Premillennialisme

Premillennialisme – Francois Malan

Pieter vra:

Ek wil graag weet hoe ’n premillennialistiese eskatologie (wat beweer dat ons tans in die “duisend” jaar vrederyk is) op die volgende antwoord: 1. Wat is die implikasie daarvan dat die Satan gebind is, in die afgrond gewerp en toegesluit is sodat hy die nasies NIE MEER VERLEI nie (Openb. 20:2-3)?

2. Wat is die hermeneutiese regverdiging daarvoor om die eerste opstanding (Openb. 20:5-6) allegories (eerder as letterlik) te interpreteer? 3. Hoe word die chronologie verklaar wat tussen Openb. 20 en Openb. 19 geïmpliseer word in Openb. 20:1 wanneer verwys word na die poel van vuur en swawel “waar die dier en die valse profeet is,” ooreenkomstig Openb. 19:20. 4. Watter verantwoording is daar vir die feit dat Dan. 2:44 sê dat die koninkryk wat deur God verwek sal word (a) die Romeinse koninkryk sal vernietig (– wanneer het dit gebeur?) en (b) dat dit al die ander koninkryke sal verbrysel (wat suggereer dat die koninkryk wat deur God verwek word in aard dieselfde as die vorige koninkryke is, naamlik as ’n politieke heerskappy).

 

Antwoord 

Prof François Malan antwoord:

In Die A-Z van Openbaring deur Jan du Rand 2007, by Christelike boekwinkels beskikbaar, is ‘n uitvoerige beskrywing van die pre-, post-, en a-millennialisme, in sy hoofstuk 19 oor Openb.19:6-21:8, vanaf bladsy 533-577. Ek gee van sy gedagtes hier weer.

Postmillinniariste meen Christus se tweede koms vind plaas na (post-) ‘n lang tydperk (simbolies 1000 jaar) van geregtigheid en vrede waarin ons nou lewe, nl. die aardse koninkryk van Christus in die geskiedenis. Die heiliges regeer op die aarde omdat die kerk al sy gesag van Christus vanuit die hemel ontvang. Die kerk regeer as priesters en konings deur die verkondiging van die evangelie en die onderrig en dissiplinering van die nasies. Daar wag egter vir die kerk ‘n tyd van aardse vrede in die toekoms. Maar die gelowiges wat gesterf het, regeer nie saam met Christus in die hemel nie. Hulle wag op die wederkoms.

Amillinniariste sien nie ‘n letterlike tydperk van 1000 jaar in die geskiedenis nie. Die goeie en die goddelose bestaan langs mekaar in hierdie wêreld tot met die wederkoms van Christus. Na die wederkoms breek die perfekte koninkryk van God aan. Die 1000 jaar is dus simbolies as simbool van volheid, vir die huidige tyd van die nuwe verbond, maar dit is ‘n tyd van vrede vir die gelowiges, vrede met God en ‘n oproep tot vrede met mekaar. Hulle verwag nie ‘n tydperk van aardse vrede vir die kerk nie. Die kerk moet nou reeds oorwin deur Christus se oorwinning op Golgota sigbaar te maak. Die stryd duur enduit voort teen die Bose, met verdrukking en vervolging vir die gelowiges tot die finale oordeel kom. En die gelowiges wat gesterf het, regeer saam met Christus in die hemel. Dit is die eerste opstanding.

Premillianniariste is oortuig dat daar na Christus se wederkoms, 1000 jaar van vrede en geregtigheid op aarde sal aanbreek, terwyl Christus self op die aarde saam met die gelowiges sal regeer vir die 1,000 jaar. Nou lewe ons voor die 1,000 jaar (pre = voor, millennium=1000)

Vir die verstaan en verklaring van die boek Openbaring is dit van belang om sy simboliek en voortgang van die beelde of gesigte raak te sien, ook met al sy terugverwysings na die Ou Testament en met die Joodse verwagting van sy tyd. As die hele boek letterlik opgeneem word, is daar slegs 144,000 mense wat ooit in die hemel kan kom, dié wat as God se eiendom verseël is (7:4-8). Hier is onderskeiding nodig tussen dele wat as letterlik en ander as simbolies verstaan moet word.

1 Wat is die implikasie daarvan dat die Satan gebind is, in die afgrond gewerp en toegesluit is sodat hy die nasies NIE MEER VERLEI nie (Openb. 20:2-3)?

Premillennialiste maak juis aanspraak daarop dat hulle die Bybelse profesieë letterlik interpreteer en toepas, en dat die ander groepe dit vergeestelik. So word die binding van die Satan letterlik geïnterpreteer. Hulle glo Christus sal terugkeer en die gelowiges sal opstaan om 1,000 jaar lank saam met Hom te regeer, terwyl die Satan gebind is. Eers ná die 1000 jaar van aardse regering sal die finale oordeel plaasvind en die goddeloses die ewige straf ingaan.

Volgens 1 Kor.15:50-54 vind die wederkoms en die finale oordeel egter by een geleentheid plaas: ‘By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ‘n oogwink gebeur, want die trompet sal klink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word…’. 2 Tes.1:7-10 sê: wanneer die Here Jesus uit die hemel verskyn om te oordeel sal dit geskied op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort. In Matt.25:31 sê Jesus: wanneer die Seun van die mens in majesteit kom, sal al die volke voor Hom bymekaar gebring word, en sal Hy die mense van mekaar skei, dié vir sy koninkryk word geskei van dié vir die ewige vuur, wat God berei het vir die duiwel en sy engele.

Die postmillennialiste interpreteer die 1000-jarige ryk as ‘n aardse koninkryk van Christus in die geskiedenis. Die heiliges regeer op die aarde deur die verkondiging van die evangelie, met onderrig en dissiplinering van die nasies, omdat die kerk al sy gesag van Christus vanuit die hemel ontvang.

Volgens die postmillennialiste is die ketting waarmee die Satan gebind is ‘n mag wat die Satan weerhou om die nasies te verlei (2 Tes.2:7).

Oor sy kruisdood sê Jesus egter in Johannes 12:31-32: nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld, die Satan, uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Oor die dissipels se verwondering dat selfs die duiwels hulle aan die dissipels onderwerp by die aanhoor van Jesus se Naam, sê Hy: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val (Luk.10:18). Nou is Jesus die Here wat regeer oor hemel en aarde. In Matt.28:18 sê Hy: aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Maar Hy oefen sy mag nie met geweld uit nie. Dit is die mag van die liefde, wat ons innerlik sterk maak, die liefde van God wat in ons kom werk deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het (Efesiërs 3:16-21). So bind Hy die Satan deur sy liefde in ons. Sy kruisdood uit liefde vir die wêreld het ons verhouding met God reggestel, en daardie selfopofferende liefde kom deur die Heilige Gees wat in ons woon om om ons te help om die goeie stryd te stry teen ons selfsug en die verleiding van die sonde en die bose magte (Efesiërs 6:10-18).

Daarom sê die amillennialiste die 1000 jaar is ‘n figuurlike of simboliese beskrywing van die hele tydperk van die nuwe verbond. Hulle sien nie uit na ‘n aardse Messiaanse koninkryk soos die premillennialiste met ‘n herstel van Israel en Jerusalem, en ‘n massabekering van die Jode en die nasies tydens die 1000 jaar van vrede op die aarde nie; ook nie na ‘n huidige ‘goue Messiaanse era’ van 1000 jaar nie, wat die kerk nou deur sy prediking help voorberei tot die wederkoms, dat Christene besig is om die duisendjarige ryk te vestig, soos die postmillenniariste glo nie; maar na ‘n geheel en al geestelike nuwe skepping, soos 2 Kor.5:17 sê: iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Christus se kruisdood lui die koninkryk van God in, Hy het die Satan gebind, maar die Satan bly doenig. Christus regeer nou reeds geestelik in die gelowiges se hart. In hierdie tydvak het die Satan steeds beperkte speelruimte. Daarvan is die ketting ‘n simboliese voorstelling (Openb.20:1-2). Op die Satan se binding word gesinspeel in Matt.12:29 se vasbind van die sterk man, deurdat Jesus deur die Gees van God die duiwels uitdryf (Matt.12:28). In Kolossense 2:14-15 word gesê dat God ons sondeskuldbewys met sy eise aan die kruis gespyker het, en die bose magte daardeur ontwapen het. Christus se sterwe neem ons sonde weg en oorwin die Satan. Die klein rukkie waarin die Satan losgelaat sal word, kan dui op die meer intensiewe teistering deur die Bose hoe nader die einde kom.

2. Wat is die hermeneutiese regverdiging daarvoor om die eerste opstanding (Openb. 20:5-6) allegories (eerder as letterlik) te interpreteer?

Vir verskeie interpretasies van die eerste opstanding van Openb.20:5, vgl. Durand op p.566.

Die eerste dood wat in Openb.20:6 geïmpliseer word, slaan op die fisieke of liggaamlike dood, en die tweede dood op die ewige straf in die helse vuur (vgl. Openb.21:8). In die lig daarvan is die eerste opstanding van Openb.20:5 ‘n geestelike opstanding, in die betekenis van Filippense 1:23: ek verlang daarna om heen te gaan (= te sterf) en met Christus te wees. Vgl. ook 2 Kor.5:1-5 wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, het ons ‘n vaste gebou in die hemel wat ewig bly staan. Vir die oorgang het God ons voorberei. As waarborg daarvan het Hy ons sy Gees gegee. Vgl. ook Jesus se woorde aan die rower aan die kruis ‘vandag sal jy met My in die paradys wees (Luk. 23:43).

3. Hoe word die chronologie verklaar wat tussen Openb. 20 en Openb. 19 geïmpliseer word in Openb. 20:1 wanneer verwys word na die poel van vuur en swawel “waar die dier en die valse profeet is,” ooreenkomstig Openb. 19:20.

Vgl Durand se bespreking van 19:6-21:8 vanaf bladsy 533. Hy verwys na die volgende oorkruispatroon:

a die prostituut Babel se uittog (17:1-19:5)

b die bruilofsfees van die Lam en sy bruid as oorwinning oor die Bose (19:6-10)

c die Regter-Krygsman op die wit perd, en die oordeelsvoltrekking oor die

antichris en die vals profeet (19:11-21)

d die Satan is oorwin (20:1-9)

c1 Hy wat op die groot wit troon sit en die oordeel oor die goddeloses

bekendmaak (20:10-15)

b1 oorgang na die nuwe Jerusalem en die finale oordeelsvoltrekking oor die goddeloses

(21:1-8)

a1 die bruid, die nuwe Jerusalem, se intog (21:9-22:5)

Dit is moeilik om elke gebeurtenis in ‘n chronologiese raamwerk te plaas, en tog is die leser bewus dat die hele verhaal progressief afstuur op ‘n spesifieke eindbestemming wat deur God bepaal is.

4. Watter verantwoording is daar vir die feit dat Dan. 2:44 sê dat die koninkryk wat deur God verwek sal word (a) die Romeinse koninkryk sal vernietig (– wanneer het dit gebeur?) en (b) dat dit al die ander koninkryke sal verbrysel (wat suggereer dat die koninkryk wat deur God verwek word in aard dieselfde as die vorige koninkryke is, naamlik as ’n politieke heerskappy).

Vgl. die bespreking en uitleg van Jasper Burden in die Verklarende Bybel se Daniël.

Die boek Daniël beskryf die geskiedenis van Daniël (hoofstukke 1-6) en bevat gesigte wat hy gesien het (hoofstukke 7-12) sedert die jare 586 v.C. toe Nebukadnesar Jerusalem verower het tot in die tyd van Darius die Mediër wat in 522 v.C. begin regeer het (vgl. Dan.6:29). Die boek het egter sy finale beslag 350 jaar later gekry, tussen die jare 168 v.C. toe die Griekse koning die tempeldiens van die teruggekeerdes in Jerusalem laat ophou het en die altaar ontwy het (vgl. Dan.9:27; 11:31; 12:11), en 165 v.C. met die herinwyding van die tempel wat nie in Daniël vermeld word nie.

Die kolossale droombeeld van Nebukadnesar se naggesig met vier metale en klei wat al swakker word (2:32-33), word soos volg verklaar in 2:37-43: die kop van goud is Nebukadnesar en die Babiloniese ryk (2:37-38), daarna kom die Mediërs ‘wat nie so belangrik’ soos die Babiloniese ryk is nie as die bors en arms van silwer (v39a), daarna die Perse ‘wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer’ onder Kores/Cyrus as die maag en heupe van brons (v39b), en daarna die Grieke onder Alexander die Grote as die bene van yster wat alles vergruis (v40) wie se koninkryk na sy dood in 4 dele onder sy generaals verdeel is as die voete wat deels van yster en deels van klei is (v41-43). Antiogus Epifanes se voorouer was een van die generaals.

Die klip wat die beeld vernietig (2:34) word in 2:44 verklaar as die koninkryk van God wat met die koms van Christus aangebreek het en vir altyd sal bestaan, en waarin die gelowiges die ewige lewe ontvang (vgl. Dan.12:1-3).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Pinkster

Pinkster – Francois Malan

Johan vra: 

Ek wil net graag meer inligting hê oor Pinkster en Pinksterfees. Kan julle my dalk moontlik help met inligting oor Pinkster

Antwoord 

Prof François Malan antwoord: 

Handelinge 2:1 praat van die dag van die pinksterfees. In die Griekse Bybel is pinkster pentekoste wat 50 beteken. Dit is op die vyftigste dag na die paasfees van die Jode. Dit is die tweede van die drie oesfeeste van die Jode (Eks.23:14-19).

