Vloeke

Vloeke – Francois Malan

Martin vra:

Ons vraag handel oor bloedlyn vloeke: 1) Waar in die Bybel word daarna verwys 2) Hoe word dit verbreek en is dit Bybels 3) Het Jesus of sy dissipels bloedlyn vloeke gebreek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Seën en vloek het altyd met God te doen. Dit is Hy wat seën en Hy wat vervloek. In Deuteronomium 27:14-26 word ‘n hele reeks oortredings genoem wat die Here se vloek op die volk sal bring. In hoofstuk 28:1-14 word ‘n lys van seëninge gegee waarmee die Here die mense sal seën wat sy wil doen, en van vers 15-68 al die strawwe waarmee die Here die mense wat nie na Hom luister nie sal straf (vgl. ook Levitikus 26). Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal die Here se seën of sy vloek. Die uitwerking van seën of vloek hang van God af. Spreuke 26:3 sê: ‘n vervloeking gaan by jou verby as jy dit nie verdien  nie.

Die seën van die Here beteken Hy met sy genadige en goedgunstigheid by jou teenwoordig is. In die Ou Testament sê die Here: Ek is jou God en jy is my volk vir wie Ek met my krag versterk en beskerm (vgl. sy seën op Abraham in Genesis 12:1-3). In die Nuwe Testament sê Jesus: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy doen dit deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons aan Hom te verbind, ons daagliks te lei en te versterk (Johannes 14:15-17; Romeine 8:8-17). En niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

Die vloek van God beteken dat Hy jou los en jou oorgee aan die krag van sy vloek wat jou ongeluk bewerk (Deuteronomium 28:20; Maleagi 2:2); dat Hy jou oorgee aan jou eie begeertes, aan die drange van jou harte, aan jou skandelike begeertes, om jouself te vernietig (Romeine 1:24-32) omdat jy Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:18-23). Sy vloek beteken dat jy deur God verlaat word. Maar Paulus sê vir die Korintiërs: So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God (1 Kor 6:11). Jesus was aan die kruis deur God verlaat om in ons plek die vloek van God oor ons sonde te dra (Matteus 27:46).

Bloedlyn vloeke – in Eksodus 20:5-6 eis die Here onverdeelde trou aan Hom, maar vir die kinders van die mense wat dit nie doen nie word die sondes van hulle vaders toegereken tot die derde en vierde geslag van die mense wat die Here nie heelhartig liefhet nie. Die onverskilligheid en louheid teenoor die Here is aansteeklik in ‘n familie of in ‘n gemeenskap wat die Here nie van harte liefhet nie. Die kinders volg die pad van hulle ouers, en word dikwels nog erger as hulle ouers. Maar die Here betoon sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Ook die ouers se opregte toewyding aan die Here en in liefde met mekaar lewe beïnvloed die lewe van hulle kinders om die Here te dien. Die mens wat omdraai en die Here liefhet staan nie langer onder die vloek van die Here nie, maar onder sy liefde. En die Here se seën is duisend maal meer as sy vloek van die derde en vierde geslag van die mense wat nie met Hom rekening hou in hulle lewe en optrede nie.

In Galasiërs 3:8-14 verwys Paulus na God se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3: in jou sal al die nasies geseën word. Dit is dus dié wat in Jesus glo wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op hulle onderhouding van die wet, val onder die vloek. Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan geskryf: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deuteronomium 21:23). Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof in Christus die Gees ontvang wat God beloof het.

Vir die Korintiërs sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Maar die genade van die Here Jesus sal by julle wees (1 Kor. 16:22,23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Ek hoor stemme

Ek hoor stemme – Kobus Kok

Amelda vra:

Ek wil baie graag weet: ek word tussen 2 en 4 in die oggend wakker maar met ‘n rustige gevoel.  Ek weet dis die Heilige Gees wat my wil laat bid en met Hom praat. Daar is nou paar keer wat ek wakker word, dit voel of iemand hard maar verseker my naam noem. AMELDA!!! Ek het nou al wakker geword en gedink my man roep my maar dan lê hy en slaap. Is dit die Here wat my roep?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wat om te doen as jy stemme hoor: Is dit die Here?

Prof Kobus Kok

Positiewe kant van die saak

In die antieke tyd het mense ook stemme gehoor en dikwels getuig dat iemand hulle naam roep. Die bekendste voorbeeld is in 1 Sam 3:10 waar die Here herhaaldelik vir Samuel roep en uiteindelik nadat Samuel geantwoord het “Spreek, want u kneg luister”, het die Here met hom gepraat oor Sy plan met die volk Israel en sy rol daarin. Hierdie tipe hoor van stemme word as positief beskou aangesien mense dit interpreteer as die Here se manier om jou aandag te trek en met jou te kommunikeer. In Amelda se geval het die hoor van die stem ‘n positiewe en opbouende uitwerking. Dit veroorsaak nie angs nie, en dit lei tot n oproep om gebed, soos Amelda dit interpreteer.

Negatiewe kant van die saak

Onlangse navorsing aan die Manchester universiteit het aangetoon dat baie mense stemme hoor, maar dat dit net diegene is vir wie dit negatiewe ervarings inhou wat dit rapporteer (http://news.bbc.co.uk/2/hi/health/5346930.stm). In die verlede is die hoor van stemme aan psigologiese patologie verbind. Die nuutste navorsing het aangetoon dat die hoor van stemme nie noodwendig n patologie veronderstel nie. Inteendeel, dit help baie mense om sin te maak van moeilike omstandighede en die verwerking van trauma. Indien die hoor van stemme vir jou n probleem word en met angs geassosieer word, dan moet jy eerder ‘n professionele psigoterapeut gaan sien. Uiteindelik weet mens self, en ook die mense rondom jou wanneer dit tyd is om iemand professioneel te sien.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Salwing van jou huis

Salwing van jou huis – Kobus Kok

Sonja Pretorius vra: 

Ek het opgelees oor julle antwoorde oor salwing, maar ek bly nog steeds ‘n vraag hê. Wat beteken as iemand ‘n huis salf met gebed en olie gebruik? Kan enige iemand dit doen? Hoekom word dit gedoen? As jy die kind van die Here is en jy vertrou Hom waarom twyfel jy oor die seëninge van die Here oor jou en vir wie jy bid?

Antwoord

 

Prof Kobus Kok antwoord:

Ek stem saam dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Baie Wonings

Baie Wonings – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In Johannes 14 sê Jesus dat daar in die huis van Sy Vader baie wonings is en dat Hy gaan om vir hulle plek te berei. As Hy klaar is, sal Hy terugkom en hulle kom haal sodat hulle kan wees waar Hy is. Maar in vers 18 sê Hy: Ek kom weer na julle toe. En dan in vers 23: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak”. Vraag: Hoe gaan Hy weg om vir hulle ‘n plek te berei en dan kom “Ons” Hy en die Vader om by hom wat hulle liefhet woning te maak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Jesus was self ontsteld toe Hy die kruispad begin het (Joh 12:27) en aan die verraad van Judas gedink het (Joh 13:21). In die lig van Petrus se verloëning wat Jesus voorspel het (13:36-38), wat gaan van die twaalf word as Jesus aan die kruis hang?  Daarom waarsku Hy hulle vooraf in 14:1 om nie ontsteld te word oor wat nou met Hom gaan gebeur nie, maar om aan te hou om op God te vertrou, en om aan te hou om in Jesus te glo as die Gesalfde/die Christus, die Seun van God en Seun van die mens wat aan die kruis sterf – Abraham se soort geloof word van hulle gevra: wat teen alle hoop in, steeds in hoop geglo het (Romeine 4:18 NAV: toe daar geen hoop meer was nie, het Abrahm nog gehoop en geglo)

Die hoofrede waarom hulle moet bly glo in die gekruisigde Jesus word gegee met die beskrywing van die groot huis van sy Vader, ‘n beeldende beskrywing van die ewigheid saam met God, van die hemel (14:2); die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem (Hebreërs 12:22); die nuwe Jerusalem van Openbaring 21:9-22:5; ons vaste woning deur God gebou wat ewig bly staan as ons aardse tentwoning afgebreek word (2 Korintiërs 5:1). Die ewige woning bestaan reeds, maar Jesus gaan vir sy volgelinge plek berei, om dit vir ons moontlik te maak om daar te gaan bly, deur sy sterwe aan die kruis, waaroor Hy juis in hoofstukke 12-14:1 met sy dissipels gepraat het, en sy opwekking uit die dood, wat voor die deur staan, en sy verhoging aan die regterhand van God, waar Hy nou vir ons pleit (Romeine 8:34).

As Hy weer kom om te oordeel, sal Hy ons saam met Hom neem na sy huis toe, sodat ons saam met Hom sal wees waar Hy is (14:3), in die woning van sy Vader waar daar baie woonplek is. Met die beeld van die woonplek verwys Johannes na die lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word, waarvan 1 Petrus 1:3-4 praat. Openbaring 21:1-8 praat van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Vgl. Matteus 25:31-40 dat Jesus in majesteit sal kom en vir sy skape sal sê: Kom julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

Johannes 14:23 beloof dat die Vader en Jesus na dié mens toe sal kom wat vir Jesus liefhet en lewe volgens sy woord (14:15), en hulle sal by hom woon. Die wyse waarop dit gebeur is reeds in 14:16-17 uitgespel. Deur die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige, woon die Vader en die Seun in ons. Die Gees van God bly by ons en in ons vir ewig as ons Helper. In 14:26 word verduidelik dat die Vader die Gees in die Naam van Jesus stuur, as Jesus se verteenwoordiger,  om ons alles te leer en te herinner wat Hy vir sy dissipels gesê het, en wat vir ons in die Bybel opgeteken is (so het Jesus ook in die Naam van die Vader gekom as sy verteenwoordiger; 5:43).

In 15:26 sê Jesus: die Gees van die waarheid sal van Hom getuig. Daarvoor gebruik die Gees die dissipels om van Jesus te getuig, en hulle getuienis is in die Bybel opgeneem. Maar word verder gedra deur die lewe en getuienis van elke gelowige volgeling van Jesus. Hy maak ons verstand oop om te verstaan wat Jesus deur sy dissipels aan ons oorgedra het: Jesus se woorde en dade, van sy dood en opstanding, en die betekenis daarvan te begryp.

In 16:7-15 brei Jesus verder uit op die werk waarvoor Hy die Heilige Gees na en in ons stuur: om die wêreld te oortuig van hulle sonde teen God en teen mekaar, van Christus wat die verhouding tussen ons en God kom regmaak het deur sy offer aan die kruis, en van oordeel oor die wat nie in Christus glo nie. Hy skep ook die geloof in ons dat Jesus die Seun van God is wat vir ons gesterf en opgestaan het, en verbind ons aan Hom as ons Verlosser en Leier (Handelinge 5:31-32). Hy maak van ons kinders van God (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan