Die Troonkamer van God

Die Troonkamer van God – Francois Malan

‘n Leser vra:

Het jul asb ‘n uiteensetting oor die Troonkamer van God en die wyse waarop die Koning se troonkamer betree behoort te word.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Konings 22:19 sê die profeet Miga: Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan…en die Here het toe aan Miga geopenbaar hoe die valse profete leuens verkondig.

Ps 9:5 sê: Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied (vgl. ook 9:8; Die Here is altyd op sy troon; op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir regspraak.)

Ps 11:4: Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop; sy oë keur die menskinders.

Ps 45:7 U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas; met u koninklike septer laat U geregtigheid geskied.

Ps 47:9 God is koning oor die nasies, God is op sy heilige troon.

Ps 89:15 U troon is gebou op geregtigheid en reg; liefde en trou staan in u diens (vgl. Ps 97:2).

Ps 103:19  Die Here het sy troon in die hemel gevestig; sy heerskappy sterk oor alles en almal.

Mat.5:34 noem die hemel die troon van God.

Mat. 19:28 Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy heerlike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.

Mat.25:31 Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy as regter op sy koninklike troon gaan sit…om te oordeel tussen dié wat Hom as sy skape gevolg het en dié mense wat as bokke Hom nie gevolg het in sy liefde en barmhartigheid teenoor ander nie.

Stefanus haal Jes.66:1-2 aan in Hand.7:49 Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here .

Hebr.4:16 sê: omdat Jesus ons barmhartige Hoëpriester is wat uit liefde Homself vir ons sonde geoffer het – kom ons gaan dan met vrymoedigheid na God se genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang, en só op die regte tyd gered kan word (vgl. Hebr. 8:1; 12:2).

In Openbaring word 36x na die troon van God verwys. Van die Nuwe Jerusalem wat uit die hemel neerdaal op die nuwe aarde sê Openbaring 22:3 die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien.

Die troon van God is slegs ‘n beeld om na God se koningskap en sy heerskappy te verwys – die hemel is sy troon en die aarde die voetbank van sy voete. Daar is nie ‘n saal êrens waar God regeer nie, Hy regeer oor hemel en aarde, oor alles wat Hy geskep het.

Hoe ons sy troonsaal kan betree – ons kan alleen voor God verskyn deur in Jesus Christus te glo, en Hom te volg waar Hy ons deur sy woord en Gees lei. 1 Timoteus 2:5 sê: Daar is immers net een God, en daar net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het. Efesiërs 5:25-27 sê: Christus het die kerk liefgehad en het sy lewe daarvoor afgelê, om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water (van die doop) en die woord gereinig het (deur ons met sy woord te oortuig en te lei in ons lewe), sodat Hy die kerk (elke gelowige) in sy volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergelyks (sonder enige sonde), heilig (aan God gewy) en onberispelik (niemand kan ons by God aankla nie, want Jesus het reeds vir ons betaal). En 2 Korintiërs 3:18 sê: Ons word ál meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. Die heerlikheid wat die Heilige Gees besig is om in ons te bewerk word in Galasiërs 5:22-23 uitgestippel as: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. So kan ons die troonsaal van God betree.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Genesing

Genesing – Francois Malan

Tershia vra:

Ek sal graag wil lees oor genesing. Moet ons bid vir genesing vir iemand of buig ons voor die Heer in genade en vra HOM, die Soewereine God om SY wil te laat geskied? Hoe weet ons dat wat ons met ons klein menslike verstand van God vra BINNE Sy wil is en of dit wat NOU sleg of nie aangenaam is nie deel uitmaak van n groter plan vir ons?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Jakobus 5:13-16 bespreek in ‘n sekere sin die vraag.

Vers 13 begin met iemand in die gemeente wat swaarkry. Die Griekse woord van die oorspronklike teks verwys na fisiese pyn, ‘n probleem van die liggaam, ‘n ellendige gevoel, na lyding wat voortduur. So ‘n gelowige moet tot die Here bid daaroor (in 5:10-11 het hy reeds verwys na die profete wat in die Naam van die Here gepraat het in hulle lyding en hoe hulle volhard het om met God te praat, met Job as ‘n voorbeeld). Maar ons moet nie net wanneer ons in nood verkeer met die Here praat nie; wanneer ons bemoedig word of bemoedig is en daarom bly is, moet ons voortgaan om met God te praat, om Hom voortdurend te dank en te loof, sê vers 13. So  moet ons lewe met ons gedagtes gerig op God.

‘n Volgende moontlikheid vir ‘n gelowige word in vers 14 uitgespel, vir iemand wat siek is en daarom verswak is, met ander woorde iemand wat ernstig siek is. So ‘n gelowige kan die ouderlinge as verteenwoordigers van die gemeente laat roep om in gebed met God te praat vir hom/haar; om so iemand met olie te salf in die Naam van die Here. Olie was in die antieke tyd gebruik as medisyne (vgl. Lukas 10:34), maar was ook ‘n teken van die werking van God. Die Here kan gevra word om die medisyne te gebruik in die heling van die persoon, maar die salwing is ook ‘n teken dat op die Here vertrou word vir die genesing (Markus 6:13).

Vers 15 sê dat die gebed van die gelowige, die gebede van gelowiges wat op die Here vertrou vir genesing, kan of sal selfs die ernstige sieke genees. As hy/sy moontlik sonde gedoen het deur teen die wil en woord van die Here op te tree het, sal die Here dit ook vergewe (Romeine 2:4 sê: God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld…Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?).

Vers 16 roep ons juis op om ons sondes eerlik teenoor mekaar te bely en vir mekaar te bid, vir mekaar by die Here in te tree, sodat Hy ons gesond kan maak.

Letterlik staan daar in 16b: groot krag word bewerk deur die gebed van die regverdige (NAV gelowige). Die regverdige verwys na ‘n persoon wat in die regte verhouding tot God lewe, deurdat hy/sy aan Jesus Christus verbind is, deur geloof wat die Heilige Gees in ons bewerk deurdat Hy ons oortuig dat Jesus, wat aan die kruis gesterf het, God is wat, uit liefde vir ons, self die straf gedra het vir ons sonde teen Hom, en dat Jesus opgestaan het om as die Here van ons lewe met liefde oor ons te regeer.

Deur die Heilige Gees het God self in ons kom woon (Romeine 8:9-17). Die Gees verbind ons aan die Seun van God, sodat ons saam met Hom kinders van God is, wat deel het aan Christus se lyding en aan sy heerlikheid.

Terwyl die hele skepping sug omdat alles vergaan as God se straf op die mens se sonde (Rom 8:19-22), en ons mense ook sug onder lyding en dood (8:23-25), sug die Gees van God saam met ons (8:26). Maar ons lewe in die verwagting van God se verlossing en die Gees tree vir ons in by God, ook in ons swak gebede wat nie weet hoe en wat ons moet bid nie (8:26).

Maar daarvan kan ons seker wees: God het ons lief, Hy het ons verhouding met Hom reggestel deur Christus se offer aan die kruis. Hy is vír ons, en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie, selfs nie siekte of die dood nie (Rom. 8:31-39).

1 Johannes 5:14,15 sê: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Banvloek

Die Banvloek – Francois Malan

Faure vra: 

Wat is die betekenis van die banvloek? Kan ons dit vandag nog gebruik, mag ons dit gebruik?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Banvloek verwys na ‘n vervloeking wat iemand uit die gemeenskap verban.

In Romeine 9:3 sê Paulus selfs oor sy eie volksgenote wat nog nie in Christus wil glo nie: Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kan wees (vgl. Moses in Eksodus 32:32). In 1 Korintiërs 16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is Hy! In Galasiërs 1:8,9: Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het (nl. die evangelie van Christus, v7) – die vloek van God sal hom tref.

In Deuteronomium 27:15-26 word ‘n hele reeks van sondes aangestippel. Die mens wat dit doen, word onder die vloek van God se straf geplaas. Paulus verwys na die gedeelte in Deuteronomium in Galasiërs 3:10: Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet (om daardeur gered te word), val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie. Maar hy wat deur geloof geregverdig word – wie se verhouding met God reggestel is deur in Jesus te glo – sal lewe (Gal.3:11, vgl. Rom 1:17). Want Galasiërs 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deutr. 21:23)… so het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het  (Gal.3:14).

Die vloek beteken dat God so iemand verlaat, en aan hom/haarself oorlaat om te doen wat hulle wil, en so hulleself vernietig (vgl. Rom.1:18, 24,26-31). Die seën van God beteken dat Hy by ons is en in ons kom woon het deur sy Gees, wat ons sondaars aan sy Seun verbind met geloof in Hom, van ons sonde verlos, en dat ons as kinders van God kan lewe onder sy sorg en leiding (Romeine 8:9-17).

Dit is nie vir ons om iemand onder die banvloek te plaas nie, maar deur sy/haar sonde plaas hulle hulleself op ‘n pad weg van God af, en word dit soms nodig vir die gemeente om ‘n lidmaat wat in die sonde lewe uit die gemeente uit te sluit, sodat hy/sy kan besef wat hulle doen deur hulle rug op God en sy gebod te draai, en hulle so tot bekering kan kom (vgl. 1 Korintiërs 5:1-5).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Seun van die mens

Die Seun van die mens – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek is besig met evangelies, en kom telkens op die woorde van Jesus af “Die Seun van die mens” hoe kan dit verduidelik word?  

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die seun van die mens uitdrukking het ‘n baie lang geskiedenis van interpretasie en daar is uiteenlopende verklarings daarvoor. Een groep geleerdes meen dat die Seun van die mens konsep afkomstig is uit Daniël 7:13 [1] en dit beteken gewoon “seun van ‘n mens” (kleinletters) en moet nie as en of ander heilige titel gelees word nie.

Ander kies weer vir die hoofletters en sien dit as ‘n titel wat verwys na die tweede koms van Jesus (vgl. Mark 8:38; 13:26 en 14:62) wanneer die Seun van die Mens – bedoelende die verheerlikte Jesus as Messias, terugkom aarde toe. Ander geleerdes is weer van mening dat die Seun van die mens uitsprake in Markus nie te doen het met Jesus se wederkoms nie, maar dat dit eerder verwys na die verheerliking van Jesus na sy dood, toe hy op grond van die kruis en opstandingsgebeure die titel “Seun van die Mens” ontvang het. Hier gaan dit oor die ontwikkeling van die konsep nadat Jesus gekruisig en opgestaan het,  en gelowiges die kruis en opstandingsgebeure teologies geïnterpreteer het, en aan Jesus die verheerlike titel “Seun van die Mens” toegeskryf het.

Sommige geleerdes soos Vermes het weer geoordeel dat die begrip eerder afkomstig is van die Aramese woorde bar nasha, en as ‘n sinoniem vir “mens” – maw “seun van ‘n/die mens” of as ‘n generiese beskrywing van die “mens” verstaan moet word. Geleerdes soos Loba-Mkole (2003:839) stem ook daarmee saam en meen: “Notwithstanding the different forms and states, the central meaning of the Aramaic expression seems to have remained the same, namely a male human person. In other words, in Aramaic the expression “Son of man” refers to a human being in generic, indefinite and circumlocutional sense’. Jesus verwys na homself as die seun van die mens en dit kan generies net beteken “mens”.

Myns insiens moet Seun van die Mens verstaan word as ‘n titel wat Jesus kry na sy dood en opstanding en dat dit verwys na die verwagting dat Jesus terugkom met die wederkoms.

Hierdie inligting is maar net ‘n eenvoudige oorsig oor ‘n baie komplekse akademiese gesprek.

U kan gerus die volgende bron raadpleeg:

Wright, N T 1996. Christian origins and the question of God, Vol. 2: Jesus and the victory of God. London: SPCK.

Van Eck, E., 2011, ‘Eschatology and Kingdom in Mark’, in Van der Watt, J.G., (red.), Eschatology of the New Testament and Some related Documents, Mohr Siebeck, WUNT.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok