou (vgl. Romeine 8:9-17). Die Gees is besig om ons te verander dat ons al meer soos Jesus, die Messias, begin lewe (lees 2 Kor 3:18). Die tyd waarin ons lewe is reeds die Messiaanse tydperk wat begin het en wat volkome sal word wanneer Jesus, die Messias, weer kom, sodat ons vir ewig by Hom sal wees (Johannes 14:1-11). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Doodsengel – Vraag

Die Doodsengel – Francois Malan

Whitey vra:

Ek is nie seker nie maar … Iewers het ek gelees van ‘n man wat op ‘n dag besig was en gedurende sy take het die doodsengel hom besoek en aan hom gesê dat hy hier is om hom te kom haal…Die man het toe oor die saak nagedink en toe na ‘n ver land gegaan om van die doodsengel af weg te kom maar ‘n dag of wat later was die doodsengel ook daar om hom te kom haal…….Was die gelese gedeelte skriftuurlik en indien nie is ek jammer maar indien kan jul my meer inlig oor waar in die woord van ons Vader kan ek dit oplees en wat presies het daar gebeur

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

Nee, die storie staan nie in die Bybel nie.

Die Bybel sê dat die Here besluit wanneer iemand sal sterwe.

  • 2 Samuel 24:16 sê dat die Here sy engel gestuur het om Israel met pes te tref, en ook vir die engel later beveel het om daarmee op te hou (vgl. ook 1 Kronieke 21:15)
  • 2 Kronieke 32:21 vertel hoe die Here sy engel gestuur het om al die Assiriese soldate wat Jerusalem omsingel het dood te maak (vgl. Jesaja 37:36).
  • Handelinge 12:23 vertel van die engel van die Here wat Herodes met wurms laat verteer het tot hy gesterf het, omdat Hy nie die eer aan God gegee het nie, maar aanvaar het dat die mense hom ‘n god noem.
  • Vir die ryk dwaas sê God: Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het (Lukas 12:20)

 

Vir die Here kan jy ook nie wegvlug of wegkruip nie. Hy is oral teenwoordig. Lees maar Ps 139.

 

Maar die goeie nuus is dat Jesus vir ons sonde gesterf het, en dat ons nou kan uitsien daarna om by Hom te wees wanneer ons sterf (Filippense 1:20-23), en niks, selfs nie die dood ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:38,39). Deur Jesus se sterwe word die dood vir ons ‘n deurgang na die ewige lewe by God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




God sê nee

God sê nee – Francois Malan

Danie vra:

Ons omgeegroep wil gesels oor die onderwerp: “Soms sê God nee.” Het u asb vir my inligting omtrent dit as ‘n tema.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die belangrikste voorbeeld is Jesus in Getsemane, wat begin vra dat die lydensbeker by Hom verbygaan, en met elke volgende gebed al meer aanvaar dat sy Vader nee sê, en Hy hom daaraan onderwerp (Mat 26:39-44; vgl. Mk 14:35-41; Lk 22:42-44.)

 

God sê soms nee vir ons gebede omdat dit nie volgens sy wil vir ons is nie:

So sê die Here nee vir Moses wat gevra het om God se magtige verskyning te sien– dit sou Moses se lewe kos (Eks 33:18-20).

Die Here sê ook nee vir Moses se gesmeek om die beloofde land in te gaan nadat hy destyds nie gehoorsaam was, nie met die rots gepraat het nie, maar uit frustrasie vir die volk se gekerm die rots geslaan het (Deutr. 3:23-29; vgl. Dt 1:37; Num 20:8-12).

 

Die Here het ook nee gesê vir Dawid se gebed vir die lewe van sy kind, wat hy buite-egtelik by Uria se vrou Batseba verwek het (2 Sam 12:15-23).

 

Vir die ballinge in Babel sê die Here nee omdat hulle afgode dien (Eseg.20:3,30-32).

 

Vir Paulus sê God drie maal nee op sy gebed om die doring uit sy vlees te verwyder, omdat die genade van die Here vir hom genoeg is, en God se krag juis tot volle werking kom wanneer Paulus swak is (2 Kor 12:8,9), vgl Paulus se ontberings as apostel wat so die beeld van Christus aan die kruis vertoon (2 Kor 11:23-33).

 

Redes waarom gebede misluk:

 

Ongehoorsaamheid (Deutr. 1:42-46; 1 Sam 14:37; 28:6)

Geheime sonde (Ps 66:18)

Onverskilligheid teenoor God (Spr 12:28)

Geen barmhartigheid betoon (Spr 21:13)    

Minagting van die wet van God (Spr 28:9)

Skuldig aan moord (Jes 1:15)

Onregverdigheid (Jes 59:2; Miga 3:4)

Hardkoppigheid (Sag 7:11-13)

Onstandvastigheid (Jak 1:6,7)

Selfbevrediging (Jak 4:3)

1 Joh 5:14 moedig ons aan om met vrymoedigheid tot God te gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

 

1 Petr.3:7 waarsku dat as ‘n man nie verstandig met sy vrou saamleef nie, sy gebede verhinder sal word. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Druiwesap of wyn

Druiwesap of wyn – Francois Malan

Cecil vra:

Ek kan nie saam met professor Francois Malan stem oor sy raad dat druiwesap en/of wyn tydens Nagmaal gebruik mag word. Dit is baie duidelik dat Jesus wyn gebruik het. Ek het nie genoeg ruimte om my standpunt volledig te staaf nie, maar slegs die volgende – In Palestina begin die druiwe in Junie eers ryp te raak terwyl dit gedurende September geoes word. Daar kon dus tydens die paasfees geen druiwe voorhande gewees het om die sap uit te pers nie. Wyn impliseer ook iets wat klaar deur ‘n gistingsproses is. Ek is van mening dat hier verkeerde advies verskaf is.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die nagmaal gaan dit nie oor die wyn of die brood nie, wat slegs tekens is wat heen wys na die bloed en die liggaam van die Here Jesus. Sy bloed wat aan die kruis vergiet is en sy liggaam wat gebreek is, is die uiterlike bewyse van God wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het om die straf op ons sonde te dra, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê (vgl. Joh 3:16; 1:29). Die Evangelie volgens Johannes vermeld nie eers die instelling van die Nagmaal nie, maar beskryf ‘n paar wondertekens en baie woorde van Jesus sodat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

 

Die doel van die instelling van die Nagmaal volgens Mt, Mk, Lk en 1 Kor. is dat ons die offer van God vir ons sondes sal onthou, en ons lewe daarvolgens inrig. Dit kan ons slegs doen as ons een word in sy dood, deur te sterwe aan ons self (Rom 6:5), deur ons self te verloën, en nie vir ons self te lewe nie (Mat 16:24-26), maar uit liefde vir God en ons medemens (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:3-11). Wanneer ons egter konsentreer op wyn of druiwesap en nie op die liefdesdaad van Jesus nie, het ons die betekenis van die Nagmaal verloor. Dit is presies wat in die gemeente in Korinte gebeur het. Die rykes het die armes verneder het deur alles self te eet en te drink, sonder om die liefdesmaal met die armes in die gemeente te deel. Toe word hulle gebruik van wyn en brood ‘n teken van verdeeldheid in die gemeente, en van die rykes se gebrek aan liefde vir God en hulle mede-gelowiges. En so het hulle God se oordeel oor hulle self geëet (1 Kor 11:17-34).

 

Dat Jesus wyn gebruik het, stem ek mee saam, al het nie een van die berigte oor die instelling van die Nagmaal die woord ‘wyn’ gebruik nie: Mt 26:27 verwys na ‘die beker’; so ook Mk 14:23 Lk 22:17 (Mat 27:25 se ‘nuwe wyn’ is ‘n poging om die oorspronklike ‘vrug van die wynstok’ verduidelik; so ook Mk 14:25 en Lk 22:18; Matteus en Lukas het waarskynlik Markus as een van hulle bronne gebruik by die skryf van hulle Evangelies). 1 Kor 11:25-29 gebruik ook die woord ‘beker’, hoewel die rykes hulle te buite gaan en dronk word van wat hulle drink (1 Kor 11:21; die NAV het ‘te veel drink’ om dit effe te versag; maar die Griekse methuoo verwys na dronk word van wyn Ef 5:18, in NAV ‘aan drank te buite gaan’, of figuurlik gebruik soos bv. dronk drink aan  bloed, soos in Openb 17:6).  

 

Die punt wat ek wou maak is dat die Nagmaal deur Jesus ingestel is met ‘n beker (wat waarskynlik wyn in gehad het), maar dat wyn nie spesifiek genoem word in die Evangelies nie, en dat wyn as sodanig nie die belangrike is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan