Liefde in Johannes 21

Liefde in Johannes 21 – Francois Malan

Andre vra:

in Johannes 21:15 vra Jesus vir Petrus 3 maal of hy Hom liefhet. Volgens n Baptiste Pastoor het Petrus die eerste maal gesê ” nee” ek het U nie Agape lief nie. Die 3de maal het Jesus sy standaard verlaag en gevra of hy hom filia liefhet, waarop Petrus ja geantwoord het. ( volgens die Grieks). As dit dan so is, hoekom is dit nie so in ons Bybels en in die Boodskap nie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord.

Die afwisseling van die twee Griekse werkwoorde ‘om lief te hê’, agapao (liefde agape) en fileo (filia liefde) in Jn 21:15-17 is waarskynlik ‘n retoriese wisseling om herhaling te voorkom  en nie soseer om verskillende betekenisse aan te dui nie.

So gebruik hierdie Evangelie bv. vir die liefde van God vir die wêreld agapao in 3:16 en sy liefde vir die dissipels fileo in 16:27; vir God se liefde vir die Seun agapao in 13:34 en fileo in 5:20; vir Jesus se liefde vir Martha, Maria en Lasarus agapao in 11:5 en vir Lasaraus fileo in 11:3; vir die liefde van gelowiges onder mekaar agapao in 13:34 en fileo vir wêreldse mense onder mekaar; vir die liefde van mense vir Jesus agapao in 8:42 en fileo in 16:27 vir die liefde van sy dissipels vir Hom; in 19:26 word agapao gebruik vir die dissipel vir wie liefgehad het en in 20:2 fileo.

Dié Evangelie gebruik bv. drie woorde as sinonieme vir vis: prosfagion in 21:5; opsarion in 21:9,10,13 (6:9,11) en ichthus in 21:6,8,11. Vir skape oppas/laat wei word twee woorde gebruik bosko 21:15,17 en poimaino in 21:16; vir skape word twee woorde gebruik arnia in 21:15; probata, benewens hoofstuk 2 en 10, ook in 21:16,17.

Die skrywer het skynbaar daarvan gehou om sinonieme te gebruik. Daarom vertaal die Afrikaanse Bybels ook agapao en fileo albei hier met ‘liefde.’

Die betekenisse van die twee woorde oorvleuel mekaar tot op groot hoogte in die meeste verbande. Daar is egter in sekere ander verbande ‘n klein onderskeid tussen die twee: fileo/filia fokus op liefde of toegeneentheid op grond van omgang tussen persone; agapao/agape fokus op liefde of toegeneentheid op grond van hoë waardering en agting. Albei groepe woorde word egter gebruik vir die volle spektrum van liefhebbende verhoudings tussen persone, tussen mense en God, en tussen God en Christus.

Hier in Jn 21:15-17 is die gebruik van die twee woorde soos volg:

21:15 ‘Simon, seun van Johannes (soos by sy roeping 1:42, sonder Petrus/Rots, om ‘n nuwe begin met Petrus te maak), het jy my lief/agapao, meer as hulle hier? – volgens 13:37 was hy bereid om sy lewe vir Jesus af te lê; vgl. ook Mat 26:33 ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.’ En daarna het Petrus vir Jesus drie maal verloën Mat.26:34,75.

Ja Here, U weet dat ek U liefhet/fileo – Jesus ken die harte van mense Jn 2:25.

‘Laat my lammers wei’ – die swakkes in die geloof, wat soos Petrus gefaal het, Luk 22:31.

21:16 ‘Simon seun van Johannes het jy my lief/agapao?’ – nie in vergelyking met ander nie maar in sy eie hart?

‘Ja Here, U weet dat ek U liefhet/fileo – hy laat die beoordeling aan Jesus oor.

‘Laat my skape wei’

21:17 ‘Simon seun van Johannes het jy my lief/fileo?

Petrus word bedroef, nie omdat Jesus ook sy belydenis van fileo bevraagteken nie, maar ‘omdat Jesus hom die derde maal (dieselfde vraag) gevra het’ – sy oormoedige grootpratery voor die kruisiging is weg. Hy doen nou ’n beroep op die Here se alwetenheid, ook van wat in sy eie hart aangaan:

Here U weet alles.U weet dat ek U liefhet/fileo’.

‘Laat my skape wei.’

Petrus word in sy amp herstel as herder van die Here se kudde. Daarvoor is ‘n onbreekbare liefdesband met Jesus die noodsaaklike vereiste wat drie maal onderstreep word. Hierdie liefde het ook Petrus se marteldood gekos (21:18-19).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding

Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding – Francois Malan

Petro vra:

Daar gaan nou gerugte rond dat ook van die Christelike gelowe nou die Drie-eenheid, die geboorte en die opstanding van Jesus bevraagteken. Is dit waar en as dit nie die geval is nie waar kom die gerugte vandaan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Deur al die eeue was daar mense wat hulle self as Christene beskou het, en wat nie die Drie-eenheid of die maagdelike geboorte en opstanding uit die dood van Jesus aanvaar het nie.

Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus reeds: ‘as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes’ (1 Kor 15:17).  Vir die gemeentes wat hy in die provinsie Galasië gestig het skryf Paulus: ‘Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus gered het, afvallig geword het en ‘n ander evangelie aanneem’ (Gal.1:6). Na sy stryd met die valse leraars in Korinte sluit hy 2 Kor 13:13 af met ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.’ Daarmee bevestig Paulus die Drie-eenheid van God, al gebruik hy nie die term ‘drie-eenheid’ nie.

2 Petrus 2 waarsku al teen dwaalleer, dat daar mense is wat deur ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verlos is en wat weer deur die besmettinge van die wêreld vasgevang is en daardeur oorweldig word (v20).

Sedert die verligting van die 16e en 17e eeue het mense die gesag van die Bybel begin bevraagteken. In die 19e en 20e eeue het mense die Bybel al meer begin sien as ‘n boek deur mense geskryf, oor wat hulle van God gedink het. Daarteenoor glo die kerk dat die Bybel geskryf is deur mense, met al hulle beperkings, swakhede en kortsigtigheid, maar dat dit die manier is waarop God met ons mense wil kommunikeer, en dat Hy die skrywers in hulle oortuigings gelei het deur sy Gees, soms met gesigte en drome, maar meestal deur oortuigings in hulle hart.

Veral in ons tyd word Bybeluitsprake bevraagteken, bv. as daar gelowiges is wat die skepping beperk tot ses dae op grond van Genesis 1 se digterlike lof aan God as die Skepper. En dit terwyl daar daagliks nuwe wetenskaplike ontdekkings gemaak word, bv. oor die heelal met sy wydheid en oudheid, wat in miljoene ligjare gemeet word, die opgrawings van antieke mense se beendere, en van dinosourusse wat miljoene jare gelede al uitgesterf het, ens. Dat God ons daagliks meer van sy skepping leer uit ons wetenskaplike ontdekkings, maak juis dat ons ‘n baie wyer insig kry in God se grootheid en sy skepping, as die mense van die ou tyd. Ook dat Hy daagliks besig is om sy skepping te onderhou en te ontwikkel, ten spyte van die sonde en dwaashede van mense.

Ons lewe in ‘n tyd waarin mense wetenskaplike bewyse soek en waarin die wonder bevraagteken word. En die grootste wonder van alles, dat God mens geword het en uit die dood opgestaan het, word daarmee saam bevraagteken.

Daarom is daar mense wat hulle self Christene noem, omdat hulle Jesus se voorbeeld en uitsprake as ‘n mooi en ideale voorbeeld sien, waarvolgens hulle probeer lewe, om God so te behaag. Maar dan is Hy nie meer my Verlosser wat vir my sonde gesterf het nie. Want geen mens, hoe goed ook al, kan vir my sonde sterf nie. Dit kan alleen God, wat mens geword het in Jesus Christus, vir my doen. En nou is die grootste wonder dat dié God deur sy Gees in my kom woon om my van sonde te oortuig, my ook oortuig van geloof in Christus, my aan die Seun van God se sterwe en opstanding verbind om saam met Hom te sterwe aan myself en saam met Hom op te staan om vir God en my medemens te lewe (Romeine 6:11), van my ‘n kind van God maak, en my daagliks lei om al meer soos Jesus te word (vgl. Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Tweede aarde onder die duiwel se beheer?

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? – Kobus Kok

Eddie vra: 

Na ‘n selgroep een aand het die gesprek om die skepping van die aarde gegaan. Daar is genoem dat toe God die aarde geskape het dit die tweede aarde was en dat die eerste aarde onder beheer van die duiwel was. Waar kan ek meer hieroor lees ?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? 

Dit is nou eintlik vreeslik moeilik om presies te weet waarna die persoon verwys, omdat Genesis dit baie duidelik maak dat God die skepper is van alles wat bestaan. Daar is wel twee skeppingsverhale in Genesis, en daaroor kan mens meer lees deur enige goeie kommentaar op Genesis te raadpleeg in standaard reekse soos Word Biblical Commentary, Anchor Bible Dictionary, Hermeneia, ens. ‘n Kommentaar bespreek vers vir vers die Bybel en lê dit uit, terwyl dit ook toepaslike agtergrondgeskiedenis verskaf.

Daar is in die antieke wêreld verskillende skeppingsverhale deur verskillende kulture vertel en geboekstaaf. So het die Jode verskil van die Babiloniërs, die Grieke van die Romeine, die Platoniste van die Neo-Platoniste en van die Gnostici. In sommige van die Heidense gelowe kan mens die idee kry dat daar ‘n minderwaardige god is wat in beheer van die skepping is, maar dit is geensins die gedagte wat mens in die Bybel sal vind nie. Lees maar net Openbaring 4:1-11 waar God op die troon sit. Lees sommer ook Kol 2:15 wat vertel hoe die duiwel in die triomftog van God meegesleur is, of Johannes 1:1-18 wat vertel dat God die bron van lewe is en alles geskep het.

Dit gaan baie energie neem om die antieke wêreld se verskillende idees oor die skepping te bestudeer. Die beste bron wat dit vergelykend doen is Kittel en andere se Theological Dictionary of the New Testament. Daarin kan mens die woord skepping/creation opsoek. Die boek sal dan vir jou die Griekse, Joods-Hellenistiese, Nuwe Testamentiese en na-Nuwe Testamentiese perspektiewe gee.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Kinders buite die huwelik

Kinders buite die huwelik – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Wat is God se gevoel oor kinders wat buite die huwelik gebore word. Ek en my gewese verloofde is na 3jaar uitmekaar en ons het ‘n seun saam. Kan dit wees dat God ons gestraf het oor ons ongehoorsaamheid ten opsigte van seks voor die huwelik dat ons paaie moes uitmekaar gaan?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Seks voor die huwelik en ons gebroke verhouding 

Die Jesus wat ons in die evangelies leer ken het, het ‘n besondere hart vir kinders en juis vir mense wat op die rand van die samelewing staan. God is die God van lewe en het jou kindjie baie lief. God het ‘n plan vir jou kind.

Die verbrokkeling en skade in jou huwelik is ‘n resultaat van jare se spanning, konflik en frustrasie. Dikwels leef ons buite God se wil en is die skade en seer wat daaruit voortvloei ‘n direkte gevolg van ons eie optrede. God se hart klop vurig vir gesonde verhoudings. Dit is sy wil dat mense in gesonde verhoudings met mekaar staan. God straf nie mense met slegte verhoudings nie. God seën mense met goeie verhoudings.

As ouers van ‘n kindjie het julle altyd die verantwoordelikheid teenoor julle kind en mekaar. Dink baie mooi oor wat God se wil is, en doen die regte ding. Korttermyn oplossings skep dikwels langtermyn probleme. Het julle werklik alle moontlike opsies oorweeg en beraders gaan sien?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok