Wanneer kom Israel tot bekering?

Wanneer kom Israel tot bekering? – Francois Malan

Martin vra:

Ons wil graag weet wanneer en waar Israel tot bekering sal kom.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Daar is verskillende verklarings vir Romeine 11:25-26. Ek haal hoofsaaklik aan uit Willie Jonker se kommentaar op Romeine.

Die beginwoorde van vers 25 laat merk dat Paulus tans iets baie gewigtigs wil sê. Hy wil aan sy lesers ‘n profetiese waarheid meedeel wat gedeeltelik op Goddelike openbaring berus en gedeeltelik reeds in die geskiedenis merkbaar is. Hy noem dit ‘n verborgenheid, ‘n benaming wat gewoonlik gebruik word vir ‘n waarheid wat tevore verborge was, maar in die loop van God se handelinge met die mense langsamerhand duidelik geword het (vgl. Ef.1:9; 3:3-7; Kol.1:26,ens). Dit is van belang dat Christene uit die heidene hierdie waarheid omtrent Israel sal weet, sodat hulle nie eiewys mag wees nie, d.i. volgens hulle eie insig en wysheid oor Israel sal oordeel nie. Die verborgenheid bestaan dáárin dat die verharding, wat oor Israel gekom het, ten dele is, d.i. dit raak nie die hele Israel nie. Daarby sal die verharding voortduur totdat die volheid van die heidene ingegaan het (die Griekse woord pleroma dui die totale hoeveelheid aan, met klem op die voltooidheid: volle getal, volheid, volledigheid, voltalligheid). Die volheid van die heidene is, net soos die volheid van Israel (die Griekse woord pas dui die totaliteit of volledigheid van enige voorwerp, massa, versameling aan), die volle getal van diegene wat God uit die heidendom verlos. Met ingaan word kennelik bedoel: ingaan in die Koninkryk, deel ontvang van die verlossing. Uit die feit dat die volheid van die heidene seker eers teen die einde van die tye ten volle in die Koninkryk ingebring sal word, mag ons aflei dat Paulus verwag dat die gedeeltelike verharding van Israel sal voortduur tot aan die einde van hierdie bedeling.

26a Met die hele (pas) Israel word dieselfde bedoel as met die volheid (pleroma) van Israel in vers 12 (NAV volle getal), en dié begrip lê in lyn met die begrip volheid (pleroma) van die heidene in vers 25 (NAV volle getal uit die heidennasies). Dit dui Israel as totaliteit aan, Israel soos dit deur God bedoel is om te wees en soos Hy Sy oorspronklike beloftes aan die vaders ten opsigte van hulle waargemaak het. Anders gesê: dit dui die volle getal Israeliete aan wat deur Gods genade gered sal word. Sommige verklaarders meen dat die hele (pas) Israel slaan op die kerk, die geestelike of ware Israel wat uit Jode en bekeerde heidene bestaan. Dié verklaring kan aansluit by die uiteensetting oor die takke van die wilde olyf wat ingeënt word op die mak olyfboom (verse 17,18). Waar Paulus egter nooit die benaming Israel in so ‘n geestelike sin as aanduiding van die kerk gebruik nie, terwyl hierdie hoofstukke spesifiek oor Israel as volk handel, is dit beter om te hou by Israel as volk.

Die woorde ‘en so’ (Grieks houtos met verwysing na wat voorafgaan: so, dus, op die manier) waarmee vers 26 begin, dui daarop dat die hele Israel gered sal word op die wyse wat in vers 25 aangedui is: die gedeeltelike verharding sal oor Israel bly, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Dit beteken nie dat daar dán, nadat die volheid van die heidene ingegaan het, skielik ‘n massabekering van Jode sal plaasvind nie, maar dat die bekering van die Jode só sal plaasvind dat die hele Israel ingebring word terwyl die gedeeltelike verharding voortduur en sommige oortuig word dat die Jesus wat hulle gekruisig het hulle beloofde Messias is. Terwyl sommige verhard bly, kom ander tot bekering. Dit sal so voortduur dwarsdeur die hele tydperk waarin ook die volheid van die heidene ingebring word. Wanneer die volheid van die heidene ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees. Dan is die einde daar. Dan is God se beloftes ten volle vervul. In die lig van Paulus se verkondiging dat die bekering van die heidene Israel jaloers maak, is dit ook duidelik dat die ingaan van die volheid van die heidene die instrument in God se hand is om die hele Israel tot verlossing te lei. (Netsoos die volheid van die heidene nie alle heidene beteken nie, maar die volle getal wat God uit genade red, beteken die volheid van Israel ook nie alle Jode nie, maar die volle getal Jode wat God uit genade red, soos Rom.9:10-13 kras uitgedruk het met slegs een van Rebekka se tweeling vir wie God geroep het sodat die doel van God se keuse sal bly/sodat God se keuse van een seun heeltemal die gevolg sal wees van God se bedoeling; vgl. Rom.9:6).

Die redding geskied slegs deur Christus se offer aan die kruis, en ons verbondenheid aan Hom deur die Heilige Gees wat in ons kom woon en ons oortuig dat Jesus God is wat ons sondes en ons skuld gedra het. Dit geld vir Jode sowel as nie-Jode (Rom.5:1-11; 18-21).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Onderskeiding tussen ‘n Bybelwetenskaplike en teologiese navorser

Die Onderskeiding tussen ‘n Bybelwetenskaplike en teologiese navorser – Kobus Kok

Jan Smith vra: 

Is dit miskien moontlik dat iemand vir ons die verskil kan aantoon van hoe “bybelwetenskaplikes” te werk gaan teenoor die teologiese navorser. Eersgenoemde plunder die Bybel dat daar omtrent niks oorbly nie terwyl laasgenoemde net die teenoorgestelde resultaat lewer.

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord: 

Die Onderskeiding tussen ‘n Bybelwetenskaplike en teologiese navorser  

Die Onderskeiding tussen ‘n Bybelwetenskaplike en teologiese navorser is nie noodwendig die regte onderskeiding nie. Mens kry ook ongelowige teologiese navorsers wat teologie as blote geskiedenis bestudeer en dit tot mitologie en onbetroubare historiese inligting reduseer. Die verskil is dus eerder tussen ‘n gelowige met lojaliteit teenoor die Here en ‘n ongelowige wat nie lojaliteit teenoor die Here of die geloofsgemeenskap het nie. Dit gaan veral ook oor die verskil in wêreldbeelde. Sommige (ongelowige) wetenskaplikes glo dat die drie-verdieping wêreldbeeld ‘n primitiewe wêreldbeeld verteenwoordig en daarom kan ‘n God van bo af nie na die aarde kom om waarheid te openbaar nie omdat daar geen bo en onder is nie en geen absolute waarheid nie. Ander wetenskaplikes wat gelowiges is, erken ook dat die antieke mens ‘n gans andere wêreldbeeld gehad het, maar ontken nie daarmee dat die geestelike werklikheid bestaan nie, en glo ook dat God in die geskiedenis Sy wysheid openbaar, en dat die Bybel God se wysheid en openbaring bevat, hoewel in mensetaal-in-konteks.

As gelowige wetenskaplike dosent in Nuwe Testamentiese Studies by die Universiteit van Pretoria is ek elke dag besig met wetenskaplike, kritiese ondersoek van die Bybel. Ek sien myself as ‘n gelowige Bybelwetenskaplike en teoloog. My kritiese ondersoek van die antieke wêreld versterk egter my geloof omdat ek voel dat ek die agtergrond, ontstaan, groei en ontwikkeling van die Bybelse boodskap beter kan verstaan. Ek is ook nie die enigste een by die Universiteit van Pretoria wat dit so doen nie, en ‘n goeie kollega en vriend van my by die Universiteit van Oxford het juis die een dag na een van my lesings in Oxford gesê dat hy waardering het daarvoor dat ek uiters krities akademiese wetenskap kan bedryf en dit in die lesing kon integreer met die implikasie daarvan vir die kerk van die Here Jesus Christus in ‘n postmoderne tyd.

Indien jy goed lees wat mense sê, en dit jou verwar, is dit jou plig en taak om dit self te gaan ondersoek so ver as wat dit in jou vermoë en belangstellingsveld is. Dit wat onbekend is, is dikwels vir ons vreemd en maak ons dikwels bang. Deeglike selfstudie laat die skaduwees in ligkolle verander. Dit is baie belangrik dat mens Bybelse agtergrondstudie moet doen, dat mens die problematiek van sommige tekste moet begryp en dat mens die hermeneutiese verband na vandag toe moet trek.

Hermeneutiek is die wetenskap van verstaanskunde. Dit vra in die eerste plek na die verstaan van die antieke teks en die implikasie daarvan vir vandag, in ‘n wêreld wat radikaal anders is as die wêreld waarin die Bybel geskryf is. Skaf gerus my, proffessore Jan van der Watt, Stephan Joubert en Bruce Malina se nuutste boek aan “Unlocking the World of Jesus”, Biblaridion, 2011 waarin ons die antieke wêreld en die Bybelse sosiale waardes vir jou oopsluit. Dit kan by Van Schaik boekwinkels bestel word en is tans by die Universiteit van Pretoria se boekwinkel Bookmark beskikbaar vir R99,99.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Wedergeboorte

Wedergeboorte – Francois Malan

‘n Leser vra:

Die Woord leer ons dat die enigste weg Christus is, dat jy jou moet bekeer en in Joh 3 sê Jesus vir Nikodemus dat hy weergebore moet word om die ewige lewe te beërwe. Wat gebeur met `n baba wat te sterwe hom en nog nie rasioneel kan dink nie, want daar staan ook dat ons in sonde gebore en ontvang is. Ek weet God is regverdig, ens en dat daar in Joh 8 verwys word na mense wat nie weet nie, maar as die vereiste vir die ewige lewe wedergeboorte is, hoe nou. Indien `n baba/kind dan hemel toe gaan omdat hy nie toerekenings vatbaar is nie, van watter ouderdom is hy/sy dan toerekenings vatbaar. Ek weet van kinders wat op 6-7jarige ouderdom tot bekering gekom het.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wedergeboorte is die nuwe lewe wat God in die hart van ‘n mens begin. Kinders van God is dit nie van nature, nie deur die begeerte of besluit van ‘n mens nie. Om kind van God te word is geheel en al God se werk. Joh.1:13 sê letterlik: hulle is uit en deur God gebore (NAV: God is hulle Vader). Dit lei daartoe dat mense in Christus glo en dat mense Christus aanneem as God wat vir hulle sonde gesterf het aan die kruis (Joh.1:12,29). Geloof is ook ‘n gawe van God wat die Heilige Gees in ons werk. Ef.2:8: want uit (God se) genade is julle gered deur geloof, en dit (redding en geloof) kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God.

Bekering is die mens se berou oor sy sonde en sy breuk daarmee om ‘n nuwe lewe te begin uit opregte liefde vir God. Twee Griekse woorde word daarvoor gebruik: metanoia is die verandering van denke oor Christus, en strefo of epistrefo wat beteken omdraai, weg van die sonde en van my self af, na Christus om saam met Hom te sterwe aan my self en saam met Hom op te staan tot ‘n nuwe lewe vir God en my medemense (Rom.6:1-14; Mat.2237-40). Bekering is eenmalig en ‘n daaglikse voortgesette daad (Ef 4:22-24).

Die nuwe geboorte kom van God af. Joh 3:3 praat van weergebore word, en die bywoord ‘weer’ beteken ook ‘van bo af’.  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’gebore wat vir hom onmoontlik klink vir ‘n volwassene (3:4). Jesus verduidelik dit egter as gebore word uit die Gees (3:5-8), as ‘n nuwe skepping wat van Bo kom. 2 Kor.5:17 sê: ‘as iemand in Christus is, is hy/sy ‘n nuwe skepping; 5:18: ‘en dit is alles uit God wat ons, deur Christus, met Homself versoen het…’ Die wedergeboorte is die inplanting van die totale mens in Christus. Die woord wedergeboorte is ‘n metafoor wat die werking van God verduidelik na aanleiding van die geboorte van ‘n mens deur die inplanting van die saad van die man (Joh.1:13; 3:6). Dit word vergelyk met die saad van God se woord.

Wanneer wedergeboorte van ‘n mens plaasvind kan nie bepaal word nie. Joh.3:8: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore word’ – onverstaanbaar vir die wêreld.

Wat die wedergeboorte doen, word in Titus 3:4-7 beskryf: toe die goedheid en mensliewendheid van God ons Verlosser verskyn het, nie deur dade van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar volgens sy (God se) barmhartigheid, het Hy ons gered deur die afwassing (van ons sonde) deurdat ons  weergebore en vernuwe word deur die Heilige Gees. God het die Heilige Gees ryklik op ons uitgestort deur ons Verlosser Jesus Christus, sodat ons geregverdig mag wees (in die regte verhouding met God gestel kan wees) deur sy genade, en ons het erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

Die wedergeboorte vind ‘onmiddellik’ en ‘middelik’ plaas. In die genadeverbond werk die Heilige Gees onmiddellik in die lewens van mense, sonder die middel van die verkondigde woord. Daarom hoef gelowige ouers nie te twyfel oor die saligheid van vroeggestorwe verbondskinders wat nog nie die prediking van die woord gehoor het of onderrig is in die woord van God nie. Dit is God wat werk soos Hy wil en wanneer Hy wil, wat ook gesê het dat die belofte vir ons en ons kinders bedoel is (Hand.2:38-39).

Maar vir hulle wat nie in die genadeverbond gebore is nie, werk die Gees middellik. Die Heilige Gees werk deur middel van die woord van God, wat verkondig word om mense te oortuig, en so word mense wat die woord kan hoor en verstaan weer gebore. 1 Petr.1:23: Julle is weergeborenes nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike en blywende woord van die lewende God. Jak.1:18: Volgens sy wil het Hy (die Vader van die ligte) ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons ‘n soort eerste vrugte van sy skepsels sou wees. Hiermee beklemtoon Jakobus God se vrye verlossingsinitiatief (Rom.3:21-22), die lewewekkende krag van die woord (Joh.5:24), en God se genadige herskepping van die mens (2 Kor.5:17) sodat ons met Hom en vir Hom sal lewe. Die Heilige Gees gebruik ook die woord van God om ons te laat groei as verloste kinders van God, soos babas wat met melk gevoed word om te groei (1 Petr.2:2; Rom.8:14-17). En die vrug van die werk van die Heilige Gees word gesien in ons liefde, vreugde, vrede, geduld, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing; en die kruisiging van ons sondige selfsugtige natuur met al sy hartstogte en begeertes (Gal.5:22-24).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus: God of mens

Jesus: God of mens – Francois Malan

Japie vra:

Was Jesus Mens of God vir die tyd wat Hy op aarde was. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Jesus was mens en God tydens sy aardse bediening, en daarna in die hemel.

Jesus is ware mens en ware God – dit word duidelik in die Skrif geleer:

Rom.8:3 God het sy eie Seun in die gelykheid van die sondige mens gestuur

Gal.4:4 God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet

Hy leef die lewe van ‘n gewone mens: word honger (Mat.4:2), en dors (Joh.19:28), besoek ‘n bruilof (Joh.2:1), huil by die graf van ‘n vriend (Joh.11:35) het sterwe en is begrawe.

Maar deur die brose mens (met geen skoonheid of prag nie; Jes.53:2), breek telkens sy goddelike heerlikheid en mag deur: as die mense van Nasaret Hom by die krans wil afgooi, loop Hy tussen hulle deur (Luk.4:30), in Getsemane moet die bende wat Hom kom vang, op die grond voor Hom neerval (Joh.18:6), op die berg van verheerliking word Hy van gedaante verander (Mat.17:2).

Matteus, Markus en Lukas getuig: die mens Jesus van Nasaret is God, gebore uit die maagd Maria (Mat 1:18; Luk 2:5-7).

Johannes getuig: God, deur wie die wêreld geskep is, het mens geword en onder ons gewoon (Joh.1:1-3,14), Hy en die Vader is een (Joh 10:30).

Paulus sê: Christus was sonder sonde, maar ter wille van ons het God Hom sonde gemaak

(2 Kor.5:21), in Hom woon al die volheid van die godheid liggaamlik (Kol 2:9), Hy wat in die gestalte van God was, het Homself verneder en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword (Filip 2:6-7).

Die twee nature van Christus, sy Godheid en sy mensheid, is in een persoon saamgevoeg – dit is heeltemal uniek, kan nie herhaal word nie, kan met niks anders wat ons ken vergelyk word nie.

Sy twee nature was nie vermeng nie. Sy mensheid het nie die grense van die kreatuurlikheid oorskry nie, en sy Godheid het nie sy goddelike eienskappe afgelê nie. Hy het ‘n menslike bestaanswyse bygekry. Daarin het Hy Homself verneder, selfs tot in die dood toe (Filip.2:8). Hy het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het (Hebr.5:8), en in Getsemane, waar Hy bedroef, beangs doodsbenoud geword het, sy wil prysgegee om die wil van die Vader te doen (Mat.26:37-44), maar na sy Goddelikheid kon Hy mense genees en uit dood opwek, duisende met ‘n paar brode voed, op die water loop, mense se sonde vergewe, en die wil van God bekendmaak. In al sy dade gaan dit egter om die dade en woorde van een persoon, die mens Jesus Christus, ons middelaar tussen die mens en God (1 Tim.2:5).

Slegs as ware mens sonder sonde kon Jesus ons sonde op Hom neem. Slegs as ware God kon Hy aan die kruis vir die straf op die sonde van die wêreld sterf. Hebreërs 5:15 sê: Die hoëpriester wat ons het, Jesus, die Seun van God, nie nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Romeine 5:6,8 sê: toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Kolossense 1:15-20 sê o.a. dat Hy die beeld is van God wat self nie gesien kan word nie…God het deur Hom alles geskep…deur Hom bly alles in stand…God het besluit om…deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Hoe die wonder moontlik is, van die een persoon wat volkome mens en tegelyk volkome God is, word voor sy geboorte vir Maria verduidelik: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek (letterlik: jou oorskadu). Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk.1:35). Aan Josef word verduidelik: wat in Maria verwek is kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n seun in die wêreld bring en jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos; en Matteus verduidelik dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur die profeet (Jesaja 7:14) gesê is, vervul sou word: die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons (Matteus 1:20-23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan