Matteus 7

Matteus 7 – Francois Malan

Japie vra:

Wat wil Jesus vir ons in Matteus 7:1-6 se. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Verse 1-5 handel oor onderlinge verhoudings, veral in die Christelike gemeente (vgl. ‘jou broer’ in vv3-5), oor hoe om mekaar lief te hê as die opsomming van die wet en die profete (7:12: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen; vgl. 22:39-40: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself).

Dit beteken nie dat gelowiges geen oordeel oor mekaar mag vorm nie, vgl. bv. 18:15-18; maar dat hulle beoordeling van mekaar in liefde moet geskied en nie veroordelend of foutvinderig moet wees nie. Beoordeling van foute en swakhede moet met jouself begin, en jy moet jouself baie deeglik ondersoek, terwyl jy ander gelowiges genadig en verdraagsaam moet beoordeel. God sal jou oordeel volgens die manier waarop jy ander beoordeel – vgl. 6:14,15: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle hemelse Vader ook nie julle oortredings vergewe nie (vgl. ook 18:32-35: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie).

Hoe groter jou bewustheid van jou eie swakhede en gebreke, hoe groter sal jou simpatie wees met ander se swakhede en gebreke (v5).

‘n Huigelaar ignoreer belangrike gebreke in homself, in sy gesindheid en optrede teenoor ander, maar veroordeel selfs klein gebreke in ander mense. Op die manier leef hy/sy nie volgens Jesus se gebod om mekaar lief te hê nie.

Volgens Matteus 13:55 het Jesus as die seun van ‘n timmerman groot geword in ‘n werkswinkel wat met hout gewerk het. ‘n Splinter (die woord kan ook saagsel of ‘n stoffie aandui) kan maklik in jou oog kom in so ‘n werkswinkel. En ‘n balk is juis waarmee die timmerman werk. ‘n Klein foutjie in ‘n ander persoon sien jy so maklik raak. Maar die geweldige groot rol wat jou eie ek en jy self in jou eie lewe speel word gerieflik oorgesien. Dit is juis die persoon wat homself regverdig wat ander maklik veroordeel. Maar as jy jouself aan Jesus se voorbeeld en aan sy woord meet, weet jy hoe ver jy tekort skiet.

Terwyl 7:1-5 ook in Lukas 6:37-42 (vgl. Markus 4:24) voorkom, kom 7:6 net in Matteus voor. Matteus het dit opgeneem in sy versameling van woorde van Jesus in Matteus 5-7.

Die sending om die evangelie van die koninkryk te verkondig is dringend, en word in Matteus 28:19 uitgebrei na alle nasies, soos ook in 24:14. In hierdie sending van die kerk na alle mense hang dit grootliks af van die ontvanklikheid van die mense wat die evangelie hoor. Wat die reaksie van mense op die verkondiging van die evangelie sal hê,  kan nie vooraf bepaal word nie. Maar wanneer Jesus se dissipels of volgelinge teenstand en vyandigheid kry, moet hulle nie aanhou om aan daardie persoon of persone die blye tyding te verkondig nie. In 10:13-14 het Jesus reeds vir hulle gesê: As die huismense nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dan moet hulle aangaan om die boodskap aan ander mense te gaan meedeel. Dit gaan hier oor die ontvanklikheid vir die evangelie.

‘Wat heilig is’ en ‘julle pêrels’ verwys so na die kosbare evangelie van verlossing van ons sondes deur Jesus Christus, die Seun van God, se offer aan die kruis, en van die nuwe verhouding met God as ons Vader en ons as sy kinders deur te glo in sy Seun Jesus Christus.

Die ‘honde’ wat sal omspring en ons verskeur, en die ‘varke’ wat die pêrels met hulle pote sal vertrap, verwys dan na die mense wat weier om die evangelie te aanvaar, en selfs vyandig reageer teenoor die verkondigers van die evangelie. Onder die Jode was honde en varke as onrein diere beskou.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Bileam en Balak

Bileam en Balak – Francois Malan

Jan Smith vra:

In Numeri word drie hoofstukke nl 22, 23 en 24 afgestaan aan die verhaal van Bileam en Balak en het eersgenoemde lang stories om Balak te laat besef dat hy nie die volk Israel kan vervloek nie. En dan eindig die verhaal eintlik op ‘n anti-klimaks met die woorde: Toe het Bileam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan. Daar word wel in die NT na hierdie verhaal verwys maar mens wonder hoekom die verhaal dan so pertinent in die OT in detail vertel word.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Hoofstuk 25 begin met die verleiding van Israel deur die Moabitiese meisies om deel te word van hulle afgodsdiens aan Baäl-Peor en die toorn van die Here oor die sonde van sy volk Israel. In 31:16 word gesê dat dit Bileam se raad was om Israel teen hulle God te laat optree. In 31:8 staan dat Israel vir Bileam doodgemaak het. Deutr.23:5,6 sê dat die Here Bileam se vloek in ‘n seën verander het, omdat Hy Israel liefhet. Josua 13:22 noem hom ‘n waarsêer. Jos.24:9,10 sê dat Bileam teen wil en dank Israel moes seën. So het die Here hulle gered uit die mag van Balak. Miga 6:5 wys op die mag van die Here om Balak se planne te verydel deur Bileam se antwoord. Nehemia 13:2 wys daarop dat die Here Bileam se vloek in ‘n seën verander het. 2 Petrus 2:15,16 sê Bileam was daarop uit om onreg te pleeg vir geld, maar ‘n stom rydier het ‘n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet. Die dwaalleraars in Petrus se tyd het dieselfde pad opgegaan as Bileam. Judas 1:11 noem dit bedrog. Openb 2:12-14 praat van die mense wat die leer aanhang van Bileam, wat vir Israel afvallig gemaak het van die Here, sodat hulle afgodsoffervleis geëet het en onsedelikheid bedryf het (soos in Num 25 beskryf is).

Numeri beskryf die 38 jaar wat Israel in die woestyn moes swerf omdat hulle nie Kanaän wou inval toe die 12 verspieders teruggekom het nie; hoe die Here die volk tot by Kanaän gelei het, ten spyte van hulle gemor en sonde. En toe hulle nie meer die hand van die Here gesien het nie, het die Here deur Bileam, en teen Bileam se wil, die Here se onvergelyklikheid, rykdom, krag en toekomstige heerlikheid geteken in hoofstukke 23 en 24. Die Here is steeds besig met sy volk.

Die geskiedenis van Bileam toon duidelik die mag van die Here oor Israel se vyande. Die kwaad wat hulle teen Israel bedink, het die Here ten goede gebruik (vgl. Gen.50:20). Hy verydel die planne van die nasies (Ps.33:10). Die opmars van die Israeliete na die beloofde land kan nie gestuit word nie.

In Numeri 22-24 is ‘n digter aan die woord, veral in die vyf uitsprake van Bileam wat die Here besing, terwyl sy volk Hom nie meer besing nie (In Luk 19:40 sê Jesus: As hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die voorhangsel skeur

Die voorhangsel skeur – Kobus Kok

Jan Smith vra:

Matt 27:51 sê: En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur (vermoedelik ‘n “aardbewing”). Matt 28:2 sê: En daar kom ‘n groot aardbewing – om die steen weg te rol. Hand 16: 26 sê: En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenes geskud het. ‘n Groot aardbewing sou waarskynlik baie groot skade aangerig het – is hierdie maar net ‘n oordrywing deur die twee skrywers en dan wonder ek hoekom sou die voorhangsel dan ‘n aardbewing nodig gehad het om te skeur?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die antieke mense het geglo dat aardbewings die gode is wat  die onderwêreld kommunikeer en gewoonlik word dit aan die ongelukkigheid van die gode gekoppel. Hulle het geen kennis gehad van tektoniese plate wat onder die aarde skuif nie.

As antieke mense het die Jode en die Christene ook soos die mense van hulle tyd gedink. God het ook met daardie mense  binne hulle verwysingsraamwerk gekommunikeer. Ons noem hierdie tipe natuurverskynsels teofanie- tye wanneer God homself in die wind en die donderweer laat wys. In die Ou Testament  het Jahweh ook in die wind en die vuur en in aardbewings geopenbaar. Dink maar net aan Elia op die berg 1 Konings 19:11.

Die korrekte vraag aan die Bybelse Teks is dus nie of dit gebeur het nie, maar wat die betekenis is wat dit vir die antieke mens sou inhou. Die beeld van die aardbewing wat die voorhangsel skeur, kommunikeer dus die feit dat God daar ingegryp het. Met die voorhangsel weg, het almal vrye toegang tot die allerheiligste.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Adam se naam

Adam se naam – Francois Malan

Martie vra:

Wie het Adam sy naam gegee. Sien nêrens wie het sy naam vir hom gegee nie. En kan u my asb Gen 1:26 verduidelik. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse word  ’adam beteken ‘mens’ (soos in Gen. 1:26,27) en is waarskynlik afgelei van die woord ’dm ‘rooi’ wat saamhang met die woord ’edamah ‘grond’ in Gen.2:7 waar die Here die mens gemaak het  uit die stof van die ‘aarde’, die rooibruin grond. In Gen 2-4 word telkens verwys na ‘die mens’. In Gen.3:17, na die sondeval, word die woord Adam ‘mens’ vir die eerste keer as ‘n naam vir die eerste mens gebruik sonder ‘die’ vooraan. Daar begin die skrywer van Genesis die eerste mens Adam noem na aanleiding van al die tekste vooraf wat na hom verwys het as ‘die mens’.

Gen 1:27:

‘en God het die mens geskep na sy beeld;

na sy beeld het God hom geskep;

manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’

In Hebreeus is dit poësie van drie reëls met vier woorde elk, om besondere aandag te trek na ‘n belangrike uitspraak. Die woord ‘beeld’ of ‘gedaante’ is moeilik te verklaar. In Ps 39:7 word dit gebruik vir ‘n skaduwee (NAV vertaal ‘droom’). As ‘n skaduwee of afskynsel van God het God die mens gemaak met ‘n eie wil en rede en persoonlikheid, ens, wat die mens aan God verantwoordelik maak, en wat God aanstel as sy verteenwoordiger, sy medewerker in die versorging van sy skepping.

Dat Hy hulle manlik en vroulik gemaak het bevestig dat elke man en elke vrou na die beeld van God gemaak is as sy medewerkers op aarde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan