Moses en Jahweh se Naam

Moses en Jahweh se Naam – Marius Nel

Johan vra:

Wat is die betekenis van Moses se naam? Wat sê die Bybellennium oor ‘n “heiligdom in die woestyn”? Wat beteken die naam “Jahweh”?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Moses se naam beteken “uit die water gered” en ‘n mens kan dit ook uit Eksodus 2:10 aflei.

Die heiligdom in die woestyn verwys na die tent van samekoms of tabernakel, ‘n mobiele, draagbare heiligdom wat in ‘n tent gehuisves is en opgeslaan en vervoer kon word wanneer die Israeliete na die volgende kampplek vertrek het.

Jahwe is die eienaam van Israel se God en is afgelei van die woorde waarmee God Homself aan Moses se volk bekend stel, “Ek is wat Ek is”, en dit verduidelik dat Israel se God onveranderlik en ewig is.

Ek hoop dit beantwoord u vrae.

 

Skrywer: Prof Marius Nel




Die regterhand

Die regterhand – Francois Malan

Tjaart vra:

Ek is op soek na inligting oor die volgende tema: – Hoekom die regterhand en nie die linkerhand nie? Daar word 59 keer in die Bybel verwys na die regterhand. Alle belangrike sake word deur middel van die regterhand gedoen. Hoekom is die regterhand dan so belangrik?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die regterhand is die hand waarmee jy gee en ontvang en groet, die hand waarmee die meeste mense werk (terwyl die linkerhand vashou) en veg (met die swaard, terwyl jy die skild met jou linkerhand vashou) en word daarom as die belangrikste hand beskou is. Die woord regterhand is afgelei van die regte hand, wat vir meeste mense hulle regte hand is teenoor die linkerhand wat hulle dom hand is (vgl. die Duitse woord vir regterhand: Rechte Hand).  Daarvandaan kom ook die simboliese betekenis van die regterhand, dat dit die beste hand of plek is, waarmee ‘n dubbele seën gegee word (vgl. Genesis 48:13-19), die ereplek aan die regterhand (Ps 110:1).

Die regterhand van God is simbool van sy goddelike krag, waarmee Hy die land aan sy volk gee, en hulle uit Egipte verlos (Eks 15:6,12), die hemelkoepel uitgesprei (Jes 48:13 NAV vertaal regterhand met ‘mag’). Die regterhand het ook die betekenis dat dit ook ‘n hegte verbintenis aandui (Gal.2:9).

In die Bybel is die gebruik van die regterhand in twee opsigte beslissend belangrik:

1 In die oordeel skei Jesus die mense: die skape aan sy regterhand vir sy verlossing en ewige geluk, en die bokke aan sy linkerkant vir sy ewige straf (Matteus 25:31-46).

2 In die Nuwe Testament het die woord regterhand ‘n simbool geword vir die verhoging van Christus wat gaan sit aan die regterhand van God  om oor die hele skepping te regeer, te oordeel en te verlos (Hand 2:34 vgl. Mat 22:44; waar Ps 110:1 op Jesus se verhoging van toepassing gemaak is); as Leidsman en Verlosser om Israel tot bekering te bring en hulle sondes te vergewe (Hand 5:31 as vervulling van die troonsbestygingspsalms).

In die Nuwe Testament het die Griekse woord vir regterhand deksia ’n verbinding met die werkwoord om te ontvang dechomai vgl. Mat.10:40 ‘wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het’ waar dit oor gasvryheid handel. In Mat 18:5 ‘En wie so ‘n kindjie in My Naam ontvang, ontvang My’ word verwys na die versorging van hulle wat in nood is en hulp nodig het. Ook die aanneem van die Evangelie word met die woord aangedui in Hand 8:14; 11:1; 17:11 (NAV geluister); Mark. 10:15; ens.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf?

Wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf? – Kobus Kok

Jan Smith vra: 

Ek verneem graag in watter jare nC die onderskeie boeke van die NT geskryf is. Watter metode is van toepassing om dit outentiek te bepaal, asseblief? Baie dankie.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wanneer is die NT boeke geskryf, en hoekom het hulle kanon geword? 

Die Nuwe Testamentiese boeke is volgens navorsing almal geskryf tussen 48 n.C. en 110 n.C.

Die vroegste boek is 1 Tessalonisense. Ons weet dit, aangesien ons met die rekonstruksie van Paulus se sendingreise weet waar hy sekere tye was. Tessalonisense is op sy tweede sendingreis geskryf. Kort daarna verskyn Galasiërs en Korintiërs so teen 55 n.C. Romeine was Paulus se laaste brief kort voor sy dood in ongeveer 64 n.C.

Die evangelies is na alle waarskynlikheid na die val van die tempel in 70 n.C. geskryf. Johannes se evangelie en briewe was die laaste geskryf, waarskynlik tussen 90-110. Ons weet dit agv die verwysing na die val van die tempel, die eskatologie wat vervaag het, en die verwysing na die uitbanning uit die sinagoge wat aan die einde van die eerste eeu gekoppel word.

Die pastorale briewe is na die val van die tempel geskryf.

Openbaring is waarskynlik die jongste brief en word teen die einde van die eerste eeu geskryf of daarna. Daar was baie gesprek oor die vraag of Openbaring deel moet vorm van die kanon. Uiteindelik is dit aanvaar.

Die Nuwe Testamentiese boeke wat ons as gesagsvol aanvaar, is vroeg in die kerk se geskiedenis al reeds as gesagvol beskou. Die vroegste kerkvaders en biskoppe in die tweede eeu haal NT boeke van Paulus byvoorbeeld aan (vgl. 1 Clemens). Dit was vir hulle gesagvol omdat dit deur apostels en ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding geskryf is. Die was ook boeke wat deur die hele kerk algemeen aanvaar was as gesagvol en boeke wat die vroeë kerk geoordeel het die hart van die evangelie suiwer uitdruk. In dieselfde tyd is baie valse geskrifte in die naam van die apostels geskryf en die boeke is nie aanvaar nie, omdat dit nie voldoen het aan die laasgenoemde vereistes nie.

Die kerk was vir die eerste drie eeue vervolg. Toe die Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu tot bekering kom het hy saam met die kerkleiers besluit dat die Christene ‘n duidelike afgebakende kanon moet kry. Daar was vir vele jare vergaderings en gesprekke waarin hulle uiteindelik besluit het om die boeke wat ons vandag as die NT ken as die amptelike kanon van die Christene in die wêreld te aanvaar. Eersgenoemde kriteria was deurslaggewend. Valse geskrifte wat nie aan die dissipels en ooggetuiens gekoppel is nie, is nie aanvaar nie. Ons het hierdie geskrifte vandag nog. Prof Jan van der Watt en prof Tolmie het dit in Afrikaans vertaal. Die boek se naam is “Die Apokriewe boeke”, en kan by CUM gekoop word.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Mag jy net een huweliksmaat hê?

Mag jy net een huweliksmaat hê? – Kobus Kok

Teresa vra:

Is daar ‘n skrifgedeelte in die Bybel wat daarna verwys dat ons net een huweliksmaat mag hê?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Waar së die Bybel mens mag net een vrou he?

In die tyd wat die Nuwe Testament geskryf is, is monogame huwelike definitief die reël. In die Nuwe Testament staan daar nou nie eksplisiet jy mag net een vrou hê nie, maar dit was nie nodig om dit te sê nie omdat almal dit goed geweet het. Vir die vroeë Christene was seksuele reinheid baie belangrik. Paulus skryf in 1 Korintiërs 6:16 en Efesiërs 5:31 dat twee mense wat geslagsgemeenskap het een persoon word. Hy sinspeel op Genesis 2:24 wat sê dat die twee een sal word. Daar is nie plek vir ‘n derde nie. In Markus 10:7-8 sien ons ook dieselfde gedagte.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok