Die Siel

Siel – Francois Malan

Jan vra:

Gen 2: 7 sê: En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende SIEL geword. Mens saamgestel uit gees, siel en liggaam. Wanneer die wedergebore mens sterf gaan sy gees na God toe en sy liggaam word stof waaruit dit geneem is. Sy siel behels die mens se wil, intellek en emosies. Wat word van die siel by sodanige afsterwe. Die algemene uitdrukking ” Die Here het my siel gered” het vermoedelik betrekking op ‘n skrif soos 1 Petrus 1: 9: “en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele..”. Hoe steek die drie dimensie inmekaar, asb.

 Antwoord 

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord nefesj (siel) kom 755 maal in die Ou Testament voor. Die woord beteken eerstens ‘keel’ (soos in Jes 5:14: die doderyk maak sy ‘keel’ wyd oop) en dan ‘asem’ wat deur die keel kom (soos in Job 41:12 vir die krokodil, letterlik: Leviatan, se asem wat vure aansteek).  Daarnaas dui die woord ook ‘lewe’ aan in Gen 9:4,5; dat die lewe (nefesj) van die dier in sy bloed gesetel is, wat die Here gegee het om vir julle lewens (nefesj) versoening te doen (Lev 17:11).

Soos asem ‘n teken van lewe is, beteken nefesj (siel) ook lewe of lewensgees. In Gen 1:30 word gesê dat die Here aan al die diere, ‘aan alles wat leef (Letterlik: alles wat ‘n ‘lewende siel’ het) die groen plante gee as kos. Job 12:10 se digterlike taal gebruik siel en gees as sinonieme om lewe uit te druk: Hy het al wat lewe (letterlik: die siel van elke lewende ding) in sy mag, die asem (ruach gees) van elke mens. Vgl. Openb 8:9: ‘n derde van alles wat in die see lewe (letterlik: wat in die see siele het). Solank die mens lewe is die lewe (siel) nog in hom: Saul sê in 2 Sam 1:9 ‘…want ek leef wel nog…’ (letterlik: my siel is nog in my). In Hand 20:10 sê Paulus van Eutiges wat by die derde verdieping af geval het: Hy lewe! (letterlik: sy siel is in hom). By die dood verlaat die ‘siel’ die mens, soos Ragel wat sterf volgens Gen 35:18: Maar Ragel was aan die sterf, en terwyl sy haar laaste asem uitblaas… (letterlik: toe haar siel besig was om te vertrek, want sy het gesterf,… 

 Daarom vertaal die 1983-vertaling Gen 2:7 met: ‘Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens  ‘n lewende ‘wese’ (nefesj) geword het.’

 Toe die Griekse vertaling van die Ou Testament in ongeveer 250 voor Christus begin, het hulle die Griekse woord psuche gebruik om die Hebreeuse woord nefesj te vertaal in 600 van die 755 gevalle. Die Griekse woord psuche beteken ‘lewe’ en word ook gebruik om ‘persoon’ uit te druk, en dan verskeie aspekte van die mens, as die sentrum van emosies, begeertes en gevoelens, word ook gebruik vir die gees van die heelal en van die mens. Maar die Griekse woord het ook die betekenis van die onsterflike siel binne die sterflike liggaam gehad, wat die Hebreeuse psuche nie het nie. Die algemene uitdrukking: die Here het jou siel gered, met die konnotasie wat ons aan die siel begin heg het as die onsterflike siel in onderskeiding van die sterflike liggaam, is eintlik nie ‘n Bybelse gedagte nie, maar kom uit die Griekse filosofie. Daarom is die  straf op die sonde van die mens volgens Genesis 3:19: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Sonder om bewuste onsterflikheid aan die mens toe te ken. Prediker 12:7 voeg daarby: ‘Die tyd wanneer die stof tot die aarde terugkeer soos dit was, en die gees (ruach, lewensasem) na God terugkeer wat dit gegee het.’ Dit was eers Jesus se opstanding uit die dood wat vir ons bewys het dat daar plek is vir die mens in die ewigheid. Die Psalms is vol klagte by die Here dat die dooies nie meer die Here kan prys nie, en in die vergetelheid versink. 

 Die Bybel sien die mens as ‘n lewende eenheid. In die Ou Testament sterf die mens se gees en liggaam. Enkele ligpuntjies oor ‘n lewe na die dood blyk uit die profete en veral by Daniël (vgl. 12:2,3). Maar in die Nuwe Testament verander die uitsig op die lewe na die dood. Jesus het nie net die siel kom red nie, maar ook die siek liggame van mense kom genees. Hy het nie slegs met sy gees of siel opgestaan uit die dood nie, maar ook met sy liggaam, wat verander het in ‘n verheerlikte liggaam. So verwag ons ook ‘n verheerlikte liggaam met die opstanding wanneer Jesus weer kom (vgl. 1 Kor 15:20-28 en veral 15:35-57; vgl. ook die ewige heerlikheid wat o.a. in Mat 25:34 geteken word, en die ewige straf in Mat 25:41; Rom. 8:18; Kol.3:4, ens.). 

 

Die Griekse woord psuche (siel) verwys in die Nuwe Testament na die lewe van die mens as denke, wil, en gevoel – jou innerlike self, denke, gedagtes, gevoelens (begeertes), jou hart, jou wese.

                In Flp 1:27 vat die 1983-vertaling ‘een gees, een siel’ saam as sinonieme vir versterking:

                                volkome eensgesindheid, waar dit gaan om die een doel of begeerte in die

 geestelike stryd om die geloof.

                In Mat 26:38 word ‘my siel’ vertaal met ‘Ek’ is doodsbenoud.

                In Hebr.12:3 word ‘in julle siele’ met ‘geestelik’ moeg vertaal.

                In Efes. 6:6 word ‘uit die siel’ vertaal met ‘van harte’ die wil van God doen.

                In Hand 2:27 word ‘my siel’, soos aangehaal uit Ps 16:10, vertaal met ‘my’: U sal ‘my’

                                nie aan die doderyk oorlaat nie.

Die woord ‘siel’ word in hierdie onderskeie verbande figuurlik gebruik as aanduiding van die persoon.

 

In die Nuwe Testament word die woord psuche konkreetgebruik vir lewe (Mat 10:39), ook vir ‘ek’ as persoon (Mat 10:28) vir wie God met siel en liggaam in die hel kan werp. In Hand 2:41 word ‘siele’ gebruik vir die 3,000 mense wat tot bekering gekom het.

Waar die vier woorde hart (kardia), siel (psuche), verstand (dianoia) en krag (ischus) saam gebruik word in Markus 12:28 (vgl. Mat 22:37; Lk 10:27; soos aangehaal uit Deutr.6:5 se ‘hart, siel en krag’) kan ‘siel’ goedskiks met ‘lewe’ vertaal word, jou lewensbeginsel.

So ook met 1 Tes 5:23 se ‘gees (pneuma), siel (psuche) en liggaam (sooma)’ waar Paulus die sinonieme ‘gees’ en ‘siel’ gebruik om soveel moontlik klem te lê op ‘die hele mens’, dat God julle so sal bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. (let wel: die liggaam word ingesluit vir bewaring deur God tot by die wederkoms).

Ook die woord ‘gees’ (pneuma) kan die innerlike van die mens aandui, sy persoon (vgl. Hand.17:16 waar ‘sy gees’ vertaal word as: ‘hy’ het verontwaardig geword; Gal 1:18 ‘met julle gees’ wat goedskiks  ‘met julle’ kan vertaal word, soos in Flp 4:23 se ‘met julle gees’ wat as ‘by julle’ vertaal is, so ook Flm 1:25. 

So kan ‘gees, siel en liggaam’ in die drie woorde van 1 Tes 5:23 onderskeidelik die persoon (gees, pneuma) aandui,  na sy innerlike persoon (siel) en die uiterlike (liggaam) van die persoon, om daarmee die hele persoon te beklemtoon.

[Gees kan ook verwys na die ingesteldheid of denkwyse van die mens, soos in Gal 6:1 met ‘n gees’ van sagmoedigheid, wat bloot as ‘doen dit in sagmoedigheid’ vertaal kan word.]

1 Petrus 1:9 sê: Deur in Hom (Jesus Christus) te glo, al sien julle Hom nou nie, het ‘julle’ (nefesj) reeds deel aan die saligheid.

Jou opmerking: En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende SIEL geword. Mens saamgestel uit gees, siel en liggaam – is nie korrek nie. Die mens is nie saamgestel uit gees, siel en liggaam nie. Dit is woorde waarmee die mens van verskillende kante af beskryf word – van sy uiterlike liggaam, sy innerlike (Jou opmerking: Sy siel behels die mens se wil, intellek en emosies), wat as gees of siel of albei as sinonieme gebruik kan word. 

Wat word van die siel by sodanige afsterwe – siel, as sinoniem vir gees word bv. in Openb 20:4 gebruik vir die gelowiges wat aan Christus getrou gebly het en solank op trone gaan sit het om as regters op te tree.

Hoe steek die drie dimensie inmekaar, asb. –

Die gees (pneuma) is die mens se nie-materiële vermoë, wat sensitief kan wees vir God en op God kan reageer in teenstelling met die sarks vleis, liggaam, swak of sondige van die mens, vgl. Hand 17:16 Paulus word verontwaardig (letterlik: sy gees in hom het ontsteld geword) oor die baie afgodsbeelde in Atene; 1 Kor 2:11 watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is?

Die siel verwys na die mens se lewe, sy innerlike, gevoel, wil, verstand, emosies as sy persoon. Dit is aspekte van sy gees (pneuma), van die persoon, die ‘ek’, wat ook ‘n sinoniem van ‘gees’ kan wees.

Die liggaam verwys na die mens se uiterlike verskyning, wat nie sonder sy gees /siel gedink kan word nie, en sy gees/siel kan ook nie sonder sy liggaam gedink word nie. Met die liggaam pleeg ons gees/siel sonde, vgl. Rom 6:13a Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedryf nie. Met die liggaam van ons gees/siel dien ons die Here, Rom 6:13b En stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.. In Rom 12:1 doen Paulus ‘n beroep op die gelowiges om hulleself (letterlik: julle liggame) aan God te gee as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike (Ou vertaling: julle redelike godsdiens) van die godsdiens wat julle moet beoefen.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Gebed-Vraag

Gebed – Francois Malan

Alma vra:

Ek het weer ‘n vraag of liewer hulp nodig.  Ek hanteer die Gr 11 groep by ons kerk en moet by die komende kamp met hulle praat oor GEBED. Het julle dalk vir my ‘n paar aanknopingspunte, riglyne, hulp of enige inligting wat ek kan gebruik? 

 

Antwoord

Ware gebed is vir ons moontlik gemaak deur Jesus Christus. Die verhouding tussen ons en God is reggemaak deur sy offer aan die kruis vir die sonde van die wêreld (vgl. Joh 1:29 Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!). Elkeen wat glo dat Jesus God is (Joh 1:1-3), dat Hy self die straf op ons sonde gedra het, ontvang die voorreg om kind van God te wees (vgl. Joh 1:12 Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word).

 

Gebed is die gesprek van ‘n kind van God met sy hemelse Vader, wat hom/haar so liefhet, dat Hy sy enigste Seun vir die wêreld gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). So het Jesus in liefde en vertroue met sy Vader gepraat (vgl. Joh 16:23b,24b ‘Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ookal in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee…Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees’). Vgl. ook Jesus se gebedslewe, sy gesprekke met sy Vader: Lukas 3:1 tydens sy doop; Lk 5:16 afgesonder op stil plekke; Lk 6:12 ‘n hele nag deur voordat Hy sy 12 apostels uit sy dissipelkring gekies het; Lk 9:18 eenkant besig om te bid voordat Hy aangekondig het dat Hy doodgemaak sal word en op die derde dag opgewek word; Lk 9:28,29 met Johannes en Jakobus en Petrus op die berg voor sy verheerliking; in Lk 10:21 het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en sy Vader geprys vir sy genadige bedoeling; Lk 11:1 voordat Hy sy dissipels geleer het om die Ons Vader te bid; Lk 22:32 Jesus het vir Petrus gebid dat sy geloof hom nie moet begewe nie; Lk 22:41-46 in Getsemane voor sy gevangeneming, waar Hy vir Homself gebid het dat sy Vader die lydingsbeker sal wegneem, maar dat nie sy eie wil nie, maar die Vader se wil geskied; Lk 23:34,46 sy twee gebede aan die kruis: die eerste vir sy vyande v34, en die tweede sy oorgee van sy gees aan die Vader v46. 

 

God het nog verder gegaan nadat Hy sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om ons verhouding met Hom reg te maak tot ‘n liefdesverhouding van kinders wat op Hom vertrou met alles in hulle lewe. Nadat Jesus sy werk afgehandel het aan die kruis en met sy opstanding uit die dood om die mag van die sonde en die dood te oorwin, en sy hemelvaart om aan die regterhand van God te regeer oor die ganse skepping en veral oor die gelowiges (Ef 1:18-23), het God die Heilige Gees gestuur (John 14:16,17). Hy kom om ons te oortuig van Jesus se liefdesoffer vir ons, sodat ons sal besluit om in Jesus te glo en dankbaarheid ons oor te gee aan die Here van ons lewe (vgl. Joh.14:26; 16:13,14). Die Gees verbind ons aan Jesus se selfopofferende liefde, sy dood en opstanding, sodat ons al meer sal sterwe aan ons self, om nie vir onsself te leef nie, sodat ons saam met Jesus ons eie ek  oorwin en vir God en ons medemens uit liefde te begin lewe (Matteus 16:24-26 As iemand agter Jesus aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en Hom volg. Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van Hom verloor, sal dit terugkry…’).  God die Heilige Gees het in ons kom woon (Joh 14:23) om ons daagliks te lei, in ons denke en beplanning (Joh 14:26; 16:8-11), ook in ons gebed (Rom 8:26-27), sodat ons al meer aan die beeld van Christus gelyk word en sy nederige selfopofferende liefde uitstraal (2 Kor 3:18).

 

Ware gebed is om in afhanklikheid na ons hemelse Vader toe te kom, in verbondenheid aan die Seun van God, en onder die leiding van die Heilige Gees in ons (vgl. Joh 4:23-24). Dit is ook die Gees wat ons leer dat God ons as sy kinders aangeneem het, sodat ons altyd en oral met vrymoedigheid na ons Vader toe kan kom (Rom 8:15-17; vgl. Joh 15:11-17, veral v16b).

 

In ons gesprek met ons hemelse Vader moet ons eers luister na wat Hy vir ons wil sê. Sy woord vind ons veral in die Bybel. Daarom is dit noodsaaklik dat ons daagliks die Bybel lees. Nie net dieselfde tekste of gedeeltes oor en oor nie, maar hele boeke in die Bybel, waarvan ons elke dag ‘n stukkie lees, en daaroor nadink oor wat die Here daardeur vir my wil sê. En dan antwoord ek daarop deur met my Vader in gebed te praat.

 

Aan die einde van die dag behoort ons ons Vader te dank vir alles wat Hy deur die dag vir ons gedoen het – vir sy leiding, bewaring, en versterking. Elke oggend behoort ons Hom te vra om deur die dag ons gedagtes te lei, ons te versorg en te bewaar van verkeerde gesindhede, woorde en dade. Hy is by ons, in ons; Hy is nie ‘n God wat vér van ons af is nie (Joh 17:23). Deur sy Gees woon Hy in ons (vgl. ook Ps 139).

 

Toe dissipels vir Jesus gevra het om hulle te leer bid, het Hy hulle die Ons Vader-gebed geleer (Mat 6:9-13, vgl. Luk.11:2-4). Daarin leer Hy ons om eers te bid vir die heiliging van God se Naam – dit beteken: ons vra Hom om ons en ons medemense so te laat optree dat God deur ons verheerlik word; ook te bid dat Hy sy koningskap sal laat kom, onder andere deurdat ons gelowiges Hom as ons koning sal dien, en dat ander mense, wat nog nie in Hom glo nie, ook daartoe sal kom om Hom as hulle koning te aanvaar; en te bid dat sy wil sal geskied deurdat ons sy wil en woord uitleef. Vgl. ook die gelykenis van die vriend om middernag en Jesus se aandrang by sy volgelinge om te vra en te soek en te klop, nadat Hy hulle die Ons Vader geleer het (Lk 11:5-13).

 

Nadat ons die drie ‘U’-gebede gebid het, begin die drie ‘ons’ gebede: met ons behoeftes wat ons as sy kinders aan Hom voorlê – nie selfsugtig nie, maar juis ‘ons brood’, om na mekaar se behoeftes om te sien; ons daaglikse brood verteenwoordig al ons behoeftes. Daarna vra ons om sy vergifnis van ons oortredings van sy wil, soos ons dit in die Bybel vind, saamgevat in die liefdesgebod (Mat 22:37-40). Maar ons kan nie om vergifnis vra as ons nie mekaar van harte vergewe nie (vgl. Mat 6:14,15). En dan vra ons Hom ook om ons teen versoekings te bewaar (vgl. hoe Jesus in die woestyn versoek is en hoe Hy daarop gereageer het met die Woord van die Here; Mat 4:3-11); en ons vra dat Hy ons van die bose sal verlos, ook van ons eie bose gedagtes en begeertes.

 

Voorbeelde van gebed deur gelowiges kry ons bv. van Abraham waar hy by die Here pleit vir Sodom waar sy nefie Lot gebly het (Gen 18:23-33); Moses se voorbidding vir die volk wat pas die goue kalf aanbid het (Eks 32:11-14); Hiskia se naïewe gebed in die tempel met die brief van die Assiriese gesante wat gekom het om Jerusalem te vernietig (2 Kon 19:14-19); die onvrugbare Hanna se gebed om ‘n kind te kry (1 Sam 1:9-11); Daniël se gewoonte om drie maal per dag te bid (Dan. 6:11); die gelykenis van die weduwee voor ‘n onregverdige regter (Luk 18:1-8).

Die opregte gebed word telkens ook aanbidding en lof aan die Here (vgl. Paulus se briewe wat met gebed begin, wat die lof van die Here verkondig; 1 Kor 1:4-9; 2 Kor 1:3-7; Efes 3:14-21; Flp 1:3-6; Kol 1:3-5).       

 

Ons gebed bestaan uit aanbidding en lofprysing van God (die psalms is vol daarvan). Gebed dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheid teenoor ons Vader.

 

Ons gebed gaan oor al ons geestelike en liggaamlike behoeftes, soos Jesus dit in die Ons Vader-gebed uitgespel het (vgl. ook Jakobus 1:17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo; Mat 6:31-33). In Matteus 11:28 nooi Jesus ons uit om na Hom toe te kom met al ons ellende en ons nood.

Gebed is ook voorbidding vir ander mense, wie se nood en behoeftes ons na ons Vader toe bring. Jesus sê ons moet selfs ons vyande liefhê en bid vir dié wat ons vervolg – so sal ons soos as kinders van ons hemelse Vader optree (Mat 5:47-48).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Verslawing (2)

Verslawing (2) – Francois Malan

Liza vra:

 

Dit is opmerklik dat drank as verslawing die botoon voer in die Bybelse tyd. Moet ons dan aanneem dat die ander verslawings wat nou met ons is, nuwe tydse verslawings is waarvan hulle daardie tyd nie geweet het nie?

Ons wil egter aan die vergadering die positiewe kant ook wys: dat daar in die Bybel baie “dinge / gewoontes / Kenmerke ” is waaraan ‘n mens MAG verslaaf raak. Amper om iets in die plek van die slegte gewoonte te plaas (dit met ‘n positiewe te vervang).

Waaraan volgens die Bybel Mag ons verslaaf raak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die gebruik en misbruik van opium (van papawers gemaak) en dagga van die daggaplant was eeue voor die Bybelse tyd reeds bekend in die Ooste, Midde-Ooste, Egipte, ens. Maar ons moderne dwelmmiddels word vervaardig met ingewikkelde chemiese prosesse, en was seker nie so bekend nie. Hoewel die Engelse woord ‘pharmacy’ kom van die Griekse woord farmakeia of farmakon wat verwys na toordery wat dwelms gebruik saam met towerspreuke. Paulus gebruik die woord in Gal.5:20 wat met ‘towery’ vertaal is; vgl. Openb. 9:21 ‘towery’; 18:23 ‘bedrog’ Engels sorcery; vgl. Openb 21:8 ‘bedrieërs’ Engels sorcerers, 22:15 ‘bedrieërs’ Eng. sorcerers.

Die woorde word ook in die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik in Eks 7:11 vir die Egiptiese towenaars (vgl. Deutr.18:10; 2 Kon.9:22 van Isebel; 2 Kron. 33:6 een van Manasse se sondes;  Jes.47:9,12 toordery; Miga 5:12 toorgoed; Neh.3:4 toorkunste).

Ander woorde wat vir toordery in die Nuwe Testament gebruik word is mageia (Engelse  magic) waar bo-natuurlike kragte ingeroep word (Hand.8:9; 13:6,8 – ook vir die wyses uit die Ooste in Mat 2:1,7,16), of periergos wat gebou is op bygeloof (Hand.19:13,19).

Toe die soldate vir Jesus wyn met mirre daarin wou gee, het Hy dit geweier (Mark 15:23; Mat.27:24 praat van gal om die bitterheid van die mengsel aan te dui). Die mengsel was bedoel om die pyn te verdoof, ‘n dwelmmiddel.

Paulus beroem hom daarop dat hy ‘n slaaf (doulos) van Christus is (Rom 1:1; Gal 1:10; Filp. 1:1; Titus 1:1) en ‘n slaaf van die gemeente ter wille van Jesus (2 Kor 4:5). In Efes.6:6 moedig hy die Christen slawe aan om te werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. In Flp 2:7 verwys hy na Christus wat Homself verneder het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (in ‘n hele aantal van die plekke vertaal die 1983 vertaling doulos met dienskneg).

In Romeine 6:16-22 gebruik Paulus die metafoor van ‘n slaaf: óf slaaf van die sonde wat na die dood lei, óf slaaf van gehoorsaamheid aan God wat regverdiging en lewe beteken (NAV vertaal regverdiging met vryspraak. Die woord regverdiging het saam met die gedagte van vryspraak ‘n nog meer omvattende betekenis van jou verhouding met God, wat deur Hom reggemaak is deur die dood van Jesus vir ons sonde, sodat ons kinders van God kan wees). Vrygemaak van die sonde het ons slawe van God geword (letterlik: slawe van geregtigheid – in die nuwe reggestelde verhouding met God). Vers 19-22 se ‘in diens stel van’ is ‘n vertaling van die begrip ‘slaaf wees van’ – of jou liggaam in diens stel van sedelike onreinheid en wetteloosheid, so moet elke deel van ons liggaam nou gestel word (slaaf word) van God (letterlik: van geregtigheid, die nuwe verhouding met God) om heilig te lewe – dit beteken om aan God toegewy te lewe; dit loop uit op die ewige lewe.

Hoe dit moontlik is word in Romeine 8 uitgespel, deurdat God self in ons kom woon as die Heilige Gees wat ons tot geloof oortuig, ons daagliks lei en versterk om soos kinders van God te lewe, deur ons aan Jesus se dood en opstanding te verbind. 2 Kor. 3:17-18 sê die Gees is besig om ons al meer soos Christus te laat optree.

Daarom sê Efes. 5:18 ons moet ons nie aan drank te buite gaan nie, maar ons deur die Gees te laat vervul. In Efes. 3:14-19 bid Paulus dat die gemeentes deur die Gees versterk word met liefde, met Christus in ons, dat ons lewe soos ‘n boom in liefde gewortel en soos ‘n gebou op liefde gegrondves sal word, dat ons Christus se liefde mag ken, en dat die Gees ons met die volheid van God se liefde sal vervul. Dit is ‘n liefdesverslawing aan die Vader, Seun en Gees, deurdat ons daartoe ‘n wilsbesluit neem om God se slawe te wees wat, uit liefde, Hom in alles gehoorsaam. Omdat ons in God se liefde gewortel en gegrond is moet ons ook besluit om met mekaar in liefde te leef. Jesus sê selfs ons moet ons vyande liefhê. Dan sal ons soos kinders van ons Vader leef (Mat 5:43-48). Want God is liefde. Liefde is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Liefde is die eenheidsband tussen hulle, en daarin wil hulle ons opneem, ons daarin wortel en grond. Daarom moet ons as sy kinders mekaar ook liefhê (1 Joh 4:7-21; vgl. Jesus se gebed in Joh.17:20-23).

Ons moet slawe word van God; verslaaf om Hom in alles te gehoorsaam, en dit uit liefde en dankbaarheid vir sy genade (Joh 1:16 sê: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang); ook uit dankbaarheid vir sy daaglikse sorg en leiding. Jesus het God se wil en wet opgesom: die eerste gebod is om God lief te hê met ons hele hart en siel en met ons hele verstand; daarmee gelykstaande: om jou naaste lief te hê soos jouself (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:1-5).


SkrywerProf Francois Malan




God se Naam

God se Naam – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Die … bediening het my en my man deurmekaar begin maak, want daar is waarhede in sowel as dinge waarmee ek nie saamstem nie. Eerstens praat hulle van YHWH- Yahweh as God en sê Here is van Baal afgestam. Dan my vraag oor die naam Jesus wat Jashua of Jesous in Hebreeus moet wees. Hoekom het die vertalings die name van God en Jesus verander? God is tog erg oor dat ons Sy Naam moet ken.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die korrekte uitspraak van God en Jesus se naam 

Die hele argument dat ons God “Jahweh” moet noem en indien ons dit nie doen nie, ons onsself skuldig maak aan die misbruik van God se naam is baie problematies. In die eerste plek het alle Jode nie Hebreeus gepraat nie. Daar is ook ‘n Griekse Ou Testament wat algemeen deur die Jode gebruik is in die tyd van Jesus. Ons navorsing toon aan dat wanneer Paulus die Ou Testament aanhaal, hy uit die Grieks aanhaal. God word Theos en Kurios genoem in Grieks. In die oorspronklike Griekse Nuwe Testament noem Jesus self sy Vader pater, wat die Griekse woord vir “pa” is (vgl. Joh 5:18). In Johannes 1:1 word Jesus die “logos” (woord) genoem en word die Vader “theos” (God) genoem. Die woord theos wat “God” beteken is die algemene woord wat vir enige god gebruik is. Met ander woorde, die Nuwe Testament het die algemene woord vir God (theos) en Vader (pater) en nog baie ander terme gebruik. Om God se naam te ken, beteken nie dat jy dit in Hebreeus sê nie, maar of jy Hom ken en in verhouding met Hom staan. Die fokus moet dus nie val op die uitspreek van die “korrekte” Hebreeus of Grieks nie, maar of jy hom ken op persoonlike vlak en ‘n intieme verhouding met God en Jesus staan.

Net vir interessantheid, wanneer die Jode uit die Ou Testament gelees het, het hulle elke keer waar God se naam geskryf staan nie eers sy naam genoem nie! Hulle het geglo dat God so Heilig is dat mens sy naam nie eers oor jou lippe mag noem nie. So, die ouens wat so baie maak van die korrekte naam vir God en Jesus se argumente val almal op verskeie plekke plat. Onthou ook net dat as ons as Christene antwoorde soek op hoe ons goed moet doen, ons die Nuwe Testament raadpleeg, en dat daar tussen die Nuwe Testament en die Ou Testament ‘n belangrike ontwikkeling plaasgevind het, naamlik dat Jesus gebore is, gesterf en opgestaan het. Die kruis en opstanding van Jesus verander die interpretasie van die Ou Testament. Een so ‘n voorbeeld is die Joodse eetgewoontes wat Jesus heeltemal kom verander het. ‘n Ander voorbeeld is die besnydenis en die streng nakoming van Joodse feeste wat heeltemal verander op grond van die Jesus-gebeure.


Skrywer: Prof Kobus Kok