Die paasfees het begin op die dag waarop die eerstelinggerf van die garsoes as offer na die priester gebring is. Daarna het die fees van die ongesuurde brood nog ses dae geduur (Eksodus 23:15,16; Levitikus 23:4-14; Deutr.16:8). Dit is ook die fees van die oes van die eerstelinge genoem. Op dié fees word ook gedink aan die uittog uit Egipte, toe die Israeliete ongesuurde brood, wat nie in die woestyn sou sleg word nie, geëet het, en aan die bloed aan die kosyne, wat die doodsengel laat verbygaan het, vandaar die naam pasga of paasfees ‘to pass over’ (Eksodus 12:12-23). Dit is ook tydens die paasfees dat Jesus gekruisig is om ons uit die mag van die sonde en die bose te verlos (Matteus 26:17), en Hy die nagmal ingestel het om sy dood te onthou (Lukas 22:19-20). Christus is die paaslam wat vir ons geslag is (1 Kor.5:7)

Sewe weke na die paasfees is dit pinkster, op die 50e dag, die dag na die sewende sabbat. Dan word die herfsoes van koring, ens. ingebring (Eks.34:22; Lev.23:15-22; Deutr.16:9-12). Die fees het een dag geduur, brood met suurdeeg is geëet, as teken van Israel se bevryding uit Egipte en vervulling van die Here se verbond met sy volk. Volgens latere Joodse rabbi’s was dit ook die tyd toe Israel by Sinai die wet van die Here ontvang het.

Aan die einde van die landboujaar word daar dan nog ‘n groot danksegging gevier vir die druiwe, sitrus en olyfoes en die jaar se oeste, nl. met die loofhuttefees, wanneer die Jode vir 9 dae in hutte, van takke gemaak, woon ter herdenking van die uittog en die Here se beskerming met hulle reis deur die woestyn (Lev.23:33-36, 39-43; vgl. Joh.7:2).

In Hand.2:33 verklaar Petrus wat op die pinksterdag gebeur het: Jesus is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort, met die tekens van wind, vuur, en spreek in verstaanbare tale. Dit het gebeur op die dag toe die pinksterfees aanbreek (letterlik: toe vyftig dae vol geword het, 2:1). In Lukas 9:51 gebruik Lukas dieselfde Griekse woord: toe die dae van sy opneming vol geword het (NAV toe die tyd naderkom…). Die heilsbelofte van Joël 2:28-32 is toe vervul (vgl. Hand.2:16-21). Sedert die dag word verkondig dat God vir Christus uit die dood opgewek het (Hand.2:22-24,32; 4:10, ens.). Die groot dade van God word verkondig. Die deurbraak van God se koningskap kom aan die lig.

Die res van Handelinge wys hoe die verhoogde Christus deur die Heilige Gees werk en mense tot bekering (verandering van denke en lewenswyse) bring om in Jesus te glo en Hom te volg. Dié wat egter nie in Jesus se verlossing wil glo nie, word gewaarsku dat dit tot hulle veroordeling lei (Hand.13:10-11).

Die pinkstergebeure is ook die geboorte van die kerk (Hand.2:37-47). Die Heilige Gees bind gelowiges saam tot die een liggaam van Christus (Ef.4:4-6).

Wat beteken die koms van die Heilige Gees? In Johannes 14:16 belowe Jesus dat die Vader vir ons ‘n ander Voorspraak sal stuur om ewig by ons te wees. Die Griekse woord het die gedagte van ‘n helper, wat troos, bemoedig, en bemiddel tussen ons en God, en tussen ons gelowiges. In 14:23 sê Jesus dat Hy en die Vader in ons kom woon deur die Heilige Gees in ons; in 14:26 dat die Heilige Gees ons alles sal leer en herinner wat Jesus gesê het; in 15:26-27 dat die Gees van waarheid oor Jesus sal getuig, en van ons Jesus se getuies sal maak; in 16:8-11 dat Hy die wêreld kom oortuig van sonde, nl. om nie in Christus te glo nie. Hy kom mense oortuig van geregtigheid (die reg aan Jesus se kant), want Jesus gaan na sy Vader, en daardeur word ons verhouding tot God reggemaak en word ons kinders van God as ons in Jesus glo; Hy kom mense oortuig van oordeel, want die satan is reeds veroordeel en uitgegooi uit sy posisie as owerste van die wêreld (12:31) en God het nou aan Jesus alle mag/gesag in die hemel en op aarde gegee en Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat.28:18,20).

Paulus sê dat die gemeente die tempel van God is, dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, dat die Gees van God in ons woon en dat ons nie aan ons self behoort nie (1 Kor. 3:16; 6:19). Die Gees maak ons tot kinders van God (Rom.8:15), Hy werk in ons sodat ons in Jesus sal glo (Ef.2:8). God is liefde (1 Joh.4:8), dit is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die Heilige Gees kom ons intrek in daardie liefdesverhouding. Dit is die betekenis van ‘die gemeenskap van die Heilige Gees’ wat elke Sondag aan die gemeente toegesê word (2 Kor.13:13). Efesiërs 3:14-19 sê die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde het sy bestaan te danke aan die Vader. Deur sy Gees versterk Hy ons innerlik, sodat Christus deur die geloof in ons harte woon en ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Die liefde van God wat die Gees in ons werk is ons krag, nie mag en geweld nie. Mag ons heeltemal vervul word met die volheid van God se liefde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




1 Petrus 3:21

1 Petrus 3:21 – Jan van der Watt

Pieter vra:

Ek wil graag weet hoe 1 Pet. 3:21 verstaan behoort te word wanneer dit ‘n soteriologiese dimensie (of “reddingsdimensie”) aan die doop gee in sy hoedanigheid “as ‘n bede/antwoord [eperotema]”? Want as die doop red “as ‘n bede/antwoord [eperotema],” impliseer dit nie dat die soteriologiese dimensie van die doop ook aan die subjektiewe kant van die doop (gesuggereer deur die woord “eperotema”) gekoppel word (en nie alleen aan die objektiewe “deur die opstanding van Jesus Christus”) nie? (Ek verstaan dat die teks ‘n “ex opere operato”-siening van die doop teenspreek, maar dit is tog sekerlik moontlik om die subjektiewe element in terme van geloof te beskryf eerder as die ritueel self?)

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

1 Petrus 3:21 is inderdaad ’n moeilike gedeelte in die Bybel. 1 Pet 3:21 is die enigste teks in die Bybel waar dit lyk of daar direk gesê word dat die doop red. Dit is ook byvoorbeeld een van die redes waarom daar gesê word Sola Scriptura (die Bybel alleen). Dit beteken onder andere dat ons nie alleen een moeilike vers moet gebruik om leerstellings op te bou nie, maar dat ons gebalanseerd moet kyk na al die gedeeltes wat byvoorbeeld oor die doop gaan en dit dan gebalanseerd in verhouding tot mekaar moet oorweeg. In 1 Kor 10, waar Paulus sê dat die Israeliete deur die wolk en water gegaan het, maar tog nog verlore gegaan het, sien ons byvoorbeeld dat Paulus nie van mening was dat mens gered sal word deur doodgewoon gedoop te word nie. Dit gaan om veel meer. ’n Belangrike Bybelse groep boeke soos die Johannese Evangelie en Briewe noem nie eers die doop as dit om redding gaan nie. Nee, mens moet in Jesus glo – daar vind mens redding.

Kommentatore verskil hoe om 1 Pet 3:21 te verstaan. Daar is byvoorbeeld ’n argument wat die aflegging van die vuilheid van die liggaam sien as dat ’n persoon voor die tyd reeds sy of haar sonde afgelê het en dat die doop dus nie na redding verwys nie, maar dit net bevestig, want die persoon het hom of haar reeds bekeer. Die appel of bede tot ’n skoon gewete wat met die doop saamhang wys wel dat die doop nie net ’n leë ritueel is nie, maar dat daar verwagtinge mee saamgaan. Dit bly egter ’n baie moeilike gedeelte waarvoor daar nie verklarings bestaan wat heeltemal seker is nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Buite-egtelike kinders

Buite-egtelike kinders – Jan van der Watt

Amanda vra:

Wat is die stand van buite egtelike kinders, my dogter het so baba en my 2de man sê die kind is van die duiwel en dat God nie so kind sal aanvaar nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt bantwoord:

Dit is nie die skuld van die kind dat hy of sy buite-egtelik gebore is nie. Om so kind nou ’n kind van die duiwel te noem is onverantwoordelik. Dit is die ouers wat aangespreek moet word. God se liefde is daar vir almal op die wêreld (Joh 3:16) ook vir buite-egtelike kinders en hulle ouers. As dit gesê word, beteken dit nie dat God sonde goedkeur nie, maar dit beteken wel dat almal by God welkom is, indien hulle Hom in geloof en gehoorsaamheid aanvaar. Mense kan dus verander en God wil hê dat hulle moet verander. As mens in God glo, word jy sy kind en kan dan onmoontlik die kind van die duiwel wees, al het jy vroeër sonde gedoen. Almal doen maar een of ander tyd sonde en daarom het ons almal God se vergifnis en liefde ewe veel nodig.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt