Die Wysheid in Spreuke 8

Die Wysheid in Spreuke 8 – Francois Malan

Andre vra: 

Wie is Wysheid waarvan Spreuke 8 praat, want Hy sê Hy was saam met die Here toe die aarde geskep is. Vers 22 – Die Here het my geskep. Dit kan dus nie God of Jesus wees nie, is dit dalk die Heilige Gees.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Spreuke 7 handel oor die verleidelike taal van die owerspeelster, wat ‘n beeld is van alle slegte vroue. Daarop volg hoofstuk 8, wat wysheid aan die woord stel as die predikster van haar waarde vir die mens. In 7:4 het die prediker reeds vir sy seun gesê hy moet wysheid sy suster maak en insig sy familie om hom weg te hou van die slegte vrou af. Soos 1:20-33 word wysheid hier ook geteken as ‘n persoon. Na die gedeeltes oor die wysheid in 1:20-33, 3:13-20, 4:8,9 word wysheid in hoofstuk 8 aan die kant van God self gestel, voor die skepping v22, in gesprek met die Skepper v30, en ‘deur Hom geskep/voortgebring as die begin van sy pad, die eerste van sy werke van toe af’ v22. Die heelal wat God geskep het getuig van sy wysheid waarmee dit gedoen is, en God se plan waarvolgens Hy geskep het word digterlik as ‘n persoon voorgestel.

In hoofstuk 8 gaan dit om digterlike personifikasie van die wysheid van God waarmee Hy die wêreld geskep het, soos in hoofstukke 1,3 en 4, as predikster tot die mense en as troetelkind van die Here. Omdat sy so hoog verhewe is, moet die mense na haar luister. Die bedoeling van die hoofstuk is om die begeerlikheid van die wysheid teenoor die begeerlikheid van die slegte vrou op ons harte te bind, soos ook in die hele eerste afdeling van Spreuke (hoofstukke 1-9). In 8:30 word wysheid as ‘n ou dame voorgestel, ouer as die aarde en die hemel. God onderhou ook sy skepping met wysheid en daarvoor gebruik Hy mense, soos die Spreuke digter self, om die mense aan te spreek.

Die wysheid staan langs die strate, by kruispaaie, by die stadspoorte (8:2). So was die profete die stem van Goddelike wysheid in die openbaar (vgl. Jeremia 7 en 26). Aan koning Salomo is bv. die gawe van Goddelike wysheid gegee om reg te spreek (1 Kon.3:28). Koning Josafat leef soos die Here dit wil (vgl. Spr.1:7), en hy stuur sy beste amptenare uit om in die stede onderrig te gee in die wet van die Here (2 Kron.17:6-9). Later tree die Seun van God self op met die wysheid van God (Mat.13:54, Hebr.1:1; Joh. 18:20; Mt.11:19; Lk.7:35) en Hy is self die weg en die waarheid en die lewe (Joh.14:6).

Jesus kom ons leer van die Heilige Gees (Joh.14:26; 16:7). Die Ou Testament weet van die Gees van die Here wat oor mense kom en hulle vaardig maak, konings, priesters, profete, ambagsmanne, landbouers, ens. Maar nou weet ons van Hom as God wat in ons woon (Rom.8:9). Nou weet ons ook dat God die hemel en die aarde deur sy Woord, Jesus, geskep het (Gen.1:3; Joh.1:1-3; 1 Kor.8:6), dat God ons Vader is, soos Jesus ons leer bid het (Mat.6:9; 11:27); en dat die Heilige Gees wat aan ons die lewe gee, reeds by die skepping oor die waters gesweef het om lewe aan die skepping gegee het (Gen.1:2; 8:2).

Die Vader en die Seun en die Heilige Gees tree met wysheid op, met die skepping, met die onderhouding van die wêreld, en met die herskepping van ons as sy kinders. Die wysheid waarmee hulle dit doen, word in Spreuke 8 besing in die lofsang op die wysheid waarvolgens ons moet lewe. Dit verkry ons deur God te leer ken uit sy woord (ook uit Spreuke), onder leiding van die Heilige Gees in ons, wat ons daagliks lei en onderskraag.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die miere

Die miere – Kobus Kok

Nettie vra:

In November verlede jaar het Radio Kansel in die program Delf Dieper ‘n gesprek gehad oor Wysheid(in Prediker) waar daar na 4 klein diertjies verwys word, nl. die mier, dassie, sprinkaan en geitjie. Hoe God hulle as voorbeelde van wysheid vir die mens gegee het. Ek sou graag wou weet waar ek navorsing oor hierdie onderwerp kan kry.

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Interessante inligting oor die miere waarvan ons in Spreuke lees

Daar is baie interessante bronne waar mens meer oor die Bybelse wêreld in diepte kan lees soos die Baker Encyclopedia of the Bible, The Eerdmans Bible dictionary, Eerdmans dictionary of the Bible, ens. Hier onder gee ek ‘n opsomming van die inligting wat ons uit laasgenoemde drie ensiklopedie kry oor die onderwerp van die mier. Inligting oor die dassie en die sprinkaan en ander dergelike diere in die antieke tyd kan dan ook in hierdie boeke nagevors word.

Die mier word twee keer in die Bybel genoem (vgl. Spreuke 6:6-8; 30:24, 25). ’n Paar jaar gelede het baie geleerdes daarop gewys dat Salomo sy feite heeltemal verkeerd gehad het toe hy verwys het na die mier wat sy kos in die somer gee en bymekaar maak in die oestyd. Hierdie geleerdes was van mening dat so ver hulle weet, miere nie kos bymekaar maak in gate nie. Hulle was van mening dat Salomo dalk ’n miernes kon oopskop en die pupal cases waarin die baba miere groei gesien het en dit verwar het met kos wat die miere sou versamel het.

Vandag weet ons egter dat sommige mier spesies wel graan versamel en berg. Twee van hierdie spesies kom voor in Israel en die derde een kom voor in omringende Mediterreense gebiede. Hierdie spesies (vgl. Spreuke 6:6–8; 30:24, 25) staan bekend as die harvester ant (Messor semirufus). Elwell, W. A., & Beitzel (1988) verduidelik: “Its granaries are flat chambers connected by galleries irregularly scattered over an area about six feet in diameter and about a foot deep in the ground. Seeds are collected from the ground or picked from plants. The head, or radicle, which is the softest part of the kernel, is bitten off to prevent germination, and the chaff and empty capsules are discarded on kitchen middens (refuse piles) outside the nest. Individual granaries may be 5 inches in diameter and a half-inch high. Some nests are known to be up to 40 feet in diameter and 6 to 7 feet deep with several entrances”.[1]

Hierdie mierspesie woon in beide klipperige en sanderige toestande, veral in ondergrondse neste. Daar is drie klasse: manlik, vroulik en werkers (onontwikkelde vroulike miere). Hierdie miertjies is die meeste aktief in die somer. Tydens hierdie seisoen versamel hulle reuse hoeveelhede van kos, spesifiek graan op velde of in skure. Hierdie miere hiberneer nie. Gedurende die wintermaande paar hulle, lê eiers en sorg hulle vir die nuwe baba miertjies met die kos wat hulle in die vorige seisoen versamel het (vgl. Spr 30:25). Dit is dan juis ook hierdie vermoë van die mier om te beplan, hard te werk en te voorsien vir die moeilike tye wat die mier die objek van wysheid gemaak het.[2]

Die geleerde Jesper Svartvik[3] skryf dat miere is ook in sommige Joodse literatuur op ‘n negatiewe wyse as voorbeeld aangewend. Miere kan ook grootskaalse vernietiging en indringing veroorsaak. Vra maar vir iemand wat al in die wildtuin gaan kamp het op ’n rooimier se nes. In die Rabbyne literatuur bespreek hulle juis hierdie verwoesting wat miere kan veroorsaak en die wyses waarop Biologiese beheer toegepas kan word. Hulle het in die antieke tyd grond geneem van een miershoop en dit oorgedra na ’n ander miershoop wat ’n oorlog tussen die twee groepe miere veroorsaak het en hulle het mekaar dan bykans uitgewis (vgl. Mo˓ed Qaṭ. 6b).


[1] Elwell, W. A., & Beitzel, B. J. (1988). Baker encyclopedia of the Bible (92). Grand Rapids, Mich.: Baker Book House.

[2] Myers, A. C. (1987). The Eerdmans Bible dictionary (59). Grand Rapids, Mich.: Eerdmans.

[3] Freedman, D. N., Myers, A. C., & Beck, A. B. (2000). Eerdmans dictionary of the Bible (66). Grand Rapids, Mich.: W.B. Eerdmans.


Skrywer: Dr Kobus Kok




1 Petrus 4:17

1 Petrus 4:17 – Francois Malan

Jan Smith vra: 

Ek wil graag vra hoe 1 Petrus 4 vers 17 vertolk moet word,asb? “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God”. Petrus praat vooraf van lyding, gebed, liefde vir mekaar,bediening volgens elkeen se genadegawes, prediking, vervolging, belediging maar hoofsaaklik lyding. Dan die bogenoemde skrif en wat volg tot vers 19 mbt redding. Die inhoud strook vir my nie met die ander onderwerpe nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

1 Petrus word geskryf aan die klein groepies Christene te midde van ‘n heidense omgewing, wat verstrooid in die noorde van Klein-Asië (vandag se Turkye) woon in die streke Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1:1). Hulle word deur hulle eie mense uitgestoot, uitgeskel en vervolg omdat hulle nie meer meedoen aan die heidense tempelbyeenkomste en feeste nie (2:11,12; 3:13-17; 4:4; 5:9,10). Dit word gesien as ‘n stryd van die duiwel teen God en sy gemeente (5:8). In die hele brief word hulle lyding gesien as deelhê aan die verwerping en lyding van Christus. In die wêreld is versoekings en beproewings deel van die lewe van die gemeente van Christus. In 1:6 word dit as ‘veelkleurige’, soos ‘n lappieskombers, (NAV allerlei) beproewings beskryf. Op allerlei maniere word die gemeente onder druk geplaas. Daar is belastering, verdagmakery, boikot, hulle word by die owerheid aangekla. Die gemeentes word aangespoor om dit alles te verdra as ‘n vuurproef vir hulle geloof om, soos goud gesmelt te word om onsuiwerhede uit te kook, hulle sal groei in die geloof (1:7). Maar te midde van dit alles word die gelowiges deur die krag van God veilig bewaar (1:5).

Petrus beskou die tyd waarin ons lewe as die eindtyd (1:20). Daarom sien Petrus vooruit na die einde van alle dinge (4:7). Die tydjie tussen Christus se eerste en wederkoms is kort, die einde staan voor die deur. Daarom moet ons verstandig wakker (letterlik: omgord die lende van julle verstand – gereed om dinkwerk te doen) en nugter lewe, met die oog op Christus se wederkoms en sy genade oor ons (1:13).

Die tyd vir die oordeel het aangebreek met die koms van Christus. Hy het die oordeel van God oor ons sonde kom dra in sy liggaamlike lyding (3:18; 4:1). Ons liggaamlike lyding is om deel te hê aan sy lyding (4:1-2, 13). Daarom is die oordeel van God reeds besig om voltrek te word aan die huis van God, die mense wat aan Christus en sy sterwe verbind is deur die geloof (4:17). Daarom moet die gelowiges nie verbaas wees oor die vuurproef waaraan hulle onderwerp word nie (4:12, vgl. 1:6). Dit kom juis omdat ons aan Christus behoort. Hoe meer ons ly, hoe meer moet ons daaroor bly wees, want dan sal ons ook oorloop van vreugde by sy wederkoms (4:13, vgl. 1:7,11). Ons lyding bewys dat ons deel is van Christus, dat die Heilige Gees in ons woon om ons in die lyding te versterk (4:14). Maar dan nie lyding omdat ons kwaad doen nie. Maar omdat ons aan Christus behoort (4:15-16; vgl. 3:17 dat lyding nie ‘n noodlot is nie, dit kan die wil van God wees dat ons ly). Gelowiges sal ook op die oordeelsdag voor God verantwoording moet doen (1:17). Maar die gelowige kan nou reeds iets bespeur van die oordeel van die Regter, in die lyding wat hom/haar opgelê word, as beproewing en toetsing van sy/haar geloof. Lyding kom nie toevallig oor ‘n mens nie. Dit is deel van God se plan. God se oordeel oor die sonde is deur Christus aan die kruis gedra (2:24). Deur die gelowiges se verbondenheid aan Hom, kry hulle ‘n eerste vuurproef van die oordeel. Die gelowiges in bewus van die vuurgloed van God se toorn wat hulle soos goud smelt om hulle suiwerheid te toets in hulle lyding (4:12; vgl. 1:7). Die gelowiges is geroep om die lyding te verdra, omdat Christus vir ons gely het, en so vir ons ‘n voorbeeld gestel het, sodat ons in sy voetspore kan volg (2:21; vgl. Rom.8:17; Hebr.5:8). Wanneer gelowiges insien dat hulle lyding tot hulle heil is, sal hulle hulle daarop toelê om die oordeel oor hulle as deel van God se beskikking te beskou. Daarmee wil die Here ons vorm om al meer soos Christus te word (vgl. 2 Kor.3:18; dat Christus in ons gestalte kan kry, Gal.4:19). Alle mense staan onder die oordeel van God om na die liggaam te sterwe (vgl. Gen.2:16). Dood is deel van God se oordeel oor die sonde. Maar wanneer gelowiges sterwe, lewe hulle na die gees, soos God lewe, op grond van die evangelie. Die evangelie is die goeie nuus oor Christus, wat hulle in geloof omhels het (4:6; vgl. 1 Kor.15:51-57).

Die ‘huis van God’ is God se huisgesin, almal wat aan God se Seun behoort, deur sy bloed losgekoop is (1:19), 2:9 noem hulle o.a. ‘die eiendom van God’, 1:1 ‘die uitverkorenes van God’, 1:17 sê: ‘julle wat Hom as Vader aanroep’, en mede-gelowiges word broers genoem (1:22). God hou sy kinders vas te midde van die druk van vervolging en lyding, ook liggaamlike lyding, in die vuurproef van die oordeel (1:5).

Die volle gloed van God se oordeel oor die sonde van die mens gaan egter die ongelowiges tref (4:18). Dit is ‘n aanhaling van Spreuke 11:31 volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament ‘as die regverdige kwalik gered sal word, waar sal die goddelose en sondaar verskyn?’ (vgl. 2:7-8; 3:12 wat Ps.34:17 aanhaal; 4:5).

Dié wat ly omdat God dit wil (2:15; 3:17), moet hulle lewe toewy en toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (4:19). In die lyding staan die gelowige nie alleen nie. God is die troue Skepper wat ons nie sal loslaat nie. Selfs in lyding mag die gelowige nie kwaad met kwaad vergeld, of in opstand teen God kom nie (vgl. Jesus se voorbeeld in 2:22-24). Goed doen word uitgespel in 2:11-4:11.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Kroontjies op die kop

Kroontjies op die kop – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Staan daar in die Bybel, dat as jy nie ‘n kroontjie in jou hare het nie, dan is jy nie ‘n mens nie maar wel ‘n dier? Diere het mos ook ‘n kroontjie op hulle hare

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Is mense wat nie kroontjies op hulle koppe het nie eintlik diere?

Ek het ook al hierdie bog-mite gehoor. Hiervolgens is mense wat nie ‘n kroontjie het nie eintlik diere – iets wat myns insiens op geen wyse met die Bybelse boodskap verbind kan word nie. Diegene wat Bybelse tekste aanhaal om hierdie punt te illustreer openbaar eerder hulle swak eksegese en swak Bybelse uitleg. Dit is gewoon onsin! Myns insiens moet ons eerder fokus op tekste in die Bybel wat dit duidelik stel dat God as Skepper die mens na Sy beeld geskep het (vgl. Gen 1:26) en dat ons geroep is Hom te verteenwoordig. Die uitdaging in die tyd waarin ons leef is om die gemeenskaplike tussen mense te soek en nie die verskille nie. In Johannes 4 restoureer Jesus ‘n Samaritaanse vrou. Samaritane was in die antieke tyd meer as onrein – hulle was so sleg soos honde in die oë van die Jode. ‘n Jood mag nie eens aan ‘n Samaritaan geraak het nie, want dan sou die Jood onrein word en sondig. Jesus kom keer hierdie verwronge, degraderende mensbeeld van die Jode heeltemal om as hy die Samaritaanse vrou se hart aanraak en die Jode wys dat hulle ook liefde aan alle mense moet wys soos wat God aan hulle liefde bewys het. Jesus praat met onrein tollenaars, spandeer tyd saam met die gemarginaliseerdes en reik uit na die wat ander graag verstoot (Lukas 15). Diegene wat nie soos Jesus leef nie en sosiale grense tussen mense versterk en sommige mense tot diere reduseer beweeg reglynig in teen die boodskap van Jesus en die hart van God (Lukas 17).

 

Skrywer: Dr Kobus Kok