Ek hoor stemme

Ek hoor stemme – Kobus Kok

Amelda vra:

Ek wil baie graag weet: ek word tussen 2 en 4 in die oggend wakker maar met ‘n rustige gevoel.  Ek weet dis die Heilige Gees wat my wil laat bid en met Hom praat. Daar is nou paar keer wat ek wakker word, dit voel of iemand hard maar verseker my naam noem. AMELDA!!! Ek het nou al wakker geword en gedink my man roep my maar dan lê hy en slaap. Is dit die Here wat my roep?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wat om te doen as jy stemme hoor: Is dit die Here?

Prof Kobus Kok

Positiewe kant van die saak

In die antieke tyd het mense ook stemme gehoor en dikwels getuig dat iemand hulle naam roep. Die bekendste voorbeeld is in 1 Sam 3:10 waar die Here herhaaldelik vir Samuel roep en uiteindelik nadat Samuel geantwoord het “Spreek, want u kneg luister”, het die Here met hom gepraat oor Sy plan met die volk Israel en sy rol daarin. Hierdie tipe hoor van stemme word as positief beskou aangesien mense dit interpreteer as die Here se manier om jou aandag te trek en met jou te kommunikeer. In Amelda se geval het die hoor van die stem ‘n positiewe en opbouende uitwerking. Dit veroorsaak nie angs nie, en dit lei tot n oproep om gebed, soos Amelda dit interpreteer.

Negatiewe kant van die saak

Onlangse navorsing aan die Manchester universiteit het aangetoon dat baie mense stemme hoor, maar dat dit net diegene is vir wie dit negatiewe ervarings inhou wat dit rapporteer (http://news.bbc.co.uk/2/hi/health/5346930.stm). In die verlede is die hoor van stemme aan psigologiese patologie verbind. Die nuutste navorsing het aangetoon dat die hoor van stemme nie noodwendig n patologie veronderstel nie. Inteendeel, dit help baie mense om sin te maak van moeilike omstandighede en die verwerking van trauma. Indien die hoor van stemme vir jou n probleem word en met angs geassosieer word, dan moet jy eerder ‘n professionele psigoterapeut gaan sien. Uiteindelik weet mens self, en ook die mense rondom jou wanneer dit tyd is om iemand professioneel te sien.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Salwing van jou huis

Salwing van jou huis – Kobus Kok

Sonja Pretorius vra: 

Ek het opgelees oor julle antwoorde oor salwing, maar ek bly nog steeds ‘n vraag hê. Wat beteken as iemand ‘n huis salf met gebed en olie gebruik? Kan enige iemand dit doen? Hoekom word dit gedoen? As jy die kind van die Here is en jy vertrou Hom waarom twyfel jy oor die seëninge van die Here oor jou en vir wie jy bid?

Antwoord

 

Prof Kobus Kok antwoord:

Ek stem saam dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Baie Wonings

Baie Wonings – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In Johannes 14 sê Jesus dat daar in die huis van Sy Vader baie wonings is en dat Hy gaan om vir hulle plek te berei. As Hy klaar is, sal Hy terugkom en hulle kom haal sodat hulle kan wees waar Hy is. Maar in vers 18 sê Hy: Ek kom weer na julle toe. En dan in vers 23: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak”. Vraag: Hoe gaan Hy weg om vir hulle ‘n plek te berei en dan kom “Ons” Hy en die Vader om by hom wat hulle liefhet woning te maak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Jesus was self ontsteld toe Hy die kruispad begin het (Joh 12:27) en aan die verraad van Judas gedink het (Joh 13:21). In die lig van Petrus se verloëning wat Jesus voorspel het (13:36-38), wat gaan van die twaalf word as Jesus aan die kruis hang?  Daarom waarsku Hy hulle vooraf in 14:1 om nie ontsteld te word oor wat nou met Hom gaan gebeur nie, maar om aan te hou om op God te vertrou, en om aan te hou om in Jesus te glo as die Gesalfde/die Christus, die Seun van God en Seun van die mens wat aan die kruis sterf – Abraham se soort geloof word van hulle gevra: wat teen alle hoop in, steeds in hoop geglo het (Romeine 4:18 NAV: toe daar geen hoop meer was nie, het Abrahm nog gehoop en geglo)

Die hoofrede waarom hulle moet bly glo in die gekruisigde Jesus word gegee met die beskrywing van die groot huis van sy Vader, ‘n beeldende beskrywing van die ewigheid saam met God, van die hemel (14:2); die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem (Hebreërs 12:22); die nuwe Jerusalem van Openbaring 21:9-22:5; ons vaste woning deur God gebou wat ewig bly staan as ons aardse tentwoning afgebreek word (2 Korintiërs 5:1). Die ewige woning bestaan reeds, maar Jesus gaan vir sy volgelinge plek berei, om dit vir ons moontlik te maak om daar te gaan bly, deur sy sterwe aan die kruis, waaroor Hy juis in hoofstukke 12-14:1 met sy dissipels gepraat het, en sy opwekking uit die dood, wat voor die deur staan, en sy verhoging aan die regterhand van God, waar Hy nou vir ons pleit (Romeine 8:34).

As Hy weer kom om te oordeel, sal Hy ons saam met Hom neem na sy huis toe, sodat ons saam met Hom sal wees waar Hy is (14:3), in die woning van sy Vader waar daar baie woonplek is. Met die beeld van die woonplek verwys Johannes na die lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word, waarvan 1 Petrus 1:3-4 praat. Openbaring 21:1-8 praat van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Vgl. Matteus 25:31-40 dat Jesus in majesteit sal kom en vir sy skape sal sê: Kom julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

Johannes 14:23 beloof dat die Vader en Jesus na dié mens toe sal kom wat vir Jesus liefhet en lewe volgens sy woord (14:15), en hulle sal by hom woon. Die wyse waarop dit gebeur is reeds in 14:16-17 uitgespel. Deur die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige, woon die Vader en die Seun in ons. Die Gees van God bly by ons en in ons vir ewig as ons Helper. In 14:26 word verduidelik dat die Vader die Gees in die Naam van Jesus stuur, as Jesus se verteenwoordiger,  om ons alles te leer en te herinner wat Hy vir sy dissipels gesê het, en wat vir ons in die Bybel opgeteken is (so het Jesus ook in die Naam van die Vader gekom as sy verteenwoordiger; 5:43).

In 15:26 sê Jesus: die Gees van die waarheid sal van Hom getuig. Daarvoor gebruik die Gees die dissipels om van Jesus te getuig, en hulle getuienis is in die Bybel opgeneem. Maar word verder gedra deur die lewe en getuienis van elke gelowige volgeling van Jesus. Hy maak ons verstand oop om te verstaan wat Jesus deur sy dissipels aan ons oorgedra het: Jesus se woorde en dade, van sy dood en opstanding, en die betekenis daarvan te begryp.

In 16:7-15 brei Jesus verder uit op die werk waarvoor Hy die Heilige Gees na en in ons stuur: om die wêreld te oortuig van hulle sonde teen God en teen mekaar, van Christus wat die verhouding tussen ons en God kom regmaak het deur sy offer aan die kruis, en van oordeel oor die wat nie in Christus glo nie. Hy skep ook die geloof in ons dat Jesus die Seun van God is wat vir ons gesterf en opgestaan het, en verbind ons aan Hom as ons Verlosser en Leier (Handelinge 5:31-32). Hy maak van ons kinders van God (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die kerk: Plek van stilte

Die kerk: Plek van stilte – Francois Malan

Sonet vra:

Het die Kerk begin heiligheid verloor? Is dit nie veronderstel om ‘n plek van stil word voor God en in aanbidding naby aan Hom te wees nie?

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord Kerk beteken: die mense van die Here Jesus Christus (Grieks kuriake ‘die Here s’n’).

Die kerkgebou is die plek waar die gemeente van Jesus bymekaarkom, waar ons saam ‘n erediens hou.

Die erediens is die samekoms van Christus se gemeente, mense wat aan Hom en aan mekaar in liefde verbind is deur ons geloof in Hom as ons Verlosser. Die doel van ons samekoms is:

  1. om saam God te aanbid met die belydenis dat Hy ons God en Vader is deur sy Seun Jesus Christus. Daar bid ons dat sy Naam geheilig word, sy koninkryk mag kom, en sy wil op aarde geskied. Daarmee vra ons ook dat God in ons as sy gemeente en in elke kind van Hom moet werk, sodat ons samelewing en ons lewens sy Naam sal heilig, sy koninkryk laat kom en sy wil laat geskied.
  2. om saam God te loof en te dank vir sy genade en goedheid en sorg oor ons, waar ons ook vra om sy sorg vir ons daaglikse brood, sy vergifnis van ons sonde (soos ons mekaar ook vergewe), en dat Hy ons verlos van die Bose, ook van die bose in ons eie harte en gemeentelike lewe (vgl. Matteus 6:9-13).
  3. om saam te luister na sy Woord, deurdat die Bybel verduidelik en toegepas word op ons lewe – sodat ons Hom beter kan ken, sy wil vir ons lewe beter kan insien, om ons lewe te kan toets aan sy wil en ons sonde en tekortkomings duidelik kan word, sodat ons sy vergifnis daarvoor kan vra, en nuut begin lewe (vgl. 2 Kor 5:17-19).
  4. om saam te bely dat dit alles slegs moontlik is deur Heilige Gees van God wat in kom woon het om ons aan Christus te verbind, en ons al meer soos Christus te laat word, om soos kinders van God te lewe (Romeine 8:12-17; 2 Kor 3:18).

Heiligheid – beteken dat ons aan God gewy is. Die heiligheid van die gemeente beteken dat ons doen en lewe volgens ons Vader se wil en wense. Romeine 12:1 sê: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Efesiërs 5:17-21 sê: probeer te wete kom wat die Here wil hê dat julle moet doen…laat die Gees julle vervul en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere, sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

‘Met die Gees vervul word’ beteken om vol te word met insig in die wil van die Here as die maatstaf vir ons lewe, en dan so te gaan lewe.

‘sing onder mekaar’ met blydskap, waarmee die Gees ons harte en ons hele lewe vul en wat oorborrel in sang.

‘aan mekaar onderdanig wees’- om nie langer myself en my belange in die sentrum van my lewe te plaas nie, maar om ander se belange selfs belangriker te ag as myne (vgl. Filippense 2:3-4 en Romeine 12:3).

‘in die Naam van ons Here Jesus Christus’ beteken dat ons dank en lofsing as mense vir wie Jesus verlos het van ons self en van ons sonde, en ons met God versoen het om as kinders van God te lewe onder sy leiding en met die krag van sy Gees wat in ons woon.

Die kerk is nie die plek waar ek alleen stil word voor die Here nie, maar waar ek, saam met die ander kinders van die Here, Hom aanbid, met vreugdesange sy lof besing, saam na sy woord luister en daarvolgens gaan lewe. Dit moet vir die wêreld duidelik word uit ons liefde vir mekaar en ons blydskap in die Here. Die heiligheid van die kerk kom in die eerste plek uit in die liefde vir God en vir mekaar, maar ook vir ons vyande (Matteus 5:44,45 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel….’

 

Skrywer: Prof Francois Malan