Die Boek van die Opregte – Vraag

Die Boek van die Opregte – Gustav Claassen

Hannelie vra: 

Ek is op soek na “Die Boek van die Opregte”. Weet u dalk waar ek een in die hande kan kry? Baie dankie

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Ons het twee verwysings na die “Boek van die Opregte” in die Ou Testament. Daar word na verwys in Josua 10:13 en 2 Samuel 1:18. Die “Boek van die Opregte” is ‘n bron wat die skrywers van Josua en 2 Samuel tot hulle beskikking gehad het wat verlore geraak het. Dit was ‘n boek vol poësie wat gehandel het oor oorloë en geskiedenis. In die aande by die vure het die volwassenes waarskynlik verhale oor hulle geskiedenis vir die kinders vertel en is sommige daarvan mettertyd neergeskryf. So ‘n versameling geskrewe verhale was die ‘Boek van die Opregte’, waarin die heel vroegste liedere opgeskryf is en wat dalk al iets oor Israel se beginjare gesê het (Jos 10:13). Na Saul en Jonatan se dood het Dawid ‘n treurlied geskryf wat al ‘die inwoners van Juda’ moes geleer het en wat in die ‘Boek van die Opregte’ opgeneem moes word (2 Sam 1:17-18).

 

Skrywer: Dr Gustav Claassen




Kennis

Kennis – Francois Malan

Gene vra: 

Wat bedoel Paulus met “kennis” soos in 1 Timoteus 6 vers 20. Het die kennis te doen met die valse leringe van die valse profete? Verklaar dan ook vers 21. Aan wat sal ons vandag daardie “kennis” kan toeskryf.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus vra vir Timoteus, wat in die gemeente in Efese werk, om op sy hoede wees vir die valse leer wat lede van die gemeente begin verkondig. Paulus sê hulle praat valslik van hulle leer as ‘kennis’. Hulle dink dit is ware kennis, en wil mense beïndruk met hulle sogenaamde kennis. Paulus noem dit egter goddelose gebabbel (NAV onheilige praatjies; letterlik: leë gepraat, ‘n gepraat sonder enige betekenisvolle inhoud). Hy sê dit is vol innerlike teenstrydighede, met argumente wat mekaar weerspreek (NAV vertaal dit as ‘sinlose’). Daarteenoor moet Timoteus die egte evangelie wat aan hom toevertrou is, goed bewaar.

Die ‘kennis’ behels waarskynlik die verkondig van ‘n wettiese boodskap wat vereis dat mense goeie werke doen om gered te word (1:7-11). Deur hulle vertroue op hulle eie goeie werke word die evangelie van God se vrye genade verduister en God se verlossingswerk uit liefde deur Christus se offer word op die agtergrond geskuif (1:5; 12-17; 2:1-7). In 1:3 noem hy dit valse leerstellings (letterlik: ‘n ander boodskap) wat direk teen die evangelieboodskap is. Dié valse leer moet Timoteus in die gemeente verbied.

Timoteus moet die mense van die valse leer ook aanspreek ook hulle lewenstyl. Hulle lewe volgens mites, dit is verdigsels wat hulle self uitdink, en volgens hulle misbruik van geslagslyste. Die verdigsels waarna Paulus verwys was waarskynlik allegoriese verklarings van die Ou Testament. Allegorieë is sinnebeelde, waarmee hulle met hulle vooropgesette gedagtes betekenisse inlees in die Bybel, wat nie met die woorde van die Ou Testament in hulle verband bedoel is nie. Die geslagslyste verwys na die geslagslyste in die Ou Testament waaraan hulle fantasie verklarings gee. Dit is betekenisse wat hulle met hulle verbeelding inlees in die lyste. Waarskynlik het hulle ook die evangelie se verlossing beperk net tot Jode, en miskien die Joodse aanhangers daarby ingesluit. Daarom beklemtoon Paulus dat die evangelie vir mense van alle volke bedoel is (2:1-7), vir sondaars (1:15), vir alle mense (4:10).

Die valse broers verkondig blykbaar askese om God daarmee te behaag: hulle verbied mense om te trou en om sekere kosse te eet (4:3-5).

Volgens 2 Tim.2:18 verkondig hulle dat die opstanding reeds plaasgevind het. Hulle verwag dus nie meer ‘n liggaamlike opstanding nie, maar het die opstanding vergeestelik, deur te beweer dat as jy lewe soos hulle verkondig, is dit reeds die opstanding. Dan is die opstanding met die wederkoms van Christus nie meer nodig nie. Daarmee loën hulle ook Christus se opstanding, en daarmee ook die kernwaarheid van die evangelie (vgl. 1 Kor.15:12-28).

Vers 21 sluit aan by 1:6, mense wat afgewyk het van liefde uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete, en ‘n opregte geloof – alles dinge wat ons verkry deur ons versoening met God en ons medemens wat Jesus vir ons verwerf het, wat die Heilige Gees in ons kom bewerk. So het hulle van die ware geloof in God en sy verlossing afgewyk, en vertrou op hulle selfverlossing deur goeie werke, wat hulle voorskryf met hulle foutiewe verklarings van die Ou Testament, wat hulle dan as ‘kennis’ voorhou.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Het Jesus liggaamlik opgestaan?

Het Jesus liggaamlik opgestaan? – Francois Malan

Henk vra:

‘n Persoon beweer Jesus het net in Gees opgestaan en nie in Vlees nie. Ek weet Jesus het opgestaan, maar hulle vergeestelik alles en noem altyd Bybelverse. Ek wil weet hoe kan ek hom antwoord, want om hom te oorreed is half onmoontlik.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Vlees is ‘n baie breë begrip. Die Griekse woord sarks kan vertaal word as vleis (die ou Nederlandse woord ‘vlees’ wat nog vassteek in Afrikaans om verskillende dinge aan te dui, veral omdat ons nie wil sê ‘vleis en bloed’ nie, vgl. 1 Kor.15:50), maar dit kan ook liggaam, mense, menslik, nasie, menslike natuur, fisiese natuur, aandui in die Nuwe Testament.

2. In 1 Kor.15:35-57 verduidelik Paulus iets van die opstandingsliggaam, dat dit onverganklik is (v42), in heerlikheid (v43), in krag (v44), ‘n geestelike liggaam (v44), dat die laaste Adam (Christus) ‘n lewendmakende Gees is (v45), dat vlees en bloed nie aan die koninkryk van God kan deel kry nie (v50). Paulus sê met die opstanding sal ons almal verander word, dat ons verganklike liggaam met onverganklikheid beklee sal word, en ons sterflike liggame met onsterflikheid (vv52,53).

Dit gee ons ‘n kykie in wat ons kan sê van Jesus se opstanding. Die Evangelies sê bv.

dat Jesus sommer skielik voor die vroue gestaan het en dat hulle sy voete gegryp het en Hom aanbid het (Mat28:9).

Die twee Emmausgangers het Hom eers nie herken nie, maar toe hulle saam met Hom aan tafel was en Hy vir hulle die brood gebreek het, het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn (Luk.24:13-31).

Toe Jesus dieselfde aand aan die dissipels verskyn met die merke van die spykers aan sy hande en voete, nooi Hy hulle uit om aan Hom te voel, want ‘n gees het nie vleis en bene soos hulle sien dat Hy het nie, en Hy het saam met hulle geëet (Luk.24:39-43).

Die volgende Sondagaand verskyn Hy aan sy dissipels in ‘n kamer waarvan die deur gesluit is en Hy skielik tussen hulle staan (Joh.20:19).

Vir Tomas nooi Hy die volgende Sondagaand uit om sy vinger in sy spykermerke te steek en sy hand in sy deurboorde sy (Joh.20:27).

By die see gee Hy vir sy dissipels brood en vis om saam met Hom te eet by die vuurtjie wat Hy gemaak het (Joh.21:13).

Dat Jesus liggaamlik opgestaan het, is seker, maar dit is met ‘n verheerlikte liggaam. As jy onder ‘vlees’ die mens se sondige natuur verstaan, dan het Jesus nie in die vlees opgestaan nie. As jy egter onder ‘vlees’ die menslike liggaam verstaan, dan het Jesus in sy menslike liggaam opgestaan, maar in ‘n veranderde liggaam wat deur ‘n geslote deur kan stap, verskyn en verdwyn, maar met ‘n liggaam wat die tekens van sy lyding dra en waarmee Hy eet en waaraan jy kan voel, nie ‘n gees nie. As jy sy verheerlikte liggaam ‘n geestelike liggaam noem in teenstelling met ‘n natuurlike liggaam wat vergaan, is dit volgens Paulus reg (1 Kor.15:44-49). As geestelike liggaam egter beteken dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, is dit verkeerd.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die doderyk

Die doderyk – Francois Malan

Amanda vra:

Waarheen gaan die Christen en Nie Christen as hulle sterwe. Kan u asb vir my meer inligting gee oor die DODERYK.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord doderyk is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord sjeool wat 65 maal in die Ou Testament voorkom en deur die Griekse vertaling van die Ou Testament met hades vertaal is. In die Afrikaanse vertaling word dit vertaal as ‘die dood’ (bv. Spr.1:12) doderyk (Spr.27:20; 30:16; Jes.5:14; Hab.2:5). Deutr. 22:22 sê dit is daaronder; Job 10:21-22 dink dit is stikdonker; 11:8 dit is diep; Jes.7:11 diep uit die doderyk; Ps 139:8 gaan lê ek in die doderyk, U is daar.

Die ou gedagte was dat ‘n mens vir ewig in die doderyk ingaan (Job 7:9-10; 16:22; Pred.12:5 praat van ‘n ewige woning). Na die ballingskap word gepraat van ‘n opstanding uit die dood (Jes.26:19; Dan.12:2).

In die Nuwe Testament: in Lukas 16:19-31 vertel Jesus ‘n gelykenis van die ryk man in die doderyk hades en Lasarus wat na die ereplek, die boesem van Abraham, gedra is. Mat.11:23 praat ook van afdaal na die doderyk; 12:40 van binne in die aarde; Openb. 20:3 van ‘n onderaardse diepte; 1:18 van die sleutels van die dood en die doderyk; Openb.20:14 sê die dood en die doderyk is tydelik, en word op die oordeelsdag in die vuurpoel gegooi, ook diegene wie se name nie in die boek van die lewe geskryf is nie 20:15.

Die doderyk is die staat van die dood, waarin die afgestorwenes ná hulle dood en vóór hulle opstanding verkeer (1 Sam.2:6). Oor die aard van hierdie toestand laat die Skrif hom nie uit nie, behalwe dat dit duidelik is dat die lot van die gelowiges en ongelowiges nie dieselfde is nie, soos die gelykenis van die rykman en Lasarus sê.

Ons mense is in ons denke aan tyd en ruimte gebind het nie ‘n begrip van ewigheid waar 1000 jaar gelede by God vandag is, en 1000 jaar vorentoe ook vandag is nie. Ook nie ‘n begrip van alomteenwoordigheid nie.

Die gelowige kinders van die Here gaan egter na die ewige wonings (Lk 16:9), na die paradys 23:43; by die Here (2 Kor. 5:8), met Christus verenig (Flp.1:23), in die hemelse Jerusalem (Hebr. 12:22).

Jesus praat in die gelykenis van die skape en die bokke oor die oordeelsdag in Matteus 25:31-46 as Hy weer kom en die mense sal skei: die wat deur sy Vader geseën is en die wil van God gedoen het, sal hy nooi om deel te word van sy koninkryk (vv34,46). Die wat nie die wil van God gedoen het nie, word ‘vervloektes’ genoem, ontvang die ewige straf, hulle word na die ewige vuur gestuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het (vv41,46).

 

Skrywer: Prof Francois Malan