Droom – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek hoop u kan my meer duidelikheid gee oor hierdie droom. Ek het verskeie kere al gebid hieroor en ook leraars genader.

  1. Ek het gedroom dat ek in ‘n vertrek was en daar daar ‘n groen skoolbord teen die muur was. Daar het ‘n man ingekom en die het soos my oorlede pa gelyk. Hy het ‘n stukkie wit bordkryt geneem en die volgede letters op die bord geskryf….SOLHV…en toe is die man weg. Ek het wakker geskrik en onthou dit tot vandag nog.
  2. Die ander droom het gegaan oor die getal van 3069.
  3. Ek droom ek staan op my kniee in ‘n veld met spierwit blomme tot waar die oog kan sien, ‘n Bybel voor my en vra waaruit wil U he ek moet lees…

Daar is so baie drome !
Kan u my dalk leiding verskaf rondom dit.

ANTWOORD

Prof Jan van dr Watt atwoord:

Dankie vir jou epos oor die drome. Dit is inderdaad ‘n interessante onderwerp. Ongelukkig strek ons kundigheid nie so ver om drome uit te le nie. Jy moet miksien maar iemand naby jou wat jy goed ken en vertrou en wat Bybelse kennis het vra om jou te help. ‘n Mens wil nie sommer enigiemand vra nie. Ek wil miskien net iets in die algemeen se. Dit is gevaarlik om drome net so op sy eie te interpreteer. Drome is gewoonlik deel van die groter geheel van jou lewe waarin die Heilige Gees, wat jou lei in die waarheid volgens die Bybel, jou omstandighede, jou nugter verstand, ens. ook ‘n rol speel. Die Here speel ook gewoonlik nie ‘raai-raai’ met sy kinders nie. As hy iets belangrik vir jou wil se, sal hy dit op meer as een manier bevestig. Leef daarom maar konstant naby Hom in gebed en hou jou geestelike ore oop.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Identifiseer die gehoor van die Bybelboeke – Hermie van Zyl

Namaria vra:

Ek doen ’n kursus en een van die vrae is dat ek die gehoor moet identifiseer van die 66 Bybelboeke. Wat bedoel hulle met die gehoor?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met “gehoor” van die Bybelboeke word bedoel die eerste lesers aan wie die oorspronklike geskrifte van die Bybel gerig is. Die Bybel, dit wil sê die Ou Testament (OT) met sy 39 boeke en die Nuwe Testament (NT) met sy 27, het oor ’n baie lang periode ontstaan. Wat die NT betref het dit wel binne ’n relatief kort periode ontstaan, so ongeveer 50-60 jaar, maar die OT het oor ’n tyd van ten minste 1000 jaar tot stand gekom. En elkeen van hierdie 66 boeke het in unieke historiese omstandighede ontstaan. Goeie Bybeluitleg vereis dat daardie omstandighede so goed moontlik gerekonstrueer moet word, want dit help ons om die boodskap van elke boek beter te verstaan as ons kan sê wanneer, waar, deur wie en aan wie hulle oorspronklik geskryf is.

Punt is, die gehoor van die Bybelboeke verwys na die eerste mense of leserskring vir wie ’n bepaalde Bybelboek oorspronklik geskryf is.

Ιn sommige gevalle is dit relatief maklik om die eerste gehoor te identifiseer. Neem byvoorbeeld Paulus se briewe. Hy gewoonlik aan wie hy die brief rig, byvoorbeeld die gemeente in Tessalonika in Masedonië, Korinte in Griekeland, of Kolosse in Klein-Asië (1 Tess 1:1; 1 Kor 1:2; Kol 1:2). Ander kere is dit nie so maklik om die eerste gehore vas te stel nie. Neem byvoorbeeld die Evangelies. Hier is Lukas seker die “maklikste”, want die outeur sê dat hy dit aan ene Teofilus rig (Luk 1:1-4). Maar wie is hierdie Teofilus – ’n regte persoon of ’n skuilnaam? En is die Evangelie net vir hierdie persoon bedoel, of vir ’n meer algemene leserskring? En die ander Evangelies? Van hulle weet ons nog minder wie die eerste leserskring was, want dit word nêrens pertinent genoem nie. Dan moet mens maar uit die interne gegewens van die Evangelies met intelligente raaiwerk by antwoorde probeer uitkom.

Wat die Ou Testament betref raak die saak nog ingewikkelder, want hier het ons met ’n geweldige lang periode te doen waarin die boeke ontstaan het. By die profetiese boeke gaan dit nog “maklik” omdat mens die optrede van ’n bepaalde profeet min of meer kan vaspen binne ’n sekere tyd, byvoorbeeld Haggai wat ná die ballingskap aan die terugkerende Joodse ballinge na Palestina gerig is. Maar by die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium, is dit bykans onmoontlik om ’n spesifieke eerste leserskring te identifiseer, gewoon omdat hierdie boeke oor ’n lang tyd verskillende redaksionele stadiums deurloop het voordat hulle uiteindelik die vorm aangeneem het waarin ons hulle vandag het. Ons kan hoogstens sê dat die gehoor in hierdie geval die volk Israel (later die Jode genoem) oor verskillende tydperke is.

Bogenoemde is maar net om kortliks te sê dat die kwessie van eerste lesers of gehoor van die verskillende Bybelboeke ’n komplekse aangeleentheid is. Indien die vraagsteller dieper hierop wil ingaan, kan sy gerus ’n boek soos Die Bybellennium: ’n Eenvolume-kommentaar van Christelike Uitgewersmaatskappy raadpleeg. Hierdie boek probeer by elke bybelboek ’n aanduiding gee van wie die eerste lesers of gehoor was.

Laastens kan ek net byvoeg dat uiteindelik elkeen wat die Bybel lees, deel uitmaak van die gehoor van die Bybel. Want die Bybel word deur al die eeue gelees as God se Woord aan elke geslag gelowiges. Maar dit is ’n kwessie op sy eie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Kroonlose/s gedrog in Bybel – Jan van der Watt

Vraag

Fanie vra

  1. Waar inni ou of nuwe testament kan ek loop lees van di vloek van noag ……. oor gam?
  2. Waar lees ek van kroonlose/s gedrog /te inni skrifte asb ?


Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die verwysing van die vloek van Gam lees ons in Gen 9-18-29. Die woorde ‘kroonlose gedrog’ kom nie in die ou of nuwe vertaling van die Bybel voor nie. Daar is wel in 2 Thes 2:1-17 ‘n beskrywing van die teenstander van God wat voor die wederkoms gaan kom. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Boek van die Lewe – Jan van der Watt

Sannie vra:
a) In watter boek in die Bybel kom die woord GELOOFSEKERHEID die meeste voor.

b) Die DIE BOEK VAN DIE LEWE, hoeveel keer kom dit voor in die Bybel.

c) Hoeveel keer sal jou naam uitgewis word uit die Boek van die Lewe.

Antwoord        

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Die term ‘geloofsekerheid’ is nie eintlik ’n woord wat in die Bybel gebruik word nie, maar is ’n konsep, met ander woorde, dit is ’n tema wat op verskeie maniere in die Bybel uitgedruk word. Johannes sal byvoorbeeld sê, jy het die ewige lewe wat beteken dat jy vir ewig in God se familie sal leef. Daarvan kan jy seker wees, want niemand kan jou uit die hand van die Vader of Seun ruk nie (Joh 10:28-30). Dit geld vir elkeen wat opreg in Jesus glo (Joh 6:27-29). Paulus sal byvoorbeeld in Kol 2:9-15 met ’n beeld sê dat jou ou mens dood en begrawe is en jy saam met Jesus opgewek is in ’n nuwe lewe. Jy het nou die volheid van God. Dit is God se belofte aan jou. Weereens is die vereiste dat jy vas moet staan in die geloof (Kol 1:21-3). Geloofsekerheid as tema is dus gebaseer op die belofte van God in die Bybel dat as jy in Hom glo (met Hom in verhouding tree), jy seker kan wees Hy sal sy belofte nakom en jy sal vir ewig sy kind bly.

b) Verwysings na die boek van die lewe kom op die volgende plekke voor: Ps 69:29; Fil 4:3; Open 3:5; 13:8, 17:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27; 22:19. Dit sinspeel op die gebruik in die ou tyd (soos vandag ook) om rekords te hou. Stede het byvoorbeeld rekords gehou van die mense wat in die stad bly sodat daar nie sommer vreemdes daar kan intrek of ander kan aanspraak maak op die regte van die stad  nie. Die boek van die lewe bevat almal se name wat die ewige lewe het.

c) In net twee plekke in die Bybel word daar gepraat van name wat uit die boek van die lewe uitgewis kan/ gaan word, naamlik, Ps 69:29 en Open 22:19. In Ps 69:29 wens die skrywer van die Psalm (Dawid) dit vir sy vyande toe wat hom sleg behandel. Soos hierbo genoem, was daar boeke in die ou tyd waarin die name van mense geskryf was ter wille van die administrasie. Name kon daaruit verwyder en toegevoeg word – Dawid bid hier dat sy vyande ‘gestraf’ word deurdat God hulle name uit die boek verwyder. In Open 22:19 het ons ‘n ‘vloek’ wat uitgespreek word teenoor enigiemand wat probeer om iets aan Openbaring te verander. Destyds was daar nie drukperse nie en die boeke is met die hand oorgeskryf. Dit was dus maklik om dit te verander en dat het al die mense wat die boek gekry het, dit afgeskryf, sodat die veranderinge dan verder versprei word. Dit was dus algemeen in die ou tyd dat skrywers sulke ‘vloeke’ aan die einde van hulle boeke gesit het, sodat mense ontmoedig is om enigiets te verander. Die waarskuwing is dus in Open 22:19 dat niemand dit moet waag om iets te verander nie, wat die Here sal dan met hom afreken.

            Kom ons by die res van die verwysings na die mense wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is daar geen verwysing na die moontlikheid dat daardie mense se name uit die boek van die lewe weggeneem sal word nie. In al die gevalle gaan dit om mense wat regverdig is en gelowiges is. Op 3:5 sê immers dat hulle name nooit uitgewis sal word nie.

            Dus, die boodskap van Openbaring sê dat die name van gelowiges nie een maal uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Die gevalle wat daarvan praat dat die name uitgewis kan word gaan oor ’n wens vir die vyand (Ps 69) en ’n waarskuwingsvloek (Open 22:19). Dat die uitwissing van ’n naam ’n moontlikheid is, is so, maar dit is nie waar van die regverdiges, die gelowiges nie. Die Bybel sê nêrens dat hulle name uitgewis kan of gaan word nie.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt