Verskillende vorms van doop?

Verskillende vorms van doop? – Jan van der Watt

Ben vra:

Ek is erg bekommerd. Ek het die webblad besoek, maar dit wil vir my voorkom of elkeen maar kan kies in watter doop hy of sy belang stel na gelang van die verskillende skrywers se sieninge. Dit kan mos nie. Efesieérs4,5 leer vir ons een Here een geloof een doop.

Die Bybel maak dit baie duidelik in Handelinge2 ,38 dat ons tot bekering moet kom en in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word tot vergewing van sondes. Die Naam van Jesus verteenwoordig sy bloed gestort aan die kruis tot vergifnis van ons sonde. Handelinge 10,43 Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo,vergifnis van sonde deur sy Naam ontvang. Met verwysing na u vertaling wat die dooptekste so duidelik  verstaanbaar maak, sou ek graag wil weet, hoe is u gedoop en hoe voer u die doop sakrament uit.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jy is reg, daar is verskillende opinies op die webblad wat deur verskillende persone geskryf is. As jy mooi kyk by die doel van die webblad is dit nie om ‘antwoorde’ te gee nie, maar om kennis beskikbaar te stel. As jy die verskillende standpunte lees, kyk hoe argumenteer die persoon wat dit geskryf het, kyk watter verse hy gebruik en hoe hy of sy dit verstaan. Die gevaar is altyd dat ons net sekere verse kies en dan ons leer daarop bou. Die vraag is dan waarom ons die ander uitlos wat miskien op iets anders van die doop klem lê? Die geheim van goeie Bybeluitleg is om balans te hou en nie die een vers bo die ander te kies nie. Ons praat van ‘n innerkanoniese (of binne-Bybelse) gesprek, waar ons al die betrokke verse wat oor ‘n saak, byvoorbeeld die doop, gaan saam lees en dan vra hoe ons dit moet verstaan sonder om die een bo die ander te bevoordeel, want dan kry jy eensydige verstane van die teks.

Natuurlik is daar maar een Here en een doop – die Christelike doop wat, as jy die artikels lees, die aanduiding is van die verandering wat in ‘n mens se lewe plaasvind as jy ‘posisies’ verruil van die negatiewe posisie van ‘n nie-gelowige tot die posisie van ‘n gelowige. Dit moes in die openbaar tussen jou nuwe ‘familie’ gedoen word sodat almal dit kan sien en kan weet waar jy nou tuishoort. Daarom is daar nie voorgeskryf presies hoe dit gedoen moet word nie (bv. baie of bietjie water, in ‘n rivier, dam of by ‘n doopbak) nie. Dit wat dit doop wou se, naamlik die verwisseling van posisies was die belangrikste.

Oor die groot en kleindoop kan jy heelwat op die webblad lees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Gee God om vir mense in nood?

Gee God om vir mense in nood? – Francois Malan

Alma vra:

Gee God om vir mense in nood.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Gen 35:3 Jakob moet by Betel  ‘n altaar gaan bou vir die God wat sy gebed verhoor het toe hy in die moeilikheid was.

Eks 3:7 Daarna sê die Here vir Moses: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor hulle slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry…

Dawid sê in 1 Konings 1:29: So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het…

En baie Psalms roep uit nood tot God:

Ps 12:6 Maar die Here sê: Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan die wat daarna smag.

Ps 25:17 Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende.

Ps 34:7 Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, en uit al my benoudhede het Hy my gered.

Ps 34:18 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede (vgl. Neh.9:27).

Ps 37:5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Ps 37:39 die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood.

Ps 46:2 God was nog altyd bereid om te help in nood.

Ps 50:15 Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer (vgl Ps. 86:7).

Ps 54:9 U het my uit elke benoudheid gered.

Ps 55:18-19 Hy hoor my roep. Hy sal my lewe red.

Ps 69:14 Die Here slaan ag op die armes, Hy vergeet nie sy mense wat gevangenes is nie.

Ps 91:15 in sy nood sal Ek by hom wees.

Ps 103:6 Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word…v13 soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Ps 109:31 Hy staan by die arme en red hom van dié wat hom ter dood wil veroordeel.

Ps 113:6-7 die Here ons God wat hoog woon en hier onder alles sien. Die geringe help Hy op uit die stof…

Ps 118:5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry (vgl. Ps 120:1).

Jer.14:8 Hoop van Israel, Redder in tyd van nood.

Jer 16:19 Here, my Sterkte, my Beskermer, my Toevlug in tyd van nood.

Toe die dissipels in nood was dat hulle skuit sal vergaan, het hulle na Jesus gegaan en Hom wakker gemaak, en Hy het die storm laat bedaar (Luk 8:22-25).

Toe Petrus begin sink in die see het hy uitgeroep: Here, red my! En Jesus het sy hand uitgesteek en hom gegryp (Mat 14:30-31).

Toe Herodes vir Petrus in die tronk gegooi het om hom te mishandel en selfs dood te maak, het die Here hom die nag uit die tronk verlos (Hand. 12:1-11).

Toe Paulus en Silas in die tronk in voetboeie gesit het, het God hulle met ‘n aardbewing bevry (Hand.16:22-28).

In Romeine 8:31-39 verseker Paulus die gemeentes dat God vír ons is, en dat geen benoudheid ons kan skei van die liefde van Christus nie; dat geen dood…of bose magte…ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Daniël se tydlyn

Daniël se tydlyn – Francois Malan

Jan Smith vra:

My vraag handel oor die rede waarom  die tydperk van sewentig sewetalle wat oënskynlik aaneenloop verdeel word in 69 sewetalle en een sewetal (7 dae of 7 jaar). Laasgenoemde om iewers in die toekoms van toepassing te wees in 31/2 jaar vrede en 31/2 jaar verdrukking gedurende die regering van ‘n antichrist?

Vers 24 sê sewentig sewetalle oor volk en heilige stad bepaal goddeloosheid te voleindig, maat van sondes vol te maak, ens.

Vers 25 sê van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors is 7 sewetalle en die opbou sal 62 sewetalle duur maar in tye van benoudheid.

Vers 26 sê na hierdie 62 sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word en ‘n volk van .n vors sal die stad en die heiligdom verwoes.

Vers 27 En hy (die vors van vers 26) sal een week ( 7 dae of 7 jaar) ‘n baie sterk verbond sluit en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou en wat daarop volg.

Vir my lyk dit of die vermelde periode aaneenlopend moet wees en dit wat daar geskryf staan reeds gebeur het gedurende die oorheersing van die Romeinse Ryk en die wreedaardige wyse waarop hulle te werk gegaan het.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Hoofstuk 9:1-2 sê dat Daniël in die eerste regeringsjaar van Darius die Meder (538 v.C.) uit die Skrifte vasgestel het dat, volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het (Jer. 25:12-14; 29:10-14), Jerusalem 70 volle jare (die volle lengte van ‘n mens se lewe) ’n puinhoop sou wees. Terwyl Daniël nog die sonde van sy volk bely en vra dat die Here die ballingskap in Babel tot ‘n einde sal bring, kom die engel Gabriël teen die aandoffer vir Daniël inlig. Gabriël herinterpreteer die profesie van Jeremia sodat die visioen van Jeremia uitgebrei word om ook van toepassing gemaak te word op ‘n later tyd (9:21-23).

V24. Jeremia se 70 weke word hier herinterpreteer as sewentig sewetalle of sewentig weke (NAV sewentig tydperke).

Sommige sien hierin ‘n verband met Lev 25 se bepaling dat die land ná sewe jaar moet rus, iets wat die volk nie voor die ballingskap gedoen het nie, en dat die ballingskap vir 70 jaar sou aanhou ‘totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is’ (2 Kron. 36:21). Dit beteken tien sabbatsjare (10 x 7 = 70) vir die duur van die ballingskap.

Maar die herinterpretasie deur Gabriël as sewentig sewetalle (70 x 7 = 490) verleng die tydperk in ronde getalle vanaf die begin van die ballingskap tot by die tyd van Israel se onderdrukking deur die Griekse koning Antiogus Epifanes. Die begin van die ballingskap kan verwys na die tyd toe Jeremia geprofeteer het (605 v.C. volgens Jer. 25:1,2) of na die val van Jerusalem in 597 v.C.. Antiogus het in Jerusalem regeer van 175-164 v.C.

In openbaringsboeke soos Daniël en Openbaring het getalle simboliese waarde en moet nie probeer word om dit tot letterlike tydlyne te beperk nie. 7 is simbool vir volledigheid of volkomenheid; 10 is simbool vir afgerondheid, afgeronde getalle. Daarby word hier nie duidelik gesê dat die sewentig sewes na jare verwys nie – eerder na sewentig tydperke.

[Terwyl groot dele van Daniël waarskynlik in Daniël se tyd tydens die ballingskap geskryf is, is die boek uitgebrei en met visioene aangevul in die tyd ná die ballingskap en veral tydens die onderdrukking deur die Grieke].

Die ‘sewentig sewes’ word beskryf as ‘n tyd vir Daniel se volk (Israel) en vir sy heilige stad (Jerusalem), waarin daar ‘n einde gemaak sal word aan die goddeloosheid en die sondes (onder Antiogus), en versoening gedoen word vir die oortredinge; ‘n tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioene tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word.

9:25-26 Die tyd na die ballingskap word ingedeel in drie tydperke (7 + 62 + 1 = 70).

Die eerste sewe tydperke strek vandat die opdrag gegee is (letterlik: ‘n woord uitgegaan het) dat Jerusalem herstel en herbou moet word (deur die dekreet van Kores in 538 v.C.) totdat die regeerder sal kom wat deur God uitverkies is (letterlik: ‘n gesalfde – Messias – ‘n leier). Die regeerder waarvan hier sprake is, word met Serubbabel of sy tydgenoot Josua die hoëpriester vereenselwig (vgl. Haggai 1:1,14).

Gedurende die tweede tydperk van 62 sewes of 62 tydperke sal Jerusalem opgebou bly, maar dit sal moeilike tye wees wat selfs verdedigingslote sal verg. Die einde van hierdie tydperk breek aan wanneer ‘n regeerder (letterlik ‘n gesalfde) onskuldig doodgemaak word (Toe Antiogus koning geword het in 175 v.C. is die ortodokse Onias III as hoëpriester vervang deur sy broer Jason wat meer Grieksgesind was, en Jason is deur Onias se teenstander se seun Menelaus vervang. Menelaus het Onias III in 171 v.C. laat vermoor. Dit het sewe jaar van moeilikheid vir die Jode en hulle godsdiens ingelei). 9:26 sê: die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ‘n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn (dit is Antiogus). Die einde sal kom soos ‘n oorstroming. Dit beteken daar sal oorlog en rampe wees.

9:27 Die laaste tydperk word in twee verdeel. Tydens die eerste helfte sal die regeerder ‘n vaste ooreenkoms aangaan met die vooraanstaandes (of ‘die menigte’ – dit verwys na die verGrieksing van die samelewing, met bv. spele en sport in gimnasiums – gumne in Grieks beteken kaal, soos die vernames en selfs priesters nakend in die arena deelgeneem het).

Die tweede helfte van die laaste sewe sal die regeerder die diereoffers en graanoffers afskaf. Hy sal op die hoek van die tempel ‘n ding sit wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, en dit sal daar staan tot alles verby is (Antiogus het ‘n altaar vir die Griekse hoofgod Zeus op die tempelplein opgerig waar varke geoffer is volgens Griekse gebruik). Dan sal oor die regeerder wat soveel verwoesting aanrig, losbars wat oor hom besluit is (Antiogus se opdrag dat almal vir Zeus moet offer het gelei tot die opstand wat deur die Makkabeërs gelei is van 167-165 v.C, toe die tempel heringewy is, en met die dood van Antiogus in 164 v.C.).

So is Jeremia se profesie herinterpreteer in die tyd van Antiogus se onderdrukking. En Daniël se profesie is in Matteus 25:15 weer herinterpreteer met die oog op die tyd toe die Romeine Jerusalem ingeneem het en die stad en tempel in 70 n.C. deur die Romeinse generaal Titus ingeneem en verwoes is. In 2 Thes. 2:4 word dit nogmaals herinterpreteer met die oog op die antichris en die wederkoms van Christus.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Troonkamer van God

Die Troonkamer van God – Francois Malan

‘n Leser vra:

Het jul asb ‘n uiteensetting oor die Troonkamer van God en die wyse waarop die Koning se troonkamer betree behoort te word.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Konings 22:19 sê die profeet Miga: Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan…en die Here het toe aan Miga geopenbaar hoe die valse profete leuens verkondig.

Ps 9:5 sê: Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied (vgl. ook 9:8; Die Here is altyd op sy troon; op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir regspraak.)

Ps 11:4: Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop; sy oë keur die menskinders.

Ps 45:7 U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas; met u koninklike septer laat U geregtigheid geskied.

Ps 47:9 God is koning oor die nasies, God is op sy heilige troon.

Ps 89:15 U troon is gebou op geregtigheid en reg; liefde en trou staan in u diens (vgl. Ps 97:2).

Ps 103:19  Die Here het sy troon in die hemel gevestig; sy heerskappy sterk oor alles en almal.

Mat.5:34 noem die hemel die troon van God.

Mat. 19:28 Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy heerlike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.

Mat.25:31 Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy as regter op sy koninklike troon gaan sit…om te oordeel tussen dié wat Hom as sy skape gevolg het en dié mense wat as bokke Hom nie gevolg het in sy liefde en barmhartigheid teenoor ander nie.

Stefanus haal Jes.66:1-2 aan in Hand.7:49 Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here .

Hebr.4:16 sê: omdat Jesus ons barmhartige Hoëpriester is wat uit liefde Homself vir ons sonde geoffer het – kom ons gaan dan met vrymoedigheid na God se genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang, en só op die regte tyd gered kan word (vgl. Hebr. 8:1; 12:2).

In Openbaring word 36x na die troon van God verwys. Van die Nuwe Jerusalem wat uit die hemel neerdaal op die nuwe aarde sê Openbaring 22:3 die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien.

Die troon van God is slegs ‘n beeld om na God se koningskap en sy heerskappy te verwys – die hemel is sy troon en die aarde die voetbank van sy voete. Daar is nie ‘n saal êrens waar God regeer nie, Hy regeer oor hemel en aarde, oor alles wat Hy geskep het.

Hoe ons sy troonsaal kan betree – ons kan alleen voor God verskyn deur in Jesus Christus te glo, en Hom te volg waar Hy ons deur sy woord en Gees lei. 1 Timoteus 2:5 sê: Daar is immers net een God, en daar net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het. Efesiërs 5:25-27 sê: Christus het die kerk liefgehad en het sy lewe daarvoor afgelê, om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water (van die doop) en die woord gereinig het (deur ons met sy woord te oortuig en te lei in ons lewe), sodat Hy die kerk (elke gelowige) in sy volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergelyks (sonder enige sonde), heilig (aan God gewy) en onberispelik (niemand kan ons by God aankla nie, want Jesus het reeds vir ons betaal). En 2 Korintiërs 3:18 sê: Ons word ál meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. Die heerlikheid wat die Heilige Gees besig is om in ons te bewerk word in Galasiërs 5:22-23 uitgestippel as: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. So kan ons die troonsaal van God betree.

 

Skrywer: Prof Francois Malan