Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood?

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? – Kobus Kok

Piet vra:

Wanneer gaan ons hemel toe? Ek dink die oomblik as ons sterf, is ons in die hemel. Daar is nie ‘n tydsverloop in die terme wat ons tyd verstaan nie. Ek dink die tydsbegrip bestaan net vir ons as lewende mense en na ons gesterf het , gaan ons in ‘n ander dimensie in waar tyd nie bestaan nie. Daarom kan ons dan vir ewig lewe, want daar is nie ‘n tydsfaktor verbonde nie. U kommentaar asseblief.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? 

Die Nuwe Testament gee nie vir ons duidelike antwoorde oor presies wanneer ons hemel toe gaan nie. Sommige tekste soos die van Lukas se verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31) laat dit voorkom of ons dadelik in die hemel gaan wees en ander mense dadelik sal kan herken. Aan die ander kant vertel Jesus hier ‘n gelykenis, en dit moet nie letterlik verstaan word nie. Ander tekste, soos dié wat ons in Paulus vind (vgl. 1 Thes) skep die indruk dat mense in die grafte bly en dan met die wederkoms uit die grafte sal opstaan.

Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.

Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie.  Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer. Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie. Tyd gaan relatief wees na die dood.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Toets God ons geloof?

Toets God ons geloof? – Francois Malan

Henriette vra:

Toets God ons geloof?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Ps 26:2 vra die digter ‘Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.’

In Ps 17:3 bely die digter ‘As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.’

Die woord ‘toets’ word gebruik vir die suiwering van silwer en goud in die vuur, vgl. Ps 66:10 ‘U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer’ .

In Daniël 12:10 sê die groot engel vir Daniël: ‘Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly…’

1 Petrus 1:5-7: ‘En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.’

1 Petrus 4:12,13,16: ‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid…wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as die draer van daardie naam moet hy God verheerlik.’

Jakobus 1:3,5 ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’

Jakobus 1:12-15 ‘Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaarsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

Lees ook Hebreërs 12:4-13. Vers 6: ‘…want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem…’ 10b-11: ‘…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.’

In Romeine 8:17b sê Paulus: ‘…Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.’

Hebreërs 5:8,9 sê van Christus: ‘…Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword…’

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die doel van gebed

Die doel van gebed – Francois Malan

Alrine vra:

Ek wil graag weet wat is die doel om te bid en die Here se beskerming oor ons te vra? Hy sê Hy sal nie ‘n haar van ons hoof laat val sonder Sy wil nie. Dus het God reeds oor ons afsterwe besluit, hoekom vra ek dan elke dag dat God my gesin beskerm en bewaar.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wanneer ons God gelykstel met die natuur se vaste wetmatigheid, het die gebed geen sin nie.

As ons glo in ‘n God wat alles in die wêreld klaar bepaal het en alles uit sy vooraf bestemde plan vir alle tye voortvloei, het gebed geen sin nie.

Christene glo egter nie in ‘n starre, onveranderlike God  nie, maar vertrou op die God van die Bybel. Sy onveranderlikheid is ‘n ander soort as die natuurwette. Die Bybel praat kinderlik onbesorg oor God se onveranderlikheid en sy veranderlikheid, wat ‘n dieper wysheid is as die logiese redenerings oor Hom.

God is onveranderlik in sy trou aan sy eie wese. God is liefde (1 Joh 4:8,16). Dit is onveranderlik. Die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdeseenheid. En met sy Heilige Gees neem God ons op in hulle liefdesverhouding, en word ons kinders van God se groot gesin, omdat die Gees ons aan die Seun van God se dood en opstanding verbind. In sy liefde en genade is Jesus Christus gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Hebr. 13:8). Maar kinderlik onbesorg kan ons ook sê dat God veranderlik is. Oor die sonde van die mens het dit die Here berou dat Hy die mens gemaak het (Genesis 6:6). Toe God besluit om die Israeliete wat die goue kalf aanbid uit te roei, doen Hy dit nie, nadat Moses vir hulle voorbidding gedoen het nie (Eks.32:10-14). Kyk hoe pleit Abraham by God oor Sodom en Gomorra (Gen.18:20-33). Vir Hiskia verleng die Here sy lewe met 15 jaar op sy gebed (2 Kon. 20:1-7).

Dit is so dat ons lewe en ons sterwe in die hand van die Here is, soos Matteus 10:29-30 en Lukas 12:6,7 sê van die hare op ons hoof en die mossies wat nie op die aarde val sonder ons hemelse Vader nie. Maar daarmee wil Jesus ons juis gerusstel dat ons nie hoef te vrees vir die mense wat ons liggaam kan doodmaak, maar nie ons siel nie, omdat ons Vader ons beskerm. Dit is eintlik ‘n oproep om aan die Here getrou te bly.

In Ps 139:16b bely die psalmdigter ook: ‘al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore was.’ Die Here ken nie net die digter van voor sy geboorte af nie (v16a), maar ken ook sy hele lewe vooruit. Daarmee sluit hy aan by die hele Psalm 139 wat getuig dat die Here oral teenwoordig is en elkeen van ons deur en deur ken.

Job sê ook in 14:5 ‘die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie’ Letterlik vertaal: ‘Aangesien die dae van die mens bepaal is, en die getal van sy maande aan U bekend is, en U het die grens gestel wat hy nie kan oorskry nie’ – so lê die klem op die kortheid van die mens se lewe as die rede vir Job se pleitrede dat die Here tog ‘n verligting gee van sy smarte in vers 6.

Om die Bybelse begrip oor God reg te verstaan, moet ons sy onveranderlikheid en sy veranderlikheid op mekaar betrek. Dit lyk onlogies, maar dit is die Bybel se hoëre logika. Ons kan op God se onveranderlike liefde en trou pleit om verandering van God se dade en sy wil in hierdie wêreld en in ons lewe. So behoort Bybelse geloof in God en gebed bymekaar.

Die onlogiese van die Bybelse begrip van God verklaar ook die naïewiteit van die gebed. Kinderlik naïef sprei Hiskia die briewe van die Assiriese gesante voor die Here oop dat Hy dit self kan lees (2 Kon.19:14-19). Hanna stort stort haar siel voor die Here uit en vra dat sy tog ‘n kind kan kry (1 Sam.1:11). In Luk 18:1-8 gebruik Jesus die voorbeeld van ‘n weduwee wat aanhou bid tot die regter vir haar met haar regsaak help: ‘Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?’

Maar ons gebede is meestal selfsugtig rondom ons eie belang. En as ons nie kry wat ons vra nie, sê ons dat God nie ons gebed verhoor nie. Jesus het in Getsemane gebid dat as dit moontlik is die lydensbeker van God se toorn oor die sonde van die wêreld by Hom verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Mat 26:39). En moes toe aan die kruis sterf en van God verlaat word om ons skuld te dra. Maar God het Hom verhoor en Hom uit die dood opgewek en sy Hemelvaart is die bewys van God se antwoord, anders as wat Hy gevra het.

Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar word daarin gelei deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het (Romeine 8:26).

Jakobus 5:16 sê: ‘Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ Ps 145:18,19 sê die Here is naby almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. Ps 34:16: Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Spr. 15:29b die Here hoor die gebed van die regverdiges.

Ons word regverdiges deur ons geloofsband met Jesus Christus – Hy stel die verhouding tussen ons en God reg. Die Heilige Gees oortuig ons, sodat ons in Jesus glo as die Seun van God wat vir ons gesterf het; en die Gees verbind ons aan die Seun van God sodat ons ook kinders van God word. En die Heilige Gees kom woon in ons om ons te lei in ons gebed en ons daaglikse lewe. Hy lei ons deur God se woord (vgl. Rom 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




ARGEOLOGIE: GOED OF KWAAD?

ARGEOLOGIE: GOED OF KWAAD? – Sonet Werner

Wanneer mens die konsep “Bybelse Argeologie” hoor, ontstaan‘n half onwillekeurige gedagte dat die Bybel waar of vals bewys gaan word.  Dit is ‘n skrikwekkende gedagte vir enige gelowige wat in enige fase van sekerheid beweeg.  ‘n Vraag waaroor elke gelowige geweldig mee kan sukkel:  as sekere gedeeltes in die Bybel vals is, hoe kan ons ons geestelike lewe daarop baseer en bou?  Ons troos lê in die volgende skrifgedeelte:

Die hele Skrif is deur God geinspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” ( 2 Timoteus 3:16-17).

Argeologiese ontdekkings bewys nie dat die Bybel die Woord van God is nie, maar dit kan wel die historisiteit en betroubaarheid van gebeurtenisse bewys waarvan daar in die Bybel gepraat word.   Argeologie gee ‘n massa inligting oor die ekonomiese, kulturele, maatskaplike, sosiale en politieke omstandighede van die Bybelse tyd, sowel as die verskillende godsdienste wat Israel omring het.  Al hierdie inligting help ons om die Bybel binne konteks te plaas, en derhalwe sin van gebeure en God se plan te maak.

As ‘n wetenskap word argeologie dikwels juis gebruik om dieper as die letterlike te delf.  Wetenskap kan omskryf word as die aksie om dele te ontleed, terwyl teologie die geheelbeeld na vore wil bring.  Kan die twee begrippe dan saamwerk om geloof te laat vlamvat?  Vanaf die sestiende eeu het vele van die grootste wetenskaplikes  van hulle tyd uitgestaan as diep gelowiges.  Vir die gelowige kan wetenskap net gevind word binne God se skepping.  En dis juis waar argeologie dit self makliker vir ons maak – ons kan God, Sy Skepping en Sy plan beter verstaan.

William F. Albright noem 4 redes waarom Bybelse Argeologie toenemend groei:

  • Meer en meer argeologies ekspedisies vind plaas, en sodoende ontstaan meer leesstof.
  • Argeologiese metodes het aansienlik verbeter:  datering, analises en klassifisering.
  • Radiokoolstofdatering het na vore gekom.
  • Linguistiese en filologiese metodes het verbeter oor die jare, en dit het meegebring dat die magdom inskripsies en tekste in ander skrifte en tale, makliker ontsyfer en geinterpreteer kan word.

God het ons die vermoë gegee om te kan dink en keuses te maak.  Daardeur het ons tegnologie ontwikkel, maar ongelukkig kan hierdie tegnologie ook gebruik word om die natuur te manipuleer, wat dan geskiedenis kan insluit.  ‘n Voorbeeld hiervan is die sogenaamde “Jesus Family Tomb”, wat in die Oos-Talpiot buurt suid van Jerusalem gevind is.  Verskeie argeologiese stellings word gemaak, bv. dat Jesus se oorskot daar gekry is, Sy familie is saam met Hom daar begrawe, en dan ook dat die inskripsies aandui dat Hy met Maria Magdalena getroud was en sy ook daar begrawe is.  Hierdie is stellings wat elke gelowige se wêreld skud.  Dis maar een van vele voorbeelde van argeologiese “vondse” wat deur die sekulêre wêreld gebruik word om verwarring onder die Christendom te saai.

Ten spyte van hierdie misinterpretasies van argeologies bevindings, het Christene die voordeel  van die Bybel, want waar geloof dalk nie die ware verloop van gebeurtenisse kan verklaar nie, slaag die Bybel wel daarin.  God laat nie toe dat die mens Sy verborgenisse deur middel van menslike kennis en navorsing uitvind nie, maar sleg deur geloof in Hom as die Openbaring van die waarheid deur Sy Woord en Gees (Matt 11:25; 16:17; 1 Kor 1:20-25).

 

Skrywer:  Sonet Werner