Die Israel-beweging

Die Israel-beweging – Kobus Kok

Chris vra: 

Ons het familie wat oor beweeg het na die Israel beweging. Is daar ‘n artikel wat my sal help om meer daaroor ingelig te wees.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Terugkeer na Joodse gebruike? 

Ek dra nie kennis van die presiese inhoud van die Israel beweging nie. Indien dit te doen het met die terugkeer na Joodse feeste en gebruike, moet mens net baie versigtig wees om nie die Nuwe Testamentiese kerk se besluite in hierdie verband te ignoreer nie. In Galasiërs 2 en Handelinge 15 lees ons van die baie belangrike apostelkonvent in 48 na Christus in Jerusalem waarin die vroeë Christene die vraag gevra het of mense eers Jode moes word om Christene te kan wees. Die antwoord was nee, mense kan hulle eie kulture behou en hoef nie Joodse feeste en reëls na te kom  nie. In Kolossense 2:8 se die skrywer baie duidelik: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie”, en in Kol 2:16 kwalifiseer die skrywer dit as “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee wat sou kom; die werklikheid is Christus”. Hierdie feeste en gebruike waarna verwys word, is duidelik Joodse gebruike (vgl. die Sabbat). Sommige valse leraars het op die Christene sekere Joodse gebruike afgedwing. Paulus sê dat Christus hierdie dinge kom vervul het. Indien sekere bewegings weer Joodse gebruike verpligtend maak vir redding, dan keer ons terug na ‘n leerstelling wat deur die vroeë kerk reeds afgekeur is en as valse lering bestempel is.


Skrywer: Prof Kobus Kok




Die Hetiete, Egiptenare en Amoriete

Die Hetiete, Egiptenare en Amoriete – Coen Slabber

Christa vra:

Die 3 groot ryke: Hetitiese Ryk; Egiptiese ryk; Amoritiese ryk: Wat was elkeen se doel en hoekom het hulle ten gronde gegaan?

Antwoord

Coen Slabber antwoord:

Die Hetiete  

Ons lees ongeveer sestig maal van die Hetiete of van Het, die vader van die Hetiete, in die ou Testament. Hulle word nie in die Nuwe Testament genoem nie. Meeste van hierdie verwysings het te doen met die teenwoordigheid van die Hetiete in Kanaän.

In Genesis 10 lees ons van die nageslagte van Noag se seuns. Onder die nageslag van Gam lees ons dat Het die seun van Kanaän die seun van Gam was (vers 15). In Genesis 23 lees ons dat Abraham die Makpelagrot by die Hetiete koop en sy vrou Sara daar begrawe. Later lees ons dat Esau met Ada, ‘n Hetiet getrou het.

Maar wie was die Hetiete? Die middelpunt van hulle Ryk was in Anatolia (Klein-Asië, die moderne Turkye). Hulle hoofstad was Hattusas (die huidige Baghazskoy). Die Ryk bereik sy hoogtepunt in die 14 de eeu vC. Toe het die ryk so uitgebrei dat dit dele van Sirië, Libanon en ‘n deel van Mesopotamië ingesluit het. Die Hetiete in Kanaän het op die periferie van die ryk gebly. [Sien kaart.]

hetiete

Die Hetiete het strydwaens suksesvol gebruik en het ook die vermoë gehad om ystervoorwerpe te maak. Die oorheersing van die Hetiete word in die 15 de eeu vC gebreek toe die Egiptiese farao hulle oorwin het. Suppiluliuma (1380 – 1340 vC) was ‘n energieke monarg en het die Hetitiese Ryk weer opgebou. Maar teen die middel van die 13de eeu het mense van die antieke Griekse Ryk en die sogenaamde seemense  hulle bedreig. In 1190 vC het hierdie seemense die Hetitiese Ryk finaal vernietig. Die seemense (byvoorbeeld die Filistyne) kom oorspronklik van Kreta. In 1180 vC is net ‘n paar onafhanklike stadstate al wat van die Ryk oorgebly het.

Die Hetiete het agt verskillende tale gebruik, Vir amptelike dokumente is slegs twee tale gebruik – Akkadies was die taal wat algemeen deur die bevolking gebruik is. Die bevolking het ook ‘n ryke verskeidenheid van etniese agtergronde gehad. Volgens beeldhouwerke uit daardie tyd was hulle nie baie aantreklik nie. Hulle het hoë, gepunte hoede gedra en skoene met punte wat opgekrul het.

Hulle het ‘n hele reeks gode gehad. Die belangrikste god was die weergod wie se simbool ‘n bul was. Daar was ook ‘n songodin, Arinna.

 

Die Egiptiese Ryk

Hierdie Ryk het ‘n lang geskiedenis en slegs enkele gebeurtenisse kan bespreek word. Abraham het tydens die droogte daar gewoon; Josef is as slaaf verkoop en vorder tot ‘n baie belangrike pos in Egipte; Moses het grootgeword  in die paleis van die farao. Later het God hulle met die tien plae gestraf omdat hulle nie die Israeliete wou laat wegtrek uit slawerny nie. Na die vernietiging van Jerusalem in 586 vC dwing ‘n groepie Jode vir Jeremia om saam met hulle na Egipte te vlug.

In Aleksandrië het 70 Jode die Ou Testament tussen 250 – 150 vC in Grieks vertaal – die Septuagint. Dit word die Bybel van die vroeë kerk – veral vir die Christene wat buite Palestina gewoon het. In Matteus 2:13 ev lees ons dat Josef en Maria met Jesus na Egipte vlug omdat Herodes alle Joodse kindertjies wou doodmaak.

Sonder die Nyl kan Egipte nie bestaan nie. Die bewerkbare grond was ‘n stook 10 – 16 km langs die Nyl. Daar was ook die vrugbare delta.

Die Egiptenare het die Nyl as Hapi aanbid. Die son, wat lewe aan alle dinge gee, is as Amon-Re en Aton aanbid. Die koning/farao was ‘n nasaat van die gode. Osiris was die god van die dood. Volgens oorlewering is hy deur sy broer vermoor, maar sy vrou, Isis, het hom weer na die lewe teruggebring.

Opvoeding was feitlik uitsluitlik vir seuns uit die hoër sosiale klasse bedoel. Hulle moes opgeleide personeel vir die priesteramp, regeringsdiens en die beroepe verskaf. Die antieke Egiptenare was veral aktief op die gebiede soos toegepaste wiskunde, sterrekunde en die geneeskunde. Dat hulle ‘n goeie kennis van ingenieurswese gehad het, is duidelik uit hulle massiewe bouprojekte en die uitgebreide netwerk van besproeiingskanale. Hulle was ook beken vir hulle vermoë om lyke te balsem.

Hulle is baie bekend vir hulle groot argitektoniese projekte – massiewe tempels met groot standbeelde, groot grafkelders vir die konings en die piramiedes.

Amoriete

Ons lees die eerste keer van die Amoriete as afstammelinge van Kanaän (Genesis 10:16). Hierdie nomadiese mense het van die Siriese woestyn na Mesopotamië en Palestina gemigreer. Hulle het die Sumeriërs oorwin en uiteindelik die grootste gedeelte van Mesopotamië besit. Reeds in die derde millennium vC was daar Amoriete in Sirië en Palestina. Onder hulle kry ons name soos Abraham, Jakob, Levi en Ismael.

Die Amoriete is prominent in die Ou Testament as belangrike hindernisse in die verowering van Kanaän deur die Israeliete. God sê vir Moses: Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete(Eksodus 3:8). Toe Israel in die woestyn geswerf het, belowe God dat hulle daardie nasies sal vernietig (Eksodus 23:23). Moses stuur spioene om die beloofde land te verken. Hulle rapporteer dat daar Amoriete in die bergwêreld teenwoordig was (Numeri 13:25 ev). Hulle was ook oos van die Jordaanrivier teenwoordig (Numeri 21:13). Hierdie gebied is deur twee Amoritiese konings – Sihon en Og – beheer, maar die Israeliete verslaan hulle. In Josua 10:5 lees ons van vyf Amoritiese konings – die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglom. Josua verslaan hulle. Selfs in die tyd van die Rigters was die Amoriete en hulle gode ‘n bedreiging vir Israel. Met die Egiptiese oorwinning oor Kanaän, deur die konings van die XVIII dinastie het die Amoriete as selfstandige nasie verdwyn.

Dat die oorwinning oor die Amoriete en die verowering van hulle land ‘n groot gebeurtenis vir die Israeliete is, is duidelik – ‘n oorwinning wat onthou en gevier moet word (Psalm 135:10 – 12; Psalm 136:17 – 26). Maar hulle was ook die beeld van alles wat sleg was. Toe God Jerusalem deur sy profeet Esegiël toespreek, sê Hy: Julle ma was ‘n Hetiet en julle pa ‘n Amoriet. Die Amoriete was die simbool van alles wat in God se oë verwerplik is.


Skrywer: Dr Coen Slabber




Stede in hedendaagse Turkye

Stede in hedendaagse Turkye – Francois Malan

Marius vra:

Wil graag die hedendaagse stede in Turkye en die gemeentes wat deur Paulus besoek is bymekaar bring Julle hulp word waardeer.

 

Antwoord

Paulus se eerste sendingreis:

Vertrek vanaf Antiogië in Sirië (Hand.13:1; 14:26-28) – huidige Antakya  in Turkye met die grotkerk van Petrus, en baie mosaieke van gewone huise – in die Hatay museum

Kry die skip by Seleukië (Hand 13:4) – huidige Selucia Pieria (Besikli Magara) by Samandag in Turkye, met die ou hawehoof vanwaar Paulus vertrek het.

Perge  (Hand 13:13:13; 14:25) – kyk na die teater by nabygeleë Aspendos

Antiogië in Pisidië (Hand.13:14-52) – nie meer op die kaart nie

Ikonium (Hand 13:51-14:6) – deesdae Konja waar niks van Paulus meer is nie, klooster van Islam se draaiende Derwisjers

Listra (Hand 14:6-20; 21) – bestaan nie meer nie

Derbe (Hand 14:20-21) – bestaan nie meer nie

Atalia (Hand 14:25) – huidige Antalya


Tweede sendingreis

Provinsie Silisië (Hand 15:41) waar Tarsus geleë, waar Paulus gebore is (Hand 9:11,30;

11:25; 21:39; 22:3) vandag nog Tarsus met geboue en put na Paulus vernoem

Derbe, Listra, Ikonium (Hand 16:1-5)

Troas (Hand 16:8-10) – Truva, in die gebied is ook die antieke Troye wat opgegrawe word.

Efese (Hand 18:19-21) huidige Efes – die mees volledige opgrawings van die ou stad met amfiteater, regeringsgeboue, biblioteek, ou tempels, ens. museum by nabygeleë Selsuk

Antiogië in Sirië (Hand.18:22-23) vgl hierbo.


Derde sendingreis

Efese (Hand 19:1-40)

Troas (Hand 20:6-12)

Assus (Hand 20:13-14) – Assos (Behramkale)

Mitelene (Hand 20:14)

Milete (Hand 20:15-38) – Miletus (Milet)


Reis na Rome

Mira (Hand 27:5) – Demre en Myra

Paulus skryf aan Kolosse en verwys na ‘n brief aan Laodisea in die Lykus vallei waar ook Hierapolis geleë is.:

Kolosse aan die voet van die berg bestaan nie meer nie

Laodisea word tans opgegrawe: amfiteater, hoofstraat, ens.

Hierapolis (Pamukkale) is die moeite werd om te besoek.

Verder is die sewe gemeentes van Openbaring ook almal in Turkye: Efese, Smirna (Izmir), Pergamum (Bergama), Tiatire, Sardis (Sart), Filadelfia, Laodisea.


Skrywer: Prof Francois Malan




Die Doderyk – Vraag

Die Doderyk – Francois Malan

Daleen vra:

Is die doderyk ‘n Godverlate plek soos in Psalm 88 ? Hoe heers God in die doderyk ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ps 88 is die swaarmoedigste van alle psalms; van ‘n persoon wat lankal ernstig siek is. Hy voel van God verlate, en al sy vriende het hom almal verlaat, moontlik as  gevolg van sy siekte. Hy is nog nie dood nie, maar verwag die dood enige tyd:  in vv4,5 sê hy: ek vat al aan die doderyk; ek staan al met die een voet in die graf.

Maar Hy voel nie van God verlate nie, wel verlate van God se guns. Hy sien juis sy ellende as iets wat van God af kom:

V7 U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.

V8 U gramskap rus swaar op my; U laat u golwe oor my breek

V9 U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks

V15 Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug?

V16b Dit is ‘n swaar las waarmee U my teister

V17 U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my

V19 U laat my vriende en my bure ver van my af staan.

Maar die heeltyd is hy slegs met God besig, en praat hy aanmekaar met God, stel hy sy nood aan God.

Die woord doderyk (vir die Hebreeuse sjeool in die OT en Griekse hades in die NT) word in die Bybel gebruik om die toestand aan te dui van die dooies. Die wêreldbeeld van die oudheid het die doderyk beskou as ‘n gebied diep onder die aarde (vgl, Numeri 16:31-33 waar die aarde oopgeskeur het en Korag en sy opstandige vriende lewendig in die doderyk afgegaan het; Job 38:17 praat van die ingang van die doderyk by/onder die see v16). Hulle is beskou as sonder gemeenskap met God (Ps 88: 6b dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U U hand teruggetrek het. Ps 6:6 sê: iemand wat dood is kan tog nie U naam bely nie; en vra dan: kan iemand in die doderyk U prys? In Ps 18:6 is die doderyk sinoniem vir die dood, ook in Ps 34:4 en Ps 49:15.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus skets Jesus die toestand van die dooies heelwat anders, met die ryk man in die doderyk in die plek van pyniging vanwaar hy na Abraham roep, met Lasarus in die ereplek langs Abraham (Luk 16:19-31).

In Matteus 25:41 beskryf Jesus die ewige straf as ‘n ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele en ongelowiges berei het; en in vers 34 word die gelowiges deel van die koninkryk van God wat van ewigheid vir hulle berei is. Openbaring  20:9,10 beskryf die ewige vuur wat God stuur as straf vir die duiwel en sy volgelinge, en in vers 15 word die mense wie se name nie in die boek van die lewe staan nie ook daarin gegooi.

Die doderyk is dus nie van God verlate nie, maar vir dié wat Jesus se verlossing verwerp, is dit die plek van God se straf op die sondaars en hulle sonde; terwyl Paulus sê: om heen te gaan en met Christus te wees, is verreweg die beste (Filippense 1:23) en in Romeine 8:35-39 sê hy dat niks, nie eers die dood, ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan